Kommunisme

Verkondig die Bybel Christelike Kommunisme?

Vraag: Daar is ‘n persoon wat beweer dat die Bybel sosialisme voorstaan, en daarom moet ons alles gesamentlik besit. Hy verwys spesifiek na kommunisme, en beweer dat dit verkeerd is om privaat eiendom te besit en dat die vroeë Kerk hierdie leerstelling verkondig het. Wat is jou opinie aangaande hierdie vraagstuk? Die persoon verwys na homself as ‘n Christelike Kommunis, en gebruik Hand.2:45 as proefteks. Baie dankie.

Antwoord: Kommunisme is ‘n suiwer humanistiese ideologiese stelsel en kan nie met Bybelse Christendom vereenselwig word nie. Net soos die sosiale evangelie wat die Kerk tot ‘n groot mate binnegedring het, tot so ‘n mate dat die suiwer Bybelse evangelie met sosiale programme vervang is, so ook sal ander valse leerstellings die Kerk ingestroom kom. Paulus het ons vooraf gewaarsku, naamlik:
Hand.20:29 “Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. 30 Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan.”
Daar is ongelukkig baie sogenaamde “Christelike” bewegings wat onder die vaandel van die belydende Christendom hulle duiwelse leerstellings in die Kerk ingebring het. Maar kom ons spreek eers die proefteks waarna verwys word aan, en dan sal ek ‘n paar opmerkings daaromtrent maak, naamlik:
Hand.2:44 “En almal wat gelowig geword het, was bymekaar, en het alles gemeenskaplik besit. 45 En hulle eiendomme en besittings het hulle verkoop en die opbrings onder almal verdeel, volgens wat elkeen nodig gehad het.”

Ons moet teen die versoeking waak om van iets ‘n wet te maak as God ons nie beveel het om dit te doen nie. Hand.2:44-45 is vertellende van aard en nie voorskriftelik nie. Dit is boonop uiters gevaarlik om teksgedeeltes waarin die Bybel slegs vir ons vertel wat gebeur het, aan te wend om ons leerstellings te skep wat ons op onsself as wet wil toepas. Die gegewe teksgedeelte vertel dus net vir ons wat daardie spesifieke gemeente op daardie spesifieke oomblik gedoen het. Nêrens word daar enigsins ‘n bevel gegee dat alle gemeentes van alle tye hierdie voorbeeld moet navolg nie. Om hierdie teksgedeelte te wil aanwend om Christelike Sosialisme te bewys is ‘n erge vorm van dwaalleer.

Net omrede hierdie gemeente alles in gemeen besit het, beteken nie dat dit Christelike kommunisme was nie. Let mooi op, dat hulle optrede spontaan plaasgevind het en dat hulle geensins aangesê was om dit te doen nie. Omrede die eiendom/besittings wat hulle besit het hulle eie eiendom was, kon hulle daarmee maak net wat hulle wou. Hulle het verkies om dit te verkoop, en die geld aan die apostels se voete neergelê, sodat die geld uitgedeel kon word soos wat daar ‘n spesifieke nood ontstaan het. Ons vind dieselfde verskynsel in Hand.4:32, naamlik:
Hand.4:32 “En die menigte van die wat gelowig geword het, was een van hart en siel, en nie een het gesê dat iets van sy besittings sy eie was nie, maar hulle het alles in gemeenskap gehad 33 En met groot krag het die apostels getuienis gegee van die opstanding van die Here Jesus, en groot genade was oor hulle almal. 34 Want niemand onder hulle was behoeftig nie; want almal wat besitters van gronde of huise was, het dit verkoop en die prys van wat verkoop is, gebring en aan die voete van die apostels neergelê. 35 En aan elkeen is uitgedeel volgens wat hy nodig gehad het.”
Nie in een van hierdie gevalle het die apostels die gelowiges daar teenwoordig aangesê om te doen wat hulle gedoen het nie. Mens kan dus nie wat hier gebeur het, as wet, op die hele kerk tydens die Kerk Dispensasie wil toepas nie.

Anders as kommunisme, het die Jerusalem gemeente alles uit vrye wil gedoen, en daar was geen sprake van enige vorm van fisiese of emosionele druk, innuendo of manipulasie gewees nie. Hulle het volkome uit eie wil, en sonder enige druk van die gemeente hulle besittings, en eiendom, verkoop en die geld onder die gemeente verdeel soos wat daar ‘n spesifieke behoefte was. Die gee van vrye gawes vereis die reg tot die besit van privaat eiendom, anders sou dit nie gawes genoem kon word nie. Boonop weerspreek enige vorm van manipulasie of dwang (wat kommunisme/Marxisme bekend is om te doen) God se opdragte aan die Kerk, naamlik:
2Kor.9:7 “Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het ‘n blymoedige gewer lief. 8 En God het mag om alle genade oorvloedig oor julle te laat wees, sodat julle altyd in alle opsigte volop kan hê en oorvloedig kan wees tot elke goeie werk. 9 Soos geskrywe is: Hy het uitgestrooi, hy het aan die armes gegee, sy geregtigheid bly tot in ewigheid.”

Ananías se sonde was nie dat hy eiendom besit het nie. Sy sonde was dat hy vir die Heilige Gees gelieg het. Hy het sy eiendom verkoop, en van die verkoopsprys teruggehou, terwyl hy die gemeente onder die indruk wou plaas dat hy ook al die geld wat hy vir sy eiendom ontvang het aan die apostels se voete neergelê het. Dit was sy sonde en daarvoor was hy gestraf, naamlik:
Hand.5:1 “Maar ‘n sekere man met die naam van Ananías het saam met sy vrou Saffíra ‘n eiendom verkoop, 2 en ook met die medewete van sy vrou van die prys agtergehou en ‘n sekere deel gebring en aan die voete van die apostels neergelê. 3 Toe sê Petrus: Ananías, waarom het die Satan jou hart vervul om vir die Heilige Gees te lieg en van die prys van die grond agter te hou? 4 As dit nie verkoop was nie, het dit nie joue gebly nie? En toe dit verkoop is, was dit nie in jou mag nie? Waarom is dit dat jy hierdie saak in jou hart voorgeneem het? Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God. 5 En toe Ananías hierdie woorde hoor, het hy neergeval en gesterwe; en ‘n groot vrees het gekom oor almal wat dit gehoor het.”
Bogenoemde teksgedeelte, asook die hele Bybel, bevestig die mens se reg tot privaat eiendom.

Let op die stelling “ As dit nie verkoop was nie, het dit nie joue gebly nie? En toe dit verkoop is, was dit nie in jou mag nie?” Ananías het volkome reg oor sy eiendom gehad en kon daarmee doen net wat hy wou. Onthou, wat iemand aan Christus se gemeente doen, doen hy aan God. (Hand.9:4) Om vir die gemeente te lieg is om vir God te lieg. Ons moet baie mooi oor hierdie feit nadink. Die reël van eerste vermelding gee aan ons ‘n duidelike idee van hoe God na ‘n spesifieke daad kyk wanneer daardie daad vir die eerste keer gepleeg word. Om ons aansien in die gemeente te verhoog, deur om te beweer dat ons alles vir Christus gegee het, en dit nie werklik gedoen het nie is om vir die Here te lieg.

Die term “Christelike Kommunis” is net so betekenisloos soos die term “Christen ongelowige” Die twee konsepte is net so min versoenbaar soos wat olie en water is. Die gebod om nie te steel nie, is juis gegee om ons medemens se reg op privaat eiendom te beskerm, naamlik:
Rom.13:9 “Want dít: Jy mag nie egbreek nie, jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie, jy mag nie begeer nie, en watter ander gebod ook al, word in hierdie woord saamgevat: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
Ef.4:28 Laat die een wat steel, nie meer steel nie; maar laat hom liewer arbei deur met sy hande te werk wat goed is, sodat hy iets kan hê om mee te deel aan die een wat gebrek het.”

Vir enige regering, of instansie, om enigsins die eiendom van een persoon af te neem, en dit aan ‘n ander te gee wat nie daarvoor gewerk het nie, is niks anders as ‘n vorm geïnstitusionaliseerde diefstal nie. Kommunisme, asook Marxisme, is ‘n goddelose ideologiese stelsel wat die eiendom van een persoon neem, en dit aan ‘n ander gee, en orals in die wêreld waar hierdie stelsel toegepas is, het dit tot grootskaalse armoede en smart aanleiding gegee.

Kommunisme kan nie met gesonde Bybelse leerstellings vereenselwig word nie. ‘n Persoon bewys sy liefde vir God en sy medemens wanneer hy uit eie vrye wil tot die behoeftes van sy mensemens bydrae. In hierdie opsig vervul hy die wet van Christus. Die Here gebruik in baie gevalle mense op aarde om Sy wil te bewerkstellig. Hy het dit byvoorbeeld so bepaal dat die persoon wat voltyds besig is met die werk van die Here deur sy broers onderhou moes word.
1Kor.9:7 “Wie dien ooit as soldaat op eie koste? Wie plant ‘n wingerd en eet nie van sy vrug nie? Of wie pas ‘n kudde op en geniet nie van die melk van die kudde nie? 8 Sê ek dit miskien menslikerwys, of sê die wet dit nie ook nie? 9 Want in die wet van Moses is geskrywe: ‘n Os wat graan dors, mag jy nie muilband nie. Is dit miskien oor die osse dat God Hom bekommer? 10 Of spreek Hy inderdaad om ons ontwil? Ja, want om ons ontwil is dit geskrywe, omdat hy wat ploeg, op hoop moet ploeg; en hy wat dors, op hoop om wat hy hoop, deelagtig te word. 11 As ons vir julle die geestelike gesaai het, is dit ‘n groot saak as ons julle stoflike goed maai?”
Bostaande teksgedeelte verbrysel die konsep van kommunisme, omrede ‘n persoon slegs iets kan weggee wat aan hom behoort. (privaat eiendom) Om ‘n ander man se eiendom weg te neem en dit uit te deel (soos wat kommunisme en Marxisme doen) is niks anders as diefstal nie. Vir God om van die gemeente te verwag om na die behoeftes van diegene wat voltyds in die bediening staan te voorsien verys die konsep van privaat eiendom. Hoe anders gaan ons, ons liefde aan God betoon deur om die Wet van Christus vrywillig na te kom?
Joh.15:14 Julle is my vriende as julle alles doen wat Ek julle beveel.”
Joh.14:21 Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar.”

Ter Afsluiting: Geen humanisties ideologiese sisteem het die optrede van die vroeë Kerk in Jerusalem aangespoor nie. Elke situasie het sy eie spesifieke omstandighede wat ‘n spesifieke stel optredes vereis. Dit is my opinie, dat die Jerusalem gemeente die Here Jesus Christus se profesie aangaande Jerusalem se vernietiging in 70nC ter harte geneem het, en hierdie feit het moontlik in hulle keuses inslag gevind, naamlik:
Matt.23:37 “Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ‘n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie! 38 Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat!”
Dit maak net sin om eiendom wat ek weet tot niet sal gaan eerder in die diens van God aan te wend. Ons mag dalk nooit die presiese situasie agter die Jerusalem gemeente se besluit weet nie, maar een ding weet ons egter, en dit is dat liefde die motief was. (want hulle kon immers die geld wat hulle vir die verkoop van hulle eiendom vir hulleself gehou het, maar hulle het dit eerder vir aan die Here gegee.) In hierdie opsig het die gemeente in Jerusalem vir ons ‘n mooi voorbeeld van naaste liefde agtergelaat. Die Skrifte het egter niks met kommunisme of marxisme in gemeen nie, en die konsep van ‘n Christen Kommunis is absurd en is ‘n idee wat slegs van die duiwel af kan kom. Die Skrifte erken elke mens se reg tot sy private eiendom, en enige persoon wat by ‘n kommunistiese of marxistiese beweging betrokke is tree buiten God se wil op.

Ek hoop my antwoord beantwoord jou vraag.

Seën groete!

Vic

Deel met ander asb.