Sewendedag Adventiste

Sewendedag Adventiste Kerk, ‘n skriftuurlike perspektief. Deel 1

Die Sewendedag Adventiste Kerk gaan uit hulle pad uit om te demonstreer dat hulle ware Bybelse Christenskap bevorder. Indien mens egter mooi na hulle leerstellings gaan kyk, dan merk mens dat hulle leerstelling drasties van ware Bybel se Christenskap afwyk. Die gevaarlikste vorm van dwaalleer is wanneer die waarheid op ‘n baie subtiele wyse verander word. Ons moet onthou dat dit moeilik is om mense met groot en openlike leuens te verly. Satan weet dat dit moeilik is om mense met opsigtelike leuens te verlei, maar wanneer daardie leuens op ‘n subtiele wyse van die waarheid afwyk, dan word daardie leuens maklik deur mense aanvaar. Die skrifte verklaar dat Satan die bron agter alle valse leerstellings is en dat hy van mense gebruik maak om sy dwaalleer te versprei.
2Kor.11:3 “Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus. 4 Want as iemand kom en ‘n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ‘n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ‘n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval.”
2Kor.11:14 “En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ‘n engel van die lig. 15 Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke.”

Alvorens die leerstellings wat deur die Sewendedag Adventiste Kerk verkondig met die skrifte vergelyk word, is dit belangrik om net kortliks hulle geskiedenis hier weer te gee.

William Miller (1782-1849)

In 1816 het ‘n William Miller (1782-1849) bekeer geraak en vir die volgende twee jaar die Bybel intensief bestudeer. Deurdat hy Daniël 8:14-16 buite konteks en verkeerd vertolk het, (ek sal later hierdie feit in die artikel aanraak) en waar hulle konsep van ‘n dag-jaar beginsel vandaan kom, het hy verkeerdelik tot die slotsom gekom dat die Here Jesus Christus in 1843 na die aarde sou terugkeer. Hierdie voorspelling is gemaak ten spyte van die feit dat die Here Jesus Christus self gesê het dat niemand die tyd van Sy wederkoms sal weet nie.
Matt.24:36 “Maar van dié dag en dié uur weet niemand nie, ook die engele van die hemele nie, maar net my Vader alleen”
Toe die voorspelde wederkoms nie plaasgevind het soos wat hy verkondig het nie, het dit tot grootskaalse teleurstelling onder sy volgelinge aanleiding gegee. Hierdie tydperk het as die “Groot Teleurstelling” bekend gestaan. Saam met een van sy volgelinge, ‘n man genaamd SS Snow, werk hulle toe ’n nuwe datum uit. Volgens hulle berekenings sou die wederkoms toe op 22 Oktober 1844 plaasvind. Soos ons alreeds weet het die wederkoms ook nie op die tweede voorspelde datum plaasgevind nie. Dit is my beskeie opinie dat die Sewendedag Adventiste Kerk se hele bestaan tot ‘n groot mate op ‘n foutiewe interpretasie van die profetiese woord soos in Dan.8:14–16 gevind gebaseer is. (ons sal weer later in hierdie artikel na hierdie spesifieke teksgedeelte terugkeer.)

Hiram Edson (1806–1882)

Toe die wederkoms nie op 22 Oktober 1844 plaasvind nie, het een van Miller se volgelinge kwansuis ‘n openbaring gekry wat toe ‘n verduideliking verskaf het waarom die Here Jesus Christus se wederkoms nie plaasgevind het soos wat Miller voorspel het nie. (Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Is die gawe van Profesie nog in werking vandag” te lees.) Volgens Hiram Edson (een van Miller se volgelinge, en die persoon wat kwansuis die openbaring ontvang het) is daar in die Hemel ‘n heiligdom wat met die Ou-Testamentiese heiligdom ooreengestem. (waarmee mens heelhartig kan saamstem) Volgens Hiram se openbaring het die Here Jesus Christus nie op 22 Oktober 1844 aarde toe teruggekeer nie, maar Hy het op die gegewe datum eerder vanuit die heilige plek na die allerheiligste plek beweeg (‘n leerstelling wat nie in die Bybel voorkom nie en wat a.g.v. ‘n buite Bybelse openbaring bekendgemaak is). Volgens Edson se openbaring het die Here Jesus Christus, na afloop van die hemelvaart, nie die allerheiligste gedeelte van die Hemel se tempel binnegegaan nie, maar het Hy slegs in die in die heilige plek van die hemelse heiligdom ingegaan, en waar Hy vanaf Sy hemelvaart tot en met 22 Oktober 1844 met die vergewing van sondes besig was. (Hierdie openbaring is ook deur Ellen G White bevestig nadat sy na bewering ook so ‘n openbaring ontvang het) Slegs na afloop van Oktober 1844 het Hy die allerheiligste binnegegaan waar die “ondersoekende oordeel” nou plaasvind. (ons sal later in hierdie studie na die sogenaamde “Ondersoekende Oordeel” kyk en die implikasies daarvan bepaal.) Ek moet dit net hier noem dat Miller nooit lid van die Sewendedag Adventiste Kerk geword het nie. Sy volgelinge het wel as die Milleriete bekendgestaan. Net soos die Sewendedag Adventiste Kerk, is die wortels van die Jehova Getuies (Charles Taze Russell, 1852–1916) ook in die Milleriete te vinde.

Joseph Bates (8 Julie 1792 – 19 Maart 1872)

Nadat hy ‘n artikel van TM Preble gelees het, kom Joseph Bates (‘n ander prominente persoon in Adventistebeweging en wat ook as die Apostel van die Sabbat” bekendgestaan het), in 1845 onder ‘n sterk indruk dat die Saterdag Sabbat ook deur Christene eerbiedig moet word. In 1846 skryf hy “the Seventh Day Sabbath, a Perpetual Sign” wat een van sy eerste boekies oor hierdie onderwerp was. Joseph Bates se siening oor die sabbatdag is ook deur F Wheeler, ook ‘n Adventiste-prediker, versterk. Op grond van hierdie twee persone se leerstellings, het die vereiste Sabbatsonderhouding so ‘n sterk inslag in die Sewendedag Adventiste se teologie gevind.

Ellen G White (1827-1915)

Die een persoon wat seker die grootste mate van invloed op die Sewendedag Adventiste Kerk uitgeoefen het (en wat nog steeds doen) is ‘n sogenaamde profetes genaamd Ellen G White (1827-1915), gebore Harmon. Sy was ook ‘n volgeling van Miller wat beweer het dat sy oor 2000 drome en visioene by God ontvang het. Sy het ook beweer dat sy in 1845 en 1847 openbarings ontvang het wat Edson se leerstellings rondom sabbatsonderhouding en Bates se leerstelling rondom die “Ondersoekende Oordeel” bevestig het. Sy word nog steeds as ‘n profetes van God deur die Sewendedag Adventiste Kerk erken en eerbiedig. Ons sal later in hierdie studie van haar profetiese uitlatings onder die oog neem en bespreek.

Die amptelike ontstaan van die Sewendedag Adventiste:

In 1860 nadat die drie groepe wat deur Edson, Bates en James Springer White (1821 – 1881), met wie Ellen G White getrou het, saamgesmelt en waar hulle die naam Sewendedag Adventiste gekry het. In 1863 het hierdie godsdienstige groep hulle eerste “algemene sinode” gehou.

Die 70 jaarweke verkeerdelik vertolk (Daniël 8:14-16):

Dan.8:12 “En ‘n leër is aan die horing oorgelewer in goddeloosheid saam met die voortdurende offer; en dit het die waarheid op die grond neergewerp en in sy optrede voorspoed gehad. 13 Toe hoor ek ‘n heilige spreek; en ‘n ander heilige het aan die een wat spreek, gesê: Hoe lank sal die gesig duur — van die voortdurende offer en die ontsettende goddeloosheid — sal die heiligdom sowel as die leër aan vertrapping oorgegee word 14 En hy het vir my gesê: Twee duisend drie honderd aande en môres, (letterlike 24 uur dae nie ‘n duisend jaar nie!) dan sal die heiligdom (die Joodse tempel) in sy regte staat herstel word.”
Daniël 8 se visioen handel oor die ram en bok nasies, naamlik die Medo-Persiese ryk, wat deur later deur die Griekse Ryk onder Alexander die Grote verower is, en wie se ryk na sy dood in vier dele onder bewind van vier van sy generaals verdeel is. Een van hierdie vier ryke wat uit die Griekse ryk uit voortgekom het is later deur die gruwelike Antiochus Epifanes, wat toe beheer oor Israel bekom het, geregeer en hy het die Joodse volk toe gruwelik vervolg. Hy het God gelaster, die Jode gedwing om teen God te laster, en die Heiligdom ontheilig deur om afgodsoffers daar te offer. Daniël is deur die visioen ingelig dat die tydperk waartydens die tempel ontheilig sou wees presies 2300 (aande en môres, naamlik 24uur dae) lank sou duur en dan sou die tempel weer geheilig word.

Al hierdie gebeure is voorspel, en is presies so vervul en is nou ‘n historiese feit. Boonop het al hierdie gebeure lank voordat die kerk op pinksterdag ontstaan het plaasgevind en het absoluut niks met die Here Jesus se wederkoms in Oktober 1844 of met die dwaalleerstelling van die “ondersoekende oordeel” te make nie. (Die nie-geïnspireerde boeke van 1 en 2 Makkabees handel oor hierdie spesifieke tydperk se gebeure, en is ‘n akkurate weergawe van die historiese gebeure wat tydens daardie tydperk plaasgevind het.) Die leser word ten sterkste aangeraai om ook die artikel “Het die Kerk Israel as God se verbondsvolk vervang” te lees. Omrede hierdie artikel alreeds te lank is sal die dwaalleerstelling van die “ondersoekende oordeel” in deel twee van hierdie reeks artikels aangespreek woord.

Maar koms ons gaan kyk na 2Pet.3:8 in die korrekte kontekstuele verband, naamlik:
2Pet.3:3 “Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel 4 en sê: Waar is die belofte van sy wederkoms? Want vandat die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af. 5 Want moedswillig vergeet hulle dat daar van lankal af hemele was en ‘n aarde wat uit water en deur water ontstaan het deur die woord van God, 6 waardeur die toenmalige wêreld met water oorstroom is en vergaan het. 7 Maar die teenswoordige hemele en die aarde is deur dieselfde woord as ‘n skat weggelê en word vir die vuur bewaar teen die dag van die oordeel en die verderf van die goddelose mense. 8 Maar laat hierdie een ding julle nie ontgaan nie, geliefdes, dat een dag by die Here soos duisend jaar is en duisend jaar soos een dag. 9 Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom. 10 Maar die dag van die Here sal kom soos ‘n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand.”
2Pet.3:8 handel oor die feit dat God buite tyd bestaan en die stelling dat 1 dag vir Hom soos 1000 jaar is net ‘n illustrasie om hierdie feit te bevestig. Let op die woord “soos” wat hierdie feit bo enige twyfel bevestig. Hierdie teksgedeelte het absoluut geen kontekstuele verbintenis met Dan.8:14 nie.

Ellen G White ‘n valse profetes:

Omrede Ellen G White se profesieë so ʼn belangrike rol in die Sewedaagse Adventiste se leerstellings speel is dit belangrik om haar profesieë met die Bybel te vergelyk. Die Here verwag van ons om alles wat aan ons verkondig word met die skrifte te vergelyk.
1Joh.4:1 “Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan.”
Onthou, die Sewendedag Adventiste glo dat Ellen G White se leerstellings gesaghebbend is en hulle verklaar wat in die Bybel staan in lig van wat sy gesê het. Ek haal punt 17 van die boekie “Wat Sewendedag Adventiste” glo aan naamlik:
“17. Die Profetiese Gawe
Een van die gawes van die Heilige Gees is die profesie. Hierdie gawe is die kenmerk van die oorblyfselkerk en is in die bediening van Ellen G. White gemanifesteer. Omdat sy die boodskapper van die Here is, is haar geskrifte ‘n voortdurende en gesaghebbende bron van waarheid wat troos, leiding, onderrig en vermaning vir die kerk voorsien. Hulle stel ook duidelik dat die Bybel die norm is waaraan alle leer en belewenisse getoets moet word.”

Ek glo die Bybel stel dit baie duidelik dat die gawe van profesie met die voltooiing van die Bybel tot ʼn einde gekom het. Paulus het hierdie feit in 2Kor.13:8-10 gestel. Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Bestaan die gawe van profesie nog vandag” sorgvuldig deur te lees. Kom ons gee vir ‘n oomblik toe en verklaar dat die gawe van profesie nie tot ʼn einde gekom het nie, dan moet wat Ellen G White verklaar het teen die Bybelse standaard getoets word om vas te stel of sy ‘n profeet van God was of nie. Die Bybel het die volgende hieroor te sê, naamlik:
Duet.18:20 “Maar die profeet wat so vermetel is om ʼn woord in my Naam te spreek wat Ek hom nie beveel het om te spreek nie, of wat in die naam van ander gode spreek, dié profeet moet sterwe. 21 En as jy in jou hart sê: Hoe sal ons die woord weet wat die HERE nie gespreek het nie? — 18:22 as die profeet in die Naam van die HERE spreek, en wat hy gesê het, gebeur nie en kom nie uit nie, dan is dit die woord wat die HERE nie gespreek het nie; deur vermetelheid het die profeet dit gespreek; jy mag vir hom nie bang wees nie.”

Dy het byvoorbeeld die volgende profetiese uitlating gemaak, naamlik: Then I was pointed to some who are in the great error of believing that its is their duty to go to old Jerusalem, and think they have a work to do there before the Lord comes….I saw that Satan had greatly deceived some in this thing….I saw that old Jerusalem never would be built up; and that Satan was doing his utmost to lead the minds of the children of the Lord into these things now, in the gathering time” (Ellen G White. Early Writings, p. 75.)
Dit is egter ʼn feit dat Jerusalem weer herbou is en enige persoon hoef net na die nuus te kyk om hierdie feit te bevestig. Jerusalem bestaan tans as ‘n stad en haar profesie is duidelik vals. Daar is baie verbeterings self aan die Ou Jerusalem aangebring en gedeeltes van die Ou Jerusalem beskik nou oor ‘n elektrisiteitsnetwerk, asook ander verbeterings wat daar aangebring is. Boonop weerspreek sy die Here se eie opdrag dat ons in die ganse aarde moet ingaan en die evangelie aan almal te verkondig, naamlik:
Mark.16:15 “En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom.”
Dit is immers die kerk se mandaat vir hierdie dispensasie om die evangelie met die ganse mensdom te deel en dit sluit die Jode in Jerusalem in.

Hier is ‘n voorbeeld van een van haar meer bisarre profesieë, naamlik:
“The Lord has given me a view of other worlds. Wings were given me, and an angel attended me from the city to a place that was bright and glorious. The grass of the place was living and green, and the birds there warbled a sweet song. The inhabitants of the place were of all sizes; they were noble, majestic, and lovely… I asked one of them why they were so much more lovely than those on earth… Then I was taken to a world which had seven moons. There I saw good old Enoch, who had been translated.” (Ellen G White. Early Writings, pp.39-40.)

Ellen White se man James White (wie een van die stigterlede van die Sewendedag Adventiste is) het bogenoemde profesie geversifiseer toe hy die volgende stelling gemaak het, naamlik:
“At our conference in Topsham, Maine, last Nov. Ellen had a vision of handy works of God. She was guided to the planets Jupiter, Saturn, and I think one more. After she came out of vision, she could give a clear description of their moons, etc…It is well known that she knew nothing of astronomy, and could not answer one question in relation to the planets, before she had this vision.” (A Word to the “Little Flock” p.22.)
Dit is ʼn gegewe feit dat fisiese wesens of enige plantegroei nie op genoemde planete kan bestaan nie. Moet ons nou glo dat God, Henog na een van hierdie lewelose planete weggeraap het? Die uiterste vorme van klimaatstoestande laat nie plantegroei of fisiese lewe op hierdie planete toe nie. Boonop kan nie een van hierdie planete as ‘n paradys bestempel word nie. Gaan ons ook na afloop van die voorverdrukking-wegraping onsself op een van hierdie planete bevind? Definitief nie!
Heb.11:5 “Deur die geloof is Henog weggeneem om die dood nie te sien nie; en hy is nie gevind nie, omdat God hom weggeneem het; want voor sy wegneming het hy getuienis ontvang dat hy God behaag het.”
Joh.14:2 “In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. 3 En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.”

Nog ʼn valse profesie wat sy aangaande die die Amerikaanse Burgeroorlog, wat tussen 12 April 1861 – 26 Mei 1865 plaasgevind het, gemaak het, naamlik:
“When England does declare war [teen die Noorde] all nations will have an interest of their own to serve and there will be general war, general confusion. “The result will be that “this nation… be humbles into the dust.” (Ellen G White, Testimonies for the Church, vol.1. p259.)
Dis weereens ʼn historiese feit dat Engeland nooit oorlog teen die Noorde tydens die Amerikaanse burgeroorlog verklaar het nie. Boonop is Amerika, en veral die Noorde definitief nie tot in die stof verlaag nie, hulle het immers die oorlog gewen. Hierdie is maar net ‘n paar van vele ander valse profesieë wat sy kwytgeraak het, en a.g.v. hierdie feit behoort die Sewendedag Adventiste haar as ‘n profeet te verwerp, nie haar skrifte as gesaghebbend te beskou nie. Onthou, hulle beweer immers dat hulle slegs die Bybel as grondslag vir hulle leerstellings gebruik.

Is die Sewendedag Adventiste se leierskap doelbewustelik misleidend?:

Op hulle amtelike webtuiste maak hulle die volgende verklaring, naamlik:
“Seventh-day Adventists accept the Bible as their only creed and hold certain fundamental beliefs to be the teaching of the Holy Scriptures. These beliefs, as set forth here, constitute the church’s understanding and expression of the teaching of Scripture.” https://www.adventist.org/beliefs/
Let op die stelling “Seventh-day Adventists accept the Bible as their only creed”, maar onder punt 17 van “wat Sewendedagse Adventiste glo” maak hulle die volgende stelling, naamlik: “Een van die gawes van die Heilige Gees is die profesie. Hierdie gawe is die kenmerk van die oorblyfselkerk en is in die bediening van Ellen G. White gemanifesteer. Omdat sy die boodskapper van die Here is, is haar geskrifte ‘n voortdurende en gesaghebbende bron van waarheid wat troos, leiding, onderrig en vermaning vir die kerk voorsien. Hulle stel ook duidelik dat die Bybel die norm is waaraan alle leer en belewenisse getoets moet word.” (17. Die Profetiese Gawe)
Let op die stelling “Omdat sy die boodskapper van die Here is, is haar geskrifte ‘n voortdurende en gesaghebbende bron van waarheid wat troos, leiding, onderrig en vermaning vir die kerk voorsien.” Indien Ellen G. White ‘n boodskapper van God is soos wat hulle beweer, en wat direk openbarings by Hom ontvang, en hulle beskou daardie openbarings (wat haar geskrifte insluit) as gesaghebbend, dan kan hulle mos nie beweer dat die Bybel die enigste bron van hulle geloof en leerstellings is nie. Onthou, sy het self beweer dat sy oor die 2000 buite Bybelse openbarings by God ontvang het. Maar kom ons kyk wat sê die Bybel, naamlik:
2Tim.3:16 “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, 17 sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”
Let op die term “sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.” Volgens die Bybel het ons nie Ellen G White se buite Bybelse openbarings of geskrifte nodig om volkome te kan wees, en vir elke goeie werk volkome toegerus te wees nie. Die Bybel is volkome voldoende!

In my beskeie opinie verhef die Sewendedag Adventiste Ellen G White se openbarings op ‘n baie subtiele wyse tot dieselfde posisie as die van die skrifte. Indien God werklik ‘n buite Bybelse openbaring maak, dan is daardie openbaring net so gesaghebbend as wat die Bybel is, want albei is immers die woord van God. God se woord kan nie meer of minder gesaghebbend as Sy ander uitlatings wees nie. God se woord is immers God se woord! Op hierdie wyse verhef die Sewendedag Adventiste Ellen G White se geskrifte tot dieselfde vlak as die Bybel, en soos wat ons alreeds in hierdie artikel gesien het, het sy herhaaldelike valse openbarings/profesieë gemaak. Om hierdie rede glo ek dat hulle doelbewustelik misleidend is wanneer hulle verklaar dat hulle slegs die Bybel as die bron van hulle leerstellings gebruik.

Ter afsluiting: In hierdie studie het ons bo enige twyfel bewys dat Ellen G White nie as ‘n ware profeet en boodskapper van God bestempel kan word nie. In die volgende deel van hierdie reeks studies sal ons sommige van die leerstellings wat die Sewendedag Adventiste verkondig bestudeer en dit dan met die Bybel vergelyk. Veral van belang is die leerstelling van die “Ondersoekende Oordeel” en die feit dat hulle op ‘n subtiele wyse ‘n werke evangelie, waar menslike werke die bepalende element is of ‘n persoon hemel of hel toe gaan, verkondig. Ons sal ook hulle leerstelling van “sieleslaap” en die verwerping van die feit dat ‘n ongeredde persoon vir ewig in die poel van vuur gepynig sal word aanspreek, Ons sal dan sommer hulle leerstelling dat Christene die Saterdag-sabbat moet onderhou met die skrifte vergelyk.

Seën groete!

Vic

Deel met ander asb.