Ewige Lewe

Wat is die Ewige Lewe?

As dit by die bestudering van die term “ewige lewe” kom, dan dink baie mense dat die ewige lewe op ‘n gegewe tyd op ‘n tydskaal begin en dan vir ewig op daardie tydskaal voortduur. Hierdie omskrywing van die term “ewige lewe” is ook dan korrek, maar indien ons die term “ewige lewe” volgens die Bybel bestudeer, sal ons opmerk dat die ewige lewe meer as net ‘n ewige bestaan op ‘n tydskaal is, en sal hierdie wete ons help, om klaarblyklike weersprekings in die Bybel te versoen, en ons kennis en belewing van ons geestelike lewe verryk. Met die skryf van hierdie artikel sal gepoog word om te demonstreer, dat die ewige lewe nie net oor ‘n kwantitatiewe aspek beskik nie, maar ook oor ‘n kwalitatiewe aspek beskik en dat die twee verskillende aspekte saam die term “ewige lewe” omskryf.

Daar moet ook ingedagte gehou word, dat die Bybel die dood nooit as die ophou of uitdelging van die bestaan van ‘n persoon bestempel of omskryf nie, maar slegs as die skeiding van die fisiese liggaam, wat dood in die graf neergelê word, met die gees en siel van die persoon, wat nog steeds bewustelik bly voorbestaan. (Luk 16:19-32; 2 Kor 5:8) In die boek Openbaring sien ons ook, dat die tweede dood nie die uitwissing van die bestaan van ‘n persoon is nie, maar dat die persoon vir ewig van God geskei word en bewustelik in die poel van vuur sal bly voortbestaan.
Op 21:8 “Maar wat die vreesagtiges aangaan en die ongelowiges en gruwelikes en moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel: dit is die tweede dood.”
Alle ongelowiges sal na afloop van die Wit Troon Oordeel in die poel van vuur gewerp word, waar die Antichris, asook die valse profeet, wat altwee mense is, al vir duisend jaar lank gevange gehou is en waar alle ongelowiges sowel as die Duiwel vir ewig sal bly voortbestaan. Hulle voortbestaan gaan egter ‘n gruwel bestaan wees.
Op 20:10 “En die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp waar die dier (die Antichris) en die valse profeet is; en hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid.”
God stel dit baie duidelik in Sy woord, dat die mense wat in die poel van vuur gewerp word, bewus van hulle ewige pyniging sal wees. Hulle sal dus oor ‘n ewige bestaan beskik, maar die kwaliteit van die persoon se bestaan gaan egter verskriklik wees. ‘n Persoon wat homself in die poel van vuur bevind, gaan nog steeds die kwantitatiewe aspek van sy bestaan behou, maar die kwalitatiewe aspek van sy bestaan gaan drasties versleg.

Om hierdie rede wil dit ook soms voorkom, asof daar ‘n weerspreking in die Bybel is. In sekere teksgedeeltes wil dit voorkom of slegs geloof as vereiste vir die ontvangs van die ewige lewe voorgehou word, en op ander plekke in die Skrifte, word werke as vereiste voorgehou om die ewige lewe te beërf. Voorbeelde van albei hierdie vereistes sal kortliks weergegee word. Daarna sal ons volgens die Bybel bepaal wat die ewige lewe in werklikheid is.

Teksgedeeltes wat slegs geloof as vereiste vir die ontvangs van die ewige lewe voorhou:

Joh 3:15 “sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. 3:16 Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”

Joh 3:36 “Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom.”

Joh 4:14 “maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ‘n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe.”
Die ewige lewe word slegs ontvang en geen werke word vereis nie.

Joh 5:24 “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe.”

Joh 6:40 “En dit is die wil van Hom wat My gestuur het, dat elkeen wat die Seun aanskou en in Hom glo, die ewige lewe mag hê; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.”

Joh 6:47 “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo, het die ewige lewe.”

Hnd 13:48 “En toe die heidene dit hoor, was hulle bly; en hulle het die woord van die Here geprys; en daar het gelowig geword almal wat verordineer was tot die ewige lewe.”

1Ti 1:16 “Maar daarom is aan my barmhartigheid bewys, dat Jesus Christus in my as die vernaamste al sy lankmoedigheid sou betoon, om ‘n voorbeeld te wees vir die wat in Hom sal glo tot die ewige lewe.”

1Jo 5:11 “En dit is die getuienis: dat God ons die ewige lewe gegee het, en dié lewe is in sy Seun.”
1Jo 5:13 “Dit het ek geskrywe aan julle wat glo in die Naam van die Seun van God, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het (huidige besitting) en kan glo in die Naam van die Seun van God.”
Bostaande lys teksgedeelte stel dit baie duidelik, dat ‘n persoon die ewige lewe op grond van geloof alleen bekom en dat werke geen deel daarvan uitmaak nie. Boonop kan mens Paulus se stelling, dat ons voor God geregverdig verklaar word op grond van ons geloof en nie ons werke nie, hierby invoeg as bewys dat wedergeboorte alleenlik op grond van geloof bekom word.
Rom 3:28 “Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet.”
Bostaande lys teksgedeeltes handel dus hoofsaaklik oor fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte.

Teksgedeeltes waar werke benodig word om die ewige lewe te beërwe:

Mat 19:16 “En daar kom een na Hom en sê vir Hom: Goeie Meester, watter goeie ding moet ek doen, dat ek die ewige lewe kan hê? 19:17 En Hy sê vir hom: Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe een, naamlik God. Maar as jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie. 19:18 Hy vra Hom: Watter? En Jesus sê—dit: Jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie egbreek nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie; 19:19 eer jou vader en moeder; en: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. 19:20 Die jongman sê vir Hom: Al hierdie dinge het ek onderhou van my jeug af. Wat kom ek nog kort? 19:21 Jesus antwoord hom: As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou goed en gee dit aan die armes, en jy sal ‘n skat in die hemel hê; en kom hier, volg My.”
(sien ook Markus 10:17; Lukas 18:18-22;)

Mat 19:29 “En elkeen wat huise of broers of susters of vader of moeder of vrou of kinders of grond ter wille van my Naam verlaat het, sal honderd maal soveel ontvang en die ewige lewe beërwe.” (hier is werke ‘n vereiste.)

Mat 25:46 “En hulle sal weggaan in die ewige straf, maar die regverdiges (werke) in die ewige lewe.”

Mar 10:29 “En Jesus antwoord en sê: Voorwaar Ek sê vir julle, daar is niemand wat huis of broers of susters of vader of moeder of vrou of kinders of grond ter wille van My en van die evangelie verlaat het nie, (Goeie werke naamlik toegewyde dissipelskap) 10:30 of hy ontvang nou in hierdie tyd honderd maal soveel: huise en broers en susters en moeders en kinders en grond, saam met vervolginge, en in die eeu wat kom, die ewige lewe.” (Hier word die ewige lewe as iets wat mens eers in die toekoms kan ontvang en is dit nie ‘n huidige besitting nie)

Luk 10:25 “En daar het ‘n sekere wetgeleerde opgestaan wat Hom versoek het deur te sê: Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe? 10:26 En Hy antwoord hom: Wat is in die wet geskrywe? Hoe lees jy? 10:27 En hy antwoord en sê: Jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele krag en uit jou hele verstand; en jou naaste soos jouself. 10:28 Toe sê Hy vir hom: Jy het reg geantwoord; doen dit, en jy sal lewe.” (werke)

Luk 16:9 “En Ek sê vir julle: Maak vir julle vriende deur die onregverdige Mammon, sodat wanneer julle die lewe verlaat, hulle jul in die ewige tente kan ontvang.”

Luk 18:29 “ En Hy sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle, daar is niemand wat huis of ouers of broers of vrou of kinders verlaat het ter wille van die koninkryk van God, 18:30 wat nie baiemaal soveel in hierdie tyd sal ontvang nie en die ewige lewe in die eeu wat kom.”

Joh 4:36 “En hy wat maai, ontvang loon en vergader vrug vir die ewige lewe, sodat die saaier en die maaier saam bly kan wees.”

Joh 12:25 “Wie sy lewe liefhet, sal dit verloor; maar wie sy lewe haat in hierdie wêreld, sal dit bewaar vir die ewige lewe.”

Rom 2:7 “aan die wat deur volharding in goeie werke heerlikheid, eer en onverganklikheid soek die ewige lewe;”

Rom 6:22 “Maar nou dat julle vrygemaak is van die sonde en diensbaar geword het aan God, het julle jul vrug tot heiligmaking en uiteindelik die ewige lewe. (iets wat eers in die toekoms bekom kan word en is dit nie ‘n huidige besitting nie) 6:23 Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here.”

Gal 6:8 “Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai; maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai.”

1Ti 6:12 “Stry die goeie stryd van die geloof, gryp (werke) na die ewige lewe, waartoe jy ook geroep is en die goeie belydenis voor baie getuies afgelê het.”

1Ti 6:17 “Beveel die rykes in die teenwoordige wêreld om nie hoogmoedig te wees nie en ook nie hulle hoop te stel op die onsekerheid van die rykdom nie, maar op die lewende God wat ons alles ryklik verleen om te geniet; 6:18 dat hulle goed moet doen en ryk wees in goeie werke, vrygewig, mededeelsaam, 6:19 en vir hulle ‘n skat weglê, ‘n goeie fondament vir die toekoms, sodat hulle die ewige lewe kan verwerf.”

1Jo 3:15 “Elkeen wat sy broeder haat, is ‘n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe as iets blywends in hom het nie.”

Jud 1:20 “Maar julle, geliefdes, moet julleself opbou in jul allerheiligste geloof en in die Heilige Gees bid 1:21 en julleself in die liefde van God bewaar, (werke) terwyl julle die barmhartigheid van onse Here Jesus Christus tot die ewige lewe verwag.”

Uit bostaande teksgedeeltes is dit egter duidelik, dat werke wel voorgehou word as vereiste om die ewige lewe te beërwe. Ek vra om verskoning vir die lang lys teksgedeeltes, maar dit is belangrik dat die paradoks of klaarblyklike weersprekings duidelik waargeneem word. Hoe bekom mens dan nou die ewige lewe? Om die raaisel nog meer te kompliseer, sal die leser agterkom, dat indien hy slegs die sinoptiese evangelies nl. Mattheus, Markus Lukas, met die doel om uit hierdie drie boeke die vereiste vir die ontvangs van die ewige lewe te verkry, bestudeer sal hy gou agterkom, dat dit wil voorkom asof hierdie drie boeke ‘n werke evangelie verkondig en kan ‘n persoon nie die ewige lewe beërwe as hy nie goeie werke doen nie! Volgens die sinoptiese Evangelies moet ‘n persoon eerstens homself verloën, die wet nakom, goeie werke doen, en sy besittings verkoop en sy geld aan die armes weggee, alvorens hy die ewige lewe kan beërwe. Dit staan duidelik so geskrywe!

Wat is dan die oplossing?

Om die paradoks op te los, moet ons ‘n paar Skriftuurlike feite in gedagte hou:

  • Eerstens moet dit ingedagte gehou word, dat die ewige lewe oor twee aspekte beskik, naamlik kwantitatiewe sowel as kwalitatiewe aspekte. Die ewige lewe is meer as net ‘n ewige bestaan op die tydskaal, wat by ‘n punt in tyd begin en vir ewig voortduur. Die ewige lewe het ‘n kwalitatiewe aspek, wat ‘n baie belangrike rol speel, en wat die kwaliteit van ‘n persoon se ewige voortbestaan gaan bepaal. Ons almal gaan vir ewig voortbestaan, maar hoe ons daardie bestaan gaan beleef, gaan hoofsaaklik deur die kwalitatiewe aspek van die ewige lewe bepaal word, en nie soseer deur die kwantitatiewe aspek van die ewige lewe nie. Hierdie feit gaan bepaal of ons oor die ewige lewe beskik en of ons deel het aan die tweede dood, waar die kwalitatiewe aspek van die ewige lewe heeltemal ontbreek, en waar ons vir ewig van God, in die poel van vuur geskei sal wees. Hou hierdie waarheid altyd ingedagte as die woord “ewige lewe” in die Bybel waargeneem word.
  • Die tweede feit wat ingedagte gehou moet word, is die wete dat die verlossing van die mens in drie fases plaasvind. Fase een – wedergeboorte, wanneer ons die Evangelie glo, en hier mag daar geen werke bygevoeg word vir wedergeboorte nie. Fase twee of heiligmaking fase vind na aanvanklike wedergeboorte plaas en word die gelowige toenemend bevry van die houvas wat sonde op sy lewe het. Toegewyde dissipelskap vorm ‘n baie belangrike afdeling van die heiligmaking fase. Die derde en laaste fase van die gelowige se verlossing, sal in die toekoms met die wegraping/eerste opstanding plaasvind, wanneer die gelowige finaal van die teenwoordigheid van sonde in sy lewe geskei sal word en met sy verheerlikte sondelose liggaam oorklee sal word. Hierdie fase staan as die verheerliking fase bekend. (Die leser word aangeraai om die artikel “Drie fases van Verlossing” vir meer inligting rondom hierdie onderwerp te lees.)
  • Die derde feit wat ingedagte gehou moet word, is die feit dat die Bybel God se woord aan die mens is, en as God se woord kan ons verseker weet dat God Homself nooit sal weerspreek nie. Indien dit voorkom asof daar weersprekings in die Bybel voorkom, moet ons besef dat daar wel ‘n logiese oplossing vir die probleem is, en moet ons die Bybel toelaat om ons leerstellings of teologie te bepaal en nie ons tradisies nie. Ons moet nie ons teologiese sisteme in die Bybel inlees nie, maar toelaat dat die Bybel ons teologiese leerstellings bepaal. Waar verandering van leerstellings vereis word, moet ons die nodige veranderinge maak om by die Bybel aan te pas en nie andersom nie. Onthou altyd, dat God Homself nie kan weerspreek nie, en waar dit wil voorkom of daar ‘n weerspreking in die Skrifte is, dan moet ons besef dat die fout by ons uitleg van die Bybel lê en nie by die Bybel self nie. Omdat die Bybel God se woord aan die mens is, kan ons verseker wees dat daar ‘n logiese wyse is waarop ons sogenaamde weersprekings of paradokse met mekaar kan versoen, sonder dat daar botsings tussen verskillende teksgedeeltes is. Net soos wat die bostaande paradokse teenstrydig mag voorkom, sal gepoog word om te demonstreer, dat daar geen weersprekings in bostaande teksgedeeltes is nie, en indien ons die teksgedeeltes reg interpreteer, dit ons geestelike lewens, kennis , intimiteit met God en ons toewyding aan God positief sal beïnvloed.

Soos reeds vroeër in hierdie artikel genoem, is dit opmerklik dat die sinoptiese evangelies werke vereis, alvorens ‘n persoon die ewige lewe mag beërf. Indien ons nou die evangelie volgens Johannes saam met die sinoptiese evangelies lees, sal ons opmerk dat Johannes oorwegend slegs geloof vir die ontvangs van die ewige lewe vereis. As ons die drie fases van ons verlossing ingedagte hou, sal ons opmerk dat die sinoptiese evangelies (Mattheus, Markus en Lukas) hoofsaaklik oor fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking/dissipelskap handel en nie soseer oor fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte nie. Jesus Christus se leerstelling oor dissipelskap en die kostes daaraan verbonde, handel nie oor aanvanklike wedergeboorte nie, (fase een van ons verlossing.) maar dit handel oor die vereistes vir dissipelskap wat in noue verband met heiligmaking staan. (naamlik fase twee van ons verlossing – heiligmaking.) Indien ons hierdie feite ingedagte hou, sal ons opmerk dat die klaarblyklike weersprekings in die Skrifte verdwyn. Daarom speel werke so ‘n groot rol in hierdie evangelies. Heiligmaking en toegewyde dissipelskap is uiters belangrik indien ‘n gelowige die volle omvang van die ewige lewe wil beleef. In die res van hierdie artikel sal gepoog word om hierdie punt te verduidelik. Onthou dat heiligmaking/dissipelskap egter goeie werke is, wat na aanvanklike geloof om wedergebore te raak, moet plaasvind en het dit niks met wedergeboorte self te make nie. Die leser word aangeraai om die artikel ” Onderskeid tussen ‘n Gelowige en ‘n Dissipel” vir meer besonderhede rondom hierdie aangeleentheid te bekom.

Daarenteen handel die evangelie volgens Johannes hoofsaaklik oor aanvanklike geloof vir wedergeboorte, (fase een – wedergeboorte) en daarom word die klem slegs op geloof as vereiste gelê. Die evangelie volgens Johannes is spesifiek, met die doel oor hoe om wedergebore te raak, geskryf. (Fase een van ons verlossing – wedergeboorte) Die apostel Johannes het self die doel vir die skryf van sy evangelie aan ons meegedeel.
Joh 20:30 “Nog baie ander tekens het Jesus voor sy dissipels gedoen wat in hierdie boek nie beskrywe is nie; 20:31 maar hierdie is beskrywe, dat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God; en dat julle deur te glo die lewe kan hê in sy Naam.” (Fase een van ons verlossing – wedergeboorte. Geloof allen is vereiste om die ewige lewe te ontvang.) Die oomblik wanneer ‘n persoon die Evangelie glo, ontvang hy die ewige lewe en kan hy nie verlore gaan nie. Dus is die poel van vuur geen opsie vir die Christen nie en hoef hy homself nie daaroor te kwel nie. God sal die gelowige bewaar. (Lees asb die artikel “Ewige Sekuriteit van die Gelowige” vir meer besonderhede.) Die hoof tema van die boek Johannes handel dus oor hoe ‘n persoon ‘n kind van God kan word en hoe om deel van God se familie te word. Ons optrede as kinders in die familie (fase twee heiligmaking) word ook in die Evangelie volgens Johannes aangeraak, maar dit is nie die hooftema van die boek nie. Die drie sinoptiese evangelies handel egter oor hoe ons as kinders/dissipels in God se familie moet optree (fase twee – heiligmaking/dissipelskap) en nie so seer oor aanvanklike wedergeboorte (fase een – wedergeboorte) nie. Dit is uiters belangrik dat ons hierdie waarhede raaksien, anders gaan ons werke, as vereiste vir wedergeboorte by die Evangelie voeg, en dus ‘n werke evangelie gaan verkondig wat niemand sal red nie.

‘n Verdere observasie wat in die Nuwe Testament gemaak word, is dat die ewige lewe as ‘n huidige besitting omskryf word. 1Joh 5:11 -13; 1Tim 1:16.
1Jo 5:11 “En dit is die getuienis: dat God ons die ewige lewe gegee het,(verlede tydvorm, dus iets wat reeds ontvang is. Afgehandel.) en dié lewe is in sy Seun. 5:12 Hy wat die Seun het, het die lewe; (huidige besitting wat nie verloor kan word nie)wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie. 5:13 Dit het ek geskrywe aan julle wat glo in die Naam van die Seun van God, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het (huidige besitting.)en kan glo in die Naam van die Seun van God.”
In hierdie teksgedeeltes word die ewige lewe as geskenk ontvang, en word niks anders as geloof benodig nie, en is dit ook boonop ‘n huidige besitting wat die gelowige nou reeds besit. Maar ander teksgedeeltes beskryf egter die ewige lewe as iets wat die gelowige in die toekoms kan ontvang, wat as loon vir goeie werke ontvang kan word.
Joh 12:25 “Wie sy lewe liefhet, sal dit verloor; maar wie sy lewe haat in hierdie wêreld, sal dit bewaar vir die ewige lewe.” (Die ewige lewe is hier ‘n toekomstige besitting wat aan die gelowige voorgehou word, as iets wat hy sal kan bewaar indien hy sy lewe in hierdie wêreld haat. Werke is dus ‘n vereiste om hierdie lewe te bewaar.)
Dit wil voorkom asof die lewe op grond van goeie werke verdien kan word, en wil dit ook blyk dat hierdie faset van die ewige lewe nie iets is wat die gelowige huidiglik besit nie. Indien ons egter die feit ingedagte hou, dat die ewige lewe uit twee fasette bestaan, naamlik ‘n kwantitatiewe asook ‘n kwalitatiewe aspek, en besef dat die Nuwe Testament primêr op die kwalitatiewe aspek van die ewige lewe fokus, verdwyn hierdie teenstrydighede en kan die verskillende teksgedeeltes maklik met mekaar versoen word. Onthou ons almal gaan vir ewig voortleef, maar hoe ons daardie lewe gaan ervaar gaan afhang van die kwalitatiewe aspek van die ewige lewe, wat die gelowige vrylik ontvang! Daar gaan dus verskille in die belewenis van die kwalitatiewe aspek van die ewige lewe tussen verskillende gelowige wees, en hierdie verskille gaan van die gelowige se toewyding aan Christus deur heiligmaking/dissipelskap afhang.

Dus word daar ‘n kwalitatiewe aspek aan die gelowige voorgehou wat op heiligmaking en toegewyde dissipelskap, wat lyding insluit, gebaseer is, en waardeur ‘n toegewyde gelowige ‘n groter mate van die kwalitatiewe aspek van die ewige lewe as erfporsie kan ontvang, wat die wêreldgesinde gelowige nie sal ontvang nie.
Rom 8:16 “Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is; 8:17 en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God (fase een van verlossing – wedergeboorte. Alle gelowiges ontvang God as erfporsie anders sou hulle nooit die ewige lewe kon ontvang nie. Om sonder God te wees is om in die poel van vuur te beland.) en mede erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, (fase twee van ons verlossing – heiligmaking/dissipelskap. Om daagliks jouself te verloën jou kruis op te neem en Christus te volg, sonder behoud van wat jou mag beval, is lyding en gaan jou kos. Die hele Bergpredikasie handel oor hierdie onderwerp.) sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.” Slegs gelowiges wat die weg van toegewyde dissipelskap en heiligmaking volg sal in daardie opsig mede erfgename saam met Christus word en saam met Hom verheerlik word. (regeer) Lees asb die “gelykenis van die ponde” vir meer inligting.)

Die oomblik wanneer ‘n persoon die Evangelie glo, ontvang hy die ewige lewe (kwantitatiewe sowel as kwalitatiewe aspekte van die ewige lewe) as huidige besitting en kan hy nooit verlore gaan nie. Die kwalitatiewe aspek van die ewige lewe word hier beklemtoon, want alhoewel die ongelowige ook vir ewig sal voortbestaan, sal die kwalitatiewe aspek van sy ewige bestaan drasties versleg die oomblik as hy fisies tot sterwe kom. Daarenteen ontvang die gelowige die ewige lewe as geskenk, en sal hy nooit die poel van vuur kan beleef nie en sal hy boonop vir ewig saam met God in Sy teenwoordigheid deurbring. (wat ‘n vooruitsig!!) Boonop kan hy die kwalitatiewe aspek van die ewige lewe tot ‘n al hoe groter mate beleef en verbeter, soos wat hy toegewyde dissipelskap/heiligmaking in sy lewe toepas, wat in hierdie lewe begin en wat tot in die ewigheid oorgedra sal word. (Lees asb die artikel “Gelowiges se werke gaan beoordeel word” vir meer inligting.) Die ongelowige persoon sal wel vir ewig bly voortbestaan, maar hy sal van God geskei wees (omrede hy nie God as erfporsie het nie.) en vir ewig die verskriklike smarte van die poel van vuur moet verduur, omrede hy nie die Evangelie in geloof ontvang het nie. (Op 19:20; 20:10) Die gelowige hoef dus nie te wag totdat hy in die hemel is om die kwalitatiewe aspek van die ewige lewe te begin ervaar nie. Hy kan dit tot ‘n groot mate aan hierdie kant van die graf beleef.
1Jo 5:11 “En dit is die getuienis: dat God ons die ewige lewe gegee het, en dié lewe is in sy Seun. 5:12 Hy wat die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie. 5:13 Dit het ek geskrywe aan julle wat glo in die Naam van die Seun van God, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het en kan glo in die Naam van die Seun van God.”

Vervolgens ‘n paar observasies betreffende die Ewige Lewe:

  • Daar is geen verskil in die kwantitatiewe aspek van die ewige lewe, tussen die gelowige en ongelowiges nie. Gelowiges, sowel as ongelowiges sal vir altyd bly voortbestaan.
  • Die kwantitatiewe aspek van die ewige lewe is alreeds vasgestel, naamlik vir ewig. Die kwalitatiewe aspek van die ewige lewe is nog nie vasgestel nie, en kan dus deur toegewyde dissipelskap en heiligmaking in hierdie lewe verbeter word, wat vanaf goed na beter tot in oorvloed kan gaan.
    Joh 10:10 “Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.”
    Die gelowige ontvang die eerste belewenis van die Ewige Lewe die oomblik wanneer hy die Evangelie glo. (geen werke mag by die Evangelie vir wedergeboorte gevoeg word nie). Met wedergeboorte ervaar die gelowige God se liefde, vrede en vreugde en word hy van die skuldgevoel van sy sondelas vrygestel.
  • Die kwalitatiewe aspek van die ewige lewe verbeter soos wat die gelowige die Here as toegewyde dissipel navolg. Soos wat die gelowige heiligmaking/dissipelskap nastreef en toepas, sal hy vind dat hy al hoe meer van die kwalitatiewe aspek van die ewige lewe bewus sal raak. In Joh 10:10 sien ons dat dit die Here se wil is dat ons die lewe in oorvloed mag hê en dit gebeur slegs soos wat die gelowige heiligmaking/dissipelskap in sy lewe toepas, deurdat hy Jesus se leerstellings soos wat Hy in die Bergpredikasie geleer het gehoorsaam, toepas en uitleef. Soos ons dus in die Gees wandel en deur Hom beheer word, ander te dien, bid, gee en in die geloof volhard ens, sal ons werklik leer wat dit beteken om die kwalitatiewe aspek van die ewige lewe te besit. Joh 10:10 het dus niks met voorspoed, rykdom en besittings te make, soos wat die proponente van die Voorspoed Evangelie wil hê ons moet glo nie. Die kwalitatiewe aspek van die ewige lewe word dus nie verbeter, deur wat ons besit nie, (materiële besittings) maar tot die mate hoe ons onsself verloën, ons kruis opneem, en Christus as getroue dissipels navolg, en dit sal ons baie kos, selfs ons fisiese lewens. Maar die loon vir getroue dissipelskap en heiligmaking in baie groter as wat ons ooit sal kan besef. Daarom kan ‘n persoon wat arm in hierdie lewe is of homself dalk in ‘n rystoel mag bevind, en as toegewyde dissipel leef die ewige lewe tot ‘n baie groter mate beleef as wat ‘n ryk persoon wat net vir homself lewe ooit sal kan beleef. Boonop gaan die goeie werke wat die gelowige in hierdie wêreld gedoen het, saam met hom die ewigheid in, en sal hy ryklik daarvoor beloon word, deur om die kwalitatiewe aspek van die ewige lewe tot ‘n baie hoër mate in die dispensasies wat kom te ontvang. Dus sal die kwalitatiewe aspek van die ewige lewe die toegewyde dissipel in die ewigheid in volg, en sal hy boonop ryklik deur Christus daarvoor beloon word, deurdat hy die kwalitatiewe aspek van die ewige lewe tot oorvloed toe sal ontvang. Ons ervaring van die kwalitatiewe aspek van die ewige lewe het niks met ons gesondheid en rykdom in hierdie wêreld te make nie!

So, wat is die Ewige Lewe dan?

Die ewige lewe kan dus omskryf word, as om die Vader en die Seun deur die Heilige Gees te beleef. Dit is wat die Bybel as die ewige lewe omskryf, nie val in die gees, ons besittings of rykdom of enige iets anders nie. Die ewige lewe is ‘n Persoon, en tot hoe ‘n mate die gelowige hierdie lewe gaan ervaar, is afhangend van hoe naby hy aan God leef. (heiligmaking/dissipelskap deur die Gees)
Joh 14:6 “Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.”
Wees uiters versigtig vir tel-evangeliste wat Jesus Christus se stelling in Joh 10:10 met rykdom en besittings verbind! Die belewenis van die ewige lewe het niks te make met wat ons besit nie, maar Wie ons het en tot hoe ‘n mate ons deur toegewyde dissipelskap aan Hom toegewy is!

Die Here Jesus Christus self het dit duidelik gemaak wat die ewige lewe in werklikheid is.
Joh 17:3 “En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.”
Die term “ken” is gelykstaande aan die intimiteit wat tussen man en vrou in ‘n huweliksverhouding bestaan, waardeur die intimiteit in die huwelik, deur die hoogste vorm van liefde uitgedruk word, naamlik seksuele gemeenskap. Adam het byvoorbeeld Eva beken (ken) en Josef het Maria beken ens. Hoe nader ons dus aan God leef, sal bepaal tot watter mate ons die kwalitatiewe aspek van die ewige lewe in hierdie dispensasie, sowel in die dispensasies wat kom, gaan beleef. Onthou die Here se woorde!
Joh 14:15 “As julle My liefhet, bewaar my gebooie.
Joh 14:21 Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar.”
Bostaande vereiste sluit die leerstelling van die Bergpredikasie asook alle leerstellings in die Nuwe Testament in. Toegewyde dissipelskap/heiligmaking kan nie van Jesus se gebooie geskei word nie! Dit is aan die gelowige wat Jesus Christus ten alle kostes getrou navolg, aan wie die Here Homself tot ‘n groter mate gaan openbaar, en so ‘n persoon sal weet wat dit beteken om die kwalitatiewe aspek van die ewige lewe alreeds aan diekant van die graf te beleef.

Somtyds beleef ons die grootste mate van vreugde en intimiteit met God, nadat ons ‘n groot toets in ons lewens moes deurstaan het.
Jak 1:12 Salig is die man wat versoeking verdra, want as hy die toets deurstaan het, sal hy die kroon van die lewe ontvang wat die Here beloof het aan die wat Hom liefhet.”
Moenie moedeloos word indien jy jouself nou in ‘n storm mag bevind nie. Gebruik hierdie geleentheid om as toegewyde dissipel Christus getrou na te volg al kos dit jou baie. Christus het Homself aan Sadrag, Mesag en Abednégo tot ‘n groter mate openbaar toe hulle in die oond van vuur gegooi is, omrede hulle getrou aan Hom gebly het . Ons moet dieselfde doen!

Ter Afsluiting: Die Bybel stel dit duidelik, dat ons die ewige lewe as geskenk by God ontvang, deur slegs die Evangelie te glo. Die gelowige ontvang met wedergeboorte die ewige lewe, en sal nooit in die poel van vuur kan beland nie en sal vir ewig in God se teenwoordigheid voortbestaan. Verder leer die Bybel ons, dat na aanvanklike wedergeboorte die gelowige die kwalitatiewe aspek van die ewige lewe kan verbeter, deur om heiligmaking/dissipelskap na te jaag, wat die gelowige baie in hierdie lewe gaan kos. Die gelowige sal egter nou al in hierdie lewe die kwalitatiewe aspek van die ewige lewe kan beleef, en boonop sal hy hierdie kwalitatiewe aspek saam met hom die hiernamaals indra. Onthou ons almal se bekers gaan vol wees, maar hulle gaan nie dieselfde grote wees nie. So ook sal alle gelowiges die ewige lewe geniet, maar die gelowiges wat die weg van toegewyde dissipelskap en heiligmaking nagejaag en toegepas het, sal oor ‘n groter kapasiteit beskik om die ewige lewe tot ‘n groter mate te geniet, om nie eers te praat van heersers posisies, skatte en ander loon nie. Boonop belowe die Here ‘n spesiale intieme verhouding met die gelowige wat deur toegewyde heiligmaking/dissipelskap oorwin het.
Op 2:17 “Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die verborge manna, en Ek sal hom gee ‘n wit keursteen, en op dié steen ‘n nuwe naam geskrywe wat niemand ken nie, behalwe hy wat dit ontvang.”
Die nuwe naam wat die getroue gelowige sal ontvang, sal slegs hyself en God ken, wat daarop dui, dat daar ‘n spesiale intieme verhouding tussen die getroue dissipel en God sal wees, wat niemand anders ‘n deel aan sal hê nie.

Waar ons dus teksgedeeltes aantref, wat die ewige lewe as iets in die toekoms aan die gelowige voorhou en wat ook werke as vereiste vir die ontvangs van die ewige lewe voorhou, moet ons onthou dat fase een, naamlik verlossing nie die fokus van die teksgedeelte is nie, maar fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking, waar die gelowige se samewerking en opofferings vereis word. Boonop moet die gelowige besef, dat die kwalitatiewe aspek van die ewige lewe, na aanvanklike wedergeboorte, deur toegewyde dissipelskap en heiligmaking verbeter kan word. En daarom word daardie kwalitatiewe aspek van die ewige lewe as loon, wat deur goeie werke en voortgesette geloof verdien kan word, aan die gelowige voorgehou.

Net gou twee voorbeelde.

Mat 19:29 “En elkeen wat huise of broers of susters of vader of moeder of vrou of kinders of grond ter wille van my Naam verlaat het, (fase twee van ons verlossing – heiligmaking) sal honderd maal soveel ontvang en die ewige lewe beërwe.” (Die ewige lewe waarvan die Here hier praat, word deur werke bekom, en handel dus oor die verbetering van die kwalitatiewe aspek van die ewige lewe, wat die gelowige met aanvanklike geloof ontvang het. Ons merk ook op, dat die ewige lewe as iets, wat die gelowige in die toekoms kan ontvang, voorgehou word en het dit niks met aanvanklike wedergeboorte [fase een van verlossing – wedergeboorte] te make nie, maar wel met heiligmaking/dissipelskap. [Fase twee van verlossing – heiligmaking] Dit is met fase twee waar loon vir die toekoms deur goeie werke bekom word.)

1Ti 6:17 “Beveel die rykes in die teenwoordige wêreld om nie hoogmoedig te wees nie en ook nie hulle hoop te stel op die onsekerheid van die rykdom nie, maar op die lewende God wat ons alles ryklik verleen om te geniet; 6:18 dat hulle goed moet doen en ryk wees in goeie werke, vrygewig, mededeelsaam, 6:19 en vir hulle ‘n skat weglê, (fase twee van verlossing – heiligmaking) ‘n goeie fondament vir die toekoms, (‘n verbeterde kwalitatiewe aspek van die ewige lewe, wat deur dissipelskap/heiligmaking verbeter kan word, wat ook ander skatte insluit.)sodat hulle die ewige lewe kan verwerf.” (nie fase een van verlossing, naamlik wedergeboorte nie, maar ‘n verdere kwalitatiewe aspek van die ewige lewe wat as loon bekom word. Dus is dit ‘n lewe wat nie vermors was nie, maar wat aan die Here deur goeie werke, heiligmaking en dissipelskap toegewy is. ‘n Vrugbare lewe wat groot loon in die toekoms sal bewerk al het dit in hierdie lewe die gelowige baie gekos. Let op, dat Paulus vir Timoteus beveel om die rykes in die gemeente aan te moedig om nie hoogmoedig te wees nie, asook om goeie werke voort te bring. Dit is uit die konteks baie duidelik, dat hierdie boodskap aan ryk gelowiges gerig is, en nie aan ongelowiges nie, want indien hulle nie gelowiges was nie, sou Paulus vir Timoteus aangesê het om eers die Evangelie aan die rykes te verkondig. Onthou, mens word nie wedergebore deur goeie werke nie, maar deur die glo van die Evangelie, sonder die doen van enige werke.

Dit is my hoop, dat die leser meer vreugde uit die bestudering van die Bybel sal verkry, en dat hy deur die toepassing van hierdie beginsels, soos in hierdie artikel meegegee, daartoe sal bydra dat die leser self sy Bybel sal bestudeer en deur die toepassing daarvan die kwalitatiewe aspek van die ewige lewe mag verbeter, soos wat hy deur dissipelskap en heiligmaking nader aan die Here beweeg, wat weer op sy beurt groot loon sal meebring.
As gelowiges moet ons besef dat die wyse waarop ons ons lewens in hierdie wêreld uitleef ewigdurende implikasies vir ons gaan inhou.
Jak 1:12 “Salig is die man wat versoeking verdra, want as hy die toets deurstaan het, sal hy die kroon van die lewe ontvang wat die Here beloof het aan die wat Hom liefhet.”
Op 22:12 “En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees.” (Ongelowiges sal volgens hulle werke beoordeel word en deur hulle werke na die poel van vuur gestuur word, omdat hulle die Evangelie verwerp het. Gelowiges gaan op hulle werke na wedergeboorte beoordeel word, wat ‘n verdere addisionele kwalitatiewe aspek van die ewige lewe gaan bepaal, wat verdere loon, skatte en heersers posisies insluit.

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.