Moenie Moedeloos word nie!

Moenie Moedeloos word nie!

Ons almal kom die een of nader tyd in ons lewens tot ‘n punt waar ons voel ons kan nie meer nie. Dit gebeur veral indien iemand werklik vir die Here wil leef en Hom dien. Ek glo vas dat almal wat werklik vir die Here wil dien, en nie vir hulleself nie, soms moedeloos sal wil voel, omrede dinge nie uitwerk soos wat ons beplan het nie, want die Satan en sy werkers sal ons op alle vlakke wil teëstaan. Dit is juis hier waar ons moet ophou in eie krag voort te beur, en onsself volkome aan God oorgee en na Hom alleen kyk vir die suksesvolle uitkoms van die situasie. Anthony Norris Groves wou vir die Here werk en hy het ook, maar na jare se arbeid en vele terugslae het hy gesterf en het altyd gevoel sy lewe was ‘n mislukking. Maar die Here het nie sy lewe as mislukking gesien nie en sy werk het na sy dood in Mei 1853 baie vrugte afgewerp. Tot so ‘n mate dat hy tot vandag toe as die vader van Geloof Sendings beskou word. Watter geweldige eer is dit nie. Hy het egter nooit die vrugte van sy arbeid hier op aarde waargeneem nie, maar dink net watter loon hy by die Here gaan ontvang!

Dis nie noodwendig die persoon wat hier op aarde vir homself naam maak wat in God se oë as groot gereken word nie. Nee, dit is die persoon wat stil en sonder enige begeerte om selfverheerliking sy werk hier op aarde afhandel. (die taak wat Here hom gegee het om te doen.) Dit is die persoon wat se gesig al rooi is van die bloed soos wat hy geval en weer opgestaan het. God meet nie jou prestasie in watter motor jy ry nie, of watse hoë posisie jy hier op aarde mag beklee nie. Nee, anders as die vals apostels, wat hulleself met hulleself vergelyk het, het Paulus dit nooit gedoen nie. Moenie met wêreldse oë na jouself kyk, of jouself met die wêreldse maat meet nie. Doen jy net wat die Here jou beveel het om te doen en los die oordeel aan Hom oor. Indien ons na Paulus se lewe, deur die materialistiese wêreldse sienswyse van vandag kyk, sou ons maklik kon dink dat hy ‘n mislukking was. Hy het nie met die nuutste perdekar rondgery nie. Die wêreld het nie sy lof besing orals waar hy gekom het nie. Nee, hy was vol littekens, want hy was in ‘n hewige stryd gewikkel. Kom ons lees wat hyself oor hierdie onderwerp te sê gehad het.

2Korintiers 11:16 “Weer sê ek dat niemand moet dink dat ek dwaas is nie; of anders, neem my maar aan as ‘n dwaas, sodat ek ook ‘n bietjie kan roem. 11:17 Wat ek spreek, sê ek nie vanweë die Here nie, maar as in dwaasheid, in hierdie vertroue dat ek mag roem. 11:18 Terwyl baie na die vlees roem, sal ek ook roem. 11:19 Want julle verdra graag die dwase, omdat julle so verstandig is! 11:20 Julle verdra dit mos as iemand knegte van julle maak, as iemand julle opeet, as iemand julle beetneem, as iemand hom aanstel, as iemand julle in die gesig slaan. (Tipiese gedrag van valse profete) 11:21 Tot my skande moet ek erken dat ons daarvoor te swak was; maar as iemand dit aandurf—ek spreek in dwaasheid—ek durf ook. 11:22 Is hulle Hebreërs? Ek ook. Is hulle Israeliete? Ek ook. Is hulle die nakomelinge van Abraham? Ek ook. 11:23 Is hulle dienaars van Christus? —ek praat in uitsinnigheid—ek nog meer: in arbeid oorvloediger, in slae bo die maat, in gevangenskappe baie meer, in doodsgevare dikwels. 11:24 Vyf maal het ek van die Jode ontvang veertig houe op een na. 11:25 Drie maal is ek met stokke geslaan, een maal is ek gestenig, drie maal het ek skipbreuk gely, ‘n nag en ‘n dag het ek op die diepwater deurgebring—
11:26 dikwels op reis, in gevare van riviere, in gevare van rowers, in gevare van my volk, in gevare van die heidene, in gevare in die stad, in gevare in die woestyn, in gevare op see, in gevare onder valse broeders; 11:27 in arbeid en moeite, in slapelose nagte dikwels, in honger en dors, dikwels sonder ete, in koue en naaktheid. 11:28 Behalwe dit alles my daaglikse bekommernis, die sorg vir al die gemeentes. 11:29 Wie is swak en ek is nie swak nie? Aan wie word ‘n struikelblok in die weg gelê en ek is nie aan die brand nie? 11:30 As daar geroem moet word, sal ek in my swakhede roem. 11:31 Die God en Vader van onse Here Jesus Christus, geseënd tot in ewigheid, weet dat ek nie lieg nie. 11:32 In Damaskus het die goewerneur van koning Arétas die stad van die Damaskéners laat bewaak om my te vang; 11:33 en ek is in ‘n mandjie deur ‘n venster in die muur neergelaat en het aan sy hande ontkom.”

Wow! In ons tyd sou ou Paulus maar sleg afgesteek het teen die spoggerige predikers van vandag, maar nie in die Here se oë nie. Ons moenie na ons omstandighede as maatstaf kyk om te bepaal of ons arbeid in die Here van enige waarde is nie. Dit is nie die maatstaf wat die Here gebruik nie. Indien ons God se opdragte aan ons getrou uitvoer, kan ons verseker weet dat ons loon by God groot sal wees. Ons moet ons oë op Jesus Christus gevestig hou, en konsentreer op die werk wat die Here ons gegee het om te voltooi. Kyk al die swaarkry wat Paulus beleef het, hoe moes hy nie gevoel het nie? Ons beskou genade net as die goeie en aangename dinge wat ons van die Here af ontvang. Ware Genade is ook om krag te verkry wanneer ons nie meer krag het nie, en dan om deur onmoontlike omstandighede te kan voortbeur en daarna as getuies van God se getrouheid te kan getuig. God se Genade kan duidelik waargeneem word, nie in die goeie tye nie van ons lewens nie , maar juis in die donkerste tye van ons lewens. Die tye waar ons eie krag nie meer genoegsaam is nie, maar waar ons net deur God se krag staande bly. Hierdie genade van God verwyder alle aanleiding tot hoogmoed en gee alle eer aan die Here wat dit toekom. Kyk na Paulus en mense soos Corrie ten Boom. Hulle is getuies van ware genade en kon slegs gedoen het, wat hulle gedoen het, deur die instaatstellende krag van die Here Jesus Christus en die Heilige Gees.

Wanneer ons moedeloos raak en ons dink dinge werk nie uit nie, dan moet ons net weet dat die Here dit nie noodwendig so sien nie. Sy maatband is baie anders as die wêreld sin. Ons moet dit altyd onthou en net voortgaan om te doen wat die Here ons gegee het om te doen, al voel dit asof alles wat ons doen nie genoeg gewaardeer word nie. Weet dat die Here dit sien en waardeer. Onthou, volgens die wêreld was Jesus se Kruisdood, Sy grootste terugslag, maar in werklikheid was dit Sy grootste oorwinning. Kom ons berus ons daarby en onthou dit indien ons weer moedeloos wil raak.

Ek gaan afsluit met die boodskap wat die Here aan die Gemeente van Smirna gegee het, om sodoende te illustreer dat ons omstandighede asook ons gevoelens nie as barometer dien oor hoe God oor ons mag voel nie. 
Openbaring 2:8 “En skryf aan die engel van die gemeente in Smirna: Dít sê die eerste en die laaste, wat dood was en lewend geword het: 2:9 Ek ken jou werke en verdrukking en armoede maar jy is ryk en die lastering van die wat sê dat hulle Jode is en dit nie is nie, maar ‘n sinagoge van die Satan. 2:10 Vrees vir niks wat jy sal ly nie. Kyk, die duiwel gaan sommige van julle in die gevangenis werp, sodat julle op die proef gestel kan word; en julle sal tien dae lank verdrukking hê. Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou die kroon van die lewe gee. 2:11 Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Die wat oorwin, sal deur die tweede dood geen skade ly nie.”

Onthou, ons is maar net pelgrims in hierdie wêreld en ons ware woning is by die Here Jesus Christus in die Hemele. Kom ons byt vas en voltooi die taak wat die Here ons gegee het om te doen, sodat Hy ons kan kom haal. En wat is die Kerk se mandaat? die verkondiging van die Evangelie en daarna die jong gelowiges in toegewyde dissipelskap te onderrig.
Mark. 16:15 “En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom.
Matt. 28:19 Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”
Kom Here Jesus, kom gou! Mag die Here ons vind soos wat Hy dit graag sou wou hê, en ons nie besig vind met wêreldse dinge nie. Ons permanente woning is nie hierdie wêreld nie!! Moenie moedeloos raak nie!

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.