Evangelie verkondig

Waarskuwing aan alle belydende Christene aangaande die Evangelie

Teologiese vooroordeel, luiheid asook nalatigheid as wapen is van die grootste wapens wat Satan teen die belydende christendom aanwend.
2 Tim 2:2 “en wat jy van my gehoor het onder baie getuies, vertrou dit toe aan getroue manne wat bekwaam sal wees om ook ander te leer.”
Wanneer dit veral met die verkondiging van die evangelie kom, is dit van uiterste belang dat ons die evangelie korrek verkondig. Hierdie feit geld veral vir mense wat in die bediening staan of wat as evangeliste optree. Boonop is ons aangesê om die evangelie te verkondig en nie om ons self te verkondig nie. Dit is ook dan opvallend dat veral mense wat geneig is om die fokus op hulleself te plaas (om aan die wêreld te toon hoe besig hulle met die werk van God is) juis in baie gevalle presies diegene is wat hulleself aan dwaalleer skuldig maak. Hulle vergeet egter dat God ‘n waarskuwing in Sy woord aan enige persoon gee wat die woord van God verkondig, naamlik:
Jak.3:1 “Moenie baie leermeesters wees nie, my broeders, omdat julle weet dat ons ‘n groter oordeel sal ondergaan.”
Hierdie waarskuwing word nie ernstig genoeg opgeneem nie en word in baie gevalle heeltemal verontagsaam. Waar God se woord egter buite konteks aangehaal of geïgnoreer word kan mens egter verseker wees dat ‘n negatiewe uitkoms verwag kan word.

Ons moet ook egter onthou dat God ons persoonlik gaan verantwoordelik hou vir dit wat ons glo, en daarom moet ons seker maak dat diegene wat die woord aan ons verkondig wel deur die Heilige Gees gelei word en weet waarvan hulle praat. Onthou, ons ewige bestemming is op die spel. Boonop waarsku die Skrifte ons herhaaldelik teen die gevaar van valse predikers en leerstellings.
2Kor.4:3 “Maar as ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan, 4 naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie. 5 Want ons verkondig nie onsself nie, maar Christus Jesus as Here, en onsself as julle diensknegte om Jesus wil. 6 Want God wat gesê het dat daar uit duisternis lig moet skyn — dit is Hy wat in ons harte geskyn het om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus.”
Bostaande stelling geld ook vir persone in die belydende Christendom wat die slagoffers van ‘n valse evangelie is. Indien hierdie mense nog nie die ware evangelie gehoor, verstaan en geglo het nie, dan is hulle nog ongered en is hulle sinne deur Satan verblind. Hulle mag dalk glo dat hulle gered is, en mag self heilige lewens handhaaf, maar die feit bly staan dat hulle godsdienstig ongered is. (ongelukkig val die oorgroot meerderheid belydende Christene in hierdie kategorie en is nie eens bewus van hierdie feit nie.)

Die leser moet asb hierdie feit deeglik oordink. Die gevaar ontstaan wanneer ‘n persoon verklaar dat hy vir die Here werk, maar hy beskik nie oor genoegsame kennis aangaande sy onderwerp nie. ‘n Wyse persoon sal nie goedsmoeds behandeling vir ‘n ernstige siekte van ‘n oningeligte geneesheer aanvaar nie. So ook (en veral indien mens in ag neem dat ons en ons medemens se ewige bestemming op die spel is) moet ons te sterkste teen teologiese luiheid, belangeloosheid, asook teologiese vooroordeel waak sodat ons nie deur Satan verlei word nie. ‘n Persoon mag dalk oor ‘n doktorale graad in teologie besit, maar dit beteken nie outomaties dat dit wat hy verkondig die waarheid is nie. Dit is juis liberale teoloë wat die christendom op ‘n dwaalweg geplaas het. Net omrede ons van kleins af ‘n spesifieke denominasionele leerstelling geleer is beteken geensins dat wat daar aan ons verkondig is enigsins die waarheid is nie. Indien ‘n persoon aanhou om ‘n valse evangelie (wat enige vorm van menslike werke insluit) verkondig dan stel daardie persoon hom aan God se anathema bloot.
Gal.1:6 “Ek verwonder my dat julle so gou afvallig word van hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, na ‘n ander evangelie toe, 7 terwyl daar geen ander is nie; behalwe dat daar sommige mense is wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai. 8 Maar al sou ons of ‘n engel uit die hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ‘n vervloeking wees! 9 Soos ons vantevore gesê het, sê ek nou ook weer: As iemand julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat julle ontvang het, laat hom ‘n vervloeking wees! 10 Soek ek dan nou die guns van mense, of van God? Of probeer ek om mense te behaag? As ek nog mense behaag, dan sou ek nie ‘n dienskneg van Christus wees nie.”

Net omrede ons met ‘n gegewe stel leerstellings groot geword het, beteken geensins dat ons nie vir dit wat ons glo verantwoordelikheid gaan doen nie. Indien die leerstellings wat ons van kinds af geleer het vals is, dan gaan ons mislei wees en waar dit die evangelie raak heeltemal ongered wees. Dit geld ook vir nagraadse instellings. Ons bly egter verantwoordelik vir die leerstellings wat ons glo, en daarom is dit van uiterste belang om die leerstellings wat aan ons verkondig is met die skrifte te vergelyk. Ons eie siele is immers op die spel.

Wanneer ‘n persoon ‘n evangelie wat enige van die onderstaande voorwaardes by slegs geloof in Christus, en Sy voltooide werke aan die kruis en opstanding vanuit die dood verkondig, verkondig daardie persoon in effek ‘n evangelie wat van menslike werke afhanklik is en is niks as ‘n werke evangelie nie. Die volgende is bekende voorbeelde van sodanige mistasting, naamlik:
Bekeer deur al jou sondes te laat staan voordat jy gered kan word.
Om Christus te vra om in jou hart in te kom.
Dat jy heilig moet leef alvorens jy gered is of gered kan bly.
Dat jou geloof nie mag struikel nie en dat jy in die geloof moet volhard om gered te bly.
Dat jy vrugte vir God moet dra. (mense wat dissipelskap deel van die evangelie maak, soos byvoorbeeld John MacArthur.)
Dit jy eers gedoop moet wees om gered te word. (doopsaligheid)
Dat jy die sabbatdag moet eerbiedig om gered te word.

Al hierdie boonste vereistes is afhangende van menslike werke, en dit kan nie as ‘n vereiste vir die ontvangs van die ewige lewe as deel van die evangelie gemaak word nie nie, en kan ook nie as vereiste by die Evangelie van Christus gevoeg word nie. Indien ‘n persoon dit doen dan verkondig hy ‘n evangelie van mense werke en nie die ware evangelie van van Christus wat mense sal red nie. Dit is ons plig om Christus te verkondig, en nie menslike werke vir die ontvangs van die ewige lewe te verkondig nie. Ook is dit nie ons plig om onsself te verkondig of te bemark nie.
2Kor.4:5 “Want ons verkondig nie onsself nie, maar Christus Jesus as Here, en ons self as julle diensknegte om Jesus wil.”
Die enigste vereiste wat aan ‘n ongelowige persoon voorgehou kan word is die vereiste om in die evangelie van God se genade te glo, niks anders nie.
Ef.2:8 “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; 9 nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. 10 Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.”
Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “ Generiese geloof vs reddende geloof” te lees.)

Nêrens word ons in die skrifte aangesê om onsself te bemark soos wat ons ons vandag in baie kringe aantref nie. Dit is omrede mense meer op die prediker fokus as op wat aan hulle verkondig word, dat hulle nie agterkom dat hulle besig is om verly te word nie. Ons moet kenners van die korrekte Bybelse leerstellings wees nie kenners van mense nie!!
Hand.20:24 “Maar ek bekommer my glad nie en ek ag ook my lewe vir myself nie dierbaar nie, sodat ek met blydskap my loopbaan kan volbring en die bediening wat ek van die Here Jesus ontvang het, om kragtig te getuig vir die evangelie van die genade van God.”
Dit is ons plig om Christus te verkondig, nie onsself plus Christus nie!

Baie mense glo nie die Evangelie van God se genade nie, omrede die duiwel hulle sinne verblind het.
2Kor.4:3 “Maar as ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan, 4 naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie.
Ongelukkig geld bostaande teksgedeelte oor vir mense wat die slagoffers van ‘n valse evangelie, wat op hulle werke gebaseer is, en nie op Christus se voltooide werk aan die kruis vir hulle glo nie. Om hierdie rede sal mens vind dat die duiwel verdere stappe of vereistes by slegs geloof in die evangelie sal wil byvoeg, en hiervoor gebruik hy godsdiens om sy doel te bereik. Een van Satan se suksesvolste wapens is immers valse godsdiensstelsels wat ‘n baie groot gedeelte van die belydende Christendom insluit.
2Kor.11:14 “En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ‘n engel van die lig. 15 Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke.” (die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Die smal en breë weg” te lees)
Toe die Here Jesus Christus aan die kruis, net voor Sy dood, verklaar het dat alles volbring is, het Hy verklaar dat Hy alles vir die mens se verlossing bewerkstellig het, en enigiemand wat verdere stappe by slegs geloof in die evangelie byvoeg maak van Christus se stelling ‘n leuen. Daar is niks wat die mens by Christus se voltooide werk aan die kruis kan byvoeg nie, en dit sluit enige verdere stappe behalwe geloof in. (soos byvoorbeeld die doop, van alle sondes te bekeer, sabbatdag nakoming ens.) In hierdie opsig word die leser aangeraai om die artikel “Die Sabbatdag kontroversie” te lees.

Ter Afsluiting: Ek hamer so op hierdie punt, omrede baie mense hierdie feite net nie wil glo of kan begryp nie. Satan gebruik georganiseerde godsdiens as ‘n baie suksesvolle wapen teen die mensdom en sodoende lei hy miljoene mense in die ewige verderf in. Hierdie stelling geld ongelukkig ook vir die grootste gedeelte van de belydende Christendom!
1Tim.4:1 “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang”
2Tim.4:3 “want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, 4 en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.”
Om hierdie rede is dit van uiterste belang dat ‘n persoon die Evangelie moet verstaan en dan slegs glo. Niks meer of niks minder nie.

Wanneer ‘n persoon verklaar dat hy die Here gevra het om in sy hart in te kom, of ander mense in so ‘n gebed lei, dan dien dit gewoonlik as indikasie dat daardie persoon nie die evangelie verstaan nie. Nêrens in die Bybel het God gesê dat ons moet bid en vra dat die Here Jesus Christus in ons harte moet inkom nie. Ook nêrens het hy gesê dat ‘n persoon eers aangeneem en voorgestel moet word alvorens hy gered kan word nie. Hy het onomwonde verklaar dat wanneer ‘n persoon die evangelie glo daardie persoon gered is. Geloof is die enigste wyse waardeur ‘n persoon gered sal word.
Joh.3:14 “En soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die mens verhoog word, 15 sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. 16 Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”

Dit is verbasend om te hoor hoe baie mense daar is wat dink dat omrede hulle aangeneem en voorgestel is dat hulle gered is. As ek hulle dan vra wat die evangelie is dan kan hulle my nie antwoord nie. Sodanige mense is heeltemal verlei en verkeer verkeerdelik onder die indruk dat hulle gered is. Dit is van uiterste belang dat ons die evangelie ken en dit glo. Niks meer as dit nie. Goeie werke volg na wedergeboorte en is nie ‘n vereiste om wedergebore te raak of te bly nie. Die leser word aangeraai om die artikel “Die ewige sekuriteit van die gelowige te lees.)

Vir die gelowige is die voorwerp van sy geloof die Here Jesus Christus. Die gelowige glo, dat Jesus Christus sy enigste Verlosser van sy sonde, en die ewige verderf is, omrede Christus God is, en oor die krag beskik om hom te verlos en dat die Seun van God met Sy eie lewe vir al die gelowige se sondes (verlede, hede en toekomstige sondes) aan die kruis betaal het. Sonder Jesus Christus sou die sondaar homself nooit kon red nie, maak nie saak hoe sterk sy geloof sou wees nie. Onthou, die waarde, meriete of krag van ons geloof is in die voorwerp waarin ons ons geloof plaas, gesetel, naamlik die Here Jesus Christus, wat God in die vlees is en wat nooit kan misluk nie. Reddende geloof is om in die Here Jesus Christus, as die Seun van God te glo, Wie gesterf het en weer uit die dood uit opgestaan het, om jou persoonlike sondeskuld voor ‘n regverdige God te betaal, en die Een wat aan almal die ewige lewe skenk wat Hom en Hom alleen daarvoor vertrou/glo. (lees gerus die artikel “Om wedergebore te raak”)

Glo jy dit? Seën groete!

Vic

Deel met ander asb.