pleit van Jesus se bloed

Pleit van Jesus se bloed ‘n skriftuurlike perspektief

Is die pleit van die bloed van Jesus oor omstandighede, mense, huise, enige voorwerp, en selfs dorpe en stede ‘n skriftuurlike leerstelling? Wanneer dit by korrekte Bybelse leerstellings kom is dit van uiterste belang dat ons, ons leerstellings vanuit slegs die Skrifte bekom. Daar is baie onbybelse leerstellings wat van buite die Bybel in die Kerk ingebring is en dit het in baie gevalle tot ernstige dwaalleerstelling aanleiding gegee. Valse leerstellings bring nooit ‘n persoon nader aan die Here nie en dien eerder as barometer van hoe ver ons in werklik van die Here af wegbeweeg het. Onthou, die mate waarin ons getrou aan korrekte Bybelse leerstellings vashou tot daardie mate is ons naby aan God. Ons kan nie aan dwaalleerstelling vashou, net omrede dit goed klink, en verwag dat ons naby die Here moet wees nie. Dit werk nie so nie. Die gevaar van dwaalleerstelling is juis dat dit ‘n persoon verkeerdelik onder die indruk plaas dat hy in God se wil leef juis wanneer dit nie in werklikheid die geval is nie. Om hierdie rede is dit uiters gevaarlik om op ons gevoelens staat te maak, omrede ons gevoelens in baie gevalle misleidend kan wees. Slegs die Bybel moet as barometer vir ons leerstellings dien en niks anders nie. Met die skryf van hierdie artikel sal slegs die Skrifte (wat God se woord aan ons is) as maatstaf dien waarteen die leerstelling van die pleit van Jesus se bloed gemeet sal word.

Hierdie leerstelling kom nêrens in die Bybel voor nie: Hierdie leerstelling kom veral onder die pinkster en Charismatiese kerke voor, en van daar af het dit selfs na Christene wat in ander denominasies is versprei. Daar is mense wat letterlik die bloed van Jesus oor alles, vanaf ‘n gebreekte motor, pap wiel, ens pleit. Nie Christus, of enige van die apostels het hierdie leerstelling verkondig nie. Boonop is daar nie een beveel in die Bybel te vinde wat gelowiges aansê om die bloed van Jesus oor enige voorwerp, persoon of situasie te pleit nie. Die vroeë Christene het die Here Jesus Christus se opdrag om die evangelie te verkondig ten harte geneem, en oral gegaan en die evangelie met almal wie wou luister gedeel. Nie in een geval merk ons dat hulle eers die bloed van Christus oor hulleself, ‘n stad, dorp of gebou gepleit het, alvorens hulle daarin gegaan om die evangelie te verkondig nie. Hulle het net dood eenvoudig stede of geboue binnegegaan en die evangelie verkondig.

Christus se bloed is slegs eenmaal uitgegiet: Die Here Jesus Christus het slegs eenmaal, op ‘n spesifieke punt in tyd, op ‘n spesifieke plek aan die kruis gesterf en Sy bloed is daar uitgegiet waar Hy aan die kruis gesterf het. Hierdie gebeurtenis is dus ‘n historiese feit wat nooit weer herhaal sal word nie. Met die uitgieting van Christus se bloed, het Hy vir eens en altyd vir ons sondes gesterf en sodoende ons versoening moontlik gemaak. Op grond van hierdie gebeurtenis het die voorhangsel, wat in die tempel was, van bo tot onder geskeur, waardeur God verklaar het dat op grond van Christus se kruisdood die weg na Hom oop is. (Mark.15:38; Matt.27:51) Wanneer ‘n persoon geloof in die Evangelie plaas, dan word daardie persoon deur die Heilige Gees vir eens en vir altyd in Christus gedoop. (Rom.6:3) Boonop word daardie persoon met die Heilige Gees verseël, wat as bewys dien dat hy vir altyd God se kind is en nooit verlore sal kan gaan nie. (Ef.1:13) Ons moet egter onthou dat Christus se fisiese bloed slegs eenmaal ten tye van Sy dood uitgegiet is, en Sy bloed dryf nie nou op die een of ander mistiese wyse in die kosmos rond vir ons om dit oor onsself te pleit nie. Dit is Christus se dood aan die kruis wat ons verlossing bewerkstellig het.
Heb.2:14 Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het Hy dit ook op dieselfde manier deelagtig geword, sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het — dit is die duiwel —“

Dit vervang geloof in Christus met ‘n mantra: Die krag of waarde van ons geloof is nie in ‘n mantra gesetel nie, maar in die objek waarin ons, ons geloof plaas, naamlik die Here Jesus Christus. (wat Sy dood aan die kruis insluit) Wanneer ‘n persoon die bloed van Jesus oor homself pleit, dan plaas daardie persoon sy geloof/vertroue in die mantra (die pleit van Jesus se bloed) in stede daarvan dat hy sy geloof/vertroue in die Here plaas. Dit is niks anders as ‘n vorm van bygelowigheid nie! Onthou, God sal nooi dwaalleer goedkeur nie. Indien God verplig is om ons versoek, wanneer ons die bloed van Christus pleit toe te staan, dan het ons Hom mos nie meer nodig nie. Onthou, die krag van ons geloof is in die voorwerp waarin ons dit plaas gesetel. Ons geloof moet in Christus wees nie in die een of ander mantra nie. Dit is, en bly, altyd Satan se begeerte om ons geloof van Christus af te lei in ‘n poging om dit op iets anders te plaas.
Joh.14:1 “Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My.”
Ons moet in God glo, nie in ‘n mantra nie!! Om in hierdie onskriftuurlike mantra te glo is niks anders as afgodediens nie. Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Generiese geloof vs Reddende Geloof” te lees.

Hierdie leerstelling vervang God se wil met ons wil: Die pleit van Jesus se bloed kan as ‘n subtiele poging beskou word waardeur ‘n persoon poog om God se wil met sy eie wil te vervang. God se wil moet in alle tye die voorrang bo ons eie wil geniet. En hierdie feit behoort elke ware gelowige se hartsbegeerte te wees. Maar wanneer ‘n persoon die bloed van Christus oor homself, ander, of ‘n voorwerp pleit speel God se wil nie meer die heersende rol nie. Indien dit die geval is, kan ‘n persoon mos net die bloed van Christus oor homself pleit en dan sy eie wil gaan doen. In hierdie opsig kan Jakobus se vermaning ook op so ‘n persoon toegepas word, naamlik:
Jak.4:13 “Kom nou, julle wat sê: (ons pleit in hierdie geval die bloed van Christus oor myself en dan verklaar ons:) Vandag of môre sal ons na dié en dié stad gaan en daar een jaar deurbring en handel drywe en wins maak — 14 julle wat nie eens weet wat môre sal gebeur nie. Want hoedanig is julle lewe? Dit is tog maar ‘n damp wat vir ‘n kort tydjie verskyn en daarna verdwyn. 15 In plaas dat julle sê: As die Here wil en ons lewe, dan sal ons dit of dat doen. 16 Maar nou roem julle in jul grootpratery. Al sulke roem is verkeerd. 17 Wie dan weet om goed te doen en dit nie doen nie, vir hom is dit sonde.”
Die pleit van die bloed van Jesus is nie ‘n Bybelse leerstelling nie, en is van buite af in die tekste van die Skrifte ingelees, en het meer in gemeen met die dwaalleer van die “Woord Geloof Teologie” as met ware Bybelse Christendom.

Die Here beveel ons om ons versoeke na Hom in gebed te neem: Die Skrifte beveel ons om al ons begeertes na God is gebed te neem. Nêrens word ons aangesê om die bloed van Jesus oor ons te pleit, of die een of ander onbybelse mantra op te sê waardeur ons Sy hulp kan bekom nie, naamlik:
Filip.4:6 “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.
En indien dit God se wil is sal Hy ons versoek toestaan, naamlik:
1Joh.:5:14 “En dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens sy wil.”

Die pleit van Jesus se bloed bind geensins bose geeste nie: Hierdie mistasting is soortgelyk in die dwaalleerstelling wat beweer dat gelowiges bose geeste kan bind. Baie mense glo, dat wanneer hulle die bloed van Jesus oor ‘n persoon, voorwerp, omstandighede, en selfs dorpe, en stede bid, dit Satan se bedrywighede sal verhinder. Dit sal nie! Weereens vind ons nêrens in die Bybel die bevel om dit te doen nie. Ons word eerder aangesê om die duiwel te weerstaan (omrede ons hom nie kan bind nie) en dan sal hy van ons wegvlug.
Jak.4:7 “Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.” (om onsself aan God te onderwerp beteken ook dat ons korrekte leerstellings toepas en met dwaalleer breek)
Die skrifte stel dit baie duidelik dat Satan nou as die god van hierdie wêreld oor ongeredde mense regeer, naamlik:
2Kor.4:4 “naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie.”
En boonop loop hy soos ‘n brullende leeu rond (en is dus nie gebind nie) om te kyk wie hy kan verskeur.
1Pet.5:8 “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind.”

Wat van Paulus wie deur ‘n bose gees met die vuis geslaan is. Sou hy deur die pleit van die bloed die bose gees kon bind of verdryf? Hoekom het hy nie die bloed gepleit nie? Want dit is nie ‘n Bybelse leerstelling nie!
2Kor.12:7 “En dat ek my oor die voortreflikheid van die openbaringe nie sou verhef nie, is my ‘n doring in die vlees gegee, ‘n engel van die Satan, om my met die vuis te slaan, dat ek my nie sou verhef nie. 8 Hieroor het ek die Here drie maal gebid, dat hy van my sou wyk. 9 En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon.”
Nee, dit was juis God wat die bose gees toegelaat het om Paulus te teister, sodat Paulus van die sonde van hoogmoed weerhou kon word. Sal ons die pleit van die bloed kan gebruik om God se wil tersyde te stel of om dit te omseil? Nee stellig nie!!

Dit geld ook vir die Bloed van Christus oor dorpe en stede bid. Jy kan maar pleit totdat jy blou in die gesig is. Die wêreld gaan al hoe meer goddeloos raak, want God sê dit in Sy woord. Indien ons wel die duiwel deur die pleit van die bloed kan afweer, waarom pleit ons dan nie net die bloed oor die hele aarde nie, en dan behoort alle probleme op aarde mos iets van die verlede te wees? Ons kan nie, want die pleit van die bloed van Christus is nie ‘n Bybelse leerstelling nie.
1Tim.4:1 “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe (leerstellings) van duiwels sal aanhang
2Tim.4:3 want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer
(Bybelse leerstellings) nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede,”

Boonop, sluit die wapenrusting wat God ons gegee het nie hierdie mantra in nie.
Ef.6:10 Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. 11 Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. 12 Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug. 13 Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly. 14 Staan dan vas, julle lendene met die waarheid omgord, met die borswapen van die geregtigheid aan, 15 en as skoene aan julle voete die bereidheid vir die evangelie van vrede. 16 Behalwe dit alles neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus. 17 En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees — dit is die woord van God — 18 terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges”

Die duiwel sal as die god van hierdie bose wêreld regeer, tot en met wanneer Christus, na afloop van die Groot Verdrukking, met Sy wederkoms, Satan vir duisend jaar lank laat bind. Ook sal die bind van Satan nie deur ‘n mens plaasvind nie, maar ‘n engel sal dit op bevel van Christus uitvoer.
Openb.20:1 “En ek het ‘n engel uit die hemel sien neerdaal, met die sleutel van die afgrond en ‘n groot ketting in sy hand. 2 En hy het die draak gegryp die ou slang wat die duiwel en die Satan is en hy het hom gebind duisend jaar lank, 3 en hom in die afgrond gewerp en hom toegesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie. Daarna moet hy dan ‘n kort tydjie ontbind word.”
Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Bind en ontbind van bose geeste”, asook “God se sistematiese oorwinning oor Satan” te lees.

Gewilde proefskrifte waarop hierdie dwaalleer op gebaseer word: Openb.12:11 word gewoonlik as proefskrif gebruik om hierdie dwaalleerstelling te regverdig. Maar is hierdie bewering egter skriftuurlik?
Openb.12:11 “En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie.”
Die konteks handel oor gelowiges wat tydens die Groot Verdrukking, na afloop van die wegraping, deur die Antichris vir hulle geloof in Christus gedood is. Hulle het Satan deur die getuienis van hulle geloof in Christus se kruisdood (die bloed van die Lam) oorwin, en is a.g.v. hierdie getuienis van hulle gedood, en nou bevind hulle hulleself in die Hemel by God. (vir die gelowige is die dood altyd ‘n seën, omrede sy omstandighede drasties na afloop van sy dood verbeter. Die leser word aangeraai om die artikel “Wat is die ewige lewe” te lees.) Mens kan nie slegs een teksgedeelte wat buite konteks aangehaal is gebruik om ‘n leerstelling te formeer nie. Hierdie teksgedeelte handel glad nie oor die pleit van Jesus se bloed oor hulle nie. Inteendeel, hulle is juis vir hulle getuienis vir Christus gedood. Die aanhangers van die pleit van die bloed leerstelling, sou die bloed juis oor hulleself gepleit het, juis met die hoop dat hulle nie deur die Antichris om die lewe gebring sou word nie.

Ook kan mens nie Ou Testamentiese teksgedeeltes soos Exodus 12:5-7 wil aanwend as proefteks dat ons die bloed oor onsself moet pleit, net omrede die Jode die bloed aan hulle deurkosyne in Egipte moes smeer nie. Hulle moes die bloed van ‘n lam aan die deurkosyne smeer, nie die bloed van die geslagte lam oor hulle pleit nie! En boonop is Christus die vervulling van die Ou Testamentiese Wet, wat die tipes van Hom, waarvan die paaslam een is, insluit.

Ter Afsluiting: Dit is nie ware godsdiens, om willens en wetens onbybelse leerstellings in God se naam te verkondig nie. Om dit te doen is eerder ‘n vorm van rebellie. Dit geld vir alles wat ons in Sy naam doen. Die pleit van Jesus se bloed is ‘n goeie voorbeeld van hoe dwaalleer die Kerk binnegedring het en tot watter mate valse leerstellings deel van die belydende Christendom geword het. My skoonma het my nou die dag ‘n Whattsapp boodskap gestuur, waar die persone wat die beeldmateriaal gemaak het, duisende mense (meestal jong mense) toon wat by die megakerke en in universiteit stadions vergader as bewys dat die wêreld ‘n geestelike herlewing beleef. Wat hulle egter nie noem nie, is die feit dat die meeste van hierdie megakerke deur valse leeraars, soos byvoorbeeld die Woord Geloof Beweging”, Nuwe Apostoliese Reformasie, asook groepe vanuit die Ontluikende Kerk beweging en baie onder gelei word. Hierdie mense handhaaf nie ‘n hoë agting vir korrekte Bybelse leerstellings nie en daarom is hulle so gewild. Andy Stanley, een sodanige megakerk leier, verwerp in effek op sy webtuiste die konsep van ‘n Christendom wat op die Bybel as enigste fondasie van hulle geloof staatmaak. Maar vir enige ware herlewing om plaas te vind, moet daar na slegs die Skrifte teruggegaan word, en korrekte Bybelse leerstellings verkondig word, anders is dit nie ‘n herlewing nie maar eerder grootskaalse afval. Werklike herlewing kan nie van korrekte Bybelse leerstellings geskei word nie, en om hierdie rede is mense soos Andy Stanley en ander soos hy so gewild. In kontras daarmee sien ons eerder hoe Bybelse profesie voor ons eie oë in vervulling gaan, naamlik:
1Tim.4:1 “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe (leerstellings) van duiwels sal aanhang
2Tim.4:3 want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer
(leerstellings) nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede,”

Onthou, God kan nie van Sy woord (die Bybel) geskei word nie. Indien ‘n persoon willens en wetens aan valse leerstellings vashou, of sodanige leraars ondersteun, dan is daardie persoon in rebellie teenoor God en werk in effek saam met die duiwel. Ons kan verwag dat Satan toenemend van hierdie sogenaamde Christelike bewegings gebruik gaan maak om ware gelowiges te begin vervolg.
2Tim.3:12 “En almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word.”
Ware gelowiges kan toenemend vervolging verwag, nie ‘n wêreldwye herlewing nie! Die pleit van Jesus se bloed is een so valse leerstelling wat die fokus van Christus afhaal en dit op ‘n mantra fokus. Ek sal enige gelowige aanraai om hierdie valse leerstelling heeltemal te vermy. En laastens: Ons kan nie beweer dat ons die Here liefhet en op dieselfde oomblik nie Sy woord (die Bybel) eer nie.

Seën Groete!

Vic

Deel met ander asb.