dissipel

Onderskeid tussen ‘n Gelowige en ‘n Dissipel

In ons poging om die Evangelie, van God se genade deur geloof alleen, teen die byvoeging van werke te beskerm, is dit van uiterste belang dat ons die woord van God reg sny. En juis om hierdie rede het die apostel Paulus, sy jong metgesel Timotheus, soos volg vermaan:
2Ti 2:15 “Lê jou daarop toe (studeer) om jou beproef voor God te stel as ‘n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny.”
Daarom behoort dit dan ook elke gelowige se doelwit te wees, om die Bybel vir homself te bestudeer om uit te vind wat die Here werklik aan hom wil sê. Om die verskil tussen ‘n gelowige en ‘n dissipel te kan onderskei vergemaklik die taak om die Bybel reg te verstaan. Ja, alle persone wat die Evangelie geglo het is gelowiges, maar nie alle gelowiges is dissipels nie. Daar is ‘n verskil. Met die skryf van hierdie artikel, sal gepoog word om hierdie onderskeid te demonstreer. (die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Drie Fases van Verlossing” weer te lees, omrede hierdie artikels as een groot geheel by mekaar inskakel.)

Die hieropvolgende teksgedeeltes sal hierdie feit baie mooi illustreer.
Joh 3:14 “En soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die mens verhoog word, 3:15 sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. 3:16 Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. (die gelowige besit die ewige lewe dus as ewige besitting, wat hy nooit sal kan verloor nie) 3:17 Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word. 3:18 Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.”
Bostaande teksgedeeltes demonstreer baie mooi die wonderlike waarheid, dat die ewige lewe slegs op grond van God se genade, deur geloof alleen, in die Here Jesus Christus se voltooide werk aan die kruis alleen bekom word, en dat geen werke vir die ontvang van die ewige lewe benodig of by die Evangelie, vir wedergeboorte, gevoeg mag word nie. (Fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte.)

Daar is egter ander teksgedeeltes wat werke as vereiste voorhou, en indien hierdie teksgedeeltes nie in lig van die drie fases van ons verlossing verstaan en toegepas word nie, lei dit daartoe dat ons werke as vereiste by die Evangelie vir aanvanklike wedergeboorte voeg, wat die ware Evangelie in ‘n valse evangelie verander, wat tot niemand se verlossing sal strek nie.
Luk 14:26 “As iemand na My toe kom en hy haat nie sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs ook sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie. 14:27 En elkeen wat sy kruis nie dra en agter My aan kom nie, kan my dissipel nie wees nie. 14:28 Want wie van julle wat ‘n toring wil bou, gaan nie eers sit en die koste bereken, of hy die middele het om dit uit te voer nie? — 14:29 sodat as hy die fondament gelê het en nie in staat is om dit te voltooi nie, almal wat dit sien, nie miskien met hom sal begin spot 14:30 en sê: Hierdie man het begin bou en kon nie klaarkry nie. 14:31 Of watter koning wat optrek om teen ‘n ander koning slag te lewer, gaan nie eers sit en beraadslaag of hy in staat is om met tien duisend die een te ontmoet wat met twintig duisend teen hom kom nie? 14:32 Anders stuur hy ‘n gesantskap as die ander een nog ver is, en vra vredesvoorwaardes. 14:33 So kan dan ook niemand van julle wat nie afsien van al sy besittings, my dissipel wees nie.”
Uit bostaande teksgedeeltes is dit baie duidelik, dat dit baie kos om die Here as dissipel te na te volg. Om hierdie vereistes deel van die Evangelie te maak, sou beteken dat God Homself in Sy woord weerspreek. Ons weet egter dat dit nie die geval kan wees nie, en waar dit wil voorkom of daar ‘n weerspreking in die Bybel bestaan, moet ons besef, dat die fout by ons uitleg van die Bybel lê en nie in die Bybel self nie. (Die Bybel is immers God se woord aan die mens en as sulks kan daar geen weerspreking wees nie. God maak nie foute nie, en daarom is dit raadsaam om altyd hierdie feit ingedagte te hou wanneer dit by Bybel uitlegging kom.) Indien ons egter bostaande teksgedeeltes in lig van die drie fases van ons verlossing bestudeer, sal ons opmerk, dat die Here na fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking, wat dissipelskap insluit, verwys (wat baie kos) en nie na fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte nie. (wat kosteloos as geskenk slegs deur geloof ontvang word) Met die res van hierdie artikel, sal gepoog word om die onderskeid tussen ‘n gelowige (fase een) en ‘n getroue dissipel (fase twee) meer breedvoerig uit een te sit.

‘n Gelowige glo/vertrou Christus alleen vir verlossing/wedergeboorte. Hierdie gebeurtenis vind eenmalig, op ‘n enkele punt in tyd plaas, wanneer die persoon die Evangelie glo en wedergebore word.
Joh 3:16 “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” (Huidige besitting, nie iets wat nog deur goeie werke verdien moet word nie.)(Fase een- wedergeboorte.)
Hnd 10:43 “Aangaande Hom getuig al die profete dat elkeen wat in Hom glo, vergifnis van sondes deur sy Naam ontvang.” (Fase een- wedergeboorte.)
Hnd 16:31 “Toe sê hulle: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.” (Fase een- wedergeboorte.)

‘n Ware dissipel volg die Here Jesus Christus vir heiligmaking en diens. Hierdie is nie ‘n eenmalige gebeurtenis in tyd nie, maar vind oor ‘n lang tydperk na aanvanklike wedergeboorte plaas en moet daagliks deur die gelowige gedoen word.
Mat 8:21 “En ‘n ander een van sy dissipels het vir Hom gesê: Here, laat my toe om eers te gaan en my vader te begrawe. 8:22 Maar Jesus sê vir hom: Volg My, en laat die dooies hul eie dooies begrawe. 8:23 En toe Hy in die skuit klim, het sy dissipels Hom gevolg.” (Fase twee – Heiligmaking/dissipelskap)
Mat 4:18 “En terwyl Jesus langs die see van Galiléa loop, sien Hy twee broers, Simon wat genoem word Petrus, en Andréas, sy broer, besig om ‘n net in die see uit te gooi; want hulle was vissers. 4:19 En Hy sê vir hulle: Kom agter My aan, en Ek sal julle vissers van mense maak. (Die dissipels het ‘n keuse gehad om die sekuriteit van ‘n vaste beroep te verlaat, en om die Here as dissipels na te volg. Dus was daar ‘n koste aan verbonde.) 4:20 En hulle het dadelik die nette laat staan en Hom gevolg. 4:21 En toe Hy daarvandaan verder gaan, sien Hy twee ander broers, Jakobus, die seun van Sebedéüs, en Johannes, sy broer, in die skuit saam met hulle vader Sebedéüs, besig om hulle nette heel te maak; en Hy het hulle geroep. 4:22 En hulle het dadelik die skuit en hulle vader verlaat en Hom gevolg.” (Fase twee – Heiligmaking/dissipelskap)
Joh 1:37 “En die twee dissipels het hom dit hoor sê en Jesus gevolg.” (Fase twee – Heiligmaking/dissipelskap)

Fil 3:10 “sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word, 3:11 of ek miskien die opstanding uit die dode kan bereik. 3:12 Nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp, (fase twee – heiligmaking/dissipelskap) omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is. (Fase een – wedergeboorte) 3:13 Broeders, ek reken nie dat ek dit self gegryp het nie. 3:14 Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus.” (Fase twee – Heiligmaking/dissipelskap) Die opstanding uit die dode waarna Paulus hier verwys, is nie die eerste opstanding (Grieks: “Anastasis.”) waarvan alle gelowiges, wat die Evangelie geglo het, deel van sal uitmaak nie, maar die opstanding uit die dode waarna Paulus hiervoor streef, is die beter opstanding (Grieks: “Ekanastasis.”) wat aan die getroue dissipel as verdiende loon of as prys voorgehou word. Dus is die eksanastasis wat Paulus na gestreef het (werke) nie slegs die eerste opstanding van die dode nie, maar ‘n beter opstanding, wat ‘n voller belewenis van die opstandingslewe insluit. Hierdie beter opstanding is dieselfde as wat die geloofshelde in Hebreeus 11 voor gely het en waarvoor hulle duur moes betaal het.
Heb 11:35 “Vroue het hulle dode deur opstanding teruggekry, en ander is gefolter (gemartel) en wou geen bevryding aanneem nie, om ‘n beter opstanding te kan verkry.” (fase twee – Heiligmaking/dissipelskap.)
Die apostel Petrus het ook na hierdie opstanding in 2 Pet 1:11 verwys.
2Pe 1:10 “Daarom, broeders, moet julle jul des te meer beywer om julle roeping en verkiesing vas te maak; want as julle dit doen, sal julle nooit struikel nie. (fase twee – heiligmaking/dissipelskap.) 1:11 Want so sal ryklik aan julle verleen word die ingang in die ewige koninkryk van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus.” (fase twee – heiligmaking, nie fase een wedergeboorte nie, wat slegs op grond van God se genade, deur geloof alleen in Christus se Persoon en voltooide werk aan die kruis vir die gelowige bewerkstellig is, en wat as geskenk ontvang moet word, sonder die doen van enige werke!)

‘n Gelowige kom na Christus toe vir verlossing/wedergeboorte.
Joh 6:37 “ Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie.” (Fase een- wedergeboorte.)
Mat 11:28 “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.” (Fase een- wedergeboorte.)

‘n Ware dissipel kom na Christus toe en volg Hom getrou na.
Mat 16:24 “Toe sê Jesus vir sy dissipels: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg. (Fase twee – Heiligmaking/dissipelskap)
Luk 14:26 “As iemand na My toe kom en hy haat nie sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs ook sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie.” (Fase twee – Heiligmaking/dissipelskap)
Mar 8:34 “En toe Hy die skare saam met sy dissipels na Hom geroep het, sê Hy vir hulle: Wie agter My aan wil kom, moet homself verloën en sy kruis opneem en My volg. 8:35 Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil en om die evangelie ontwil verloor, hy sal dit red. 8:36 Want wat sal dit ‘n mens baat as hy die hele wêreld win en aan sy siel skade ly? 8:37 Of wat sal ‘n mens gee as losprys vir sy siel? 8:38 Want elkeen wat hom vir My en my woorde skaam in hierdie owerspelige en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom in die heerlikheid van sy Vader met die heilige engele.” (Fase twee – Heiligmaking/dissipelskap) (Die leser word aangeraai om die artikel “Gelowiges se werke gaan beoordeel word” asook die “Gelykenis van die Ponde” vir meer inligting rondom hierdie gebeure te lees.)

‘n Gelowige glo in die boodskap van Christus se kruis.
1Ko 1:18 “Want die woord van die kruis is wel dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God; 1:19 want daar is geskrywe: Ek sal die wysheid van die wyse mense vernietig en die verstand van die verstandige mense tot niet maak. 1:20 Waar bly die wyse? Waar bly die skrifgeleerde? Waar die redetwister van hierdie eeu? Het God nie die wysheid van hierdie wêreld dwaas gemaak nie? 1:21 Want aangesien in die wysheid van God die wêreld deur die wysheid God nie geken het nie, het dit God behaag om deur die dwaasheid van die prediking die wat glo, te red;” (Fase een- wedergeboorte.)
Rom 1:16 “Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek.” (Fase een- wedergeboorte.) Indien die leser onseker is oor wat die Evangelie behels word hy aangeraai om die artikel “Die Evangelie” weer te lees, om seker te maak dat hy de regte Evangelie verstaan en glo.

‘n Ware dissipel neem daagliks sy kruis op en volg die Here Jesus Christus.
Luk 9:23 “En Hy sê vir almal: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg. (Fase twee – Heiligmaking/dissipelskap)
Luk 14:27 En elkeen wat sy kruis nie dra en agter My aan kom nie, kan my dissipel nie wees nie.” (Fase twee – Heiligmaking/dissipelskap)

‘n Gelowige het die Evangelie geglo. (‘n Enkele gebeurtenis in tyd)
1Ko 15:1 “Broeders, ek maak julle die evangelie bekend wat ek aan julle verkondig het, wat julle ook aangeneem het, (Fase een- wedergeboorte.) waarin julle ook staan, 15:2 waardeur julle ook gered word (van die houvas van die sonde in hulle lewens na aanvanklike wedergeboorte) as julle daaraan vashou op die wyse waarop ek dit aan julle verkondig het, (Fase twee – Heiligmaking/dissipelskap) of julle moet tevergeefs geglo het. 15:3 Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; 15:4 en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte;” (Fase een- wedergeboorte.)

‘n Ware dissipel gaan voort om God se woord te hoor en dit te gehoorsaam.
Joh 8:31 “En Jesus sê vir die Jode wat in Hom geglo het: (Verlede tydvorm, dus alreeds afgehandel. Fase een – wedergeboorte.) As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels.(Fase twee – Heiligmaking/dissipelskap) 8:32 En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.” (Fase twee – Heiligmaking/dissipelskap)

‘n Gelowige is met die oomblik van wedergeboorte in Christus geplaas.
2Ko 5:17 “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.” (Fase een- wedergeboorte.)

‘n Ware dissipel bly in die Here Jesus Christus en dra veel vrug.
Joh 15:7 “ As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry. 15:8 Hierin is my Vader verheerlik, dat julle veel vrug dra; en julle sal my dissipels wees. (Fase twee – Heiligmaking/dissipelskap)

‘n Gelowige ontvang die ewige lewe/verlossing as geskenk, wat deur die Here Jesus Christus se voltooide werk aan die kruis bewerkstellig is.
Rom 3:23 “ want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, 3:24 en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is.” (Fase een- wedergeboorte.)
Efs 2:8 “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; 2:9 nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.” (Fase een- wedergeboorte.)

‘n Ware dissipel, is die ontvanger van ‘n ware dissipel se duur verdiende prys/beloning.
Mat 10:34 “Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard. 10:35 Want Ek het gekom om tweedrag te verwek tussen ‘n man en sy vader, en tussen ‘n dogter en haar moeder, en ‘n skoondogter en haar skoonmoeder. 10:36 En ‘n mens se huisgenote sal sy vyande wees. 10:37 Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie. (Fase twee – Heiligmaking/dissipelskap) 10:38 En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie. (Fase twee – Heiligmaking/dissipelskap)10:39 Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind. (Fase twee – Heiligmaking/dissipelskap) 10:40 Wie julle ontvang, ontvang My; en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het. 10:41 Wie ‘n profeet ontvang omdat hy ‘n profeet is, sal die loon van ‘n profeet ontvang; en wie ‘n regverdige ontvang omdat hy ‘n regverdige is, sal die loon van ‘n regverdige ontvang. 10:42 En elkeen wat een van hierdie kleintjies net ‘n beker kou water laat drink, omdat hy ‘n dissipel is, voorwaar Ek sê vir julle, hy sal sy loon sekerlik nie verloor nie.” (Fase twee – Heiligmaking/dissipelskap)

‘n Gelowige het die ewige lewe as ‘n huidige besitting en kan dit nooit verloor nie.
Joh 6:47 “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo, het die ewige lewe.” (Fase een- wedergeboorte.)
Joh 11:25 “Jesus sê vir haar: Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe; 11:26 en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie. Glo jy dit?” (Fase een- wedergeboorte.)
(Die leser word aangeraai om die artikel “Ewige Sekuriteit van die Gelowige” vir meer inligting rondom hierdie onderwerp te lees.)

‘n Ware dissipel geniet ‘n oorvloedige kwalitatiewe aspek van die ewige lewe nou, in hierdie lewe, en sal ‘n nog groter mate van die kwalitatiewe aspek van die ewige lewe, in die hiernamaals, beërwe.
Mar 10:28 “Toe begin Petrus vir Hom te sê: Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg. (Fase twee – Heiligmaking/dissipelskap) 10:29 En Jesus antwoord en sê: Voorwaar Ek sê vir julle, daar is niemand wat huis of broers of susters of vader of moeder of vrou of kinders of grond ter wille van My en van die evangelie verlaat het nie, 10:30 of hy ontvang nou in hierdie tyd honderd maal soveel: huise en broers en susters en moeders en kinders en grond, saam met vervolginge, en in die eeu wat kom, die ewige lewe.”
Mat 19:27 “Daarop antwoord Petrus en sê vir Hom: Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg. Wat sal daar dan vir ons wees? (Fase twee – Heiligmaking/dissipelskap) 19:28 En Jesus sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle dat julle wat My gevolg het, in die wedergeboorte wanneer die Seun van die mens op sy heerlike troon gaan sit, julle ook op twaalf trone sal sit en die twaalf stamme van Israel sal oordeel. 19:29 En elkeen wat huise of broers of susters of vader of moeder of vrou of kinders of grond ter wille van my Naam verlaat het, sal honderd maal soveel ontvang en die ewige lewe beërwe.” (Die leser word aangeraai om die artikel “Wat is die Ewige Lewe” en, “Die Gelowige se werke gaan beoordeel word” asook die “Gelykenis van die Ponde en Talente” vir meer inligting rondom hierdie gebeure te lees.)

‘n Gelowige glo/vertrou die Here Jesus Christus, op ‘n punt in tyd, om wedergebore te word en die ewige lewe as geskenk te ontvang.
Hnd 16:31 “Toe sê hulle: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.” (Fase een- wedergeboorte.)
Joh 4:14 “maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ‘n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe.” (Fase een- wedergeboorte.)

‘n Ware dissipel volg die Here getrou, na aanvanklike wedergeboorte, na. Iets wat oor ‘n proses van tyd plaasvind.
Mat 28:19 “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. 28:20 En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen.” (Fase twee – Heiligmaking/dissipelskap)
Hnd 14:22 “en die siele van die dissipels versterk en hulle vermaan om in die geloof te bly deur te sê: Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan. (Fase twee – Heiligmaking/dissipelskap)

Ter Afsluiting: Baie meer kan oor hierdie onderwerp geskryf word, maar hierdie artikel sal die leser help om onderskeid tussen ‘n gelowige en ‘n toegewyde dissipel te kan tref. Ek het dit al ‘n gewoonte gemaak om altyd die verskillende fases van verlossing, in alle teksgedeeltes, te onderskei en dit maak die lees en verstaan van die Bybel soveel makliker. En boonop geniet ek dit meer om die Bybel te bestudeer en word ek nooit deur vrees oorval as ek by ‘n teksgedeelte kom waar dit wil voorkom asof ek my verlossing kan verloor nie. Indien ons die Bybel reg sny, sal ons geen ander keuse hê as om te besef hoe lief God ons werklik het en is dit geensins moeilik om Sy onbeskryflike liefde en genade beter te begryp nie. En onthou, waar iets as ‘n beloning of prys, in die Nuwe Testament, aan ‘n persoon voorgehou word, wat op grond van goeie werke en ten koste van iets verdien kan word, kan met sekerheid gesê word dat fase twee van ons verlossingsplan in fokus is. Dit sal ook opmerklik wees, dat hierdie beloning of prys, altyd aan die gelowige voorgehou word, as iets wat hy in die toekoms kan bekom en is dit nie noodwendig ‘n huidige besitting nie. Waar verlossing egter op grond van slegs genade deur geloof aan die gelowige voorgehou word, kan met sekerheid gestel word, dat fase een, naamlik wedergeboorte die fokus van die teksgedeelte is. Boonop sal wedergeboorte altyd as iets, wat as huidige besitting bekom kan word, voorgehou word en is dit nie iets wat ons eers in die toekoms as besitting sal ontvang nie. Die ewige lewe word aan elke wedergebore kind van die Here as huidige besitting gewaarborg. Dit sal nooit van ons weggeneem kan word nie, want die Almagtige God en Skepper van alles het ons daardie waarborg gegee.
Joh 10:28 “En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie. 10:29 My vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal; en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie. 10:30 Ek en die Vader is een.”
Dit is egter ‘n tragiese feit, dat daar baie mense is wat so hard probeer om hulle eie verlossing te bewerkstellig, of so hard probeer om hulleself gered te hou, dat hulle die God van die Bybel heeltemal misloop en Hom nooit werklik leer ken nie. Wat ‘n tragedie!

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.