salwing

Die Salwing (The Anointing)

Voordat ons met die artikel oor die Salwing begin, wil ek net graag die leser ten sterkste aanraai om Derren Brown – Miracles for Sale (Full) op YouTube op te soek en die program aandagtig deur te kyk. Sy program vlek die bedrog en metodes agter die tendens van geloof geneeshere oop, en demonstreer dat hierdie mense nie werklik deur die Heilige Gees gesalf is om mense te genees nie, maar dat hulle aangeleerde metodes gebruik om hulle gehore te verkul en te mislei. Die leser word aangeraai om mooi na die tegnieke en metodes wat hierdie mense aanwend te kyk en te bestudeer, en dan self vas te stel of hy dalk nie self aan die ontvang kant van hierdie bedrogspul is nie. Onthou geloof wat nie op Bybelse waarhede gebaseer is nie, is nie ware geloof nie, maar ‘n delusie. Kan daar van ‘n persoon gesê word dat hy God dien as hy van sulke slinkse metodes gebruik maak? Een so ‘n metode is die sogenaamde kulkuns om te beweer dat ‘n persoon se een been korter as die ander is en dan die kulkuns aan te wend om te bewys dat daar ‘n werklike wonderwerk plaasgevind het. Dit is skokkend, oneties en boonop oneerlik van pastore om van hierdie tegnieke gebruik te maak en dit dan as ‘n wonderwerk aan hulle gehore voor te wil hou!! God sal nooit enige manipulasie en leuens goedkeur om Sy werk te bevorder nie!

Ek raai die leser weereens ten sterkste aan om die program te kyk, en dan vra ek die leser om weer hierdie artikel aandagtig deur te lees. Mens wonder net hoekom ‘n erkende ateïs hierdie bedrogspul kan waarneem en ontbloot, maar ‘n groot gedeelte van die belydende Christendom weet nie eers dat hulle die slagoffers van valse leerstellinge is en dat baie van hulle verkul en bedrieg word nie. Ons as gelowiges behoort oor meer wysheid en insig as belydende ateïste te beskik, maar soms is dit nie nie geval nie. Is die rede hiervoor dalk nie ons gebrek aan kennis a.g.v ons eie onbereidwilligheid om self die Skrifte te ondersoek nie?
Hos 4:6 “My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis; omdat jy die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp, sodat jy vir My die priesteramp nie sal bedien nie; omdat jy die wet van jou God vergeet het, sal Ek ook jou kinders vergeet.”
Is hierdie nie dalk een van die redes waarom ons land huidiglik in die toestand verkeer soos wat huidiglik die geval is nie? Kyk maar net na die gebeure om jou rond. Hierdie is ‘n baie ernstige saak en ek dank die dame wat die onderwerp onder my aandag gebring het. (Sy sal weet wie sy is) Aan die einde van die artikel sal ek twee verdere YouTube skakels oor ‘n program wat deur Christene gemaak inplaas en wat ook hierdie bedrogspul ontbloot. Maak asb tyd om hierdie programme aandagtig deur te kyk. Kweek ‘n liefde vir die waarheid aan, want die Bybel waarsku ons ernstig oor mense wat nie ‘n liefde vir die waarheid het nie.
2Ts 2:9 “hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen 2:10 en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie. 2:11 En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, 2:12 sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid.”
Moenie alles glo wat aan jou verkondig word nie, en moenie deur jou gevoelens meegesleur word nie. Soek die waarheid! Indien ‘n persoon werklik die waarheid wil weet, kan hy of sy verseker weet dat die Heilige Gees hulle daarmee sal help.

Deesdae hoor mens gereeld van die woord salwing (anointing) en baie mense verkondig dat as ‘n persoon die een of ander saamtrek, kurses bywoon, of gesalfde evangelis, apostel of profeet besoek so ‘n persoon ook die salwing (anointing) by die gesalfde persoon deur sy handoplegging kan ontvang. Baie keer word daar dan ook klein flessies salwing olie (anonted oil), boeke en DVD’s, asook gebed doeke wat deur sogenoemde gesalfde geestelike leiers gesalf is en dan verkoop word, waaroor hulle kwansuis gebid het en waardeur hulle, deur handoplegging, kwansuis hulle salwing op die genoemde voorwerpe oorgedra het, sodat die ontvanger daarvan ook die salwing sal ontvang as hy die produk koop en daarna luister, die kledingstukke of gebedsdoeke op siekes lê, en ook as hulle hulleself met die gesalfde olie (anointed oil) salf en na die preke ens luister. Baie keer word verkondig dat siektes genees sal word, die binding van armoede, sonde en sondige begeertes verbreek sal word deur die salwing wat op hierdie voorwerpe geplaas is. Voordat ons onsself toelaat om deur hierdie beloftes en leerstellings meegesleur te word, is dit belangrik om te besef dat ons nooit subjektiewe ervarings (buite Bybelse ervarings) bo die objektiewe verklarings van die Bybel moet plaas nie. So ook kan mens nie intuïtiewe openbarings bo die geïnspireerde ewige woord van waarheid, soos wat dit in die Bybel opgeteken staan, verhef nie. Indien ‘n ware God geïnisieerde ondervinding beleef word, sal dit altyd inlyn met die inhoud van die Bybel plaasvind en sal dit nooit met die Bybel in botsing kom nie. Die Bybel is immers God se woord en die Here sal Homself nooit weerspreek nie. Indien ons hierdie waarheid verontagsaam gaan ons ernstig verlei word, en sal self die gevolge daarvan moet dra.

Dit is van uiterste belang dat ons weet hoe en wanneer ‘n persoon die Heilige Gees ontvang. ‘n Persoon ontvang die Heilige Gees die oomblik wanneer hy die Evangelie hoor, verstaan en glo.
Efs 1:13 “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,
Gal 3:2 Dit alleen wil ek van julle weet: het julle die Gees ontvang uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof?
Rom 1:16 Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek.”
Die oomblik wanneer die gelowige die Evangelie glo, ontvang hy die Heilige Gees, en word die persoon deur die Heilige Gees as God se eiendom verseël en sal die Heilige Gees nooit weer daardie persoon verlaat nie. (Lees asb die artikel “Ewige Sekuriteit van die Gelowige” vir meer besonderhede rondom hierdie feit.)
2Ko 1:21 “Maar Hy wat ons saam met julle bevestig in Christus en ons (met die Heilige Gees) gesalf het, is God, (God is die Persoon wat ons met die Heilige Gees salf, nie mense nie!) 1:22 wat ons ook verseël het en die Gees as onderpand in ons harte gegee het.
Efs 1:13 in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,”
Ons kan dus met absolute sekerheid weet, dat elke gelowige wat die Evangelie geglo het, die Heilige Gees in hom of haar het, en boonop is die gelowige deur die Heilige Gees verseël en dus kan niemand, of enige iets, ooit daardie kind/Vader verhouding met God ongedaan maak nie. Onthou die Heilige Gees, wat die derde Persoon in die Drie-Eenheid is, en self God is, is die seël wat ons ewige sekuriteit in Hom waarborg.

Die volgende feit wat ons baie mooi moet verstaan, is dat die salwing met die Heilige Gees geensins van die Persoon van die Heilige Gees geskei kan word nie. Daar is ‘n direkte verbintenis tussen die salwing met die Heilige Gees en die Heilige Gees self. Dit is die inwerking van die Heilige Gees (wat alreeds met wedergeboorte in die gelowige inwoon) wat die gelowige die krag gee en daardeur in staat stel om sy bediening op aarde te kan uitvoer. Sonder die Heilige Gees is daar geen sprake van die salwing van die Heilige Gees nie.
Luk 4:18 “Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees;”
Net soos wat Jesus Christus deur die Heilige Gees gesalf is, word die gelowige ook met die Heilige Gees gesalf, wat die gelowige dan in staat stel om sy bediening op aarde te voltooi. Die krag van die Heilige Gees staan in direkte verband met die Heilige Gees self en kan nie van mekaar geskei word nie.
Luk 1:35 En die engel antwoord en sê vir haar: Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom ook sal die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word.”

Indien ‘n persoon wedergebore is, besit daardie persoon die hele Persoon van die Heilige Gees en kan daar later nie meer van die Heilige Gees ontvang word nie, want die gelowige beskik alreeds oor die volheid van die Heilige Gees wat God is. Die Heilige Gees word nie met wedergeboorte in inkremente uitgestort nie. Die Heilige Gees is God. Of die Heilige Gees woon in ‘n persoon in of Hy doen nie. Indien die gelowige enigsins God in homself het, kan hy verseker weet dat hy die hele Persoon van God in hom het en nie net ‘n gedeelte of persentasie van Hom nie. (Lees asb die artikel “Word met die Gees vervul” om vas te stel wat ons moet doen om met die Gees vervul te word.)
1Ko 3:16 “Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?
Rom 8:9 julle is egter nie in die vlees nie, maar in die Gees, as naamlik die Gees van God in julle woon. Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, dié behoort nie aan Hom nie.”
Om hierdie rede is dit niks anders as dwaalleer om te verkondig dat ‘n persoon die salwing van die Heilige Gees aan ‘n ander gelowige d.m.v handoplegging of enige ander manier kan oordra (“Holy Ghost Impartation”) soos wat baie mense beweer nie. Indien ‘n persoon die Heilige Gees in homself het, dan is dit onmoontlik om die salwing van die Heilige Gees in daardie persoon op enige wyse te vermeerder, want mens kan nie die Heilige Gees met die salwing (anointing) van die Heilige Gees skei nie. Of ‘n persoon is met die Heilige Gees gesalf of hy is nie, daar is geen ander middelweg nie, en so ‘n gebeurtenis vind slegs eenmalig met die glo van die Evangelie in die gelowige se lewe plaas. Dit is nie ‘n gebeurtenis wat herhaal kan word nie. Die Gees word slegs op grond van ons geloof in die Evangelie ontvang, niks anders nie!

Omrede die Heilige Gees nie van die salwing (anointing) geskei kan word nie, behoort dit duidelik te wees, dat geen mens die salwing van die Heilige Gees aan enige lewelose voorwerp, soos bv botteltjies olie, linne of enige ander voorwerp, kan oordra nie. Die Heilige Gees is nie ‘n kommoditeit wat die mens kan weggee of uitdeel soos wat hy wil nie. Die Heilige Gees is die Alleenwyse Almagtige God en is die derde Persoon in die Drie-Eenheid!
1Jo 2:27 “En die salwing wat julle van Hom (Jesus Christus, nie van die een of ander gesalfde prediker, apostel of profeet nie. ) ontvang het, bly in julle, en julle het nie nodig dat iemand julle leer nie; maar soos dieselfde salwing julle aangaande alles leer, so is dit ook waar en geen leuen nie; en soos dié julle geleer het, so moet julle in Hom bly.” (die Heilige Gees sal ons altyd die waarheid leer, nie leuens of dwaalleer nie, en dit word van die mens verwag om ‘n liefde vir die waarheid te hê. 2Ts 2:9-11)
Joh 14:17 “die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.”
Die heilige Gees is nie een of ander onpersoonlike krag wat uit ons, en op ons bevel, uit ons hande of enige plek uit ons aan ander mense en voorwerpe oorgedra kan word nie. Daar is mense wat verkeerdelik verkondig, dat nie alle gelowiges oor die salwing van die Heilige Gees beskik nie, en daarom is dit nodig dat hulle die salwing (anointing) by ‘n gesalfde (anointed) persoon moet ontvang, of dat die gelowige met olie uit een van die flessies gesalfde olie gesalf moet word, wat deur die gesalfde persoon teen ‘n prys verkoop word. Hierdie leerstelling is lynreg in botsing met wat die Bybel ons leer! Kyk maar gerus self hoeveel boeke daar te koop aangebied word, wat metodes en stappe propageer wat die leser van die boek sal help om sy salwing te vergroot of die salwing van die Heilige Gees te bekom. Hierdie leerstelling lei na absurde gedrag, soos byvoorbeeld die idee om op afgesterwe gesalfde (anointed) mense se grafte te gaan lê, om sodoende die salwing (anointing) wat die afgestorwe persoon besit het te ontvang. Hierdie tipe optrede is duidelik sinneloosheid en grens aan Godslastering, indien dit nie alreeds is nie! Ons kan verseker wees, dat hierdie optrede nie God se seën gaan bring nie, maar Sy oordele! As iemand die Heilige Gees wil bekom, moet daardie persoon net dood eenvoudig die Evangelie glo, soos wat die Bybel ons beveel om te doen en niks anders nie!

Die Bybel stel dit egter baie duidelik, dat toe die salwing van die Heilige Gees op Jesus Christus gekom het, Hy op Hom gebly het en nie gekom en gaan het nie. Dieselfde beginsel geld vir die gelowige wat in die dispensasie van genade leef en wat alreeds hierbo gedokumenteer is. Dit is verder ook baie opmerklik, dat die apostels nooit mense aangeraai het om na ‘n gesalfde (anointed) diens (insluitend sogenaamde genesings dienste) te kom om die salwing te ontvang nie. Ook het hulle nooit olie uitgedeel wat kwansuis deur hulle gesalf is en wat die salwing op die gebruikers daarvan sal oordra nie. Dit is ook opmerklik dat die apostels ook nooit genoem het, dat die salwing op hulle gekom het om genesings of ander wonderwerke te doen nie. Hulle was deur geloof bewus van die feit dat die Heilige Gees alreeds in hulle was en deur Sy inwerking, en net soos wat Hy wou, het Hy gawes uitgedeel en wonderwerke deur hulle gedoen. Tydens die apostoliese tydperk kon unieke wonderwerke verrig word, wat nie vir ons tyd beskore is nie, en daarom sien ons ook nie deesdae die wonderwerke wat as bewys gedien het, dat die apostels wel God se boodskappers was nie. Dit moet ook gelet word, dat baie van die wonderwerke hoofsaaklik as tekens aan ongelowiges gedien het. Paulus het na hierdie tekens as een van die tekens verwys, wat as bewys dien dat hy deur God die amp van sy apostelskap ontvang het en dat hy homself nie aangestel het nie!
2Ko 12:12 “Die kentekens tog van ‘n apostel is onder julle verwerklik met alle volharding deur tekens en wonders en kragtige dade.”
Dit behoort duidelik te wees dat sekere tekens en wonderwerke slegs deur die Apostels gedoen kon word en dat dit slegs tot die apostoliese tydperk beperk was. (Lees asb die artikels “Het die Kerk dieselfde Mag en Outoriteit as wat die Apostels gehad het om te Genees?“; “Is die gawe van profesie nog in werking vandag?”; “Valse Apostels vs Ware Apostels” en “Vale Profete vs Ware Profete” vir meer inligting.) Indien ‘n persoon homself as ‘n apostel van Christus wil voorhou, vra hom om aan jou die tekens van ‘n apostel te wys, soos bv om iemand uit die dood uit op te laat staan. Moenie op die stories van sogenaamde wonderwerke gaan nie, maar ondersoek sy bewerings self. Onthou Paulus het duidelik sy wonderwerke aan mense voorgehou as bewys dat hy ‘n ware apostel is, en sy gehoor kon sy bewerings nagaan en sien dat hy werklik ‘n apostel van God was. Ons behoort dieselfde te doen.

Diegene wat leer dat hulle oor dieselfde apostoliese gawes as die oorspronklike apostels beskik, is ver verwyderd van wat die Skrifte ons leer. Dit moet duidelik verstaan word, dat toe die apostels hande op mense gelê het, die Heilige Gees nie van die apostels af gekom het nie, maar Handelinge 19 stel hierdie feit duidelik, dat toe Paulus hande op mense wat van Éfese afkomstig was gelê het, die Heilige Gees op hulle gekom (Grieks “epi”) het, nie deur (Grieks “dia”) Paulus nie.
Hnd 19:6 “En Paulus het hulle die hande opgelê, en die Heilige Gees het op hulle gekom, en hulle het met tale gespreek en geprofeteer.”
Die Heilige Gees het dus nie deur Paulus se hande gekom, soos wat vandag baie keer verkondig word nie, maar die Heilige Gees het van bo af op hulle gekom. Dit is verder opmerklik, dat in elke Nuwe Testamentiese voorbeeld, dit duidelik is dat die Heilige Gees deur Jesus Christus van bo af gegee is en slegs deur Sy Apostels se bediening. (Hnd 2;8;10;19) Die Bybel maak dit ook baie duidelik dat hierdie apostoliese manifestasies en wonderwerke nie deur alle Christene gedoen kon word nie. Soos reeds hierbo gedemonstreer ontvang gelowiges vandag nie die Heilige Gees deur handoplegging nie, maar ontvang ons die Gees die oomblik met geloof in die Evangelie. (geen handoplegging is nodig nie)

‘n Persoon moet nie verwag om met bonatuurlike krag of genesings krag gesalf (anoint) te word, net omdat hy ‘n sogenaamde gesalfde doek, (prayer cloth) boek of flessie olie by iemand koop nie. Die verkoop van hierdie sogenaamde gesalfde produkte is een groot bedrogspul, en die mense wat hierdie gruweldade pleeg sal nog hulle verdiende loon by God ontvang. Nêrens in die Bybel sal ons lees dat Paulus die mense beveel het om hulle kledingstukke of enige ander voorwerpe na hom te bring, sodat hy sy hande daarop kan lê en sy salwing daarop oordra nie. Dan praat ek nie eers van die feit dat hierdie produkte vir geld verkoop word nie! Hy sou die verkoop van hierdie sogenaamde anointed produkte as boos verwerp het, net soos wat Petrus met Simon die towenaar gedoen het.
Hnd 8:13 “En Simon het ook self gelowig geword, en nadat hy gedoop was, gedurig by Filippus gebly; en hy was verbaas toe hy die tekens en groot kragte sien gebeur. 8:14 En toe die apostels in Jerusalem hoor dat Samaría die woord van God aangeneem het, het hulle Petrus en Johannes na hulle gestuur. 8:15 Húlle het afgekom en vir hulle gebid, dat hulle die Heilige Gees mag ontvang, (Petrus bid vir hulle, sodat hulle die Heilige Gees mag ontvang. Op geen stadium deel Petrus die Salwing “Anointing” van Heilige Gees self uit nie! God (Jesus Christus) alleen doen dit en Hy doen dit deur die bediening van Sy aangewese apostels, nie deur self aangestelde apostels soos wat ons vandag sien nie. Petrus het dus God versoek om die Heilige Gees op die gelowiges uit te stort, en God het Petrus, as Sy aangewese apostel, se versoek toegestaan. Petrus het nie self die Heilige Gees uitgedeel nie!) 8:16 want Hy het toe nog op niemand van hulle geval nie, maar hulle was net gedoop in die Naam van die Here Jesus. 8:17 Hulle het hul toe die hande opgelê, en hulle het die Heilige Gees ontvang. (God het die Heilige Gees op die gelowiges deur die bemiddeling van Petrus op die gelowiges laat val en dit slegs omdat Petrus Sy wil getrou uitgevoer het en slegs omrede dit God se wil was om dit te doen.) 8:18 En toe Simon sien dat deur die handoplegging van die apostels die Heilige Gees gegee word, het hy hulle geld aangebied 8:19 en gesê: Gee aan my ook hierdie mag, sodat elkeen wat ek die hande oplê, die Heilige Gees kan ontvang. 8:20 Maar Petrus sê vir hom: Mag jou geld saam met jou vergaan, omdat jy gedink het om die gawe van God deur geld te verkry. (Is dit nie wat ons deesdae met die koop en verkoop van sogenaamde gesalfde artikels sien gebeur nie? Moet ons nou die salwing van die Heilige Gees koop? En wat van die boeke en kursusse wat aangebied word wat kwansuis ‘n persoon se profetiese gawe sal ontwikkel of wat mense leer hoe om die salwing (anointing) aan ander mense oor te dra?) 8:21 Jy het geen deel of lot in hierdie saak nie, (die apostoliese amp en gawe, wat net die Here kan uitdeel, soos wat Hy wil.) want jou hart is nie reg voor God nie.
8:22 Bekeer jou dan van hierdie boosheid van jou, en bid God of die gedagte van jou hart jou miskien vergewe mag word. 8:23 Want ek sien dat jy in ‘n gal van bitterheid en bande van ongeregtigheid is. 8:24 Maar Simon het geantwoord en gesê: Bid julle tot die Here vir my, sodat niks van wat julle gesê het, oor my mag kom nie.”

Boonop is dit ook baie belangrik om ingedagte te hou, dat as dit by die bestudering van die boek Handelinge kom, ons besef dat die boek ‘n narratiewe vertelling van gebeure wat tydens die oorgangstydperk van die geskiedenis plaasgevind het, soos wat God die Kerk aan die mensdom bekendgestel het. Daarom moet ons altyd uiters versigtig wees wanneer ons beskrywende gebeure, soos wat dit in die boek van Handelinge opgeteken staan, as voorskriftelik op die post-apostoliese Kerk van toepassing te wil maak. Daarom is dit uiters belangrik om vas te stel aan wie spesifieke boodskappe in die boek Handelinge gerig is, want in hierdie boek vind ons verskillende groepe mense, onder wie sekere unieke gebeure plaasgevind het en aan wie spesifieke boodskappe gerig is. Hierdie groepe sluit ongeredde Jode, ongeredde Heidene, dissipels van Johannes asook wedergebore Christene in. Indien ons ons teologie of leerstellings van narratiewe of verhalende vertellings aflei, moet ingedagte gehou word, dat nie alles wat in Handelinge gebeur en gesê is, noodwendig aan ons gerig is en op ons van toepassing gemaak kan word nie. Enige teologiese en leerstellige afleidings wat ons vanuit die boek Handelinge maak, moet in die lig van die didaktiese briewe van die Nuwe Testament bestudeer en sorgvuldig in lig van hierdie briewe onder loep geneem word, alvorens ons dit as bindend op die Kerk van toepassing wil maak.

Hnd 8:21 “Jy het geen deel of lot in hierdie saak nie, want jou hart is nie reg voor God nie.”
Soos reeds kortliks hierbo genoem, praat Petrus in bostaande teksgedeelte van die apostoliese voorreg, waardeur die Heilige Gees, deur die apostels se bediening en bemiddeling op ander gelowiges uitgestort is. Simon se mistasting omtrent die eiesoortigheid van die apostoliese gawe en God se prerogatiewe i.v.m. wanneer Hy die Heilige Gees wil uitstort behoort as ‘n ernstige waarskuwing, aan mense wat beweer dat hulle oor apostoliese gawes beskik, te dien, en wat beweer dat hulle die Heilige Gees aan ander kan oordra of die Heilige Gees kan uitdeel of rondgooi soos wat hulle wil. Die boek Handelinge gee aan ons ‘n beskrywing van soms unieke gebeure wat tydens die oorgangstydperk tussen die dispensasie van die wet en die dispensasie van die Kerk plaasgevind het. Ons kan nie al die gebeure wat in Handelinge opgeteken staan en wat gedurende hierdie oorgangstydperk plaasgevind het as bindend op die Kerk van toepassing wil maak nie. Paulus se briewe illustreer hierdie feit baie mooi. Soos alreeds aan die begin van hierdie artikel, en soos wat dit in Paulus se briewe alreeds duidelik gestel is, ontvang elke persoon die Heilige Gees die oomblik wanneer daardie persoon die Evangelie glo, en is die apostels se bemiddeling nie meer, soos in sekere gevalle in Handeling genoem, nodig om die Heilige Gees na wedergeboorte te ontvang nie. (Rom 8:9; 1Kor 12:13;Gal 3:2; Efs 1:13)

Niemand in die Ou Testament sowel as die Nuwe Testament het ooit ‘n formule, metode, ritueel of enige stappe verkondig wat sal veroorsaak dat mens se salwing sal vergroot, verdubbel of om die salwing deur handoplegging of enige ander metode oor te dra nie. Indien die leerstelling nie in die Bybel voorkom nie, waar kom dit dan vandaan? Die gebruike soos wat ons dit vandag in baie kringe sien, is niks anders as klassieke okkultisme nie. Die konsep van ‘n punt van kontak vind mens in die okkult, nie in die Bybel nie. Baie mense gebruik dan ook Hnd 19:11 om hierdie dwaalleer te verdedig en te regverdig. Kom ons gaan kyk mooi wat werklik daar gebeur het.
Hnd 19:11 “En God het buitengewone kragte deur die hande van Paulus gedoen, 19:12 sodat selfs wanneer doeke of voorskote wat aan sy lyf was, op die siekes gelê is, die siektes van hulle gewyk en die bose geeste van hulle uitgegaan het.”
Bostaande teksgedeelte stel dit baie duidelik, dat hierdie buitengewone kragte (nie alledaagse kragte soos wat verkeerdelik vandag verkondig word nie.) was en dat die doeke en voorskote wat op Paulus se liggaam was, geneem is en op siekes gelê is, dat die bose geeste en siektes hulle verlaat het. Dit was God wat hierdie wonderwerk bewerkstellig het, nie Paulus nie. Dit word nêrens gestel dat Paulus sy hande op sy klere gelê het en sy salwing daarop oorgedra het nie, en boonop het Paulus ook nooit hierdie konsep verkondig nie. (as dit so ‘n belangrike leerstelling is, hoekom dit nie duidelik verkondig nie?) Dit moet mooi verstaan word, dat dit God was wat die bonatuurlike tekens gedoen het, en Hy het dit deur Paulus se bediening as apostel gedoen. Hierdie was apostoliese tekens en het as tekens aan die ongelowiges gedien as bewys dat Paulus ‘n ware apostel van God was en deur Hom gestuur was. Apostoliese tekens was beperk tot slegs die apostoliese tydperk en word nie vandag herhaal nie, en die oordra van die salwing (anointing) was nooit, maar nooit, deel van hierdie gawes nie. Daar het nie ‘n salwing (anointing) aan die kledingstuk vasgeklou nie. Die Here het mos geweet op wie die kledingstuk gelê is en die Here self het die wonderwerk bewerkstellig deur die persoon waarop die kledingstuk gelê is te genees of die bose gees uit hom te dryf.

Deesdae word daar in subtiele vorm van gnostisisme onder die vaandel van Christenskap verkondig, wat beweer dat die mens kennis van God deur buite Bybelse ervarings en manifestasies moet bekom, en nie meer volgens wat in die Bybel opgeteken staan nie. Volgens gnostisisme kan God nie verduidelik word, behalwe deur ‘n persoon se persoonlike belewenis van God nie. As gelowiges moet ons waaksaam en bewus wees van Satan se strategieë, sodat ons nie deur sogenaamde geestelike ervarings om die bos gelei word nie. Satan wil hê dat die mens geestelike ervarings en manifestasies moet beleef en daarop, as bewys van geestelike gesondheid, moet staatmaak, sodoende mislei hy die mensdom deur om hulle te kry om te glo dat alle geestelike belewenisse hulle nader aan God bring. Ek beweer geensins dat daar nie werklike geestelike ervarings van God afkomstig is nie. Daar is! Maar ons moet ook besef, dat Satan gewoonlik deur gevoelens sy werk doen, omrede hy weet dat dit baie moeilik is om die egtheid en die bron agter gevoelens te bepaal. Alle belewenisse en gevoelens moet met die Bybel getoets word en dit is die gelowige se plig om altyd waaksaam te wees. God het aan almal van ons verstand gegee met die doel dat ons dit gebruik om, met die hulp en verligting van die Heilige Gees, helder en objektief te kan redeneer, alvorens ons besluit wat ons as die waarheid sal aanvaar. Maar voordat ons iets as die waarheid aanvaar, is dit tog uiters belangrik dat ons eerstens alle feite en bewyse in lig van die Skrifte ondersoek, iets wat deesdae bitter min gedoen word.
1Pe 5:8 “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind.”

Is dit dan verkeerd om vandag iemand met olie te salf?
Geensins nie, maar solank as wat ons dit volgens Skriftuurlike voorskrifte doen en seker maak dat ons nie glo dat dit die olie is wat die genesing bewerkstellig nie en dat dit nie oor die een of ander bonatuurlike krag (anointing) besit om te genees nie. Die Bybel skryf soms hierdie optrede onder sommige omstandighede voor.
Jak 5:14 “Is daar iemand siek onder julle? Laat hom die ouderlinge van die gemeente inroep, en laat hulle oor hom bid nadat hulle hom in die Naam van die Here met olie gesalf het. 5:15 En die gebed van die geloof sal die kranke red, en die Here sal hom oprig. Selfs as hy sonde gedoen het, sal dit hom vergewe word.”

In Bybelse tye is mense met olie gesalf as indikasie dat hulle die ontvangers van God se seëninge is, en om aan te dui dat God ‘n spesifieke persoon vir ‘n spesifieke amp, taak of posisie geroep het. (Ex 29:7; 40:9; 2 Kon 9:6; Prediker 9:8 en Jak 5:14) Dit is egter slegs God wat ‘n persoon vir ‘n spesifieke amp, taak of doel in Sy planne kan salf. Indien ons olie gebruik is dit slegs simbolies van God se werking en moet ons versigtig wees om nie ons geloof in die olie te plaas nie, maar slegs in God. Dieselfde beginsel geld as dit by die een of ander sogenaamde gesalfde (anointed) persoonlikheid kom!
Ek bid dat die Here hierdie artikel sal gebruik om Sy kinders te kry om weer helder oor alles na te dink en self alles eers in lig van die Skrifte ondersoek alvorens ons enige teken of persoon glo. Moenie ‘n slagoffer van dwaalleer of skelmstreke word nie! Wees wys en en ondersoek eers alles! Die leser moet nie sleg voel indien hy of sy die slagoffer van hierdie optredes is nie. Breek daarmee, bekeer vra die Here om jou in alle waarheid te lei. Maak die tyd om alles eers te ondersoek alvorens jy dit glo. God sal jou ryklik in die toekoms daarvoor beloon.

Seën Groete

Vic

Hier volg die skakel na die YouTube program, wat ek aan die leser sal voorstel om ‘n paar keer aandagtig deur te kyk, en in vertroue op die Heilige Gees mooi daaroor na te dink. (let veral op die aangeleerde tegnieke wat hierdie mense gebruik) Let asb wel daarop dat die program wat deur Derren Brown gemaak is, op twee plekke kru taal gebruik. Boonop onderskryf ek geensins Derren Brown se programme en geloofslewe nie, maar ek stem heelhartig met hierdie program “ Miracles for Sale” saam en alhoewel getroue Christene alreeds lank voor sy program soortgelyke programme wat hierdie wanpraktyke uitgelig het gemaak het, is dit soms goed om dit vanaf ongeredde persone se perspektief af te sien. Dit illustreer maar net weer die feit, dat ons nie besef hoe ernstig God se werk, deur die mense wat hulleself aan hierdie wanpraktyke skuldig maak, benadeel word nie, en dit dien ook as een rede waarom baie ongelowiges God verwerp, want hulle kan duidelik sien dat wat hierdie sogenaamde “anointed” Christene doen (insluitende hulle beweerde wonderwerke en profesieë) niks anders as bedrog is nie. Hierdie mense kan egter verseker wees dat God hulle, hulle verdiende loon sal gee.

Die ander program wat deur The Berean Call verkoop word, naamlik Signs And Wonders Movment Exposed,  onderskryf ek heelhartig en die leser kan verseker wees dat hierdie bediening Bybel gesentreerd is, en ek stel voor dat die leser gerus hulle webtuiste by The Berean Call besoek. Indien iemand belangstel om leesstof by hierdie bediening se tak in Suid Afrika te bestel kan hulle my gerus per e-pos kontak dan sal ek hulle Suid Afrikaanse email en tel no verskaf. Die leser sal nie spyt wees om hier boeke aan te koop nie. Let wel: Ek werk geensins vir die Berean Call nie en maak ook geen geld daaruit om hulle hier aan te beveel nie. Boonop is hulle nie eers daarvan bewus dat ek hulle aanbeveel nie, maar ek noem hulle bediening hier, omrede hulle baie goeie boeke teen baie billike pryse verkoop, wat ek weet enige gelowige sal help om die huidige gebeure en wanpraktyke in die Christendom beter te begryp. Ongelukkig kry mens baie van hierdie boeke nie in die hooflyn Suid Afrikaanse Christen winkels te koop nie en daarom beskou ek dit as belangrik om hulle hier aan te beveel.

Derren Brown – Miracles for Sale (Full)

 

 

 

Deel met ander asb.