Volg die Heilige Gees en nie mense nie

Volg die Heilige Gees en nie mense nie

Voel jou Christenskap meer soos ‘n werk en minder soos ‘n verhouding met God. Indien dit die geval is, is hierdie artikel vir jou. As gelowiges moet ons daarteen waak om ander mense se werk en persoonlikhede te vorm soos wat ons dink hulle moet wees en nie soos wat God hulle geskape het nie. Hierdie tegniek is ook een van Satan se gewildste metodes om mense, wat God op die regte manier dien, van stryk te bring en hulle onvrugbaar te maak. Ons moet daarteen waak om nie in hierdie strik te val, en so teen die Here te werk, inplaas daarvan om Hom getrou te volg nie. Ek praat nie hier van gelowiges wat in sonde leef of valse leerstellings verkondig nie. Ek praat hier oor mense se persoonlike verhouding met die Here en die vrugte wat hulle behoort te dra, asook die werke wat uit ‘n verhouding van geloof in Jesus Christus behoort te manifesteer.
Rom 14:4 “Wie is jy wat die huiskneg van ‘n ander oordeel? Hy staan of val met betrekking tot sy eie heer; maar hy sal staande bly, want God is magtig om hom staande te hou.
Rom 14:10 Maar jy, waarom oordeel jy jou broeder? Of jy ook, waarom verag jy jou broeder? Want ons sal almal voor die regterstoel van Christus gestel word.”
God het ‘n doel met elkeen van ons se lewens, en Hy het ons vir daardie doel geskep met die verskillende gawes en geaardhede wat daarmee gepaard gaan.

Wanneer ‘n persoon die Evangelie glo, kom maak die Heilige Gees Sy woning in daardie persoon en is dit Sy werk om die gelowige te lei. Hy sal dit ook doen indien die gelowige Hom toelaat. Dit is net hier waar baie gelowiges dan die fout maak, deur om vir die onervare Christen te wil voorskryf wat se werk hy moet doen, en watse werke hy in die gemeenskap moet lewer, sonder om God en God se wil met die persoon in ag te neem. Die Here het almal van ons met ‘n doel geskep en Hy het vir elkeen ‘n doel wat Hy deur die persoon wil bereik. Dit is God se plig om die begeerte op die persoon se hart te lê om ‘n spesifieke taak te verrig. Dit is ook God se plig om daardie persoon in ‘n gegewe rigting te lei, maar dit gebeur gereeld dat ‘n sekere groep mense in die gemeente, die besluite namens God en die res neem en dan hulle strategie op die ander wil afdwing. En indien daar nie aan hulle doelstelling gehoor gegee word nie, dan is die ander persone nie waarlik Christene nie. Ons word nêrens beveel om oor ander te heers nie, of om strategieë op te stel nie, maar ons word gemaan om mekaar in liefde te dien en om God te volg. Hy alleen is die Herder en Hy moet die leiding , deur middel van die inwerking van die heilige Gees in die harte van Sy kinders, gee.
Fil 2:13 “want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.”
Dit sal slegs gebeur indien ‘n persoon in ‘n verhouding met God staan, wat op genade en geloof gebaseer is, en nie op werke nie. Daarom moet ons ook waak teen die gewoonte om werke op ‘n ander persoon se nek te wil lê, net omrede dit ons opinie is. Dit is ook een van die grootste redes waarom baie gelowiges die Christelike lewe as ‘n moeisame werk vind en nie as ‘n vreugdevolle verhouding met God nie. Hulle werk so hard om almal tevrede te stel, dat hulle vergeet dat dit eindelik die Here is wat deur hulle moet leef, en wat die vrug in hulle lewens moet voortbring en nie hulleself nie. Hulle is so besig met werke dat hulle ‘n verhouding met God misloop.

Joh 15:4 “Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie. 15:5 Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.
Anders gestel: “Die Here is die Herder, ons is die skape. Hy moet die leiding gee, ons moet volg!”
Joh 10:14 “Ek is die goeie herder, en Ek ken my eie en word deur my eie geken”
Psa 23:1 ‘n Psalm van Dawid. Die HERE is my herder; niks sal my ontbreek nie. 23:2 Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen. 23:3 Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil.”
Daar kan nie sprake wees van leiding indien daar nie eers ‘n verhouding is nie. En ek praat hier van ‘n verhouding wat op geloof gebaseer is, en nie op werke nie.
Gal 3:2 “Dit alleen wil ek van julle weet: het julle die Gees ontvang uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof?”
Ons is gered op grond van ons geloof in wat Jesus alles vir ons aan die kruis gedoen het. Ons het niks gedoen om ons verlossing te verdien nie en kon ook niks doen om onsself te red nie, maar sodra iemand wedergebore word is ons gou om ‘n hoop werke om daardie broeder se nek te wil hang. En dit nog voordat sy verhouding met die Here gevestig is, en hy nog nie eens self weet wat die Here wil hê hy moet doen nie. Hierdie optrede is totaal en al onvanpas en deur hierdie optrede vervang ons die Heilige Gees se leiding in daardie persoon se lewe met ons eie menslike opinies.

En soos ons weet, neem verhoudings tyd en is verhoudings gebaseer op die kwaliteit tyd wat ons met mekaar spandeer en nie in die hoeveelheid werk wat ons vir mekaar doen nie. Hoe gereeld hoor ons van families wat verbrokkel het, omrede die persone so besig was met die sorge van die lewe en hulle werk, dat hulle verby mekaar gelewe het? Dieselfde kan met ons verhouding met God gebeur, indien ons streef om werke vir Hom in die vlees te wil doen en nie deur die krag en leiding van die Heilige Gees wil lewe nie. Ons moet baie mooi verstaan, dat alle werke wat in die vlees gedoen is deur God verwerp sal word. Die enigste werke wat Hy sal aanvaar, is werke wat deur die Heilige Gees gedoen is! Ons dade gaan nie die Here beïndruk nie. Dit is wat Hy deur ons doen wat tel. Kyk maar na al die werke en geleerdheid wat Paulus voor sy wedergeboorte versamel het, maar hy het dit as niks gereken nadat hy geleer het om op God se genade staat te maak.
Fil 3:8 “Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry 3:9 en in Hom gevind te word, nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met dié wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof;”

Net so het die Here ook nie Ismael as die seun van Abraham aanvaar nie, want Ismael is gebore deur werke van die vlees en nie deur geloof in die beloftes van God nie.
Gén 22:2 “Toe sê Hy: Neem jou seun, jou enigste, wat jy liefhet, Isak, en gaan na die land Moría en offer hom daar as brandoffer op een van die berge wat Ek jou sal aanwys.”
Soos wat ons uit bostaande teksgedeelte baie mooi kan sien, noem God Isak, Abraham se enigste seun, en ons weet dat Ismael toe al gebore is en omtrent 13 jaar ouer as Isak was. Ook is Ismael weggestuur, omrede hy ‘n tipe is, van ‘n godsdiens wat op vleeslike werke gebaseer is en nie ‘n godsdiens wat op geloof in die beloftes van God gebaseer is nie. Daarom maan die Here ons om onsself te verloën, ons kruis op te neem en Hom te volg en nie mense en hulle opinies en strategieë nie. En wat het die Here vir Petrus gesê, toe hy wou hoor wat met Johannes, die skrywer van die boek Openbaring, in die toekoms sou gebeur.
Joh 21:22 “Jesus antwoord hom: As Ek wil hê dat hy bly totdat Ek kom, wat gaan dit jou aan? Volg jy My”
Volg jy My! Dit is wat ons moet doen. Ons moet versigtig wees om werke vir God met God self te vervang, anders is ons met niks anders as afgodediens besig nie. God soek jou en nie jou werke nie. Jou geloof in God en Sy inwerking deur jou sal outomaties vrugte voortbring, en jou geloof in Hom sal na werke in jou lewe lei. En daarom het Jesus gesê dat as ons, ons lewens vir Hom verloor dan sal ons dit in werklikheid vind. Want Hy is die lewe, en as Hy deur jou lewe dan is alles wat jy vir Hom doen ‘n plesier en nie ‘n moeisame werk nie. Ons arbeid vir God is dan een groot plesier, want ons doen wat ons die graagste wil doen, omdat Hy ons na die werk sal lei wat ons die graagste wil doen en dit sal ook die werk wees wat Hy wou hê ons moet doen. En dit is juis hier waar ons vind dat mense in die moeilikste omstandighede nog steeds hulle werk vir die Here kan doen, en nog steeds gevul kan wees met vreugde en vrede, want dit is nie hulleself wat die vrede en vreugde in hulle voortbring nie, maar die Heilige Gees wat deur hulle werk. Maar in die meeste gevalle werk dit nie so uit in ons lewens nie, want ons is meer gepla oor menslike opinies as wat ons oor God se opinie gepla is.

Kyk maar hoe swaar het die profete van die Ou-Testament gekry, omrede hulle die waarheid verkondig het, soos wat God dit wou hê, maar hulle kon net nie opgee nie, want die Heilige Gees het in hulle gewerk en dit is Hy wat hulle die krag gegee het om aan te gaan. Kom ons kyk wat Jeremia hieroor te sê gehad het.
Jer 20:7 “HERE, U het my oorgehaal, en ek het my laat oorhaal; U was te sterk vir my en het oorwin; ek was ‘n belagging die hele dag, almal saam spot met my. 20:8 Want elke keer as ek spreek, moet ek dit uitskreeu, moet ek roep: Geweld en verdrukking! —omdat die woord van die HERE vir my ‘n smaad en spot geword het die hele dag. 20:9 En as ek sê: Ek sal aan Hom nie dink nie en in sy Naam nie meer spreek nie, dan word dit in my hart soos ‘n brandende vuur, opgesluit in my gebeente. En ek het my moeg gemaak om uit te hou, maar kon nie.”
En dit is waarom die Apostels verheug kon wees toe hulle terwille van die Evangelie geslaan en mishandel is. Hulle het ook nie gebid om daarvan bevry te word nie, maar het gebid dat die Heilige Gees hulle vrymoedigheid sou gee om die Evangelie te verkondig.
Hnd 5:41 “Hulle het toe van die Raad af weggegaan, bly dat hulle waardig geag was om vir sy Naam oneer te ly.”
Ons weet ook egter vanuit die Skrifte dat al die dissipels die Here verlaat het, toe hulle in hulle eie krag getrou aan Hom wou bly die nag net voor Sy kruisiging! Dit was nie net Petrus wat die Here verloën het nie dit was al die dissipels. Die geheim lê nie in wat ons kan doen nie, maar in wat die Heilige Gees deur ons kan doen! Onthou dit altyd. Dit is nie die hoeveelheid werk wat ons vir die Here doen, wat by Hom tel nie, maar wel net die werk wat Hy deur ons doen, al is dit net een goeie werk. God moet die reg hê om die werk uit te deel soos wat Hy wil en nie soos wat ons wil nie. Ons moet ook nie oor ander wil heers nie, maar as God ons werklik lei sal ons ander wil dien. Daar is baie mense wat dink hulle doen God ‘n diens, maar in werklikheid werk hulle vir die ander kant. Die Here het ons hierteen gewaarsku en een so ‘n persoon was Paulus self, voordat die Here hom bymekaar gemaak het.
Hnd 22:4 “Hierdie Weg het ek vervolg tot die dood toe, en manne en ook vroue geboei en in gevangenisse oorgegee,”

Ons moet baie mooi besef, dat ons verhouding nie gebou kan word op grond van ons goeie dade of hoe goed ons mag dink ons is nie. Indien ons God vir dit vra wat ons dink ons verdien, dan moet Hy ons Hel toe stuur! Nee, ons verhouding word gebaseer op geloof in wat Hy deur Sy liefde en genade aan ons geskenk het en op niks anders nie. Dis nie ons eiegeregtigheid wat veroorsaak dat ons in ‘n verhouding met God kan staan nie, maar Sy liefde en genade aan ons. Hy gee, en doen, alles en ons aanvaar dit net in geloof. Ons moet onsself berus in Hom, wie alles reeds gedoen het, en wat dit vrylik gee aan die wat dit in geloof wil aanvaar. Indien ek Hom werklik glo dan sal ek rus van my eie werke en glo in Hom wat deur my moet werk.
Heb 4:10 “want wie in sy rus ingegaan het, rus ook self van sy werke soos God van syne.”
En nog ‘n teksgedeelte vir bevestiging:
Rom 4:5 “aan hom egter wat nie werk nie, maar glo in Hom wat die goddelose regverdig, word sy geloof tot geregtigheid gereken.”

Slegs indien ons volkome in geloof in Jesus Christus rus, en besef dat ons geseën word oor wie Hy is en wat Hy gedoen het, en nie oor enigiets goeds wat in ons is nie, sal ons verhouding met die Here groei en blom. Dit is vanuit hierdie posisie van rus, waar die Heilige Gees Sy werk in en deur ons sal kan doen. Christus is die wynstok ons is die lote! Die lote werk nie om vrugte aan die wynstok te maak nie, maar hulle rus in volkome vertroue in die wynstok en die wynstok bring dan die vrugte voort. So geld dit vir ons! Dit is wanneer ons in Jesus rus, dat Sy liefde in ons harte uitgestrooi word en dit dan oorborrel en ander daardeur geraak word. Dit is ook dan, dat die liefde, en krag, van God deur ons na ander sal vloei en ons sal dit as die grootste seën beleef en nie as ‘n uitputtende werk nie. Ook sal ons onsself nie kan help om die heeltyd oor die Here en Sy dinge te wil gesels nie, want ons is gevul met Sy Gees en Hy sal dan deur ons lewe. Dit is die geheim van ‘n verhouding met God. En vanuit hierdie posisie sal die Here Sy begeertes op ons harte  kan lê, en sal ons oor ons voete  wil val om dit te kan doen, want ons sal dit as ‘n seën beleef en nie as ‘n werk nie. Ons moet minder word, Hy moet meer word! Die eie ek, met al sy werke van die vlees, moet uit die Heilige Gees se pad kom, sodat Hy Sy werk kan doen. Dit is net wanneer ons, in geloof in Jesus Christus se voltooide werk rus, dat die Heilige Gees deur ons sal kan werk!

Daarom is dit verkeerd om aan ander te wil voorskryf wat hulle vir die Here behoort te doen. Dit is wanneer ons, ons doelstellings deur ander wil uitleef, wanneer hulle in posisies ingedwing word wat hulle nie voor geskape is nie en wat die Here hulle nie voor voorberei het nie. Mense word dan moedeloos en gee moed op, en loop van die Here af weg, of leef die res van hulle lewens in vrees, en wil dan die Here beïndruk deur hulle eie vleeslike werke. Iets wat die Here sal verwerp. Alle werke van die vlees sal deur die Here verwerp word, maak nie saak hoe heilig ons mag dink dit is nie. Indien ‘n persoon ‘n ingetrokke geaardheid het, moet hy dit as ‘n gawe van God beskou en toelaat dat God deur hom lewe en hy sal gou uitvind, dat hy homself nie hoef te dwing om voor ‘n skare te staan en te preek nie. Die Here sal so ‘n persoon bv lei om met afsonderlike mense die Evangelie te deel, of om te skryf, iets wat die persoon sal geniet. Die Here het ons almal met ‘n spesifieke geaardheid gemaak en het ‘n doel daarmee gehad. Die persone met uitgaande persoonlikhede, soos Paulus, sal weer meer na posisies soos pastore en evangeliste gelei word. So is daar ‘n plekkie vir almal in Jesus se liggaam, maar die geheim lê in die persoon se persoonlike geloofs verhouding met God, wat op Sy beloftes gebaseer is en nie op ons werke nie. Vanuit hierdie rustende posisie sal die Heilige Gees ons die nodige leiding, krag en die wil gee om te doen wat Hy wil hê ons moet doen. En as ‘n bonus, sal Hy ons boonop beloon vir die werke wat Hy deur ons doen. Dit is van uiterste belang om hierdie waarheid te onthou. Dit is hoekom daar voorbidders is, wie se werk nooit gesien word nie, maar ons sal nooit in hierdie lewe besef hoe baie deur hierdie mense se gebede bereik is nie. En dit alles net omrede hulle gedoen het wat God wou hê hulle doen en nie mense nie. Onthou, nie almal is die hand nie, ook is nie almal die oog nie. Net as verskillende dele saam vorm ons ‘n funksionele liggaam (1Ko 12:17)

Vergeet die strategieë , die veertig stappe en ander dergelike menslike planne en opinies wat meer in gemeen met die wêreld het as met die metodes van God. Konsentreer op jou persoonlike verhouding met God en bestudeer Sy woord. Alles wat ons nodig het om te leef, soos wat Hy wil hê ons moet leef, vind ons in die blaaie van ons Bybels.
2Ti 3:16 “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid,”
God soek jou, en nie jou werke nie! Rus in Hom! Om toe te laat dat Hy deur ons Sy wil doen is maar net deel van die seëninge waarmee Hy ons wil seën. Hy het nooit bedoel ons verhouding met Hom moet uitputtend of moeisaam wees nie. Die Here nooi ons nog steeds uit om Sy juk op ons te neem. Dit is ‘n juk wat vreugde en vrede verskaf en wat nooit moeg maak nie, maar wel rus verskaf!
Mat 11:29 “Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele;
Mat 11:30 want my juk is sag en my las is lig.”
En vir die mense wat so graag jukke om mense se nekke wil hang, los ek met die volgende teksgedeelte. Dink mooi hieroor na.
Hnd 15:10 “Nou dan, waarom versoek julle God deur op die nek van die dissipels ‘n juk te lê wat ons vaders en ook ons nie in staat was om te dra nie?”

Om mee af te sluit sal ek die leser aanraai om op sy verhouding met God te konsentreer, te rus in Hom en homself in sy Verlosser te verlustig.
Psa 37:4 “ en verlustig jou in die HERE; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart.”
Dit is wanneer ons onsself verlustig in God, dat Sy begeertes ons begeertes word, en dan vind ons, dat ons graag spontaan Sy wil, wil doen en sal ons onsself nie kan keer nie. Bly op die weg wat die Here jou lei en moenie toelaat dat mense jou ontspoor nie. Dit is Sy werk om ons te lei. Glo en verwag dit, want Hy dit sal dit doen!
Rom 8:6 “Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede,”
Dit is God wat in ons moet werk, ons moet in Hom rus!
Fil 2:13 “want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.”

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.