Sleutelwoord se argiewe: voorbeeld

Ouers as voorbeeld aan Kinders

Die Here het ‘n baie ernstige waarskuwing in die Bybel gegee aan diegene wat veroorsaak dat ‘n kind wat in Hom glo struikel.
Mat 18:5 “En elkeen wat een van sulke kindertjies in my Naam ontvang, ontvang My; 18:6 maar elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is vir hom beter dat ‘n meulsteen aan sy nek gehang word en hy wegsink in die diepte van die see. 18:7 Wee die wêreld weens die struikelblokke! Want dit is noodsaaklik dat daar struikelblokke kom, maar wee die mens deur wie die struikelblok kom.”
Wat sien ons kinders daagliks in ons, as hulle ouers, se optrede? Wat is die voorbeeld wat ons aan hulle stel? Wat is ons geliefdste kuierplekke? ‘n Ouer se optrede beteken baie meer as net leë woorde. ‘n Kind sal nie ‘n pa wat gereeld in die kroeg sit en kuier ernstig opneem indien hy daardie selfde kind waarsku teen die gevare van drankmisbruik of ander sondes nie. In baie gevalle sal die kind dieselfde sondes doen as wat daardie kind se vader gedoen het. Kinders kyk op na hulle ouers as rolmodelle, om vir hulle ‘n voorbeeld te stel oor hoedanig hulle optrede moet wees en sal navolg wat hulle waarneem. Indien ‘n persoon ‘n kroegvlieg is, moet hy nie verbaas wees indien sy kind ook ‘n kroegvlieg word en drankmisbruik as normaal sien nie. Hierdie is een van die grootste foute wat ek ooit in my lewe kon maak, maar danksy God se genade het Hy my tot bekering gelei en kon ek my verkeerde optrede regstel. Daar is geen einde aan al die smarte wat drankmisbruik al veroorsaak het nie! (en nog steeds veroorsaak.) Baie ouers spandeer tyd in die kroeg en dan kom hulle met die verskoning dat hulle nie dronk word nie. Die vraag wat so ‘n ouer moet beantwoord, is watse voorbeeld hy aan sy kinders stel en word die Here deur sy optrede verheerlik? Watse taalgebruik kom in sulke plekke voor en word die Here daar verheerlik? As Christene, moet ons poog om die Here in alles te verheerlik en ons is veronderstel om sulke gedrag te laat staan indien daar ‘n moontlikheid is dat ander daardeur tot struikeling gebring kan word.
Rom 14:21 “Dit is goed om geen vleis te eet of wyn te drink of iets te doen waardeur jou broeder aanstoot neem of struikel, of waarin hy swak is nie.”
Luk 17:1 “En Hy het vir sy dissipels gesê: Dit is onvermydelik dat die struikelblokke kom, maar wee hom deur wie hulle kom. 17:2 Dit is beter vir hom as ‘n meulsteen aan sy nek gehang en hy in die see gegooi word, as dat hy een van hierdie kleintjies sou laat struikel.” Lees meer Ouers as voorbeeld aan Kinders