Spreek in vreemde tale

Spreek in vreemde tale

As dit kom by die bespreking van Geestelike gawes kom, is dit van uiterste belang, dat ons slegs na die woord van God vir ons antwoorde gaan en moet daar nie op ons ondervindings en belewenisse staatgemaak word nie. Die Skrifte bly altyd die standaard waarteen ons enige doktrines of ervaring moet toets. Indien ‘n persoon sy teologie op buite Bybelse ervarings bou, ontstaan daar twee baie ernstige gevare wat rampspoedige gevolge kan hê. Eerstens kan die ervaring self, in sy inhoud en en die oorsprong daarvan, heeltemal misverstaan word. Tweedens kan daar ‘n foutiewe gevolgtrekking omtrent die leerstellige betekenis van die ervaring gemaak word. Dus kan ‘n ervaring of belewenis wat blykbaar ‘n goddelike oorsprong het, slegs ‘n sielkundige oorsprong hê en glad nie van God afkomstig wees nie. Wat die saak nog verder vererger, is die feit dat Satan die ervaring, as middel tot verdere verleiding kan gebruik. Aan die ander kant, kan ‘n ware ervaring van die vulling met die Heilige Gees met die doop van die Heilige Gees verwar word. Doop in die Heilige Gees is nie dieselfde as om gevul met die Heilige Gees te wees nie. Dus is dit van uiterste belang, dat die persoon wat werklik die waarheid soek, in alle nederigheid en vertroue, op die inwerking en verligting van die Heilige Gees, slegs na die Bybel vir die antwoorde gaan, en alleenlik op die inhoud van die Bybel, sy leerstellige sienswyse baseer. Die soeker na waarheid, moet ook seker maak, dat hy nie sy vooraf opgestelde idees op die Bybel afdwing en die woorde in die Bybel verdraai om sy leerstellige posisie te staaf, of om sy eie gedagtes in die teks in te lees nie.

In die Ou-Testament het God Homself geopenbaar deur die bemiddeling van Sy profete. Die grootste hiervan was Moses gewees
Deu 34:10 “En soos Moses, vir wie die HERE van aangesig tot aangesig geken het, het daar geen profeet meer in Israel opgestaan nie”
Moses se bediening, was tot en met die koms van Jesus Christus, ongeëwenaard gewees. In die voorrede tot die Evangelie volgens Johannes, het die skrywer, die Verlosser se unieke rol in die geskiedenis van God se openbaring aan die mensdom bevestig.
Joh 1:14 “En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid. 1:15 “Johannes getuig van Hom en roep en sê: Dit was Hy van wie ek gesê het: Hy wat ná my kom, het voor my geword, want Hy was eerder as ek. 1:16 En uit sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade op genade. 1:17 Want die wet is deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom. 1:18 Niemand het ooit God gesien nie; die eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is, dié het Hom verklaar.”

Met die inkarnasie van die tweede Persoon in die Drie-Eenheid, naamlik die Here Jesus Christus, het die mensdom die mees akkurate beeld van God se karakter en persoon ontvang. Met die teenwoordigheid van die geïnkarneerde God het die mens ‘n duidelike betroubare en unieke kykie in die wese en persoonlikheid van God ontvang, tot en met so ‘n mate, dat die Here Jesus dit duidelik gestel het, dat as iemand Hom gesien het, dan het daardie persoon die Vader gesien.
Joh 14:9 “Jesus sê vir hom: Ek is so lankal by julle, en het jy My nie geken nie, Filippus? Hy wat My gesien het, het die Vader gesien. En hoe sê jy: Toon ons die Vader?”

Verder is dit egter opmerklik, dat die Here Jesus Christus niks van wat Hy met Sy eerste koms geleer en gedoen het, self op skrif gestel het nie. Die enigste getuienis wat tot ons beskikking is, is die getuienis oor Hom, wat ons by Sy Apostels ontvang het en wat hulle aan ons, soos wat dit in die Skrif opgeteken staan, oorgelewer het. Die skrywer van die brief aan die Hebreërs, verwys na hierdie belangrike feit in die inleiding tot sy brief.
Heb 1:1 “Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun 1:2 wat Hy as erfgenaam van alles aangestel het, deur wie Hy ook die wêreld gemaak het.”

In teenstelling met die gedeeltelike openbaring van God in die Ou-Testament, het God met die koms van Sy Seun, ‘n onoortreflike openbaring van die wese, werke en woorde van God aan die mens gegee. Dus was God se woord nooit volledig geuiter, tot en met die tydperk, dat die Seun van die Mens aarde toe gekom het nie. Met Jesus Christus se eerste koms, was die woorde wat Hy gespreek het inderdaad God se finale woord aan die mens gewees. Die storie van Goddelike openbaring is ‘n storie van progressiewe openbaarmaking tot en met Jesus Christus, daar is egter geen verdere vordering verby Hom nie. As ons na die woord “gespreek” in Hebreërs 1:1 kyk, dan sal ons opmerk dat die tydvorm van die woord in die verlede taal is. Dit is belangrik om hierdie feit te verstaan. Deur die Persoon van die Here Jesus Christus het God Sy volledige woord finaal en volledig gestel. As sulks is dit vanselfsprekend dat die Here Jesus Christus die fondament, asook die kosbare hoeksteen van die Kerk is.
1Ko 3:11 “Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus.
Mat 21:42 Jesus sê vir hulle: Het julle nooit in die Skrifte gelees nie: Die steen wat die bouers verwerp het, dit het ‘n hoeksteen geword. Hy het van die Here gekom en is wonderbaar in ons oë?
1Pe 2:6 Daarom staan dit ook in die Skrif: Kyk, Ek lê in Sion ‘n uitverkore en kosbare hoeksteen, en die wat in Hom glo, sal nooit beskaam word nie. 2:7 Vir julle dan wat glo, is Hy kosbaar; maar vir die ongelowiges geld die woord: Die steen wat die bouers verwerp het, dit het ‘n hoeksteen geword; en: ‘n Steen des aanstoots en ‘n rots van struikeling”

Dit moet ook mooi verstaan word, dat Jesus Christus nie die enigste element in die fondament van die Kerk is nie. Omdat Jesus Christus geen geskrewe rekord oor Homself agtergelaat het nie, is dit aan Sy volgelinge, die Apostels, oorgelaat om van Sy werke en woorde getuienis te gee. Die twaalf Apostels, wat fisies tydens Jesus se eerste koms saam met Hom gewandel het, is hierdie belangrike taak opgelê en om hierdie belangrike werk voort te sit. Om hulle in hierdie belangrike taak te help, is die Heilige Gees aan hulle gegee, wat hulle van al Jesus se dade en woorde sou herinner.
Joh 14:26 “maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.”
Die Heilige Gees het dan ook aan die eerste dissipels die vermoë gegee om wonderwerke te kan doen, om sodoende te bevestig dat die boodskap wat hulle verkondig, van Hom afkomstig is.
Heb 2:3 “hoe sal ons ontvlug as ons so ‘n groot saligheid veronagsaam wat, nadat dit eers deur die Here verkondig is, aan ons bevestig is deur die wat dit gehoor het, 2:4 terwyl God ook nog saam getuig het deur tekens en wonders en allerhande kragtige dade en bedélinge van die Heilige Gees volgens sy wil?”
Met hierdie verklaring is die fundamentele werk van die Apostels dan duidelik gestel. Hulle moes as direkte getuies aangaande die Persoon en werk van die Here Jesus Christus dien, en hulle moes hierdie waarhede aan ander mense oordra, waarvan ons ook onder die ontvangers daarvan is. As Jesus Christus se direkte, persoonlike aangewese verteenwoordigers het Hy dus deur hulle gespreek, sodat die woorde wat hulle gespreek het, God se eie woorde was.
1Ts 2:13 “Daarom dank ons God ook sonder ophou dat, toe julle die woord van God ontvang het wat deur ons verkondig is, julle dit aangeneem het nie as die woord van mense nie, maar, soos dit waarlik is, as die woord van God wat ook werk in julle wat glo.”

Met hierdie stelling verstaan ons die belangrikheid van die fondasie. Jesus Christus is die hoeksteen, sowel as die fondasie, maar kennis van Hom, Sy werk in ons verlossing, Sy roeping van ‘n nuwe groep mense, die kerk, die nuwe werk van die Heilige Gees en die samevoeging van Jood en nie-Jode in een nuwe liggaam is slegs deur Sy aangestelde apostels en profete bekend gemaak.
Efs 2:20 “gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is, 2:21 in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot ‘n heilige tempel in die Here,
3:4 waardeur julle, as julle dit lees, my insig in die verborgenheid van Christus kan verstaan, 3:5 wat in ander tye aan die mensekinders nie bekend gemaak is nie soos dit nou aan sy heilige apostels en profete geopenbaar is deur die Gees, naamlik 3:6 dat die heidene mede-erfgename is en medelede van die liggaam en mededeelgenote aan sy belofte in Christus deur die evangelie”

Verder blyk dit ook duidelik te wees, dat Paulus die amp van apostels voor die van die profete in Efs 2:20 en Efs 3:5 plaas. Dit is ‘n duidelike indikasie, dat hy nie van die Ou-Testamentiese profete hier gepraat het nie. Efs 3:5 bevestig die feit, dat die profete waarvan Paulus in Efesiërs praat met die bediening van die Apostels verbind is en dat altwee groepe deur die werking van die Heilige Gees funksioneer. Dus is die Ou-Testamentiese profete nie hier ter sprake nie, maar slegs die Nuwe Testamentiese profete. In hierdie teksgedeeltes word die kerk as gebou onder konstruksie beskryf, wat gedurende die tydperk van die eerste en tweede koms van Jesus Christus gebou sou word. (Efs 1:20-22; 4:8-10,13) Net soos in enige bouprojek, word eers die fondasie gelê, en daarna word die gebou op daardie fondament gebou. Die fondament word slegs eenmaal gelê, en hoef nie vir elke daaropvolgende verdieping weer gelê te word nie. As die fondasie een maal gelê is, dan is dit volledig en hoef geen verdere fondament gelê te word nie.

Jesus Christus is met Sy kruisdood en opstanding die hoeksteen van daardie fondament, wat alreeds gelê is, en wat nie weer gelê kan word nie. (1 Kor 1:18,23; 23; 2:2; 15:34; 2 Timotheus 2:8) Alles wat die Here Jesus Christus nou vir die Kerk beteken, kry slegs volledige betekenis, deur Sy kruisiging en daaropvolgende verheerliking. Sonder hierdie gebeure, sou die Kerk nooit bestaan het nie. Dus is die Here Jesus Christus die eerste en belangrikste steen in die fondasie van die Kerk, en dit alles op grond van Sy voltooide werk aan die kruis. Die Apostels en profete voltooi slegs die res van die fondament, en kon nie deel van die fondament gewees het, as die kosbare hoeksteen (Die Here Jesus Christus) nie alreeds gelê is nie, en waarop die Kerk gebou moes word nie. Die Apostels en profete moes dus tot ‘n sekere mate opmaak vir dit wat nog ontbreek het aan Jesus se voltooide werk. Die vraag ontstaan dus dan nou: “Wat skort dan aan Jesus Christus se voltooide werk?” Die antwoord hierop is eenvoudig. Wat wel kortkom, is voldoende getuienis van Jesus Christus se voltooide werk aan die kruis. In kort is dit die getuienis van die Evangelie. Die Apostels is dan Jesus Christus se aangewese getuies, wat self deur die opgestane Christus, direk vir hierdie belangrike taak aangewys is, en waarvan hulle oortuigend getuienis moes lewer, en die implikasies van Jesus Christus se voltooide werk aan die kruis aan die mensdom moes verduidelik. (Hnd 1:2,8,21-26; 1Kor 9:1; 15:1-4,8-11; Gal 1:1,15-16) Dus is twee baie belangrike punte gedemonstreer. Eerstens, dat die Kerk dispensasie uit twee tydperke of gedeeltes bestaan, naamlik die Apostoliese tydperk, wat met die afsterf van die laaste Apostel, die apostel Johannes tot ‘n einde gekom het en waartydens die volledige Nuwe Testamentiese grondtekste ontvang is. Tweedens is daar ‘n Post-Apostoliese tydperk, waar baie van die tydelike gawes tot ‘n einde gekom het, omdat die nodigheid as bewys, as van God afkomstig, nie meer nodig was nie en het die Kerk die voltooide Skrifte in geheel besit, wat toe as basis vir die Christelike lewe sou dien. Dus het die ampte van Apostel en profete ook tot ‘n einde gekom, omrede hulle deel van die fondament is en dat hulle getuies die grondslag en grondteks van die Nuwe-Testament gevorm het. Met die voltooiing van die Newe Testamentiese Grondteks, is die ampte van Apostels en Profete nie meer nodig gewees nie, omrede die voltooide Skrifte, al is wat die gelowiges toe nog nodig gehad het. Die Bybel stel hierdie feit baie duidelik.
2Ti 3:16 “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid,
3:17 sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”

Noudat ons die voltooide Skrif (Die Bybel) in ons hande het, is daar geen rede meer vir die ampte van Apostels en profete nie. Die Skrifte soos wat ons dit in ons Bybels het, is volkome volledig en daarom het God dit verbied om enigsins iets verder daarby te voeg.
Opn 22:18 “Want ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is. 22:19 En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is. 22:20 Hy wat dit getuig, sê: Ja, Ek kom gou. Amen, ja kom, Here Jesus!”
(Lees asb die artikels “valse profete vs ware profete” en “valse apostels vs ware apostels” vir verdere inligting.)

Dit is baie belangrik om te verstaan, dat toe Jesus met Sy eerste koms wonderwerke gedoen het, Hy dit hoofsaaklik as bewys gedoen het dat Hy van God afkomstig is, en dat Hy die beloofde Messias van die Jode was, presies soos wat die profete in die Ou-Testament oor Hom geprofeteer het. Jesus het ook hierdie feit gebruik om aan Johannes die doper te verduidelik, dat Hy wel die beloofde Messias is wat moes kom, en Sy wonderwerke as bewys gebruik, dat Hy wel die Messias is, omrede Jesus bewus van die feit was, dat  Johannes die profesieë oor die Messias goed geken het.
Mat 11:2 “En Johannes het in die gevangenis gehoor van die werke van Christus, en twee van sy dissipels gestuur 11:3 en vir Hom gesê: Is U die Een wat sou kom, of moet ons ‘n ander een verwag? 11:4 En Jesus het geantwoord en vir hulle gesê: Gaan vertel aan Johannes wat julle hoor en sien: (Lewer getuienis) 11:5 blindes sien weer en kreupeles loop, melaatses word gereinig en dowes hoor, dooies word opgewek en aan armes word die evangelie verkondig. 11:6 En salig is elkeen wat aan My nie aanstoot neem nie.”

Daar is baie Ou Testamentiese profesieë, wat oor die Here Jesus Christus gemaak is, en wat Hy alles op aarde sou doen, insluitende Sy wonderwerke. Daarom is dit belangrik om die profesieë wat oor Jesus se wederkoms handel, ook letterlik te verstaan, want die profesieë oor Sy eerste koms is letterlik vervul. Dit is ‘n ernstige mistasting om gedeeltes van die Bybel te vergeestelik, soos wat baie mense deesdae die gewoonte het om te doen. Hier volg slegs een van baie profesieë, oor Jesus se eerste koms, en die wonderwerke wat sou plaasvind.
Jes 42:6 “Ek, die HERE, het U geroep in geregtigheid, en Ek vat u hand en behoed U en gee U as ‘n verbond van die volk, as ‘n lig van die nasies, 42:7 om blinde oë te open;  om gevangenes uit die kerker uit te lei, uit die gevangenis diegene wat in die duisternis sit.” (letterlik vervul)

In die tyd van die Apostels (Apostoliese Tydperk) net na Jesus se hemelvaart en voordat die Nuwe Testamentiese Skrifte voltooi was, was wonderwerke ook nodig gewees om te bevestig dat die Evangelie wat hulle verkondig het, wel van God afkomstig was. Met die voltooiing van die Nuwe Testamentiese Boeke, was die doen van wonderwerke nie meer nodig gewees om te bewys dat die boodskap wat hulle bevat, van God afkomstig was nie, omdat God alles wat Hy aan die mens wou sê, toe alreeds in die Nuwe Testamentiese Boeke opneem het. Die Prediker van vandag, het nie nodig dat die woord, wat hy volgens die voltooide Nuwe Testamentiese Skrifte verkondig, deur wonderwerke bevestig word nie. Die voltooide woord van God (die hele Bybel) spreek nou vir homself, deur die oortuigingswerk van die Heilige Gees in die harte van die hoorders.

Met die einde van die Apostoliese tydperk, het die Here gekies om nie meer deur die gebruik van die tydelike geestelike gawes te werk nie. Dit beteken geensins dat daar geen wonderwerke kan plaasvind nie. Baie wonderwerke en genesings vind plaas, maar dit is slegs a.g.v gebede wat in geloof gemaak is,  en omrede dit die wil van die Vader is om daardie spesifieke wonderwerk te doen. God is almagtig en niks is vir Hom onmoontlik nie. Daar is egter nie meer mense wat op eie inisiatief mense kan genees, soos wat hulle wil en wanneer hulle wil nie. En daarom is die adverteerdery van sogenaamde genesings dienste ‘n ernstige mistasting, en daarom kom dit ook nie in die Skrifte voor nie. Die werklikheid om ons bevestig hierdie feit, en daarom word daar van manipulasie en aangeleerde tegnieke op baie van die sogenaamde  genesings dienste gebruik gemaak en word mense gesond verklaar wat nooit werklik genees is nie. Nêrens vind ons, byvoorbeeld ‘n persoon wat ‘n ledemaat kortkom wat weer ‘n nuwe ledemaat ontvang of ‘n persoon wat werklik blind is, wat weer kan sien nie.  Hoekom nie? Want daar vind nie werklike genesings plaas nie.

Die kwessie gaan nie oor, soos wat sommige mense beweer, om God in ‘n boks te druk nie. Ons almal weet God kan nog wonderwerke doen! En Hy doen dit ook! Hy is immers almagtig. Die vraag wat ons moet beantwoord is, of God nou wel verkies, om gedurende die Post-Apostoliese tydperk, deur middel van wonderwerke te werk wil gaan. Onthou ons moet God op Sy terme aanbid, en dit net soos wat Hy dit in die Skrifte aan ons openbaar, en nie soos wat ons graag wil hê Hy moet doen nie. God kan, byvoorbeeld drie wêrelde langs mekaar geskep het. Wel ons almal weet Hy kan dit doen. Die vraag is nie of Hy dit kan doen nie, maar of dit Sy wil is om dit te doen? Dit is duidelik dat dit nie Sy wil was nie. As dit by die Geestelike gawes kom, moet ons dieselfde beginsel toepas. Dit is ook baie duidelik, dat die groepe wat beweer dat die tydelike gawes nog in werking is, juis die groepe is wat ‘n growwe onverskilligheid toon, as dit by die bestudering en toepassing van die Bybel, kom. Die oorbeklemtoning van hierdie tydelike gawes het juis tot die buitensporige, onskriftuurlike gedrag en optredes gelei, wat huidiglik onder so baie van hierdie groepe te vinde is. Daarom is dit ook nie verbasend, dat juis die gawe van in tale praat die meeste kontroversie veroorsaak nie, omdat dit so maklik nagemaak en misbruik kan word.

As beginpunt vir die bestudering van die gawe van tale, is dit belangrik dat ons na die gebeure wat in Handelinge 2:1-13 opgeteken staan, gaan kyk, toe die Heilige Gees op Pinksterdag die eerste keer op die Kerk uitgestort is.
Hnd 2:1 “En toe die dag van die pinksterfees aangebreek het, was hulle almal eendragtig bymekaar. 2:2 En daar kom skielik uit die hemel ‘n geluid soos van ‘n geweldige rukwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het. 2:3 Toe is deur hulle tonge gesien soos van vuur, wat hulleself verdeel en op elkeen van hulle gaan sit. (lees asb die artikel “Die doop met die Heilige Gee en met vuur” vir meer inligting oor hierdie gebeurtenis) 2:4 En hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale, soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek. 2:5 En daar het in Jerusalem Jode gewoon, godsdienstige manne, uit elke nasie wat onder die hemel is. 2:6 En toe hierdie geluid kom, het die menigte saamgestroom en was in die war, want elkeen het gehoor hoe hulle in sy eie taal spreek; 2:7 en hulle was almal verbaas en verwonderd en sê vir mekaar: Is almal wat daar spreek, dan nie Galileërs nie? 2:8 En hoe hoor ons hulle, elkeen in ons eie taal waarin ons gebore is? 2:9 Parthers en Meders en Elamiete en die inwoners van Mesopotámië, Judéa en Kappadócië, Pontus en Asië, 2:10 Frigië en Pamfílië, Egipte en die streke van Líbië by Ciréne, en Romeine wat hier vertoef, Jode en Jodegenote, 2:11 Kretense en Arabiere—ons hoor hulle in ons eie taal oor die groot dade van God spreek. 2:12 En hulle was almal verbaas en radeloos en sê die een vir die ander: Wat kan dit tog wees? 2:13 Maar ander het gespot en gesê: Hulle is vol soetwyn.”
Uit bostaande teksgedeelte is dit baie duidelik, dat die tale waarmee die dissipels gepraat het, nie een of ander onverstaanbare brabbeltaal was, wat niemand kon verstaan nie, maar dat dit verstaanbare tale van mense was, wat toe nog in gebruik was en wat deur die hoorders daarvan verstaan kon word. Dus was dit nie een of ander brabbeltaal soos wat ons dit vandag onder baie gemeentes sien nie.

Dis verder opmerklik, dat sommige ongelowiges die spot begin dryf het en beweer het dat die mense wat in tale praat dronk was. Hulle het hierdie stelling nie gemaak omdat die gelowiges rondgeslinger het nie, maar omdat hulle in vreemde tale gepraat het. Petrus het egter op hierdie beweringe gereageer en dit duidelik gemaak, dat wat hulle sien nie dronkenskap is nie. Hy het aan die Jode, wat daar versamel was, duidelik gestel dat dit wat daar plaasgevind het, ‘n teken was van die uitstorting van die Heilige Gees, soos wat dit in boek Joël 2:29 as profesieë aangeteken was.
Joël 2:28 “En daarna sal Ek my Gees uitgiet op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, julle ou mense drome droom, julle jongelinge gesigte sien. 2:29 En ook op die diensknegte en op die diensmaagde sal Ek in dié dae my Gees uitgiet.”
Dus is dit baie duidelik dat die uitstorting van die Heilige Gees, as teken gedien het, dat die profesieë soos wat dit in die Ou-Testament opgeteken was, gedeeltelik vervul was. Dit sal met die aanbreek van Jesus se duisendjarige vrederyk, na Sy wederkoms, volkome in vervulling gaan.  Dit is ook verder duidelik dat die hoorders in hulle eie tale gehoor het hoe mense, wat nooit daardie tale aangeleer het nie, met hulle praat . Dit was dus baie duidelik dat hier ‘n bonatuurlike wonderwerk plaasgevind het. Dit het dus as bewys gedien dat God by hierdie gebeure betrokke was en dat dit van Hom afkomstig was. Onthou die Jode soek ‘n teken.
1Ko 1:21 “Want aangesien in die wysheid van God die wêreld deur die wysheid God nie geken het nie, het dit God behaag om deur die dwaasheid van die prediking die wat glo, te red; 1:22 want die Jode vra ‘n teken en die Grieke soek wysheid, 1:23 maar ons verkondig Christus wat gekruisig is, ‘n struikelblok vir die Jode en dwaasheid vir die Grieke;”

In Handelinge 10:46 vind ons die tweede voorbeeld waar mense in tale gespreek het. Hierdie keer het die gebeure in Cornelius se huis plaasgevind. Cornelius was ‘n heiden gewees. Dit moet ook duidelik verstaan word, dat daar ander Jode saam met Petrus na Cornelius se huis gegaan het. Hierdie Jode sou later kon bevestig wat in Cornelius se huis plaasgevind het.
Hnd 10:44 “En toe Petrus nog besig was om hierdie woorde te spreek, het die Heilige Gees op almal geval wat die woord gehoor het. 10:45 En die gelowiges uit die besnydenis, almal wat saam met Petrus gekom het, was verbaas dat die gawe van die Heilige Gees ook op die heidene uitgestort is.”
Dit maak net goeie sin, dat die Here ook hier ‘n teken aan die Jode sou verskaf, omdat die Here dit duidelik gemaak het dat die Evangelie van hierdie tyd af deur sowel Jode as nie-Jode op gelyke grondslag aangeneem en geglo kan word. Onthou Petrus se visioen wat hy ontvang het, net voordat hy na Cornelius se huis gestuur is. (Hnd 10:10-20) Van hierdie tydperk af, sou daar dus geen onderskeid tussen hierdie twee groepe wees nie en sou alle gelowiges deel van een liggaam, die kerk, wees. Vir hierdie rede het die Here dus die teken van die gawe van tale aan die Jode wat teenwoordig was gegee, as bewys dat wat hier plaasgevind het van Hom afkomstig is.

Later sien ons dat Petrus deur die Joodse gelowiges beskuldig is, omdat hy in ‘n heiden se huis ingegaan en saam met hulle geëet het. Die Joodse gelowiges het toe nog nie mooi verstaan, dat die Kerk uit alle nasies op gelyke grondslag sou bestaan en dat die Kerk nie net ‘n aangepaste vorm van die Joodse geloof sou wees nie.
Hnd 11:1 “En die apostels en die broeders wat in Judéa was, het gehoor dat die heidene ook die woord van God aangeneem het. 11:2  En toe Petrus opgaan na Jerusalem, het die wat uit die besnydenis was, met hom getwis  11:3 en gesê: By onbesnede manne het jy in die huis gegaan en saam met hulle geëet.”
In sy daaropvolgende verduideliking het Petrus verduidelik, wat in die huis van Cornelius plaasgevind het. Hy het ook baie duidelike hierdie gebeure met die uitstorting van die Heilige Gees op Pinkster verbind. Dit is baie belangrik om hierdie feit te onthou. Die Jode wat oorspronklik saam met Petrus gegaan het, sou alreeds van hierdie gebeure gepraat het, want hoe anders sou die Jode wat in Jerusalem was geweet het dat Petrus in Cornelius se huis was en saam met hulle geëet het. Onthou Jode het nie vrylik met nie-Jode omgegaan nie.

Hnd 11:15 “En toe ek begin spreek, het die Heilige Gees op hulle geval soos ook op ons in die begin. 11:16 En ek het die woord van die Here onthou, hoe Hy gesê het: Johannes het met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word. 11:17 As God dan aan hulle dieselfde gawe gegee het soos aan ons wat in die Here Jesus Christus geglo het, wie was ek dan, dat ek God kon verhinder? 11:18 En toe hulle dit hoor, het hulle geswyg en God verheerlik en gesê: So het God dan ook aan die heidene die bekering tot die lewe geskenk.”
Uit bogenoemde teksgedeelte is dit baie duidelik, dat Petrus die gebeure in Cornelius se huis met die gebeure op Pinksterdag verbind het, en dat die tale wat gepraat was ook menslike tale was en nie een of ander brabbeltaal nie. Daarom is dit belangrik dat ons begryp, hoekom God hierdie wonderwerke op Pinkster, asook in Cornelius se huis gedoen het, en dat die twee manifestasies van in tale spreek, dieselfde in aard was. Onthou die Jode soek ‘n teken! En die Here het een gegee en nadat hulle Petrus se verduideliking aangehoor het, het hulle aanvaar dat dit ‘n werk van die Here was en daarom het hulle die Here geloof. (Handelinge 11:18) God het dus Petrus se prediking met ‘n wonderwerk bevestig.

‘n Derde belangrike teksgedeelte wat in die boek Handeling voorkom, en oor die gawe van tale handel, vind ons in Handelinge 19:6 wat soos volg lui:
Hnd 19:1 “En terwyl Apollos in Korinthe was, het Paulus die boonste landstreke deurgereis en in Éfese gekom; en daar het hy sommige dissipels gevind 19:2 en hulle gevra: Het julle die Heilige Gees ontvang toe julle gelowig geword het? En hulle antwoord hom: Ons het nie eens gehoor dat daar ‘n Heilige Gees is nie. 19:3 En hy vra hulle: Met watter doop is julle dan gedoop? En hulle antwoord: Met die doop van Johannes. 19:4 Daarop sê Paulus: Johannes het met die doop van bekering gedoop en aan die volk gesê dat hulle moes glo in die Een wat ná hom kom, dit is in Christus Jesus. 19:5 En toe hulle dit hoor, is hulle gedoop in die Naam van die Here Jesus. 19:6 En Paulus het hulle die hande opgelê, en die Heilige Gees het op hulle gekom, en hulle het met tale gespreek en geprofeteer. 19:7 En altesaam was hulle omtrent twaalf manne.”
Uit bogenoemde teksgedeelte is dit duidelik, dat hierdie Jode nog nie in geloof na Jesus Christus as Verlosser gedraai het nie. Nadat hulle in Jesus se Naam gedoop is, het Paulus hulle die hande opgelê en het die Heilige Gees op hulle gekom, waarna hulle met tale gespreek het en ook geprofeteer het. Ook hier was ‘n teken nodig, om aan Jode te bevestig, dat wat Johannes oor Jesus vertel het, die waarheid was en dat hulle in Jesus moes glo om gered te word. Om Johannes se dissipels te wees het hulle nie wedergebore gemaak nie , hulle moes in Hom glo van wie Johannes die Doper getuig het. Soos reeds gesien het die Here ook hier Sy Apostel se boodskap met bonatuurlike tekens bevestig. Onthou, hierdie gebeure het alles gedurende die apostoliese tydperk plaasgevind.

Die drie instansies wat in die boek Handelinge oor tale handel, is die enigste verwysing na die tale kwessie buiten die in die brief van 1 Korinthiërs veral 1Kor 12:10,28,30; 14:1-40. Buiten die verduideliking van die gawe van tale wat ons in 1 Kor kry, is daar geen verdere verduideliking van die gawe van tale in enige van die ander briewe in die Nuwe-Testament gemaak nie. Omdat 1 Kor hoofsaaklik oor die regulering van die gawe van tale handel en nie verduidelik wat die gawe van tale behels nie, moet ons na die teksgedeeltes in Handelinge gaan om vas te stel wat die aard van die gawe van tale behels.

Dit moet ook besef word, dat enige poging om die gawe van tale, soos wat dit in die apostoliese tydperk voorgekom het, as iets anders as werklike verstaanbare tale uit te maak, nie met die Bybel se verstaan van bonatuurlike tekens vereenselwig kan word nie. By implikasie moet enige bonatuurlike teken realiteit as basis hê, en omrede dit ‘n bonatuurlike teken is, moet daar geen natuurlike verduideliking voor kan wees nie, anders is dit nie ‘n bonatuurlike teken nie. Dit is ook uit die Skrifte baie duidelik, dat die gelowiges van daardie tyd, die tekens, soos dit in die Skrifte opgeteken staan, as van God afkomstig aanvaar het, naamlik dat dit slegs ‘n bonatuurlike werk van die Heilige Gees kon gewees het. Dus kon dit nie aangeleer of deur eie wil voortgebring word nie! Niemand anders kon dit al ooit regkry, om in ‘n vreemde taal, wat hulle nooit vooraf aangeleer het, te spreek nie. Dus was die teken sertifiseerbaar as ‘n werklike taal en slegs van God afkomstig. Die poging van sommige mense om die gawe van tale, soos wat dit in die Bybel opgeteken staan, met die brabbeltaal van heidense mistici en waarsêers te vergelyk, moet as ‘n direkte aanval op die inspirasie en skriftuurlike akkuraatheid van die Bybel bestempel word.

Handelinge 11:15 maak ‘n direkte verklaring, dat die voorkoms van in tale praat, soos wat dit in Cornelius se huis plaasgevind het, soortgelyk is aan die geval van in tale spreek, soos wat op dit Pinksterdag plaasgevind het.
Hnd 11:15 “En toe ek begin spreek, het die Heilige Gees op hulle geval soos ook op ons in die begin.”
As hierdie twee gevalle dieselfde bonatuurlike tekens beskryf, dan volg dit net logies dat die gebeure in Handelinge 19 , waar Johannes die doper se dissipels betrokke was, ook dieselfde bonatuurlike manifestasie, van in tale spreek beskryf. Dit sal dus verkeerd wees om te beweer, dat die bonatuurlike teken van in tale spreek van mekaar verskil. Die gebruik van dieselfde woorde, soos in Handelinge en in 1 Kor gebruik, om die gawe van tale te beskryf, bewys dat daar van die gawe van tale gepraat word en dat dit dieselfde bonatuurlike verskynsel is. In al die teksgedeeltes wat oor hierdie onderwerp handel, is die Griekse woorde “laleo” en “glossa” in verskillende grammatiese konstruksies gebruik. Dus op grond van die Griekse grondteks, asook die teks as geheel, kan daar geen onderskeid tussen die voorkoms van die spreek in tale in albei boeke gemaak word nie. Dit behoort verder ook duidelik te wees, dat die gawe van tale ‘n bonatuurlike produk van die Heilige Gees was, en nie iets wat aangeleer was of wat die produk van sielkundige manipulasie kon wees nie.

Om te bepaal of die gawe van tale, net vir die Apostoliese tydperk bedoel was, of dat die ook vir die Post-apostoliese en dus vir die hele kerk dispensasie bedoel was, moet ons na 1 Kor gaan en die antwoord daar soek, omrede in Handelinge daar geen indikasie gegee word, dat iemand, na die aanvanklike spreek in tale, weer die gawe gebruik het nie. Die probleem word ook heelwat eenvoudiger as ons die ware karakter van in tale spreek bepaal. As al die feite rondom hierdie gawe deeglik ondersoek word, sal dit bo enige twyfel bewys kan word, dat die gawe van tale net vir die Apostoliese tydperk bestem was en nie vir die Post-apostoliese tydperk bestem was nie. En net soos wat al die tydelike gawes met die beëindiging van die Apostoliese tydperk beëindig is, het tale ook opgehou as ‘n gawe. Later meer hieroor.

Spreek in tale in Handelinge duidelik as tekens aan die Jode.
Die vooraf besprekings oor die drie bekende teksgedeeltes in die boek Handelinge (Handelinge 2:4; 10:46; 19:6) het duidelik gedemonstreer, dat die eenvormigheid in die gebruik van die woordeskat, die drie gedeeltes saamvoeg. Dit is ook reeds gedemonstreer dat die gawe van in tale praat, ‘n werklike gebeurtenis was, wat deur die Skrifte self bevestig word, asook die feit dat die persone wat hierdie gawe waargeneem en gehoor het, dit as ‘n duidelike werk van die Heilige Gees aanvaar het. Dit is ook alreeds duidelik gedemonstreer, dat die gawe van tale as teken gedien het, wat as bewys gedien het, dat wat die Apostels verkondig het van God afkomstig was.

Op Pinkster het die volle werking van die Heilige Gees, soos huidiglik deur gelowiges beleef, tot stand gekom. Gelowiges is nie net wedergebore nie, maar hulle is ook deur die Heilige Gees in die liggaam van Christus ingedoop. Die gelowiges is ook van toe af deur die Heilige Gees bewoon en is deur Hom verseël tot die dag van verlossing toe. Hulle is ook met die Heilige Gees vervul, wat nie met die doop van die heilige Gees verwar moet word nie. Dus, met die aanbreek van Pinkster, het die Kerk as die bruid van Christus wat ook as die liggaam van Christus bekendstaan, haar ontstaan gehad, deur die doop van die Heilige Gees. Dus is dit net logies dat dit heel gepas sou wees, om hierdie groot gebeurtenis met ‘n teken, as van God afkomstig, te bevestig. In God se voorsienigheid het Hy die gawe van om in ongeleerde menslike tale te spreek, aan die Kerk as bewys gegee, dat die werk van God afkomstig is en dat die Evangelie nou aan alle nasies aangebied gaan word.

Die verkondiging van die Evangelie aan Cornelius was die volgende belangrike stap, wat met die verkondiging van die Evangelie, geneem is en derhalwe was dit net gepas dat ‘n verdere teken verskaf sou word, wat as verdere bewys sou dien, dat die verkondiging van die Evangelie aan heidene, ook van God afkomstig is. Om hierdie rede was ‘n verdere teken nodig gewees en het die Here dit dan ook so verskaf.

Die derde geval soos in Handelinge 16:6 beskryf word, was daar ‘n verdere teken benodig. Die teken was nie slegs nodig om ongelowiges te oortuig nie, maar was nodig gewees om ook die gelowiges, wat Jesus nou vir die eerste keer geleer ken het, en waarvan Johannes hulle vertel het, se geloof te versterk. Die vraag ontstaan dan nou, of die gawe om in ongeleerde tale te kon spreek, ooit weer na die aanvanklike ontvangs en gebruik daarvan herhaal is. Dit is ‘n baie belangrike vraag, want dit was die begin van die Kerk dispensasie en era. Die boek van Handelinge gee egter geen verder indikasie van die gawe van in tale spreek nie.

Dit is ook verder duidelik, dat die spreek in tale geensins as ‘n toets vir die bewys van wedergeboorte voorgehou kan word nie. Die teenwoordigheid van die gawe om in vreemde tale te kon spreek, het wel as bewys gedien dat die betrokke gelowige wedergebore is, maar die gebrek aan die gawe om in tale te spreek het geensins bewys dat die betrokke persoon nie wedergebore was nie. Die rede hiervoor is eenvoudig. Nie alle gelowiges het hierdie gawe ontvang nie. Die Heilige Gees het bepaal aan wie Hy die gawe om in tale te spreek gee, en die gelowige het geen sê in die saak gehad nie.

1Ko 12:7 “Maar aan elkeen word die openbaring van die Gees gegee met die oog op wat nuttig is. 12:8 Want aan die een word deur die Gees ‘n woord van wysheid gegee, en aan die ander ‘n woord van kennis vanweë dieselfde Gees; 12:9 aan ‘n ander weer geloof deur dieselfde Gees, en aan ‘n ander genadegawes van gesondmaking deur dieselfde Gees; 12:10 aan ‘n ander werkinge van kragte, aan ‘n ander profesie, aan ‘n ander onderskeiding van die geeste, aan ‘n ander allerhande tale, aan ‘n ander uitleg van tale. 12:11 Maar al hierdie dinge werk een en dieselfde Gees wat aan elkeen afsonderlik uitdeel soos Hy wil. 12:12 Want net soos die liggaam een is en baie lede het, en al die lede van die een liggaam, al is hulle baie, een liggaam is, so ook Christus.”
Uit bogenoemde teksgedeelte is dit baie duidelik, dat net sekere mense sekere gawes ontvang het, en slegs omdat die Heilige Gees dit aan die gelowiges uitgedeel het soos wat Hy wou. Mense wat beweer dat alle gelowiges in tale moet spreek, as bewys dat hulle die Heilige Gees ontvang het, verkondig leuens en hulle leerstelling weerspreek duidelik wat die Bybel hier duidelik maak.

Dit is ook verder opmerklik, dat net in die gemeente van Korinthe, waar sonde en losbandigheid aan die orde van die dag was, en dus ‘n vleeslike gemeente was, wat nie ‘n Gees vervulde lewe gelei het nie, waar ons opmerk dat die spreek in tale algemeen voorgekom het. Die rede waarom Paulus dalk die regulering van die gawe om in tale te spreek in 1 Korintiërs bespreek het, is omdat daar probleme in die gemeente ontstaan het a.g.v die misbruik van die gawe. In elke geval het Paulus ‘n volle uiteensetting en bespreking oor die hantering en regulering van al die belangrike gawes in hierdie brief uiteengesit.

Die onderwerp van die geestelike gawes, asook die posisie en plek wat elke gelowige in Jesus se liggaam beklee, word in hierdie brief bekend gemaak. In 1 Kor 12:10, 28 word daar direk na die gawe van spreek in tale verwys.
1Ko 12:10 “aan ‘n ander werkinge van kragte, aan ‘n ander profesie, aan ‘n ander onderskeiding van die geeste, aan ‘n ander allerhande tale, aan ‘n ander uitleg van tale. 12:28 En God het sommige in die gemeente gestel: in die eerste plek apostels, ten tweede profete, ten derde leraars, daarna kragte, daarna genadegawes van gesondmaking, helpers, regeringe, allerhande tale.”
Dit is ook baie opmerklik, dat die lys van geestelike gawes in 1 Kor 12:28 volgens rangorde van belangrikheid opgestel is en dat die gawe van tale laaste geplaas is.

In 1 Kor 13 word dit duidelik gestel, dat die gawes waardeloos is, as dit nie, deur die inwerking van die Heilige Gees, in liefde beoefen word nie. Twee maal word na die gawe van tale in hierdie hoofstuk verwys. Eerstens word tale as ‘n klinkende metaal of as n lydende simbaal beskryf, indien dit nie in liefde beoefen word nie.(1 Kor 13:1) Tweedens word na die gawe van tale, asook die gawes van profesie en kennis as tydelike gawes verwys. In 1 Kor 13:8 word dit duidelik gestel, dat die gawes van profesie en kennis tot niet sal gaan en dat die gawe van tale op sal hou om te funksioneer. (Later meer hieroor)
1Ko 13:8 “Die liefde vergaan nimmermeer; maar profesieë—hulle sal tot niet gaan; of tale—hulle sal ophou; of kennis—dit sal tot niet gaan.”
Die hele hoofstuk wat volg handel verder hoofsaaklik oor die probleem van in tale spreek en profesie in die gemeente.

In hoofstuk 14 word ‘n paar belangrike stellings of punte gemaak:

Eerstens word die stelling gemaak dat die gawe van tale, minder belangrik as die gawe van profesie is, as dit by die opbou, troos en bemoediging van die gemeente kom. (1 Kor 14:1-12) Die swak punt in die gawe van tale lê daarin dat niemand die vreemde tale verstaan nie. In ‘n latere bespreking, noem Paulus die feit dat vyf woorde, wat verstaanbaar is, meer voordeliger is as tien duisend woorde wat onverstaanbaar is. (1 Kor 14:19)
1Ko 14:19 “maar in die gemeente wil ek liewer vyf woorde met my verstand spreek om ook ander te onderrig, as tien duisend woorde in ‘n taal.”

Tweedens, moes die gawe van in tale spreek nie in die gemeente beoefen word, indien daar nie iemand teenwoordig was wat die taal kon vertolk nie. (1 Kor 14:13-20) Alhoewel Paulus toelaat, dat die persoon wat die gawe van tale het, dit in die privaatheid beoefen het hy dit egter duidelik gestel dat om met die verstand te bid beter is. (1 Kor 14:15) Hou ook in gedagte dat hierdie opdragte tydens die Apostoliese Tydperk opgeteken is en dat dit nie noodwendig van toepassing op die Post- Apostoliese tydperk sou wees nie.
1Ko 14:15 “Hoe staan die saak dan? Ek sal met die gees bid, maar ek sal ook met die verstand bid. Ek sal met die gees psalmsing, maar ek sal ook met die verstand psalmsing.”

 

Derdens, word verklaar dat die gawe om in tale te spreek, hoofsaaklik gegee is as ‘n teken vir ongelowige Jode en is dit nie hoofsaaklik gegee om die gemeente te stig nie.
1Ko 14:21 “In die wet is geskrywe: Ek sal deur mense van ander tale en deur ander lippe tot hierdie volk spreek, en ook so sal hulle na My nie luister nie, sê die Here. 14:22 Die tale is dus ‘n teken nie vir die gelowiges nie, maar vir die ongelowiges; die profesie egter is nie vir die ongelowiges nie, maar vir die gelowiges.”
Die spreek in tale sal nie die ongelowiges oortuig as dit nie ordelik plaasvind nie.
1Ko 14:23 “As die hele gemeente dan saam vergader het en hulle sou almal in tale spreek en daar kom onkundiges of ongelowiges binne, sal hulle nie sê dat julle kranksinnig is nie?”
Maar selfs hier is profesie die groter gawe wat tot aanbidding en geloof sal lei!
1Ko 14:24 “Maar as almal profeteer en daar ‘n ongelowige of ‘n onkundige binnekom, dan word hy deur almal oortuig, deur almal beoordeel; 14:25 en so kom die geheime van sy hart aan die lig. En so sal hy op sy aangesig val, God aanbid, en verkondig dat God werklik onder julle is.”

Vierdens, mag die gawes van tale asook profesie, net in die gemeente bedryf word, indien dit gereguleer word en as dit tot die stigting van die gemeente sal lei. (1 Kor 14:26-38) Slegs twee of drie persone moes afsonderlik ‘n beurt gekry het om te spreek, en slegs indien daar ‘n persoon is wat die taal kon uitlê!
1Ko 14:27 “En as iemand in ‘n taal spreek, laat dit dan wees twee of hoogstens drie, en by beurte; en laat een dit uitlê. 14:28 Maar as daar geen uitlêer is nie, laat hy in die gemeente swyg, en laat hy met homself en met God spreek.”
Vrouens is nie toegelaat om in die gemeente te profeteer of in tale te spreek nie.
1Ko 14:34 “Julle vroue moet in die gemeentes swyg; want dit is hulle nie toegelaat om te spreek nie, maar om onderdanig te wees, soos die wet ook sê. 14:35 Maar as hulle iets wil leer, laat hulle tuis hul eie mans vra, want dit is lelik vir vroue om in die gemeente te spreek.”
Verder word die gemeente gemaan om alles ordelik en welvoeglik te doen.
1Ko 14:40 “Laat alles welvoeglik en ordelik toegaan.”
Dit is baie opmerklik, dat as hierdie reëls, soos wat Paulus dit hier weergegee het, in die moderne gemeentes toegepas word, sal dit die moderne tale spreker bewegings hulle onskriftuurlike en nadelige optredes ontneem.

Vyfdens, mag die spreek in tale nie verbied word nie, maar dit word duidelik gestel dat die gawe van profesie belangriker was. Onthou hierdie opdragte was tydens die Apostoliese tydperk opgeteken.
1Ko 14:39 “Daarom, broeders, beywer julle om te profeteer en moenie verhinder dat daar in tale gespreek word nie.”

Spreek van tale ‘n tydelike gawe.

Volgens die Skrifte is dit baie duidelik dat die gawe van in tale spreek nie voor Jesus se kruisiging plaasgevind het nie. Daar is ook geen Skriftuurlike rekord, dat Jesus of die Apostels ooit voor die kruisiging in tale gepraat het nie. Die gawe van in tale spreek het duidelik volgens die Bybel op Pinkster ontstaan, en dit is ook vanuit die Bybel baie duidelik, dat die gawe van tale ‘n geestelike gawe is, wat deur God se soewereine wil geskenk is en wat ook dus op enige tydstip deur God onttrek kon word.

Tweedens, is dit duidelik dat die hoofdoel van die gawe van tale was om as teken vir die ongelowige volk Israel te dien. So ‘n teken was nodig om te demonstreer dat met die aanbreek van die dispensasie van genade, die boodskap van die Evangelie van God afkomstig was. Dit is deur die Ou-Testamentiese profete voorspel, en dus moes hierdie profesie in vervulling gaan.
Jes 28:11 “Ja, Hy sal deur lippe wat hakkel, en deur ‘n vreemde tong met hierdie volk spreek,”
In 1 Kor 14:21-27 is hierdie teksgedeelte soos volg aangehaal:
1Ko 14:21 “In die wet is geskrywe: Ek sal deur mense van ander tale en deur ander lippe tot hierdie volk spreek, en ook so sal hulle na My nie luister nie, sê die Here. 14:22 Die tale is dus ‘n teken nie vir die gelowiges nie, maar vir die ongelowiges; die profesie egter is nie vir die ongelowiges nie, maar vir die gelowiges.”
Omrede die vervulling van hierdie profesie ten volle aan die volk Israel bevestig is, is daar geen verder nodigheid vir die teken nie. Met die val van Jerusalem in 70nC is die teken van tale nie meer vir die volk Israel nodig gewees nie, en is derhalwe deur God onttrek.

Derdens, is van die die ander gawes net van ‘n tydelike aard gewees. Dit sluit die volgende gawes in. Die gawe van Apostels, die gawe van profesie, die gawe van wonderwerke en die gawe van gesondmaking. Dit was blykbaar God se wil gewees om die bonatuurlike wondertekens wat tydens die Apostoliese-tydperk werksaam was te onttrek nadat hulle hulle doel gedien het.

Vierdens, word dit duidelik in die Skrif voorspel dat tale sal ophou.
1Ko 13:8 “Die liefde vergaan nimmermeer; maar profesieë—hulle sal tot niet gaan; of tale—hulle sal ophou; of kennis—dit sal tot niet gaan.’
Die konteks maak dit baie duidelik dat die tale waarvan hier gepraat word, die gawe van in tale spreek is. Op grond van hierdie feite is dit redelik om tot die gevolgtrekking te kom, dat die gawe van tale ook ‘n tydelike gawe was, wat God slegs vir die Apostoliese-tydperk bestem het.

Die gevaar van die misbruik van hierdie doktrine

Dit is baie duidelik uit 1 Kor waarneembaar, dat die gawe van in tale praat, van nature vatbaar vir misbruik is. Met hierdie feite in hand kan sekere feite weer in afsluiting gestel word.

Eerstens, is die spreek van tale die minste belangrikste van alle geestelike gawes. Om hierdie rede is die spreek in tale nie ‘n noodwendige bewys van geestelikheid nie, en kan ook nie as bewys van groot geestelike en bruikbaarheid voorgehou word nie. Die prominensie wat seker groepe en sektes aan hierdie leerstelling gee is heeltemal teenstrydig met wat die Skrifte leer! ‘n Gees gevulde lewe word nie deur in tale te spreek bewys nie. ‘n Gees gevulde lewe word gedemonstreer, deur die vrugte van die Gees, wat deur die gelowige deur die inwerking van die Heilige Gees gemanifesteer word en het niks met in tale praat of in die gees te val te make nie. (lees asb die artikel “val in die Gees” vir meer inligting)
Gal 5:22 “Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing. 5:23 Teen sulke dinge is die wet nie.
Efs 5:9 Want die vrug van die Gees bestaan in alle goedheid en geregtigheid en waarheid.” (Dit is hartseer om te sien hoeveel mense gemanipuleer word om in sogenaamde tale te spreek en dit ten koste van die waarheid en selfbeheersing!)

Tweedens, is die spreek van tale geensins ‘n toets vir wedergeboorte nie. Uit die aard van die saak, was dit ‘n gawe gewees en is dit duidelik, dat nie almal wat tydens die Apostoliese-tydperk gelewe het oor hierdie gawe beskik het nie. Die totale gebrek na enige verdere verwysings na hierdie gawe, buiten dit wat in Handelinge en in 1 Korinthiërs genoem word, is dit duidelik dat hierdie gawe nie ‘n belangrike indikator was dat iemand wedergebore was nie. As die spreek in tale van belang was, om wedergeboorte te demonstreer, is dit baie vreemd dat hierdie belangrike doktrine nie in ander gedeeltes van die Bybel bespreek is nie. Dit sou dan ‘n prominente plek in die Nuwe-Testamentiese boeke moes beklee het. Dit is egter nie die geval nie. Dit is ook insiggewend, dat beide die boeke Johannes en Romeine, wat hoofsaaklik soteriologies van aard is (oor aanvanklike Verlossing/Wedergeboorte handel), niks oor hierdie leerstelling te sê het nie.

Derdens, was die spreek in tale geensins ‘n indikasie van geestelikheid gewees nie. Van al die gemeentes waaraan Paulus briewe geskryf het, is dit opmerklik dat die gemeente van die Korintiërs die meeste sonde en vleeslikheid gemanifesteer het en juis in hierdie gemeente het die spreek in tale volop voorgekom. Dit is ook verder ‘n historiese feit, dat die tale beweging nie noodwendig bekend is vir hulle heilige lewenswandel nie, maar dat hulle gekenmerk was deur alle vorms van buitensporige optredes. Daar is baie geestelike en goddelike gelowiges, deur die eeue heen, wat nooit oor hierdie gawe van tale beskik het nie en wat ook boonop heeltemal teen hierdie leerstellings gekant was.

Vierdens, is die spreek in tale nie onafskeidbaar van die die doop in die Heilige Gees nie. Volgens 1 Kor 12:13 is elke gelowige met die Heilige Gees gedoop, maar dit is ook baie duidelik dat nie alle gelowiges in tale spreek nie.
1Ko 12:13 “Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge.”
Die poging om die spreek van tale, as vereiste voorwaarde van doop in die Heilige Gees te maak, is een van die euwels wat uit die misbruik van hierdie doktrine voortgevloei het.

Ter Afsluiting: Ek glo die kerk is besig om ernstig verlei te word en dat hierdie tendens sal vererger soos wat Jesus Christus se koms nader kom. Weereens sou dit dwaas van my wees om my uitlatings op eie insig te maak, en daarom stel ek dit duidelik dat dit nie net my eie opinie is nie, maar dat my opinie gevorm is op grond van wat in die Skrif opgeteken staan.
Mar 13:22 “Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei. 13:23 Maar julle moet op jul hoede wees. Kyk, Ek het alles vir julle vooruit gesê.”
As Jesus Christus die moeite gedoen het om ons vooraf te waarsku, sal dit net wysheid van ons kant af wees om Hom te glo en op die uitkyk vir hierdie mense te wees.

2Ts 2:7 “Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is; 2:8 en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak, 2:9 hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen
2:10 en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie. 2:11 En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, 2:12 sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid.”
Satan se man van die uur, die Antichris, sal van valse wonderwerke gebruik maak om mense te verlei. Kyk maar hoe maklik kry mense soos Benny Hinn dit reg om mense op grootskaal te verlei en aan hulle beloftes van genesing en wonderwerke maak, wat nooit plaasgevind het nie. As mense soos Benny Hinn dit nou al so maklik regkry, hoe erg gaan die verleiding nie wees as die Antichris sy verskyning maak nie? In verse 10-12 van bostaande teksgedeelte sien ons baie duidelik dat die Here ‘n gees van verleiding oor die mense gaan stuur wat nie ‘n liefde vir die waarheid het nie. Is dit nie wat ons nou al sien gebeur nie? Baie mense van vandag, wil graag hoor en sien, wat hulle wil hoor en sien en nie die waarheid volgens God se woord hoor nie. Jesus het egter gemaan dat die Vader mense soek wat Hom in waarheid aanbid. Hy sal nooit met leuens tevrede wees nie. Dit sluit alles wat vals is in. Dinge soos valse wonderwerke, valse spreek in tale en valse genesings ens het geen plek in die gelowige se lewe nie. As dit nie die waarheid is nie is dit nie van God afkomstig nie.
Joh 4:23 “Maar daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid.”
Ek glo dat die tyd nou aangebreek het, dat die Kerk weer die waarheid, soos wat dit in die Bybel opgeteken staan, moet soek alvorens dit te laat is.

2Ti 3:13 “Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger, hulle wat verlei en verlei word. 3:14 Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het,”
Slegs die Bybel moet as grondslag van ons geloof dien! Alles moet met die Bybel vergelyk word, om te sien of dit die waarheid is. Ongelukkig is die spreek in tale, soos wat ons dit in baie gemeentes van vandag sien, ‘n instrument van verleiding in die hande van Satan. Ek glo ook dat baie opregte gelowiges in hierdie strik vasgevang is en hoop en bid dat die Here hulle van hierdie leerstellings sal bevry. Onthou geloof wat nie op die waarheid gebaseer is nie is nie ware geloof nie! Enige wonderwerk wat van God afkomstig is, sal realiteit as basis hê, en sal as ‘n wonderwerk uitgeken kan word, sonder dat daar van manipulering of aangeleerde tegnieke gebruik gemaak moet word.

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.