Predestinasie, Voorkennis en God se Soewereiniteit

Predestinasie, Voorkennis en God se Soewereiniteit

Vraag: Ek is in die Gereformeerde Kerk en ek en my dominee het oor die uitverkiesing gepraat en hoe God gelowiges voor die skepping van die aarde uitverkies het. Ek het al jou artikels gelees en het heelhartig daarmee saamgestem, en aan my dominee wie van ‘n Calvinistiese agtergrond is daarop gewys dat God nie sonder meer sekere mense geskape het om tot verlossing uitverkies te word en ander geskape het met die uitsluitlike doel om hulle hel toe te stuur nie. Ek het ook aan hom uitgewys dat God se uitverkiesing tot verlossing op Sy voorkennis van wie die Evangelie gaan glo gebaseer is, en dat Hy nooit iemand geskape het met die uitsluitlike doel om hulle hel toe te verdoem om sodoende Sy soewereiniteit en liefde aan die uitverkorenes te demonstreer nie. My dominee het aan my genoem dat God se voorkennis Sy voorbeskikking vereis, en op grond van hierdie feit sal alles wat God voorsien ook dan so plaasvind, omrede God se voorkennis deel van Sy voorbeskikking vorm en dat God dit so voorbeskik het. En omrede God se voorkennis nie met Sy soewereine voorbeskikking geskei kan word nie, moet alles dus deur God voorbeskik wees wat die sondeval, die mensdom se persoonlike optredes, wat alle sonde insluit, omrede God dit alles in Sy soewereiniteit voorbestem het om so plaas te vind. Wat God dus voorsien sal dus gebeur en volgens Calvinisme is daar geen uitsondering nie. Hy het ook aan my uitgewys dat Johannes Calvyn self hierdie leerstelling verkondig het, en genoem dat indien enige persoon ‘n ander leerstelling verkondig daardie persoon inbraak op God se soewereiniteit wil maak. Hy het ook verder genoem dat daar nie een teksgedeelte in die hele Bybel is wat hierdie Vyf Punt Calvinistiese leerstelling kan weerlê nie. Kan jy hierop kommentaar lewer asseblief.

Antwoord: Goeie vraag, en ek sal graag op hierdie vraag wil kommentaar lewer, omrede dit van uiterste belang is en dat God se eer ook op die spel is. Ek het alreeds hierdie vraag tot ‘n groot mate in ‘n vorige reeks artikels aangespreek. Jy word dus versoek om die reeks artikels “Wil God almal verlos” te lees. Ek glo dat Vyf Punt Calviniste ‘n bespotting van God se stelling soos in Johannes 3:16 maak, naamlik:
Joh.3:16 “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”
Om hierdie rede is dit van uiterste belang dat jy daardie reeks van twee artikels lees.

Net omrede Johannes Calvyn, of enige ander mens ‘n sekere leerstelling verkondig het, beteken nie dat daardie leerstelling noodwendig die korrekte leerstelling is nie. Slegs God se geskrewe woord, naamlik die Bybel, is die finale arbitrêr weerteen alle leerstellings gemeet moet word en dit sluit alles wat ek op hierdie webtuiste skryf in. Ek glo ook dat daar wel ‘n teksgedeelte in die Bybels is wat Vyf Punt Calviniste se leerstelling dat alle moontlike gebeure deur God voorbestem moes wees, en dat God se voorbestemming nie van sy voorkennis geskei kan word nie weerlê. Met die skryf van hierdie artikel sal ek spesifiek hierdie teksgedeelte aanhaal en bespreek. Indien dit dus vanuit die Skrifte bewys kan word dat God wel voorkennis van ‘n moontlike gebeurtenis gehad het, en daardie moontlike gebeurtenis het nie plaasgevind nie, dan beteken dit dat Vyf Punt calviniste se leerstelling oor God se voorkennis en voorbestemming heeltemal verkeerd is. Daarbenewens dien dit ook as bewys dat hulle weergawe van die leerstelling oor die uitverkiesingsleer foutief is. Kom ons gaan kyk na die teksgedeelte en dan bespreek ons dit.

1Sam.23:1 “Intussen is aan Dawid meegedeel en gesê: Kyk, die Filistyne veg teen Kehíla, en hulle plunder die dorsvloere. 2 Toe raadpleeg Dawid die HERE en vra: Sal ek gaan en daardie Filistyne verslaan? En die HERE sê vir Dawid: Gaan en verslaan die Filistyne en verlos Kehíla. 3 Maar die manne van Dawid sê vir hom: Kyk, hier in Juda is ons al bevrees, hoeveel te meer dan as ons na Kehíla trek teen die slagordes van die Filistyne? 4 Toe raadpleeg Dawid die HERE nog weer, en die HERE het hom geantwoord en gesê: Maak klaar, trek af na Kehíla, want Ek gee die Filistyne in jou hand. 5 Daarom het Dawid met sy manne na Kehíla getrek en teen die Filistyne geveg en hulle vee weggedrywe en ‘n groot slag onder hulle geslaan. So het Dawid dan die inwoners van Kehíla verlos.
Opmerking: Hier sien ons dat God se verklaring wat Hy a.g.v. Sy voorkennis gemaak het wel plaasgevind het. Die Calvinis sal dus bogenoemde teksgedeelte as bewys kan gebruik, dat God se voorkennis Sy voorbeskikking vereis, omrede wat God voorsien het Hy dan ook so beskik het. Volgens hierdie siening dien bostaande teksgedeelte as bewys dat God se voorkennis nie van Sy voorbeskikking geskei kan word nie, en dat God alles wat Hy voorsien ook deur Hom voorbeskik is en dat dit altyd dan so in tyd sal plaasvind.

Op die oog af mag dit dalk lyk of Calvinisme se siening oor die uitverkiesing korrek is, maar dit is nie in werklikheid die geval nie. Kom ons lees verder, naamlik:
1Sam.23:6(By die vlug van Abjatar, die seun van Ahiméleg, na Dawid, het hy na Kehíla afgekom met die skouerkleed by hom.) 7 Daarop kry Saul berig dat Dawid in Kehíla gekom het, en Saul sê: God het hom in my hand oorgelewer, want hy het homself opgesluit deurdat hy in ‘n stad met poorte en grendels ingegaan het. 8 Daarom het Saul al die manskappe vir die geveg opgeroep om af te trek na Kehíla ten einde Dawid en sy manne in te sluit. 9 Toe Dawid gewaar dat Saul onheil teen hom beraam, sê hy aan die priester Abjatar: Bring die skouerkleed nader. 10 En Dawid sê: HERE, God van Israel, u kneg het verseker gehoor dat Saul na Kehíla wil trek om die stad om my ontwil te verwoes. 11 Sal die burgers van Kehíla my in sy hand uitlewer? Sal Saul afkom soos u kneg verneem het? HERE, God van Israel, gee u kneg dit tog te kenne! Toe antwoord die HERE: Hy sal afkom. 12 Daarop sê Dawid: Sal die burgers van Kehíla my en my manne in die hand van Saul uitlewer? En die HERE antwoord: Hulle sal uitlewer. 13 En Dawid het klaargemaak met sy manne, omtrent ses honderd man — hulle het uit Kehíla uitgetrek en rondgetrek waar hulle maar kon. Toe Saul berig ontvang dat Dawid uit Kehíla ontsnap het, het hy opgehou om uit te trek.”
Opmerking: In bostaande teksgedeelte sien ons egter dat God wel d.m.v. Sy alwetende voorkennis twee moontlikhede gesien het, naamlik dat indien Dawid in Kehíla vertoef, Saul na die stad sal afkom, en dat die inwoners van die stad Dawid dan aan Saul sou oorgee. Gegewe hierdie inligting het Dawid die stad verlaat, en Saul het toe nooit na die stad afgekom en die inwoners van Kehíla het toe nooit Dawid aan Saul oorgegee nie.

Bespreking: Ons merk dus dat God in Sy alwetendheid wel die moontlikheid raakgesien het dat Saul na die stad sou afkom, en dat die inwoners van Kehíla hom aan Saul sou oorgee. Maar wat God d.m.v. Sy voorkennis waargeneem het, het toe nooit plaasgevind nie, wat beteken dat predestinasie en voorkennis wel van mekaar geskei kan word. Hier is ‘n voorbeeld van een so ‘n teksgedeelte wat die Calvinistiese leerstelling oor predestinasie weerlê en jy kan dit gerus aan jou dominee so uitwys. God kan dus moontlike gebeure voorsien, maar hierdie voorkennis van God beteken nie noodwendig dat God die gebeure in alle gevalle moet predestineer nie. Ons kan so ‘n stelling maak omrede ons gesien het hoe God d.m.v. Sy voorkennis moontlike gebeure gesien het, maar hierdie gebeure is nie deur Hom gepredestineer nie omrede dit nooit plaasgevind het nie. Gebeure wat nooit plaasvind het, en waarvan ons nooit in hierdie wêreld bewus van is nie, kan deur God in sy alwetendheid raakgesien word, maar hierdie gebeure is nie deur God gepredestineer nie omrede dit nooit plaasgevind het nie. God se voorkennis vorm dus ‘n sub kategorie van Sy alwetendheid, maar predestinasie kan wel van God se voorkennis geskei word, alhoewel ons slegs die gebeure wat God wel gepredestineer het waarneem en beleef.

Om dus te beweer dat voorkennis en predestinasie onverbreeklik deel van mekaar is, is totaal en al verkeerd. Bogenoemde teksgedeelte demonstreer baie duidelik dat voorkennis nie predestinasie vereis nie, en al wat voorkennis verseker is dat God die moontlike gebeurtenis vooraf ken. Omrede God voorkennis oor ‘n gebeurtenis besit, kan Hy indien Hy dit so wil daardie gebeurtenis predestineer of Hy kan kies om dit nie te doen nie. ‘n Goeie voorbeeld van so ‘n teksgedeelte wat hierdie feit mooi illustreer, is waar God in Sy alwetendheid vooraf sien watter persone die Evangelie sal glo, en gebaseer op hierdie feit dan daardie persone predestineer om gelykvormig aan die beeld van Christus te word. (Gered te word)
Rom.8:29 “Want die wat Hy vantevore geken het, (God se voorkennis oor wie die evangelie sal glo)dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun,(Slegs nadat God verordineer het dat diegene wat die evangelie glo, kan met sekerheid gestel word dat almal wat die evangelie glo gelykvormig aan die beeld van Christus sal word.) sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders; 30 en die wat Hy vantevore verordineer het, (op grond van die feit dat Hy deur Sy voorkennis geweet het wie die evangelie sou glo)dié het Hy ook geroep; (om die evangelie te glo, omrede Hy vooraf geweet het wie diegene is wat die evangelie sou glo.)en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; (fase een van ons verlossing naamlik wedergeboorte)en die wat Hy geregverdig het, (alle wedergeborenes, dus is fase een van ons verlossing naamlik wedergeboorte afgehandel)dié het Hy ook verheerlik.” (Fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking wat nog ‘n toekomstige gebeurtenis is. God kan met sekerheid verklaar dat hierdie mense alreeds verheerlik is, terwyl hulle nog in tyd nie verheerlik is nie, omrede Hy dit so verordineer het en alles wat God verordineer sal plaasvind soos wat God dit verordineer het. Daarom kan God praat asof dit al klaar afgehandel is.)
Maar onthou, net omrede God voorkennis aangaande ‘n gebeurtenis het vereis nie dat Hy daardie gebeurtenis verordineer nie. Hy kan indien Hy wil, soos wat ons hier bo gesien het, maar God was op geen stadium verplig om te verordineer dat alle mense wat glo gelykvormig aan die beeld van Christus sal word nie. Net omrede God iets vooraf weet, beteken geensins dat Hy dit moet verordineer nie. Hy kan indien Hy wil, en Hy hoef ook nie indien Hy dit so sou verkies nie.

Dus is daar ‘n vasgestelde getal mense wat gered sal word, maar dit is nie omrede God goedsmoeds besluit het dat sekere mense gebore sal word om hel toe moet gaan, en ander om hemel toe te gaan nie. God het nie een persoon geskep met die uitsluitlike doel om daardie persoon hel toe te stuur nie. Dit is Sy wil dat almal sonder uitsondering verlos moet word en hemel toe gaan. God het op grond van Sy voorkennis verordineer wie gered sou word, omrede Hy vooraf geweet het wie die evangelie (wat Sy regverdige oplossing vir die mensdom se sondeskuld is) sou glo. En op grond van hierdie feit het God verordineer dat diegene wat die evangelie glo ook verheerlik sou word. Op hierdie wyse maak God geen inbraak op ‘n persoon se vrye wilsbesluit nie, en is dus regverdig om enigste persoon wat nie glo nie hel toe te stuur omrede daardie persoon sy eie vrye wilsbesluit gemaak het. Hierdie feit weerlê die leer van die uitverkiesing soos wat Calvinisme dit verkondig. Volgens Calvinisme moet God alle dinge verordineer (wat alle bose dade insluit) anders sou Hy kwansuis nie soewerein wees nie, en daarom dring hulle so sterk daarop aan dat die mens nie oor ‘n vrye wil beskik nie. (Iets wat die Bybel nie verkondig nie. Ons almal maak duisende besluite elke dag omrede God die mens na Sy beeld geskape het, en as God se beeld draers, moet ons tot ‘n sekere mate oor ‘n vrye wil soos Hy beskik, anders sou ons nie na Sy beeld geskape kon wees nie. En omrede die mens oor ‘n vrye wil beskik, is God geregverdig indien Hy ons vir ons rebellie teen Hom straf. ‘n Persoon gaan hel toe omrede hy weier om die evangelie te glo nie omrede god vooraf besluit het dat hy hel toe moet gaan nie.

God het nie boosheid gepredestineer nie: Gegewe die feite soos hierbo genoem, kan dit met sekerheid gestel word dat God geensins die oorsaak van boosheid op aarde is nie. (‘n Stelling waarmee Calviniste nie mee kan saamstem indien hulle getrou aan hulle weergawe van die leerstelling van predestinasie wil bly nie) Omrede God absoluut heilig is, kan Hy nie enige boosheid pleeg, predestineer of enigiemand uitlok om so iets te doen nie.
Jak.1:13 “Laat niemand, as hy in versoeking kom, sê: Ek word deur God versoek nie. Want God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie.” (Hierdie stelling sou sinneloos wees indien God alreeds gepredestineer het dat die mens sal sondig)
Enige persoon wat so ‘n leerstelling verkondig pleeg godslastering. (dit is my beskeie opinie dat in hulle poging om hulle verdraaide leerstelling aangaande God se soewereiniteit te verdedig, Vyf Punt Calviniste hulle aan hierdie sonde skuldig maak, omrede hulle verklaar dat God alle optredes gepredestineer het.)

God het dus nie die sondeval gepredestineer nie omrede Hy heilig is. Dit is dus ‘n ernstige mistasting om te beweer dat God boosheid in die wêreld moes gepredestineer het, net omrede Hy geweet het dat Sy skepsels, wie Hy met ‘n vrye wil geskape het, teen Hom sou rebelleer en sodoende boosheid in die wêreld sou inbring. A.g.v. God se alwetendheid het Hy egter die sondeval vooraf gesien, maar Hy het ook binne die raamwerk van Sy ewige raadsplan ‘n oplossing vir die gevalle mens se dilemma verordineer, waardeur Christus vir die sondes van die mens aan die kruis sou sterwe, en sodoende God vrystel om almal wat die evangelie glo geregtelik vry te verklaar.
Rom.3:23 “want almal (geen uitsonderings nie) het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, 24 en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is. 25 Hom het God voorgestel in sy bloed as ‘n versoening deur die geloof, om sy geregtigheid te bewys deurdat Hy die sondes ongestraf laat bly het wat tevore gedoen is onder die verdraagsaamheid van God 26 om sy geregtigheid te toon in die teenwoordige tyd, sodat Hy self regverdig kan wees en regverdig maak wie uit die geloof in Jesus is.” (almal wie die evangelie glo sal gered word)

God se soewereiniteit word geensins aangeraak omrede Hy die mens met ‘n vrye wil geskape het nie. God moes die mens met ‘n vrye wil skape omrede nog ‘n eienskap, naamlik liefde dit vereis. Die skrifte stel dit duidelik dat God liefde is, naamlik:
1Joh.4:8 “Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde.”
As God se beeldraers op aarde moes die mens oor ‘n vermoë beskik om lief te kan hê. Maar vir liefde om werklik liefde te wees, moet ‘n persoon oor ‘n vrye wil beskik om lief te kan hê, anders is hy niks anders as ‘n rekenaar wees wat geprogrammeer is om op ‘n seker wyse onder sekere omstandighede of impulse te reageer nie. Omrede God die mens met ‘n vrye wil geskape het, beteken geensins dat Hy nie volkome soewerein is nie. Hy is volkome soewerein, en deurdat Hy die mens met ‘n vrye wil geskape het, demonstreer juis Sy soewereiniteit omrede dit maklik is om ‘n geprogrammeerde rekenaar te beheer, maar om ‘n ewige raadsplan tot stand te bring, waar God se doelstellings ten spyte van die mens se vrye wil bereik word verg juis almag, iets wat slegs God beskik. En God het boonop Sy ewige raadsplan in die Skrifte op laat teken, en nie die mens, asook die duiwel, kan die finale uitkoms daarvan verhinder nie. God het dus bepaal dat Sy ewige raadsplan deur die verloop van spesifieke reeks dispensasies afgehandel sal word, waarna die wêreld heeltemal van sonde en die gevolge van sonde bevry sal wees. (Die leser word ten sterkste aangeraai om die illustrasie “Die Sewe Dispensasies” te bestudeer. ) Dus het hierdie aarde se geskiedenis ‘n beginpunt, en ook ‘n eindpunt waardeur God Homself sal verheerlik.

Ter Afsluiting: Omrede ons weet dat God die mens as Sy beeldraers met ‘n vrye wil geskape het, weet ons dat die keuses wat ons maak werklik betekenis het en nie net die geprogrammeerde reaksies van ‘n robot is nie. Wat ons dus kies om te doen het ewigheidswaarde, omrede ons wesens is wat in God se beeld geskape is en dat ons werklik lewe. Ons keuses het betekenis en gelowiges sal by die Regterstoel Oordeel van Christus vir daardie keuses verantwoording moet doen, en so ook sal alle ongelowiges voor die Wit Troon Oordeel vir hulle keuses verantwoording by God moet doen. Gelowiges het boonop die Heilige Gees tydens wedergeboorte ontvang, wat hulle op die regte pad sal lei indien hulle Hom toelaat om dit te doen. (‘n Keuse wat hulle moet maak) Indien hulle kies om die Heilige Gees te gehoorsaam sal Christus hulle ryklik by die Regterstoel Oordeel van Christus met genadeloon beloon.

Boosheid is dus nie iets wat God gepredestineer of geskep het nie. Boosheid is niks anders ‘n verdraaiing en vergryp van die gawe van die vrye wil wat God die mens mee geseën het. Boosheid het in die mens ontstaan toe hulle gekies het om saam met die duiwel teen God te rebelleer. God het op geen wyse verordineer dat die mens teen teen Hom sou rebelleer soos wat sommige Calviniste beweer nie. Die mens het uit eie keuse teen God gerebelleer.

Bose dade word deur mense met ‘n vrye wil gepleeg, en dit sluit misdade teenoor ons medemens in. Mens hoor gereeld dat ‘n persoon verklaar dat daar geen God is nie omrede die wêreld so boos is. Daardie persoon wie ook teen God gerebelleer het, behoort beter te weet om so ‘n stelling te wil maak. Al hoe God boosheid van die aarde af kan verwyder is om elke mens op aarde te dood, omrede ons almal deel van die probleem is. God het wel ‘n tyd vasgestel waarop Hy wel boosheid op aarde tot ‘n einde sal bring. Dit is Sy genade wat verhoed dat Hy nog steeds nie die aarde geoordeel het nie, want Hy wil nie hê dat enige persoon verlore moet gaan nie. Die Bybel stel hierdie feit baie duidelik, naamlik:
2Pet.3: “Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel 4 en sê: Waar is die belofte van sy wederkoms? Want vandat die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af. 5 Want moedswillig vergeet hulle dat daar van lankal af hemele was en ‘n aarde wat uit water en deur water ontstaan het deur die woord van God, 6 waardeur die toenmalige wêreld met water oorstroom is en vergaan het. 7 Maar die teenswoordige hemele en die aarde is deur dieselfde woord as ‘n skat weggelê en word vir die vuur bewaar teen die dag van die oordeel en die verderf van die goddelose mense. 8 Maar laat hierdie een ding julle nie ontgaan nie, geliefdes, dat een dag by die Here soos duisend jaar is en duisend jaar soos een dag. 9 Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom. 10 Maar die dag van die Here sal kom soos ‘n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand.”
Predestinasie soos wat Calvinisme verkondig is nie ‘n Bybelse leerstelling nie.

God het geen mens ooit geskape met die uitsluitlike doel dat daardie persoon hel toe moet gaan nie. Inteendeel, die Skrifte stel dit duidelik dat die hel nooit vir die mens gemaak is nie, maar slegs vir die gevalle engele.
Matt.25:41 “Dan sal Hy ook vir dié aan sy linkerhand sê: Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele.”
Mense gaan hel toe omrede hulle eerder die duiwel glo as om God te glo. Dit is hulle eie vrye keuse, nie God sin nie. God wil almal red, maar Hy sal nie inbreek op ‘n persoon se vrye wil maak nie, anders sou liefde nie meer liefde wees nie. Die Here trek nie slegs enkele persone na Hom nie maar almal sonder uitsondering na Hom om verlossing te ontvang. Dit is en bly egter die mens se keuse hoe Hy op God se toenadering gaan reageer.
Joh.12:32 “En Ek, as Ek van die aarde verhoog word, sal almal na My toe trek.”

Ek bid hierdie antwoord help jou.

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.