Bloedlyn vloeke

Bloedlyn vloeke

Deesdae is die leerstelling van bloedlyn vloeke baie gewild onder sekere gemeentes en dit is te verstane, omrede gewilde tel-evangeliste en skrywers soos Joyce Meyer, Marilyn Hickey, Benny Hinn, Neil Anderson, Healing Streams en vele ander hierdie gewilde maar onskriftuurlike leerstelling verkondig. As mens gaan kyk na al die boeke wat oor hierdie onderwerp geskryf is, sal mens gou agterkom, dat dit ‘n gewilde onderwerp is, en dat baie geld uit die verkoop van hierdie boeke gemaak is. ‘n Ander rede waarom hierdie leerstelling so gewild is is dat die mens oor ‘n sonde natuur beskik en dit dus moeilik vind om verantwoordelikheid vir sy eie foute te neem. Sielkundige teorieë het baie mense daarvan oortuig dat hulle nie werklik sondaars is nie, maar dat hulle die slagoffers van die samelewing in die algemeen, en veral die slagoffers van hulle ouers is. Baie mense, soos die tel-evangeliste soos hierbo genoem beweer dat ons bloedlyn vloeke van ons voorgeslagte ontvang het en dat hierdie bloedlyn vloeke eers gebreek moet word alvorens ‘n persoon werklik vry kan wees.

Daar word verder beweer dat selfs ware gelowiges die slagoffers van bloedlyn vloeke kan wees en dus onder ‘n vloek kan wees, en hierdie vloeke word dan voorgehou as verskoning hoekom ‘n gelowige nie oor ‘n spesifieke sonde in sy lewe kan heers nie. Volgens hierdie mense lê die probleem nie by die gelowige self nie, maar is die probleem in die bloedlyn vloek gesetel en moet die vloek eers gebreek word. Baie van die mense wat hierdie leerstelling ook dan verkondig beweer dat hulle die slagoffers daarvan deur die inligting wat in hulle boeke opgeteken is, of deur die bywoning van een van hulle byeenkomste kan bevry. Ons as gelowiges moet egter nie alles goedsmoeds glo wat mense aan ons verkondig nie, en dit maak nie saak hoe gewild of geleerd ‘n persoon mag voorkom nie. God het Sy woord die Bybel aan ons gegee en verwag dat ons daarvolgens moet leef, en alle doktrines wat aan ons verkondig word, moet eers met die Bybel vergelyk word. Slegs die Bybel is God se onfeilbare, onveranderlike en absolute ware woord aan die mens.
2Ti 3:16 “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid,
3:17 sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”
Daarom is dit ook dan belangrik om die leerstelling van bloedlyn vloeke met die Bybel te vergelyk en dit is wat ons ook dan sal doen. Ons sal ook opmerk dat mense soos Joyce Meyer hoofsaaklik die bloedlyn vloeke leerstelling vanuit die Ou-Testament verkry en dit omrede die leerstelling nie in die Nuwe-Testament voortkom nie, en soos gedemonstreer sal word, ook geensins in die Bybel as geheel verkondig word nie. Dus is hierdie leerstelling ‘n onskriftuurlike leerstelling wat verwerp behoort te word.

Seker die belangrikste teksgedeelte wat as bewys voorgehou word dat gelowiges die slagoffer van bloedlyn vloeke kan wees, vind ons in Exodus 20:4-6 wat soos volg lees:
Eks 20:4 “Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie.
20:5 Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die HERE jou God, is ‘n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat;
20:6 en Ek bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en my gebooie onderhou.”
As ons die bogenoemde teksgedeelte sorgvuldig bestudeer en nie enige vooropgestelde idees daarin inlees nie, sal dit gou duidelik wees wat die Here hier bedoel het en is bloedlyn vloeke nie deel van God se gedagtes gewees toe Hy hierdie teksgedeelte laat opteken het nie.

As ons glo dat die Bybel God se woord is, en as God se woord, sal ons moet besef dat die Bybel homself nie kan weerspreek nie. Hierdie is een van die goue reëls van Bybel uitleg. Indien een teksgedeelte met ‘n ander in botsing kom en dit weerspreek, moet ons weet dat die fout nie in die Bybel gesetel is nie, maar dat daar ‘n fout met ons uitleg van die Bybel is. In Esegiël 18 vind ons so ‘n teksgedeelte, wat wil voorkom asof dit die teksgedeelte soos wat ons dit in Eks 20:4-6 vind weerspreek.
Esg 18:20 “Die siel wat sondig, dié moet sterwe; die seun sal nie die ongeregtigheid van die vader help dra nie, en die vader sal nie die ongeregtigheid van die seun help dra nie; die geregtigheid van die regverdige sal op hom wees, en die goddeloosheid van die goddelose sal op hom wees.”
Dit wil nou voorkom asof die Bybel homself weerspreek, soos baie mense ook dus beweer. Dit is egter nie die geval nie. As ons die tweede goue reël van Bybel uitleg onthou, wat stel dat onduidelike teksgedeeltes altyd in lig van duidelik verstaanbare teksgedeeltes verklaar moet word, sal ons opmerk dat die Bybel homself nie weerspreek nie, maar dat die inligting daarin vervat soos ‘n legkaart bymekaar inskakel. Esg 18:20 stel dit baie duidelik dat die kinders nie die vader se straf vir sonde sal dra nie en dat elkeen persoonlik verantwoordelik gehou sal word vir die sondes wat hulle self gepleeg het. So wat het die Here dan in Eks 20:4-6 bedoel, toe Hy dit gestel het dat Hy die misdaad van die vaders besoek tot die derde en vierde geslag toe?

Eerstens moet dit mooi verstaan word dat die Here in Eks 20:4-6 met Israel as ‘n nasie gespreek het, wat ‘n verbond met God aangegaan het waarop hulle geseën sou word vir gehoorsaamheid en dat hulle vervloek sou word indien hulle ongehoorsaam was. Meeste van die Ou-testament reflekteer ook dan die siklusse van gehoorsaamheid en seën en afvalligheid en straf tot en met so ‘n mate dat die volk in ballingskap weggevoer is, presies net soos wat die Here gewaarsku het. Daarom sal ons ook vind dat mense soos die profeet Daniël namens die volk Israel by God vir die volk se sondes belydenis doen. (Dan 9:5) Die Here het ook dan met die volk in geheel gehandel en is die volk soms gestraf vir die oortreding van een persoon. (Josua 7:1-26)

Eks 20:5 “Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die HERE jou God, is ‘n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat;
As ons die bogenoemde teksgedeelte sorgvuldig deurlees, sal ons opmerk dat die Here geensins ‘n vloek in hierdie teksgedeelte noem nie. Hy praat wel van misdade en hierdie teksgedeelte handel spesifiek oor afgodery. Daar word geensins gepraat van bloedlyn vloeke nie. Wat die Here bedoel is dat waar ‘n persoon in sonde verval (nie in bloedlyn vloeke verval nie) daardie persoon se kinders, die ouers die spesifieke sonde sien bedryf en dan daardie sonde by die ouers aanleer. Die kind op sy beurt stel weer dieselfde voorbeeld aan sy kinders en so begin daar ‘n patroon in die nageslagte vorm aanneem, waar die kinders leer om God te haat. Daarom is dit vir ons as ouers baie belangrik om te besef watter groot invloed ons op ons kinders se gedrag kan uitoefen en daarom moet ons ook versigtig wees oor watse voorbeeld ons aan hulle stel. Lees asb die artikel “Ouers se voorbeeld aan kinders” vir meer besonderhede oor hierdie onderwerp. Dus het ons hier te doen met aangeleerde gedrag, en nie een of ander bloedlyn vloek wat van een persoon na ‘n ander oorgedra word nie. Omdat die kinders dan die gedrag van hulle ouers navolg deur om God te haat, word elke individu in die nageslagte van die wat God haat verantwoordelik gehou vir hulle eie individuele sonde, omdat hulle almal self God haat. Elkeen as individue is dus skuldig aan die sonde van afgodery en al die nageslagte wat daarby betrokke is dra dus die gevolge van hulle eie sonde. Hierdie beginsel geld vir enige sonde, soos alkoholisme, morele verval ens.

Die oplossing vir die probleem lê nie daarin om die vloeke wat kwansuis aan die nageslagte oorgedra is te verbreek of te bind nie. (Daar is geen so leerstelling in die Bybel nie) Nee die oplossing lê daarin om tot die Here te bekeer, onsself te verloën, ons kruis op te neem en Jesus Christus getrou na te volg. Om te bekeer is ‘n keuse van ons wil en as ons ook dan ons kinders in die weg van die Here grootmaak, sal ons ten minste verhoed dat hulle ons sondes aanleer en dit weer aan hulle kinders leer. So breek mens die bose kringloop en verseker dat die toekomstige geslagte God se goedkeuring wegdra en nie gestraf word nie. Daarom is die volk Israel ook beveel om hulle kinders volgens God se wet te onderrig.
Deu 6:6 “En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees;
6:7 en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan.”
In die Nuwe-Testament gee Paulus ‘n soortgelyke opdrag aan die Kerk.
Efs 6:4 “En vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, maar voed hulle op in die tug en vermaning van die Here.”
En Onthou God se belofte!!
Eks 20:6 en Ek bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en my gebooie onderhou.”
Die persoon wat dus ophou om God te haat en in geloof na Hom bekeer is verseker van God se genade en barmhartigheid. Dit is so eenvoudig soos dit!

Dit moet ook verder ingedagte gehou word, dat die Here aan elkeen van ons afsonderlik ‘n vrye wil gegee het en daarom beskik ons oor die vermoë om besluite te kan neem. Ons moet ook verder baie mooi verstaan, dat die Here ons verantwoordelik gaan hou vir die besluite wat ons gemaak het, en nie vir die besluite van ander nie.
Esg 18:19 “Maar julle sê: Waarom dra die seun nie saam die ongeregtigheid van die vader nie? Maar die seun het reg en geregtigheid gedoen en al my insettinge onderhou en dit volbring—hy sal sekerlik lewe!
18:20 Die siel wat sondig, dié moet sterwe; die seun sal nie die ongeregtigheid van die vader help dra nie, en die vader sal nie die ongeregtigheid van die seun help dra nie; die geregtigheid van die regverdige sal op hom wees, en die goddeloosheid van die goddelose sal op hom wees.
18:21 Maar as die goddelose hom bekeer van al sy sondes wat hy gedoen het, en al my insettinge onderhou en reg en geregtigheid doen, sal hy sekerlik lewe, hy sal nie sterwe nie.”

Alhoewel ons dus ons kinders kan beïnvloed en onsself deur ons ouers beïnvloed is, beteken dit geensins, dat ons nie vir ons verkeerde besluite gestraf sal word nie. Ons almal het ‘n vrye wil en het ‘n keuse om God te volg of om Hom te verontagsaam. ‘n Mooi illustrasie van hierdie feit is die geskiedenis van Kain en Abel. Altwee broers het uit dieselfde familie gekom en het dieselfde agtergrond gehad. Die een het egter gekies om goddeloos te wees en het die eerste moordenaar geword. Abel die jongste het egter gekies om God te volg en het die eerste martelaar geword. (Gen 4:8) Dus speel ons wil ‘n groter rol in die keuses wat ons maak en is ons nie afhanklik van die omstandighede en agtergrond waarvandaan ons afkomstig is nie. Dit kan dus gebeur dat ‘n persoon se hele familie en sy bloedlyn goddeloos is, maar die persoon self is nie goddeloos nie, omrede hy gekies het, om teen sy familie se tradisies en aangeleerde gewoontes in, ‘n besluit te neem om God te gehoorsaam en volgens God se weë te lewe. Aan die anderkant kan dit gebeur dat ‘n persoon uit ‘n godvresende familie kom, maar goddeloos word, omdat hy kies om te wees wat hy wil wees. Dit is die gawe van vrye wil en daarom gaan God hom vir sy keuses verantwoordelik hou. Ons kan nie ons agtergrond as verskoning vir ons keuses gebruik nie. 2 Kronieke 28-35 illustreer hierdie feit baie mooi. Die goddelose koning Agas was die vader van Jehiskía, wat ‘n godvresende koning was, en wie se seun Manasse en kleinseun Amon afgodery bedryf het. Die keuses wat hulle gemaak het was nie a.g.v enige bloedlyn vloeke gewees nie, maar was omdat hulle gekies het om God te volg of om Hom te verwerp.

Ons moet teen die tendens waak om die sogenaamde bloedlyn vloeke as verskoning te gebruik vir die keuses wat ons maak om te sondig. Dit is dan ook nie vreemd om te hoor dat ‘n persoon vir gebed vra om bevry te word van ‘n sogenaamde binding omrede die persoon glo dat hy ‘n binding van onreinheid, dronkenskap of iets soortgelyks ontvang het, omdat sy pa en oupa ook met dieselfde sondes gesukkel het. So ‘n persoon word dan deur hierdie valse leerstellings oortuig dat hy die slagoffer van bloedlyn vloeke is en as die geeste wat hom bind deur gebed gebind word, hy bevry sal word van die sondes. Dit is dan ook verder opmerklik dat die persone wat hierdie valse leerstelling verkondig demone agter elke sonde wat mens pleeg soek, en die demone die skuld vir die sondes van die mens gegee word, en nie die sondaar self nie. Daar word dan terug in die persoon se geskiedenis gegaan en alle sondes en bindings van die voorvaders word bely en gebind. Die Bybel lê die skuld egter voor die deur van die mens self en noem dit nie ‘n bloedlyn vloek nie, maar die werke van die vlees.
Gal 5:19 “En die werke van die vlees is openbaar, naamlik owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid;
5:20 afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap;
5:21 afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge, waarvan ek julle vooraf sê, soos ek al vroeër gesê het, dat die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie.”

Die Skrifte leer ook nie dat ons die werke van die vlees moet bind nie, maar ons word aangesê om deur die Gees te wandel en die werke van die vlees af te lê.
Gal 5:24 “Maar die wat aan Christus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig.
Gal 5:25 As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel.
Rom 13:14 Maar beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie.”
Nêrens in die Nuwe-testament word ons geleer om bloedlyn vloeke, wat ons kwansuis van ons voorvaders af geërf het, moet bind nie. Dit is ‘n onskriftuurlike leerstelling wat van buite af in die kerk ingebring is. Daarom is dit nie vreemd dat die leerstelling van bloedlyn vloeke in die okkult voorkom nie. Die Bybel spreek altyd die mens aan en beveel hom persoonlik om sy boosheid te laat staan.
1Pe 2:1 “Lê dan af alle boosheid en alle bedrog en geveinsdheid en afguns en alle kwaadpratery;
2:2 en verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die woord, dat julle daardeur kan opgroei,”

Omrede baie van hierdie mense soos Joyce Meyer se bediening op die voorspoed-evangelie gefokus is, (wat nie die ware Evangelie is nie) word dit dan gereeld verkondig dat die mense wat arm is die vloek of binding van armoede moet verbreek, omrede hierdie binding kwansuis ‘n vloek is wat deur die voorgeslagte op die persoon gekom het. Indien hierdie bewerings korrek is dan sou ons moes erken dat al die Apostels onder ‘n vloek was, want hulle almal was arm!
1Ko 4:11 “Tot op hierdie uur ly ons honger en dors, is ons naak en word geslaan, en swerwe ons rond,
4:12 en swoeg ons deur met ons eie hande te werk. Word ons uitgeskel, ons seën; word ons vervolg, ons verdra dit;
4:13 word ons belaster, ons troos; soos uitvaagsels van die wêreld het ons geword, die afskraapsel van almal tot nou toe.
Hnd 3:6 Maar Petrus sê: Silwer en goud het ek nie; maar wat ek het, dit gee ek vir jou: In die Naam van Jesus Christus, die Nasaréner, staan op en loop!”
Die Bybel stel dit baie duidelik dat dit oor die algemeen arm mense is wat ryk in geloof is.
Jak 2:5 “Luister, my geliefde broeders—het God nie die armes van hierdie wêreld uitverkies as rykes in die geloof en erfgename van die koninkryk wat Hy beloof het aan die wat Hom liefhet nie?”
Onthou dit is nie rykdom wat God behaag nie, maar geloof!

Die Here Jesus Christus self het mooi aan ons verduidelik wat ons moet doen as mense ons vervloek.
Luk 6:28 “Seën die wat vir julle vervloek, en bid vir die wat julle beledig.”
Jesus het nie hier gesê, dat ons die vloek wat iemand op ons geplaas het, moet bind en verbreek nie. Nee Hy het gesê dat ons die mense moet seën en aan hulle goed moet doen. As ons Jesus se opdrag uitvoer is daar altyd die moontlikheid dat ons hierdie mense met die Evangelie kan bereik as hulle ons optrede waarneem. Geen vloek kan enigiets aan ‘n gelowige doen as daardie gelowige in Jesus Christus is nie. Die enigste vloek waarvoor ons moet bang wees is ‘n vloek wat God self op iemand lê. ‘n Voorbeeld hiervan is die ongelowiges wat na afloop van die Groot Verdrukking Hel toe gestuur word, omdat hulle deur God vervloek is omdat hulle nie die Evangelie geglo en gehoorsaam het nie.
Mat 25:41 “Dan sal Hy ook vir dié aan sy linkerhand sê: Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele.”
As ons egter die Evangelie geglo het, dan kan ons nie die slagoffers van hierdie vloek wees nie, want Jesus self het dan ‘n vloek vir ons geword en Hy het al ons sondes op Hom geneem en daarvoor betaal.
Gal 3:13 “Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons ‘n vloek te word—want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout hang—
3:14 sodat die seën van Abraham na die heidene kan kom in Christus Jesus, en dat ons die belofte van die Gees deur die geloof kan ontvang.”

Ons moet ook baie versigtig wees vir mense, wat bindings en vloeke agter elke probleem wat ons mag beleef, soek. Dink maar aan Job. Dit sou hom niks gebaat het om die geeste in die lug te bind, bloedlyn vloeke te verbreek en verantwoordelikheid vir sy voorvader se sondes te neem nie. Die Here het ook nie Job vervloek nie, maar het hom getoets. Dieselfde beginsel geld vir Moses wat 40 jaar in die woestyn moes wegkruip, en Dawid wat vir Saul in die woestyn moes wegkruip en dit nadat hy alreeds as koning gesalf is. Dan praat ek nie eers van Josef wat deur sy broers as slaaf verkoop was en die Apostels, wat almal behalwe een, as martelare gestrewe het nie. Johannes wat nie as martelaar gesterf het nie het dit maar moeilik op aarde gehad en sekere tel-evangeliste van vandag sou beweer dat hy ‘n ernstige binding het en dat hierdie bloedlyn vloeke of bindings oor sy lewe gebreek moes word. En wat van Paulus en al die lyding wat hy moes verduur. Ons almal voel soms asof ons die slagoffers van een of ander vloek is, maar ons moet mooi verstaan dat die Here self, en dit vir ons beswil, beproewinge op ons pad kan stuur om ons karakter te leer.
1Pe 1:6 “Daarin verheug julle jul, al word julle nou—as dit nodig is—’n kort tydjie bedroef onder allerhande beproewinge,
1:7 sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus;
1:8 vir wie julle, al het julle Hom nie gesien nie, tog liefhet; in wie julle, al sien julle Hom nou nie, tog glo en julle verbly met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap,
1:9 en die einddoel van julle geloof, die saligheid van julle siele, verkry.”
Onthou mens bou nie karakter om die soppotte van Egipte nie, maar karakter word in die woestyn geleer.

Mens wat die bloedlyn vloeke leerstelling verkondig is die mense wat ander onder bindings plaas. Nie een van die apostels het ooit oor die binding van voorvaderlike of bloedlyn vloeke geleer nie. Nêrens het hulle ooit verkondig dat ‘n persoon vir een of ander bloedlyn vloek in die geskiedenis van sy familie moes gaan soek nie. Nee, hulle het dood eenvoudig die suiwer Evangelie verkondig want daarin lê ons vryheid. Soos reeds gestel is die bloedlyn vloeke leerstelling ‘n onskriftuurlike leerstelling wat die hoorders daarvan, van hulle vryheid wat daar in Jesus is, roof en wat gelowiges se fokus van Jesus Christus af wegneem en op onskriftuurlik leerstelling fokus. Die vloek van die wet in van toepassing op mense wat volgens die wet geregverdig wil word en nie op grond van eenvoudige geloof in Jesus Christus se voltooide werk aan die kruis nie.
Gal 3:10 “Want almal wat uit die werke van die wet is, is onder die vloek; want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die wet om dit te doen nie.
3:11 En dat niemand deur die wet by God geregverdig word nie, is duidelik; want die regverdige sal uit die geloof lewe.”

Ons sien ook verder dat die mense in Éfese geensins aangesê is om eers die bindings, wat a.g.v bloedlyn vloeke of enige vloeke oor hulle gekom het, moes breek nie. Nee, Paulus hulle het dood eenvoudig die Evangelie verkondig en die mense het hulle sondes bely en hulle okkultiese boeke verbrand. Nêrens is hulle aangesê om die enige okkultiese gees of invloed wat kwansuis deur hulle ouers se sondes aan hulle oorgedra is te bind nie.
Hnd 19:18 “En baie van die wat gelowig geword het, het belydenis kom doen en hulle dade bekend gemaak;
19:19 en verskeie van die wat met towery omgegaan het, het die boeke bymekaargebring en voor almal verbrand; en hulle het die waarde daarvan bereken en gevind dat dit vyftig duisend silwerstukke was.”
Indien daar ooit die ideale geleentheid vir Paulus was om die bloedlyn vloeke leerstelling te verkondig, was hierdie geleentheid dit. Maar Paulus het niks van enige bloedlyn vloeke geleer nie, want hy het nie so ‘n leerstelling geken nie. Die enigste manier waardeur bose geeste ‘n houvas op ‘n persoon se lewe kan kry, is wanneer daardie persoon self in die okkult en sonde betrokke raak. En die enigste manier wat so ‘n persoon werklik bevry sal kan word, is om sy sonde te laat staan en na Jesus Christus toe te bekeer. Dit is ook dan presies wat sommige Efesiërs gedoen het. As gelowiges word ons in Christus geplaas en solank as wat ons in Christus bly het die bose gees ‘n houvas op ons nie.
Kol 1:13 “Hy wat ons verlos het uit die mag van die duisternis en oorgebring het in die koninkryk van die Seun van sy liefde,
1Jo 5:18 Ons weet dat elkeen wat uit God gebore is, nie sondig nie; maar hy wat uit God gebore is, bewaar homself, en die Bose het geen vat op hom nie.”

Die leerstelling van bloedlyn vloeke is nie net onskriftuurlik nie, maar dit is ook baie gevaarlik. Mense wat hierdie leerstelling verkondig beweer dat Satan en sy demone deur middel van een of ander binding wat a.g.v hulle voorvaders se sondes aan hulle oorgedra kan word. Die Bybel stel dit baie duidelik dat indien ‘n persoon die Evangelie geglo het hy nie meer onder die vloek kan wees nie, want Jesus Christus het dan die gelowige se sondes op Homself geneem.
Gal 3:13 “Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons ‘n vloek te word—want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout hang—
Gal 3:14 sodat die seën van Abraham na die heidene kan kom in Christus Jesus, en dat ons die belofte van die Gees deur die geloof kan ontvang.
2Ko 5:21 Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.”

Die bogenoemde teksgedeeltes stel dit baie duidelik dat die gelowige se sondes asook die vloek wat daarmee gepaardgaan op Jesus geplaas is en dat Hy daarvoor versoening gemaak het. Dit is in kort die Evangelie. Wat die mense wat die bloedlyn vloeke leerstelling dan eindelik wil beweer, is dat Jesus al ons sondes aan die kruis betaal het, maar dat ons nog onder die vloek van ons voorvaders se sondes is en dus daarvoor verantwoordelik gehou word. Dit is ‘n direkte aanval op die akkuraatheid en inspirasie van die Bybel, asook die voltooide versoenings werk van Jesus Christus aan die kruis. As ons a.g.v ons voorvaders se sondes nog onder die vloek kan wees, dan is ons nie gered nie en is Jesus se woorde dat ons nie in die oordeel sal kom nie ‘n leun.
Joh 3:16 “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.
Rom 8:31 Wat sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vír ons is, wie kan teen ons wees?
8:32 Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?
8:33 Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak.
Gal 3:13 Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons ‘n vloek te word—want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout hang”

Of Jesus Christus het vir al ons sondes aan die kruis betaal of Hy het niks daarvan betaal nie. Daar is geen middelweg nie. Die oomblik wanneer iemand die Evangelie glo, word daardie persoon deur die Heilige Gees in Christus in gedoop en is die gelowige vry van enige vloek van die wet en dit sluit alle, sogenaamde vloeke wat wat hy kwansuis van sy voorvaders sou geërf het, in. As Jesus Christus die vloek op Hom geneem het, hoe kan ons dan nog steeds onder ‘n vloek wees? Daar kan nog baie oor hierdie onderwerp uitgebrei word, maar ek dink hierdie is vir eers genoeg anders gaan die artikel te lank raak. Ons moet nie toelaat dat iemand op ons bindings en vloeke wil plaas terwyl die Bybel dit duidelik stel dat Jesus Christus aan die kruis ons vloek op Homself geneem het, sodat ons nie meer onder die vloek hoef te wees nie. In Jesus Christus en Hom gekruisig lê ons oorwinning en vryheid en nie in enigiets anders nie. Die bloedlyn vloeke leerstellings wat vandag as waarheid verkondig word is niks anders as bygelowigheid nie en ons moet nie daarvoor val nie. Die enigste vloek waarvoor ons bang moet wees is ‘n vloek wat God self op ons mag lê, en Jesus Christus, wat self God is, het daardie vloek op Hom geneem sodat ons as gelowiges nie onder daardie vloek kan kom nie. Leef in die vryheid wat daar in Jesus Christus is!

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.