Christendom

Ek verwerp met goeie rede die Christendom

Vraag: Ek kan nie verder in die Christendom glo nie, en my redes daarvoor is eenvoudig. As mens na die geskiedenis van Christendom kyk dan vind mens dat daar moord en doodslag in Christus se naam gepleeg is. Ek verwys na die Rooms-Katolieke kruistogte, en inkwisisies, waar duisende onskuldige mense in die naam van Christus gemartel en vermoor was. Self die protestante se Calvyn het homself aan gruweldade skuldig gemaak. Dit is juis op grond van hierdie optredes waarom ek my Christenskap verwerp het en nie as ‘n Christen bekend wil staan nie. Jy kan maar antwoord as jy wil, anders maak dit nie werklik ‘n verskil nie.

Antwoord: Jy maak ‘n goeie punt. Ja, daar het verseker van die mees wreedaardigste vergrype onder die vaandel van die belydende Christendom plaasgevind. Die feit dat jy Calvyn se naam noem, dien as indikasie dat jy jou navorsing goed gedoen het. Iets waarvoor ek jou moet aanprys. Min mense weet dat Calvyn, asook Martin Luther, hulle aan verskriklike vergrype skuldig gemaak het. Met die feite soos wat jy dit hier weergee sal ek nie stry nie. Jy is reg! En daar is boonop baie ander sulke voorbeelde.

Indien jy om verlossing uitsluitlik na die belydende Christendom as geheel kyk dan maak jy ‘n ernstige fout. Die rede hiervoor is eenvoudig. Die belydende Christendom het hulle in ernstige sonde skuldig gemaak, maar dit geld vir alle gelowe op aarde. Die vraag wat jy aan jouself moet vra is of dit wat jy in die belydende Christendom waarneem ooreenstem met dit wat Christus en Sy aangewese apostels verkondig het? Hiervoor moet jy na die ses-en-sestig geïnspireerde boeke van die Skrifte, (waarin jy ‘n rekord van die Here Jesus Christus se leerstellings en leefwyse sal vind) gaan en dit vir jouself bestudeer. Indien jy Christus se leefwyse (asook leerstellings) met die optrede van die oorgroot meerderheid belydende Christene vergelyk, sal jy opmerk dat die optredes wat jy in die oorgroot gedeelte van die belydende Christendom waarneem, geen ooreenkoms met dit wat Christus verkondig het, asook geen ooreenkoms met hoe Hy geleef het, toon nie. Om die ewige lewe te ontvang, vereis die Here Jesus Christus nie van jou om in die belydende Christendom (wat die Kerk, doop ens insluit) te glo nie, maar in Hom en Sy voltooide werk aan die kruis vir jou.

Dink maar vir jouself. Hoeveel valse godsdiensstelsels onder die vaandel van die belydende Christendom, soos byvoorbeeld die Rooms-Katolieke Kerk, Jehova Getuies, Woord Geloof beweging, “Christian science” Liberale teologie, bevryding teologie, asook alle protestantse groepe wat die doop, wetsonderhouding, asook Sabbatdag onderhouding deel van die Evangelie maak, is daar nie. Dit sluit groepe in wat verkondig dat jy uit genade kan verval omrede dit maar net nog ‘n vorm van ongeloof is. (ek kan met hierdie lys van groepe aangaan en ‘n hele boek skryf) Daar is self homoseksuele gemeentes en heidense Christen (Christian pagans) groepe. Daar is deesdae ‘n Christen gemeente vir omtrent elke menslike begeerte waaraan mens kan dink. Ja, daar is selfs ‘n Christelike gemeente vir “swingers”! Maar die feit dat daardie groepe bestaan, beteken nie dat die Here Jesus Christus, of Sy Apostels, dit ooit verkondig het of daarmee sou saamstem nie. Dus, lewe hierdie mense in stryd met hoe Christus gelewe het, en verkondig leerstellings in stryd met wat Hy verkondig het. Dit sou dus ‘n ernstige mistasting van jou kant af wees om al hierdie groepe onder die vaandel van ware Christendom te plaas en op daardie grond te veroordeel. Nie een van hierdie groepe verkondig werklik wat die Here verkondig het nie. Een voorbeeld: Sê nou jy het kinders en jou kinders is misdadigers. Dan sou dit ‘n ernstige mistasting aan my kant wees, om wanneer ek hulle optrede waarneem, ek aanneem dat jy hulle so groot gemaak het. (en dat jy ook so is) En dit terwyl jy jou beste gedoen het om hulle ordentlik groot te maak. Ek kan dus nie na hulle optrede kyk en aanneem dat jy die bron van hulle optredes is nie. (hulle tree mos in stryd met wat jy hulle geleer het op) Ek smeek jou om nie dieselfde fout met die Here te begaan nie.

Ek vra jou nie om in die Christendom te glo nie. Ek vra jou om na die Skrifte, wat God se woord aan die mens is, te gaan en daar vir jouself te gaan vasstel wat die Here Jesus Christus werklik verkondig het en daar vasstel hoe Hy werklik geleef het. Hy verklaar immers dat Hy God in die vlees is en dat Hy God volkome openbaar.
Kol.2:9 “Want in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik;”
Indien jy aan my versoek voldoen, sal jy opmerk dat baie dinge wat onder die vaandel van die belydende Christendom plaasvind, (of gevind het) niks in gemeen het met dit wat die Here en Sy apostels verkondig het nie. Indien jy hierdie webtuiste sorgvuldig deurlees sal jy opmerk dat ek nie ‘n voorstaander van kerk tradisies is nie. Ek poog om slegs na die Skrifte te gaan, omrede die Skrifte alleenlik God se woord aan die mens is. Ek vra jou om dieselfde te doen.

Indien jy uitsluitlik na ‘n mens (of instelling) om verlossing gaan kyk, dan sal jy heel waarskynlik nooit wedergebore raak nie. Ons moet slegs na die Here Jesus Christus kyk en op Hom en Sy leerstellings fokus. En daarom is dit belangrik om ‘n gemeente te soek waar God se woord akkuraat verkondig word. Om hierdie rede is dit van uiterste belang om seker te maak dat wat aan ons verkondig word wel uit die Skrifte geregverdig kan word, en hiervoor het ons Bybelkennis nodig. Alle mense, insluitende ware gelowiges, is gevalle wesens en sondig nog gereeld. Hierdie feit stel die Bybel baie duidelik, naamlik:
1Joh.1:7 “Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde. 8 As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie. 9 As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig. 10 As ons sê dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom tot ‘n leuenaar en is sy woord nie in ons nie.”
Hierdie feit vrywaar geensins gelowiges om as Christus se ambassadeurs op aarde te leef nie. Maar ongelukkig voldoen nie een van ons volkome aan hierdie ideaal nie. Ook nie jyself nie.

Net vir interessantheid: Onthou, die Here Jesus Christus het die mensdom met geen ander opsies gelaat as die volgende drie nie, naamlik: 1. Dat Hy ‘n leuenaar is. 2. Dat Hy kranksinnig is. 3. Dat Hy God in die vlees is.

Dat Hy ‘n leuenaar is: Christus het verkondig dat Hy en die Vader Een was, naamlik:
Joh.10:30 “Ek en die Vader is een.”
Indien Hy dus nie God in die vlees was nie, dan het Hy oor Homself gelieg, en het ons geen rede om in Hom te glo nie. Boonop sou ons dan leuenaars bevind word as ons Hom slegs as goeie leermeester bestempel. Hyself het dit duidelik gestel dat niemand buiten God goed is nie. En indien Hy nie God in die vlees was nie, kon Hy nie goed wees nie, omrede Hy oor Homself gelieg het. (‘n Leuenaar is immers nie goed nie)
Mark.10:17 “En toe Hy op die pad uitgaan, hardloop daar een na Hom toe en val voor Hom op die knieë en vra Hom: Goeie Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe 18 En Jesus sê vir hom: Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe Een, naamlik God.”
Die Here het hierdie man voor ‘n keuse geplaas. Indien hy die Here Goeie Meester wil noem, sou hy moet erken dat Christus God in die vlees is, anders sou hy nie vir Christus as Goeie Leermeester kon beskryf nie, want slegs God is werklik goed.

Dat Hy kranksinnig was: Enige persoon wat beweer dat hy God in die vlees is, en nie mag oor die dood het nie, is in ‘n sekere sin kranksinnig. (van sy sinne beroof) Christus het duidelike verklaar dat Hy mag oor die dood het naamlik:
Joh.10:17 “Daarom het die Vader My lief, omdat Ek my lewe aflê om dit weer te neem. 18 Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit uit Myself af. Ek het mag om dit af te lê en Ek het mag om dit weer te neem. Hierdie gebod het Ek van my Vader ontvang.”
Ek praat hier van liggaamlike dood, asook liggaamlike opstanding vanuit die dood, nie van reïnkarnasie, wat nie opstanding vanuit die dood is nie. Die Here het duidelik gedemonstreer dat Hy mag oor die dood het toe Hy op die derde dag liggaamlik vanuit die dood uit opgestaan het. (Sy graf is leeg!) Daar is net te veel getuienis wat Christus se opstanding vanuit die dood bevestig, en dus kon Hy nie kranksinnig wees nie maar het die waarheid oor Homself gepraat.
1Kor.15:3 “Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; 4 en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte; 5 en dat Hy aan Céfas verskyn het; daarna aan die twaalf. 6 Daarna het Hy verskyn aan oor die vyf honderd broeders tegelyk, waarvan die meeste nou nog lewe, maar sommige al ontslaap het. 7 Daarna het Hy verskyn aan Jakobus; daarna aan al die apostels; 8 en laaste van almal het Hy verskyn ook aan my as die ontydig geborene.”
Christus was dus nie kranksinnig nie. Die Here Jesus Christus is dus niemand anders as God in die vlees nie.

Hy is God in die Vlees, en is Wie Hy sê Hy is: Die Here het deur Sy liggaamlike opstanding vanuit die dood getoon dat Hy God in die vlees was. Boonop was Hy goed omrede Hy ‘n volkome sondelose lewe op aarde (selfs voor vyandige getuies) geleef het. Teen die einde van Sy aardse bediening het Hy aan sy vyande, wie Hom fyn dopgehou het, gevra om Hom van enige sonde te oortuig. Hulle kon nie!
Joh.8:46 “Wie van julle oortuig My van sonde? En as Ek die waarheid spreek, waarom glo julle My nie?”
Christus is dus God in die vlees en om hierdie rede moet ons glo wat Hy aan ons deur Sy woord wil sê. Dit sou uiters dwaas wees om nie na Hom te luister nie!

Nog ‘n feit wat jy moet onthou, is dat die Skrifte dit duidelik stel dat dwaalleer toenemend die kerk binne sal dring.
1Tim.4:1 “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang”
Nie almal wat beweer dat hulle die Here dien, dien Hom werklik nie. Baie van hierdie mense werk onder die vaandel van die Christendom vir die duiwel. Hulle dien dus die duiwel nie die Here nie.
2Kor.11:14 “En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ‘n engel van die lig. 15 Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke.”
Net omrede ‘n persoon beweer dat hy die Here dien, beteken nie dat daardie persoon noodwendig die Here dien nie. Jy moet vasstel wat hy verkondig en dit met die Skrifte, binne die korrekte konteks, vergelyk. Om hierdie rede is dit van uiterste belang om die Bybel op ‘n konsekwente, letterlike, grammatiese en historiese wyse te interpreteer en heeltemal van die allegoriese wyse van Bybel uitleg weg te bly, anders gaan jy net verder verwar word.

Ter afsluiting: Gegewe die feit dat jy nou weet dat die belydende Christendom alreeds tot ‘n groot mate verlei is, en dat die situasie net sal vererger, is dit belangrik om direk na die Skrifte te gaan, en dit binne die korrekte konteks te gaan bestudeer en dan jou besluit maak. Onverskilligheid, asook ‘n traak-my-nie-agtige ingesteldheid ten opsigte van wat die Bybel werklik verkondig, gaan daartoe aanleiding gee dat miljoene mense in die Hel gaan opeindig ten spyte van die feit dat hulle gesê het dat hulle in die Bybel glo. Die rede hiervoor is eenvoudig. Hulle het nie geweet wat werklik in die Bybel staan nie maar het op hoorsê getuienis staatgemaak. Om die ewige lewe te ontvang, moet ‘n persoon ‘n spesifieke stel proposisionele feite aangaande Christus se Persoon, Sy voltooide werk aan die kruis, asook Sy opstanding vanuit die dood glo, alvorens so ‘n persoon die ewige lewe sal ontvang.

Ek smeek jou nie om in die Christendom te glo nie. Ek smeek jou om in die Here Jesus Christus, en Sy voltooide werk aan die kruis vir jou, en Sy liggaamlike opstanding vanuit die dood te glo. Maar dit bly egter belangrik om die saak vir jouself te ondersoek, sodat jy met oortuiging kan sê wat jy glo en hoekom jy dit glo. Onthou, die ewigheid is ‘n lang tyd en jy wil nie op hierdie punt ‘n fout begaan nie. Na afloop van die dood is daar nie ‘n tweede kans nie. Maak dus seker dat jy weet wat jy glo, en hoekom jy dit glo. En daarvoor sal jy na die Skrifte moet gaan en dit vir jouself bestudeer. Bid dat die Heilige Gees jou in hierdie opsig sal help. Jy sal dan vir jouself moet besluit, of wat die Skrifte oor die Here Jesus Christus sê die waarheid is of nie. Moet asseblief nie wag totdat dit te laat is nie. Onthou die Here het dit duidelik gestel dat slegs Hy die weg na die Vader is, naamlik:
Joh.14:6 “Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.”
Gaan na die Skrifte en gaan kyk vir jouself hoe die Here gelewe het en wat Hy en Sy apostels verkondig het. En maak dan op grond van jou navorsing jou besluit. Ek smeek jou!

Seën Groete.

Vic

Let wel: Daar is nog baie goeie leraars wat getrou die Here wil dien en dien. Soek sulke mense op en vra hulle watse metode van Bybel uitleg hulle van gebruikmaak, en of hulle glo dat die Skrifte God se foutlose geïnspireerde woord aan die mens is. Vergelyk dan nog steeds alles wat hulle verkondig met die Skrifte. Baie van hulle sal jou aanmoedig om dit te doen. Vir hierdie mense moet jy respek hê, en bid vir hulle, want hulle word ongelukkig al hoe minder.

Deel met ander asb.