Regterstoel Oordeel van Christus

Kriteria by die Regterstoel Oordeel van Christus

Elke gelowige sal voor die Regterstoel Oordeel van Christus verskyn en daar aan Hom rekenskap van hulle lewens moet gee. Met die skryf van hierdie artikel sal gepoog word om vanuit die Skrifte seker kriteria weer te gee wat die Here Jesus Christus in aanmerking sal neem wanneer ons (gelowiges) voor Hom moet verskyn. Die Regterstoel Oordeel van Christus is slegs op gelowiges van toepassing en slegs mense wat tydens die Kerk Dispensasie wedergebore geraak het sal by die Regterstoel Oordeel van Christus moet verskyn. Dus moet ons nie die Regterstoel Oordeel van Christus met die Groot Wit Troon Oordeel, waarby slegs ongelowiges van alle tye sal verskyn, verwar nie. (Die leser word aangeraai om ook die artikel “Die Groot Wit Troon Oordeel” te lees.) Alhoewel gelowiges nie die gawe van die ewige lewe deur enige vorm van menslike werke kan verdien nie,(fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte) is dit ook ‘n Skriftuurlike feit dat genadeloon wel deur geloofswerke, na aanvanklike wedergeboorte, verdien kan word. (fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking/dissipelskap) Elke gelowige wat tydens die Kerk dispensasie tot geloof gekom het, sal voor die Regterstoel Oordeel van Christus moet verskyn en daar rekenskap van hulle lewens (na wedergeboorte) aan Christus moet gee. By hierdie geleentheid kan die gelowige van die volgende feite verseker wees, naamlik:

  • Elke gelowige sal afsonderlik voor die Here Jesus Christus moet verskyn en daar aan Hom rekenskap vir hulle lewens moet gee.
    Rom: 14:12 “So sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee.
    2Kor.5:10 Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad.”
  • Gelowiges sal regverdig beoordeel word, omrede Christus alwetend is en nie foute kan begaan nie.
  • Gelowiges sal met volkome deursigtigheid beoordeel word en daar sal niks wees wat vir die Here verberg kan word of wat Hy mis sal kyk nie.
    1Kor.4:5 “Daarom moet julle nie voor die tyd oordeel, voordat die Here kom nie, wat die verborge dinge van die duisternis in die lig sal bring en die bedoelinge van die harte openbaar sal maak; en dan sal elkeen lof van God ontvang.
    Hebr.4:13 En daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het.”
  • Gelowiges sal sonder voorkeur geoordeel word.
    Rom.2:11 “Want daar is geen aanneming van die persoon by God nie.
    Kol.3:
    25 Maar wie onreg doen, sal die onreg wat hy gedoen het, terug ontvang; en daar is geen aanneming van die persoon nie.”
  • Die grondslag vir die Regterstoel Oordeel van Christus sal altyd die genade van God wees, en waar daar wel genadeloon verdien word sal dit uitermatig groot beloon word.
    Luk. 19:17 “En hy sê vir hom: Mooi so, goeie dienskneg; omdat jy in die minste getrou gewees het, moet jy gesag hê oor tien stede.”
    Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikels “Die gelykenis van die Ponde” asook “Gelowiges se werke gaan beoordeel word” te lees.

Derhalwe is dit belangrik dat ons genoegsame kennis, aangaande die kriteria wat die Here van gebruik gaan maak wanneer ons voor Hom by die Regterstoel Oordeel verskyn, moet beskik. Sodoende kan ons, onsself tot ‘n groot mate vir hierdie groot dag voorberei. Boonop is dit van uiterste belang dat ons hierdie kriteria slegs vanuit die Skrifte moet bekom en nie op buite Bybelse profesieë en menslike opinies moet staatmaak nie. Vervolgens ‘n lys van onderwerpe wat die Here in ag sal neem wanneer ons voor Hom verskyn. Nie al die teksverwysings gaan aangehaal word nie, en derhalwe word die leser aangeraai om self die teksgedeeltes wat nie aangehaal is nie in hulle Bybels op te lees. Boonop is dit belangrik om die “Drie fases van ons verlossing” ook te verstaan.

  • Op watter wyse hardloop ons die spesifieke wedloop van die lewe wat die Here aan ons persoonlik gegee het?
    1Kor. 9:24 “Weet julle nie dat die wat op die baan hardloop, wel almal hardloop, maar dat een die prys ontvang nie? Hardloop só dat julle dit sekerlik kan behaal.”
    Onthou, dit is slegs gelowiges wat by die Regterstoel Oordeel van Christus verskyn, en die prys wat bostaande teksgedeelte na verwys is nie die ewige lewe (wat kosteloos deur geloof alleenlik in die Evangelie bekom word.) nie maar die prys is genadeloon wat deur voortgesette geloofswerke na aanvanklike wedergeboorte (fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte) verdien moet word. (Die leser word aangeraai om die artikel “Hemelse krone, loon en goeie werke” te lees.)
    Hebr.12:1 “Daarom dan, terwyl ons so ‘n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, 2 die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het.”
  • By die Regterstoel Oordeel van Christus gaan ons beoordeel word op watse wyse ons op lyding, asook versoekings, gereageer het.
    Jak.1: “Jakobus, ‘n dienskneg van God en die Here Jesus Christus, aan die twaalf stamme wat in die verstrooiing is: Groete! 2 Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val, 3 omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk. 4 Maar die lydsaamheid moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie.Jak.1:12 Salig is die man wat versoeking verdra, want as hy die toets deurstaan het, sal hy die kroon van die lewe ontvang wat die Here beloof het aan die wat Hom liefhet.”
    Omrede ons as pelgrims in ‘n wêreld woon waarvan die duiwel die god is, kan dit soms gebeur dat ons a.g.v. ons lojaliteit aan die Here vervolg kan word en selfs vir ons geloof in Christus gedood mag word. Maar die loon sal baie groter as die lyding en smarte wees!
    Openb.2:10 “Vrees vir niks wat jy sal ly nie. Kyk, die duiwel gaan sommige van julle in die gevangenis werp, sodat julle op die proef gestel kan word; en julle sal tien dae lank verdrukking hê. Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou die kroon van die lewe gee.”
  • By die Regterstoel Oordeel van Christus, gaan die wyse waarop ons persoonlike onreg, asook mishandeling, hanteer het ook beoordeel word.
    Matt.5:11 “Salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle spreek om My ontwil. 12 Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele; want so het hulle die profete vervolg wat voor julle gewees het.
    2Kor.4:16 Daarom gee ons nie moed op nie, maar al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag ná dag vernuwe. 17 Want ons ligte verdrukking wat vir ‘n oomblik is, bewerk vir ons ‘n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid;”Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Waarom gaan gelowiges nog steeds dood?” te lees. (lees ook Markus 10:29-30; Luk.6:27-28; 35;Rom.8:18 ; 1Pet.4:12-13)
  • By die Regterstoel Oordeel van Christus gaan ons ook geëvalueer word t.o.v. hoe effektief ons, ons vleeslike begeertes in die krag van die Heilige Gees beheer het.
    1Kor.9:25 “En elkeen wat aan ‘n wedstryd deelneem, onthou hom in alles — húlle nogal om ‘n verwelklike krans te ontvang, maar ons ‘n onverwelklike. 26 Ek hardloop dan soos een wat nie onseker is nie; ek slaan met die vuis soos een wat nie in die lug slaan nie. 27 Maar ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar, dat ek nie miskien, terwyl ek vir ander gepreek het, self verwerplik sou wees nie.”
    Onthou, ons ontvang die ewige lewe op grond van genade deur geloof in die Evangelie sonder die doen van werke, (fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte) en die wedergeboorte gee aan ons die reg om aan die wedstryd van die lewe, (fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking/toegewyde dissipelskap) vir genadeloon deel te neem, en soos ons alreeds weet kan toegewyde dissipelskap ons baie in hierdie lewe kos, maar ons sal ryklik by die Regterstoel Oordeel van Christus daarvoor beloon word.
  • Die toegewydenheid, waardeur ons ons werkgewers getrou dien, sal ook deur die Here Jesus Christus in ag geneem word.
    Kol.3: 22 “Diensknegte, julle moet jul here na die vlees in alles gehoorsaam wees, nie met oëdiens soos mensebehaers nie, maar in eenvoudigheid van hart, omdat julle God vrees. 23 En wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie,
    1Tim.6:1 Almal wat diensknegte is onder ‘n juk, moet hulle eie here alle eer waardig ag, sodat die Naam van God en die leer nie belaster mag word nie.”
  • Ons moet nooit vergeet dat die Here elke woord wat ons spreek hoor, en daarom is dit van uiterste belang dat ons, ons tonge beheer, omrede ons weet dat ons rekenskap aan God vir elke woord sal moet gee.
    Matt.12:35 “Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart goeie dinge te voorskyn, en die slegte mens bring uit die slegte skat slegte dinge te voorskyn. 36 Maar Ek sê vir julle dat van elke ydele woord wat die mense praat, daarvan moet hulle rekenskap gee in die oordeelsdag.
    Jak.3:1 Moenie baie leermeesters wees nie, my broeders, omdat julle weet dat ons ‘n groter oordeel sal ondergaan. 2 Want ons almal struikel dikwels. As iemand in woorde nie struikel nie, is hy ‘n volmaakte man, in staat om ook die hele liggaam in toom te hou. 3 Kyk, ons sit stange in die perde se bekke, sodat hulle ons gehoorsaam kan wees, en ons stuur hulle hele liggaam daarmee. 4 Kyk, ook die skepe, alhoewel hulle so groot is en deur hewige winde voortgedryf word, word gestuur deur ‘n baie klein roer net waarheen die stuurman wil. 5 Net so is die tong ook ‘n klein lid en beroem hom op groot dinge — kyk hoe ‘n groot hoop hout steek ‘n klein vuurtjie aan die brand. 6 Die tong is ook ‘n vuur, die wêreld van ongeregtigheid. Net so ‘n plek neem die tong onder ons lede in; dit besmet die hele liggaam en steek die hele lewensloop aan die brand en word uit die hel aangesteek. 7 Want elke soort natuur van wilde diere en voëls en kruipende sowel as seediere word getem en is getem deur die menslike natuur. 8 Maar die tong kan geen mens tem nie; dit is ‘n onbedwingbare kwaad, vol dodelike gif. 9 Daarmee loof ons God en die Vader, en daarmee vervloek ons die mense wat na die gelykenis van God gemaak is. 10 Uit dieselfde mond kom seën en vervloeking. Dit, my broeders, behoort nie so te wees nie. 11 ‘n Fontein laat tog nie uit dieselfde oog vars en bitter water opborrel nie? 12 ‘n Vyeboom, my broeders, kan tog nie olywe voortbring, of ‘n wingerdstok vye nie? So kan geen fontein brak en vars water voortbring nie.”
    (Die leser word ook ten sterkste aangeraai om die artikel “Skinder” te lees.)
  • Ook die wyse waarop ons ander gelowiges behandel, sal by die Regterstoel Oordeel van Christus onder die vergrootglas geplaas word.
    Gal.5:13 “
    Want julle is tot vryheid geroep, broeders; gebruik net nie julle vryheid as ‘n aanleiding vir die vlees nie, maar dien mekaar deur die liefde.
    H
    ebr.6:10 Want God is nie onregverdig om julle werk te vergeet nie en die liefde-arbeid wat julle betoon het vir sy Naam, omdat julle die heiliges gedien het en nog dien.
    1Joh.3:18 My kinders, laat ons nie liefhê met woorde of met die tong nie, maar met die daad en in waarheid.”
  • Wanneer ons voor die Regterstoel Oordeel van Christus verskyn sal die Here die wyse waarop ons, ons Godgegewe talente en gawes in Sy diens aangewend het, beoordeel.
    1Kor.12:4 “Daar is wel verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees; 5 en daar is verskeidenheid van bedieninge, en tog is dit dieselfde Here; 6 en daar is verskeidenheid van werkinge, en tog is dit dieselfde God wat alles in almal werk. 7 Maar aan elkeen word die openbaring van die Gees gegee met die oog op wat nuttig is.
    1Pet.4:10 Namate elkeen ‘n genadegawe ontvang het, moet julle mekaar daarmee dien soos goeie bedienaars van die veelvuldige genade van God. 11 As iemand spreek, laat dit wees soos woorde van God; as iemand dien, laat dit wees soos uit die krag wat God verleen, sodat God in alles verheerlik kan word deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid en krag toekom tot in alle ewigheid. Amen.”
    (Lees ook die volgende teksgedeeltes sorgvuldig deur. Matt.25:14-29; Luk.19:11-26; 2Tim.1:6.)
  • By die Regterstoel Oordeel van Christus, sal daar ook bepaal word tot watter mate ons die Here se beveel, om die Evangelie met ander te deel en dissipels van hulle te maak, gehoorsaam het.
    Markus 16:15 “En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom.
    Matt.28:19 Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”

    Bogenoemde teksgedeeltes is die mandaat vir die Kerk en elke gelowige wat homself as Christen reken, behoort op die een of ander wyse by die verkondiging van die Evangelie betrokke te wees, of om hulp aan diegene te verskaf wat wel die Evangelie verkondig.
  • Boonop gaan ons ook geëvalueer word op grond van die mate waarop ons getrou die korrekte Bybelse leerstellings verkondig het.
    Hand.20:26 “Daarom betuig ek aan julle op hierdie dag dat ek rein is van die bloed van almal. 27 Want ek het nie nagelaat om aan julle die hele raad van God te verkondig nie. 2Tim.4:1 Ek besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk: 2 verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; 3 want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, 4 en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels. 5 Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van ‘n evangelis; vervul jou bediening.
    (Lees ook die volgende teksgedeeltes. Hebr.3:17; Jak.3:1; 1Pet.5:1-4; 2Joh.1:7-12.) Lees ook gerus die artikel “Is Bybelse Leerstellings werklik so belangrik?”
  • Die Here Jesus Christus gaan ons ook op die wyse waarop ons ons liefdadigheid bewys het evalueer.
    Matt.6:1 “Pas op dat julle nie jul liefdadigheid voor die mense bewys om deur hulle gesien te word nie; anders het julle geen loon by julle Vader wat in die hemele is nie. 2 Wanneer jy dan liefdadigheid bewys, moenie ‘n trompet voor jou blaas soos die geveinsdes in die sinagoges en op die strate doen, dat hulle deur die mense geëer kan word nie. Voorwaar Ek sê vir julle, hulle het hul loon weg. 3 Maar jy, as jy liefdadigheid bewys, laat jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie, 4 sodat jou liefdadigheid in die verborgene kan wees; en jou Vader wat in die verborgene sien, Hy sal jou in die openbaar vergelde.”
  • Die wyse waarop ons ons geld spandeer het sal ook deur die Here by die Regterstoel oordeel van Christus beoordeel word.
    1Tim.6:17 “Beveel die rykes in die teenwoordige wêreld om nie hoogmoedig te wees nie en ook nie hulle hoop te stel op die onsekerheid van die rykdom nie, maar op die lewende God wat ons alles ryklik verleen om te geniet; 18 dat hulle goed moet doen en ryk wees in goeie werke, vrygewig, mededeelsaam, 19 en vir hulle ‘n skat weglê, ‘n goeie fondament vir die toekoms, sodat hulle die ewige lewe kan verwerf.”
    Onthou, besitting en geld word aan ons in God se genade gegee as middel om Hom te dien en Sy belange op aarde te bevorder. Op geen stadium moet ons Mammon dien of Mammon se slawe word nie. Geld en besittings is slegs ‘n middel tot ‘n doel en moet nooit die hoofdoel in ons lewens wees nie. God en Sy opdragte aan ons is die hoofdoel van ons lewens.
    Lukas 16:13 “Geen huiskneg kan twee here dien nie; want hy sal òf die een haat en die ander een liefhê, òf die een aanhang en die ander een verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie. 1Tim.6:7 6 Maar die godsaligheid saam met vergenoegdheid is ‘n groot wins. 7 Want ons het niks in die wêreld ingebring nie; dit is duidelik dat ons ook niks daaruit kan wegdra nie. 8 Maar as ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees. 9 Maar die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang. 10 Want die geldgierigheid is ‘n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor. 11 Maar jy, man van God, vlug van hierdie dinge weg, en jaag ná die geregtigheid, godsaligheid, geloof, liefde, lydsaamheid, sagmoedigheid.”
  • Tyd is deel van die skepping, en derhalwe is dit ‘n gawe van God, en die wyse waarop ons ons tyd op aarde spandeer het gaan ook by die Regterstoel Oordeel geëvalueer word.
    1Pet.6:17 En as julle Hom as Vader aanroep wat sonder aanneming van die persoon oordeel volgens elkeen se werk, wandel dan in vrees gedurende die tyd van julle vreemdelingskap;
    Efs.5:15 Pas dan op dat julle nougeset wandel, nie as onwyse nie, maar as wyse; 16 en koop die tyd uit, omdat die dae boos is. 17 Daarom moet julle nie onverstandig wees nie, maar verstaan wat die wil van die Here is.
    Kol.4:5 “Wandel in wysheid teenoor die wat buite is, en koop die tyd uit.”
    Die wyse waarop ‘n persoon sy tyd, en geld/besittings spandeer is tot ‘n groot mate ‘n indikasie wie of wat daardie persoon aanbid.
  • Selfs geloof in die Wegraping, en hoe geloof in hierdie Bybelse leerstelling ‘n persoon se lewe beïnvloed het, gaan by die Regterstoel Oordeel geëvalueer word.
    2Tim.4:8 “Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee; en nie aan my alleen nie, maar ook aan almal wat sy verskyning liefgehad het.” (Die leser word ten sterkste aangeraai om die reeks artikels “Die Wegraping” te lees.)
  • By die Regterstoel Oordeel gaan ook vasgestel word hoe gasvry en behulpsaam ons teenoor behoeftige medegelowiges was.
    Rom.12:13 “Maak voorsiening in die behoeftes van die heiliges; streef na gasvryheid;
    Heb.13:2 Vergeet die gasvryheid nie, want daardeur het sommige, sonder om dit te weet, engele as gaste geherberg.
    Heb.13:16 Vergeet die weldadigheid en mededeelsaamheid nie, want God het ‘n welbehae aan sulke offers.
    2Kor8:1 “En ons maak julle bekend, broeders, die genade van God wat aan die gemeentes van Macedónië geskenk is, 2 dat onder baie beproewing deur verdrukking hulle oorvloedige blydskap by hulle diepe armoede oorvloedig was in hulle ryke milddadigheid.
  • Hoe ons medegelowiges in die bediening met ons inkomste ondersteun, en met watter gesindheid, sal ook by die Regterstoel Oordeel van Christus beoordeel word.
    1Kor.9:7 “Wie dien ooit as soldaat op eie koste? Wie plant ‘n wingerd en eet nie van sy vrug nie? Of wie pas ‘n kudde op en geniet nie van die melk van die kudde nie? 8 Sê ek dit miskien menslikerwys, of sê die wet dit nie ook nie? 9 Want in die wet van Moses is geskrywe: ‘n Os wat graan dors, mag jy nie muilband nie. Is dit miskien oor die osse dat God Hom bekommer? 10 Of spreek Hy inderdaad om ons ontwil? Ja, want om ons ontwil is dit geskrywe, omdat hy wat ploeg, op hoop moet ploeg; en hy wat dors, op hoop om wat hy hoop, deelagtig te word. 11 As ons vir julle die geestelike gesaai het, is dit ‘n groot saak as ons julle stoflike goed maai?
    Fil.4:15 En julle, Filippense, weet ook dat in die begin van die evangelie, toe ek van Macedónië vertrek het, geen gemeente deel gehad het in my rekening van uitgawe en inkomste nie, behalwe julle alleen. 16 Want ook in Thessaloníka het julle vir my behoefte meer as een maal iets gestuur. 17 Nie dat ek die gawe soek nie, maar ek soek die vrug wat oorvloedig word op julle rekening. 18 Maar ek het alles ontvang, en ek het oorvloed. Ek het dit volop noudat ek van Epafrodítus ontvang het wat deur julle gestuur is, ‘n lieflike geur, ‘n welgevallige offer, welbehaaglik by God. 19 En my God sal elke behoefte van julle vervul na sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus.”
  • Die motief van ons harte sal ook onder God se evaluering geplaas word. Het ons God se Heerlikheid as motief gehad of was die begeerte om selfverheerliking die motief agter ons goeie werke/dade?
    1Kor.10:31 “Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God.
    1Pet.4:11 As iemand spreek, laat dit wees soos woorde van God; as iemand dien, laat dit wees soos uit die krag wat God verleen, sodat God in alles verheerlik kan word deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid en krag toekom tot in alle ewigheid. Amen.”
  • In die Skrifte word ons herhaaldelik aangesê om te bid. Slegs na afloop van die Regterstoel Oordeel van Christus sal ons werklik besef hoe belangrik gebed in ons lewens was en watse effek ons gebede op die wêreld, asook geesteswêreld, om ons gehad het. Onthou, die Here sal ons nie opdrag gee om te bid indien gebed nie deel van Sy raadsplan was nie. Om hierdie rede is dit van uiterste belang dat ons vir mekaar, ons leiers, werkgewers, vir gelowiges in die algemeen, die ongeredde mensdom asook diegene wat voltyds in diens van die Here dien, moet bid.
    Ef.6:18 terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges 19 en vir my, sodat ‘n woord my gegee mag word as ek my mond oopmaak om met vrymoedigheid die verborgenheid van die evangelie bekend te maak,
    Kol.1:9 “Daarom hou ons ook nie op nie, van die dag af dat ons dit gehoor het, om vir julle te bid en te vra dat julle vervul mag word met die kennis van sy wil in alle wysheid en geestelike insig,
    1Thess.5:17 Bid sonder ophou.
    1Thess.5:25 Broeders, bid vir ons.
    Jak.1:5 En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word.
    Jak. 5:13 Is daar iemand onder julle wat ly? Laat hom bid. Is iemand opgeruimd? Laat hom psalmsing.”
    Lees gerus Luk.18:1-8 waar die Here Jesus Christus ons leer om altyd te bid en nie moedeloos moet word nie. (Die leser word ook aangeraai om die artikel “Basiese Grondbeginsels oor Gebed” te lees.)
  • Op die einde van die dag gaan dit oor die feit of ons in Christus, Sy woord en liefde bly en hierdie liefde teenoor God en ons medemens uitleef.
    Joh.15:1”Ek is die ware wynstok, en my Vader is die landbouer.
    4 Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie. 5 Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie. 8 Hierin is my Vader verheerlik, dat julle veel vrug dra; en julle sal my dissipels wees. 9 Soos die Vader My liefgehad het, het Ek julle ook liefgehad. Bly in hierdie liefde van My. 10 As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly. 11 Dit het Ek vir julle gesê, dat my blydskap in julle kan bly en julle blydskap volkome kan word. 12 Dit is my gebod, dat julle mekaar moet liefhê net soos Ek julle liefgehad het. 13 Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee. 14 Julle is my vriende as julle alles doen wat Ek julle beveel. 17 Dit gebied Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê.”
    Bogenoemde teksgedeeltes som al die punte in hierdie artikel op. Tydens die Dispensasie van die Wet het God van die mens verwag om sy naaste lief te hê soos hyself. Maar tydens die Kerk Dispensasie, waar gelowiges permanent deur die Heilige Gees bewoon word, is die vereiste baie hoër. Nou verwag God van ons om ons medemens so lief te hê soos wat Hy (God) ons liefhet. Dink mooi oor hierdie stelling na!

Ter Afsluiting: By die Regterstoel Oordeel van Christus gaan daar nie bepaal word waar ons die ewigheid gaan spandeer nie. Die vraagstuk oor ons sondeskuld (voor ‘n Heilige God) is vir eens en vir altyd deur Christus se voltooide werk aan die kruis opgelos. Dit gaan nie oor wat ons met ons sonde kan doen nie, maar wat ons met Christus doen. In Hom het ons die vergifnis van al ons sondes en daarom is dit van uiterste belang dat ons die Evangelie met ander deel. Na aanvanklike wedergeboorte het ons slegs een leeftyd kans om genadeloon bymekaar te maak. Hierby is goeie werke deur die Heilige Gees, en in geloof gedoen, van uiterste belang. Wanneer ons lewe tot ‘n einde kom sal daar nie weer ‘n kans gegun word om vir die Here te lewe en genadeloon bymekaar te maak nie. Boonop het slegs ons huidige lewens ewigdurende implikasies en gaan bepaal watter posisies ons in God se ewige Koninkryk, wat met die Duisendjarige Vrederyk van Christus na afloop van die Groot Verdrukking, begin en wat die ewigheid sal voorafgaan en inlei. Hierdie hele artikel handel dus hoofsaaklik oor fase twee van ons verlossing naamlik heiligmaking/dissipelskap waarvoor ons by die Regterstoel Oordeel van Christus beloon sal word (slegs indien ons enigsins genadeloon verdien en wat ewige implikasies vir ons teweeg sal bring.) Dit is my bede dat hierdie artikel die leser sal help om vir daardie groot dag voor te berei, sodat ons die volgende aanprysing uit God se mond sal hoor, naamlik: “Mooi so getroue dienskneg, in min was jy getrou oor baie sal Ek jou aanstel” Ons wil onsself sekerlik nie skaam en met leë hande van Regterstoel Oordeel af weggaan nie!
1Joh.2:28 “En nou, my kinders, bly in Hom, sodat ons vrymoedigheid kan hê wanneer Hy verskyn en nie beskaamd van Hom weggaan by sy wederkoms nie.”

Seën groete!

Vic

Deel met ander asb.