Waarom sterf ons nog?

Waarom Sterf ons Nog?

Vraag: As Jesus vir al ons sondes gesterf het hoekom word ons dan nog siek en sterf. Jammer as dit soos ‘n simpel vraag klink maar dit is nogal belangrik vir my.

Antwoord: Dit is nie ‘n onnosele vraag nie en dit wys dat jy oor die regte dinge dink. Eindelik is dit ‘n baie goeie vraag. As mens het ons nog steeds ons sonde natuur al word ons wedergebore. Wedergeboorte vind in ons gees plaas die oomblik wat ons glo. Maar ons is nog steeds in ons sondige liggaam en pleeg ook nog sonde. Ook is hierdie liggame wat ons het ook nie geskik om die Koninkryk van God in te gaan nie. Ons kry ons nuwe liggame met die eerste opstanding wanneer die wegraping plaasvind. Nie almal sal sterf nie maar sommige sal verander word en ‘n nuwe liggaam kry wat geskik is vir die Hemel.

1Korintiers 15:35 “Maar iemand sal sê: Hoe word die dode opgewek, en met hoedanige liggaam kom hulle?
15:36 Dwase mens! Wat jy saai, word nie lewendig as dit nie gesterf het nie. 15:37 En wat jy saai—jy saai nie die liggaam wat sal word nie, maar ‘n blote korrel, byvoorbeeld van koring of van iets anders. 15:38 Maar God gee dit ‘n liggaam soos Hy gewil het, en aan elkeen van die saadkorrels sy eie liggaam. 15:39 Alle vlees is nie dieselfde vlees nie, maar die vlees van mense is anders as die vlees van vee, en dié van visse anders as dié van voëls. 15:40 En daar is hemelse liggame en aardse liggame; maar die heerlikheid van die hemelse is anders as dié van die aardse. 15:41 Anders is die heerlikheid van die son en anders die heerlikheid van die maan en anders die heerlikheid van die sterre; want die een ster verskil in heerlikheid van die ander ster. 15:42 So is ook die opstanding van die dode: daar word gesaai in verganklikheid, daar word opgewek in onverganklikheid; 15:43 daar word gesaai in oneer, daar word opgewek in heerlikheid; daar word gesaai in swakheid, daar word opgewek in krag. 15:44 ‘n Natuurlike liggaam word gesaai, ‘n geestelike liggaam word opgewek. Daar is ‘n natuurlike liggaam, en daar is ‘n geestelike liggaam. 15:45 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees. 15:46 Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike.”
Soos jy kan sien verduidelik Paulus dit baie mooi hier. Ons liggame wat ons nou het is nie geskik vir die lewe in die Hemele nie en ons moet eers ons verheerlikte liggame verkry en dit is nie nou al nie, maar eers as die Here kom vir Sy Bruid, die Kerk, dan sal ons, ons verheerlikte liggame verkry. (die Leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Drie Fases van Verlossing” te lees.)

15:47 “Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. 15:48 Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. 15:49 En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra. 15:50 Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.”
Die liggame wat ons nou het aards, d.w.s dat dit nog sondig is en met sonde besoedel is. Ons sonde natuur kom tot ‘n einde as ons sterf, of as ons nog leef met die wegraping. Dan word ons verander in ‘n oogwink en kry ons, ons verheerlikte liggaam wat vry sal wees van sonde. (Lees gerus ook die artikels “die Gelowige en lyding

15:51 “Kyk, ek deel julle ‘n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, 15:52 in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word. 15:53 Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word.”
Die gelowiges wat nog leef met die wegraping sal in ‘n oogwink hulle nuwe sondelose liggaam verkry, wat ons die verheerlikte liggaam noem. Dit sal soortgelyk wees aan die liggaam wat Jesus gehad het na Sy opstanding. Dit is wanneer ons sterflike liggaam met onsterflikheid beklee word. Ons gees is alreeds weergebore en daar vind geen verandering daar plaas nie.
15:54 “En wanneer hierdie verganklike met onverganklikheid beklee is en hierdie sterflike met onsterflikheid beklee is, dan sal vervul word die woord wat geskrywe is: Die dood is verslind in die oorwinning. 15:55 Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning?”

Net alleenlik met die opstanding van die Heiliges kan dit dan gesê word dat die dood sy angel verloor het. Soos jy kan sien, praat Paulus van die toekomstige tyd en het dit nie alreeds plaasgevind nie. Dit is iets wat nog moet plaasvind, en soos ek alreeds gesê het, vind dit met die ware Kerk plaas met die wegraping, wanneer die Here ons sondige liggaam verander na ‘n verheerlikte liggaam wat sonder sonde sal wees.
15:56 “Die angel van die dood is die sonde, en die krag van die sonde is die wet. 15:57 Maar God sy dank, wat ons die oorwinning gee deur onse Here Jesus Christus. 15:58 Daarom, my geliefde broeders, wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie tevergeefs is nie.
Net om meer duidelikheid te verkry gaan ek ‘n ander gedeelte van die Skrif hier byvoeg wat hierdie feit duidelik stel.
1Thessalonisece 4:13 “Maar, broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie. 4:14 Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring. 4:15 Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie. 4:16 Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. 4:17 Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. 4:18 Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde.
Soos wat jy kan sien, sit die Here nie Sy voete op aarde neer met die wegraping nie. Hy kom net af tot en by die wolke en roep ons dan op na Hom toe. Hierdie opstanding is net vir die gelowiges wat werklik weergebore is. Die afgestorwe gelowiges se geeste kom saam met Jesus en word met hulle liggame verenig . Ons wat nog leef, gaan in ‘n oogwink verander word, en met ons verheerlikte liggame oorklee word, en saam gaan ons die Here in die wolke tegemoet waarna Hy ons saam met Hom Hemel toe sal neem ,net soos wat Hy belowe het. 
Joh 14:2 “In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei.
14:3 En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.” 

En nou kom ons by jou eintlike vraag. Hoekom sterf ons dan nog. Die rede is dat ons nog ons sondige natuur in hierdie aardse liggaam het. Onthou die Here het ons met hierdie liggame gemaak om vir ewig op aarde te woon, nie in die Hemel nie. As Adam en Eva nie gesondig het nie , sou hulle vir ewig op aarde gebly leef het , maar hulle sou dan nooit Hemel toe kon gaan nie. Slegs op grond van God se onbeskryflike liefde en genade word ons, as sondaars, die geleentheid gegee om nie slegs vergifnis van ons sondes te verkry nie, maar om saam met Jesus mede erfgename te word van alles wat God besit. Nie slegs die aarde, soos wat dit oorspronklik die bedoeling was nie. Dit is nou vir jou genade!!! Dink bietjie hieroor na! Ons kry nou baie meer as wat ons sou gehad het, sou ons nie gesondig het nie.

Dit is ook hoekom die Here nie almal gesond maak soos wat die geloof geneeshere op TBN en ander Christelike kanale wil hê ons moet glo nie. (Lees asb die artikel “Genees en genesing tydens die Post Apostoliese Tydperk“) Want dit is nie noodwendig die Here se wil om ons vir ewig gesond te hou op hierdie bose wêreld nie. Dink net vir jouself hoe sou dit gewees het om vir ewig met pyn en geweld op hierdie bose wêreld te moes woon, met geen moontlikheid van bevryding nie. Dit sou verskriklik wees, vra maar net aan die kind wat op hierdie oomblik in Indië op straat lê en sterf van die honger. Wat van die meisie wat teen haar wil in prostitusie gedwing word en wat op hierdie oomblik vieslik mishandel word. Dit is hoekom die Here ons hier gaan kom wegneem en hierdie bose wêreld gaan oordeel en Sy koninkryk op aarde vestig! Hy self gaan dit kom doen, nie die Kerk soos wat sommiges beweer nie. Dit is egter stof vir ‘n latere artikel.

As iemand in geloof sterf, en jy is baie hartseer onthou net een ding, dat as daardie persoon ‘n wedergebore kind van die Here is, dan is sy probleme op ‘n einde. Boonop kan dit ook as die beantwoording van Christus se gebed op aarde, wat Hy aan Sy Vader gerig het, beskou word. Die Vader beantwoord ook Jesus se gebed elke keer as een van Sy kinders in geloof sterwe.
Joh 17:24 “Vader, Ek wil dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My sal wees, sodat hulle my heerlikheid kan aanskou wat U My gegee het, omdat U My liefgehad het voor die grondlegging van die wêreld.”
Onthou Jesus is in die Hemel en Hy wil ons ook daar hê. Troos jouself met hierdie wete, want as gelowiges, groet ons mekaar net vir ‘n tyd lank indien een van ons tot sterwe kom, want ons het God se woord dat ons mekaar weer sal sien, en boonop onder baie beter omstandighede. As ons nie sou sterf nie, sou ons nooit weer ons afgestorwe voorsate sien nie. Nou sal ons egter mekaar nie net weer sien nie, maar ook vir altyd bymekaar wees met die wete dat ons nooit weer van mekaar geskei kan word nie.

Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek glo dat die Here nog mense gesond maak , maar dit sal slegs geskied as dit Sy Wil is. Net die Here weet werklik wat lê voor in ‘n mens se toekoms en weet van al die swaarkry en lyding wat ons nie eers van bewus is nie. Dit is beter om by die Vader te wees, as om hier op aarde te bly en te ly. My raad aan jou is om jou toekoms in Sy hande te los en Sy wil met jou laat geskied. Jy sal later besef dat dit die beste besluit is wat jy ooit sou kon neem. Die Here weet wat die beste vir ons is. Ons moet ook soos Paulus kan bid.
Filippense 1:21 “Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins.
1:22 Maar as ek in die vlees moet lewe, dan beteken dit vir my vrugbare arbeid; en wat ek sal kies, weet ek nie. 1:23 Want ek word van weerskante gedring: ek het verlange om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste;”

Ek los jou met hierdie laaste gedagte
Filippense 3:20 “Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus, 3:21 wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam volgens die werking waardeur Hy ook alles aan Homself kan onderwerp.”

Seën Groete

Vic

 

Deel met ander asb.