gevalle engel

Die Leerstelling van die Gevalle Engele

Die leser moet net kennis neem, dat hierdie studie hoofsaaklik oor gevalle engele of bose geeste handel. Aparte artikels wat Satan, asook die leerstelling van die heilige engele, aanspreek is alreeds in anders studies op die webtuiste behandel. (Die leser word aangeraai om die artikels “Satan” en “Die Leerstelling van die Heilige Engele” vir meer besonderhede rondom daardie aangeleenthede te lees.)

Die Eienskappe van gevalle engele:

A) Demone of bose geeste is gevalle engele:
Demone (duiwels soos wat dit in die 1953 Afrikaanse vertaling vertaal is) is gevalle engele wat saam met Satan teen God gerebelleer het. Die redes waarom ek glo dat demone of bose geeste gevalle engele is, is soos volg:

1) In Matt. 12:24 word Satan as die owerste van duiwels (bose geeste) omskryf.
Mat 12:24 “Maar toe die Fariseërs dit hoor, sê hulle: Hy dryf die duiwels nie anders uit as deur Beëlsebul, die owerste van die duiwels, nie.”
Bostaande teksgedeelte impliseer, dat Satan die leier van ander bose geeste is, en omrede hy ‘n gevalle engel is, kan dit met sekerheid gestel word, dat bose geeste (ander duiwels) ook gevalle engele is, wat saam met hom teen God gerebelleer het.

2) Vanuit die Skrifte is dit duidelik, dat Satan oor ‘n goed georganiseerde rangorde van gevalle engele (bose geeste) beskik, wat hom in die uitvoering van sy doelstellings bystaan. Hierdie rangordes van gevalle engele (bose geeste) word in die Bybel as “owerhede en magte” omskryf.
Efs 6:12 “Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.”
Dit wil voorkom of dieselfde soorte wesens hierdie rangordes opmaak en daarom kan hierdie wesens niks anders as gevalle engele wees nie.

3) Op verskeie plekke in die Bybel word na gevalle engele as onrein geeste verwys, wat hierdie wesens dan met die geestes wêreld verbind en nie met bloed en vlees nie. Om hierdie rede, word die duiwel (demoon) wat in Matt. 17:18 deur Jesus Christus uitgedryf word, as ‘n onrein gees in die parallelle teksgedeelte van Mark. 9:25 omskryf.
Mat 17:18 “Daarop bestraf Jesus hom; en die duiwel het van hom uitgegaan, en die seun het gesond geword van daardie uur af.
Mar 9:25 En toe Jesus sien dat ‘n skare bymekaar stroom, het Hy die onreine gees bestraf en vir hom gesê: Jou stom en dowe gees, Ek gebied jou, gaan uit hom uit en kom nooit weer in hom nie.”

4) In Luk. 10:17-20 word die duiwels (gevalle engele) as geeste omskryf.
Luk 10:17 “En die sewentig het met blydskap teruggekom en gesê: Here, ook die duiwels onderwerp hulle aan ons in u Naam. 10:18 Toe sê Hy vir hulle: Ek het die Satan soos ‘n bliksem uit die hemel sien val. 10:19 Kyk, Ek gee aan julle die mag om op slange en skerpioene te trap, en oor al die krag van die vyand; en niks sal julle ooit skade doen nie. 10:20 Maar julle moenie daaroor bly wees dat die geeste aan julle onderworpe is nie, maar wees liewer bly dat julle name in die hemele opgeskrywe is.”
In Matt. 8:16 word gevalle engele ook as onrein geeste beskryf, en om hierdie rede, kan met sekerheid gestel word dat gevalle engele en die bose geeste dieselfde wesens is.
Mat 8:16 “En toe dit aand geword het, het hulle baie na Hom gebring, wat van duiwels besete was; en Hy het die geeste met ‘n woord uitgedrywe; en almal wat ongesteld was, het Hy gesond gemaak,”

B) Gevalle engele beskik oor intellektuele vermoëns:

1) Hulle weet baie mooi wie die Here Jesus Christus is en hulle ken Hom.
Mar 1:24 “en gesê: Hou op! Wat het ons met U te doen, Jesus, Nasaréner? Het U gekom om ons te verdelg? Ek ken U, wie U is: die Heilige van God!”

2) Hulle dra kennis en is bewus van hulle uiteindelike lot en is bewus van die feit dat hulle vir ewig gepynig gaan word.
Mat 8:29 “En meteens skreeu hulle en sê: Wat het ons met U te doen, Jesus, Seun van God? Het U hier gekom om ons voor die tyd te pynig?”

3) Hulle verstaan en glo dat God ‘n Drie-Enige God is (monoteïsme) en nie drie afsonderlike gode is nie. (politeïsme)
Jak 2:19 “Jy glo dat God één is. Jy doen goed; die duiwels glo dit ook, en hulle sidder.”

4) Hulle beskik oor ‘n goed ontwikkelde sisteem van leerstellings.
1Ti 4:1 “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang 4:2 deur die geveinsdheid van leuenaars wat gebrandmerk is in hulle eie gewete, 4:3 wat verbied om te trou en gebied dat die mense hulle moet onthou van voedsel wat God geskape het om met danksegging gebruik te word deur die gelowiges en die wat die waarheid ken. 4:4 Want alles wat deur God geskape is, is goed, en niks is verwerplik as dit met danksegging ontvang word nie;”

5) Alhoewel bose geeste intelligente wesens is, beteken dit geensins dat hulle alwetend is nie. Slegs God is alwetend.

C) Gevalle Engele beskik oor morele eienskappe:

1) Hulle is onrein geeste en hulle leerstellings lei mense na immorele gedrag toe.
1Ti 4:3 “wat verbied om te trou en gebied dat die mense hulle moet onthou van voedsel wat God geskape het om met danksegging gebruik te word deur die gelowiges en die wat die waarheid ken.”
Die Rooms Katolieke Kerk, wat nie die ware kerk is nie, verbied hulle priesters om te trou, en as gevolg van hierdie leerstelling (wat onskriftuurlik is), en die mens se Godgegewe seksdrang, verval baie van hierdie mense in sonde in, en maak hulle hulleself aan skandelike sondes van pedofilie skuldig, omrede hulle nie toegelaat word om in ‘n Godgegewe huweliksband, tussen een man en een vrou, hulle seksuele drange te bevredig nie. Sodoende kry Satan dit reg om derduisende jong kinders se lewens te verwoes, en bring hierdie gedrag boonop God se heilige Naam in oneer, omrede hierdie mense as diensknegte van God bekendstaan. Baie keer verwerp mense die Here volkome as hulle van hierdie tipe gedrag lees, en dit terwyl hierdie priesters nie werklik God verteenwoordig nie en daardie mense dit nie eens besef nie.

D) Gevalle engele is kragtige wesens:

1) Alhoewel bose geeste kragtige wesens is en boonop baie invloedryk is, is hulle egter nie almagtig nie en beskik hulle oor nie oor onbeperkte magte nie.
Mar 5:3 “wat sy verblyf in die grafte gehad het. En niemand kon selfs met kettings hom bind nie; 5:4 want hy was dikwels met voetboeie en kettings gebind, en die kettings is deur hom uitmekaar geruk en die voetboeie stukkend gebreek; en niemand was in staat om hom te tem nie.
Mat 9:32 En terwyl hulle weggaan, bring die mense ‘n stom man wat van die duiwel besete was, na Hom toe. 9:33 En nadat die duiwel uitgedryf was, het die stomme gepraat. En die skare het hulle verwonder en gesê: So iets is nog nooit in Israel gesien nie!
Hnd 19:16 Toe spring die man in wie die bose gees was, op hulle en oormeester en oorweldig hulle, sodat hulle naak en gewond uit daardie huis gevlug het.”

Klassifikasie van gevalle engele:
Klassifikasie van gevalle Engele

A) Permanent gebonde gevalle engele:
Hierdie groep gevalle engele het oorspronklik saam met Satan teen God gerebelleer, en het hulleself daarna aan ‘n ander ernstige sonde skuldig gemaak, wat God genoop het om hulle permanent tot en met die oordeelsdag in die diepste duisternis (Grieks: “Tartarus”) gevange te hou.
Jud 1:6 “En die engele wat hul eie beginsel nie bewaar het nie, maar hul eie woning verlaat het, het Hy vir die oordeel van die groot dag met ewige boeie onder die duisternis bewaar
2Pe 2:4 Want as God die engele wat gesondig het, nie gespaar het nie, maar hulle in die hel (Grieks: Tartarus) gewerp en aan kettings van duisternis oorgegee het, om vir die oordeel in bewaring gehou te word;”
Die Griekse woord vir die duisternis wat in bostaande teksgedeelte gebruik is “Tartarus” en is nie dieselfde plek is die put van die afgrond nie.

Ek is van mening dat die gevalle engele, wat in Tartarus gebind is, engele is wat op die een of ander wyse fisieke liggame aangeneem het, en met menslike vrouens seksueel verkeer het, wat daartoe gelei het dat daar ‘n afskuwelike vermenging, in die vorm van hulle nasate ontstaan het. Hierdie hibridiese nasate wat as die Nephilim (word in sommige Bybels as reuse omskryf) bekendstaan se ontstaan word in Gen 6 Beskryf.
Gén 6:1”Toe die mense op die aarde begin vermeerder en daar vir hulle dogters gebore is, 6:2 sien die seuns van God dat die dogters van die mense mooi was, en hulle het vir hulle as vroue geneem almal wat hulle verkies het. 6:3 Toe sê die HERE: My Gees sal nie vir ewig in die mens heers nie, omdat hy ook vlees is; maar sy dae sal wees honderd en twintig jaar. 6:4 In dié dae was die reuse op die aarde, en ook daarna, toe die seuns van God by die dogters van die mense ingegaan en dié vir hulle kinders gebaar het. Dit is die geweldiges uit die ou tyd, die manne van naam.”
Let wel: Alhoewel die Bybel hierdie afskuwelike vermenging noem, word hierdie inligting egter deur sommige mense misbruik, en word daar boeke en ander media verkoop wat nie op feite gebaseer is nie, maar slegs menslike bespiegelinge is. Die internet is vol van hierdie materiaal en ongelukkig word baie mense hierdeur verlei en word God se woord deur hierdie tipe optredes in oneer gebring. Alhoewel engele nie kan voort plant en baba engeltjies voortbring nie, was dit tog op die een of ander wyse vir hierdie gevalle engele moontlik gewees om met menslike vroue te paar wat hierdie hibridiese nageslag tot gevolg gehad het. Hierdie hibridiese vermenging was egter in God se oë ‘n gruwel gewees, en daarom het Hy hierdie gevalle engele in Tartarus in kettings van duisternis gebind, tot en met die tyd dat hulle deur God geoordeel sal word. (ek gaan nie nou verder oor hierdie onderwerp uitbrei nie, omrede hierdie artikel oor gevalle engele handel en nie oor die Nephilim nie. Indien dit die Here se wil is, en Hy my lei om ‘n artikel oor die Nephilim te skryf, sal ek later so maak.)

B) Tydelike gebonde gevalle engele:
Die apostel Johannes verwys na hierdie groep gevalle engele in die laaste boek van die Bybel, naamlik die boek Openbaring. Die eerste verwysing na hierdie bose geeste vind ons in Gen. 9:1-11 wat soos volg lees:
Opn 9:1 “En toe die vyfde engel blaas, sien ek ‘n ster wat uit die hemel op die aarde geval het, en aan hom is die sleutel van die put van die afgrond gegee. 9:2 En hy het die put van die afgrond oopgemaak, en daar het rook opgekom uit die put soos rook van ‘n groot oond, en die son en die lug is deur die rook van die put verduister. 9:3 En uit die rook het daar sprinkane uitgekom op die aarde, en aan hulle is mag gegee soos die skerpioene van die aarde mag het. 9:4 En aan hulle is gesê dat hulle nie die gras van die aarde of enige groenigheid of enige boom moet beskadig nie, maar net alleen die mense wat die seël van God nie op hulle voorhoofde het nie. 9:5 En dit is aan hulle gegee, nie om hulle dood te maak nie, maar dat hulle vyf maande lank gepynig sou word; en hulle pyniging was soos die pyniging van ‘n skerpioen wanneer hy ‘n mens steek. 9:6 En in dié dae sal die mense die dood soek en dit nie vind nie; en hulle sal verlang om te sterwe, en die dood sal vir hulle wegvlug. 9:7 En die voorkoms van die sprinkane was soos dié van perde wat vir die oorlog toegerus is, en op hulle koppe was iets soos krone wat net soos goud gelyk het, en hulle gesigte was soos die gesigte van mense. 9:8 En hulle het hare gehad soos vrouehare, en hulle tande was soos dié van leeus. 9:9 En hulle het borsharnasse gehad soos van yster, en die gedruis van hulle vlerke was soos die gedruis van baie strydwaens met perde wat opruk na die oorlog. 9:10 En hulle het sterte gehad soos dié van skerpioene, en daar was angels in hulle sterte, en hulle mag was om die mense vyf maande lank skade aan te doen. 9:11 En hulle het as koning oor hulle die engel van die afgrond; sy naam in Hebreeus is Abáddon, en in Grieks het hy die naam van Apóllion.”
Let wel: Hierdie gevalle engele is huidiglik in die onderwêreld/put van die afgrond gebind, maar sal tydens die Verdrukking vrygelaat word om die ongelowige mensdom te pynig. Hierdie groep bose geeste is nie dieselfde groep as die wat in Gen 6 gesondig het, deur met die vroulike geslag van die mensdom seksueel te verkeer nie. 2Pet. 2:4 stel dit duidelik, dat die groep engel wat in Gen. 6 gesondig het, in bewaring gehou sal word tot en met die oordeel wanneer hulle ook in die poel van vuur gewerp sal word.
2Pe 2:4 “Want as God die engele wat gesondig het, nie gespaar het nie, maar hulle in die hel gewerp en aan kettings van duisternis oorgegee het, om vir die oordeel in bewaring gehou te word;”
Die nie permanent gebinde engele word egter uit die put van die afgrond (nie Tartarus nie) vrygelaat om hulle werk te verrig en is dus nie dieselfde groep gevalle engele as die wat in Tartarus gevange gehou word nie.

Gevalle engele se aktiwiteite en optredes:

A) Algemene aktiwiteite:

1) Demone poog om God se doelstellinge en planne te ontspoor. Hulle poog dus om God se doelstellinge te dwarsboom.
Dan 10:10 “En kyk, ‘n hand het my aangeraak en my op my knieë en op die handpalms waggelend laat opstaan. 10:11 En hy het vir my gesê: Daniël, geliefde man, gee ag op die woorde wat ek met jou spreek, en gaan staan op jou staanplek, want ek is nou na jou gestuur. En terwyl hy hierdie woord met my spreek, het ek bewende gaan staan. 10:12 Toe sê hy vir my: Wees nie bevrees nie, Daniël; want van die eerste dag af dat jy jou hart daarop gerig het om ag te gee en jou voor die aangesig van jou God te verootmoedig, is jou woorde gehoor, en om jou woorde ontwil het ek gekom; 10:13 maar die vors van die koninkryk van die Perse het een en twintig dae lank teenoor my gestaan, en kyk, Mígael, een van die vernaamste vorste, het gekom om my te help; en ék het daar oorgebly by die konings van Persië. 10:14 Ek het dan gekom om jou inligting te gee oor wat jou volk aan die einde van die dae te beurt sal val, want die gesig sien nog op die verre toekoms.
Opn 16:13 En ek het uit die bek van die draak en uit die bek van die dier en uit die mond van die valse profeet drie onreine geeste soos paddas sien kom. 16:14 Want dit is geeste van duiwels wat tekens doen, wat uitgaan na die konings van die aarde en die hele wêreld, om hulle te versamel vir die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God 16:15 Kyk, Ek kom soos ‘n dief. Salig is hy wat waak en sy klere bewaar, sodat hy nie miskien naak rondloop en hulle sy skaamte sien nie.16:16 En hulle het hul versamel op die plek wat in Hebreeus genoem word Armagéddon.”

2) Demone brei Satan se invloed uit deur sy doelstellinge en planne te gehoorsaam en uit te voer.
Efs 6:11 “Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. 6:12 Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.”

3) Soms maak die Here van gevalle engele gebruik om Sy eie doelstellings te bewerkstellig.
1Sa 16:14 “Maar die Gees van die HERE het van Saul gewyk, en ‘n bose gees, deur die HERE gestuur, het hom verskrik.” (In die Ou Testament was gelowiges nie deur die Heilige Gees verseël soos in die Nuwe Testament die geval is nie, en daarom het Hy soms mense verlaat. In die Nuwe Testament word gelowiges deur die Heilige Gees verseël en sal Hy hulle nooit verlaat nie. 2Kor.1:22; Ef.1:13; 4:30)
Soms maak die Here ook van gevalle engele gebruik om sonde in gelowiges se lewens te voorkom. In die geval van die apostel Paulus, het die Here van gevalle engele gebruik gemaak om hoogmoed in die groot apostel se lewe te voorkom.
2Ko 12:7 “En dat ek my oor die voortreflikheid van die openbaringe nie sou verhef nie, is my ‘n doring in die vlees gegee, ‘n engel van die Satan, om my met die vuis te slaan, dat ek my nie sou verhef nie. 12:8 Hieroor het ek die Here drie maal gebid, dat hy van my sou wyk. 12:9 En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon.”

B) Meer spesifieke aktiwiteite:

1) Bose geeste kan in sekere gevalle siektes op mense plaas.
Mat 9:33 “En nadat die duiwel uitgedryf was, het die stomme gepraat. En die skare het hulle verwonder en gesê: So iets is nog nooit in Israel gesien nie!
Luk 13:11 En daar was ‘n vrou wat ‘n gees van krankheid agttien jaar lank gehad het, en sy was inmekaargetrek en glad nie in staat om regop te kom nie.
Luk 13:16 Maar hierdie vrou wat ‘n dogter van Abraham is, wat die Satan—dink daaraan! —agttien jaar lank gebind het, moes sy nie van hierdie band op die sabbatdag verlos word nie?”

2) Gevalle engele kan mense in besit neem deur hulle te beset.
Mat 4:24 “En die gerug aangaande Hom is versprei oor die hele Sírië; en hulle het na Hom gebring almal wat ongesteld was, wat gekwel was deur allerhande siektes en pyne en wat van duiwels besete was, en maansiekes en verlamdes; en Hy het hulle gesond gemaak.”

3) Boonop kan bose geeste diere in besit neem en hulle beset.
Mar 5:13 “En Jesus het hulle dit dadelik toegelaat; en die onreine geeste het uitgegaan en in die varke gevaar, en die trop—daar was omtrent twee duisend—het van die krans af in die see gestorm en in die see verdrink.”

4) Bose geeste staan die gelowige se geestelike groei teen, in ‘n poging om die wedergebore Christen, te verhoed om tot geestelike volwassenheid te ontwikkel.
Efs 6:11 “Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. 6:12 Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug. 6:13 Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly.”

5) Demone is aktief besig om valse leerstellings op verskeie wyses te versprei.
1Ti 4:1 “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang 4:2 deur die geveinsdheid van leuenaars wat gebrandmerk is in hulle eie gewete,”
Om hierdie rede is dit so betreurenswaardig, dat wanneer valse predikers en hulle valse leerstellings, deur getroue Christene as sulks uitgewys word, dit gewoonlik ander Christene is wat hierdie persone aanval en as “Heresy hunters” of fariseërs uitkryt. Dit moet duidelik verstaan word, dat God Sy leerstellings, soos wat dit in ons Bybels opgeteken staan, baie ernstig opneem omrede dit Sy woord is. Boonop word ons beveel om mense wat valse leerstellings verkondig in die oog te hou en hulle te vermy. Hoe gaan ons valse predikers uitwys, insien ons hulle leerstellings nie eerstens volgens die Bybel oordeel nie?
Rom 16:17 “En ek vermaan julle, broeders, hou hulle in die oog wat tweedrag en aanstoot veroorsaak teen die leer wat julle geleer het, en vermy hulle. 16:18 Want sulke mense dien nie onse Here Jesus nie, maar hulle eie buik; en hulle verlei deur hul vriendelike en mooi woorde die harte van die eenvoudiges.”
Ongelukkig weerstaan die oorgrote meerderheid van die belydende Christendom hierdie opdrag, en laat deur hulle optrede toe, dat die bose geeste ongestoord hulle valse leerstellings verkondig en versprei. Hierdie is ‘n tragedie van ongekende proporsies! (Die leser word aangeraai om die artikel “Is Bybelse leerstellings so belangrik” vir verdere besonderhede rondom hierdie kwessie te lees. Twee boeke wat oor hierdie onderwerp handel en wat ek ten sterkste aanbeveel is die boeke “Seduction of Christianity” en “Occult Invasion” albei deur Dave Hunt geskryf.

6) Demone poog om mense se gedagtes en sienswyses te beïnvloed.
Gén 3:1 “ Maar die slang was listiger as al die diere van die veld wat die HERE God gemaak het. En hy sê vir die vrou: Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie? 3:2 En die vrou antwoord die slang: Van die vrugte van die bome in die tuin mag ons eet, 3:3 maar van die vrugte van die boom wat in die middel van die tuin is, het God gesê: Julle mag daarvan nie eet nie en dit nie aanroer nie, anders sal julle sterwe. 3:4 Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie; 3:5 maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken.
2Ko 4:3 Maar as ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan, 4:4 naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie.
2Ko 11:3 Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus.
Jak 3:14 Maar as julle bittere afguns en selfsug in julle hart het, moenie roem en lieg teen die waarheid nie. 3:15 Dít is nie die wysheid wat van bo kom nie, maar is aards, natuurlik, duiwels; 3:16 want waar afguns en selfsug is, daar is wanorde en allerhande gemene dade.”

Duiwel besetenheid:

A) Omskrywing van duiwel besetenheid:

1) Met duiwel besetenheid word bedoel, dat ‘n demoon binne in ‘n persoon sy woning maak, en dan vanuit daardie posisie poog om so ‘n persoon te beïnvloed of te beheer. Dus, poog die bose gees om die besette persoon van binne af buite toe te beheer wat sekere geestelike, verstandelike en liggaamlike versteurings tot gevolg sal hê. Daar moet egter ‘n duidelike onderskeid tussen duiwel besetenheid en geestelike oppressie getref word. Soos reeds gestel, word ‘n persoon wat duiwel besete is, van binne af buite toe beïnvloed en beheer. Met geestelike oppressie word ‘n persoon egter van buite af beïnvloed en onderdruk en woon die bose gees nie in daardie persoon in nie. ‘n Ware gelowige kan nie deur ‘n bose gees beset word nie, omrede die Heilige Gees Sy woning in daardie gelowige gemaak het en die Heilige Gees sal nie Sy tempel (die gelowige se liggaam) met ‘n bose gees deel nie.
1Ko 3:16 “ Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?
1Jo 4:4 Julle is uit God, my kinders, en het hulle oorwin, omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is.”
Die vraag of ‘n gelowige deur bose geeste beset kan word, is nogal ‘n omstrede aangeleentheid, en indien dit die Here se wil is, sal ek later ‘n volledige artikel skryf wat my siening, dat ‘n gelowige nie deur bose geeste beset kan word nie, meer breedvoerig vanuit die Bybel sal verduidelik. Die feit dat ‘n bose gees nie ‘n ware gelowige kan beset nie, beteken geensins dat daardie gelowige nie deur bose geeste van buite af beïnvloed of onderdruk kan word nie. ‘n Persoon kan tot so ‘n mate deur ‘n demoon onderdruk word, dat dit vir alle praktiese doeleindes sal voorkom of daardie persoon deur bose geeste beset is, maar dit is egter nie die geval nie.

B) Die gevolge van duiwel besetenheid:

1) Demone kan fisiese kwale of siektes op ‘n persoon bring.
Mat 9:32 “En terwyl hulle weggaan, bring die mense ‘n stom man wat van die duiwel besete was, na Hom toe. 9:33 En nadat die duiwel uitgedryf was, het die stomme gepraat. En die skare het hulle verwonder en gesê: So iets is nog nooit in Israel gesien nie!”
Dit moet egter mooi begryp word, dat nie alle siektes die noodwendige gevolge van duiwel besetenheid is nie. Die Bybel tref soms baie duidelik ‘n onderskeid tussen duiwel besetenheid en siektes wat as bewys dien dat duiwel besetenheid nie altyd die oorsaak van siektes is nie.
Hnd 5:16 “En die menigte van die stede in die omtrek het ook in Jerusalem bymekaargekom en siekes gebring en mense wat deur onreine geeste gekwel was; en hulle is almal genees.”
Hierdie siektes kan blindheid en doofheid insluit.
Mat 12:22 “Toe het hulle ‘n duiwelbesetene wat blind en stom was, na Hom gebring; en Hy het hom gesond gemaak, sodat die blinde en stomme kon praat en sien.”
Bose geeste kan ook veroorsaak dat ‘n persoon stuiptrekkings kry in ‘n poging om hom skade aan te doen.
Luk 9:39 “En kyk, ‘n gees gryp hom, en meteens skreeu hy, en hy laat hom stuiptrekkings kry met skuim in die mond en gaan amper nie van hom weg nie en verniel hom.”

2) Soms is geestelike versteurings en siektes die gevolg van duiwel besetenheid.
Mat 17:15 “Here, ontferm U oor my seun, want hy is maansiek en ly swaar; want dikwels val hy in die vuur en dikwels in die water.”
Maar ook hier moet dit duidelik gestel word, dat alhoewel duiwel besetenheid tot kranksinnigheid kan lei, nie alle gevalle van geestelike siektes die noodwendige gevolg van duiwel besetenheid is nie. In Daniel 4 sien ons dat dit die Here was wat koning Nebukadnesar siek gemaak het, en word daar geensins geïnsinueer dat bose geeste enigsins iets met sy toestand te make gehad het nie.
Dan 4:31 “Terwyl die woord nog in die mond van die koning was, val daar ‘n stem uit die hemel: Koning Nebukadnésar, jou word aangesê—die koningskap word jou ontneem; 4:32 en hulle sal jou uit die mensdom verstoot, en jou woning sal saam met die diere van die veld wees; hulle sal jou plante laat eet soos die beeste, en sewe tydperke sal oor jou heengaan, totdat jy erken dat die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil. 4:33 Dieselfde oomblik het die woord in vervulling gegaan oor Nebukadnésar—hy is uit die mensdom verstoot en het plante geëet soos die beeste, en deur die dou van die hemel is sy liggaam natgemaak, totdat sy hare lank geword het soos die vere van arende, en sy naels soos dié van voëls.”
Daar is geleerdes wat glo, dat die siekte wat koning Nebukadnesar oorval het, die siekte wat in Engels as “Boanthropy” bekendstaan, is. Dit is wanneer ‘n persoon dink dat hy ‘n bees is en dan daarvolgesn optree. So ‘n persoon sal dan soos ‘n bees gras wil eet ens, net soos wat dit met Nebuchadnezzar die geval was.

3) Neiging tot selfvernietiging en selfmutelasie.
Mar 5:5 “En altyd, nag en dag, het hy aangehou om te skreeu op die berge en in die grafte en homself met klippe stukkend te slaan.:

4) Duiwel besetenheid kan daartoe lei dat ‘n persoon oor bomenslike krag beskik.
Mar 5:3 “wat sy verblyf in die grafte gehad het. En niemand kon selfs met kettings hom bind nie; 5:4 want hy was dikwels met voetboeie en kettings gebind, en die kettings is deur hom uitmekaar geruk en die voetboeie stukkend gebreek; en niemand was in staat om hom te tem nie.”

5) Duiwel besetenheid lei soms daartoe dat ‘n persoon oor okkultiese magte beskik.
Hnd 16:16 “En terwyl ons op pad was na die bidplek, kom ‘n slavin met ‘n waarsêende gees ons teë, wat vir haar eienaars deur waarsêery groot wins ingebring het.16:17 Sy het Paulus en ons gevolg en geskreeu en gesê: Hierdie manne is dienaars van God, die Allerhoogste, en hulle verkondig aan julle die weg van verlossing.16:18 En dit het sy baie dae lank gedoen; maar baie ontevrede daaroor, het Paulus hom omgedraai en vir die gees gesê: Ek beveel jou in die Naam van Jesus Christus om uit haar uit te gaan. En hy het op dieselfde oomblik uitgegaan.”

Ter Afsluiting: Dit is van uiterste belang dat ons die Bybel as maatstaf vir al ons leerstellings gebruik en nie ons ervarings en gevoelens nie, anders gaan ons ernstig mislei word. Daar is ‘n baie groot gedeelte van die belydende Christendom wat ervaring en gevoelens bo die leerstelling van die Bybel gebruik om hulle leerstelling van die engele te bepaal. Hierdie tipe optredes gaan daartoe bydra dat die Kerk al hoe verder verlei word. Dit is daarom noodsaaklik om kennis te dra van wat die Bybel oor die leerstelling van die gevalle engele te sê het en nie ons opinies in die Bybel in te lees nie. Die leser word aangeraai om die artikels “Bind en Ontbind van bose Geeste” en “Bloedlyn vloeke” te lees. As gelowiges hoef ons nie demone te vrees nie en behoort ons ingelig te wees oor hoe om geestelike oorlogvoering op ‘n Skriftuurlike wyse toe te pas en nie van onskriftuurlikke metodes gebruikmaak wat net tot verder vereliding gaan bydera nie.
Efs 6:10 “Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. 6:11Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. 6:12 Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug. 6:13 Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly. 6:14 Staan dan vas, julle lendene met die waarheid omgord, met die borswapen van die geregtigheid aan, 6:15 en as skoene aan julle voete die bereidheid vir die evangelie van vrede. 6:16 Behalwe dit alles neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus. 6:17 En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees—dit is die woord van God— 6:18 terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges”

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.