Heilige Gees

Die Heilige Gees is onontbeerlik vir die gelowige

Vir enige gelowige om ‘n vrugtevolle lewe in Christus te geniet, moet die uiters belangrike rol wat die Heilige Gees in die gelowige se Christelike wandel speel nooit uit die oog uit verloor word nie. Met hierdie artikel sal daar gepoog word om die gelowige aangaande hierdie feit te herinner. Alle gelowiges behoort hierdie punte te bestudeer en gereeld te oordink.

  • Dit is die Heilige Gees wat in die gelowige werk om God se wil te doen:

    Filip. 2:12-13 “Daarom, my geliefdes, (gelowiges wie alreeds die gawe van die ewige lewe ontvang het. Fase een van hulle verlossing, naamlik wedergeboorte is alreeds afgehandel) soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met vrees en bewing; (fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking, wat dissipelskap insluit) 13 want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.”
    Om hierdie rede is dit van uiterste belang om wanneer die Heilige Gees in ons harte werk om iets te doen, dat ons Sy leiding gehoorsaam en dit doen. Sodoende verhoed ons dat ons buite Sy wil vir ons lewe optree en met leë hande voor Christus moet verskyn. Dus beteken die stelling “werk julle eie heil uit met vrees en bewing” nie dat ‘n gelowige vir die gawe van die ewige lewe moet werk nie (want dan sou Paulus ‘n werke evangelie verkondig en homself en Christus weerspreek), maar oor fase twee van die gelowige se verlossing, naamlik heiligmaking wat sal verhoed dat die gelowige ‘n betekenislose bestaan, na aanvanklike wedergeboorte, sal handhaaf. God het ‘n doel met elkeen van ons, en solank as wat ons lewe, is die geleentheid nog steeds daar dat Hy ons as Sy instrumente, waardeur Hy wil werk, kan aanwend. Elke gelowige se lewe het dus betekenis. (Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Drie fases van verlossing” te lees.)
  • Dit is die Heilige Gees wat die vrugte van die Gees in die gelowige se lewe te voorskyn bring:

    Solank as wat die gelowige in die Gees wandel, en toelaat dat God d.m.v. geloof in en deur die gelowige lewe, sal die Heilige Gees die vrugte van die Gees in daardie gelowige se lewe te voorskyn bring.
    Gal. 5:22 “Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing. 23 Teen sulke dinge is die wet nie.”
    Onthou, die vrugte van die Gees word nie deur die gelowige se eie pogings te voorskyn gebring nie, maar dit is God self wat dit sal voortbring solank as wat die gelowige deur die Gees wandel.
  • Dit is die Heilige Gees wat ons die krag gee om oor sonde in ons lewens te heers:

    Gal. 5:16 “Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie;” (die leser word ten sterkste aangeraai om die reeks artikels “Heiligmaking op grond van God se genade deur geloof” te lees.)
  • Dit is ook dan die Heilige Gees wat aan ons die krag gee om as Christus se getuies op te tree:

    Hand.1:8 “maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde.”
  • Dit is die Heilige Gees was alle gelowiges lei:

    Rom.8:14 “Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God.”
    ‘n Persoon wat nie die Gees van God het nie behoort nie aan Christus nie en is nooit wedergebore nie. Hierdie stelling geld slegs vir gelowiges wat tydens die Dispensasie van die Kerk/Genade leef.
    Rom.8:9 “9 “julle is egter nie in die vlees nie, maar in die Gees, as naamlik die Gees van God in julle woon. Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, dié behoort nie aan Hom nie.”
  • Die Heilige Gees gee aan ons die krag om die Here korrek te dien:

    Rom.7:6 “Maar nou is ons ontslae van die wet waardeur ons gebonde was, aangesien ons dit afgesterf het, sodat ons dien in die nuwigheid van die Gees en nie in die oudheid van die letter nie.”
  • Die Gees verseker ook dat wanneer ons preek dit nie tevergeefs is nie:

    1Kor.2:3 Ek was ook by julle in swakheid en in vrees en in veel bewing; 4 en my rede en my prediking was nie in oorredende woorde van menslike wysheid nie, maar in die betoning van gees en krag, 5 sodat julle geloof nie in wysheid van mense sou bestaan nie, maar in die krag van God.”
  • Die Heilige Gees stel ons ook in staat om geestelik te groei:

    Gal.3:2 “Dit alleen wil ek van julle weet: het julle die Gees ontvang uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof? 3 Is julle so onverstandig? Nadat julle met die Gees begin het, eindig julle nou met die vlees? 4 Het julle verniet so baie gely? As dit maar verniet was. 5 Hy wat julle dan die Gees verleen en kragte onder julle werk, doen Hy dit uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof?”
    ‘n Persoon wat die Wet van Moses wil gebruik om heiligmaking in sy lewe te bewerkstellig sal misluk en dit sal verhoed dat die persoon werklik geestelik groei. So ‘n persoon het meer in gemeen met die Fariseërs as met ‘n ware gelowige. Net soos wat ons die gawe van die ewige lewe deur geloof alleen ontvang, so ook vind heiligmaking deur geloof plaas en nie in ons eie krag nie. Dit is egter ons plig om in die Gees te wandel, en Hom te gehoorsaam waar Hy iets op ons harte lê wat ons weet van Hom afkomstig is.
  • Dit is die Gees van God wat ons van binne af transformeer om meer soos Christus te word:

    2Kor.3:18 “En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ‘n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is.”
    Soos wat ‘n persoon Christus en Sy woord (die Bybel) bestudeer en oordink word die gelowige van binne af deur die Heilige Gees getransformeer. Ons moet egter onthou dat hierdie transformasie egter ‘n lewenslange proses is. Hierdie transformasie, van binne deur die Heilige Gees bewerkstellig, vorm dus deel van ons heiligmaking en soos reeds genoem is dit ‘n lewenslang proses. (fase twee van ons verlossing)
  • Dit is die Gees van God wat ons innerlike mens versterk en krag aan ons gee:

    Ef.3:14 “Om hierdie rede buig ek my knieë voor die Vader van onse Here Jesus Christus, 15 van wie elke geslag in die hemele en op die aarde sy naam ontvang, 16 dat Hy aan julle mag gee na die rykdom van sy heerlikheid om met krag versterk te word deur sy Gees in die innerlike mens, 17 sodat Christus deur die geloof in julle harte kan woon, julle wat in die liefde gewortel en gegrond is,”
  • Dit is ook die Heilige Gees wat ons die vermoë gee om ons rykdom in Christus te besef en verstaan:

    1Kor.2:12 “Ons het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het. 13 Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk.”
    Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Die gelowige se seëninge en rykdom in Christus” te bestudeer.
  • Dit is die Heilige Gees wat krag aan ons gebede gee:

    Ef.6:18 “terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges 19 en vir my, sodat ‘n woord my gegee mag word as ek my mond oopmaak om met vrymoedigheid die verborgenheid van die evangelie bekend te maak,”
  • Die Heilige Gees gee ons die vermoë om Sy woord korrek uit te lê en te bewaar:

    1Tim.1:14 “Bewaar jou goeie pand deur die Heilige Gees wat in ons woon.” Die Bybel is ‘n algemene gawe aan alle mense op aarde en dit is die gelowige, en veral diegene wat ander die Bybel leer, se plig om deur die instaatstellende krag van die Heilige Gees die Skrifte korrek te vertolk en die waarhede daarin teen verdraaiings daarvan te bewaar. (wat valse leerstellings insluit)
  • Dit is die Gees wat ons met vreugde, vrede en hoop vul:

    Rom.15:13 “En mag die God van die hoop julle vervul met alle blydskap en vrede deur die geloof, dat julle oorvloedig kan wees in die hoop deur die krag van die Heilige Gees!”

Ter Afsluiting: A.g.v. van Christus se voltooide werk aan die kruis, en Sy opstanding vanuit die dood op die derde dag, weet ek sonder enige twyfel dat ek vir ewig in die Vader se teenwoordigheid sal wees. Hierdie feit geld vir elke gelowige wat die Evangelie verstaan en geglo het en behoort ons met vreugde en hoop te vul. In Christus het ons alreeds die oorwinning behaal en wag nou met reikhalsende verlange om met ons verheerlikte liggame oorklee te word. As gelowiges moet ons egter besef dat dit God is, wat d.m.v. die Heilige Gees, in en deur ons wil werk Sy wil te bereik en sodoende Homself te verheerlik. Om hierdie rede is dit uiters belangrik dat ons nie die Heilige Gees deur eiesinnigheid en sonde moet verhinder nie.
Ef.4:30 “En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing.”

En onthou, dat slegs goeie werke wat deur die Heilige Gees in en deur ons bewerkstellig is, enigsins enige ewigheidswaarde het en waarvoor ons deur Christus met genadeloon beloon sal word.

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.