genoegsaam

God is genoegsaam soos in die brief van 2 Korinthiërs weergegee

1) God se Gees is genoegsaam en voldoende om ons in staat te stel om die Here Jesus Christus getrou te dien:
2Ko 2:14 “Maar God sy dank wat ons altyd laat triomfeer in Christus en wat die reuk van sy kennis deur ons oral versprei. 2:15 Want ons is ‘n aangename geur van Christus tot eer van God onder die wat gered word en onder die wat verlore gaan; 2:16 vir die laaste ‘n reuk van die dood tot die dood, maar vir die eerste ‘n reuk van die lewe tot die lewe. En wie is tot hierdie dinge bekwaam?
2Ko 3:5 Nie dat ons uit onsself bekwaam is om iets as uit onsself te bedink nie, maar ons bekwaamheid is uit God, 3:6 wat ons ook bekwaam gemaak het as dienaars van ‘n nuwe testament, nie van die letter nie, maar van die gees; want die letter maak dood, maar die gees maak lewend.”

2) God se almag is genoegsaam om ons toenemend na die beeld van Jesus Christus te verander:
2Ko 3:17 “Die Here is die Gees, en waar die Gees van die Here is, daar is vryheid. 3:18 En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ‘n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is.”

3) God se liefde is genoegsaam om ons te motiveer om vir die Here Jesus Christus te lewe:
2Ko 5:14 “Want die liefde van Christus dring ons, 5:15 omdat ons van oordeel is, dat as een vir almal gesterf het, hulle dan almal gesterf het; en Hy het vir almal gesterwe, sodat die wat lewe, nie meer vir hulself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en opgewek is.”

4) God se rykdom is genoegsaam om in ons behoeftes te voorsien, soos wat ons aan die Here en Sy werk gee:
2Ko 9:6 “Maar dink daaraan: Wie spaarsaamlik saai, sal ook spaarsaamlik maai; en wie volop saai, sal ook volop maai. 9:7 Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het ‘n blymoedige gewer lief. 9:8 En God het mag om alle genade oorvloedig oor julle te laat wees, sodat julle altyd in alle opsigte volop kan hê en oorvloedig kan wees tot elke goeie werk.”
Bogenoemde teksgedeelte het niks te make met die tiende leerstelling wat nie op die Kerk Dispensasie van toepassing is nie. Derhalwe is die gelowige vry op meer of minder as ‘n tiende te gee, soos wat hy homself in sy hart voorneem. (Lees gerus die artikel: “Ek kan nie tiendes gee nie”) Die Here soek blymoedige gewers, nie mense wat uit dwang aan Hom gee nie. Die leser moet egter ook daarop let aan watter bediening hy sy geld gee. Indien die bediening, aan wie hy geld gee, valse leerstellings verkondig, werk so ‘n persoon in werklikheid teen die Here en nie saam met die Here nie. Derhalwe is dit alle gelowiges se plig om alles wat aan hulle verkondig word, binne konteks met die Bybel te vergelyk, en daardeur seker maak dat ‘n persoon of bediening getrou die ware Evangelie verkondig! Indien ‘n persoon geld aan ‘n bediening gee wat ‘n valse of werke evangelie voorhou, dan help so ‘n persoon in werklikheid die Duiwel om mense hel toe te sleep!
Mat 13:25 “maar terwyl die mense slaap, het sy vyand gekom en onkruid onder die koring gesaai en weggegaan.” (die leser word aangeraai om die artikel “Gelykenis van die Onkruid” ook te lees.)
Dink baie mooi oor hierdie stelling na! Hoeveel belydende Christene ken in werklikheid die Evangelie? Die Bybel stel dit egter duidelik, dat dit die glo van die Evangelie is wat tot ons redding strek.
Rom 1:16 “Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek.”
Onthou, alhoewel die gelowige tydens die dispensasie van die Kerk nie onder die wet is nie, geld die beginsel egter dat diegene wat spaarsaamlik saai ook spaarsaamlik gaan maai!

5) God se genade is genoegsaam om ons in al ons verdrukkinge, beproewinge, asook swaarkry en siekte te vertroos en te help:
2Ko 1:3 ”Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus, die Vader van ontferminge en die God van alle vertroosting, 1:4 wat ons troos in al ons verdrukking, sodat ons die wat in allerhande verdrukking is, kan troos deur die vertroosting waarmee ons self deur God getroos word.
2Ko 1:8 Want ons wil nie hê, broeders, dat julle onbekend moet wees met ons verdrukking wat oor ons in Asië gekom het nie, dat ons dit bo ons krag uitermate swaar gehad het, sodat ons selfs aan ons lewe gewanhoop het. 1:9 Ja, ons het al self by onsself die doodvonnis oor ons gehad, sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God wat die dode opwek; 1:10 wat ons verlos het uit so ‘n groot doodsgevaar en nog verlos; op wie ons hoop dat Hy ook nog sal verlos,”

6) God se genade is genoegsaam om aan ons die krag te voorsien om in die tye van ons beproewinge geestelik te kan groei:
2Ko 12:7 “En dat ek my oor die voortreflikheid van die openbaringe nie sou verhef nie, is my ‘n doring in die vlees gegee, ‘n engel van die Satan, om my met die vuis te slaan, dat ek my nie sou verhef nie. 12:8 Hieroor het ek die Here drie maal gebid, dat hy van my sou wyk. 12:9 En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon. 12:10 Daarom het ek behae in swakhede, in mishandelinge, in node, in vervolginge, in benoudhede, om Christus wil. Want as ek swak is, dan is ek sterk.”

Ter Afsluiting: Die Here het ons nie ‘n sorgvrye lewe met wedergeboorte belowe die, maar Hy het ons egter belowe dat Hy ons nooit sal verlaat nie, en dat Hy eerder vir altyd by ons sal wees.
Joh 16:33 “Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.
Hnd 1:8 maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde.
Mat 28:20 En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen.”

Beproewinge in ons lewens is nie altyd ‘n teken dat God kwaad vir ons is nie. Hy laat soms beproewinge in ons lewens toe, sodat ons daardeur geestelik kan groei en eendag daarvoor by die Regterstoel Oordeel van Christus ryklik beloon kan word.
Jak 1:2 “Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val, 1:3 omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk. 1:4 Maar die lydsaamheid moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie. 1:5 En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word.
Jak 1:12 Salig is die man wat versoeking verdra, want as hy die toets deurstaan het, sal hy die kroon van die lewe ontvang wat die Here beloof het aan die wat Hom liefhet.”
Om hierdie rede is dit van uiterste belang, dat ons as gelowiges, ons Bybels goed ken en derhalwe moet ons leer om ons oë ten alle tye op Christus te hou en nie op ons omstandighede of probleme nie. God is genoegsaam om in al ons behoeftes te voorsien. Hy het ons immers geskape en daarom moet ons volkome op Hom  vertrou! En wat het koning Dawid in sy lewe geleer?
Psa 23:1 “‘n Psalm van Dawid. Die HERE is my herder; niks sal my ontbreek nie. 23:2 Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen. 23:3 Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil.”
Laat die Here toe om jou te lei! Hy is immers genoegsaam! En onthou altyd hierdie woorde, wat ek eendag by ‘n wyse ou pastoor gehoor het, en wat heeltemal die waarheid is, naamlik: “Die Gees van God; gebruik die Woord van God; in die kind van God; om die wil van God te doen; en dit alles deur die instaatstellende krag van God; tot die heerlikheid van God en die seën van ander mense om ons.”
Klg 3:24 “Die HERE is my deel, (porsie) sê my siel, daarom sal ek op Hom hoop.”

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.