niere

Wat beteken dit as die Bybel sê dat God my niere gaan deursoek?

Vraag: Kan jy my asb help. Hoekom word daar in die Bybel gesê dat ons niere ook deursoek sal word? Hoekom die niere? Hier het ek twee verse aangehaal, alhoewel dit ook op ander plekke in die Bybel voorkom.
Psa 16:7 “Ek sal die HERE loof wat my raad gegee het; selfs in die nag vermaan my niere my.
Psa 26:2 Toets my, HERE, en beproef my, keur my niere en my hart;Ӑ

Antwoord: Dis ‘n goeie vraag. Die Bybel gebruik beeldspraak om na ‘n mens se diepste wese, naamlik of jou hart of niere te verwys, as ‘n setel vir jou diepste motiewe en begeertes. Daarom word gesê dat God ons niere gaan toets. God gaan ons diepste motiewe in ag neem, nie net ons uiterlike optrede nie, wat soms mooi kan voorkom, maar met die verkeerde motiewe daar agter. Ek kan jou byvoorbeeld nooi om saam met my, my biltong te eet. Uiterlik mag ek vroom voorkom, maar in my diepste wese verwens ek jou. Of ek kan by jou kom kuier en vriendelik voorkom, maar sodra ek van jou weggaan beskinder ek jou en maak jou sleg. God sien sulke dinge.
Jer 17:10 “Ek, die HERE, deursoek die hart, toets die niere, om aan elkeen te gee na sy weë, volgens die vrug van sy handelinge.”
Alles wat nie tot eer van God gedoen is nie, en selfs goeie dade wat met die verkeerde motiewe gedoen is, gaan by die Regterstoel Oordeel van Christus verwerp word. Daarom bid ek altyd, sodat God my motiewe aan my sal uitlig, want net Hy weet werklik wat my diepste motiewe is, omrede ek nog steeds oor ‘n sonde natuur beskik, wat sal veroorsaak, dat ek myself vir alles sal wil regverdig of myself kan mislei.
Psa 139:23 Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; 139:24 en kyk of daar by my ‘n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!”

Moenie die fout begaan om op jou eie hart en gevoelens staat te maak nie. Mens hoor nogal gereeld van mense wat ander aanraai om net hulle eie hart te volg. Die Bybel stel dit egter baie duidelik, dat die mens se hart uiters bedrieglik en verdorwe is.
Jer 17:9 “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?”
Slegs God dra volkome kennis van die verdorwenheid van die mens se hart! Indien ‘n persoon sy eie hart gaan navolg en nie God se leiding nie, gaan daardie persoon ernstig mislei word. Hy mag dalk die idee kry, dat hy ‘n suksesvolle aardse bestaan, in God se oë gevoer het, net om te laat uit te vind dat hy homself mislei het, deur om sy eie hart te volg. Daarom moet ons bid en God vra, om deur Sy Gees, ons diepste motiewe en sondige begeertes aan ons uit te wys. Dit gebeur gewoonlik, soos wat ons die Bybel bestudeer en tyd met God in gebed deurbring. Ons moenie op ons eie gevoelens en begeertes staatmaak nie. Dus moet ons van onsself af wegkyk en op die Here Jesus Christus en Sy woord (Die Bybel) fokus.

Bestudeer jou Bybel en fokus op jou verhouding met jou hemelse Vader. Soos wat jy jou Bybel bestudeer, sit jy in effek by God se voete en leer direk van Hom af. (Mits jy toelaat, dat God vir Homself praat en jy nie jou eie leerstellings op die Bybel afdwing nie.) Ek het al gevind, dat ek soms in die aand wakker word, en op die een of ander wyse, die vraagstuk waarmee ek geworstel het duidelik verstaan! Dit lei weer tot dieper insigte, indien ek dit wat ek geleer het, met God bespreek en die beginsels, soos wat dit in die Bybel opgeteken staan, toepas en gehoorsaam. Een ding wat ek ook al besef het, is dat ons motiewe nie altyd suiwer is nie. Daarom moet ons God vra om ons niere te deursoek, sodat Hy ons toenemend na die beeld van Sy Seun kan verander.
2Ko 3:18 “En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ‘n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is.”

Die mens is geskape met die doel om God in alles te verheerlik. Enige iets wat nie God verheerlik; of wat in onafhanklikheid van God gedoen word; of waarin God nie in ag geneem word nie, is goddeloosheid. Al is dit goeie werke, soos kerk bywoon of enige goeie dade doen. (God-loos, dus goddeloosheid en alle goddeloosheid is sonde!) Kyk maar na die Fariseërs in die Bybel. Hulle het goeie werke gedoen, maar God was nie deel daarvan nie en God het ook nie die werke in en deur hulle gedoen nie.  (Lees asb die artikels “Heiligmaking op grond van genade  deur geloof” vir meer inligting rondom hierdie feit.) En daarom moet God ons goddeloosheid aan ons uitwys, want in die meeste gevalle, sal ons dit nooit self kan raaksien nie. Om hierdie rede is dit belangrik dat God ons diepste wese (niere en hart) moet ondersoek en aan die sondige mens kan uitwys wat net God self kan weet. Hierdie stelling geld veral vir gelowiges, en daarom is dit so belangrik dat God ons diepste motiewe (niere)  moet deursoek, sodat ons God werklik mag verheerlik. En onthou:
Efs 2:10 “Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.”
Maar goeie werke, met die verkeerde motiewe gedoen, is waardeloos!

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.