Heilige Gees 3

Hand. 19:1-6 en die tweede doop met die Heilige Gees

Hand.19:1-6 word gereeld, as proefteks, deur mense gebruik wat leer dat gelowiges ‘n tweede keer deur die Heilige Gees gedoop moet word om hulle leerstelling te verdedig. Met die skryf van hierdie artikel gaan ek sorgvuldig Hand.19:1-6 onder die soeklig plaas, om vas te stel of hierdie teksgedeelte wel die leerstelling van die tweede doop bevestig. Hand.19:1-6 lees soos volg:
Hnd 19:1 “En terwyl Apollos in Korinthe was, het Paulus die boonste landstreke deurgereis en in Éfese gekom; en daar het hy sommige dissipels gevind 19:2 en hulle gevra: Het julle die Heilige Gees ontvang toe julle gelowig geword het? En hulle antwoord hom: Ons het nie eens gehoor dat daar ‘n Heilige Gees is nie. 19:3 En hy vra hulle: Met watter doop is julle dan gedoop? En hulle antwoord: Met die doop van Johannes. 19:4 Daarop sê Paulus: Johannes het met die doop van bekering gedoop en aan die volk gesê dat hulle moes glo in die Een wat ná hom kom, dit is in Christus Jesus. 19:5 En toe hulle dit hoor, is hulle gedoop in die Naam van die Here Jesus. 19:6 En Paulus het hulle die hande opgelê, en die Heilige Gees het op hulle gekom, en hulle het met tale gespreek en geprofeteer.”
Derhalwe gaan ek Hand.19:1-6 is gedeeltes opdeel en dan bespreek:


Identifisering van die probleem:
Hnd 19:1 “En terwyl Apollos in Korinthe was, het Paulus die boonste landstreke deurgereis en in Éfese gekom; en daar het hy sommige dissipels gevind 19:2 en hulle gevra: Het julle die Heilige Gees ontvang toe julle gelowig geword het? En hulle antwoord hom: Ons het nie eens gehoor dat daar ‘n Heilige Gees is nie. 19:3 En hy vra hulle: Met watter doop is julle dan gedoop? En hulle antwoord: Met die doop van Johannes.”
Opmerking: Die eerste vraag wat ons moet beantwoord is die vraag oor wat ‘n dissipel is. ‘n Dissipel is ‘n persoon wat iemand volg en by daardie persoon leer. Dus vind ons in die Skrifte mense wat dissipels van Johannes die doper was, asook dissipels van die Here Jesus Christus. Tot die Rabbi’s van die Fariseërs het hulle eie dissipels gehad wat hulle nagevolg en by hulle geleer het. Paulus was een so ‘n persoon.

Dit is ook opmerklik dat Paulus tydens die gebeure, soos wat dit in Hand. 19:1-6 opgeteken staan, agter gekom het dat daar met die dissipels wat hy in Éfese raakgeloop het iets skort, en hierdie feit word in sy vraag aan hulle weerspieël, naamlik:
Hnd 19:2 “en hulle gevra: Het julle die Heilige Gees ontvang toe julle gelowig geword het?”
Hierdie dissipels se antwoord is nog meer insiggewend, naamlik:
“En hulle antwoord hom: Ons het nie eens gehoor dat daar ‘n Heilige Gees is nie.”
Op grond van hulle antwoord, vra Paulus hulle toe met watter doop hulle gedoop is. Die doel met Paulus se vraag was om van te stel wie se dissipels hierdie mense was, omrede daar duidelik iets met hulle belydenis geskort het. En hulle antwoord dat hulle met die doop van Johannes gedoop was.

Derhalwe is dit belangrik dat ons eerstens gaan vasstel wat Johannes die Doper se boodskap aan die Joodse volk was.
Mat 3:1”In daardie dae het Johannes die Doper opgetree en in die woestyn van Judéa 3:2 gepreek en gesê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom. 3:3 Want dit is hy van wie deur die profeet Jesaja gespreek is toe hy gesê het: Die stem van een wat roep in die woestyn: Berei die weg van die Here, maak sy paaie reguit!”

Maar wat het Johannes die doper met die term “bekeer” bedoel? Hy het bedoel dat die Jode ‘n verandering in denke (in Engels, change of mind) moes ondergaan. Dit is in kort wat die woord “bekeer” beteken. Om hierdie stelling te staaf gaan ons weer na die Skrifte, naamlik:
Mat 3:9 “En moenie dink om by julleself te sê: ons het Abraham as vader nie; want ek sê vir julle dat God mag het om uit hierdie klippe kinders vir Abraham op te wek.”
Die Jode, wat tydens Johannes die Doper se tydperk gelewe het, was verkeerdelik onder die indruk dat hulle outomaties deel van God se koninkryk was, omrede hulle Abraham as hulle stamvader gehad het. Dit is om hierdie rede waarom Johannes die doper aan die Jode gesê het dat hulle verkeerdelik onder die indruk verkeer het dat a.g.v. hulle volksverband hulle outomaties deel van God se koninkryk sou wees en die ewige lewe deelagtig sou wees. Hy het verder gegaan en hulle gewaarsku dat God se koninkryk op hande was, want toe Johannes die Doper hierdie stellings gemaak het, was die Here Jesus Christus met Sy eerste koms op aarde teenwoordig gewees, en indien die volk Hom as hulle Messias sou aanneem Hy, Sy koninkryk op aarde sou vestig. Dus moes die volk ‘n verandering in denke ondergaan het, en hulle moes nie meer dink, dat net omdat hulle Abraham as stamvader het, hulle outomaties deel van God se ewige koninkryk sou uitmaak nie. Derhalwe sou hulle ‘n verandering in denke moes ondergaan oor wat dit sou vereis om die koninkryk van God binne te gaan. Dit is ook opmerklik dat Johannes die Doper ‘n verandering in denke in gedagte gehad het toe hy die Joodse volk aangesê het om te bekeer, en daarom het hy, noudat sekere individue van die volk ‘n verandering in denke ondergaan het, ook aan hulle gestel dat hulle vrugte moes voortbring wat by daardie bekering (verandering in denke) sou pas. (Dus, is die bekering, en die voorbring van vrugte wat by daardie bekering pas, twee afsonderlike dade wat nie met mekaar verwar moet word nie) Verandering in denke (bekering) is die wortel, en die dade wat by bekering pas, is die vrugte wat deur die bekeerde persoon voortgebring behoort te word.

Maar, noudat seker lede van die Joodse volk bekering ondergaan (verandering in denke ondergaan) het, in wat moes hulle nou glo? Johannes die Doper gee ook hier aan ons die antwoord, en dit is ook hoe die Joodse volk dit moes verstaan, omrede dit deel van sy hele lering aan hulle was, naamlik:
Mat 3:11”Ek doop julle wel met water tot bekering; maar Hy wat ná my kom, is sterker as ek, wie se skoene ek nie waardig is om aan te dra nie. Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur.” (Vir ‘n uiteensetting van wat die Bybel met die term “doop met vuur” bedoel, word die leser ten sterkste aangeraai om die artikel “Doop met die Heilige Gees en met vuur” te lees, want ook hierdie teksgedeelte word deesdae heeltemal buite konteks aangehaal en misbruik!)
Dit was Johannes die Doper se plig om oor die Lig (die Here Jesus Christus) wat in die wêreld gekom het te getuig, naamlik:
Joh 1:1”In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. 1:2 Hy was in die begin by God. 1:3 Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie. 1:4 In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense. 1:5 En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie. 1:6 Daar was ‘n man van God gestuur, wie se naam Johannes was. 1:7 Hy het tot ‘n getuienis gekom om van die lig te getuig, sodat almal deur hom sou glo. 1:8 Hy was nie die lig nie, maar hy moes van die lig getuig. 1:9 Die waaragtige lig wat elke mens verlig, was aan kom in die wêreld. 1:10 Hy was in die wêreld, en die wêreld het deur Hom ontstaan, en die wêreld het Hom nie geken nie. 1:11 Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie. 1:12 Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo;”
En derhalwe moes die Joodse volk vanuit ‘n posisie van eie meriete, (Abraham se afstammelinge, naamlik die volk Israel met hulle meegaande wet wat hulle nie volkome kon nakom nie.) na die Here Jesus Christus hulle lank verwagte Messias bekeer, deur om in Hom te glo. Die Apostel Paulus bevestig dan ook hierdie feit aan die dissipels van Johannes, naamlik:
Hnd 19:4 “Daarop sê Paulus: Johannes het met die doop van bekering gedoop en aan die volk gesê dat hulle moes glo in die Een wat ná hom kom, dit is in Christus Jesus.”
Johannes die Doper se doop was ‘n daad van identifisering met diegene van die Joodse volk wat bekeer ( verandering in denke ondergaan) het en wat nou voorberei is om hulle komende Messias te ontvang deur om in Hom te glo.

Vanuit bogenoemde feite is dit dus baie duidelik dat die dissipels van Johannes nie sy oorspronklike boodskap aan hulle mooi verstaan het nie. Inteendeel, hulle het bitter min van daardie boodskap verstaan, want hulle het nie eens gehoor dat daar so iets as die Heilige Gees was nie. (‘n Feit wat Johannes die Doper baie duidelik verkondig het!) Ook het hulle nie die feit verstaan dat Johannes nou van hulle verwag het om in die Here Jesus Christus, as hulle Messias, te glo nie. Dit was immers Johannes die Doper se plig gewees om die Jode na hulle Messias te verwys. Twee van Johannes die Doper se dissipels wat wel sy boodskap aan hulle verstaan het, het toe hulle die Here Jesus Christus sien, Johannes die Doper verlaat en Jesus Christus as dissipels gevolg.
Joh 1:35 “Die volgende dag het Johannes weer daar gestaan en twee van sy dissipels; 1:36 en toe hy Jesus sien wandel, sê hy: Dáár is die Lam van God! 1:37 En die twee dissipels het hom dit hoor sê en Jesus gevolg.” (Een van hulle was Andreas die jonger broer van Petrus en albei hierdie voormalige dissipels van Johannes het later apostels van die Here Jesus Christus geword!)
Mens sou verwag dat indien Johannes se dissipels sy boodskap oor Jesus Christus verstaan, en geglo het, hulle hom sou verlaat en die Here Jesus Christus navolg, veral nadat die Here Jesus Christus met Sy bediening op aarde begin het! Dit was immers Johannes die Doper se doelwit!

Op ‘n ander keer het Johannes die Doper se dissipels gekla omrede meer mense na die Here Jesus Christus gaan. Johannes die Doper het sy dissipels ook dan daarop gewys dat dit juis sy plig was om hulle na Jesus Christus te verwys, naamlik:
Joh 3:26 “En hulle het na Johannes gekom en vir hom gesê: Rabbi, Hy (die Here Jesus Christus) wat saam met u oorkant die Jordaan was, van wie u getuig het, kyk, Hy doop, en almal gaan na Hom toe. 3:27 Johannes antwoord en sê: ‘n Mens kan niks aanneem as dit hom nie uit die hemel gegee is nie. 3:28 Julle is self my getuies dat ek gesê het: Ek is nie die Christus nie; maar dat ek voor Hom uitgestuur is. 3:29 Hy wat die bruid het, is die bruidegom; maar die vriend van die bruidegom wat na hom staan en luister, verbly hom baie oor die stem van die bruidegom. So is dan hierdie blydskap van my volkome. 3:30 Hy moet meer word, maar ek minder.”

Derhalwe is dit vanuit die Skrifte duidelik dat hierdie dissipels nie in die Here Jesus Christus geglo het nie. Die feit dat die Bybel na hulle as dissipels verwys beteken geensins dat hulle gelowiges was nie. Onthou Judas Iskáriot was ook ‘n dissipel van die Here Jesus Christus maar Hy was heeltemal ongered. Onthou, n dissipel is ‘n persoon wat iemand volg en by daardie persoon leer. Net omdat ek ‘n persoon volg, en by hom leer, beteken geensins dat ek glo wat aan my geleer word nie! Judas Iskáriot was so ‘n persoon. Boonop kan ‘n dissipel ook die boodskap wat aan hom verkondig word misverstaan en ook so nie tot reddende geloof kom nie. Daar is byvoorbeeld baie mense wat beweer dat hulle die Here Jesus Christus se dissipels is, maar wat egter die Bybel misverstaan en in ‘n werke evangelie glo wat nie die ware Evangelie is nie. Hierdie mense is ook ongelowiges in die ware sin van die woord, al beweer hulle die teenoorgestelde! Hierdie stelling geld vir mense wat beweer dat ‘n persoon a.g.v. sonde uit genade kan verval en verlore kan gaan. Indien ‘n persoon glo dat hy vir ‘n spesifieke sonde uit genade kan verval en verlore kan gaan, demonstreer so ‘n persoon in alle waarskynlikheid dat hy nie glo dat die Here Jesus Christus vir al sy sondes (verlede, hede en toekomstige sondes) aan die kruis betaal het nie, en dan is so ‘n persoon nog steeds in sy sondes. Of die Here het vir al ons sondes (verlede, hede en toekomstige sondes) aan die kruis betaal of Hy het niks betaal nie, daar is geen middeweg nie! Hierdie is ook dan persone wat gewoonlik persone wat die ware Evangelie glo en verkondig van “Easy Believism” beskuldig. Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikels “Bekering, geloof en die Ewige lewe” asook “Die ewige sekuriteit van die gelowige” te lees.)

Die probleem gekorrigeer:
Hnd 19:4 “Daarop sê Paulus: Johannes het met die doop van bekering gedoop en aan die volk gesê dat hulle moes glo in die Een wat ná hom kom, dit is in Christus Jesus. 19:5 En toe hulle dit hoor, is hulle gedoop in die Naam van die Here Jesus. 19:6 En Paulus het hulle die hande opgelê, en die Heilige Gees het op hulle gekom, en hulle het met tale gespreek en geprofeteer.”
Opmerking: Noudat Paulus die probleem geïdentifiseer het, verduidelik hy aan die dissipels van Johannes die Doper, dat dit altyd Johannes die Doper se doelwit was om die Jode na Christus te verwys met die doel dat hulle in Hom alleen moes glo. Toe hulle hierdie boodskap nou verstaan en glo is hulle in die naam van die Here Jesus Christus gedoop. (as identifisering met Christus se dood vir al hulle sondes en Sy opstanding vanuit die dode.)

Die vraag ontstaan nou: “Hoekom is die Heilige Gees nie die oomblik van geloof in die Evangelie op die dissipels van Johannes uitgestort nie?” Ek is van mening dat die Here dit so beplan het, omrede ons vanuit die Skrifte leer dat Paulus eers na Christus se hemelvaart deur die opgestane en verheerlikte Christus as Apostel geroep is. En derhalwe wou die Here aan hierdie Joodse gelowiges demonstreer dat Paulus op ‘n gelyke voet ten opsigte van die ander Apostels staan, en funksioneer, en dat Paulus se apostelskap as sulks geëerbiedig moes word, en veral indien mens besef dat die Here in Sy raadsplan besluit het om Paulus te gebruik om die meeste van die briewe wat aan die Kerk gerig is te skryf. En dus was dit van uiterste belang dat Paulus, as aangewese apostel van Christus, deur die Kerk, wat nou uit beide Jode en heidene bestaan, as apostel herken moet word. Hierdie stelling maak sin in die lig van die feit dat dit hoofsaaklik Jode was wat Paulus tydens sy bediening teengestaan en vervolg het.

Ter Afsluiting: Dit is ook belangrik om te onthou dat die boek Handelinge hoofsaaklik vertellend van aard is. Dit beteken eenvoudig dat die skrywer ons vertel wat gebeur het, en dit kan nie as noodwendig voorskrywend van aard op die Kerk afgedwing word nie. Net omdat die Here gekies het om op ‘n gegewe tydstip, op ‘n spesifieke wyse, te werk, beteken geensins dat daardie gebeurtenis as wet op die hele Kerk Dispensasie van toepassing gemaak kan word nie. Ons merk byvoorbeeld in die boek van Handelinge dat die Heilige Gees soms op mense gekom het die oomblik toe hulle die Evangelie gehoor, verstaan en geglo het, soos byvoorbeeld die mense in Cornelius se huis, toe Petrus hulle die Evangelie verkondig het. Op ander geleentheid het die Heilige Gees slegs op mense gekom nadat die Apostels hulle die hande opgelê het, soos byvoorbeeld die Samaritane. (En vir elkeen van hierdie gebeure is daar ‘n logiese verduideliking, maar vir die doel van hierdie artikel gaan ek nie nou daardie redes verduidelik nie.) Ons moet egter onthou dat boeke wat hoofsaaklik vertellend van aard is, soos byvoorbeeld die boek Handelinge, altyd in die lig van boeke wat hoofsaaklik voorskrywend van aard is, en wat spesifiek aan die Kerk gerig is, naamlik die briewe, moet vergelyk word, alvorens enige leerstelling as bindend op die hele Kerk Dispensasie van toepassing gemaak kan word. Paulus stel dit baie duidelik, dat tydens die Kerk Dispensasie ‘n persoon outomaties met die Heilige Gees gedoop en verseël word, die oomblik wanneer daardie persoon die Evangelie verstaan en glo, en hierdie leerstelling kan met sekerheid, as reël, op die Kerk Dispensasie van toepassing gemaak word.
Efs 1:13 “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,”
En derhalwe is dit nie meer nodig om mense die hande op te lê om die Heilige Gees deelagtig te word nie.

Hand.19:1-6 kan dus nie as proefskrif gebruik word om te bewys dat ‘n gelowige ‘n tweede maal deur die Heilige Gees gedoop moet word nie. Dit is my beskeie mening dat hierdie artikel bo enige twyfel gedemonstreer het, dat hierdie dissipels wie Paulus in Éfese raakgeloop het, nie Johannes die Doper se boodskap verstaan het nie, en dus nie oor genoegsame kennis beskik het om wedergebore te raak nie. Slegs nadat Paulus hulle alles mooi verduidelik het, het hulle in die Here Jesus Christus geglo en het wedergebore geraak. Dus moet die leerstelling van die tweede doop met die Heilige Gees heeltemal verwerp word, omrede dit nie Skriftuurlike leerstelling is nie! (die leser word ook aangeraai om die artikel “Word gelowiges een of twee keer deur die Heilige Gees gedoop” te lees.)

Seën groete

Vic

 

Deel met ander asb.

Een kommentaar op “Hand. 19:1-6 en die tweede doop met die Heilige Gees”

Kommentaar is gesluit.