Ware Apostels vs Valse Apostels

Ware Apostels vs Valse Apostels

Deesdae hoor mens nogal gereeld van mense wat beweer dat hulle Apostels is en hulle gehore stel hulle vertroue, tot so ‘n mate in hierdie mense, dat hulle leerstellings met die Bybel gelykgestel word en in baie gevalle weerspreek hulle selfs die Bybel en daar word niks van gesê nie. Hierdie is ‘n groeiende tendens in die belydende Christendom en die Bybel het ons hierteen gewaarsku.
2Ko 11:13 “Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus. 11:14 En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ‘n engel van die lig. 11:15 Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke.”
Baie van hierdie apostels tree ook as leerders op, en verkondig soms dat hulle self nuwe openbarings by God ontvang het, en beweer ook dat die Bybel nie volledig is nie. Ook teen hierdie gevare het God ons in Sy woord gewaarsku, maar dit word deur baie mense geïgnoreer en word hierdie apostels blindelings nagevolg. Onthou, geloof wat nie op die waarheid gebaseer is nie is nie ware geloof nie, maar delusie!

2Pe 2:1 “Maar daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën en ‘n vinnige verderf oor hulleself bring; 2:2 en baie sal hulle verderflikhede navolg, en om hulle ontwil sal die weg van die waarheid gelaster word; 2:3 en uit hebsug sal hulle met verdigte woorde voordeel uit julle trek. Oor hulle is die oordeel van lankal af nie werkeloos nie, en hulle verderf sluimer nie.”
Om enige persoon blindelings na te volg, en alles te glo wat hy verkondig, sonder om dit met die Bybel te vergelyk is ‘n baie gevaarlike ding om te doen. Jesus self het die gemeente in Éfese geprys, omrede hulle diegene wat beweer het dat hulle Apostels is, op die proef gestel het en hulle as vals uitgewys het. Dit sal wys van ons wees om dieselfde te doen!
Opn 2:2 “Ek ken jou werke en jou arbeid en jou lydsaamheid, en dat jy slegte mense nie kan verdra nie; en dat jy dié op die proef gestel het wat sê dat hulle apostels is en dit nie is nie, en hulle leuenaars bevind het;”

Met hierdie waarskuwings as agtergrond, ontstaan die logiese vraag oor hoe ons dan sal weet of iemand wat beweer dat hy ‘n apostel is, werklik ‘n apostel is? Weereens sal ons na die Skrif moet gaan en bid vir die leiding van die Heilige Gees. Ons kan met sekerheid weet, dat indien ons na God in nederigheid gaan, Hy ons al die nodige leiding sal gee, omrede God mense soek wat Hom in waarheid aanbid.
Johannes 4:24 “God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.”
Die Here Jesus Christus het ons ook die versekering gegee, dat die Heilige Gees ons in alle waarheid sal lei. Die Heilige Gees sal ons nooit weg van die Skrifte af lei nie, maar Hy sal ons altyd terug na die Skrif neem. Hy sal ook niks aan ons openbaar wat met die Bybel in botsing sal kom nie, want God kan Homself nie weerspreek nie. Om hierdie waarheid te ignoreer stel ons oop vir ernstige verleiding.
Joh 16:13 “Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig.”

Om in ‘n ware sin, as apostel te kwalifiseer, moet so ‘n persoon die Here Jesus Christus fisies gesien het.
Hnd 1:21 “Van die manne dan wat saam met ons rondgegaan het al die tyd waarin die Here Jesus by ons in— en uitgegaan het, 1:22 van die doop van Johannes af tot op die dag dat Hy van ons opgeneem is—van hulle moet daar een saam met ons getuie word van sy opstanding.”
Wat die Apostels insluitende die Apostel Paulus betref getuig die Skrifte as volg:
1Ko 15:5 “en dat Hy aan Céfas verskyn het; daarna aan die twaalf.
15:6 Daarna het Hy verskyn aan oor die vyf honderd broeders tegelyk, waarvan die meeste nou nog lewe, maar sommige al ontslaap het.
15:7 Daarna het Hy verskyn aan Jakobus; daarna aan al die apostels;
15:8 en laaste van almal het Hy verskyn ook aan my as die ontydig geborene.”
Iemand wat beweer dat hy ‘n apostel is en nie die Here Jesus Christus fisies gesien het nie, kwalifiseer dus nie vir die pos van apostel nie en is ook nie een nie. Dit maak nie saak wat hy mag dink of beweer nie! Wat hierdie mense dan oor hulleself verkondig is nie die waarheid nie maar ‘n leun. Let ook op die stelling” en laaste van almal het Hy verskyn ook aan my as die ontydig geborene” Paulus was die laaste apostel aan wie die Here verskyn het. Buiten hierdie groep ware apostels, het die Here nooit weer fisies aan enigiemand verskyn nie, anders sou Paulus gejok het toe hy die bostaande stelling gemaak het. Iets wat die Heilige Gees nooit sou toelaat nie! Mense wat dus beweer dat die Here aan hulle verskyn het, is of mislei of lieg bewustelik!

Tweedens het die ware Apostels sertifiseerbare wonderwerke en bonatuurlike tekens gedoen. Nie net om die boodskap wat hulle, as van God afkomstig, verkondig het te bevestig nie, maar ook om hulle Apostelskap te bevestig .
2Ko 12:12 “Die kentekens tog van ‘n apostel is onder julle verwerklik met alle volharding deur tekens en wonders en kragtige dade.”
Ek praat hier van werklike wonderwerke en nie beweerde wonderwerke nie. Baie mense beweer dat hulle in die naam van die Here Jesus Christus mense gesond bid, wat in werklikheid nie die geval is nie. Hulle is niks anders as leuenaars nie, en wat alles nog erger maak, is die feit dat hulle in God se Naam lieg wanneer hulle mense gesond verklaar wat nie gesond is nie! Dit is Godslastering!
Mat 7:21 “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. 7:22 Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? 7:23 En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!”
Ons Here se profesie klink dalk nie so positief soos baie van die sogenaamde profete van vandag sin nie, maar dit is egter die waarheid en ons sal wys wees om daarop te let!

Daar is duidelike ooreenkomste tussen die wonderwerke van die apostels Petrus en Paulus wat in die boek Handeling opgeteken is. Hierdie ooreenkomste is nie toevallig nie, maar is so deur God bewerk, wat ‘n doel daarmee gehad het. Kom ons gaan kyk na die ooreenkomste en dan bespreek ons dit verder. Onthou net, dat die Apostels net as God se werktuie opgetree het en al die wonderwerke het deur God se krag plaasgevind en nie deur hulle eie krag nie. Hierdie wonderwerke het ook net plaasgevind, omdat dit God se wil was en Hy ‘n doel daarmee gehad het.

  • Petrus genees ‘n man wat van geboorte af verlam is. (Handelinge 3:1-11) Paulus genees ook ‘n man wat van geboorte af verlam was. (Handelinge 14:8-18)
  • Almal op wie se skaduwee Petrus val word genees (Handelinge 5:15-16) In Paulus se geval vind genesings plaas as doeke en voorskote wat aan sy lyf was op mense gelê word. (Handelinge 19:11-12)
  • Petrus bestraf Simon die towenaar (Handelinge 8:9-24) Paulus bestraf ‘n towenaar met die naam van Bar-Jesus (Handelinge 13:6-11)
  • Petrus bring Dorkas terug uit die dood (Handelinge 9:36-41) Paulus doen dieselfde met Eútichus (Handelinge 20:9-12)

Mens behoort dus dieselfde wonderwerke, soos hierbo genoem, by die hedendaagse apostels waar te neem. Soos reeds genoem, is hierdie ooreenkomste nie toevallig nie, maar dien as bewys dat hierdie Apostels wel deur God aangewys is vir hulle werk en dat die boodskap wat hulle verkondig het Sy woorde is. As bewys daarvan is aan hulle die mag gegee om hierdie wonderwerke te doen, sodat enige iemand wat hulle boodskap hoor, verseker kan weet dat hierdie manne deur God gestuur is. Die wonderwerk wat hier gedoen is kon nie eens deur die Apostels se teenstanders, die fariseërs, weerlê word nie, want die getuies daarvoor was te sterk. Dit is in skrille kontras met die sogenaamde wonderwerke van vandag se apostels. Die genesings wat deur die ware apostels gedoen is, was organiese genesings en waar so ‘n genesing plaasgevind het, het dit onmiddellik plaasgevind en die genesing was volkome.

Kom ons gebruik as voorbeeld die man wat van geboorte af verlam was. As so ‘n genesing vandag moes plaasvind sou dit skokgolwe in die media veroorsaak het. En boonop sou dit bo enige twyfel as ‘n wonderwerk bestempel kon word, omrede daar duisende getuies sou wees. Dit sou mense insluit wat saam met hierdie persoon skool gegaan het, en saam met hom groot geword het en wat bo enige twyfel sou kon bevestig dat die persoon wel lam was. Dit sluit sy ouers, familie, vriende, onderwysers, geestelike leiers ens in, asook die mediese dokters wat die persoon moes behandel het. Indien so ‘n persoon skielik sou opstaan en begin loop, en rondspring, sou almal in daardie dorp dit geweet het en sou die nuus baie vinnig deur die elektroniese media versprei het. Tydskrifte soos Huisgenoot sou oor hulle voete val om die storie te kry, maar helaas, dit gebeur nie. Hoekom nie? Want geen sertifiseerbare genesing het plaasgevind nie! Dink maar wat sou gebeur indien iemand werklik uit die dood opgewek sou word! Inteendeel, word hierdie sogenaamde genesings gereeld deur die sekulêre media as vals uitgewys en dit ten koste van God se Naam!

Kom ons kyk wat werklik met die genesing van die verlamde man in Handelinge 3-4 plaasgevind het.
Hnd 4:16 “en gesê: Wat moet ons met hierdie manne doen? Want dat daar ‘n kenlike teken deur hulle plaasgevind het, is duidelik vir al die inwoners van Jerusalem; ons kan dit nie ontken nie.
Self die volksleiers, wat as vyandige getuies beskou kan word, kon nie die wonderwerk wat gebeur het weerlê het nie. Hoekom gebeur dit nie vandag nie? Want die wonderwerke wat hierdie sogenaamde apostels doen, nie werklik plaasvind nie! Om alles erger te maak, maak die sekulêre media ‘n bespotting van hierdie sogenaamde genesings, want hulle kan bewys dat daar geen wonderwerk plaasgevind het nie. Dit is nie my doel om mense se geloof af te breek nie, maar geloof wat op leuens gebaseer is, is nie ware geloof nie, maar eerder ‘n delusie. Dink wat sou gebeur indien iemand werklik uit die dood in jou gemeenskap sou opgestaan! Daar word baie sulke bewerings deur hierdie apostels gemaak, maar helaas geen sertifiseerbare bewyse kan gelewer word nie, want hulle is nie werklik apostels nie, en die genesings wat hulle so graag voorhou is nie werklike genesings nie. Ek daag enige een van hierdie apostels uit om my net een so ‘n voorbeeld, soos hierbo genoem, te wys en saam met dit bewyse te stuur wat ek self kan gaan ondersoek. Ek wag in spanning!

Ja, ek glo die Here genees nog mense, maar ek dink nie Hy doen dit deur hierdie apostels van vandag nie, want ek glo nie God het hulle werklik as apostels gestuur nie. Indien Hy het, sou daar sertifiseerbare genesings plaasgevind het, en sou die sekulêre wêreld daaroor gegons het, al sou hulle dit nie wou erken nie, want die waarheid het ‘n manier om homself te bevestig. Waar daar ware genesings, deur die hande van die Apostels plaasgevind het, was daar meer as genoeg onweerlegbare bewyse, wat nie eers deur hulle vyande weerspreek kon word nie! Wat ons deesdae sien is niks anders as ‘n bespotting van God se Naam nie! Onthou, geloof wat nie op die waarheid gebaseer is nie , is nie ware geloof nie, maar  delusie!

Mens sal ook opmerk dat baie van hierdie sogenaamde apostels beweer dat die Bybel nie volledig is nie en dat God nog deur nuwe openbarings (Wat baie keer met die Bybel bots) spreek. Ons moet die Bybel alleen as maatstaf gebruik om ons doktrines en leerstellings te bepaal, en nie op buite-Bybelse profesieë staatmaak nie, want daardeur word hordes mense verlei. Dit is van uiterste belang, om onmiddellik iemand wat beweer dat hy ‘n apostel is, met die Bybelse standaard te vergelyk, om sodoende vas te stel of hy werklik deur God aangestel is. En nee, die Here het nooit vroulike apostels aangestel nie! Die ware toets van Bybelse geloof, is nie om na ongesertifiseerde bewerings van genesings, en openbarings, te luister nie, maar ware geloof is hoe getrou ons die woord van God  eerbiedig. (soos wat dit in ons Bybels opgeteken staan.) Ons geloof moet nie van wonderwerke afhanklik wees nie, maar in God se woord geanker wees, waardeur Hy Homself aan ons bekendmaak!
2Kor. 5:7 “Want ons wandel deur geloof en nie deur aanskouing nie.”
Is dit nie dalk een rede waarom Satan die Bybel se volledigheid so aanval nie?
2Ti 3:14 “Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, 3:15 en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus. 3:16 Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, 3:17 sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”
Die Skrifte is volledig en dit is al wat ons nodig het. Verwerp buite Bybelse openbarings!

Die Apostoliese era het gesluit met die afsterwe van Johannes, wat die boek Openbaring geskryf het, en geen nuwe openbarings kan met die Bybel gelykgestel word nie. Baie kultusse het ontstaan, omrede hulle nie hierdie waarheid verstaan en geglo het nie. Meeste van hierdie kultusse het ontstaan a.g.v. sogenaamde nuwe openbarings wat die Here kamstig aan die profeet (of profetes) gegee het en wat miljoene mense verlei het! Pasop vir mense wat beweer, dat die Bybel nie die finale woord van God aan die mensdom is nie! Dit geld ook vir mense wat beweer dat die Bybel nie volledig is nie! Die Here het ons baie ernstig teen hierdie sonde gewaarsku!
Opn 22:18 “Want ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is. 22:19 En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is.”

Dit is ons plig, om mense wat beweer dat hulle Apostels is, teen die Bybel te toets om seker te maak of hulle wel deur die Here gestuur is. Indien hulle op valse wonderwerke en leuens moet staatmaak om hulle apostelskap te bewys, demonstreer dit baie duidelik dat hulle nie deur God gestuur is nie. Onthou, geloof wat op leuens gebaseer is nie ware geloof nie, maar ‘n delusie. Kyk maar wat met die Todd Bentley debakel gebeur het en hoe hierdie sogenoemde apostels en profete aan hom teksgedeeltes toegeskryf  het, wat net op Jesus Christus van toepassing gemaak kan word.
2Ti 3:13 “Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger, hulle wat verlei en verlei word.
2Ti 3:16 Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid,
3:17 sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”
Ons moet ernstig daarteen waak om nie ander te mislei of self mislei te word nie. Die kan ‘n katastrofe meebring! Ons het die Skrif, en dit is vir ons ‘n lig in ‘n donker wêreld, en die woord sal God se weë aan ons openbaar en derhalwe het ons geen buite- Bybelse openbarings nodig om ‘n godsalige lewe te lei nie.
Psa 119:105 “U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad.”
Van wanneer af is die Skrifte skielik nie meer voldoende nie? Indien dit die geval is, waar staan dit in die Bybel?

Ons moet seker wees in wie en wat ons glo! As die Here Jesus Christus, en Sy Apostels, dit nodig gevind het om ons so ernstig, en herhaaldelik, teen valse apostels, profete en leerders, te waarsku, dan moet ons hulle opdragte eerbiedig en hierdie mense teen die Bybel toets. (Die Here weet immers meer as ons!)
Spr 14:12 “Daar is ‘n weg wat vir ‘n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood.”
Indien hierdie mense lieg oor die wonderwerke wat hulle doen, dan kan met regte gevra word of wat hulle verkondig die waarheid is. Ons moet in alle nederigheid die Heilige Gees vra om ons in die waarheid te lei, want dit is hierdie soort mense wat God soek om Hom te aanbid. Alles wat aan ons geleer word, moet met die woord van God vergelyk word!!
Joh 4:24 “God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.”
1Jo 3:18 “My kinders, laat ons nie liefhê met woorde of met die tong nie, maar met die daad en in waarheid.” (God, Sy liefde, Sy woord en Sy leerstellings kan nie van die waarheid geskei word nie!)

Ter afsluiting gaan ek die leser met die onderstaande gedagte los, en versoek die leser asb om mooi hieroor na te dink en niemand blindelings te volg net omrede hy beweer dat hy ‘n apostel is nie! Toets hulle bewerings met die Skrifte! Geen persoon, wat by sy volle verstand is, sal by ‘n belegger wat hy weet valse voorspellings maak geld belê nie, maar baie mense stel hulle vertroue in mense, wat in God se Naam lieg en wat beweer dat hulle Sy apostels is. En dit met hulle geestelike lewens wat baie waardevoller is as enige belegging wat mens op hierdie aarde kan maak. Vra en ondersoek self, of hulle wel sulke wonderwerke soos in hierdie artikel genoem, gedoen het. As hulle nie, wat ek glo hulle nie gedoen het nie, raai ek die leser aan om van hierdie mense af weg te vlug!
Joh. 10:4 “En wanneer hy sy eie skape uitgebring het, loop hy voor hulle uit; en die skape volg hom, omdat hulle sy stem ken. 10:5 Hulle sal ‘n vreemde nooit volg nie, maar van hom wegvlug, omdat hulle die stem van die vreemdes nie ken nie.”
Ken jy Jesus se stem, soos wat Hy dit in Sy woord openbaar?

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.