Moenie Bekommer nie!

Moenie Bekommer nie!

Lukas 12:22 “En Hy het aan sy dissipels gesê: Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor jul lewe, wat julle sal eet, of oor jul liggaam, wat julle sal aantrek nie. 12:23 Die lewe is meer as die voedsel en die liggaam as die klere. 12:24 Kyk na die kraaie, want hulle saai nie en hulle maai nie; hulle het geen voorraadkamer of skuur nie, en tog voed God hulle. Hoeveel meer is julle nie werd as die voëls nie!
12:25 En wie onder julle kan, deur hom te kwel, een el by sy lengte voeg? 12:26 As julle dan selfs nie die geringste kan doen nie, waarom kwel julle jul oor die ander dinge?
Opmerking: Hoe maklik raak ons nie beangstig as dinge begin skeef loop nie. Hoe hartseer moet dit nie ons Here maak, wanneer ons deur ons optrede demonstreer dat ons nie volkome op Hom vertrou nie.  Hoekom bekommer ons, onsself so maklik?

Lukas 12:27 “Kyk na die lelies, hoe hulle groei: hulle arbei nie en hulle spin nie; en Ek sê vir julle, selfs Salomo in al sy heerlikheid was nie bekleed soos een van hulle nie. 12:28 As God dan die gras van die veld wat vandag daar is en môre in ‘n oond gegooi word, so beklee, hoeveel meer vir julle, kleingelowiges!
Opmerking: Ons moet op die punt kom, waar ons besef dat die Here Jesus Christus ons met Sy bloed losgekoop het. Ons behoort nie meer aan onsself nie, maar behoort aan Hom. Ons hoef onsself nie te bekommer nie. Ons is Sy eiendom!
1 Korinthiërs 6:19 “Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie? 6:20 Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.”
Noudat ons weet dat ons nie aan onsself behoort nie, hoekom bekommer ons dan onsself oor alles?  In die Here Jesus Christus het die Vader ons net so lief as wat Hy die Seun het. Oordink bietjie hierdie feit en die geweldige implikasies wat dit vir ons as gelowiges inhou. Sal God die Vader, Jesus Christus in die steek laat? Nee, net so min sal Hy ons in die steek laat.  Kom ons verheerlik Hom vir Sy genade, deur om op Hom te vertrou, want aangesien ons nou aan Hom behoort is dit mos Sy plig om na ons om te sien. Ons moet ophou om onsself oor alles te wil bekommer.

Lukas 12:29 “Julle moet ook nie soek wat julle sal eet of wat julle sal drink nie, en julle nie ongerus maak nie; 12:30 want al hierdie dinge soek die nasies van die wêreld, en julle Vader weet dat julle hierdie dinge nodig het.
Opmerking: Ons hemelse Vader weet baie beter as ons, wat ons werklik nodig het. Hy het ons immers geskape. Ons moenie soos die ongelowiges onsself, oor ons basiese behoeftes, letterlik dood bekommer nie! Ons moenie soos die Israeliete in die woestyn murmureer as dinge nie verloop soos wat ons verwag het nie. God is in beheer van alles , en Hy wil ons leer om op Hom alleen staat te maak.
1Korintiers 10:10 “En moenie murmureer soos ook sommige van hulle gemurmureer het nie, en hulle het deur die verderwer omgekom.
10:11 Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.
Soms laat die Here beproewinge in ons lewens toe, maar die doel daarvan is altyd ten goede vir die persoon. Vertrou net die Here, Hy sal jou deur alles lei en as beter mens aan die anderkant uitbring. Die Here werk met die ewigheid in gedagte, nie soos ons wat net op die hier en nou fokus nie. Vandag se beproewing is more se uitweg! ‘n Feit wat ons dalk eers moet aanleer alvorens ons werklik geestelik kan groei.
Jakobus 1:2 “Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val, 1:3 omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk. 1:4 Maar die lydsaamheid moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie. 5:11 Kyk, ons reken hulle geluksalig wat verdra. Julle het gehoor van die lydsaamheid van Job, en julle het die einddoel van die Here met hom gesien, dat die Here vol medelye en ontferming is.”

Lukas 12:31 “Maar soek die koninkryk van God, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.”
Opmerking: Dit is nie ons plig om onsself dood te bekommer nie . Ons plig is om Sy koninkryk en Sy geregtigheid te soek, en die Here sal outomaties alles wat ons nodig het byvoeg. Ons plig is om te doen wat die Bybel ons beveel om te doen. Die res moet ons in ons Hemelse Vader se hande los. Slegs God ken, en beheer, werklik die toekoms. Ons moet ons nie blind staar teen die onmoontlike nie. Wat vir ons onmoontlik mag lyk is vir God ‘n geleentheid om Sy almag en wysheid aan ons te demonstreer. Niks is vir die Here onmoontlik nie! Die Here het opsies wat ons nie eers van kan droom nie. Neem Josef as voorbeeld.  Terwyl hy onregmatig in die tronk gesit het, was sy vooruitsigte maar skraal. Indien ons, onsself in dieselfde  omstandighede as hy bevind het, sou ons ook sekerlik nie baie vooruitsigte vir die toekoms gekoester het nie. Dit is egter verbasend om te sien wat die Here alles in en deur Josef bereik het. Soos wat die Here die deure oop maak, so moet ons deur daardie oop deur gaan.  Wanneer die deure egter toe bly, moet ons besef dat die Here ons dalk eers, vir die taak wat Hy ons voor wil aanwend, voor moet berei en dit neem tyd, geloof en geduld!  Die Here het ons nie gered om net vir onsself te bly lewe nie. Hy het ons gered met die doel om goeie werke te doen en dit verg soms opleiding in God se universiteit van die lewe. Hy mag dalk nie grade op papier daar uitgee nie, maar Hy bou karakter, iets wat baie belangriker as ‘n stuk papier is. Geld kan nie ware karakter koop nie. Ware karakter kan slegs deur God, in Sy klaskamer van die lewe ontwikkel word. Net soos wat die Vader nie toegelaat het dat die Here Jesus Christus in die woestyn van honger omgekom nie, so sal Hy ook niemand laat beskaamd staan wat op Hom met sy hele hart vertrou nie. Onthou hierdie feit! Die Here het hierdie dinge in Sy Woord laat opteken, met die doel dat ons daardeur kan leer en weer ander kan vertroos.  
Psalm 40:4 (40:5) “Welgeluksalig is die man wat sy vertroue in die HERE stel en hom nie wend tot hoogmoediges en leuendienaars nie.
27:14 Wag op die Here! Wees sterk en laat jou hart sterk wees! Ja, wag op die HERE!
42:5 (42:6) Wat buig jy jou neer, o my siel, en is onrustig in my? Hoop op God; want ek sal Hom nog loof—die verlossing van sy aangesig!”

As kinders van God moet ons uitvind wat Sy doel vir ons lewens is. En daarvoor moet ons naby aan God wandel, sodat Hy, Sy wil vir ons lewens aan ons kan openbaar. In hierdie opsig het Paulus goeie raad gegee en ons sal wys wees om dit ter harte te neem. 
Romeine 12:1 “Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens. 12:2 En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.”

In tye waar dit die Here se wil is dat ons geduldig op Hom vir die nodige leiding moet wag, sal dit raadsaam wees om juis hierdie wagtydperk aan te wend om die Here beter te leer ken en in ‘n nouer vertrouensverhouding met God te wandel.  Dit kan dalk een van die redes wees waarom Hy nie onmiddellik die antwoord stuur nie. Kennis van God, kom altyd deur die bestudering van die Bybel, wat Sy woord aan ons is. Bid altyddeur en vertrou op die Here. Soms is dit belangrik om ons motiewe agter ons versoeke te bepaal, omrede God heilig is en heiligheid van ons verwag. God se eer behoort die hoofdoel in ons lewens te wees en nie ons eie begeertes en welluste nie.
Jakobus 4:2 “Julle begeer en julle het nie, julle pleeg moord en is naywerig en julle kan niks verkry nie. Julle veg en maak oorlog, en julle het nie, omdat julle nie bid nie. 4:3 Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring.”

God is absoluut heilig, en derhalwe sal Hy ons nooit in ons sondes, of slegte gewoontes, ondersteun nie. As ons wil hê dat Hy ons moet help, moet ons, ons sondes bely en laat staan. Jy gee tog nie jou kind ‘n pistool net omdat hy vra nie. Jy gee hom wat jy weet hy nodig het en nie iets wat hom skade gaan berokken nie.
Kolossense 3:5 “Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodediens is, 3:6 waardeur die toorn van God oor die kinders van die ongehoorsaamheid kom, 3:7 waarin julle ook vroeër gewandel het toe julle daarin geleef het. 3:8 Maar nou moet julle ook dit alles aflê, naamlik toorn, woede, boosheid, laster, skandelike taal uit julle mond.
3:9 Lieg nie vir mekaar nie, omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het 3:10 en julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper, 3:11 waar daar nie Griek en Jood, besnedene en onbesnedene, barbaar, Skith, slaaf, vryman is nie, maar Christus is alles en in almal.”

Wees versigtig vir mense wat loop en verkondig dat alles maklik gaan wees indien ‘n persoon die Here aanneem. Hierdie dwalleerstelling kom veral onder die proponente van die Voorspoed Evangelie voor. Om sulke valshede te verkondig maak mens gewild, maar dit is nie die waarheid nie. Vra maar enige persoon wat langer as ‘n paar jaar lewe. Hierdie wêreld waarin ons leef kan moeilik raak! Dit kan ook daartoe lei, dat mense vir ewig van die Here af wegloop indien hulle teëspoed beleef, veral nadat hulle sulke vals beloftes gehoor en geglo het. Die Here self het ons gewaarsku dat ons dit moeilik gaan hê in hierdie wêreld. As gelowiges hoef ons, onsself egter nie dood te bekommer nie, want die Here is volkome in beheer.
Johannes 16:33 “Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.
Johannes 14:1 Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My.”

Indien ons volkome op die Here vertrou, kan ons verseker weet dat Hy ons deur al die moeilikhede sal lei en ons met Homself verenig. Geen probleem is te groot vir God nie. Baie min karakter word om die kospotte van Egipte (die wêreld)  geleer en verkry. Dit is in die storms van die lewe waar ons leer om op die Here alleen te vertrou en waar goddelike karakter aangeleer word. As ons deur die storm gegaan het, en terugkyk, sal ons verbaas wees hoe duidelik mens God se Hand in alles kan raaksien, maar in die tye van donkerte sien ons God nie so maklik raak nie. Dit is in hierdie tye waar geloof van uiterste belang is. Onthou ons wandel in geloof, nie op sig nie! Hou op met bekommer en vertrou die Here die Almagtige! Moenie onrustig raak nie! Hou net goeie moed en fokus op die Here. Onthou dit is juis ons geloof wat God behaag!

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.