Ek voel te sondig om gered te word

Ek voel te sondig om gered te word

Vraag: Ek voel te sondig om gered te word. Help asb!!

Antwoord: Eerstens is dit baie belangrik om te besef dat jou gevoelens jou nie red nie. Jy word gered deur om eenvoudig in Jesus Christus (die voorwerp van jou geloof), en Sy versoenings werk aan die kruis,(die Evangelie) te glo en nie op jou gevoelens, werke, doop , kerkbywoning of enige iets anders nie!! Dit is van uiterste belang, om te glo wat die Here in Sy woord aan jou sê, en nie wat enige persoon (my inkluis) of kerk denominasie aan jou mag voorhou nie. Moet ook nie op jou gevoel staatmaak nie, want ons emosies is nie baie betroubaar nie en kan selfs totaal en al misleidend wees. Vergelyk altyd alles wat ek of enige persoon aan jou verkondig, met wat God in Sy woord (die Bybel) aan jou sê, en interpreteer altyd onduidelike teksgedeeltes met die wat duidelik gestel is, nie anders om nie. Onthou altyd, dat as jy wil hoor wat die Here aan jou wil sê, dan moet jy jou Bybel lees en nie op buite Bybelse profesieë, gevoelens, omstandighede en tradisies staatmaak nie. Kom ons gaan kyk wat God oor jou situasie te sê het. (Lees ook asb die artikel “Die onderskeid tussen ‘n gelowige en n dissipel“)

Luk 5:32 “Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering.
Joh 3:17 Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.”
Indien jy erken dat jy ‘n sondaar is, wat jy wel doen , dan kwalifiseer jy om gered te word, omrede die Here juis om hierdie rede aarde toe gekom het . Jy sal ook opmerk dat God nêrens hier enige klas van sondaars uitsluit nie. Dus sluit dit vir jou en my albei in, en het die Here gekom om jou te red! As jy dus die enigste persoon op aarde was, dan sou die Here nog steeds aarde toe gekom het en vir al jou sondes aan die kruis gaan sterf het. Hy sou geensins anders doen nie, want Sy kruisdood is ‘n logiese uitvloeisel van Sy liefde vir jou. Kom ons kyk wat die apostel Paulus oor hierdie aangeleentheid te sê gehad het.
Rom 5:8 “maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.”
Is jy ‘n sondaar? Indien wel kan jy met sekerheid weet dat die Here jou so lief gehad het, dat Hy vir al jou sondes met Sy lewe aan die kruis betaal het. Dus, is daar geen sonde, maak nie saak hoe groot en hoe baie ook al, waarvoor die Here nie aan die kruis betaal het nie. Die enigste sonde wat veroorsaak dat ‘n persoon verlore kan gaan, is die sonde van ongeloof in die voltooide werk van Christus aan die kruis. (die Evangelie)
Joh 3:18 “Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.”

Onthou, die Here dwing nie Sy liefde op jou af nie. Indien ‘n persoon verlore gaan is dit omdat daardie persoon nie Jesus Christus se geskenk, van die ewige lewe, in geloof wou aanvaar nie! Die ewige lewe is ‘n geskenk wat jy slegs in geloof moet aanvaar, deur om in Jesus Christus en Sy voltooide werk aan die kruis te glo. (niks meer of niks minder nie) Dit is kosteloos en kos jou absoluut niks nie! Dit het God egter alles gekos en daarom is dit godslasterlik om enige werke vir wedergeboorte by Jesus Christus se voltooide werk aan die kruis te wil voeg! Moet dit nie doen nie, want ‘n baie groot persentasie van die belydende Christendom doen dit en gaan met ‘n skok agter kom dat hulle ‘n valse evangelie geglo het. Vir meer inligting lees asb die artikel “Die Evangelie” en “om wedergebore te word
Rom 4:4 “Maar aan hom wat werk, word die loon nie na guns toegereken nie, maar na verdienste; 4:5 aan hom egter wat nie werk nie, maar glo in Hom wat die goddelose regverdig,(ek en jy) word sy geloof tot geregtigheid gereken.”
Moenie probeer werk nie! Glo net die Evangelie en ontvang die ewige lewe as ‘n geskenk!
Lees asb die artikels “die breë en die smal weg” asook “Geloof Bekering en die Ewige lewe” wat hierdie konsep mooi aan jou sal verduidelik. Dit is verder ook van uiterste belang, om ‘n onderskeid tussen wedergeboorte (Verlossing) en dissipelskap te tref en te handhaaf. Wedergeboorte is ‘n gawe en kos absoluut niks nie, maar om ‘n dissipel van Jesus Christus te wil wees sal jy bereid moet wees om alles prys te gee.
Luk 14:26 “As iemand na My toe kom en hy haat nie sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs ook sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie.”
Uit bostaande teksgedeelte is dit baie duidelik dat die Here oor die vereistes vir dissipelskap praat en nie oor wedergeboorte nie. Onthou iemand kan ‘n dissipel wees en nie wedergebore wees nie. Judas Iskáriot was ‘n dissipel, maar was ‘n ongelowige, omrede hy nie in Jesus Christus as Messias geglo het nie. Dus, is dit moontlik om ‘n dissipel van Christus te wees en alles prys te gee, maar nog steeds ongered (ongelowig) wees. Daar is baie sulke mense. Baie van hulle preek in die Here se naam en baie sit in kerk banke , waarvan die Room Katolieke Kerk, Jehova Getuies maar net twee van vele sulke groepe is. Hulle plaas werke saam met geloof as basis vir wedergeboorte, en kyk maar wat baie van hulle bereid is om op te gee! Ek dink byvoorbeeld aan moeder Teresa en wat sy nie alles deurgemaak het nie. (Ek stel dit geensins dat sy verseker ongered was nie, maar as sy werke by die Evangelie gevoeg het vir wedergeboorte, soos wat die Rooms Katolieke kerk verkondig, dan was sy ongered!)
Ware dissipelskap kos alles, maar die loon daarvoor is ook baie groter as wat ons ooit aan hierdie kant van die graf sal kan besef. Om hierdie rede is dit van uiterste belang dat jy die “Drie Fases van Verlossing” ken en verstaan asook die “Onderskeid tussen ‘n gelowige en ‘n dissipel

Moet egter nie hierdie twee fasette (Verlossing en dissipelskap) met mekaar verwar nie, anders gaan jy werke by geloof wil voeg, om gered te wil word en gered te wil bly! Dit is ‘n valse evangelie, naamlik ‘n werke evangelie. Onthou geloof plus werke vir wedergeboorte (verlossing) is ‘n verwerping van Jesus Christus se voltooide werk aan die kruis, en sal jou hel toe neem. Wedergeboorte en die ewige lewe is ‘n geskenk wat jou niks kos nie en wat jy slegs in geloof moet aanvaar.
Opn 22:17 “En die Gees en die bruid sê: Kom! En laat hom wat hoor, sê: Kom! En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet.” (Kosteloos sonder enige werke, anders is dit nie kosteloos nie)
Rom 3:27 “Waar is dan die roem? Dit is uitgesluit. Deur watter wet? Van die werke? Nee, maar deur die wet van die geloof.
3:28 Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet.”
Baie mense wil dissipelskap as vereiste vir wedergeboorte by die Evangelie voeg en skep dus ‘n valse evangelie. Moet jy ook nie in hierdie strik trap nie!! Onthou ook om die twee fasette, naamlik verlossing en dissipelskap, van mekaar te onderskei soos wat jy die Bybel bestudeer. Dit sal baie onduidelikhede en onnodige angstigheid uitskakel.

Jy moet ook baie mooi verstaan, dat die Bybel baie duidelik slegs geloof as vereiste vir wedergeboorte (verlossing) voorhou en niks anders nie. Ware geloof het Jesus Christus (by implikasie Sy voltooide werk aan die kruis) as voorwerp en daarom moet die erkende sondaar (soos jy) vanuit ‘n posisie van ongeloof, na ‘n posisie van geloof in Jesus Christus as Verlosser, en Sy belofte van die ewige lewe, bekeer. Die oomblik wanneer ‘n persoon in Jesus Christus, en by implikasie in Sy voltooide werk aan die kruis vir verlossing glo, word daardie persoon wedergebore en kan hy nie verlore gaan nie.
Joh 3:36 “Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom.”
Let op die woord “het” in bostaande teksgedeelte! Nou gaan kyk ook verder na die woorde “ewige lewe” Die ewige lewe beteken net dit, die ewige lewe. Moenie enigiets anders as God se woorde self in hierdie gedeelte inlees nie! Onthou dit is Jesus Christus, wat God self is, wat hierdie belofte maak en nie ‘n mens wat sou lieg nie! En wat moet jy doen? Glo!! Niks anders nie.

Let nou op na die volgende teksgedeelte.
2Ko 1:21 “Maar Hy wat ons saam met julle bevestig in Christus en ons gesalf het, is God, 1:22 wat ons ook verseël het en die Gees as onderpand in ons harte gegee het.”
Wie bevestig jou nou in Christus, jyself of God? Ja God, wat almagtig is! En verder:
Efs 1:13 “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,
1:14 wat die onderpand is van ons erfdeel om sy eiendom te verlos tot lof van sy heerlikheid.”
Uit bostaande teksgedeelte is dit baie duidelik, dat die gelowige deur die Heilige Gees verseël is. Onthou die Heilige Gees is die derde Persoon in die Drie-Eenheid en is God self. Dus is God jou waarborg dat jy die ewige lewe sal beërwe!!
Efs 4:30 “En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing.”
Ook sien ons verder, dat die Heilige Gees ons tot die dag van verlossing verseël, en dit is die dag wanneer Jesus Christus sal kom, om ons saam met Hom hemel toe sal neem!
Joh 14:2 “In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei.
14:3 En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.”

Indien jy die Evangelie glo, sal niemand jou ooit uit God se hande kan pluk nie, en dit sluit jou ook in! En weereens het jy God se woord hiervoor en daarom moet jy nie op jou gevoelens en op ander mense se opinies staatmaak nie, maar op God se woord (Die Bybel) alleenlik!
Joh 10:28 “En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.
10:29 My vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal; en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie.
10:30 Ek en die Vader is een.”
Lees gerus die artikel “Ewige Sekuriteit van die Gelowige” Niemand beteken juis dit, niemand! En dit sluit jou in. Om te beweer dat iemand homself uit God se hand kan uitneem, is om te beweer dat hy sterker as God is, wat dit baie duidelik stel dat niemand die gelowige uit Sy hande kan pluk nie. Om so iets te beweer is in my oë godslasterlik!! Dit is uiters belangrik om te gaan op wat God in Sy woord aan ons sê en nie op menslike opinies nie. Moet ook nie dinge in God se woord inlees wat nie daar staan nie! Dit is net so gevaarlik!! Let verder op die stelling: “en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie” Mense wat beweer dat ‘n gelowige uit genade kan wegval, maak van God se belofte hier ‘n leun, want die Here stel dit baie duidelik dat die persoon wat in Hom glo, nooit tot in ewigheid verlore kan gaan nie! Maak seker dat jou teologie op God se woord gebaseer is en nie op menslike opinies nie.

Wees ook versigtig vir mense wat enige ander verpligtinge, soos om byvoorbeeld op te hou sondig, by slegs geloof as vereiste vir wedergeboorte wil voeg!! Indien ons ooit kon ophou sondig, dan sou ons nooit ‘n verlosser nodig gehad het nie en kon ons onsself red. Net indien ‘n persoon werklik besef hoe ‘n groot sondaar hy in werklikheid is, en tot die besef kom dat hy homself nie deur sy eie goeie werke kan red nie, en dat hy verdien om veroordeel te word, sal hy na ‘n verlosser buiten homself soek. Slegs dan is daardie persoon gereed om deur Jesus Christus verlos te word!! Iemand wat nie werklik besef dat hy ‘n verlore sondaar is nie, en wat nie besef dat hy homself nie kan red nie, sal nie ‘n verlosser buiten homself soek nie.

Verstaan my mooi ek verkondig nie dat jy nou ‘n lisensie het om te sondig nie, soos wat sommige beweer, indien ‘n persoon die Evangelie duidelik en suiwer verkondig. Wettiese mense het presies dieselfde valse bewering teen die apostel Paulus geuiter.
Rom 3:8 “En moet ons nie liewer sê nie, soos ons belaster word en soos sommige beweer dat ons sê: Laat ons kwaad doen, sodat die goeie daaruit kan voortkom? Hulle veroordeling is regverdig.”
Sonde het gevolge en alhoewel Jesus Christus volledig vir die gelowige se sondes aan die kruis versoening gedoen het, beteken dit geensins dat die gelowige nie in hierdie lewe die gevolge van sy sonde gaan dra, en boonop gaan hy ook verlies lei wanneer hy voor die Regterstoel Oordeel van Christus gaan verskyn. ( ‘n baie groter verlies as wat ons mag dink. Die sondige gelowige self sal egter nog steeds die ewige lewe ontvang. 1 Kor 3:15) Kyk maar wat het met Dawid gebeur toe hy egbreuk en moord gepleeg het. Met die aanvang van die kerk dispensasie, het die Here vir Ananías en Saffíra met die dood gestraf, omdat hulle vir die Heilige Gees gelieg het. (Hnd 5:1-12) Daar moet heiligmaking in die gelowige se lewe, na wedergeboorte plaasvind, maar ons sal dit nie kan regkry as die Heilige Gees nie eers in ons inwoon nie, wat slegs by wedergeboorte die geval is. Ons moet egter daarteen waak om die perdekar voor die perde te wil inspan. Ons moet nie verlossing (fase een van ons verlossing) met heiligmaking (fase twee) verwar en heiligmaking deel van die Evangelie maak nie. (Lees asb die artikel “Drie fases van verlossing” vir meer besonderhede) Indien ons dit doen verkondig ons ‘n werke evangelie wat nie mense sal red nie. Heiligmaking kan slegs na wedergeboorte plaasvind, omrede die Heilige Gees ons in heiligmaking moet lei en die nodige krag aan ons gee. Ons ontvang egter die Heilige Gees slegs met wedergeboorte en nie voor die tyd nie. (Lees asb die artikels “ Word met die Gees vervul” asook “Heiligmaking op grond van genade deur geloof” vir meer besonderhede)

Ter afsluiting: Ek wil ook graag as voorbeeld aan jou ‘n bekende misdadiger as voorbeeld voorhou. Ons almal ken Jeffrey Dahmer, en weet van al die boosheid wat hy bedryf het. Hy het nie net slegs moord en homoseksualiteit bedryf nie, maar het ook so ver gegaan as om sy slagoffers te eet. Hy het egter geloof in Christus bely, toe hy opgesluit is, en ek glo dat hy in die Hemel is, indien hy eenvoudig die Evangelie geglo het. Hy is nie gered op grond van sy werke nie, maar op grond van wat Christus vir hom aan die kruis gedoen het, asook die belofte van die ewige lewe wat Jesus Christus aan ons almal gemaak het, wat in Hom glo! (dit sluit Jeffery Dahmer in) Dit is nie te sê dat hy nie in hierdie lewe die gevolge van daardie sondes gedra het nie. Na sy wedergeboorte is hy deur mede gevangenis in die tronk vermoor. Ja, die Here kon hom beskerm het indien Hy wou, maar hy het toegelaat dat Jeffery vermoor word. Dieselfde beginsel tel vir ons. Die Here stel dit baie duidelik dat ons sal maai wat ons ook al mag saai, en soms is die dood nie die ergste ding wat met ons, aan hierdie kant van die graf, kan gebeur nie! Daar is baie dinge in hierdie wêreld erger as die dood, en mense wat die Evangelie as verskoning gebruik om te kan sondig, sal spoedig onder die Here se tugtiging die gevolge daarvan dra! Wat selfs die dood kan insluit soos wat die gelowiges in die gemeente van die Korintiërs op die harde manier moes uitvind.
1Ko 11:30 “Daarom is daar onder julle baie swakkes en sieklikes, en ‘n aantal het ontslaap. 11:31 Want as ons onsself beoordeel het, sou ons nie geoordeel word nie.”
Gal 6:7 “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.”

Moet geensins die leun glo, dat jy te sondig is om gered te word nie. Onthou jy moet gaan op wat die Here oor hierdie saak te sê het en op niks anders nie!
Mat 19:26 “Maar Jesus het hulle aangekyk en vir hulle gesê: By mense is dit onmoontlik, maar by God is alle dinge moontlik.”
Dit geld vir jou ook! Ek smeek jou in die Naam van die Here Jesus Christus om van Sy kostelose aanbod gebruik te maak, deur om eenvoudig in Hom as jou Verlosser en Saligmaker te glo! En onthou God se belofte:
Jo 6:37 “Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie.”

Geen mens is te sondig om deur God gered te word nie, maak nie saak hoeveel keer die persoon ook al mag gesondig het nie!

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.