doop 4

Bykomende vrae aangaande die doop. deel 1

Vrae aangaande die doop: Geagte Vic. Baie dankie vir jou bydrae tot evangelie verkondiging, en ek glo jy is dieselfde Vic wat seker vers van die dag ook hanteer?! Ek lees dit ook. Ek het my hart vir die Here gegee op tienerjare deur ‘n onderwyser wat moeite gedoen het om die evangelie te verkondig. My ouers was maar net soos die meeste van ons tradisionele Christene. Ek het deur die jare, nou 52, afgedwaal en dan kom ek weer terug. Laasjaar het ek so te sê alles (finansieel) verloor vir die 2 de keer in my lewe. Ek het toe weer ernstig tot inkeer gekom en gevoel dat ek nie die Heilige Gees se leiding ervaar nie. Hoekom sal ‘n ou soveel keer in jou lewe die verhouding met God verloën as die Gees in jou is? Ek glo en weet ek is ‘n kind van God, maar daar is net hierdie een punt wat my pla tot volkome vrede!

Ek is NG lidmaat, klein gedoop. Ek het jou studies gelees, maar daar is ‘n paar puntjies wat ek mee sukkel.

  • Ek stem 100% met jou saam oor Johannes 3 met die Nikodemus vraag.
  • Ek stem 100% saam met bekering wat die eerste fase is en wat ook die eerste stap is van Jesus se opdrag van Matt 28:19.
  • Die tweede opdrag is dan laat jou doop! Die doop verstaan ek dan as die wedergeboorte as mens punt 5 en 6 hieronder as die waarheid kan ervaar.
  • Eerstens wil ek jou dan tereg wys op die konteks van 1 Kor 1:17. Paulus het dit gesê omdat die mense onder mekaar begin spog het deur wie hulle gedoop is. Dit is mos maar tipies van ons mense, ek behoort aan die party, ag nee man , ek behoort aan die party! Dit sê nie dat Paulus nie mense laat doop het nie. Hy het tog op daardie stadium medewerkers gehad wat onder hom was wat die doop werk gedoen het. Paulus self het by die gemeente in Efese (Hand 19) die mense herdoop sodat hulle die Heilige Gees kon ontvang. Ek weet jy sal nou sê maar hulle het toe eers van Jesus gehoor, maar juis, hoekom hulle dan doop? Is dit nie ons tweede stap tot gehoorsaamheid/saligmaking nie? Hoekom word Paulus se doop ook pertinent as die afwassing van sy sondes uitgebeeld. Hand 22:16
  • Rom 6:3-5 sê dieselfde Paulus wat nie doop nie, dat ons deur die doop saam met Jesus begrawe is, (die ou mens) en dat ons met dieselfde magsdaad/krag wat God geopenbaar het om Jesus op te wek, ons ook dan op wek as nuwe mens! Hoe ervaar ek dan hierdie opwekking of wedergeboorte sonder die doop??
  • 1 Petrus 3 verduidelik Petrus dit baie duidelik dat die doop ‘n bede tot God is vir ‘n skoon gewete (verlossing van sonde) en DIT red julle op grond van die opstanding van Jesus. Soos ek dit dus weer hier aflei, jou wedergeboorte word weereens vergelyk met die opstanding uit die water na die dood van die ou mens in die water. Ek weet geloof is die enigste redding, maar hoekom het Jesus en die apostels dan soveel klem daarop gelê. Dan kan ons ook daarop let dat dit nie klein doop is nie, jy word begrawe.
  • Die moordenaar aan die kruis het nie die geleentheid gehad om gehoorsaam te wees aan Jesus se opdrag nie. Ek en jy lewe, ons het tyd om gehoorsaam te word as dit die Here se wil is.

My probleem dus, uit Paulus en Petrus se verduidelikings gekoppel aan die opdrag van Jesus in Matt 28:19, wat is die dwaalleer? Ek voel in my hart die NG kerk het my aan die neus rond gelei. Ek het ook self sowat 8 jaar gelede hierdie doop bybelstudie aan grootmense en kinders voorgehou. Ek voel nou ek het vir hulle gelieg deur te sê hulle is wedergebore met kleindoop as VERBONDS teken. Ek voel ek kan nie gehoorsaam wees aan Jesus as ek nie die ou mens begrawe en dat God my met dieselfde magsdaad opwek tot ‘n nuwe mens nie. Help my met die waarheid.

Baie dankie.

Antwoord: Ek is verheug dat jy weer na die Here teruggekeer het en dit is my bede dat hierdie antwoord van my jou vraag sal beantwoord en jou rus sal verskaf. Nee, ek is nie dieselfde Vic wat vers van die dag hanteer nie. Ek is egter bly om te hoor dat daar nog ‘n Vic is wat met die Here se werk betrokke is. Ek moet ook net noem, dat ek ook uit die NG Kerk kom, maar ek is nie meer aktief by die Kerk betrokke nie omrede ek vas oortuig daarvan is dat hulle nie toenemend na leerstellige suiwerheid vorder nie, maar eerder die verkeerde weg inneem. Daarom kan ek nie myself as lidmaat van hierdie Kerk beskou nie. (en dit is ook nie die enigste rede nie. Daar is baie verkeerde leerstellings in die NG Kerk waarmee ek nie kan saamstem nie.) Jou vraag hoe jy so lank van die Here kon afdwaal sal ek laaste antwoord want dit is eers belangrik om ‘n korrekte Skriftuurlike fondasie te skep deur die ander vrae eerste te beantwoord.

Ek gaan jou vra, en stellings, in afsonderlike gedeeltes aanhaal en dan afsonderlik beantwoord. Dit sal die beantwoording van jou vrae/stellings vergemaklik.

Jou Stelling: Ek is NG lidmaat, klein gedoop. Ek het jou studies gelees, maar daar is ‘n paar puntjies wat ek mee sukkel.

  • Ek stem 100% met jou saam oor Johannes 3 met die Nikodemus vraag.
  • Ek stem 100% saam met bekering wat die eerste fase is en wat ook die eerste stap is van Jesus se opdrag van Matt 28:19.
  • Die tweede opdrag is dan laat jou doop! Die doop verstaan ek dan as die wedergeboorte as mens punt 5 en 6 hieronder as die waarheid kan ervaar.

My antwoord: Die vraag wat ons hier miet beantwoord is “Op watter oomblik word ‘n gelowige, wat tydens die Kerk Dispensasie lewe, wedergebore? Is dit die oomblik met die glo van die Evangelie of is dit nadat hy in water gedoop is? Kom ons kyk wat God in Sy woord sê:
Ef. 1:13: “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,” (‘n mens kan nie met die Heilige Gees verseël wees indien daardie persoon nie op dieselfde oomblik die ewige lewe ontvang het nie) Let op die term “geglo het” niks word van die waterdoop gesê nie! So ons kan met sekerheid sê dat ‘n persoon die ewige lewe ontvang die oomblik wanneer daardie persoon die Evangelie hoor, verstaan en glo. Op daardie oomblik word daardie persoon deur die Heilige Gees in Christus gedoop, wat Christus se dood en opstanding vanuit die dood insluit, en waarvan die waterdoop slegs ‘n uiterlike praktiese illustrasie is wat geen bydra tot die ontvangs van die ewige lewe kan lewer nie!

Tydens die Kerk Dispensasie word die gelowige met die Heilige Gees gedoop en verseël, die oomblik wanneer daardie persoon die Evangelie glo, nog voordat hy die waterdoop ontvang het. (wat beken dat hy nooit verlore kan gaan nie, al word hy ook nooit in water gedoop nie. Vir ‘n gelowige om te versuim om na afloop van wedergeboorte in water gedoop te word, kan as ongehoorsaamheid aan God beskou word, en is dus sonde, en om te versuim om gedoop te word demonstreer dat daardie persoon nie die Here Jesus Christus as dissipel navolg nie. Dit dien egter nie as bewys dat daardie persoon nooit wedergebore is en dus nie God se kind is nie! Die waterdoop kan niemand red nie! Dit is die Here Jesus Christus wat ons op grond van Sy voltooide werk aan die kruis red, (en niks of niemand anders nie, insluitende ons goeie werke!) en waar daar slegs geloof van die gelowiges se kant in die Evangelie vereis word. Lees asb die artikel “Onderskeid tussen ‘n gelowige en ‘n dissipel”.)

Onthou altyd dat die Bybel ‘n progressiewe openbaring van God aan die mens is. Mens moet altyd die boeke wat vertellende van aard, soos byvoorbeeld die boek Handelinge (waar mense die Heilige Gees voor, na afloop van handoplegging, en soms na afloop van die waterdoop ontvang het, beteken geensins dat dit as leerstelling op die Kerk toegepas moet word nie. Bybelboeke wat vertellende van aard is, moet in lig van boeke wat hoofsaaklik voorskrywend van aard, soos byvoorbeeld die briewe wat direk aan die Kerk gerig is, geïnterpreteer word, alvorens ons enige leerstelling wat in die boeke wat hoofsaaklik vertellende van aard is as vereiste leerstelling op die persone wat tydens die Dispensasie van die Kerk lewe wil toepas. Indien die doop deel van die Evangelie is waarom het die mense in Cornelius se huis die Heilige Gees (en dus die ewige lewe) ontvang voordat hulle in water gedoop is? Soos wat later in hierdie studie duidelik gedemonstreer sal word, vorm die waterdoop nie deel van die Evangelie nie!

Jou stelling: Eerstens wil ek jou dan tereg wys op die konteks van 1 Kor. 1:17. Paulus het dit gesê omdat die mense onder mekaar begin spog het deur wie hulle gedoop is. Dit is mos maar tipies van ons mense, ek behoort aan die party, ag nee man , ek behoort aan die party! Dit sê nie dat Paulus nie mense laat doop het nie. Hy het tog op daardie stadium medewerkers gehad wat onder hom was wat die doop werk gedoen het. Paulus self het by die gemeente in Efese (Hand 19) die mense herdoop sodat hulle die Heilige Gees kon ontvang. Ek weet jy sal nou sê maar hulle het toe eers van Jesus gehoor, maar juis, hoekom hulle dan doop? Is dit nie ons tweede stap tot gehoorsaamheid/saligmaking nie? Hoekom word Paulus se doop ook pertinent as die afwassing van sy sondes uitgebeeld. Hand 22:16

My antwoord: Ek gaan die gegewe teksgedeelte aanhaal en mooi onder die vergrootglas neem en dan bespreek.
1Kor. 1:9 “God is getrou, deur wie julle geroep is tot die gemeenskap met sy Seun Jesus Christus, onse Here.10 Maar ek vermaan julle, broeders, in die Naam van onse Here Jesus Christus, om almal eenstemmig te wees, en dat daar geen skeuringe onder julle moet wees nie, maar dat julle verenig moet wees in dieselfde gesindheid en in dieselfde mening. (Leerstelling) 11 Want dit is aan my deur die huisgenote van Chloë bekend gemaak aangaande julle, my broeders, dat daar twiste onder julle is. 12 Ek bedoel dit, dat elkeen van julle sê: Ek is van Paulus, en ek van Apollos, en ek van Céfas, en ek van Christus.” (Niks word gesê oor watter persoon deur wie gedoop is nie)
Opmerking: Nêrens in bostaande teksgedeelte word dit pertinent gestel dat die rede waarom daar skeuringe in die gemeente voorkom is omrede hulle deur verskillende mense gedoop is nie. Daar word nie gesê dat die een sê hy is deur Paulus gedoop en die ander een is dat hy deur Apollos gedoop is nie. Jy sou nie op ‘n logiese wyse tot hierdie slotsom gekom het, indien Paulus nie later die vraag gestel het of hulle in sy naam gedoop is nie? Dus het jy verkeerdelik die doop in bostaande teksgedeelte ingelees. Maar indien jy wil beweer dat die rede vir die skeuring die feit is, dat die gemeente deur verskillende mense gedoop was, dan moet jy die hele teksgedeelte in ag neem wat jy as proefteks wil gebruik.

Kor.1:13 “Is Christus verdeel? Is Paulus miskien vir julle gekruisig? Of is julle in die naam van Paulus gedoop? 14 Ek dank God dat ek niemand van julle gedoop het nie, behalwe Crispus en Gajus, 15 sodat niemand kan sê dat ek in my naam gedoop het nie. 16 Ek het ook nog die huisgesin van Stéfanas gedoop. Verder weet ek nie of ek iemand anders gedoop het nie.”
Opmerking: Let op die stelling:Is Christus verdeel? Is Paulus miskien vir julle gekruisig? Of is julle in die naam van Paulus gedoop?”
Onthou jou stelling naamlik: “Eerstens wil ek jou dan tereg wys op die konteks van 1 Kor 1:17. Paulus het dit gesê omdat die mense onder mekaar begin spog het deur wie hulle gedoop is.” Daar is egter baie meer aan Paulus se stelling, naamlik: “Is Christus verdeel? Is Paulus miskien vir julle gekruisig? Of is julle in die naam van Paulus gedoop?” Sal mens nou kan aanvoer dat die skeuring op grond van die vraag oor watter Christelike werker vir hulle gekruisig is ontstaan het? Nee, ons sou nooit hierdie afleiding kon maak nie. En derhalwe geld dit ook vir Paulus se stelling oor die doop.

Let ook op die feit dat Paulus die vraag of hulle in sy naam gedoop is slegs stel nadat hy die vraag of hy dalk vir hulle gekruisig is aan hulle gerig het. Indien jy in ag neem dat die doop as identifisering met ‘n persoon beskou kan word, maak Paulus se vraag en die volgorde van sy stelling sin. Hulle kon dus slegs “ja” op Paulus se vraag, of hulle in sy naam gedoop is, antwoord indien hy vir hulle aan die kruis gesterwe het. Iets wat hy weet die antwoord “nee” moet wees! Derhalwe kon hulle ook nie in sy naam gedoop word nie, en sou hulle dus verkeerd wees indien hulle, hulleself met hom op hierdie wyse identifiseer! Die hele konteks handel dus oor mense wat hulleself met “Christelike Persoonlikhede” identifiseer en derhalwe hulle fokus van die Here Jesus Christus, Wie vir hulle sondes aan die kruis gesterwe het en weer uit die dood uit opgestaan het, afhaal en behep is met hierdie werkers van die Here, wat slegs daar is om hulle te dien, nie om faksies om hulle te ontwikkel nie. Die faksies het dus op grond van ‘n vorm van mensverheerliking plaasgevind en nie oor wie, wie gedoop het nie. Om hierdie rede gaan Paulus dan ook uit sy pad uit om aan hulle uit te wys dat hy bitter min van die gelowiges daar gedoop het, omrede hy bang was dat hulle eerder met hom wil identifiseer (omrede hulle vleeslik is) eerder om op Christus te fokus. ( As gelowiges moet ons slegs op Christus en Sy woord fokus en nie op mense nie! Anders sal daar faksies ontstaan en ons sal maklik mislei kan word! Ongelukkig is dit ‘n probleem wat deesdae algemeen in die belydende Christendom voorkom, en baie van die ”Christelike persoonlikhede” in die media gaan doelbewus uit hulle pad uit om hulleself te bemark om sodoende gewildheid en finansiële voordeel daaruit te trek.) Ons moet daarteen waak om nie onnodiglik die doop as die rede vir die skeuring in die gemeente in 1Kor.1:17 in te lees nie. Die konteks handel dus oor faksies in die gemeente wat op “Christelike persoonlikhede” gefokus is en nie op Christus, die Persoon, nie! (Net soos wat Paulus dit baie duidelik in sy uitsprake verduidelik.) Die konteks handel dus nie oor watter persoon deur wie gedoop is nie.

Kor1:17 Want Christus het my nie gestuur om te doop nie, maar om die evangelie te verkondig, nie met wysheid van woorde nie, sodat die kruis van Christus nie verydel mag word nie. 18 Want die woord van die kruis is wel dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God;”
Opmerking: Paulus sou op geen stadium bostaande stelling kom maak, indien die doop deel van die Evangelie uitmaak nie. Indien die doop deel van die Evangelie vorm, sou Paulus hom daarin skuldig gemaak het dat hy jok, indien hy beweer dat hy nie gestuur is om te doop nie. Hoe sou hy bogenoemde stelling kon maak, sonder om die Evangelie af te water of in twee gedeeltes op te breek? Dit maak nie sin nie. Maar indien die doop nie deel van die Evangelie uitmaak nie, maak dit sin indien Paulus die stelling oor die doop maak. Daar is absoluut geen manier waarop Paulus die bostaande stelling kon maak indien die doop deel van die Evangelie vorm nie! Bostaande teksgedeelte dien as onweerlegbare bewys dat die waterdoop nie deel van die Evangelie vorm nie, en kan dus nie as vereiste aan mense voorgehou kan word om die ewige lewe in ontvangs te neem nie.

Paulus het boonop presies die Evangelie wat hy aan hulle verkondig het in hierdie selfde brief aan die gemeente uiteengesit, en waardeur hulle gered is en word. (Fase een en twee van hulle Verlossing, naamlik wedergeboorte en heiligmaking)
1Kor.15:1 “Broeders, ek maak julle die evangelie bekend wat ek aan julle verkondig het, wat julle ook aangeneem het, waarin julle ook staan, 2 waardeur julle ook gered word as julle daaraan vashou op die wyse waarop ek dit aan julle verkondig het, of julle moet tevergeefs geglo het. 3 Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; 4 en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte;”
Dit is baie opmerklik dat die waterdoop nie deel van hierdie Evangelie vorm nie, en dit is ook baie duidelik dat hierdie mense wat hierdie boodskap geglo het die ewige lewe ontvang het.

Boonop kan die rituele daad van die waterdoop as ‘n menslike werk omskryf word. Indien hierdie waterdoop dus as verdere vereiste by slegs geloof in Christus, en Sy voltooide werk aan die kruis, bygevoeg word, weerspreek dit baie duidelik ander teksgedeeltes in die Bybel wat net mooi die teenoorgestelde feit baie duidelik uitlig, naamlik:
Gal. 2:16 “terwyl ons weet dat die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus, selfs ons het in Christus Jesus geglo, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof in Christus en nie uit die werke van die wet nie; omdat uit die werke van die wet geen vlees geregverdig sal word nie.
Rom. 11:6 En as dit deur genade is, dan is dit nie meer uit die werke nie; anders is die genade geen genade meer nie. En as dit uit die werke is, dan is dit nie meer genade nie; anders is die werk geen werk meer nie.”
Gal. 3:2 “Dit alleen wil ek van julle weet: het julle die Gees ontvang uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof?”
Ek kan nog baie teksgedeeltes hierby invoeg maar hierdie behoort voldoende as onweerlegbare bewys te dien dat werke nooit deel van die Evangelie van God se genade kan vorm nie. Onthou, die Bybel is God se woord aan ons, en as sulks kan daar geen weersprekings wees nie. Indien dit wil voorkom asof daar ‘n weerspreking is, kan mens met sekerheid weet dat die probleem by ons uitleg van die Skrifte is en nie met die Skrifte self nie.

Jou stelling: Paulus self het by die gemeente in Efese (Hand 19) die mense herdoop sodat hulle die Heilige Gees kon ontvang. Ek weet jy sal nou sê maar hulle het toe eers van Jesus gehoor, maar juis, hoekom hulle dan doop?

My antwoord: Eenvoudig! Hy het hulle gedoop, nie as deel van die Evangelie, en dus ‘n verdere vereiste om die ewige lewe te ontvang nie, (fase een van hulle verlossing, naamlik wedergeboorte) maar as die eerste stap in fase twee van hulle verlossing, naamlik heiligmaking/dissipelskap. Die Here verwag van elke persoon wat deur slegs geloof in die Evangelie wedergebore geraak het, om die waterdoop te ondergaan, as deel van fase twee van sy verlossing, naamlik dissipelskap/heiligmaking waar die gelowige homself voor getuies met Christus en Sy voltooide werk aan die kruis identifiseer. Die waterdoop is ‘n uiterlike demonstrasie van wat die Heilige Gees alreeds met die glo van die Evangelie uitgevoer het. (Lees asb die artikels “Voor verlossing, verlossings en post verlossing bediening van die Heilige Gees” asook “Doop met die Heilige Gees vs Vulling met die Heilige Gees”)

Ter Afsluiting: Ek gaan vir eers hier afsluit en in die volgende artikel jou ander vae/stellings verder bespreek. Met hierdie studie is bo enge twyfel gedemonstreer dat ‘n persoon wat tydens die Kerk Dispensasie tot geloof kom die Heilige Gees ontvang, en deur die Heilige Gees verseël word, die oomblik wanneer daardie persoon die Evangelie glo, nog voor hy in water gedoop kan word. Wat ‘n persoon wat die Evangelie glo red is die feit dat die Heilige Gees daardie persoon in Christus (se persoon en voltooide werk aan die kruis) doop en dit is hierdie doop met die Heilige Gees wat op grond van Christus se voltooide werk aan die kruis die gelowige red, nie die waterdoop nie.
1Kor. 12: Want net soos die liggaam een is en baie lede het, en al die lede van die een liggaam, al is hulle baie, een liggaam is, so ook Christus. 13 Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge.”

Moenie die doop met die Heilige Gees met die menslike werk van die waterdoop verwar nie. Die ritueel van waterdoop is slegs ‘n teëbeeld/illustrasie van die werklike indoping met die Heilige Gees en waar ons onherroeplik met die Here Jesus Christus geïdentifiseer word. Slegs nadat ons deur die Heilige Gees in Christus gedoop is (‘n daad wat nie vir ons sigbaar is nie) dat God die Vader ons in die Here Jesus Christus waarneem, en ons op grond van Christus se toegerekende geregtigheid, vryspreek asof ons nog nooit gesondig het nie. Dit is die Heilige Gees wat ons in Christus indoop, en al hierdie dinge gebeur slegs op grond van ons geloof die oomblik wanneer ons die Evangelie glo. (die waterdoop dien as sigbare illustrasie wat alreeds in die geestelike wêreld met ons plaasgevind het.)
Gal3:24 “Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof. 25 Maar nou dat die geloof gekom het, is ons nie meer onder ‘n tugmeester nie. 26 Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus; (nie die geloof en waterdoop nie!) 27 want julle almal wat in Christus (deur die Heilige Gees) gedoop is, het julle met Christus beklee. 28 Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus.
Gal.3:1 “o, Onverstandige Galásiërs, wie het julle betower om die waarheid nie gehoorsaam te wees nie, julle voor wie se oë Jesus Christus afgeskilder is as onder julle gekruisig? 2 Dit alleen wil ek van julle weet: het julle die Gees ontvang uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof?”
(nie die geloof plus die waterdoop nie!)

Met hierdie studie is ook gedemonstreer, dat die konteks in van 1Kor.17 nie handel oor watter persoon deur wie gedoop is nie, anders sou ons moet glo dat die faksies ontstaan het a.g.v. wie van God se diensknegte vir hulle gekruisig is, wat ‘n absurditeit is. Die konteks handel oor faksies wat rondom gewilde Christelike leiers gevorm het, en wat nie uitsluitlik rondom Christus, die sentrale Persoon in hierdie drama, en Wie alleenlik die fokus van ons aandag, liefde en aanbidding moet wees, gevorm het nie. En om hierdie rede het Paulus die volgende vraag aan die gemeente in Korinthe gestel, naamlik:
Kor.1:13 “Is Christus verdeel? Is Paulus miskien vir julle gekruisig? Of is julle in die naam van Paulus gedoop? 14 Ek dank God dat ek niemand van julle gedoop het nie, behalwe Crispus en Gajus, 15 sodat niemand kan sê dat ek in my naam gedoop het nie. 16 Ek het ook nog die huisgesin van Stéfanas gedoop. Verder weet ek nie of ek iemand anders gedoop het nie.”
Die antwoord op hierdie vraag moet duidelik “nee” wees. En indien dit “nee” is hoekom skep hulle dan faksies rondom hierdie persone, asof hierdie persone vir hulle gekruisig is, in stede daarvan om op Christus te fokus en Hom as dissipels na te volg! Indien hulle hierdie feite ingedagte gehou het sou daar nie sulke faksies ontstaan het nie.

Laastens is dit ook bo enige twyfel gedemonstreer dat die doop nie deel van die Evangelie kan wees nie, omrede Paulus dit baie duidelik stel dat die Here hom nie gestuur het om te doop nie, (al het ander mense hom gehelp doop.) maar om die Evangelie te verkondig. ‘n Stelling wat hy nou sou kon uiter indien die waterdoop deel van die Evangelie vorm nie. Die doop is of deel van die Evangelie of dit is nie. Daar is geen middeweg nie. En onthou, die Evangelie wat mense se ewige bestemming bepaal is op die spel.

Dit is my bede dat hierdie deel van my antwoord jou vrae wat hier bespreek is duidelik beantwoord. Ek sal met die volgende artikel die ander vrae bespreek, omrede dit van uiterste belang is om daardie teksgedeeltes ook sorgvuldig onder oë te neem en dit te bespreek.(Jy het goeie reeks vra gestel en baie mense kan deur die beantwoording daarvan gehelp word.) Die Evangelie van God se genade, en dus mense se ewige bestemming, is op die spel, en derhalwe is dit van uiterste belang dat ons nie menslike werke by die Evangelie te voeg, en sodoende die Evangelie van God se genade in ‘n werke evangelie verander wat niemand sal red nie. (Bestudeer asb die volgende illustrasie genaamd “Sewe vorme van doop in die Skrifte“)

Onthou, reddende geloof is om in die Here Jesus Christus, as die Seun van God te glo, Wie gesterf het en weer uit die dood uit opgestaan het, om al jou persoonlike sondeskuld (verlede,hede en toekomstige sondes) voor ‘n regverdige God te betaal, en die Een wat aan almal die ewige lewe skenk wat Hom, en Hom alleen, daarvoor vertrou. Glo jy dit?

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.