Profetiese rede op die Olyfberg volgens Mattheus Deel 3

Profetiese rede op die Olyfberg volgens Mattheus Deel 3

In deel drie van hierdie reeks artikels gaan ons die derde en laaste vraag wat Jesus se dissipels aan Hom gestel het beantwoord. Jesus se dissipels wou weet wat die teken sou wees wat sou aandui dat die einde van die dispensasie aangebreek het. Ons moet dus die konteks waarin hierdie vra gestel is onthou en in ag neem. Soos reeds in deel een en twee van hierdie reeks genoem, het ons gemerk dat die dissipels die laaste 7 jaar tydperk van die 490 jaar tydperk wat oor die nasie uitgespreek is ingedagte gehad en dus wou hulle weet wat die teken sal wees dat die laaste 7 jaar van daardie spesifieke tydperk tot ‘n einde gekom het. Die leser word aangeraai om deel 1 en deel 2 van hierdie reeks artikels eerste te lees om die konteks en agtergrond van hierdie artikel te verkry. In die vorige artikel het ons afgesluit waar Jesus Sy dissipels teen die valse profete gewaarsku het. (Mattheus 24:24-25. In hierdie artikel sluit ons by Mattheus 24:26 aan.

Mat 24:26 “As hulle dan vir julle sê: Kyk, Hy is in die woestyn—moenie uitgaan nie; kyk, Hy is in die binnekamer—moet dit nie glo nie.”
Opmerking: Jesus waarsku Sy dissipels dat Sy wederkoms nog nie op hierdie stadium plaasgevind het nie, en daarom moet hulle nie die valse berigte van die valse profete glo, wat sal verkondig dat die Here alreeds in die geheim opgedaag het, en Homself op ‘n sekere plek op aarde sou bevind nie. Die dissipels moet hierdie gerugte nie glo nie. Satan, sal van hierdie bewerings, wat deur sy valse profete versprei word, gebruik om oningeligte gelowiges in lokvalle in te lei, om hulle sodoende te dood. Die Here waarsku dus Sy dissipels vooraf om nie hierdie gerugte te glo nie! Hierdie waarskuwing geld vir ons wat in die kerk dispensasie ook lewe. Ons moet nie alles wat aan ons verkondig word, as van God afkomstig glo nie. Ons moet die Bybel self lees en bestudeer, sodat ons alles wat aan ons verkondig word met die Bybel kan vergelyk, om seker te maak dat wat aan ons verkondig word wel die waarheid is.

Mattheus 24:27 “Want soos die weerlig uit die ooste uitslaan en tot in die weste skyn, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees.”
Opmerking: Anders as met die Wegraping, wat sonder sigbare of vooraf waarneembare tekens plaas sal vind, sal almal op aarde Jesus se wederkoms kan waarneem. Jesus se wederkoms aarde toe, sal glad nie in die geheim plaasvind nie, en daar sal ook geen twyfel bestaan dat dit die wederkoms is wat plaasvind nie.

Handelinge 1:9 – 11 gee aan ons ‘n duidelike beskrywing van hoe Jesus se wederkoms aarde toe sal lyk. Net soos wat Hy liggaamlik en fisies van die Olyfberg opgevaar het, sal Hy ook weer liggaamlik en fisies terugkeer aarde toe en Sy voete weer op die Olyfberg neersit. (Sag 14:4; Mal 3:1; Mattheus 24:30) Net soos wat Hy op die wolke weggeneem is, so sal Hy weer op die wolke terugkeer. (Mattheus 24:30) Dus sal Jesus se wederkoms aarde toe skielik, opsigtelik en deur almal waargeneem kan word. Met Sy wederkoms sal Sy Heerlikheid nie bedek wees nie. Jesus se wederkoms, in al Sy Glorie sal dus onmiskenbaar opsigtelik wees en daarom sal dit nie ‘n geheime gebeurtenis kan wees nie. Hy sal dan as die Almagtige, Skepper, Regter en Verlosser van die heelal Sy verskyning maak. Almal sal Sy verskyning en Heerlikheid waarneem en dus kan Sy wederkoms nie onopsigtelik of in die geheim plaasvind nie.

Mat 24:28 “Want oral waar die dooie liggaam lê, daar sal die aasvoëls saamkom.”
Opmerking: Net soos wat die karkas van ‘n dooie dier die aasvoëls lok, sal ‘n morele vervalle, goddelose wêreld wat teen God gekant is God se oordele lok. God gaan hierdie wêreld oordeel daarvan kan ons baie seker wees. (Dit sluit alle valse vorms van die Christendom ook in)
Heb 10:31 “Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God.”
In daardie stadium sal die wêreld deur die Antichris, wat ook as die ongeregtige bekend sal staan , beheer word. Die meerderheid van die wêreld bevolking sal deur die valse profete verlei wees en sal vrywilliglik die Antichris volg. Jesus Christus sal dan skielik Sy opwagting, as Regter, maak en die wêreld kom oordeel.

Voordat ons die derde en laaste vraag wat Jesus se dissipels aan Hom gestel het bespreek, moet ek net noem dat ek glo dat die Kerk (die Bruid van Christus) nie deur die verdrukking sal hoef te gaan nie. Die Skrifte stel dit baie duidelik dat die Here Sy bruid voor die verdrukking kom haal en na Hom in die Hemel neem. (1 Thess 4:13 – 18; 1Thess 1:10; 5:9; 2Thess 2:1 – 12; Op 3:10) Met die kerk bedoel ek alle mense wat wedergebore geraak het tussen die tydperk vanaf die uitstorting van die Heilige Gees, op pinkster, tot en met die oomblik van die wegraping. Dus alle wedergebore Christene in die dispensasie van genade wat die Evangelie gehoor en geglo het.

‘n Noukeurige bestudering van die teksgedeeltes wat oor hierdie onderwerp handel, dui duidelik aan dat die wegraping en die wederkoms van Jesus na die aarde toe twee afsonderlike gebeurtenisse is. Ons moet daarteen waak om nie die twee afsonderlike gebeurtenisse met mekaar te verwar nie. Vervolgens sal ‘n paar verskille tussen hierdie twee gebeurtenisse uitgelig word, wat duidelik sal aandui dat die wegraping en die wederkoms van Jesus aarde toe nie dieselfde gebeurtenis is nie.

Tydens die Wegraping: Kom Jesus in die lug en sit nie Sy voete op aarde nie. (1 Thess 4:17)
Met Jesus se Wederkoms aarde toe: Kom Hy aarde toe en sit Sy voete op die Olyfberg neer wat op aarde geleë is (Sag 14:4;)

Tydens die Wegraping: Kom Jesus vir Sy heiliges (Die Kerk) (1 Thess 4:16-17)
Met Jesus se Wederkoms aarde toe: Kom Hy saam met Sy heiliges (1Thess 3:13; Judas 1:14)

Die Wegraping: Is ‘n verborgenheid d.w.s. ‘n waarheid wat gedurende die Ou Testamentiese tydperk onbekend was. (1Kor 15:51)
Jesus se Wederkoms aarde toe: Word nooit as ‘n verborgenheid in die Bybel beskryf nie. Die Wederkoms van die Here was openlik in die Ou Testament bekend gemaak en is dus glad nie ‘n verborgenheid nie. (Ps 72; Jes 11; Sag 14 ens)

Die Wegraping: Daar is geen tekens wat in die hemelruim sal aandui dat die Wegraping op hande is nie.
Jesus se Wederkoms aarde toe: Jesus se Wederkoms aarde toe om Sy Koninkryk hier te vestig sal met tekens in die hemelruim aangedui word. (Mattheus 24:29-30)

Die Wegraping: Word voorgehou as ‘n dag van seën. (1 Thess 4:18)
Jesus se Wederkoms aarde toe: Met Jesus se Wederkoms aarde toe is die klem op God se oordele. (2 Thess 2:8-12)

Die Wegraping: Vind in ‘n oogwink plaas. (1 Kor 15:52) Om hierdie rede sal dit nie noodwendig deur die hele wêreld waargeneem kan word nie.
Jesus se Wederkoms aarde toe: Sal deur die hele wêreld waargeneem word. (Mattheus 24:27; Op 1:7)

Die Wegraping: Handel hoofsaaklik met die Kerk wat as die Bruid van Christus bekendstaan. (Joh 14:1-4; 1 Kor 15:51-58; 1Thess 4:13-18)
Jesus se Wederkoms aarde toe: Handel hoofsaaklik met die nasie Israel en dan sekondêr met die nasies van die aarde. (Mattheus 24: 1 -Mattheus 25:46)

Met die Wegraping: Word die wat weggeneem word uit die wêreld uit geneem met die doel om hulle te seën. (1 Thess 4:13-18) Diegene wat agter gelos word word gelos met die doel om geoordeel te word. (1 Thess 5:1-3)
Die Wederkoms van Jesus aarde toe: Diegene wat weggeneem word, word weggeneem om geoordeel te word. Diegene wat gelos word, word gelos om geseën te word. (Mattheus 24:37-41)

Die Wegraping: Geen tekens word aan die kerk voorgehou wat sou aandui dat die Wegraping naby is nie. Die Wegraping word altyd aan die Kerk voorgehou as ‘n gebeurtenis wat op enige tydstip en skielik kan plaasvind. Daar is geen tekens wat sal aandui dat die Wegraping gaan plaasvind nie. Die Kerk moet op die uitkyk wees vir Jesus se skielike koms na die wolke, om Sy Bruid by Hom in die wolke te vergader, alvorens Hy hulle Hemel toe neem om saam met Hom te wees. (1Thess 4:17)
Jesus se Wederkoms aarde toe: Breedvoerige indikasies word gegee soos bv. 1260 dae ,42 maande, drie en ‘n halwe jaar asook baie ander tekens. (Dan 7:25; 12:7,11,12; Op 11:2; 12:14; 13:5 ens)

Die Wegraping: Die term Seun van die Mens word nooit in teksgedeeltes genoem wat oor die Wegraping handel nie.
Jesus se Wederkoms aarde toe: Jesus se Wederkoms aarde toe word altyd beskryf as die koms van die Seun van die Mens. (Mattheus 16:28; 24:27,30,39; 26:64; Markus 13:26; Lukas 21:27)

Soos wat ons baie duidelik uit die bostaande teksgedeeltes kan waarneem is die Wegraping en die Wederkoms van Jesus na die aarde toe nie dieselfde gebeurtenisse nie . Aan die Kerk ,wat gedurende die dispensasie van genade leef, word Jesus se koms altyd as naby of op hande voorgehou. Om hierdie rede word van die Kerk verwag om altyd waaksaam te wees en op die skielike verskyning van Jesus te wag.

Indien die Wegraping eers na die verdrukking sou plaasvind, sou die klem nie meer op Jesus se skielike koms vir Sy Bruid wees nie, maar sou die kerk as geheel op die uitkyk wees vir die teken wat sal aandui dat die Groot Verdrukking begin het. Dan kan met sekerheid bepaal word dat die einde nog drie en ‘n halwe jaar weg is en sou Jesus dus foutief wees om te verkondig dat ons as gelowiges waaksaam moet wees, omrede Sy koms vir ons skielik en sonder waarskuwing kan plaasvind.
Luk 21:36 “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan.”
Ons weet egter dat, as God, Jesus Christus geen fout kan begaan nie. Daarom moet ons Sy woorde aan ons ernstig opneem en waak en bid, sodat ons die geweldige oordele wat gedurende die verdrukking op die wêreld uitgegiet gaan word, kan vryspring en in Jesus se teenwoordigheid kan wees.

Vanaf die begin van die kerk dispensasie af het die gelowiges nog altyd die skielike en onverwagte koms van Jesus Christus vir Sy Bruid afgewag. Die Nuwe Testament waarsku gelowiges herhaaldelik dat Jesus se koms op hande is. Die Griekse woord wat as naby of op hande vertaal word is “eggizo” Hierdie frase word sewe keer in die Nuwe Testament gebruik. (Rom 13:12; Filippense 4:5; 1 Pet 4:7; 2 Timotheus 4:6; Op 1:3; 22:10) Paulus het alreeds in die eerste eeu van die kerk dispensasie vir Titus gewaarsku om op die uitkyk vir Jesus se koms te wees.
Tit 2:13 “terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus,”

1Jo 3:2 “Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is. 3:3 En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is.”
Jesus se skielike koms vir Sy Kerk motiveer die gelowige om homself van sonde en die wêreld af te sonder en om heilig in hierdie tydperk te leef. Mattheus 24:21-22 stel dit ook baie duidelik dat die Here na gebeure in die Groot Verdrukking verwys en daar kan dus geen verwarring wees oor watse tydperk die Here hierna verwys het nie. Gewapen met hierdie feite kan ons na Mattheus 24:29 gaan en dit verder bespreek.

Mat 24:29 “En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word.”
Opmerking: Dit is uiters belangrik dat ons op die woorde: “Na die verdrukking van daardie dae” let. Dit beteken dat die Groot Verdrukking na 1260 tot ‘n einde gekom het. Daar sal dan uitsonderlike gebeure en tekens in die hemelruim plaasvind. Hierdie gebeurtenisse word ook in ander teksgedeeltes van die Bybel genoem. (Jes 13:10; 34:4; Joël 2:31; 3:15-16) Hierdie sal dus ‘n tyd van uiterste verskrikking wees, en die wêreld sal letterlik in duisternis gedompel word.
Jes 13:10 “Want die sterre van die hemel en sy Oríons sal hulle lig nie laat skyn nie; die son is duister by sy opgang, en die maan laat sy lig nie skyn nie. 13:11 En Ek sal aan die wêreld sy boosheid besoek, en aan die goddelose hulle ongeregtigheid; en Ek sal die trots van die vermeteles laat ophou en die hoogmoed van tiranne verneder. 13:12 En Ek sal sterwelinge skaarser maak as fyn goud, en mense as goud van Ofir.
13:13 Daarom sal Ek die hemel laat sidder, en die aarde sal wyk uit sy plek met gebeef, vanweë die grimmigheid van die HERE van die leërskare en vanweë die dag van sy toorngloed.”

Mattheus 24:30 “En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid.”
Opmerking: Sodra die teken van die Seun van die Mens verskyn sal die wêreld rou bedryf.
Opn 1:7 “Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deursteek het; en al die geslagte van die aarde sal oor Hom rou bedryf; ja, amen!”
Ek glo dat die gelowige Jode sal rou, omrede hulle sal besef dat hulle as volk hulle eie Messias en Verlosser verwerp het en Hom oorgegee het om gekruisig te word. Die res van die mensdom asook ongelowige Jode sal rou, want hulle sal nou besef dat hulle op die punt staan om God se oordele oor hulle te ontvang.

Wat die teken van die Seun van die Mens betref kan nie met duidelikheid op hierdie oomblik vasgestel word nie. Ek glo dat die mense wat deur die Groot Verdrukking gaan wel sal weet wat hierdie is, as hulle hierdie teken sien verskyn, want die Heilige Gees sal die nodige inligting openbaar maak. Ek glo die antwoord is in die Bybel , maar huidiglik is dit nie bo enige twyfel aan ons bekend gemaak nie. Op die regte tyd sal dit wel bekend gemaak word. Daar is breedvoerige spekulasie oor hierdie teken deur Bybelkenners en ek sal net ‘n paar vir interessantheid onthalwe hier noem. Sommige Bybelkenners vermoed dat dit dalk die Here se heerlikheid sal wees wat weer sal verskyn omrede Sy heerlikheid die tempel verlaat het met die tersydestelling van die volk Israel in die Ou Testament. (Eseg 10:3-22; 11:23)
Esg 11:23 “En die heerlikheid van die HERE het opgestyg uit die stad uit weg en het gaan staan op die berg wat oos van die stad lê.”
Daar word vermoed dat die Here se heerlikheid weer so op aarde sal verskyn. Ons sal maar net moet wag en sien. Ander Bybelkenners glo weer dat die Nuwe Jerusalem, waarheen die kerk geneem is met die Wegraping, uit die Hemel sal neerdaal en in ‘n wentelbaan om die aarde geplaas sal word, en wat vir die hele duur van Jesus se duisendjarige vrederyk op aarde daar sal vertoef.
Opn 21:2 “En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ‘n bruid wat vir haar man versier is.
21:3 En ek het ‘n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God.”
Ander Bybelkenners glo weer dat die teken van die Seun van die Mens moontlik ‘n ster in die hemelruim kan wees, net soos wat ‘n ster met die geboorte van Jesus Christus verskyn het. Soos reeds genoem glo ek dat die Heilige Gees hierdie waarheid sal openbaar soos wat Jesus se koms nader kom. Een ding kan ons sekerlik weet, en dit is dat God nooit Sy kinders in die duisternis laat nie en dat Hy wel op die regte tyd sal aandui wat die teken sal wees.

Nadat die teken van Jesus Christus se wederkoms verskyn het, sal Jesus Christus persoonlik en fisies Sy opwagting in al Sy heerlikheid maak. (Dan 7:13) Vir die gelowiges wat met verlange na Jesus se wederkoms gewag het, sal dit ‘n tydperk van ongekende blydskap wees. Vir die ongelowiges en die goddelose sal dit ‘n tydperk van ongekende vrees en afgryse wees. Hulle sal dan besef dat dit te laat is om hulle saak met die Here reg te maak. Wanneer ons die gelykenisse van Jesus, wat oor hierdie gebeurtenisse handel, bestudeer sal hierdie gebeure verder verduidelik word. Jesus sal nou in al Sy heerlikheid en glorie, as die Leeu van Juda, op die Olyfberg verskyn en Hy sal die wêreld dan oordeel. Van daardie tyd af sal Hy die wêreld in alle geregtigheid regeer. Hy sal as die Koning van die konings bekendstaan en sal as die Almagtige God, Skepper en Onderhouer van alle dinge aanbid en verheerlik word. Dit is die dag waarvoor die hele skepping in afwagting gewag het! Wat ‘n onbeskryflike oomblik gaan dit nie wees nie!

Mat 24:31 “En Hy sal sy engele uitstuur met harde trompetgeluid, en hulle sal sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die een einde van die hemele af tot die ander einde daarvan.”
Opmerking: Die Here sal dan Sy engele uitstuur, en al die oorlewende gelowiges, wat tydens die verdrukking tot geloof in Hom gekom het, versamel. Baie van hierdie mense sal tot aan die uithoeke van die aarde versprei gewees het a.g.v. die geweldige vervolging wat hulle deur die Antichris ondergaan het. (Mattheus 24:16) Jode wat gedurende die Ou Testament geleef het sal ook nou moontlik uit die dode opgewek word, om deel te hê aan die aardse koninkryk van hulle Messias wat aan hulle belowe was. (Dan 12:13) Onthou die gelowiges wat gedurende die kerk dispensasie tot geloof gekom het, is alreeds meer as sewe jaar tevore opgewek, en die wat nog gelewe het is opgeraap en saam met die opgewekte gelowiges na die Hemel geneem. Die Kerk kom dus saam met Jesus met Sy wederkoms terug aarde toe.

Die gelykenis van die vyeboom

Mattheus 24:32 “En leer van die vyeboom hierdie gelykenis: Wanneer sy tak al sag word en sy blare uitbot, weet julle dat die somer naby is. 24:33 So weet julle ook, wanneer julle ál hierdie dinge sien, dat dit naby is, voor die deur. 24:34 Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie. 24:35 Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie.”
Opmerking: Met hierdie gedeelte van die prediking op die Olyfberg, begin Jesus praktiese illustrasies gee met die doel om die leerstelling soos wat Hy dit tot nou toe verkondig het, te illustreer. Hy maak dus van gelykenisse, vanuit die alledaagse Joodse lewe gebruik, om Sy punt duidelik aan Sy gehoor oor te dra. Ons moet net weer daarop let dat hierdie gedeelte van Jesus se prediking hoofsaaklik van toepassing sal wees op ‘n toekomstige groep mense wat gedurende die verdrukking sal leef. Dit is nie te sê dat ons as die Kerk niks uit Jesus se prediking op die Olyfberg kan leer nie. Net soos wat die mense wat nog lewe na die beëindiging van die verdrukking op die uitkyk moet wees vir Jesus se skielike wederkoms, moet ons as Sy Bruid, ook op die uitkyk wees vir Jesus se skielike koms vir ons. Dit is ook verder baie duidelik dat die Here wel hier met Jode praat wat nog in die toekoms sal lewe, omdat Hy alreeds in Mattheus 21:43 aan die Jode van daardie geslag gesê het dat Hy die koninkryk van hulle af weggeneem het en dat daardie spesifieke geslag geoordeel sal word.
Mat 21:43 “Daarom sê Ek vir julle: Die koninkryk van God sal van julle weggeneem en aan ‘n volk gegee word wat die vrugte daarvan sal dra.”
Die leser word aangeraai om die artikel wat handel oor die Gelykenis van die Landbouer te lees wat hierdie hele gebeurtenis deeglik bespreek. Die geslag wat Jesus in Mattheus 21:43 na verwys het, is geoordeel toe die stad Jerusalem in omstreeks die jaar 70nC deur die Romeine verower is.

Net soos wanneer ‘n vyeboom se takke sag word en blare voorbring ‘n indikasie is dat die wintermaande verby is en dat die somer ophande is, sal die mense wat al hierdie gebeurtenisse beleef, verseker kan weet dat Jesus se koms ophande is. Alhoewel baie van hierdie tekens en gebeure deur die jare sigbaar was, is dit baie duidelik dat nie al hierdie tekens op dieselfde tyd al plaasgevind het nie. Die wêreld het nog nooit so ‘n verskriklike tydperk deurgemaak soos wat Jesus in die prediking op die Olyfberg beskryf het nie. Dus kan ons met sekerheid weet dat hierdie gebeure nog in die toekoms lê, en sal die geslag, wat al hierdie tekens wat Jesus genoem het sien plaasvind, Jesus se wederkoms sal beleef. Die Here waarborg ons dat hierdie gebeure wel sal plaasvind, en dat dit onmoontlik is dat Sy woorde nie in vervulling sal gaan nie. Hy is immers God en daarom kan ons verseker weet dat hierdie dinge wel so sal plaasvind soos wat Hy dit hier beskryf het.

Mat 24:36 “Maar van dié dag en dié uur weet niemand nie, ook die engele van die hemele nie, maar net my Vader alleen.”
Opmerking: Jesus het hierdie stelling gemaak toe Hy nog op aarde was en gekies het om nie van Sy alwetendheid gebruik te maak nie. Met Sy Hemelvaart is Hy weer in al Sy Heerlikheid herstel en weet Hy dus wanneer die dag en uur sal plaasvind. Hy is God en alwetend. Wat die mensdom en engele betref, weet ons nie die presiese dag en uur van Sy wederkoms nie, maar die mense wat gedurende hierdie tydperk sal leef sal weet dat Sy wederkoms op hande is, hulle sal egter nie die presiese dag en uur kan bepaal nie. Laat my asb toe om hierdie punt mooi te verduidelik.

In Mattheus 24:15-21 het Jesus verduidelik dat die Groot Verdrukking met die oprigting van die gruwel van verwoesting in die tempel begin. Hierdie gebeurtenis sou as teken vir die Jode wat tydens daardie tydperk sal leef, dien om na die berge te vlug. In Mattheus 24:29 verduidelik Jesus dat die son en maan, onmiddellik na die beëindiging van die Groot Verdrukking, verduister sal word en sal die hemelliggame geskud word. Dus het daar nou alreeds drie en ‘n halwe jaar (1260 dae) vanaf die begin van die Groot Verdrukking af verloop, en die Groot Verdrukking het dus nou tot ‘n einde gekom. In Mattheus 24:30 het Jesus verduidelik dat die mense wat die Groot Verdrukking oorleef, die teken van die Seun van die Mens in die lug sal sien verskyn. As hulle hierdie teken sien sal die mensdom begin roubedryf. Hulle sal nou besef dat dit te laat is om gered te word en dat hulle nou aan die ontvang kant van Jesus se oordele gaan wees. As hulle dan die tydperk van die Groot Verdrukking wat 1260 dae lank sal duur kan aftel, sou mens maklik kon dink dat hulle die presiese dag en uur van Jesus se wederkoms sou kon bepaal. Dit is egter nie so eenvoudig nie. In Mattheus 24:36 stel Jesus dit baie duidelik dat niemand die dag en uur van Sy koms sal weet nie. Dit is nie te sê dat daardie mense nie sal weet dat Jesus se koms op hande is nie, hulle sal net die spesifieke dag en uur nie weet nie, maar hulle sal die algemene tydperk ken wat sal aandui dat Sy koms op hande is. Hulle sal immers Sy teken in die hemelruim sien wat sal beteken dat die Groot Verdrukking tot ‘n einde gekom het. Dit is dus baie belangrik dat ons besef dat al die gelykenisse wat ons van hierdie oomblik af bespreek, en wat handel oor die prediking op die Olyfberg, nie oor die Groot Verdrukking self handel nie, maar oor die tydperk na die beëindiging van die Groot Verdrukking. Onthou hierdie waarheid soos wat ons met hierdie reeks artikels aangaan.

Vanaf die oprigting van die gruwel van verwoesting in die tempel, sal die Jode dus nou 1260 dae kan aftel tot en met die einde van die Groot Verdrukking. Hulle sal hierdie berekening kan maak volgens Dan 9:27 en Op 13:5.
Dan 9:27 “En hy sal een week lank met baie ‘n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die week (1260 dae) sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar ‘n verwoester wees, en wel tot aan die einde; en wat vas besluit is, sal oor wat woes is, uitgestort word.”
Opn 13:5 “En ‘n mond is aan hom gegee wat groot woorde en godslasteringe uitspreek, en aan hom is mag gegee om dit twee en veertig maande lank te doen.” (1260 dae)

Die Groot Verdrukking eindig dus na die afloop van die 1260 dae tydperk met verduistering van die son en maan, en met die skudding van die hemelliggame. Die teken van die Seun van die Mens verskyn dan in die lug. Daar bly dus nou nog 30 dae oor tussen die beëindiging van die Groot Verdrukking (1260 dae) en die afloop en voltooiing van die 1290 dae tydperk soos in Dan 12:11 gegee. Ek glo dat Jesus Sy fisiese verskyning gedurende hierdie ekstra 30 dae tydperk sal maak en daarom is dit onmoontlik om die dag en uur van Sy wederkoms te bepaal. Die bespreking van die gelykenisse wat oor hierdie tydperk handel, glo ek, sal hierdie punt baie mooi illustreer.
Dan 12:11 “En van die tyd af dat die voortdurende offer afgeskaf en die ontsettende gruwel opgerig word, sal duisend twee honderd en negentig dae (1290)verloop.”
Na die afloop van die 1290 dae tydperk tot en met die begin van die duisendjarige vrederyk van Jesus bly daar nog 45 dae oor, om tot en met die 1335 dae tydperk van Dan 12:12 uit te kom.
Dan 12:12 “Welgeluksalig is hy wat bly verwag en duisend drie honderd vyf en dertig dae (1335) bereik.”
Ek glo dat Jesus hierdie ekstra 45 dae wat oorgelaat word, sal gebruik om die mense te oordeel (die gelykenisse van die tien maagde en die oordeel van die skape en bokke in Mattheus 25) en posisies van heerskappy aan Sy diensknegte toe te ken alvorens Hy fisies begin regeer. Met die verstrekking van die 1335 dae tydperk, begin die duisendjarige vrederyk amptelik en daarom word die mense wat tot nog toe op die aarde lewe as welgeluksalig beskryf, omrede alle ongelowiges by hierdie tyd deur Jesus Christus geoordeel is en dus nie meer fisies op aarde sal wees om in die millennium in te gaan nie. Ek hoop ook om hierdie feit te bevestig, soos wat ons die gelykenisse wat oor hierdie tydperk handel, bespreek.

Dus het 1260 dae vanaf die begin van die Groot Verdrukking tot en met die beëindiging van die Groot Verdrukking verloop. Daar verloop nog ‘n verdere 30 dae waarin die wêreld sal rou bedryf en die volk Israel met God versoen word. Daar verloop nou nog ‘n verdere 45 dae waarin voorbereidings getref word vir die begin van die die duisendjarige Vrederyk van Jesus, wat amptelik met die verstryking van die 1335 dae sal geskied. Almal wat teen hierdie tyd nog lewe sal as geseënd beskou word, want hulle sal deel vorm van Jesus se Vrederyk op aarde wat ‘n duisend jaar lank sal duur. Alle mense wat op hierdie stadium die Vrederyk binnegaan is dus wedergebore en alle ongelowiges is van die aarde af verwyder.

Mat 24:37 “En net soos die dae van Noag was, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees. 24:38 Want net soos hulle was in die dae voor die sondvloed toe hulle geëet en gedrink het, getrou en in die huwelik uitgegee het, tot op die dag dat Noag in die ark gegaan het,
24:39 en dit nie verstaan het voordat die sondvloed gekom en almal weggevoer het nie, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees.”
Opmerking: Om die algemene tydperk van Sy wederkoms te illustreer het Jesus die historiese gebeurtenisse in en om die tyd van Noag gebruik. Die goddelose mense in Noag se dae moes ‘n vloed verwag het op grond van die feit dat Noag besig was om ‘n ark te bou. (120 jaar lank) Die mense wat gesien het hoe Noag die ark bou, kon dus verwag het dat daar ‘n vloed gaan kom, maar hulle kon ook met sekerheid weet dat die vloed nie kon plaasvind alvorens die ark voltooi was nie. Onthou hierdie feit, want dit is belangrik om die konteks waarin Jesus hierdie gebeure beskryf korrek te verstaan. Net so sal dit ook met Jesus se Wederkoms wees. Anders as met die Wegraping wat oor geen vooraf waarneembare tekens beskik nie en wat dus op enige oomblik kan plaasvind, kan Jesus se Wederkoms aarde toe nie plaasvind alvorens al die vorige gegewe tekens in Mattheus 24 nie plaasgevind het nie. Net so was dit ook die geval met Noag en met die voltooiing van die ark. Slegs nadat Noag en sy gesin in die ark ingegaan het, kon die mense met sekerheid weet dat die vloed ophande is. Hulle kon nog steeds net die algemene tyd van die vloed bepaal , maar hulle kon nie met sekerheid die presiese dag en uur bepaal nie. Net so sal dit met Jesus se Wederkoms ook wees. Die mense wat na die verdrukking nog leef en wat die teken van die Seun van die Mens in die lug sien, sal weet dat Sy koms ophande is, maar hulle sal nie weet op watse dag en uur Hy Sy verskyning sal maak nie. En net soos in die dae van Noag se vloed, sal Jesus se Wederkoms ‘n tyd van God se oordele wees en sal dit skielik en onverwags plaasvind, en dan sal die ongelowiges van die wêreld af verwyder word. Onthou Noag en sy familie het op die aarde agter gebly en moes die wêreld weer bevolk. Die goddelose mense is egter van die aarde af uitgedelg. Net so sal dit met Jesus se Wederkoms wees.

24:40 Dan sal daar twee op die land wees; die een word aangeneem en die ander word verlaat. 24:41 Twee vroue sal by die meul maal; die een word aangeneem en die ander word verlaat.”
Opmerking: Ons moet seker maak dat ons nie hierdie gebeurtenis met die van die Wegraping verwar nie. Hierdie gebeurtenis is nie die Wegraping nie. Die Wegraping is nie God se oordele oor die Kerk nie. Die wegraping vind plaas met die doel om die Kerk te seën. (1Thess 4:13-18) Die persone wat verlaat word, word verlaat om in Jesus se duisendjarige Vrederyk in te gaan, net soos wat Noag verlaat is om die wêreld weer te bevolk na die vloed. Jesus het hierdie feit baie duidelik gestel toe Hy die dae van Noag met Sy Wederkoms vergelyk het. Ons moet in konteks bly! Die woorde “Word aangeneem” wat in Mattheus 24:40-41 gebruik is , is dieselfde woord in Grieks wat in Johannes 19:16 gebruik is toe Jesus weggeneem is om op die kruis veroordeel te word. Dus word die ongelowige persone weggeneem met die doel om deur God veroordeel te word. Diegene wat agterbly is die gelowiges wat Jesus se Vrederyk met hulle fisiese liggame binnegaan. Die mense wat die Groot Verdrukking oorleef sal dus nie weet op watse dag en uur die Here sal verskyn nie, maar hulle sal weet dat Sy Wederkoms op hande is en hulle sal ook verseker kan wees dat wanneer Sy Wederkoms plaasvind dit ‘n tyd van skeiding tussen gelowiges en ongelowiges sal wees.

Mattheus 24:42 “Waak dan, omdat julle nie weet watter uur julle Here kom nie. 24:43 Maar weet dit: as die huisheer geweet het in watter nagwaak die dief sou kom, sou hy gewaak en nie toegelaat het dat in sy huis ingebreek word nie.”
Opmerking: Die Here vermaan die mense wat die Groot Verdrukking oorleef om waaksaam te wees en gereed te wees as Hy Sy verskyning maak. Net soos wat ‘n huiseienaar voorbereidings sal tref as hy weet dat ‘n dief in sy huis wil inbreek, al weet hy nie presies wanneer die inbraak gaan plaasvind nie, so moet die mense wat in daardie tydperk leef hulle pligte getrou uitvoer en waaksaam wees, want die Here sal opdaag wanneer hulle dit nie sal verwag nie, omdat hulle nie die presiese dag en uur sal kan bepaal nie.

Met die volgende artikels sal ons die gelykenisse, wat oor die gebeurtenisse in Mattheus 24 handel bestudeer en dan sal ons mooi kan sien hoe die Here hierdie gebeure met gelykenisse baie duidelik illustreer.

Ter Afsluiting: Alhoewel Mattheus 24 nie spesifiek aan die Kerk geskryf is nie, beteken geensins dat ons nie iets uit hierdie teksgedeeltes kan leer nie. Alle gelowiges van alle tye word gewaarsku om waaksaam te wees en op die uitkyk vir Jesus se skielike koms te wees. Ons moet getrou die werk doen wat die Here aan ons gegee het en op Sy koms wag.
1Jo 3:2 “Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is.
En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is.”
Die vraag wat ons as gelowiges moet beantwoord is of ons wel doen wat die Here wil hê ons moet doen en nie net wat ons dink ons moet doen nie. En onthou Jesus se waarskuwing, wat Hy spesifiek aan die mense wat tydens die Kerk dispensasie leef, gerig het.
Luk 21:36 “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan.”
Is jou saak met die Here reggemaak? Indien nie raai ek die leser aan om die Evangelie te bestudeer en dan ‘n besluit te maak. Om gered te word is eenvoudig!

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.