Heb.12:14 heiligmaking

Heb 12:14 en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie

Vraag: Ek lees gereeld u skrywes op u webtuiste en stem met alles saam. Ek wil net weet of dit moontlik is vir ‘n gelowige (eerste fase/wedergebore) om te leef vir self en nie sy kruis elke dag op neem nie (tweede fase/heiligmaking) om nog in die lig van Heb. 12:14 hemel toe sal gaan. Ek sien so baie wat Jesus aanneem, maar tog nog voortgaan om vir hulleself te lewe soos hulle wil.

groete

Antwoord: Ek neem aan jy bedoel Heb. 12:14 en nie 12:4 nie. Ek gaan jou op grond van Heb. 12:14 antwoord. Indien jy Heb. 12:4 bedoel het laat my asb weet, want ek het probleme met my epos program gehad en weet nie of jy my epos gekry het nie.

Ek gaan eerstens die betrokke teksgedeelte aanhaal en dan daarvandaan werk.
Heb 12:14 “Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie;”
Omrede hierdie teksgedeelte as bewys gebruik word om te beweer dat indien ‘n persoon nie heiligmaking in sy lewe toepas, of dat daar nie merkbare heiligmaking in ‘n persoon se lewe waargeneem kan word nie, die persoon nooit wedergebore was nie. Sommige mense gaan so ver en beweer, dat ‘n wedergebore persoon, wat nie heiligmaking in sy lewe toepas a.g.v sy sondige leefstyl en wêreldgesindheid sy verlossing kan verloor en deur God verwerp sal word. Indien mens hierdie teksgedeelte in konteks van die hele brief aan die Hebreërs, en die Skrifte as geheel bestudeer; korrekte Bybel uitleg metodes toepas en toelaat dat Skrif, Skrif verklaar, sal opgemerk word dat Heb. 12:14 geensins bevestig dat ‘n persoon, wat nie heiligmaking in sy lewe toepas, sy verlossing verloor het nie. Die leser word aangeraai om self die teksgedeeltes, wat nie volledig in hierdie studie aangehaal en weergegee is nie, self te lees, sodat hierdie studie nie te lank sal raak nie.

Die hele boek Hebreërs is aan gelowiges gerig: Om die brief aan die Hebreërs korrek te verstaan, is dit van uiterste belang om vas te stel aan wie die brief gerig is. Is dit aan gelowiges, ongelowiges of aan ‘n gemengde groep van gelowiges sowel as ongelowiges gerig? Vanuit die boek self is dit duidelik, dat die brief aan gelowiges gerig is en die volgende punte staaf hierdie slotsom.

1) Nêrens, in die hele brief, word die Evangelie aan die lesers daarvan voorgehou, as iets wat hulle nog moet glo nie. Indien hierdie brief aan ongelowiges of aan ‘n gemengde groep mense gerig is, sou dit ‘n ernstige versuim of nalating aan die kant van die skrywer van die brief wees, want dit is die glo van die Evangelie wat tot ons redding strek.
Rom 1:16 “Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek.”
Veral indien mens in ag neem, dat die brief deur die Heilige Gees geïnspireer is en dit God se wil is dat mense tot geloof in die Here Jesus Christus moet kom.

2) Die skrywer, wat ‘n gelowige is, identifiseer homself met die ontvangers van sy brief, wat impliseer dat hulle ook gelowiges is. (Heb. 2:13; 3:14; 4:1-3; 6:1, 3; 10:26, 30, 39; 12:28)

3) Hy spreek hulle as broeders aan. ‘n Term wat in die briewe slegs vir gelowiges gebruik word. (Heb 3:12)

4) Die skrywer stel dit duidelik, dat die ontvangers van sy brief, alreeds geglo het, en dus is fase een van hulle verlossing, naamlik wedergeboorte alreeds afgehandel. (Heb.4:3)

5) Die skrywer meld dat sy lesers alreeds vir hulle geloof gely het en dat hulle verlig is.
Heb 10:32 “Maar onthou die vorige dae waarin julle, toe julle verlig geword het, ‘n groot lydensworsteling deurstaan het, 10:33 gedeeltelik omdat julle deur smaad en verdrukkinge ‘n skouspel geword het, gedeeltelik omdat julle deelgenote geword het van die wat in so ‘n toestand verkeer het. 10:34 Want julle het ook saam met my gevoel in my boeie, en julle het die berowing van julle goed met blydskap aanvaar, omdat julle geweet het dat julle in julself ‘n beter en blywende besitting in die hemele het.”
Dit kan slegs van wedergebore persone gesê word, dat hulle ‘n blywende besitting in die hemele het. Nooit word hierdie belofte aan ‘n ongelowige persoon gegee nie, omrede ‘n ongelowige, wat tot sterwe kom, in die poel van vuur gaan beland en het geen besitting in die hemel nie, om nie eers te praat van ‘n blywende besitting nie.

6) Dit word gemeld, dat die moontlikheid bestaan dat die lesers vanuit hulle posisie van geloof in Christus kan wegval, wat beteken dat hulle op ‘n gegewe punt in tyd geloof in Christus moes geplaas het, wat daarop dui dat hulle wedergebore geraak het. ‘n Mens kan nie van geloof af wegval as daar nie eerstens geloof was nie. (Heb. 2:1; 3:12; 6:6; 10:39; 12:25) Die oomblik wanneer ‘n persoon geloof in die Here Jesus Christus se Persoon en voltooide werk aan die kruis vir hom plaas, ontvang daardie persoon die ewige lewe as geskenk, en kan nooit verlore gaan nie, omrede hy die ewige lewe as huidige besitting het.
Joh 3:36 “Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; (ewige lewe as huidige besitting op ‘n gegewe punt in tyd.) maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom.
5:24 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe (ewige lewe as huidige besitting. Punt in tyd gebeurtenis) en kom nie in die oordeel nie, (‘n Pertinente belofte wat Christus hier maak! As iemand nie in die oordeel kan kom nie hoe kan hy dan verlore gaan? So ‘n persoon sal nooit geoordeel word nie. Hy kan dus nie verlore gaan nie) maar het oorgegaan (verlede tydvorm. Reeds afgehandel) uit die dood in die lewe.” (fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte.) Die leser word aangeraai om die artikels “Ewige Sekuriteit van die Gelowige” en “Die Drie Fases van Verlossing” vir meer besonderhede rondom hierdie onderwerpe te lees.)

7) Die ontvangers van die brief word aangesê om die Here in eerbied te dien, wat slegs op gelowiges van toepassing kan wees, omrede so iets vir ‘n ongelowige sinneloos sou wees, omrede ‘n ongelowige nie glo nie en dus sal hy homself nie aan God se opdragte steur nie. (Heb. 12:28)

8) Die beloftes van verskillende vorme van loon, wat aan die gelowiges vir volharding en gehoorsaamheid voorgehou word, kan slegs aan gelowiges voorgehou word, omrede ‘n ongelowige nie in ‘n posisie verkeer om genade loon bymekaar te maak nie, want hy is nog buite God se familie. Genade loon kan slegs in fase twee, naamlik die heiligmaking fase bymekaar gemaak word, nadat aanvanklike wedergeboorte alreeds afgehandel is. In sy ongeredde toestand, is ‘n ongeredde persoon, nog buite Christus en nog steeds in sy sondes en derhalwe is hy nog steeds onder God se regverdige oordeel. Slegs gelowiges is in ‘n posisie om genade loon vir die ewigheid bymekaar te maak. (Heb 3:14; 4:9,11; 10:34-35; 12:28)

Ek kan verder voorbeelde vanuit die brief aan die Hebreërs, as bewys aanhaal, dat hierdie brief aan gelowiges geskryf is, maar bostaande bewyse is genoegsaam om te demonstreer dat die brief aan gelowiges gerig is.

Die konteks en doel van die brief: Die brief is aan Christene gerig, wat vanuit die Joodse geloof gekom het. Dus is dit uiters belangrik om hierdie gemeente se agtergrond, in die Joodse geloof in ag te neem, wanneer hierdie boek van die Bybel, bestudeer word. Dit wil voorkom, of hierdie gelowiges deur hulle mede volksgenote (Jode) vervolg is en sommige van hulle het dit oorweeg om na die Joodse geloof terug te keer en hulle Christelike belydenis te laat vaar, in ‘n poging om die vervolging wat hulle beleef het te ontvlug.
Heb 10:32 “Maar onthou die vorige dae waarin julle, toe julle verlig geword het, ‘n groot lydensworsteling (lyding) deurstaan het, 10:33 gedeeltelik omdat julle deur smaad en verdrukkinge ‘n skouspel geword het, gedeeltelik omdat julle deelgenote geword het van die wat in so ‘n toestand verkeer het. 10:34 Want julle het ook saam met my gevoel in my boeie, en julle het die berowing van julle goed met blydskap aanvaar, omdat julle geweet het dat julle in julself ‘n beter en blywende besitting in die hemele het.”
‘n Jood wat vanuit sy geloof na die ware Christendom gedraai het, het gewoonlik alles in sy lewe verloor, insluitende sy posisie in die Joodse gemeenskap, sy werk, wat sy inkomste insluit en baie van hulle is deur hulle familielede onterf en afgeskryf. Sommige van hulle is selfs vermoor. Kyk maar watse geweldige vervolging die Apostel Paulus moes deurstaan, en in die meeste gevalle was sy grootste teenstanders sy mede volksgenote!

In die brief aan die Hebreërs (Christene met ‘n Joodse agtergrond) rig die skrywer baie ernstige waarskuwings aan sy lesers.
Heb 2:1 “Daarom moet ons des te meer ag gee op wat ons gehoor het, dat ons nie miskien wegdrywe nie.
Heb 10:38 Maar die regverdige (wedergebore persoon. Fase een, naamlik wedergeboorte reeds afgehandel) sal uit die geloof lewe;(volgehoue geloof na aanvanklike wedergeboorte, dus fase twee, naamlik heiligmaking) en as hy hom onttrek, (nie meer in geloof wandel nie) het my siel geen welbehae in hom nie. (Net soos die skrywer het onse Hemelse Vader nie behae in iemand wat na ‘n nie Christelike geloof terugkeer nie. Dit beteken nie dat die persoon verlore sal gaan nie. Wedergeboorte is ‘n geskenk wat nie deur ‘n voortgesette wandel in geloof verdien of behou kan word nie. Wedergeboorte vind op ‘n gegewe punt in tyd, deur ‘n eenmalige daad van geloof plaas, waarop die Here so ‘n persoon regverdig verklaar en daarna onderneem God om daardie persoon van die tweede dood te bewaar. Lees asb die artikel “Ewige Sekuriteit van die Gelowige” vir meer besonderhede.) 10:39 Maar by ons is daar geen onttrekking tot verderf nie, ( die term verderf het betrekking op ‘n vermorste lewe in hierdie lewe wat tot tugtiging , verlies van loon by die Regterstoel Oordeel van Christus en selfs fisiese dood kan lei, maar nie die verlies, van die geskenk, van die ewige lewe nie.) maar geloof tot behoud van die lewe.” (Kwalitatiewe aspek van die ewige lewe, sowel as ‘n betekenisvolle lewe gedurende hierdie leeftyd wat tot groot loon in die hiernamaals sal uitloop) (Vir meer voorbeelde van die waarskuwings hierbo genoem sien Heb. 3:12; 6:6; 12:25) Onthou, ons kan niks doen om die ewige lewe te ontvang nie en boonop sal ons nooit die ewige lewe deur ons eie goeie dade kan verdien nie. Die ewige lewe word, deur geloof, as geskenk van God ontvang, en omdat ons niks kan doen om dit in die eerste plek te verdien nie, kan ons ook niks doen om dit te verloor nie. Die ewige lewe is ‘n gawe van God wat op grond van Sy genade deur geloof ontvang moet word en niks anders nie.

Behalwe die feit dat die skrywer sy lesers baie ernstig in sy brief aan hulle waarsku, merk ons op, dat hy ook verder oor die meer uitnemendheid van die Here Jesus Christus en die Nuwe Verbond bo die van die Mosaïeke wet en die Ou Testament uitbrei. Vir ‘n nie-Joodse gehoor was so iets nie nodig nie, en sou die heiden nasies dit nie noodwendig so verstaan het nie, want hulle het nie vanuit ‘n Joodse (Wet van Moses) agtergrond gekom nie en dus kwalifiseer hulle nie as Hebreërs (Israeliete) nie. Om hierdie rede het die skrywer die meer uitnemendheid van Jesus Christus, bo die van die Joodse geloof sisteem, uitgewys en verder gegaan en self die tekortkominge, van hulle ou geloof sisteem, aan hulle uitgewys.
Alhoewel die skrywer baie ernstige waarskuwings aan die Hebreeuse gelowiges rig (wat nie die moontlikheid, om verlore te gaan en in die poel van vuur op te eindig, insluit nie) moedig hy hulle egter aan om aan hulle geloofsbelydenis vas te hou, en in hulle geloof te groei, sodat hulle die volle kwalitatiewe aspek van hulle gemeenskap met God in hierdie lewe kan bereik en waarvoor hulle ryklik in die hiernamaals beloon sal word. (dit sluit ‘n groter erfporsie; heersers posisies in Jesus Christus se duisendjarige Vrederyk in, wat tot in alle ewigheid sal voortduur; krone; asook ‘n groter kapasiteit om die belewenis van gemeenskap met God ens, te ervaar. (Lees asb die artikels “Gelowiges se werke gaan beoordeel word”; “Gelykenis van die Ponde”; “Wat is die Ewige Lewe” en “Die Sewe Verskillende Vorms van Dood in die Bybel” om meer besonderhede rondom hierdie aangeleentheid te bekom.) Dus wil die skrywer sy medegelowiges aanmoedig om geestelik te groei, sodat hulle ‘n stadium van geestelike volwassenheid kan bereik. (Heb. 3:6; 4:14; 5:11-6:1; 6:11-12; 10:23)
Heb 12:1 “Daarom dan, terwyl ons so ‘n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde ( wat die sonde van ongeloof insluit) wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, (fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking) 12:2 die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het. 12:3 Want julle moet ag gee op Hom (die Here Jesus Christus as ons voorbeeld) wat so ‘n teëspraak van die sondaars teen Hom verdra het, (Jesus Christus het gely om die Vader se wil te doen) sodat julle in jul siele nie vermoeid word en verslap nie.” (Indien Jesus Christus, tydens Sy aardse vernedering, soveel gely het om die Vader se wil te doen, moet ons , ons Verlosser se voorbeeld navolg, tot en met die Here ons met die eerste opstanding vanuit die dode sal oprig en verheerlik. Onthou, na aanvanklike wedergeboorte is ons in fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking en in hierdie fase kan ons leiding en teenspoed in hierdie bose wêreld verwag, (Joh. 16:33; Rom. 8:36) omrede ons, net soos Jesus Christus, nou tydens hierdie aardse bestaan in ons aardse vernedering is. Slegs wanneer fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking, met ons afsterwe of die wegraping afgehandel word, sal ons verdrukkinge, lyding en vernedering tot ‘n einde kom. Ons leef dus as vreemdelinge (Heb. 11:13; 1Pet. 2:11) en as ambassadeurs van God op hierdie aarde, tot en met ons verheerliking, wanner die Here ons sal kom haal en na ons Vader se woning in die hemele neem. (Joh. 14:2-3) Na afloop van die Groot Verdrukking sal ons saam met die Here Jesus Christus aarde toe terugkeer om saam met Hom vir duisend jaar regeer. Dit is dwaalleer om te verkondig dat ons nou alreeds as konings op aarde moet regeer! Kyk maar hoe word ons mede gelowiges regoor die wêreld vervolg en gedood vir hulle geloof. Om meer oor hierdie onderwerp te lees besoek gerus https://www.persecution.com/)

Wat dan van die ernstige waarskuwings wat ons in Hebreërs vind?: Omdat sommige mense nie die hele konteks van die brief aan die Hebreërs in ag neem, wanneer hulle die ernstige waarskuwings daarin lees nie, gebeur dit baie maal dat die tweede dood of die poel van vuur, sonder enige regverdiging vanuit die teks, in die waarskuwings gedeeltes van die brief ingelees word. Sodoende word die teksgedeeltes, veral die waarin die term “vuur” aangetref word, buite konteks aangehaal, as bewys dat gelowiges die ewige lewe kan verloor en in die ewige poel van vuur kan beland. Om die korrekte betekenis vir die term “vuur” te bepaal, moet die konteks waarin daardie term gevind word die betekenis van die woord bepaal. Indien ons die Ou Testament, en die Joodse geskiedenis daarin opgeteken, in gedagte hou, soos wat ons die brief aan die Hebreërs bestudeer, sal dit gou duidelik blyk dat die Bybel die term “vuur” gebruik wanneer God Sy eie mense, (in hierdie geval die Joodse volk wat met Hom ‘n verbond aangegaan het) in die Ou Testament straf.
Núm 11:1 “En die volk (die Israelitiese volk nie die boervolk, Afrikaner volk of enige ander volk nie) het hulle voor die ore van die HERE beklaag dat dit sleg gaan. En toe die HERE dit hoor, het sy toorn ontvlam, en die vuur van die HERE het onder hulle gebrand en het gewoed aan die kant van die laer. 11:2 Toe het die volk na Moses geroep, en Moses het tot die HERE gebid; en die vuur het doodgegaan. 11:3 Daarom het hulle die plek Tabéra genoem, omdat die vuur van die HERE onder hulle gebrand het. (hierdie was straf in tyd, in hierdie wêreld, nie die tweede dood of poel van vuur nie)
Jes 9:19 (9:18) Deur die grimmigheid van die HERE van die leërskare staan die land in vlamme en het die volk (Israel) geword soos ‘n prooi van die vuur; die een spaar die ander nie. (weereens ‘n gebeurtenis in tyd, in hierdie leeftyd)
Jer 11:16 Die HERE het jou die naam gegee: groen olyfboom, skoon deur mooi gevormde vrugte; maar by die geluid van ‘n groot gedruis het Hy ‘n vuur daarteen aangesteek, en sy takke het gebreek.” (Sien verder Ex. 22:20-22; Amos 2:5; Ps 78:21; Klaagl. 2:3-4)
Wanneer die ernstige waarskuwings in die brief aan die Hebreërs bestudeer word, moet die lesers se Joodse agtergrond dus ingedagte gehou word. Onthou, dit was slegs met die volk Israel wat die Here in die Ou Testament ‘n verbond aangegaan het, en daarom het Hy hulle Sy volk genoem en het Hy nie geskroom om van vuur gebruik te maak om hulle te staf nie. Al was hulle Sy volk.
Deu 5:2 “Die HERE onse God het by Horeb met ons (Die volk Israel, dus die Jode) ‘n verbond gesluit.”
Dit is ook verder opvallend, dat wanneer die Here Sy volk gestraf het, Hy hulle gewoonlik op ‘n gegewe punt in tyd, gedurende hierdie leeftyd, gestraf het. Net omdat die Here van vuur gebruik gemaak het om Sy mense te straf, beteken nie, dat Hy hulle na die poel van vuur of die tweede dood verdoem het nie. Soos duidelik vanuit genoemde teksgedeeltes waargeneem kan word, is die straf wat uitgedeel is in hierdie lewe uitgedeel en word daar niks van die hiernamaals gepraat nie. Kyk maar hoeveel keer die Here koning Dawid gestraf het, en Dawid was ‘n man na God se hart! In kort, God gee Sy eie pak! En daardie pakslae kan heel onaangenaam raak. Dit beteken egter nie dat Hy hulle verwerp nie!

Indien mens die waarskuwings in Hebreërs noukeurig bestudeer, sal opgemerk word, dat die skrywer nooit na die terme “tweede dood”, “Hel” of na die “poel van vuur” verwys nie. Inaggenome hierdie feite, asook die feit dat die brief aan gelowiges gerig is, is dit duidelike dat die skrywer hoofsaaklik fase twee van sy lesers se verlossing, naamlik heiligmaking, in gedagte gehad het en nie fase een, naamlik aanvanklike wedergeboorte nie. Hierdie waarheid sluit egter glad nie die moontlikheid van ‘n vuurgloed van straf vir hierdie gelowiges uit nie, en die ernstige waarskuwings is juis aan gelowiges gerig.
Heb 10:27 “maar ‘n verskriklike verwagting van oordeel en ‘n vuurgloed wat die teëstanders sal verteer. 10:30 Want ons ken Hom wat gesê het: My kom die wraak toe, Ek sal vergelde, spreek die Here; en weer: Die Here sal sy volk oordeel.”
Dit beteken egter geensins dat God hulle sal veroordeel en verwerp nie. Dit beteken net dat Hy hulle baie erg sal straf. Om bogenoemde terme in die teks in te lees is om die betekenis van die skrywer se verklarings te verander in iets wat dit nie werklik sê nie.

Boonop word die term “vuur” ook gebruik om God se jaloesie te beskryf en het die term “vuur” nie altyd met die tweede dood te make nie.
Deu 4:24 “Want die HERE jou God is ‘n verterende vuur, ‘n jaloerse God.”
Die term “vuur” kan ook God se reinigings werk impliseer.
Psa 66:12 “U het mense oor ons hoof laat ry; ons het in die vuur en in die water gekom, maar U het ons uitgelei in die oorvloed.
1Pe 1:7 sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus;”
Dus is dit belangrik om te besef, dat die term “vuur”, nie altyd die poel van vuur of tweede dood beteken nie, maar moet die konteks waarin die woord “vuur” gebruik word die betekenis van die term “vuur” bepaal. Die Bybel stel dit ook verder duidelik, dat die gelowige se werke by die Regterstoel Oordeel van Christus, deur vuur getoets gaan word wat geensins impliseer dat die gelowige verlore sal gaan of enige straf moet ondergaan nie. Hy sal egter skade lei en loon verloor.
1Ko 3:13 “elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. 3:14 As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; 3:15 as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.”
Die doel vir die skryf van die brief aan die Hebreërs, is om sy lesers aan te moedig om in hulle geloof vas te hou, en tot geestelike volwassenheid op te groei, met die wete dat indien hulle dit nie doen nie, hulle God se tugtiging te wagte kan wees. Verder kan gelowiges wat nie in geloof volhard, verseker weet, dat hulle loon by die Regterstoel Oordeel van Christus sal verloor.

Met die nodige agtergrond en kennis oor die konteks waarin Heb.12:14 voorkom, kan ons nou na die betrokke teksgedeelte gaan om vas te stel wat die skrywer bedoel het toe hy die onderstaande stelling gemaak het.
Heb 12:14 “Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie;”
Baie mense beweer dat bostaande teksgedeelte as bewys dien, dat mense wat die Evangelie geglo het en wat nie ‘n heilige lewe uitlewe nie, nie hemel toe sal gaan as hulle tot sterwe kom nie. Om hierdie rede is dit uiters belangrik om vas te stel wat die skrywer met die term “heiligmaking” bedoel het, toe hy hierdie brief aan die Hebreërs geskrywe het.

Die woord wat in die Afrikaanse Bybel (1953 vertaling) korrek as “heiligmaking” vanuit die Griekse woord “hagiomos” vertaal is, dra die betekenis van “afsonder”. In hierdie konteks beteken die term, om van sonde na God toe af te sonder. Dus beteken die term “Heiligmaking” om iets of iemand van die een ding/persoon vir of na ‘n ander ding/persoon af te sonder. Soos reeds gestel, beteken die term “Heiligmaking” in Heb. 12:14 om ‘n persoon, van die houvas wat sonde op sy lewe het, te bevry en na God toe af te sonder. Indien mens nou die hele konteks, waarin die woord “heiligmaking in Heb. 12:14 voorkom, in ag neem, is dit baie duidelik dat die woord “Heiligmaking” nie absolute heiligheid kan beteken nie. Die rede hiervoor is dat die lesers van die brief gemaan word om die vrede met almal na te jaag en die heiligmaking, wat impliseer dat volkome vrede nie noodwendig met alle persone bewerkstellig sal kan word nie, alhoewel dit die doel van elke gelowige behoort te wees. So ook kan die term “heiligmaking” nie absolute heiligheid en dus ‘n toestand van absolute sondeloosheid beteken nie, want dan sou ‘n persoon net so heilig soos God moes wees, iets wat vir die sondige mens onmoontlik is en daarom het ons Christus se toegerekende geregtigheid nodig.
Gal 2:16 “terwyl ons weet dat die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus, selfs ons het in Christus Jesus geglo, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof in Christus en nie uit die werke van die wet nie; omdat uit die werke van die wet geen vlees geregverdig sal word nie.”

Vir diegene wat beweer dat die stelling: “Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie;” beteken dat indien ‘n persoon nie heiligmaking in sy lewe toepas nie, so ‘n persoon verlore sal gaan en die Here nooit, van aangesig tot aangesig, in die hemel sal sien nie, skep dan twee onoplosbare probleme vir homself. Die rede hiervoor is eenvoudig. Indien ons op grond van God se genade, sonder verdienste van ons kant af, deur geloof alleen in die Here Jesus Christus se voltooide werk aan die kruis alleen gered word, kan werke nie deel van die Evangelie uitmaak nie. Maar indien ons Heb.12:14 vertolk en beweer dat heiligmaking/dissipelskap, wat werke insluit, ‘n vereiste vir weergeboorte is, dan het werke deel van die Evangelie geword en moet ons dus oor geloof plus goeie werke beskik om gered te word. Indien dit die geval is, sit ons met ‘n onoorkombare weerspreking in die Bybel, iets wat nie die geval kan wees nie, omrede die Bybel God se woord aan die mens is en God kan Homself nie weerspreek nie. Die Bybel stel dit keer op keer, dat ons slegs op grond van God se genade deur geloof sonder verdienste aan ons kant wedergebore word!
Rom 11:6 “En as dit deur genade is, dan is dit nie meer uit die werke nie; anders is die genade geen genade meer nie. En as dit uit die werke is, dan is dit nie meer genade nie; anders is die werk geen werk meer nie.
Gal 2:21 Ek verwerp nie die genade van God nie; want as daar geregtigheid deur die wet is, dan het Christus tevergeefs gesterwe.
Rom 4:5 aan hom egter wat nie werk nie, maar glo in Hom wat die goddelose regverdig, word sy geloof tot geregtigheid gereken.”

Die tweede probleem wat ontstaan, is dat die skrywer nog steeds sy lesers as medegelowiges aanspreek, en indien mens die die direkte konteks van hoofstuk 12, en die gedagte vloei daar gevind in ag neem, is dit baie duidelik dat die skrywer medegelowiges in gedagte het. Dus kan die skrywer nie na fase een, naamlik aanvanklike wedergeboorte, waar slegs geloof sonder enige werke vir wedergeboorte verys word, verwys nie, maar egter na fase twee, naamlik die gelowiges se heiligmaking waar heiligmaking/dissipelskap wel verwag word en waar wedergeboorte alreeds plaasgevind het.

Vervolgens ‘n kort opsomming, wat die konteks en gedagte vloei van Heb 12 uiteen sit:
1) Die lesers word as medegelowiges, aangemoedig om die wedloop te voltooi en dit te koste van die teëstand van sondaars.
Heb 12:1 “Daarom dan, terwyl ons so ‘n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, 12:2 die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het.12:3 Want julle moet ag gee op Hom wat so ‘n teëspraak van die sondaars teen Hom verdra het, sodat julle in jul siele nie vermoeid word en verslap nie. 12:4 Julle het nog nie ten bloede toe weerstand gebied in julle stryd teen die sonde nie.”
Die stelling: “Julle het nog nie ten bloede toe weerstand gebied in julle stryd teen die sonde nie” beteken net dat die lesers van die brief nog nie vir hulle geloof met hulle eie bloed moes betaal nie. Dit kon egter nog gebeur. Die sonde wat gepleeg kon word, is die sonde waar hulle, hulle Christelike belydenis kon laat vaar en weer na die Joodse geloof, met al sy rituele en offers, wat alles maar net as heenwyser na die Here Jesus Christus se Persoon en voltooide werk aan die kruis gedien het, kon terugdraai.

2) Verder moet die lesers nie moedeloos raak, indien hulle hemelse Vader hulle tydens hulle aardse wandel tugtig nie, want God se tugtiging dien juis as bewys dat hulle Sy kinders is. (Fase een, is dus alreeds afgehandel en die lesers is alreeds wedergebore en daarom word hulle as kinders van God bestempel.)
Heb 12:5 En julle het die vermaning heeltemal vergeet wat tot julle as seuns spreek: My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie; 12:6 want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem.12:7 As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie? 12:8 Maar as julle sonder tugtiging is, wat almal deelagtig geword het, dan is julle onegte kinders en nie seuns nie. 12:9 Verder, ons het ons vaders na die vlees as kastyders gehad, en ons het vir hulle ontsag gehad; moet ons nie veel meer aan die Vader van die geeste onderworpe wees en lewe nie?”
Die term “lewe” in vers 12:9 het niks met die ontvangs van die ewige lewe te make nie. Dit het egter betrekking op die gelowige se fisiese, asook die kwalitatiewe aspek, van die belewenis van die gawe van die ewige lewe, na aanvanklike wedergeboorte. ‘n Gelowige wat in sonde bly voortleef, sal vind dat hy nie die kwalitatiewe aspek van die ewige lewe in hierdie lewe beleef, soos wat hy behoort te doen nie. In kort, hy gaan miserabel wees, omrede die Vader kind verhouding met God vertroebel sal wees. So ‘n sondige leefwyse kan ook daartoe lei, dat die Vader die gelowige sal tugtig en selfs sy fisiese lewe kan neem, maar dit beteken geensins dat die persoon die gawe van die ewige lewe verbeur nie. (die leser word aangeraai om die artikel “Wat is die Ewige Lewe” vir meer besonderhede te lees.) Die sonde wat die skrywer in bostaande teksgedeelte na verwys, is spesifiek die sonde van ongeloof, omrede die moontlikheid bestaan het, dat die lesers moontlik hulle Christelike geloof kon laat vaar het, en weer na die Jodedom terug kon keer, om sodoende vervolging of selfs martelaarskap vry te spring. Onthou, die skrywer praat hier met mense wat alreeds wedergebore is, nie met ongelowiges nie. Hierdie mens is dus alreeds in Christus en is deel van God se familie.

3) Die doel van die Vader se tugtiging is om Sy kinders so ver te kry, dat hulle tydens hulle aardse lewenswandel, Sy heiligheid deelagtig kan word. Dus wou God Sy kinders kry om heiligmaking in hulle lewens toe te pas, sodat hulle geestelik tot volwassenheid kon opgroei wat ‘n toenemende heilige lewenswandel tot gevolg sou hê.
Heb 12:10 “Want húlle het ons wel ‘n kort tydjie na hulle beste wete getugtig; maar Hy tot ons beswil, sodat ons sy heiligheid kan deelagtig word. 12:11 Nou lyk elke tugtiging of dit op die oomblik nie ‘n saak van blydskap is nie, maar van droefheid; later lewer dit egter ‘n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is.”

4) Verder moedig die skrywer sy lesers aan, om in God se weg van heiligheid (heiligmaking) voort te gaan, en deur dit te doen sou hulle God sien.
Heb 12:12 “Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op;12:13 en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.12:14 Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie;”
Ek sal later in die studie die term “God sien” meer breedvoerig behandel. Vir nou is dit voldoende om die gedagte vloei van die skrywer van die brief aan die Hebreërs weer te gee.

5) Verder word die lesers gemaan, dat hulle nie in die genade van God en in hulle heiligmaking veragter of verslap nie, sodat daar nie dalk ‘n wortel van bitterheid in hulle harte opskiet en baie van hulle, deur hierdie sonde, besoedel word nie.
Heb 12:15 “en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie. 12:16 Laat niemand ‘n hoereerder wees nie, of ‘n onheilige soos Esau, wat vir één spysgereg sy eersgeboortereg verkoop het. 12:17 Want julle weet dat hy, toe hy ook later die seën wou beërwe, verwerp is, want hy het geen geleentheid vir berou gevind nie, al het hy dit met trane vurig begeer.”

6) En laastens, moes die Hebreeuse lesers onthou, dat die openbaring van God se heiligheid wat hulle in die Nuwe Testament ontvang het, ‘n duideliker openbaring as die van die Ou Testament was. (Heb 12:18-29) Die leser word aangeraai om self die betrokke teksgedeelte te lees, omrede dit nogal lank is en hierdie artikel is alreeds te lank.) Indien mens die hele hoofstuk 12 in ag neem, asook die gedagte vloei daarin gevind, is dit bo enige twyfel bewys dat die skrywer met alreeds wedergebore Christene praat en nie met mense wat nog ongelowig was nie. Verder dui die konteks baie duidelik daarop, dat die skrywer fase twee van hulle verlossing, naamlik heiligmaking in gedagte gehad het en nie fase een van hulle verlossing, naamlik aanvanklike wedergeboorte nie. Wat hierdie feit nog verder staaf, is die feit dat die skrywer ‘n proses aan hulle voorhou en nie ‘n eenmalige gebeurtenis in tyd nie. Wedergeboorte is ‘n eenmalige gebeurtenis, maar heiligmaking is ‘n proses, wat die res van die gelowige se lewe op hierdie aarde sal voortduur en wat nooi gedurende hierdie lewe afgehandel sal word nie. Slegs wanneer fase drie, naamlik die verheerliking fase met die wegraping/eerste opstanding plaasvind, sal heiligmaking tot ‘n einde kom, omrede die Here dan die gelowige met sy verheerlikte liggaam sal oorklee, wat nie meer oor ‘n sonde natuur sal beskik nie en dus sal die gelowige nie meer kan sondig nie en sal die nodigheid vir heiligmaking dus wegval.

Wat beteken die stelling: “ Waarsonder niemand die Here sal sien nie” Soos reeds uit die voorafgaande gedeeltes in hierdie studie gedemonstreer is, het die skrywer van die brief aan die Hebreërs gelowiges in gedagte gehad en nie ongelowiges of ‘n gemengde groep van gelowiges sowel as ongelowiges nie. Verder het ons gesien, dat ons die konteks waarin ‘n stelling of woord gebruik word, moet toelaat om die betekenis van daardie stelling of woord te bepaal. Die rede hiervoor is eenvoudig. Net soos in die oorspronklike Griekse taal, waaruit die Nuwe Testament in Afrikaans vertaal is, het sommige woorde meer as net een betekenis of applikasie. Indien ons die konteks waarin daardie stelling voorkom bestudeer, sal die betekenis van die gegewe woord of stelling duidelik waargeneem kan word.

Bostaande reëls geld vir die term “sien” in Heb. 12:14. Die term “sien” beskik oor meer as een enkele betekenis. Die term “sien” kan die betekenis dra, dat ‘n persoon iets met sy fisieke oog sien, soos byvoorbeeld wanneer ‘n mens ‘n waarneembare objek soos ‘n skildery waarneem. Iemand wat dan na die skildery kyk “sien” dan daardie skildery. Aan die anderkant van die saak, kan die skildery ‘n spesifieke of dieper boodskap weergee, en die persoon wat daarna kyk, moet die boodskap wat die skildery wil oordra raak “sien”, anders gaan die skildery maar net een van vele wees wat geen betekenis het nie. Dus kan mens ‘n fisiese voorwerp sien. Maar die term “sien” kan ook ‘n ander betekenis weergee. ‘n Persoon kan intieme kennis oor ‘n persoon of ander voorwerp dra, wat slegs daardie persoon kan “sien” en wat slegs op grond van ‘n intieme verhouding of openbaring gesien kan word. My vrou kan hopenlik mooi eienskappe, asook onaangename eienskappe in my raaksien, wat nie noodwendig deur ander mense wat kontak met my het raakgesien kan word nie. Hierdie beginsel geld ook vir ons verhouding met God. En daarom erken die meeste toonaangewende leksikons hierdie feit. Dus, kan die Griekse woord “horaõ” wat korrek as “sien” in die Afrikaanse Bybel vertaal is, ook na iemand se persepsie, intieme kennis of belewenis van daardie persoon of voorwerp verwys.

Tydens die laaste Avondmaal het die Here Jesus Christus aan Sy alreeds wedergebore dissipels die volgende stelling gemaak:
Joh 14:19 “Nog ‘n klein tydjie, en die wêreld sien My nie meer nie; maar julle sien My, omdat Ek lewe en julle sal lewe. 14:20 In dié dag sal julle weet dat Ek in my Vader is, en julle in My, en Ek in julle. 14:21 Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar.”
Indien ons nie konteks waarin ‘n stelling gemaak is toelaat om die betekenis van daardie stelling te bepaal nie, kan misverstande baie maklik ontstaan. Baie mense sal dan vra hoekom die Here die stelling maak, dat Hy Homself aan Sy dissipels sal openbaar, indien Hy dan alreeds aan hulle geopenbaar is en hulle Hom fisies kon sien? Die betekenis van die stelling is te vinde in die konteks waarin dit gemaak is. Dit moet in gedagte gehou word, dat die Here hier met Sy dissipels praat waarvan almal al gelowiges was. Judas het toe alreeds die groep verlaat om die Here te gaan verraai. Die Here maak hierdie stelling dus aan gelowiges, en maak dit duidelik dat slegs diegene van hulle wat Sy gebooie bewaar Hom werklik liefhet en a.g.v van hulle liefde sal Hy Homself op ‘n meer intieme en tot ‘n groter mate aan daardie spesifieke dissipels openbaar. Hulle sal dan dinge van die Here Jesus Christus “sien” en verstaan wat ander vleeslike gelowiges nie sal raaksien nie. Onthou, ons kan net raaksien wat die Here ons toelaat om raak te sien. Dit is die Heilige Gees se werk om ons verstand te verlig, sodat ons toenemend intieme kennis van God kan bekom. Tot die mate waarop ‘n gelowige die Here Jesus Christus as toegewyde dissipel (wat heiligmaking insluit) navolg, sal die Here Homself aan daardie persoon openbaar en sal daardie persoon se insig, kennis en ervaring van God vermeerder. En onthou die Here se waarskuwing!
Mat 13:13 “Daarom spreek Ek tot hulle deur gelykenisse, omdat hulle, terwyl hulle sien, nie sien nie, en terwyl hulle hoor, nie hoor of verstaan nie. 13:14 En aan hulle word die profesie van Jesaja vervul wat sê: Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie.”

In Heb.12:18-29 sien ons, dat die skrywer verduidelik, hoe diegene onder die Ou Verbond, wat Moses op die berg Sinai ontvang het, niemand die Here kon sien nie, maar dat ons in die Here Jesus Christus die Vader sien.
Joh 1:18 “Niemand het ooit God gesien nie; die eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is, dié het Hom verklaar.
12:45 En wie My aanskou, aanskou Hom wat My gestuur het.
14:9 Jesus sê vir hom: Ek is so lankal by julle, en het jy My nie geken nie, Filippus? Hy wat My gesien het, het die Vader gesien. En hoe sê jy: Toon ons die Vader?”
Die Skrifte bedoel nie dat ons die Vader fisies van aangesig tot aangesig gesien het nie, maar dat die Here Jesus Christus God die Vader se wese, aard, liefde en attribute volkome aan ons geopenbaar het, omrede die hele volheid van die Godheid in die Here Jesus Christus inwoon.
Kol 2:9 “Want in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik;”
En omdat die Vader en die Seun Een is, en altwee in Wese God is, sien ons die Vader se aard, omrede die Drie-Eenheid en dus die Drie Enige God, Een in wese, doel, optrede, aard en attribute is, alhoewel hulle drie afsonderlike Persone is en daarom kon die Here Jesus Christus die onderstaande stellings maak.
Joh 10:30 “Ek en die Vader is een.
Joh 14:8 Filippus sê vir Hom: Here, toon ons die Vader, en dit is vir ons genoeg. 14:9 Jesus sê vir hom: Ek is so lankal by julle, en het jy My nie geken nie, Filippus? Hy wat My gesien het, het die Vader gesien. En hoe sê jy: Toon ons die Vader? 14:10 Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek tot julle spreek, spreek Ek nie uit Myself nie; maar die Vader wat in My bly, Hy doen die werke.”
Die Here Jesus Christus het dus volkome die Vader uitgebeeld, alhoewel die dissipels nie fisies die Vader gesien het nie. Dit volg dan net logies, dat hoe meer ons in die kennis, gehoorsaamheid en heiligmaking toeneem en groei, tot daardie mate sal ons God in hierdie lewe “sien”, totdat ons eendag, na afloop van fase drie, naamlik die verheerliking, wanneer ons met ons verheerlikte liggame oorklee sal word en die Here fisies van aangesig tot aangesig sal sien.
1Ko13:12 “Want nou sien ons deur ‘n spieël in ‘n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is.
1Jo 3:2 Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is.
Opn 22:4 En hulle sal sy aangesig sien, en sy Naam sal op hulle voorhoofde wees.”
Met die wete, dat ons in die belewenis van ons intieme gemeenskap en kennis van God toenemend kan groei, en Hom al hoe duideliker sal kan “sien”, behoort alle gelowiges aan te moedig om geestelik te groei en toe te laat dat die Heilige Gees heiligmaking in hulle lewens bewerkstellig. Tot die mate waarop ons God gaan gehoorsaam en heiligmaking in ons lewens gaan toelaat, tot daardie mate gaan die Here Jesus Christus, Homself aan ons openbaar en tot daardie mate sal ons God “sien”. Mens sien nie die Here Jesus Christus om van byeenkoms na byeenkoms te gaan, om daar die sogenaamde vuur te vang (catch the Fire) soos wat baie vals leraars wil hê ons moet glo, nie. Of om van byeenkoms na byeenkoms te gaan en die nuutste sogenaamde profesie, deur die een of ander moderne profeet aan te hoor nie. (Die leser word aangeraai om die artikels “Is die Gawe van Profesie nog in werking vandag” , asook “Het die Kerk dieselfde Mag en Outoriteit as wat die Apostels gehad het om te Genees?” te lees) Om God toenemend te sien, beteken dat ons die leerstellings, soos wat ons dit in die Skrifte vind, in geloof en in die krag van die Heilige Gees, gehoorsaam en in ons lewens toepas. Om in ‘n ware verhouding met God te staan, is om van oomblik tot oomblik, dag tot dag, in volkome afhanklikheid deur geloof, in die krag van die Heilige Gees, saam met die Here Jesus Christus te wandel, waar ons Sy woord, die Bybel, getrou bestudeer, met Hom in gebed tree en Hom as getroue dissipels navolg, al kos dit ons alles. (Fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking)

Is dit dan vanuit ‘n Skriftuurlike perspektief moontlik, dat ‘n gelowige in sonde leef en in daardie toestand tot sterwe kom en dan nog steeds hemel toe gaan?:
Die eenvoudige antwoord is:”Ja!” En hierdie standpunt sal vanuit die Bybel bevestig word. Die gemeente van die Korinthiërs dien as klassieke voorbeeld van gelowiges (fase een, naamlik weergeboorte is dus alreeds afgehandel) wie se optrede nie ooreenstem met hulle posisionele posisie in Christus nie. Indien mens die eerste brief aan die Korinthiërs bestudeer, wil dit voorkom of daar weinig of selfs geen merkbare heiligmaking in baie van hierdie gelowiges se lewens te bespeur was nie. En boonop dit alles, het sommiges van hulle alreeds in hierdie toestand van sonde tot sterwe gekom, sonder om enigsins tot bekering te kom.
Ko 11:29 “Want wie op onwaardige wyse eet en drink, eet en drink ‘n oordeel oor homself, terwyl hy die liggaam van die Here nie onderskei nie.11:30 Daarom is daar onder julle baie swakkes en sieklikes, en ‘n aantal het ontslaap. (gesterf) 11:31 Want as ons onsself beoordeel het, sou ons nie geoordeel word nie. 11:32 Maar as ons geoordeel word, word ons deur die Here getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel mag word nie.”
“Ontslaap” is ‘n term wat in die briewe vir gelowiges, wat in Christus tot sterwe gekom het, gebruik word.

Maar voordat ‘n lys sondes van die gemeente van die Korinthiërs weergegee word, gaan ek eerstens ‘n paar punte weergee, wat bo enige twyfel sal demonstreer, dat die apostel Paulus die gemeente van die Korinthiërs as medegelowiges beskou het en nie as ongeredde persone nie.

1) Paulus het die gemeente van die Korinthiërs as “In Christus” omskryf, ‘n term wat slegs op gelowiges van toepassing kan wees.
1Ko 1:30 “Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing.”

2) Hulle is deur die Heilige Gees in Christus ingedoop, ‘n stelling wat slegs op gelowiges van toepassing kan wees.
1Ko 12:12 “Want net soos die liggaam een is en baie lede het, en al die lede van die een liggaam, al is hulle baie, een liggaam is, so ook Christus. 12:13 Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge.”

3) Die Korinthiërs is in Christus geheilig en is verder as “geroepe heiliges” omskryf.
1Ko 1:2 “aan die gemeente van God wat in Korinthe is, aan die geheiligdes in Christus Jesus, die geroepe heiliges, saam met almal wat die Naam van onse Here Jesus Christus in elke plek aanroep, hulle sowel as onse Here:”

4) Individueel is hulle as tempels van die Heilige Gees omskryf.
1Ko 6:19 “Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie?”
En gesamentlik is hulle God se tempel.
1Ko 3:16 “Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?”

5) Daar word omtrent twintig keer na die Korinthiërs as broeders verwys.
1Ko 1:10 “Maar ek vermaan julle, broeders, in die Naam van onse Here Jesus Christus, om almal eenstemmig te wees, en dat daar geen skeuringe onder julle moet wees nie, maar dat julle verenig moet wees in dieselfde gesindheid en in dieselfde mening.”
(Sein verder: 1Kor. 1:11, 26; 2:1; 3:1; 4:6; 7:24, 29; 10:1; 11:2, 33; 12:1; 14:6, 20, 26, 39; 15:1, 50, 58; 16:15) Broeders is ‘n term wat in die briewe aan die gemeentes van die Korintiërs net vir ware gelowiges gebruik word. Dit sou verkeerd wees om ongelowiges as broeders te omskryf, want hulle is nie in Christus en dus nie deel van God se familie nie en is dus nie broeders nie.

6) Die lesers van die brief aan die Korinthiërs, word gereeld met ongelowiges gekontrasteer, iets wat sinneloos sou wees indien hulle ook nie werklik wedergebore was nie.
1Ko 6:6 “Maar gaan die een broeder met die ander na die regbank, en dit voor ongelowiges?”
(Sien verder: 1Kor. 7:13-14; 10:27; 14:22-23 ens.)

7) Verder word hulle beskryf as mense wat die Evangelie geglo het.
1Ko 3:5 “Wie is Paulus dan, en wie Apollos anders as dienaars deur wie julle gelowig geword het? En dit soos die Here aan elkeen gegee het.
1Ko 15:11 Of dit nou ek of hulle is, so preek ons en so het julle geglo.”
Dus is fase een van hulle verlossing, naamlik wedergeboorte alreeds afgehandel en bevind hulle hulleself nou in fase twee van hulle verlossing, naamlik heiligmaking. Daar is dus geen twyfel dat Paulus na gelowiges verwys het nie.

8) Hulle is deur God geroep.
1Ko 1:9 “God is getrou, deur wie julle geroep is tot die gemeenskap met sy Seun Jesus Christus, onse Here.”

9) Die Korinthiërs was in Christus uitverkies.
1Ko 1:26 “Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; 1:27 maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; 1:28 en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak,”

Ek kan nog verdere teksgedeeltes aanhaal, wat sal toon dat die apostel Paulus gelowiges ingedagte gehad het toe hy die brief aan die gemeente van die Korinthiërs geskryf het. Daar bestaan egter geen twyfel dat hierdie mense wedergebore was nie, maar indien mens hierdie brief verder bestudeer, dan blyk dit baie duidelik dat hierdie gelowiges se optrede nie met hulle hoë posisionele posisie in Christus ooreengekom het nie. Alhoewel fase een van hulle verlossing, naamlik wedergeboorte afgehandel was, het hulle nie merkbaar in fase twee van hulle verlossing, naamlik heiligmaking gevorder nie. Vervolgens ‘n paar voorbeelde wat bogenoemde siening sal staaf.

1) Die Korinthiërs het hulle medegelowige broeders verkul en besteel.
1Ko 6:8 “Maar julle doen onreg en pleeg roof, en dit aan broeders.”

2) Hulle het by die nagmaal ete (liefdesmaal) hulle eie kos opgeëet, en self dronk geword, en dit ten koste van hulle medegelowige broeders wat nie genoeg gehad het om te eet nie. Hulle het dus die arm broeders onder hulle beskaam.
1Ko 11:20 “As julle dus saamkom, dan wil dit nie sê dat julle die nagmaal van die Here eet nie 11:21 Want as julle eet, gebruik elkeen eers sy eie ete; en die een het honger en die ander is dronk. 11:22 Het julle dan geen huise om in te eet en te drink nie? Of verag julle die gemeente van God, en maak julle dié beskaamd wat nie het nie? Wat sal ek vir julle sê? Sal ek julle prys? Hierin prys ek julle nie.”

3) Baie van hulle was besig om die apostel Paulus, wie deur God gestuur is en deur wie hulle gelowig geword het, te oordeel.
1Ko 4:3 “Maar vir my beteken dit baie min of ek deur julle of deur ‘n menslike regbank beoordeel word; ja, ek beoordeel myself nie eens nie,”

4) Hulle het ‘n opgeblase siening van hulleself gekoester en was dus hoogmoedig.
1Ko 4:6 “Hierdie dinge, broeders, het ek op myself en Apollos toegepas om julle ontwil, dat julle aan ons kan leer om nie te dink bo wat geskrywe is nie, sodat julle nie die een ter wille van die ander opgeblase sou wees teen ‘n derde nie. 4:7 Want wie trek jou voor? En wat het jy wat jy nie ontvang het nie? En as jy dit dan ontvang het, waarom roem jy asof jy dit nie ontvang het nie?”

5) Hulle het ‘n broeder wat met sy stiefma ‘n seksuele verhouding gehad het in die gemeente verdra.
1Ko 5:1 “‘n Mens hoor waarlik van hoerery onder julle, en hoerery van so ‘n aard as wat selfs onder die heidene nie bekend is nie: dat iemand die vrou van sy vader het. 5:2 En tog is julle opgeblase in plaas dat julle liewer getreur het, sodat hy wat hierdie daad gedoen het, kan verwyder word onder julle uit. 5:3 Want wat my betref, het ek, liggaamlik afwesig maar in die gees teenwoordig, alreeds besluit asof ek teenwoordig was, om hom wat so iets gedoen het, 5:4 in die Naam van onse Here Jesus Christus, as julle vergader het en my gees saam met die krag van onse Here Jesus Christus— 5:5 om so iemand aan die Satan oor te lewer tot verderf van die vlees, sodat die gees gered kan word in die dag van die Here Jesus. 5:6 Julle roem is nie mooi nie. Weet julle nie dat ‘n bietjie suurdeeg die hele deeg suur maak nie?”

6) Die gemeentelede van die Korinthiërs het onder mekaar getwis.
1Ko 1:11”Want dit is aan my deur die huisgenote van Chloë bekend gemaak aangaande julle, my broeders, dat daar twiste onder julle is.”

7) Hulle was deur die wysheid van hierdie bose wêreld bekoor.
1Ko 3:18 “Laat niemand homself mislei nie: as iemand meen dat hy wys is onder julle in hierdie wêreld, laat hom dwaas word, sodat hy wys kan word; 3:19 want die wysheid van hierdie wêreld is dwaasheid by God; want daar is geskrywe: Hy wat die wyse mense in hulle listigheid vang;”
(Sien verder: 1:18-2:13; 4:10)

8) Die Korinthiërs was vleeslik en het soos ongelowiges opgetree. Dus was daar geen merkbare heiligmaking in hulle lewens sigbaar nie.
1Ko 3:1 “En ek, broeders, kon met julle nie spreek soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike, soos met klein kinders in Christus. 3:2 Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste spys nie, want julle was nog nie daartoe in staat nie, en julle is nou nog nie daartoe in staat nie, 3:3 omdat julle nog vleeslik is; want aangesien daar onder julle jaloersheid en twis en tweedrag is, is julle nie vleeslik nie en wandel julle nie na die mens nie? 3:4 Want as die een sê: Ek is van Paulus; en die ander: Ek van Apollos—is julle nie vleeslik nie?”

9) Daar was jaloesie, twis en tweedrag onder hulle.
1Ko 3:3 “omdat julle nog vleeslik is; want aangesien daar onder julle jaloersheid en twis en tweedrag is, is julle nie vleeslik nie en wandel julle nie na die mens nie?”

10) Hulle was behep met menslike leiers, instede daarvan om op die Here Jesus Christus te fokus.
1Ko 1:12 “Ek bedoel dit, dat elkeen van julle sê: Ek is van Paulus, en ek van Apollos, en ek van Céfas, en ek van Christus. 1:13 Is Christus verdeel? Is Paulus miskien vir julle gekruisig? Of is julle in die naam van Paulus gedoop?”
(sien verder: 1Kor. 3:4-7, 21-23; 4:6-7)

11) Hulle het nie kennis van God gehad nie.
1Ko 15:34 “Wees nugter op die regte manier, en sondig nie; want sommige het geen kennis van God nie. Ek sê dit tot julle beskaming.”

12) Hulle was progressief deur hulle hemelse Vader met swakheid, siekte en selfs fisiese dood getugtig, omrede hulle nie hulleself beoordeel het nie.
1Ko 11:30 “Daarom is daar onder julle baie swakkes en sieklikes, en ‘n aantal het ontslaap.11:31 Want as ons onsself beoordeel het, sou ons nie geoordeel word nie. 11:32 Maar as ons geoordeel word, word ons deur die Here getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel mag word nie.”
Dit is baie duidelik dat God hierdie sondige gelowiges met swakheid, siekte en selfs fisiese dood gestraf het, en dat hierdie gelowiges in daardie sondige toestand tot sterwe gekom het. God het hulle egter nie verwerp nie, omrede hulle alreeds in Christus, deur die Heilige Gees, geplaas is en daarom kan hulle nie saam met die wêreld veroordeel word nie. Hulle bly nog steeds Sy kinders. (Die leser word aangeraai om die artikel “Ewige Sekuriteit van die Gelowige” vir meer inligting omtrent hierdie waarheid te lees.) Bostaande teksgedeelte dien as dode knal vir die leerstelling wat beweer dat God Sy kinders sal verwerp indien hulle in ernstige sonde bly voortleef en in daardie toestand tot sterwe sou kom. Om te beweer dat God Sy kinders sal verwerp, is in my opinie Godslastering. Die meeste van ons wat sondige mense is, sal nie eers daaraan dink om ons sondige kinders te verwerp nie, maar baie mense voeg sulke optredes aan God, wat liefde is, toe! God gooi nie Sy kinders weg nie, alhoewel ‘n kind wat in rebellie teen God leef ernstige gevolge kan verwag. En boonop dit alles, beweer hierdie mense dat Christus nie vir al ons sonde aan die kruis betaal het nie. Of Christus het vir alle sondes, kleintjies en grotes, betaal of Hy het nie vir een betaal nie. Daar is nie ‘n middelweg nie. En die eenvoudige waarheid is dat ons almal na wedergeboorte sonder uitsondering nog steeds sondig.

Soos wat ons uit bostaande twaalf punte baie duidelik waargeneem het, was die gemeente van die Korinthiërs met sondes belaai. Hulle word egter nog steeds as broeders omskryf, omrede hulle posisioneel in Christus is (fase een alreeds voltooi) en veilig in God se hande is. Al beteken dit dat God dit nodig geag het om sommige van hulle met swakheid, siekte en fisiese dood te tugtig. Hierdie feit dien ook as teenvoeter vir al die sogenaamde geloofsgenesers wat beweer, dat dit altyd God se wil is om die mens te genees. Die eenvoudige feit bly staan, dat die teendeel egter ook die geval kan wees. God tugtig Sy kinders en dit sou raadsaam wees om hierdie waarheid aan hulle te verkondig, in stede daarvan om die dwaalleer te verkondig dat dit altyd God se wil is om mense te genees. Ek is vas oortuig daarvan dat daar baie gelowiges is wat ‘n vroeë dood gesterf het, juis omdat hulle nie heiligmaking in hulle lewens toegepas het nie. En die tragiese feit is dat die mense wat hulle moes gewaarsku het, nie hierdie leerstelling aan hulle verkondig het nie, omrede dit nie ‘n gewilde leerstelling is nie en ook finansiële implikasies vir die boodskapper daarvan kan inhou. Sulke leerstellings bereik nie die beste verkoper lyste nie, en vul ook nie stadions met mense wat hoop om genees te word nie. Boonop dien hierdie leerstelling net as bewys, dat die mens nie oor die vermoeë beskik om lewe oor homself en ander uit te spreek nie. (Engels: “declare en decree”, “name it and claim it ” speak life” ens) Hierdie dwaalleer word in ‘n baie groot deel van die belydende Christendom aantref. (die leser word aangeraai om die artikel “Krag in ons Woorde?” vir meer inligting rondom hierdie valse leerstelling te bekom)

Ter Afsluiting: Vanuit die Skrifte sien ons dus duidelik, dat die gemeente van die Korinthiërs, so ver dit hulle posisie in Christus aanbetref, geheilig was en word hulle as heiliges beskryf. Sover dit die praktiese uitleef van en wandel met Christus aanbetref was hulle egter vleeslik en vol sonde. Die gedrag van die Korinthiërs het geensins as bewys gedien dat hulle wedergebore of ongered was nie. Alle persone wat egter die Evangelie geglo het, (fase een, naamlik wedergeboorte) is in Christus en vorm a.g.v hulle posisie in Christus deel van Sy liggaam/gemeente en volgens die Nuwe Testament is alle wedergebore persone deel van Christus se kerk en word hulle ook in die Bybel as heiliges omskryf. En op grond van bogenoemde feite is hulle burgers van die hemel.
Fil 3:20 “Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus, 3:21 wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam (fase drie, naamlik verheerliking) volgens die werking waardeur Hy ook alles aan Homself kan onderwerp.”

Nou terug na ons teksgedeelte onder bespreking:
Heb 12:14 “Jaag die vrede na met almal , en die heiligmaking
(fase twee, naamlik heiligmaking, waar die gelowige toenemend van sonde na God toe afgesonder word) waarsonder niemand die Here sal sien (intieme openbarings kennis, wat toenemende insig en kennis van God en Sy woord insluit, en wat tot ‘n groter mate van intimiteit met Christus in hierdie lewe tot gevolg sal hê en wat boonop ryklik in die hiernamaals beloon sal word. In kort geestelike groei.) nie;”
Dit is egter ‘n onbetwisbare feit, dat die oorgrote deel van die belydende Christendom leef asof God nie bestaan nie. Die probleem gaan egter nie deur leerstellings, wat beweer dat sodanige gelowiges verlore sal gaan of wat beweer dat hulle nooit wedergebore was, opgelos word nie. My insiens lê die oplossing vir die probleem daarin, om God se Persoon, grenslose genade, liefde en die hoë posisionele stand wat die gelowige a.g.v. Christus se Persoon en voltooide werk aan die kruis vir die gelowige bewerkstellig het, aan hulle voor te hou. En hulle dan so ver te kry, om vanuit daardie posisie in Christus, deur die inwerking van die Heilige Gees, Geesvervulde lewens te lei, met die wete dat indien hulle nie in heiligmaking toeneem, hulle deur hulle Hemelse Vader getugtig sal word, wat self fisiese dood en smart in hierdie lewe tot gevolg sal hê, en wat die verlies in loon by die Regterstoel Oordeel van Christus gaan insluit, wat ewigdurende implikasies te wee gaan bring. (lees asb die drie artikels “Heiligmaking op Grond van Genade deur Geloof” vir meer besonderhede rondom hierdie kwessie.)

Indien die leser ingedagte hou, dat al die briewe in die Nuwe Testament, aan gelowiges, wat toe alreeds wedergebore was en wat hulleself in fase twee van hulle verlossing, naamlik die heiligmaking fase bevind het, gerig is sal dit verhoed dat ons werke by die Evangelie as vereiste vir wedergeboorte voeg. Onthou. Wedergeboorte vind eenmalig op ‘n spesifieke punt in tyd plaas, (Joh.5:24) waar heiligmaking ‘n lewenslange proses is, wat eers met die verheerliking tot ‘n einde sal kom. (Matt. 28:19-20; Luk.9:23) Verder moet onthou word dat daar ‘n onderskeid tussen die drie fases van ons verlossing is en dat ons nie hierdie drie fases met mekaar moet verwar nie. Wedergeboorte en dissipelskap is nie dieselfde ding nie. Vir wedergeboorte kom ons na Christus toe. (Joh.6:35-37) As dissipels volg ons Christus. (Luk.14 26-27) Wedergeboorte handel oor wat die Here Jesus Christus vir ons aan die kruis gedoen het. (1Kor.1:17-18). As dissipels moet ons daagliks ons kruis opneem en Christus getrou navolg. (Luk.14:27) Om wedergebore te raak, moet ons slegs in die Here Jesus Christus glo. (Joh.3:16, Hand.16:31) Om as dissipels te kwalifiseer vereis dat ons in Christus moet bly. (Joh.8:30-32; 15:7-8) Wedergeboorte is ‘n geskenk wat God gee. (Joh.4:10; Ef.2:8-9) Dissipelskap sluit alles in wat ons vir Christus moet prysgee. (Luk.14:33) Wedergeboorte is kosteloos vir die ontvanger daarvan. (Jes.55:1; Openb.22:17) Dissipelskap sal ons egter alles kos. (Luk 14:28) Wedergeboorte kan nie deur goeie werke bekom word nie en kan dus nie as loon verdien word nie. (Tit.3:5; Rom.4:4-5) As dissipels gaan ons volgens ons werke beloon word. (Genade loon) (Matt. 5:11-12; 10:41-42; 16:24-27) Onthou om fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte met fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking te vermeng is om werke deel van die Evangelie te maak, wat die inhoud van die Evangelie verander en dus niemand sal red nie.

Ek hoop en bid dat hierdie studie jou vraag beantwoord, en vra om verskoning vir die lengte van die antwoord, maar die belangrikheid van die vraag wat jy gevra het is van so ‘n aard, dat ek nie kon waag om nie die vraag so deeglik as moontlik te beantwoord nie.

Seën Groete

Vic