geldgierigheid

Geldgierigheid die rede waarom Christendom ‘n Handelshuis ontaard

Vraag: Hallo Wickus verklaar asseblief vir my 2Kor. 2 vers 17. 1983 vertaling dankie.

Antwoord: Ja, mens kan ‘n hele boek oor hierdie onderwerp, naamlik geldgierigheid skryf, veral indien mens die huidige stand van die belydende Christendom in ag neem. (veral die meerderheid van die gewildste bedieninge wat ons op televisie sien!)
2Ko 2:17 “Ons, omdat ons nie is soos baie ander wat geld maak uit die woord van God nie. Ons verkondig die woord in opregtheid, in verbondenheid met Christus, in opdrag van God en in verantwoordelikheid aan God.” (1983 vertaling)
In Kort handel die konteks oor valse apostels wat die gemeente binnegedring het en die gemeente in Korinthe teen Paulus en sy apostelskap opgesweep het. Hierdie mense se doel was om die woord van God vir wins te pand. (geldgierigheid) Hulle gebruik die woord dus as ‘n produk waaruit hulle wins kan maak en dit is niks anders as geldgierigheid nie! Net soos wat dit vandag in die oorgroot gedeelte van die belydende Christendom die geval is, wou hierdie mense van die verkondiging van die woord ‘n winsgewende beroep/besigheid maak. Dieselfde woord wat in die Grieks vir die term “Handel dryf” gebruik is, is ook soms gebruik om oneerlike persone wat water by wyn gevoeg het, om die eindproduk af te water, en die eindproduk meer te maak, sodat hulle meer wins uit die verkoop van die afgewaterde wyn kon maak. (dus geldgierigheid) So ook in die geval van hierdie valse apostels, is hulle motiewe nie eerbaar nie, maar is wins, en geldgierigheid, (mammon en nie God se eer en mense se siele) die belangrikste dryfveer agter hulle optrede, en daarom sal mens vind dat hierdie tipe mense gewoonlik hulle eie leerstellings tot die van God in Sy woord byvoeg, en in hierdie geval van die Judaïseerders wou hulle die Ou Testamentiese Wet by Christus se genade voeg en so die gemeente van die Apostel Paulus vervreemd. (Dus het hulle nie werklik God se belange, en die van hulle hoorders, op die hart gedra nie want dan sou hulle die waarheid verkondig het!)


Ons vind dieselfde verskynsel in die belydende Christendom van vandag. Kyk maar op die Christelike kanale op televisie en kyk wat die onderwerp is wat die meeste bespreek word. Geld, rykdom, voorspoed en genesing, eerder as die verspreiding van die ware Evangelie, korrekte Bybelse leerstellings of toegewyde dissipelskap! Lees nou jou Bybel en kyk hoeveel keer word geldgierigheid en die soeke na rykdom veroordeel!
1Ti 6:9 “Maar die wat ryk wil word, (geldgierigheid) val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang.
Mar 4:18 En hulle by wie in die dorings gesaai word—dit is hulle wat die woord hoor, 4:19 en die sorge van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom (geldgierigheid) en die begeerlikhede in verband met die ander dinge kom in en verstik die woord, en dit word onvrugbaar.
2Pe 2:1 Maar daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën en ‘n vinnige verderf oor hulleself bring; 2:2 en baie sal hulle verderflikhede navolg, en om hulle ontwil sal die weg van die waarheid gelaster word; (Hoeveel keer het die sekulêre media nie al hierdie geldgierige mense ontbloot tot oneer van God se naam nie!) 2:3 en uit hebsug (wat geldgierigheid insluit) sal hulle met verdigte woorde voordeel uit julle trek. Oor hulle is die oordeel van lankal af nie werkeloos nie, en hulle verderf sluimer nie.
2Ti 3:1 Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. 3:2 Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, 3:3 sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, 3:4 verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; 3:5 mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af. ” (Een van die kentekens dat ons in die laaste dae is, is niks anders as geldgierigheid en selfliefde/eiewaan nie. Geldgierigheid en selfliefde/eiewaan is seker een van die grootste uitstaande kenmerke, van ‘n baie groot gedeelte, van die hedendaagse belydende Christendom! Dis geen wonder dat so veel mense Christus heeltemal verwerp nie. Hulle sien dinge raak wat baie in die belydende Christendom wyer om raak te sien! En so word God se naam belaster en mense se siele gaan verlore!)

God se eer en die verspreiding van die Evangelie, wat mense van ‘n ewige verderf sal red, en toegewyde dissipelskap (wat geldgierigheid uitsluit) moet die gelowige se doel in die lewe wees.
1Ti 6:6 “Maar die godsaligheid saam met vergenoegdheid is ‘n groot wins. 6:7 Want ons het niks in die wêreld ingebring nie; dit is duidelik dat ons ook niks daaruit kan wegdra nie. 6:8 Maar as ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees.” (Hierdie is nie ‘n baie gewilde, en bemarkbare, leerstelling nie, en derhalwe sal mens opmerk dat daar in groot gedeeltes van die belydende Christendom nie baie oor hierdie onderwerp gepreek word of boeke oor hierdie onderwerp geskryf word nie. Dit is nie iets wat die oorgroot gedeelte van die Christendom graag wil hoor nie! Maar dit bly egter ‘n Godgegewe waarheid!)

Kyk maar hoe lewe sommige van hierdie mense, en veral wanneer ons in ag neem dat hulle in baie gevalle daardie geld uit arm gelowiges bekom het, deur om aan hulle (in baie gevalle desperate mense!) beloftes van finansiële voorspoed en genesing voor te hou. Dit geld ook vir die leerstelling van tiendes. (mense wat die Ou Testamentiese vereiste vir tiendes aan Israel, wat onder die Wet was, oorbring en op die Kerk, wat onder genade is, van toepassing wil maak, sodat hulle verseker van ‘n inkomste kan wees. (lees asb die artikel: “Ek kan nie tiendes gee nie”op die webtuiste indien jy dit nie alreeds gedoen het nie.) Die tiendes leerstelling is maar net een voorbeeld van die metodes wat deur hierdie mense misbruik word. Dit is nie te sê dat die Here nie wil hê dat mense wat die Bybel verkondig nie loon vir hulle arbeid moet ontvang nie, maar die beginsel moet op die inwerking van die Heilige Gees en die liefde vir die Here gebaseer wees en nie op valse beloftes en dreigemente nie.
2Ko 9:7 “Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het ‘n blymoedige gewer lief.
1Ti 5:17 Laat die ouderlinge wat goed regeer, dubbele eer waardig geag word, veral die wat arbei in woord en leer. 5:18 Want die Skrif sê: Jy mag ‘n os wat graan dors, nie muilband nie; en: Die arbeider is sy loon werd.”
Dit is egter belangrik om eerstens vas te stel of die korrekte leerstellings deur hierdie mense verkondig word! Om geld aan ‘n bediening te gee wat valse of afgewaterde leerstellings verkondig, is om deel aan die verspreiding van daardie valse leerstellings te hê. Dink mooi oor hierdie feit na!

In teenstelling met die valse apostels het Paulus eerbare motiewe gehad, en het hy nie oneerlike metodes gebruik, deur om sy eie leerstellings by die van God te voeg nie. (of om die die woord van God af te water, deur om nie die volledige boodskap van God te verkondig nie.) Hy het dood eenvoudig aan die gemeentes geleer wat die Here hom geleer het en niks anders nie. (Ons behoort dieselfde te doen!)
Hnd 20:33 “Niemand se silwer of goud of klere het ek begeer nie;”
Dit is om hierdie rede dat korrekte Bybelse leerstellings so belangrik is. Vlug van mense wat beweer dat Bybelse leerstellings nie belangrik is nie, en/of eerder tersyde gestel behoort te word om eenheid onder die belydende Christendom te bewerkstellig. (Aldus Angus Buckan en andere soos hy.) Ek is van mening dat ‘n persoon mooi moet kyk watter leerstellings verkondig word, alvorens daar geld aan daardie spesifieke bediening gegee word. Die rede hiervoor is eenvoudig. Die geld wat aan daardie bediening gestuur word kan gebruik word om Mammon te dien, en/of kan ook in die verspreiding van valse leerstellings aangewend word. In so ‘n geval word die duiwel se doelwitte eerder bevoordeel en die Here se belange in werklikheid teengestaan. Dink mooi oor hierdie stelling na! (Waak ook teen gemeentes waar daar toegelaat word dat die ryk mense in die Kerk die leerstellings of beleid van daardie gemeente bepaal, instede daarvan dat slegs die Bybel as maatstaf van die gemeente se beleid dien!)

Dit moet egter in gedagte gehou word dat dit geen sonde is indien ‘n persoon op ‘n eerlike wyse ryk word nie, maar dit word egter ‘n probleem wanneer die liefde vir geld die dryfveer agter so ‘n persoon se optrede is en nie die Heilige Gees nie. Volgens my mening is dit ook verkeerd indien ‘n persoon Godsdiens as middel tot rykdom wil gebruik. Indien ‘n persoon wil ryk word is daar vele ander eerbare beroepe wat hy kan gebruik om sy doelwitte te bereik. Ek glo egter dat die verkondiging van die woord nie een van daardie beroepe behoort te wees nie. (Want nie die Here Jesus Christus of enige van Sy apostels het so ‘n voorbeeld aan ons gelos nie. Hulle het egter alles vir die verkondiging van die Evangelie prysgegee!)
1Ti 6:5 “nuttelose stryery van mense wat verdorwe in hulle verstand en van die waarheid beroof is en dink dat die godsaligheid winsgewend is. Onttrek jou aan sulke mense.”
Daar is baie geldgierige mense wat dink dat godsaligheid winsgewend is. Kyk maar hoe opvallend hierdie tendens op die meerderheid programme op die Christen kanale op televisie is! Dit is ook verkeerd indien ‘n persoon die invloed, wat met rykdom gepaardgaan, misbruik om die Kerk se leierskap en die gemeente as geheel ten koste van Skriftuurlike leerstellings te beïnvloed. Dit beteken ook geensins dat ‘n reik persoon nie ‘n Geesvervulde opsiener of ouderling kan wees nie, maar alle opsieners wat in die gemeente aangestel word, behoort aan die vereistes soos in 1Tim. 3:2-7 gevind te voldoen, naamlik:
1Tim. 3:2 “‘n opsiener dan moet onberispelik wees, die man van een vrou, nugter, ingetoë, fatsoenlik, gasvry, bekwaam om te onderrig; 3:3 geen drinker, geen vegter, geen vuilgewinsoeker nie, maar vriendelik; geen strydlustige, geen geldgierige nie; 3:4 een wat sy eie huis goed regeer en sy kinders met alle waardigheid in onderdanigheid hou. 3:5 Maar as iemand nie weet om sy eie huis te regeer nie, hoe sal hy vir die gemeente van God sorg dra? 3:6 Hy moet nie ‘n nuweling wees nie, sodat hy nie verwaand word en in dieselfde oordeel as die duiwel val nie. 3:7 Maar hy moet ook goeie getuienis hê van die buitestaanders, sodat hy nie in veragting en in die strik van die duiwel val nie.”
Volgens God se woord mag ‘n geldgierige persoon nie as opsiener van die gemeente aangestel word nie. Hoeveel gemeentes volg nog God se opdragte soos hierbo weergegee?

Indien ‘n persoon nie in bostaande vereistes voldoen nie, behoort hy nie as opsiener van God se gemeente aangestel te word nie. Een groot rede vir die wêreldgesindheid en afvalligheid wat ons in die hedendaagse belydende Christendom vind, kan aan die Kerk se ongehoorsaamheid ten opsigte van bostaande opdragte toegeskryf word. My beskeie mening is dat daar ‘n groot verskil tussen die feit dat ‘n persoon, wat die Bybel getrou aan ander mense leer, ‘n lewe uit so ‘n bedieninge moet kan maak (om aan al die nodigste behoeftes te voorsien) en ‘n persoon wat van daardie bediening ‘n winsgewende besigheid of bedryf wil maak. Ongelukkig het die belydende Christendom tot ‘n groot mate ‘n besigheid of winsgewende korporasie geword, wat eerder op die feit dat hulle, hulle getalle lidmate, ten koste van korrekte Bybelse leerstellings en Kerklike tug, wil vergroot, (wat op sy beurt weer meer tiendes en donasies beteken) en daarom word daar van besigheidsmodelle, wat vanuit die sekulêre sakewêreld bekom is, gebruik gemaak instede daarvan om van Christus se model, soos wat ons dit in die Bybel vind, gebruik te maak. (wat nie noodwendig groot getalle lidmate in gemeentes verseker nie, en wat van die herders verwag om die korrekte Skriftuurlike leerstellings pligsgetrou te verkondig, [ wat Kerklike tug insluit] sonder om vir die gevolge daarvan bang te wees. Al sou dit kleiner gemeentes en minder geld beteken.)

Hnd 20:26 “Daarom betuig ek aan julle op hierdie dag dat ek rein is van die bloed van almal. 20:27 Want ek het nie nagelaat om aan julle die hele raad van God te verkondig nie. 20:28 Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy deur sy eie bloed verkry het. 20:29 Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. 20:30 Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan. 20:31 Daarom moet julle waak en onthou dat ek drie jaar lank nag en dag nie opgehou het om elkeen met trane te vermaan nie.”
Onthou die Kerk is net relevant solank as wat dit aan Christus en Sy leerstellings getrou is. (God bepaal die relevansie van die Kerk nie die mensdom nie!) Die ware Kerk van onse Here Jesus Christus word nie deur veranderende menslike opinies, menslike begeertes, wêreldse filosofie, monetêre rykdom, getalle of gewildheid gekwalifiseer of gekwantifiseer nie. Die huidige verheerliking van mense en hulle vleeslike begeerlikhede, wat geldgierigheid insluit, asook wêreldse metodiek is in stryd met God se woord en almal wat hulle aan hierdie sonde skuldig maak gaan persoonlik aan God verantwoordelikheid moet doen! (dit sluit in, mense wat hulleself onder die vaandel van Christendom en in die naam van Christus bemark! Baie mense beweer hulle wys ons die weg na Christus, maar dan is die hoof onderwerp waaroor hulle praat hulleself en hulle eie metodiek wat niks in gemeen het met hoe die Here en Sy apostels te werk gegaan het nie.)

Ter afsluiting: Ons almal moet onthou dat ons maar net rentmeesters is van alles wat God aan ons gegee het. (Dit geld veral vir mense wat geld uit Sy Naam maak!) Mense wat egter geld uit die Here Jesus Christus se naam maak, en wat daardie geld opgaar, en nie in Sy diens, en op die wyse wat Hy bepaal aanwend nie, gaan vir daardie dade van geldgierigheid verantwoordelikheid aan Hom moet doen. Soos alreeds vroeër genoem, is daar niks daarmee fout om ‘n matige inkomste (wat nodig is om te oorleef en God se werk te voltooi) uit die verkondiging van die Here se Naam te maak nie. Dit word egter problematies wanneer Christus se naam as bemarkbare handelsmerk misbruik word (wat valse beloftes van genesing wat nooit plaasvind en valse profesie insluit) om rykdom te bekom en dit dan op te gaar, eerder as om net die nodigste geld te gebruik om te oorleef en die res weer in die diens van die Here aan te wend, naamlik die verkondiging van die Evangelie en om medegelowiges te leer om as getroue dissipels van die Here op hierdie aarde te leef. Ongelukkig word Christus se naam tot so ‘n mate misbruik, dat dit nou alreeds tot ‘n biljoen rand bedryf gegroei het, en dit terwyl daar baie mense is wat nog nie eens van die Evangelie gehoor het nie! (Om nie eens van die hordes gelowiges, wat in sekere lande, onder haglike omstandighede probeer oorleef en met hulle lewens vir die eer om die Here te aanbid moet boet nie! Hoekom word die geld wat so deur hierdie mense opgegaar word, en wat in banke lê, nie eerder aangewend om hierdie medebroeders en susters van ons se lot te verlig nie? Is blote geldgierigheid nie een van die redes hiervoor nie? (nee, ek praat nie hier van die Sosiale Evangelie van Rick Warren en sy P.E.A.C.E. plan nie, maar ek praat van broederlike liefde, die tipe liefde wat God van ons verwag. En onthou, dit is immers Sy geld wat in Sy Naam bekom is!)
Jak 2:14 “Wat baat dit, my broeders, as iemand sê dat hy die geloof het, maar hy het nie die werke nie? Dié geloof kan hom tog nie red nie? 2:15 As daar nou ‘n broeder of suster naak is en aan die daaglikse voedsel gebrek het, 2:16 en een uit julle sou vir hulle sê: Gaan heen in vrede, word warm, word versadig, maar julle gee hulle nie wat vir die liggaam nodig is nie—wat baat dit?”

Daar is deesdae baie mense wat Christus en hoop vir geldelike gewin bemark (geldgierigheid), en hulle maak hope geld daaruit. Hulle gaan egter vir hulle dade rekenskap aan God moet gee! Pasop vir hierdie mense! Derhalwe is dit belangrik om ons motiewe en metodes in lig van God se woord, en onder lyding van die Heilige Gees, in oënskou te neem sodat ons kan sekermaak dat geldgierigheid en selfverheerliking nie die motiewe is waarom ons die Here dien nie!
2Ko 2:17 “Want ons is nie soos baie wat handel dryf met die woord van God nie; maar as opregtheid, maar as uit God, in die teenwoordigheid van God, spreek ons in Christus.”
Jammer vir die mondvol, maar soos ek vroeër genoem het, is hierdie ‘n onderwerp waaroor hele boeke geskryf kan word. Ek hoop my antwoord beantwoord jou vraag.

Seën Groete!

Vic

Vervolgens ‘n gedeeltelike lys van mense wat in my opinie met God se woord handel dryf, naamlik: Benny Hinn, Joel Osteen, Kenneth & Gloria Copeland, Jessie Duplantis, Joyce Meyer, Kenneth Hagin, Creflo Dollar, Paula White, Larry Huch, Myles Munroe, Paul Crouch van TBN netwerk, Fredrick Price, Mike Murdock, John Crowder, John Hagee, Sid Roth, Rod Parsley, TD Jakes, Robert Tilton, Eddie Long, Juanita Bynum, Angus Buchan (Mighty Men); Ray McCauley (Rhema Kerk); “Dr” Theo Wolmarans (Christian Family Church); Pastoor Andre Roebert (River Church); Pastoor Attie Boshoff (Christian Revival Church); Chris Oyakhilome, Joseph Prince, Juanita Bynum, Jimmy Swaggart, Pat Robertson, Oral Roberts, Jerry Savelle, Marilyn Hickey, Morris Cerullo, Todd Bentley, John Avanzin, Rodney Howard-Browne, ens, ens, ens..

Deel met ander asb.