Versekering in Teëspoed

Versekering in Teëspoed

As kinders van die Here spring ons nie teëspoed en lyding in hierdie wêreld vry nie. (Lees ook asb die artikel “Die gelowige en lyding“) Net wanneer die Here ons kom haal, of indien ons tot sterwe kom voor dat Hy gekom het, sal ons nog steeds van tyd tot tyd teleurstellings en teëspoed in hierdie wêreld beleef. Maar ons moet net besef dat teëspoed, pyn en teleurstellings alle mense in hierdie wêreld tref , nie net die gelowige nie. Ons het egter ‘n troos wat die ongelowige nie het nie, en dit is die feit dat God alles raaksien en weet van al ons teëspoed. Ons bly nog steeds Sy kinders en God bly nog steeds lief vir ons.
Romeine 8:35 “Wie sal ons skei van die liefde van Christus verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard? 8:39 of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.
Daar is absoluut niks wat ons van Sy liefde kan skei nie. Ons kan maar gerus die Ou-Testamentiese helde se geskiedenis gaan bestudeer. Daar sien ons, dat hulle met tye maar swaar gekry het , maar dat die Here altyd saam met hulle was en hulle op die ou einde geseëvier het. Hulle het ook as beter mense uit die stryd getree en teëspoed het soms as ‘n baie goeie leermeester gedien. In tye van teëspoed moet ons leer dat ons die saak in die Here se hande moet oorgee. Dit is Sy werk om ons deur die dal van doodskaduwee te neem. Hy is immers die Herder. Ons is maar net die skape.

In gevalle waar teëspoed ons tref a.g.v die optrede van ‘n ander persoon, moet ons nooit die reg in eie hande neem nie. Die Here sien alles en ons kan maar verseker wees dat Hy op die regte tyd die skuldige sal straf. Ons mag dit miskien nie sien nie, maar die Here sal nie boosheid ongestraf laat bly nie. Elke persoon sal geoordeel word, nie net in hierdie wêreld nie, maar ook in die wêreld wat kom. Ons moet net die saak aan die Here oorgee en geduldig op Hom wag en vertrou.
Romeine12:19 “Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn; want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here.”

Die geheim lê daarin om alles aan die Here oor te gee.
Lukas 9:24 “Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, hy sal dit red.”
As kind van God kan ons nie werklik verliese ly nie. Dink net daaraan. Ons is mede erfgename met Jesus, en sal eendag alles saam met Hom besit. As ons kinders of eggenoot in geloof sterf verloor ons nie daardie persoon nie. Ons sal hulle sekerlik weer sien en daarom is dit belangrik om die Evangelie met hulle te deel. Ons geld en besittings kan ons nie saam met ons vat hemel toe nie, so ons moet nie aan dit vasklou asof ons lewe daarvan afhang nie.
Mattheus 6:25 “Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor jul lewe—wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; of oor jul liggaam—wat julle sal aantrek nie. Is die lewe nie meer as die voedsel en die liggaam as die klere nie?”

As gelowiges moet ons altyd onthou dat ons net besig is met ‘n deurreis op hierdie aarde. Ons moet ons lewens so aan Hom toewy, sodat daar gesê kan word dat ons, ons lewens verloor het. Alles behoort aan Hom en ons moet niks vashou nie, dan alleen sal ons vryheid beleef en nie in vrees vir enige teëspoed lewe nie. Om dus vir die wêreld te sterf leef ons juis, en ons leef in vryheid, want ons weet dat die Vader ons in Sy Hande het en Hy verantwoordelikheid aanvaar vir ons. Kyk wat het met Job gebeur. Hy het al sy aardse eiendom en al sy kinders verloor. Boonop het die duiwel hom nog siek gemaak ook. As ons, soos Job, onsself in die duisternis bevind , is dit maklik om moed op te gee. Vertroos jouself egter met die uiteinde van Job. Hy het dubbel terug ontvang en behalwe die kinders wat reeds in die Paradys op hom gewag het, het hy nog kinders bygekry. Nou waar hy by God in die Hemel sit, het hy dubbel die kroos kinders as voor sy tyd van teëspoed. En hy het boonop die wete dat hulle nooit weer van hom geskei gaan wees nie. Ons moet besef dat God alles ten goede laat meewerk vir die wat in Hom liefhet.
Romeine 8:28 “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.
1Johannes 4:4 Julle is uit God, my kinders, en het hulle oorwin, omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is.”

Ek los julle met hierdie belofte waarmee elke gelowige homself in tye van teëspoed kan troos. Alle teëspoed kom tot ‘n einde en ons moet besef dat God, ten alle tye, by ons is en alles in beheer het. Dit maak nie saak hoe bleek ons omstandighede mag voorkom nie. Een van die dae is ons almal fisies by Hom waar ons  soos kuikens onder Sy vlerke in veiligheid sal sit.
Openbaring 21:4 “En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.”

Seën groete

Vic

Deel met ander asb.