Ouers as voorbeeld aan Kinders

Ouers as voorbeeld aan Kinders

Die Here het ‘n baie ernstige waarskuwing in die Bybel gegee aan diegene wat veroorsaak dat ‘n kind wat in Hom glo struikel.
Mat 18:5 “En elkeen wat een van sulke kindertjies in my Naam ontvang, ontvang My; 18:6 maar elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is vir hom beter dat ‘n meulsteen aan sy nek gehang word en hy wegsink in die diepte van die see. 18:7 Wee die wêreld weens die struikelblokke! Want dit is noodsaaklik dat daar struikelblokke kom, maar wee die mens deur wie die struikelblok kom.”
Wat sien ons kinders daagliks in ons, as hulle ouers, se optrede? Wat is die voorbeeld wat ons aan hulle stel? Wat is ons geliefdste kuierplekke? ‘n Ouer se optrede beteken baie meer as net leë woorde. ‘n Kind sal nie ‘n pa wat gereeld in die kroeg sit en kuier ernstig opneem indien hy daardie selfde kind waarsku teen die gevare van drankmisbruik of ander sondes nie. In baie gevalle sal die kind dieselfde sondes doen as wat daardie kind se vader gedoen het. Kinders kyk op na hulle ouers as rolmodelle, om vir hulle ‘n voorbeeld te stel oor hoedanig hulle optrede moet wees en sal navolg wat hulle waarneem. Indien ‘n persoon ‘n kroegvlieg is, moet hy nie verbaas wees indien sy kind ook ‘n kroegvlieg word en drankmisbruik as normaal sien nie. Hierdie is een van die grootste foute wat ek ooit in my lewe kon maak, maar danksy God se genade het Hy my tot bekering gelei en kon ek my verkeerde optrede regstel. Daar is geen einde aan al die smarte wat drankmisbruik al veroorsaak het nie! (en nog steeds veroorsaak.) Baie ouers spandeer tyd in die kroeg en dan kom hulle met die verskoning dat hulle nie dronk word nie. Die vraag wat so ‘n ouer moet beantwoord, is watse voorbeeld hy aan sy kinders stel en word die Here deur sy optrede verheerlik? Watse taalgebruik kom in sulke plekke voor en word die Here daar verheerlik? As Christene, moet ons poog om die Here in alles te verheerlik en ons is veronderstel om sulke gedrag te laat staan indien daar ‘n moontlikheid is dat ander daardeur tot struikeling gebring kan word.
Rom 14:21 “Dit is goed om geen vleis te eet of wyn te drink of iets te doen waardeur jou broeder aanstoot neem of struikel, of waarin hy swak is nie.”
Luk 17:1 “En Hy het vir sy dissipels gesê: Dit is onvermydelik dat die struikelblokke kom, maar wee hom deur wie hulle kom. 17:2 Dit is beter vir hom as ‘n meulsteen aan sy nek gehang en hy in die see gegooi word, as dat hy een van hierdie kleintjies sou laat struikel.”

Ons moet ook let na watse vermaak ons kyk en luister. Kinders is oplettend en sal vinnig die stoute tydskrifte en films kry wat baie ouers so graag na kyk. Indien so ‘n kind a.g.v. sy ouers se optredes, uit geloof verval, dan het daardie ouer ‘n struikelblok in daardie kind se lewe geword. Dit geld vir enige sonde wat die ouer mag pleeg en sluit ook die alledaagse televisie programme in wat so gewild is. Daar moet na die boodskappe gelet word wat sulke programme aan ons kinders oordra, want wat hulle in die media sien gaan ‘n invloed op hulle gedrag uitoefen. Saambly word deesdae as normaal gesien, en God se opinie hieroor word nie baie ernstig opgeneem nie. Ons kinders sien en volg hierdie voorbeeld baiekeer na, tot so ‘n mate, dat saambly in baie gevalle deur ouers aanvaar word. Dit is maar net weer ‘n indikasie van hoe ver ons samelewing van God se weë verwyderd geraak het. Onthou maar net, dat as jou kind hierdie sonde pleeg a.g.v. die voorbeeld wat jy aan hom gestel het is jy die struikelblok in jou kind se lewe. In baie gevalle wat ek persoonlik van weet, word dit as normaal beskou as ‘n meisie of seun hulle maagdelikheid op die ouderdom van sestien verloor. En hierdie goedkeuring is nie van vreemdes afkomstig nie, maar van die kinders se eie familie af! Volgens God is dit niks anders as hoerery nie, en Paulus het ons gewaarsku teen mense wat se lewe deur hierdie soort van sonde beheer word.
Gal 5:19 “En die werke van die vlees is openbaar, naamlik owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid; 5:20 afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap;
5:21 afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge, waarvan ek julle vooraf sê, soos ek al vroeër gesê het, dat die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie.”
Nee, Paulus verkondig nie ‘n werke Evangelie nie. Waar iemand in sulke sondes kan voortleef, sonder oortuiging en straf van God se kant af, kan met regte gevra word of die Heilige Gees enigsins in so ‘n persoon is. Dit is immers die Heilige gees wat heiligmaking in ons moet laat plaasvind.
Heb 12:14 “Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie;”

Indien ons die wêreld, en mammon na jaag, dan gaan ons kinders dit ook doen! Ons lewe in ‘n samelewing waar geld en genot die god geword het, en baie Christene dien met hulle optrede voor daardie gode se altare en bely God net met hulle mond. Waar Christus uitgeskuif word, ten koste van enige belangstelling of voorwerp, het daardie spesifieke voorwerp of belangstelling ons god geword en is ons besig met afgodery. Jesus self het ons daarteen gewaarsku, en ons sal wys wees om Sy woorde ernstig op te neem.
Luk 16:13 “Geen huiskneg kan twee here dien nie; want hy sal òf die een haat en die ander een liefhê, òf die een aanhang en die ander een verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie.”

Ons lewe ook in ‘n samelewing waar gierigheid en materialisme as aanvaarbaar beskou word en waar dit ook openlik aangemoedig word. Die Here sien gierigheid egter as afgodediens, en kyk maar wat Hy met die volk Israel gedoen het, toe hulle hulleself nie van hulle afgodediens bekeer het nie. Onthou God het nie verander nie en haat nog steeds afgodery.
Kol 3:5 “Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodediens is,
3:6 waardeur die toorn van God oor die kinders van die ongehoorsaamheid kom,”
Is dit nie dalk een van die redes hoekom die westerse wêreld, wat hoofsaaklik Christelik was, dit al hoe moeiliker vind, om die beheer wat hulle voorheen oor wêreld sake gehad het, te handhaaf nie? Ekonomies gaan ons land al hoe meer agteruit. Is gierigheid nie een van die grootste redes hiervoor nie? Meeste mense van vandag meet nie hulle status teenoor wat hulle in Christus is nie, maar in wat hulle besit en die status wat hulle in die samelewing handhaaf. Materialisme en hoogmoed gaan tot die ondergang van ons land lei en ons moet waak dat ons kinders nie in hierdie strik vasgevang word nie. Ons is veronderstel om die God van die Bybel te dien en nie geld en onsself nie! Watter voorbeeld stel ons in hierdie opsig aan ons kinders?

Kinders is opmerksaam, en hulle sal gou ‘n slegte gewoonte aanleer, indien hulle opmerk dat hulle ouers dit ook doen en boonop hulle eie sondes daardeur kan regverdig. As rykdom en status die hoofdoel van die ouer is, sal die kind dit optel, maak nie saak hoe Christelik ‘n persoon homself wil voorhou nie. Mens se optrede spreek soms baie duideliker as mens se woorde! Gierigheid is ‘n sonde wat mense baie maklik laat struikel, maar gaan lees maar watse ernstige waarskuwings die Here oor die najaag van rykdom gemaak het.
Opn 3:15 “Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm! 3:16 Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug. 3:17 Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie. 3:18 Ek raai jou aan om van My te koop goud wat deur vuur gelouter is, sodat jy kan ryk word; en wit klere, dat jy jou kan aantrek en die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie; en salf om jou oë te salf, sodat jy kan sien.”
Miskien is dit tyd dat ons die Here vra om ons oë oop te maak, sodat ons kan sien wat werklik saak maak en aan ons kinders die regte voorbeeld stel!

Ouers, en veral die vrouens, moet daarteen waak om meer op die uiterlike as die innerlike mens te konsentreer. Jong mense sien hierdie optrede en doen dit graag na, omdat dit hulle vlees, ten koste van hulle gees, bevredig. Hierdie is seker een van God se opdragte wat in ons materialistiese samelewing die meeste geïgnoreer word.
1Ti 2:9 “So ook moet die vroue hulle versier met behoorlike kleding, gepaard met beskeidenheid en ingetoënheid, nie met vlegsels of goud of pêrels of kosbare klere nie, 2:10 maar, soos dit vroue betaam wat die godsvrug bely, met goeie werke.”
Astronomiese bedrae geld word jaarliks aan die nuutste modes spandeer, en dit terwyl hordes mense elke dag die ewigheid ingaan sonder om die Evangelie te hoor. Ons is nie veronderstel om op onsself te fokus nie, maar op die Here Jesus Christus, en op Sy wil, naamlik die verspreiding van die Evangelie. Indien ons dit nie doen nie, hoe kan ons dit dan van ons kinders verwag? As ouers, sal ons moet gaan kyk of ons nie in hierdie opsig ‘n struikelblok in ons kinders se lewens is nie. Onthou die voorbeeld wat ons stel beteken baie meer as wat ons dalk mag sê.

Hoedanig is ons optrede by die huis teenoor mekaar en ander? Eerbiedig ons mekaar en handhaaf ons die rolle soos wat die Here dit in Sy woord aan ons opgedra het? Lees asb die artikel oor mans en vroue vir ‘n meer breedvoerige uiteensetting van hierdie onderwerp. Eer die ouers mekaar of behandel hulle mekaar soos honde. Om van jou eggenoot by ander sleg te praat is om jou eggenoot ‘n oneer aan te doen! Ons kinders sien hierdie optrede en gaan ons voorbeeld heel waarskynlik navolg! Indien daar probleme is, moet dit op ‘n respekvolle wyse opgelos word en ek het al opgemerk hoe nader ‘n paartjie aan die Here beweeg, hoe nader beweeg hulle ook aan mekaar. Dit is maar net een van die logiese uitvloeisels om in die Gees te wandel.
Gal 5:22 “Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing. 5:23 Teen sulke dinge is die wet nie. 5:24 Maar die wat aan Christus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig. 5:25 As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel. 5:26 Laat ons nie word soekers van ydele eer wat mekaar uittart en mekaar beny nie.”

Nog ‘n afdeling waar ek dink baie ouers hulle kinders laat struikel, is wanneer dit by die onderwerp van hoogmoed kom. Indien die ouers hoogmoedig gaan wees, en op ander gaan neerkyk, gaan die kinders dit ook waarskynlik wil doen. Hoogmoed is wat Satan tot ‘n val gebring het en dit gaan nog baie mense en nasies tot ‘n val bring.
Mar 7:21 “Want van binne, uit die hart van die mense, kom die slegte gedagtes, egbreuk, hoerery, moord, 7:22 diewery, hebsug, boosheid, bedrog, losbandigheid, afguns, lastering, hoogmoed, dwaasheid. 7:23 Al hierdie booshede kom van binne uit en maak die mens onrein.”
Spr 18:12 “Voor die verbreking is die mens se hart hoogmoedig, maar nederigheid gaan aan die eer vooraf.”
As gelowiges, behoort ons te weet, dat alles wat ons het ‘n gawe van God is, en daarom het ons geen rede tot hoogmoed nie. Die Bybel stel dit baie duidelik, dat waar iemand werklik ‘n kind van die Here is en in sonde bly, daardie persoon straf in sy lewe kan verwag. Indien daar geen straf aanwesig is nie, dan moet daardie persoon seker maak of hy werklik weergebore is.
Heb 12:6 “want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem. 12:7 As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie? 12:8 Maar as julle sonder tugtiging is, wat almal deelagtig geword het, dan is julle onegte kinders en nie seuns nie.”

Nog ‘n gebied waarin ouers hulle kinders laat struikel, is as dit kom by skinder en agterbaksheid. Ek weet ek stel dit kras, maar ons almal is hieraan skuldig en dit is iets wat ons aan moet werk. Baie mense gee voor dat hulle iemand se vriend is, en praat al te mooi met, en van die persoon as hy teenwoordig is, maar sodra daardie persoon sy rug draai klap die tonge en dit nogal voor die kinders. Skinder en slegsê het nie aanmoediging nodig nie en ons moet daarteen waak om ons kinders in hierdie opsig te laat struikel. Hulle sal dit aanleer en later die vrugte daarvan pluk, iets wat glad nie aangenaam gaan wees nie. Om meer oor hierdie onderwerp op te lees , raai ek die leser aan om die artikel oor skinder te lees. Indien jy nie bereid is om jou naam genoem te wil hê nie moet dan liewers niks sê nie. Dit is baie belangrik vir ons, as ouers, om op hierdie gebied ‘n mooi voorbeeld aan ons kinders te stel.
1Ko 5:11 “maar nou skryf ek aan julle om nie om te gaan met iemand wat, al staan hy as ‘n broeder bekend, ‘n hoereerder is of ‘n gierigaard of ‘n afgodedienaar of ‘n kwaadspreker of ‘n dronkaard of ‘n rower nie; met so iemand moet julle selfs nie saam eet nie. 5:12 Want waarom sou ek ook die wat buite is, oordeel? Oordeel julle nie die wat binne is nie?”

Sien ons kinders, dat ons werklik saam met die Here wandel? Wanneer laas het hulle ons op ons knieë in gebed gesien? Bestudeer ons die Bybel daagliks en ook saam met hulle? Dit alles is vrae wat ons eerlik moet beantwoord. Ons het ‘n verpligting teenoor ons kinders, om aan hulle ‘n heilige voorbeeld te stel. Ons alledaagse lewens moet as voorbeeld vir ons kinders dien en hulle moet daardeur opgebou word en nie afgebreek word nie!
Heb 13:7 “Gedenk julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het; aanskou die uiteinde van hulle lewenswandel en volg hulle geloof na. 13:8 Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.”

Die laaste punt wat ek in hierdie artikel wil bespreek, handel oor die onderwerp van manipulasie. Hierdie is ‘n baie belangrike onderwerp, en ‘n onderwerp wat deur die meeste mense geïgnoreer word. As ons kinders opmerk hoe ons ander mense manipuleer en waarneem hoe suksesvol ons daarin is, gaan hulle ons metodes vinnig aanleer, om sodoende hulleself ten koste van ander te bevoordeel. Dit kan katastrofiese gevolge vir daardie kind se geestelike lewe inhou. Die kind sal later self God wil manipuleer en indien hy nie sy sin kry nie, of permanent weg van die Here af loop, of hulleself wend na valse leraars, wat vir hulle sal sê wat hulle graag wil hoor. Indien so iets plaasvind, is die kind in groot gevaar, omrede mense moeilik uit sulke strikke kom omrede hulle self hierdie keuse maak wat tot hulle ondergang lei. Die Here het ons in Sy woord hierteen gewaarsku en dit is algemeen opsigtelik hoe erg sake nou al geword het. Alles draai nou om wat die mens wil hê en nie oor wat God wil hê die mens moet doen nie. Die Here het ons geleer om die Vader te vra, dat Sy wil op aarde moet geskied, net soos wat dit in die hemel die geval is, maar die moderne mens wil hê God moet sy wil doen, en sal so ver gaan om selfs God se woord te verdraai om hulle sin te kry. Soos alreeds gestel, gaan hierdie optrede ‘n katastrofe afgee wat nie baie aangenaam gaan wees nie!
2Ti 4:3 “want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede,
4:4 en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.”
Hierdie profesie is besig om in ons tyd alreeds in vervulling te gaan en die verleiding raak net erger! Ons moet seker maak dat ons aan ons kinders ‘n Bybelse voorbeeld stel, deur om nie ander mense te probeer manipuleer nie.

Hierdie artikel gee geensins ‘n volledige lys van punte waarop ons, as ouers, ons kinders laat struikel nie. Onthou net, dat iemand wat sy kind vir die wêreld grootmaak, daardie kind as vyand van God groot maak!
Jak 4:4 “Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan ‘n vriend van die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God.”
Die Here self het dit baie duidelik gestel, dat diegene wat nie saam met Hom versamel nie besig is om te verstrooi.
Luk 11:23 “Hy wat nie met My is nie, is teen My; en hy wat nie saam met My versamel nie, verstrooi.”

Ek glo vas, dat ons in die laaste dae leef, en my gevolgtrekking is nie op my eie opinie gebaseer nie, maar op die woord van God. Paulus het aan ons ‘n baie duidelike indikasie gegee van hoe die belydende Christendom oor die algemeen in die laaste dae gaan lyk. Ek gaan dit hierby inlas, en ons sal goed doen om onsself met hierdie persone te vergelyk om werklik te sien watse voorbeeld ons aan ons kinders stel.
2Ti 3:1 “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom.
3:2 Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, 3:3 sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, 3:4 verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; 3:5 mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af.”
Ek dink ons is in die laaste dae! Ons moet tot inkeer kom en in die krag van die Heilige Gees, as voorbeelde, aan ons kinders dien en nie as struikelblokke nie.

Ter Afsluiting: As ouers, behoort ons altyd te poog om die hoogste morele weg te volg, en deur dit te doen ‘n goeie voorbeeld aan ons kinders stel. Ons samelewing is vinnig besig om in algehele wetloosheid te verval, en dit is in ‘n baie groot mate ons eie wêreld-gesindheid wat daartoe bygedra het. Ons moet Jesus se beeld in hierdie wêreld uitdra en dit begin eerste by ons eie huisgesinne. Ons gaan aan die Here daarvoor rekenskap moet gee. Dit is nie ons plig om ons kinders se monde met heuning te smeer nie, dit is ons plig om hulle die waarheid te vertel. Onthou altyd, dat geloof wat op leuens gebou is nie Bybelse geloof is nie, maar eerder delusie. My doel in die skryf van hierdie artikel is nie om vingers na enigiemand te wys nie, maar my doel was net om uit die Skrif te demonstreer hoe ver ons, as Christene, werklik van God se weë afvallig geword het. Ons moet let hoedanige voorbeeld ons aan ons kinders stel, en indien daar iets is om reg te maak, moet ons dit in alle nederigheid doen. Mag die Here ons daarmee help!

Seën Groete!

Vic

 

 

 

 

 

Deel met ander asb.