God se genade

Die mens se sondeskuld verhoed nie God se genade nie

God se genade word nooit teruggehou op grond van die mens se sonde nie. Daar heers groot verwarring wanneer dit by die onderwerp van God se genade sover dit by die verlossing van die mens kom. Boonop dek God se genade ‘n baie breër spektrum as slegs die mens se verlossing. Genade sluit God se motief vir die skepping, onderhouding en die voleinding van die heelal in. Indien ‘n persoon nie die volle omvang, asook implikasies van God se genade verstaan nie, gee dit daartoe aanleiding dat die persoon menslike werke of voor, of deel van die evangelie, of aan die agterkant van die evangelie sal byvoeg om sodoende sy verlossing te bewerkstellig of te behou. Hierdie feit gee daartoe aanleiding dat die persoon in werklikheid ‘n werke evangelie glo wat hom nie sal red nie, en die gevaar bestaan dat die persoon hierdie werke evangelie met ander sal deel wat hulle verkeerdelik onder die indruk sal plaas dit hulle gered is. Om hierdie rede is dit van uiterste belang dat ‘n persoon die konsep van genade reg verstaan en omskryf. Genade kan dus soos volg omskryf word, naamlik: Genade beteken suiwere onverdienstelike, onbetaalbare en ongekompenseerde goedheid en guns.” Om dus die voorwerp van God se guns te wees beteken dit net logies dat die persoon ook die onderwerp van God se genade is. God se genade is dus ‘n sinoniem vir God se guns. Die onderwerp van hierdie studie handel oor God se genade, en omrede God se attribute onbeperk is kan Sy genade ook geen perke hê nie. Indien ‘n persoon hierdie feit nie mooi begryp nie, gee dit aanleiding tot verkeerde gevolgtrekkings wat weer tot misplaaste teologiese leerstellings aanleiding gee. God se liefde, wat Sy genade insluit, dien dus as die fondasie waarop Hy die verlossing van die mens bewerkstellig het.

Dit is juis die bewustheid van die hulpelose toestand waarin ‘n erkende sondaar homself bevind wat daardie persoon sal noop om die Here Jesus Christus om verlossing te nader. Daarbenewens kan genade nie meer genade wees indien dit a.g.v. die mens se mislukkings en tekortkominge teruggetrek moet word nie. Indien dit die geval is, sal genade ophou om genade te wees die oomblik wanneer God Sy genade a.g.v. die mens se sondes moet terugtrek. In hierdie opsig sou genade nie meer genade kan wees nie, omrede die hele konsep van God se onbeperkte genade vernietig sou wees. Om hierdie rede vind ons die volgende stelling in die Bybel, naamlik:
Rom.11:29 “Want die genadegawes en die roeping van God is onberoulik.”

Die rede hiervoor is eenvoudig! Indien daar enige mate van verdienstelikheid by die mens aanwesig is, moet dit deur God as sodanig erken word, en sal God die persoon op grond van sy verdienstelikheid moet beloon en nie op op grond van Sy genade nie. In die lig van enige menslike verdienstelikheid kan genade nie in werklikheid teenwoordig wees nie. Verlossing sou dus nie op grond van God se genade bekom word nie, maar eerder op grond van menslike werke/verdienstelikheid. Die Bybel stel hierdie beginsel baie duidelik, naamlik:
Rom.11:6 “En as dit deur genade is, dan is dit nie meer uit die werke nie; anders is die genade geen genade meer nie. En as dit uit die werke is, dan is dit nie meer genade nie; anders is die werk geen werk meer nie.”
Bostaande teksgedeelte stel dit baie duidelik dat genade en werke nie ten opsigte van die mens se verlossing/wedergeboorte vermeng kan word nie. Sodra werke by genade gevoeg word vernietig dit die konsep van genade en genade sal dan moet ophou om te funksioneer. Mense wat in werkheiligheid glo verstaan nie hierdie punt nie en wil dus menslike werke en kerklike sakramente, soos byvoorbeeld die waterdoop, ‘n vereiste vir wedergeboorte maak wat niks anders as ‘n werke evangelie is nie. Niemand, maar niemand sal op grond van ‘n werke evangelie gered word nie.
Gal.3:11 “En dat niemand deur die wet by God geregverdig word nie, is duidelik; want die regverdige sal uit die geloof lewe.”
Dit is juis in die lig van die mens se absolute hopeloosheid om sy eie verlossing deur sy werke te bewerkstellig, dat God se genade die grootste mate van glorie smaak en dit is in die lig van hierdie feit dat God Sy genade aan die mens voorhou.
Rom.3:27 “Waar is dan die roem? Dit is uitgesluit. Deur watter wet? Van die werke? Nee, maar deur die wet van die geloof.”

Bogenoemde feite skep egter ‘n probleem. God is geregtig, en Hy kan nie in stryd met enige van Sy attribute optree nie, en omrede Hy geregtig is vereis Sy geregtigheid dat Hy sonde moet straf. Die vraag ontstaan dan hoe dit vir God moontlik kan wees om die mensdom genadig te wees en op dieselfde oomblik nie in stryd met Sy attribuut van geregtigheid op te tree nie? Die mens se sonde moet dus op ‘n geregverdige wyse uit die weg geruim word. Die antwoord vir hierdie dilemma vind ons in die Here Jesus Christus se kruisdood. Omrede die hele mensdom se sonde op Christus gelê is, en Hy daarvoor met Sy lewe aan die kruis gesterf het, het Christus vir ewig enige kondemnasie (van God se kant af) vir die mens se sonde uit die weg geruim. Die skrifte verklaar baie duidelik dat die Here Jesus Christus die die een was wat die sonde van die wêreld sou wegneem, naamlik:
Joh.1:29 “Die volgende dag sien Johannes Jesus na hom toe kom, en hy sê: Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!”
Deur middel van Sy voltooide werk aan die kruis het die Here Jesus Christus ‘n hele nuwe verhouding tussen God en die mens bewerkstellig. Omrede enige grondige rede vir enige kondemnasie deur Christus se kruisdood uit die weg geruim is, is die vraag nie meer soseer oor wat die mens met sy sonde probleem gaan maak nie, maar wat hy met die Here Jesus Christus gaan maak.
1Joh.2:1 “My kinders, (fase een van hulle verlossing, naamlik wedergeboorte is alreeds afgehandel en kan nie weer herhaal word nie) ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het ‘n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige. 2 En Hy is ‘n versoening vir ons sondes, (diegene wat alreeds deur die glo van die evangelie wedergebore is) en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld.”

Die Here het immers al die mensdom se sondes (verlede, hede en toekomstige sondes) op Hom geneem en het, as die Seun van God, aan die kruis vir daardie sondes gesterf. Op grond van hierdie feit sal geen persoon wat sy geloof slegs in die Here Jesus Christus alleen plaas (en niks anders nie) ooit vir enige van sy sondes veroordeel word sodat hy verlore sal gaan nie. Die Here self het hierdie feit baie duidelik gemaak, naamlik:
Joh.3:18 “Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.”
Op grond van hierdie feit het die gelowige die ewige lewe as huidige, en ewige besitting ontvang die oomblik toe hy die evangelie geglo het, en dit alles nog voordat hy enigsins goeie werke of met water gedoop kon word.
Joh.5:24 “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe (as huidige besitting) en kom nie in die oordeel nie, (sal nooit veroordeel kan word nie omrede daardie persoon nie in die oordeel kan kom nie) maar het (alreeds) oorgegaan uit die dood in die lewe.” (die persoon besit huidiglik dan die gawe van die ewige lewe, wat slegs op grond van God se genade deur geloof alleen ontvang kan word en wat nooit verbeur of teruggegee kan word nie.) Christus het dus d.m.v Sy voltooide werk aan die kruis die kwessie van die mens se onverdienstelikheid vir ewig uit die weg geruim.

Dit is ‘n absolute tragedie dat die genade van God so misverstaan, en selfs verdraai word om by menslike opinies in te skakel. Omrede die mens met ‘n sonde natuur gebore word, is dit moeilik om slegs op God vir ons verlossing te vertrou en ons wil eerder iets doen wat tot ons verlossing kan bydra. Indien verlossing deur goeie werke bekom kon word, dan het die mens nie nodig om Goddelike openbarings inligting van God te ontvang nie. Kyk maar, alle valse godsdiensstelsels het op die een of ander wyse goeie werke in hulle teologiese sisteem ingewerk en dit sluit ‘n baie groot gedeelte van die belydende Christendom in. In teenstelling hiermee moet die ware evangelie aan die mensdom deur God (in ons geval die Bybel) geopenbaar word. Die feit dat die mens slegs op grond van God se genade, deur geloof in Christus alleen gered word sou nooit deur die mens uitgedink word nie. En omrede die mens se hubris so ‘n groot invloed op hom uitoefen, sou die mens nie so ‘n godsdiens wou uitdink nie al het hy die vermoeë daarvoor besit. Al sou ons dit nie wil erken nie, bly dit egter ‘n feit dat die mens inherent ‘n trotse/hubristiese wese is en daarom sal die mens altyd poog om die konsepte van God se genade, asook geloof te herdefinieer sodat die mens se verlossing indirek van die mens se werke afhanklik gemaak word. (Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Proponente van werkheiligheid se herdefiniëring van geloof” te lees.)

Ter Afsluiting: Indien dit die Here se wil is, dan sal ek so met verloop van tyd meer oor die konsep van God se genade uitbrei sodat ons almal se kennis rakende hierdie uiters belangrike onderwerp verdiep kan word. En onthou, Die Here Jesus Christus het in Sy genade aarde toe gekom om deur Sy kruisdood ‘n skuldlas te betaal wat Hy nie verdien het nie, omrede die mensdom ‘n skuldlas besit wat hulle nooit sou kon betaal nie. God verwag van ons om die gawe van die ewige lewe, deur geloof alleen, in Christus alleen kosteloos in ontvangs te neem. Het u al hierdie onnaspeurlike gawe van God deur geloof alleenlik sonder enige vertroue op menslike werke aanvaar? Die Seun van God het alreeds alles gedoen wat gedoen kan word om die mens se verlossing te bewerkstellig. Enige toevoeging wat by Christus se voltooide werk aan die kruis, en Sy opstanding van uit die dood bygevoeg word beledig Christus se voltooide werk aan die kruis en verander die ware evangelie in ‘n werke evangelie wat tot niemand se verlossing aanleiding sal gee nie. Daar is slegs een evangelie wat die mens sal red en dit word op grond van God se genade deur geloof in Christus alleenlik bekom. Indien ‘n persoon glo dat hy goeie werke of sakramente, soos byvoorbeeld om in water gedoop te word as vereiste by die evangelie voeg om hom te red, of gered te hou dan glo daardie persoon in ‘n werke evangelie. Dink asb mooi oor hierdie stelling en die implikasies daarvan na.

Seën Groete!

Vic

Deel met ander asb.