Satan wil

Satan werk in mense om te wil na sy Welbehae

Vraag: Ek het jou artikel “Luciferiese elite se opmars na ‘n een wêreldregering” gelees en dit baie geniet. Ek wil egter net onder jou aandag bring dat baie gedeeltes van die artikel gedupliseer is. Ek weet nie of jy kennis daarvan dra nie. Nieteenstaande hierdie feit het ek jou artikel uiters diepsinnig en leersaam gevind, en jy het daarin ‘n paar insiggewende, asook treffende stellings gemaak waaroor ek nog nooit voorheen gedink het nie. Ek haal dit graag weer aan en vra asseblief of jy bietjie meer oor hierdie onderwerp kan uitbrei. Die gedeelte waarna ek verwys lees soos volg: “Net soos wat gelowiges deur eiesinnigheid, en hoogmoed die Heilige Gees se werking in en deur ons kan verhinder, (1Thess.5:19), so ook kan die luciferiërs, Satan se inwerking teëstaan, veral indien mens onthou dat ongeredde mense slegs in die vlees, en derhalwe hulle eie belang, kan optree waar die drang na geld en mag ongehinderd is. Daarom is sommige geheime genootskappe op die oomblik antagonisties teenoor mekaar.” Ek het amper op my rug geval toe ek die stelling lees! Dit is ‘n onderwerp wat ek glo nog geensins aangeraak is nie en wat tog so belangrik is. Weereens dankie vir jou werk en die moeite wat jy moet insit.

Antwoord: Baie dankie vir jou mooi woorde. Wat die artikel waarna jy verwys aanbetref, en die herhalings wat daarin plaasgevind het kan ek egter nie ‘n duidelike verduideliking gee nie. Ek het dit al reggemaak net om weer dieselfde probleem te ondervind. Ek moet ook net noem dat ek verskriklike geestelike, sowel as fisiese aanvegtinge beleef het toe ek die artikel geskryf het. Dit het op ‘n stadium so erg geraak dat ek amper moed wou opgee, maar danksy die Here het ek staande gebly. Net om vir jou een voorbeeld te gee. Wanneer ek klaar op my skootrekenaar gewerk het skakel ek dit af maar los die deksel oop, want my skootrekenaar is nogal oud, en ek wil nie onnodig dit oop en toe maak indien dit nie nodig is nie. Nadat ek dit afgeskakel het (en ek het doodseker gemaak dat dit afgeskakel is) merk ek later dat daar ‘n blou lig in my kantoor skyn. Maar ek is seker dat ek al die ligte afgeskakel het en toe gaan stel ek ondersoek in. Die ligte in die kantoor was wel af maar my skootrekenaar was aan. Ek het dit toe weer afgesit en kamer toe gegaan. Later sien ek dat die skootrekenaar weer aan is. Toe ek die muis aanraak skakel die skootrekenaar van self af en wou vir ‘n lang ruk nie weer aankom toe ek dit wou aansit nie. Ek het absoluut geen verduideliking daarvoor nie, asook vir die ander probleme wat ek net met die skryf van daardie spesifieke artikel ondervind het nie. Ek moet egter net noem dat ek ‘n sterk vermoede het dat Satan agter baie van die probleme sit.

Om terug te kom na jou vraag toe. As gelowiges sal ons almal verklaar dat ons nie glo dat Satan almagtig, alwetend en alsiende is nie, maar ons bring nie noodwendig hierdie feit in ons berekeninge wanneer ons die wêreld om ons kontempleer nie. Dit is en bly Satan se begeerte om soos God te wil wees en om soos God aanbid te word. Daarbenewens weet ons ook dat dit sy begeerte is om ‘n wêreldregering onder bewind van die Antichris tot stand bring om sodoende alle mense op aarde te dwing om hom te aanbid. Wat ons egter soms vergeet is dat Satan slegs ‘n hoogs intelligente wese is, maar dat hy nie alwetend, alsiende of almagtig is nie. Ons kan dus nie net aanneem dat hy in alle gevalle presies weet wat sy planne, asook die uitkoms van daardie planne sal wees nie. Hy kan byvoorbeeld nie die toekoms waarneem nie. Hy kan dus net soos die mens slegs gedeeltelik in die verlede in kyk (die historiese proses) en die teenswoordige tyd waarneem. Omrede hy egter ‘n hoogs intelligente wese is, kan hy redelike akkurate raaiskote aangaande die toekoms maak, maar daar is geen waarborg dat dit wat hy voorspel so sal plaasvind soos wat hy voorspel nie. (Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Kan Satan die toekoms voorspel?” te lees.) Net soos ons, kan hy ook die Bybel bestudeer en daarin God se toekomsplanne vir die wêreld waarneem, maar dit beteken nie noodwendig dat hy die toekomstige gebeure net so sal kan aanvaar nie, want dan sal hy sy nederlaag moet erken. (iets wat sy hubris nie sal toelaat nie) Hy weier om die knie voor God te buig en daarom sal hy tot op die einde toe baklei. Hy kan dood eenvoudig nie anders optree nie!

God maak oor die algemeen van gelowiges gebruik om as Sy hande en voete op aarde te dien.
Filip.2:13 “want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.”
Daarom is dit van uiterste belang dat gelowiges met die Heilige Gees gevul moet wees en hulleself as voorwerpe van geregtigheid aan God beskikbaar stel.
Romans 6:13 “En moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God.”
Wanneer ‘n gelowige nie met die Gees gevul is nie kan hy maklik deur Satan aangewend word om sy wil op aarde te bevorder. (Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Word met die Gees vervul” te lees.)

So ook werk Satan ook in mense “om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.” Maar net soos wat die gelowige God se wil in baie gevalle kan weerstaan, ondervind Satan dieselfde probleem, en dit sluit selfverheerliking, misverstande, botsende motiewe, eiewilligheid ensovoorts in. Anders as God, is Satan nie almagtig, alsiende of alwetend nie, en hy kan nie tot dieselfde mate as God in beheer van sy planne bly nie, en sake kan maklik anders uitdraai as wat hy beplan het. Daarenteen is God ten alle tye volkome in beheer van alles en kan Sy planne nooit omvergewerp word nie. Ja, gelowiges kan soms God se wil in hulle lewens weerstaan, maar God sal egter nog steeds Sy wil op aarde laat geskied, wat sal beteken dat die gelowige wat God se wil weerstaan die gevolge van sy rebellie sal moet aanvaar, maar hy sal nooit God se planne deur sy rebellie ongedaan kan maak of selfs verhinder nie. (Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Verliese en gevolge van sonde in die gelowige se lewe” te lees.) Hierdie rebellie van die mens word tot ‘n groot mate in die chaos wat ons in die belydende Christendom waarneem, gereflekteer, maar nieteenstaande hierdie feit sal God se plan vir die wêreld (asook die Kerk) nooit gefrustreer of ongedaan gemaak kan word nie. God is nie van die gelowige/mens afhanklik om Sy doelstellings te bereik nie. In Sy genade bied God ons egter die geleentheid om as medewerkers saam met Hom in Sy plan vir die wêreld te werk, en wanneer ons dit nie doen nie, dan doen ons onsself skade aan maar dit frustreer geensins God se plan vir die wêreld nie. Om hierdie rede moet ons die voorreg wat God aan ons bied nooit ligtelik opneem nie maar ten volle daarvan gebruik maak.

In teenstelling met hierdie feit kan Satan se planne in baie gevalle deur die ongehoorsaamheid van sy dissipels op aarde heeltemal omver gewerp word, en hy kan selfs heeltemal beheer oor ‘n situasie verloor. Dit verduidelik ook die feit dat daar so baie binnegevegte tussen die verskillende goddelose stelsels waarvan Satan die bron is voorkom. So ook is Satan nie in beheer van die uitkoms in gevalle waar daar wel oorloë uitbreek nie. Satan se begeerte om Europa d.m.v. Adolf Hitler, tydens die tweede wêreld oorlog, te verower is deur God in die wiele gery toe Hy die geallieerde magte gebruik het om die Spilmoondhede te verslaan. Die duiwel is nie almagtig nie en dit is in alle gevalle God wat bepaal wie ‘n spesifieke oorlog sal wen of verloor. Al wat Satan kan doen is om ‘n oorlog te begin en hoop dat die uitkoms daarvan sal verloop soos wat hy beplan het.

Omrede Satan nie God is nie vind ons dat daar deur die verloop van die wêreld se geskiedenis verskillende filosofiese, godsdienstige, asook politieke denkrigtings ontstaan het. Alhoewel Satan die wêreld d.m.v. die Antichris wil regeer, weet hy self nie watter sisteem van regering die mees voordeligste vir hom sal wees nie. Hierdie feit verduidelik grotendeels die groot verskeidenheid van sosiaal-politieke en ekonomies, asook godsdiensstelsels wat ons in die wêreld aantref. In ‘n poging om vas te stel watter sisteem die beste vir hom gaan werk, wend Satan die mensdom as laboratorium rotte in sy reuse globale eksperiment aan. Dit verduidelik ook waarom die verskillende sosiaal-politieke sisteme soms so antagonisties teenoor mekaar is, selfs tot so ‘n mate dat daar in baie gevalle selfs oorlog tussen hulle ontstaan. Nazisme is net so ‘n goddelose stelsel soos wat kommunisme is, maar tog is hierdie politieke stelsels uiters antagonisties teenoor mekaar. Kyk maar hoeveel mense het hulle lewens in die tweede wêreldoorlog verloor toe hierdie twee politieke stelsels mekaar die stryd aangesê het. Maar daar bestaan egter geen twyfel oor die feit dat Satan die bron agter albei hierdie politieke stelsels is nie. Onthou, Satan sal geensins skroom om bloed te vergiet in sy poging om die wêreld in ‘n rigting te stuur wat hom sal pas nie. Hy is immers ‘n moordenaar en die vader van die leuen. (Joh.8:44) Menslike lewens beteken vir hom niks!

Die gevalle natuur van die mens maak dit dus moeilik vir Satan om ‘n een wêreldregering op aarde te vestig. Die drang na mag, geld, en eer wat deur die gevalle natuur van die mens te vore kom verhinder in baie gevalle Satan se plan om sy wêreldregering op aarde te vestig. Mens kan dus verwag dat daar geweldige binnegevegte onder sy onderdane op aarde aanwesig sal wees, want in baie gevalle wil die mens self die posisie van god van hierdie wêreld beklee en veg dan geredelik met enige iemand anders wat ook ‘n begeerte het om as god te regeer. Dit verduidelik ook die feit dat Satan se opmars na ‘n wêreldregering nie noodwendig as ‘n homogene beweging saamwerk nie, maar dit kan eerder as ‘n samestelling van ‘n groep gekompartementaliseerde eenhede of strukture omskryf word. Binne hierdie verskillende strukture is daar wedywering wat verskillende werkwyses en motiewe reflekteer en waarin magsbehepteit van die mens ‘n groot rol speel. Hierdie interne wedywering verhinder dus in baie gevalle Satan se begeerte om sy wil op aarde te bewerkstellig. Ook is Satan nie naastenby so intelligent soos wat God is nie, en daarom kan hy nie soos God die wederstrewige keuses van sy onderdane gebruik om dit te laat saamwerk om sy doel op aarde te bewerkstellig nie. In hierdie opsig frustreer die eiewilligheid van die mens tot ‘n groot mate Satan se werksaamhede op aarde en dit verklaar ook hoekom hy so maklik tot geweld oorgaan. Om sy doel van wêreldheerskappy te bewerkstellig is dit vir Satan voordeliger om van ‘n verskeidenheid weë/metodes gebruik te maak om sy doelstellings te bewerkstellig. Wanneer een weg doodloop, dan het hy nog steeds ander opsies tot sy beskikking. Satan gebruik dus baie weë om een doel te bereik, naamlik wêreldheerskappy waar die Antichris as God aanbid sal word.

Om sy doelstellings op aarde te bewerkstellig maak Satan in meeste gevalle van verleiding gebruik. As hoogs intelligente wese is sy netwerk van verleiding uiters kompleks. Hy en sy agente versprei leuens op leuens en dan versprei hy weer leuens oor daardie leuens. Op die einde van die dag draai alles om sy begeerte vir absolute mag, omrede hy soos God wil wees, maar die uiteinde van sy planne is die tweede dood. Satan is behep met die dood en hierdie feit word in ‘n groot gedeelte van die vermaaklikheidsbedryf gereflekteer! Ons lewe in ‘n wêreld waarin Satan geleidelik deur die millennia heen aan die mensdom ‘n komplekse web leuens verkoop het, en dit het al tot so ‘n mate aanklank gevind, dat wanneer die waarheid wel verkondig word dit heeltemal belaglik klink. Wanneer ‘n persoon dan kom en die waarheid verkondig, dan word daardie persoon gewoonlik as ‘n samesweringsteoretikus of gek afgemaak. En omrede Satan, net soos God, van mense gebruik maak om sy wil uit te voer, sien ons dat leerstellings ‘n uiterste belangrike rol speel. Dit is letterlik ‘n stryd om die verstand van die mens en om sodoende sy denkrigtings te bepaal. Om hierdie rede waarsku die Here ons om ons verstand te vernuwe deur die korrekte leerstellings aan te leer en toe te pas.
Romans 12:2 “En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, (verstand) sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.

Die stryd vir ons verstand is dus grootliks ‘n intellektuele stryd waarvan leerstellings ‘n uiters belangrike rol beklee. Idees word weer in filosofieë en leerstellings vasgelê en waarop mense in die fisiese wêreld reageer. Idees het konsekwensies. Die skrifte waarsku ons dat ons nie teen vlees en bloed veg nie maar eerder teen die geeste in die lug.
Ef.6:12 “Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.”
Die term “magte” is vanuit die Griekse woord “archē” in Afrikaans oorvertaal en dit beteken “bose mag of invloedsfeer” Dus moet ons vasstel wie of wat ons beïnvloed en of daardie beïnvloeding van God afkomstig is.

Satan poog dus om sy idees (wat rebellie teen God en sondige leefwyses insluit ) die norm te maak. Dit sluit die evolusieleer in, en omrede die evolusieleer so ‘n groot rol in Satan se verleiding van die mensdom speel, vind ons dat baie geleerdes die konsep van sosiale ewolusie voorstaan, en in hierdie opsig plaas hulle die uitkoms van die historiese proses in die historiese proses self, en ignoreer sodoende God wat alreeds die geskiedenis van die wêreld bepaal het en in sy woord (die Bybel) opgeteken het. In hierdie opsig maak sosiale Darwinisme van die historiese proses, wat humanistiese sosiopolitieke stelsels soos byvoorbeeld Marxisme en kommunisme insluit, die god wat die verloop van die menslike geskiedenis bepaal en maak hulleself sodoende aan afgodediens skuldig. God bestaan apart van Sy skepping en is geensins deel daarvan nie. God is wel in Sy skepping werksaam maar dit beteken geensins dat Hy deel van Sy skepping vorm nie. Wanneer Satan nie daarin kan slaag om mense deur menslike filosofieë, valse godsdienstige leerstellinge, asook humanistiese sosiopolitieke stelsels te oorreed nie, gaan hy gewoonlik tot dreigemente en geweld oor. Groot getalle gelowiges beleef alreeds vervolging vir hulle geloof en ons kan dankbaar wees dat dit nog nie werklik in Suid Afrika die geval is nie. Met tyd sal hierdie vervolging wêreldwyd toeneem wat Suid Afrika insluit.

Satan is nie alwetend, alomteenwoordig of almagtig nie, en daarom kan ons verwag dat sy sameswering om ‘n eenwêreld politieke, ekonomiese en godsdienstige stelsel onder bewind van die Antichris op die been te bring onvolmaak, gebrekkig en self morsig kan wees. Nieteenstaande hierdie feit stel die Bybel dit egter duidelik dat God wel binne die raamwerk van Sy raadsplan, en op Sy tyd die duiwel gaan toelaat om vir ‘n kort tydjie (Die Groot Verdrukking) ‘n wêreldregering onder bewind van die Antichris op aarde gaan toelaat. Dit is van uiterste belang dat gelowiges aangaande hierdie gebeure ingelig moet wees en ons moet ook kennis van Satan se tegnieke en werkwyses dra. Ons kan nie meer bekostig om oningelig te wees nie. Dit is een ding om die onskuldige slagoffer van verleiding en onkunde te wees, maar dit is ‘n heel anderste dink om bewustelik daarin voort te gaan. Baie mense verklaar dat ‘n klein bietjie kennis gevaarlik kan wees, en hierdie stelling is waar, maar dit is nie naastenby so gevaarlik soos totale onkunde nie. (Dit geld veral vir korrekte Bybelse leerstellings)

Indien ons die sataniese sameswering wat in die wêreld aangaan beter verstaan, sal ons ook makliker Satan se agenda kan waarneem en die nodige stappe kan neem om nie deur hom mislei te word nie. Ons moet nooit vergeet dat daar ‘n geesteryk bestaan wat poog om die fisiese wêreld te beïnvloed. Soos ons reeds genoem beteken “magte” in die lug meer as net die bose geeste self, maar dit sluit ook hulle invloedsfeer in die wêreld in. Gelowiges moet alle konsepte, gedagtes, leerstellings, asook alle inligting deur ‘n korrekte Bybelse raamwerk filtreer en alles in die lig van God se woord beoordeel.
2Kor.10:3 “Want hoewel ons in die vlees wandel, voer ons die stryd nie volgens die vlees nie; 4 want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp, 5 terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus,”

Kol.2:8 “Pas op dat niemand julle as ‘n buit wegvoer deur die wysbegeerte en nietige misleiding nie, volgens die oorlewering van die mense, volgens die eerste beginsels van die wêreld en nie volgens Christus nie.”
Onthou, die lewe bestaan uit meer as net dit wat ons sien, hoor en aanraak. Dit wat ons in die fisiese wêreld waarneem is maar net ‘n fraksie van dit wat in die onsigbare sfeer aangaan. Dinge is nie altyd soos wat dit voorkom nie.

Satan het grootliks van mense gebruik gemaak om die kerk met valse leerstellings te infiltreer, en sodoende het valse leerstellings die kerk binnegestroom, en in baie gevalle tot so ‘n mate dat sekere christelike groepe slegs in naam Christene is. Dit is juis hierdie feit wat daardie pseudo-Christelike bewegings so gevaarlik maak. Dit sluit groepe soos byvoorbeeld die Woord Geloof Beweging, proponente van die voorspoed evangelie, Jehova Getuies, Rooms Katolieke Kerk ensovoorts in. Soms is dit moeilik om ‘n persoon van die waarheid te oortuig, veral wanneer daardie persoon se salaris van sy onkunde afhanklik is, en daarom verkies baie mense om eerder willens en wetens oningelig te bly eerder as om met die waarheid gekonfronteer te word. Hierdie stelling geld ook vir pastore wat kennis daarvan dra dat die denominasies wat hulle verteenwoordig hulle daarin skuldig maak dat hulle willens en wetens valse leerstellings verkondig, maar nog steeds met hulle saamwerk. Dit is beter om ‘n ongewilde waarheid te verkondig as om met dwaling voort te gaan. Net soos wat God in ons werk om te wil, sowel as om te werk na Sy welbehae, net so poog Satan om dieselfde te doen. Ons moet waak dat ons nie onbewustelik instrumente in Satan se hande word en verkeerdelik dink dat dit die Here is wat deur ons werk nie. Ons moet die skrifte ken, en alles wat aan ons verkondig word, binne die korrekte dispensasionele konteks met die skrifte vergelyk. Ons moet alle gedagtes gevange neem en dit gehoorsaam aan Christus maak.

Ter afsluiting: Ons moet nooit vergeet dat Satan alreeds verslaan is en dat Christus met Sy wederkoms Satan heeltemal om ver sal werp nie. So ook kan getroue ingeligte gelowiges nou alreeds Satan se planne frustreer. Tydens die Dispensasie van Genade/Kerk beperk die Heilige Gees d.m.v die kerk die openbaarmaking van die Antichris, asook die meegaande toename in goddeloosheid wat met sy openbaarmaking gepaard sal gaan.
2Thess.2:6 “En nou, julle weet wat hom teëhou, sodat hy op sy tyd geopenbaar kan word. 7 Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is; 8 en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak, 9 hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen 10 en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie.”

Ons moenie mag aan Satan toeskryf wat hom nie toekom nie. Hy is nie alwetend, alsiende of almagtig nie. Die Luciferiese sameswering is egter kompleks, gekompartementaliseer en in baie opsigte chaoties, en dit sluit botsende prioriteite, selfsugtige ambisies en trotse strewes in. Alhoewel ons die vinnig veranderende sosiopolitieke landskap rondom ons bewus moet wees, en veral die rol wat dit in God se raadsplan vir die wêreld speel, hoef ons egter nie bang te wees nie. Ons moet altyd onthou wie wen! God verwag egter van ons om wakker en waaksaam te wees.
Rom.13:11 “En dit te meer, omdat ons die tydsomstandighede ken, dat die uur vir ons reeds daar is om uit die slaap wakker te word; want die saligheid (fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking/wegraping) is nou nader by ons as toe ons gelowig geword het. 12 Die nag het ver gevorder en dit is amper dag. Laat ons dan die werke van die duisternis aflê en die wapens van die lig aangord.”
Ons hoef nie bang te wees nie, ons moet net voorberei wees en kennis vorm ‘n groot deel van hierdie voorbereiding. Satan weet dat hy alreeds volkome verslaan is, maar hierdie wete verhoed hom nie om nog teen God en Sy kinders te veg nie. Hy sal bly worstel totdat God hom in die poel van vuur werp.
Openb.20:10 “En die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp waar die dier en die valse profeet is; en hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid.”
God het ook aan ons die verloop van hierdie stryd in Sy woord (die Bybel) laat opteken.
1Joh.4:4 “Julle is uit God, my kinders, en het hulle oorwin, omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is.”

En onthou, ware liefde waarsku, onkunde kannie waarsku nie en haat weier om te waarsku. Suiwer boosheid waai nooit die wit vlag van oorgawe nie; dit moet verbrysel word. Jesus Christus sal Satan verpletter wanneer Hy met Sy wederkoms terugkeer om Sy regmatige troon op aarde te vestig en om Satan, die god van hierdie wêreld te onttroon. Ek hoop hierdie artikel gee jou iets om oor na te dink.

Seën groete!

Vic.

Deel met ander asb.