Wil God almal red

Wil God almal verlos?-deel 1

Vraag aangaande God en uitverkiesing: Baie dankie vir al die inligting op jou blad.Indien dit reg is met jou sou ek graag wou kers-opsteek oor n saak.

Ons biduur groep het gisteraand oor n saak getwyfel. Dit handel daaroor of alle mense gered kan word of nie. Kan ek uit vrye wil tot God nader of moet Hy my roep. M.a.w. is dit net geroepenes wat gered kan word? Iemand het genoem dat ons besig is met kettery (heresy). Ons moet na Mat 13 kyk en sien dat die onkruid mense is wat deur Satan geplant is. Daarom is bv Gal 5 slegs geskryf vir die wat deur God geplant is. Ek wonder maar net, staan alle mense dan nie ‘n kans om gered te word nie? Is die Koninkryk van God dan slegs vir die wat deur God geroep is. (Die persoon het ook aangegaan oor semi-pelagianisme wat ons dan sou verkondig en die valse evangelie is. Ek het nog nooit eens daarvan gehoor nie.)

Antwoord: Ek gaan jou vrae in gedeeltes opbreek en dit dan vanuit slegs die Bybel beantwoord. Hierdie siening kom veral onder die Calvinistiese uitverkiesingsleer of te wel Calvinisme voor. Dit is ‘n uiterste belangrike vraag wat jy gestel het en dit is ook van uiterste belang om dit slegs vanuit die Bybel te beantwoord. Wat die bewering oor semi-pelagianisme aanbetref sal ek in ‘n afsonderlike artikel beantwoord omrede hierdie artikel reeds lank genoeg gaan wees.

Jou vraag: Ons biduur groep het gisteraand oor n saak getwyfel. Dit handel daaroor of alle mense gered kan word of nie.

Antwoord: Die Bybel stel dit duidelik dat God wil hê dat alle mense gered moet word.
2Pet.3:9 “Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.
1Tim.2:4 wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.”
Verder maak God die belofte dat almal wat wil gered kan word.
Joh.1:12 “Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo;
Joh.3:14 En soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die mens verhoog word, 15 sodat elkeen (geen uitsonderings) wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. 16 Want so lief het God die wêreld gehad, (geen uitsonderings) dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen (geen uitsonderings) wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. (elkeen beteken elkeen, geen uitsonderings word hier genoem nie. Indien dit die geval sou wees, dan sou die Here dit so genoem het. Elkeen wat in Hom glo kan gered word.)
Christus se uitnodig geld vir almal en is aan almal gerig.
Openb.22:17 En die Gees en die bruid sê: Kom! En laat hom wat hoor, sê: Kom! En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet.”

Inteenstelling met die feite soos hierbo genoem beweer die Calvinistiese uitverkiesingsleer dat God d.m.v. predestinasie vooraf alles bepaal het wat moes gebeur, en dat die mens se keuse niks met God se keuse te make het, toe Hy besluit het dat Hy ‘n sekere aantal sondaars uit die hele mensdom sal uitverkies, (uitverkiesingsleer) om hulle te begenadig deur hulle te verlos, en die ander, wie Hy ook kon begenadig en red, het Hy egter in Sy wil bestem en tot die ewige verderf verdoem. (sonder enige wilsbesluit of keuse van hulle kant af, asook enige hoop om verlossing. In kort beweer die Calvinistiese uitverkiesingsleer dat die meerderheid mense deur ons liefdevolle en genadige God van altyd af bestem is om in die poel van vuur te beland en dit sonder enige hoop op verlossing. Die Dordtse beginsels stel dit soos volg, naamlik: “die onveranderlike doel van God waardeur Hy, voor die grondlegging van die wêreld, uit genade en volgens sy welgevallige wil, ‘n sekere aantal mense uitverkies het om hulle deur Christus te red.” Die uitverkiesingsleer wat onder andere deur Augustinus van Hippo en Johannes Calvyn verkondig is, en wat ook onder andere deur die drie Afrikaanse susterkerke verkondig word, naamlik die Nederduitse Gereformeerde Kerk, die Hervormde Kerk en die Gereformeerde Kerk.) Volgens hierdie leerstelling het die mens geen keuse of vrywe wil t.o.v. sy eindbestemming nie en moet God alles vooraf beveel en dit tot uitvoer bring.

Calvinisme beweer dat God voorkennis van alle gebeure het, slegs omrede Hy vooraf alles bepaal het wat moet plaasvind. Volgens hulle is God nie soewerein as daar enigiets buite sy wil kan plaasvind nie. Derhalwe kon Hy nie die mens met ‘n vrye wil geskape het nie, anders sou die mens besluite buite Sy wil kon neem, en sodoende God se wil kan teëstaan, wat beteken dat God nie in beheer van alles en dus soewerein kan wees nie. Instede daarvan dat hierdie leerstelling God se soewereiniteit bevestig doen dit egter die teenoorgestelde. ‘n God wat nie Sy skepsele se keuses, wat hulle buite Sy wil maak, in ag kan neem, en in Sy planne kan inwerk, en daardie planne suksesvol kan uitvoer nie, kan nie werklik almagtig wees en kan dus ook nie werklik soewerein wees nie. Die feit dat God wel die mens met ‘n vrye wil geskape het, dien juis as bewys van Sy almag en soewereiniteit. Indien Hy Sy planne slegs suksesvol tot uitvoering kan bring indien Hy die mens se keuse om buite Sy wil te kan optree moes ontneem, dan is Hy nie werklik almagtig nie omrede Sy planne deur Sy skepsele se wil/keuses in die wiele gery kon word. (Die moontlikheid dat enige wese met ‘n vrye wil God se planne in die wiele sou kon ry beteken dat Hy nie werklik almagtig kan wees nie). Dit is egter nie die God van die Bybel nie. Die God van die Bybel het wel die mens (asook engele) met ‘n vrye wil geskape, (net soos wat die Bybel duidelik demonstreer) en juis omrede Hy alwetend is, het Hy hulle optredes buite Sy wil in ag geneem, en in Sy plan vir die verloop van die skepping se geskiedenis ingewerk, en sal Hy, ingenome al hierdie feite, wel Sy planne met die skepping suksesvol tot uitvoer bring. Dit is almag! Daarom noem ons Hom die Here van die Leërskare! Die Calvinistiese leerstelling oor predestinasie bots met wat die Skrifte oor God se uitverkiesing leer, naamlik dat God se predestinasie altyd op grond van Sy voorkennis plaasvind, soos wat die res van hierdie artikel duidelik sal aantoon.
Rom.8:29 “Want die wat Hy vantevore gekenhet, (voorkennis. Diegene wie Hy vooraf geweet het in Hom sou glo) dié het Hy ook vantevore verordineer (predestineer)om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders; 30 en die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik” (ons sal later weer na hierdie teksgedeelte terugkom.)

Jou vraag: Kan ek uit vrye wil tot God nader of moet Hy my roep. M.a.w. is dit net geroepenes wat gered kan word? Ek wonder maar net, staan alle mense dan nie ‘n kans om gered te word nie? Is die Koninkryk van God dan slegs vir die wat deur God geroep is?

Antwoord: In ons gevalle toestand sal niemand God uit eie keuse soek nie. En daarom is dit vir die Here nodig om ons te trek.
Joh.6:44 “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.”
Maar weereens trek die Here almal sonder uitsondering!
Joh.12:32 “En Ek, as Ek van die aarde verhoog word, sal almal na My toe trek.”
Weereens beteken almal, almal en daar is geen uitsonderings nie. Alhoewel ons almal oor ‘n vrye wil beskik, moet God ons trek, iets wat Hy wel met almal doen, en dan moet ons op die lig wat Hy ons skenk, met ‘n wilsbesluit deur geloof reageer en Hom aanneem of Hom verwerp. Daarom het die Here die volgende stelling aan die Fariseërs gemaak, naamlik:
Joh.5: 39 Julle ondersoek die Skrifte, omdat julle meen dat julle daarin die ewige lewe het; en dit is dié wat van My getuig. (die Fariseërs is dus geroep)40 En julle wil nie na My kom om die lewe te hê nie.”
Dit is nie dat die Fariseërs nie na die Here kon kom, omrede hulle vooraf deur God geoormerk is om Hel toe te gaan nie. (Iets wat calvinisme leer) Hulle het die vermoë beskik om na Hom te kom, indien hulle werklik wou, maar hulle wou nie. Vir ‘n persoon om onwillig te wees, beteken dat daardie persoon eerstens oor ‘n wil moet beskik. Totale verdorwenheid beteken nie totale onvermoë om te glo nie. Die Here stel hierdie feit baie duidelik! Mense gaan nie verlore omrede God vooraf bepaal het dat sekeres gered moet word en die ander verlore moet gaan nie. Mense gaan verlore omrede hulle God se geskenk van die ewige lewe deur ongeloof van die hand wys. ‘n Keuse wat hulle maak en waarvoor die Here hulle verantwoordelik gaan hou. Maar die Here, Wie buite tyd self staan, weet ten alle tye alles en weet wat elke mens gaan glo. (sal later meer hieroor praat)
Joh.16:8 “en as Hy (die Heilige Gees) kom, sal Hy die wêreld (sonder uitsondering)oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel:”
Die Here roep almal sonder uitsondering. Weereens beteken die term “wêreld” die hele wêreld met geen uitsonderings nie, behalwe as ‘n persoon die betekenis van die woord verander deur sy vooropgestelde leerstelling in bogenoemde teksgedeelte te wil inlees, iets wat meeste Calviniste moet doen om hulle leerstelling te regverdig. “Die Here roep almal” is ‘n feit wat die Here baie duidelik in Sy woord stel. Om hierdie feit te ontken is om van die Here Jesus Christus ‘n leuenaar te maak.

Kom ons kyk wat se die Bybel oor die vraag of alle mense (sonder uitsondering) die Here kan soek.
Hand.17:26 “En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het, 27 sodat hulle die Here kon soek, of hulle Hom miskien kon aanraak en vind, al is Hy nie ver van elkeen van ons nie;
Indien ons nie uit eie keuse in Christus kan glo nie waarom beveel die Here ons dan om Hom te soek?
Hand.17:30 “God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer, 31 omdat Hy ‘n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ‘n Man (Die Here Jesus Christus)wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek.”
Die feit van die saak is dat God alle mense trek en van almal verwag om te bekeer (hulle opinie oor Hom, wat by implikasie Sy verlossingsplan insluit) te verander en die Evangelie te glo. Alle mense beteken alle mense sonder uitsondering. Verder dien dit as bewys dat die mens oor ‘n vrye wil beskik, en God se wil vir hulle kan teenstaan, omrede Hy aan die mensdom ‘n vrye wil gegee het en hierdie feit vorm deel van Sy soewereine plan. Wanneer ‘n persoon dus van sy vrye wil, wat God hom gegee het, gebruikmaak is hy in werklikheid besig om God se soewereiniteit te vervul, nie om dit uit te kanselleer nie. God weet watter besluite alle mense sal maak en werk daardie keuses in Sy soewereine plan vir die wêreld se geskiedenis in sonder om die mens sy vrye wil te ontneem. Calviniste beweer dat God slegs voorkennis van alle gebeure het omrede Hy vooraf bepaal het dat alles so moes plaasvind. Volgens hierdie siening is God nie soewerein as daar enigiets buite sy wil gebeur nie. Die mens het dus nie in werklikheid ‘n vrye wil nie en kan nie in stryd met God se wil optree nie. Indien hierdie leerstelling egter die waarheid is, maak dit God die oorsaak van alle sonde en boosheid, omrede Hy, as soewereine besluitnemer, hierdie boosheid, rebellie, moorde, verkragtings en alle ander sondes vooraf gewil het en dit tot uitvoer bring. (‘n Leerstelling wat in my opinie nie meer aan Godslastering grens nie maar wat Godslasterlik is.) Die Bybels stel dit onomwonde dat God nie deur sondes versoek kan word nie en ook versoek Hy niemand met sonde nie, naamlik:
Jak.1:13 “Laat niemand, as hy in versoeking kom, sê: Ek word deur God versoek nie. Want God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie. 14 Maar elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word.”

Vraag: Iemand het genoem dat ons besig is met kettery (heresy). Ons moet na Mat 13 kyk en sien dat die onkruid mense is wat deur Satan geplant is. Daarom is bv Gal 5 slegs geskryf vir die wat deur God geplant is.

Antwoord: Baie mense is geneig om te vinnig ander mense wat nie met hulle saamstem van kettery te beskuldig. Hulle doen presies dieselfde as wat die Rooms-Katolieke Kerk met die protestante gedoen het. En net soos die Rooms Katolieke Kerk, het Calvyn ook gelowiges wat nie met sy stellings saamgestem het nie vervolg en selfs van hulle laat dood. Derhalwe is dit van uiterste belang dat ons, ons leerstellings vanuit slegs die Bybel moet bekom. Calviniste beweer dat hulle dit doen, maar verander die betekenis van woorde soos byvoorbeeld “almal” deur te beweer dat dit slegs tot ‘n spesifieke aantal mense beperk is (naamlik die uitverkorenes) en nie die hele mensdom insluit nie. Ons weet egter die term “almal” sluit almal sonder uitsondering in. (anders sou God dit so in Sy woord gestel het.) En boonop sou die term “almal” alle betekenis verloor. (Ons sal later weer terugkom na die bewering van kettery)

Sover dit Mat.13 die gelykenis van die koring en die onkruid aanbetref:

Die Here Jesus Christus het self hierdie gelykenis van die onkruid in die saailand in Mat.13:36-43 verduidelik. Dit moet ook in gedagte gehou word, dat die tydperk waartydens hierdie gebeure plaasvind die tydperk tussen Christus se eerste koms en Sy wederkoms dek. In die gelykenis van die koring en die onkruid word daar primêr op twee saaiers, en die saad wat hulle saai, gefokus, naamlik die Seun van die Mens en Satan. Die goeie saad verteenwoordig die seuns van die koninkryk. (gelowiges sien Mat.8:12) en die onkruid verteenwoordig die seuns van die bose. (ongelowiges wat godsdienstig is maar wat nooit werklik gered is nie, omrede hulle nie glo nie of wat op enige vorm van werke-saligheid staatmaak. Hulle is dus godsdienstig maar verlore. Lees gerus die artikel “Die breë en die smal weg” vir meer inligting.) Op die oog af kan daar geen onderskeid tussen die gelowige en ongelowiges waargeneem word nie, want uiterlik lyk en tree hulle dieselfde op. (die Kerk banke is vol sulke mense). Hierdie uiterlike ooreenkomste is egter misleidend omrede hierdie twee groepe twee verskillende eindbestemmings het. Christus is die Een wat die goeie saad saai, en wat na afloop van die Groot Verdrukking, met Sy wederkoms, Sy engele sal opdrag gee om die saailand van die wêreld te oes, waarna die ongelowiges geoordeel sal word. Die punt wat die gelykenis van die koring en onkruid wil maak is dat Satan, Christus se werk deur infiltrasie, nabootsing en misleiding opponeer. Om hierdie rede probeer Satan om sy eie nagemaakte koninkryk op aarde te vestig. (hierdie koninkryk kom in baie gevalle godsdienstig voor, maar is in werklikheid Satan se koninkryk op aarde en sy nagemaakte godsdiensstelsel. ‘n Groot gedeelte van die belydende Christendom val onder hierdie groep.) Hierdie godsdiensstelsel van Satan word op valse evangelies, menslike goeie werke en rituele, en ‘n verdraaide persepsie van wie Christus is, gebou. (wat enige vorm van werke Godsdiens of werke evangelie, of ‘n Godsdiens wat Christus se Godheid ontken, insluit) Hy slaag wel tydelik, en tot ‘n groot mate, met hierdie bose plan deur aan die mensdom ‘n godsdienstige weg hel toe voor te hou. Aanvanklik sal die gelowiges onbewus wees van die ongelowiges onder hulle, naamlik:

Mat.13:25 “maar terwyl die mense slaap”, het sy vyand gekom en onkruid onder die koring gesaai en weggegaan.”
Later sal die gelowiges egter t.o.v. hierdie godsdienstige ongelowiges se teenwoordigheid, asook aktiwiteite bewus raak, maar hulle sal egter moet wag totdat Christus met Sy wederkoms die wedergeborenes van die ongelowiges sal skei. Die ongelowiges sal versamel word, en in die ewige verderf gewerp word, waar daar ‘n geween en ‘n gekners op tande sal wees. (bewustelike lyding en smarte) Alle persone wat nie oor Christus se toegerekende geregtigheid beskik nie, sal as mense wat ongeregtigheid bedrywe veroordeel word.
2Kor.5:21 “Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.”
Alle geredde persone (wie Christus se toegerekende geregtigheid deur geloof besit) sal ook versamel word, en hulle sal in die Koninkryk van hulle Vader, wat met die Milleniale Koninkryk van Christus begin, verwelkom word. Die doelwit van die gelykenis van die koring en die onkruid is om die gelowiges van die feit in te lig, dat Satan ook sy bose planne in hierdie tydperk tot uitvoer bring, deur godsdienstige ongeredde mense tussen die werklike verlostes te saai, maar die Here wil hulle egter inlig dat Hy weet wie Sy kinders/saad is, en dat Hy die ongeredde mense van die geredde mense sal afskei en hulle op die regte tyd sal oordeel. (Vir enige persoon of groep soos byvoorbeeld die Rooms-Katolieke Kerk of Johannes Calvyn om mense te vervolg, en hulle te dood, omrede hulle nie met hulle leerstellings saamstem nie, was moord en is in botsing met God se woord soos wat in hierdie gelykenis weergegee is.)

Daarom is dit belangrik om die Evangelie aan die ganse mensdom te verkondig, en sodoende eerbiedig ons Christus se bevele. God se geskenk van die ewige lewe word kosteloos aan die ganse mensdom aangebied. Die vereiste wat God van ons kant af verwag is slegs geloof in die Evangelie.
Markus16:15 “En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom.
Rom.10:14 Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? 15 En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie? Soos geskrywe is: Hoe lieflik is die voete van die wat die evangelie van vrede verkondig, van die wat die evangelie van die goeie verkondig! 16 Maar hulle was nie almal gehoorsaam aan die evangelie nie; want Jesaja het gesê: Here, wie het ons prediking geglo?”

Maar hoekom word sekere mense dan verduister?:
Rom.1:17 ”Want die geregtigheid van God word daarin geopenbaar uit geloof tot geloof, soos geskrywe is: Maar die regverdige sal uit die geloof lewe. 18 Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk, (dit is mense wat uit eie wil die waarheid onderdruk. Nêrens word dit gestel dat God wil dat die mensdom Sy waarheid moet onderdruk nie! ‘n Feit wat Calvinisme se verdraaide siening oor God se soewereiniteit heeltemal weerlê)19 omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar. (hulle verwerp dus bewustelik die lig wat God aan hulle skenk, God trek dus hulle almal!)20 Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie; 21 omdat hulle, alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie; maar hulle het dwaas geword in hul oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister. (hulle het dus uit eie keuse hulle eie dwase oorlegginge geskep. Let op die feit dat hulle eers verduister het, nadat hulle willens en wetens die lig wat God aan hulle geskenk verwerp het en hulle eie leerstellings/filosofieë opgemaak het.) 22 Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword 23 en die heerlikheid van die onverganklike God verander in die gelykvormigheid van die beeld van ‘n verganklike mens en van voëls en viervoetige en kruipende diere. 24 Daarom het God hulle ook in die begeerlikhede van hulle harte oorgegee aan onreinheid, om hulle liggame onder mekaar te onteer 25 hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid. Amen.”

Mense wat doelbewus die lig wat God aan hulle skenk verwerp, se oë word deur Satan verblind omrede hulle nie glo nie. God roep almal sonder uitsondering, maar dit is die mensdom wat nie op God se toenadering wil reageer nie. Hierdie is nie mense wie God vooraf besluit dat hulle nie kan glo en gered kan word nie. Dit is mense wat weier om op God se toenadering/roeping tot hulle te reageer en weier om te glo. As gevolg van hulle eie toedoen word die ongelowiges nou deur Satan verblind. Hier word niks gepraat van mense wat nie kan glo nie, omrede God kwansuis vooraf besluit het, dat Hy hulle kan red, maar hulle nie wil red, en sodoende die geloof om te glo van hulle weerhou en hulle nie roep nie! (Om so iets te beweer is om die Here, Wie liefde is, te beledig!) Dit is mense wat uit eie wil die waarheid herhaaldelik onderdruk wie verduister word, nie God wat wil hê hulle moet hel toe gaan nie! God wil juis almal red, en daarom het Sy Seun aan die kruis vir alle mense, van alle tye, se sondes gesterf! Die mens moet egter uit eie keuse die geskenk van die ewige lewe deur geloof in ontvangs neem. (en nie daarvoor werk of deur ongeloof verwerp nie.)

Onthou God se planne en keuses word in lig van Sy soewereiniteit en alwetendheid uitgevoer. Onderstaande teksgedeelte gee aan gelowiges (reeds verloste persone) stapsgewys die volgorde waarop ‘n gelowige gered word. (moenie hierdie feit uit die oog verloor nie.)
Rom 8:29 “Want die wat Hy vantevore geken het,
(dus geweet het wie Hom sou aanneem, naamlik alle gelowiges.) dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, (God het besluit om diegene wie Hy vooraf geweet het Hom sou aanneem, en derhalwe van hulle sondeskuld verlos is, tot spesiale seëninge, wat verlossing vergesel, te verordineer.) verordineer sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders; 8:30 en die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; (die Here sal seker maak dat almal wie Hy weet die Evangelie sal glo, die Evangelie sal ontvang maak nie saak waar daardie persoon in die wêreld mag wees nie.) en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; (fase een van ons verlossing naamlik wedergeboorte, waarvoor geloof ‘n vereiste van die mens se kant af is.)en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik.” (Fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking/eerste opstanding wat met die wegraping in aanvang sal neem.)

Indien ons die bostaande teksgedeelte sorgvuldig bestudeer, sal ons opmerk dat dieselfde groep mense wat God vooraf geken het (naamlik alle gelowiges) Hy ook uitverkies om gelykvormig aan die beeld van Jesus Christus te wees. Die mense wat God uitverkies het, het Hy ook geroep (die hoor van die Evangelie) en die wat Hy geroep het, het Hy ook regverdig verklaar (Wedergeboorte met die oomblik van geloof in die Evangelie. Fase een van verlossing) en die wat Hy geregverdig verklaar het, het Hy ook verheerlik. (fase drie van verlossing,) Dit is ook opmerklik dat van diegene wat die Here vooraf geken het, (vooraf geweet het wie uit eie wil in Hom sou glo.) niemand verlore gaan nie, maar dat almal regverdig verklaar word en uiteindelik verheerlik word. (Lees asb die artikel “drie fases van verlossing” vir meer inligting oor die fases van ons verlossing) Dit moet ook mooi verstaan word, dat God nie vooraf by Homself bepaal, om slegs ‘n sekere aantal sondaars, vanuit die groep van alle sondaars, te red en die res sonder enige keuse van hulle kant af en sonder enige hoop op verlossing hel toe te stuur nie. Bogenoemde teksgedeelte verduidelik aan ons die volgorde waardeur gelowiges gered word en gee aan die gelowige die versekering dat hy nooit verlore sal kan gaan nie. God is alwetend, en dus weet Hy op enige gegewe tyd alles wat daar te wete is, naamlik elke moontlike gebeurlikhede, uitkomste en besluite en is daar niks wat Hy nie weet nie. God neem alles wat geweet kan word gelyktydig, onmiddellik en ewig waar. (God bestaan buite tyd en beleef nie tyd soos wat ons dit beleef nie, omrede tyd deel van die skepping vorm.) Daarom vorm voorkennis ‘n sub-kategorie van Goddelike alwetendheid. In Sy voorkennis tref God onderskeid tussen die aktuele en moontlike uitkomste, en weet daarom wie van Sy skepsels Hom gaan aanneem en wie Hom gaan verwerp. Dit is God se wil dat alle mense gered word, en daarom kies Hy diegene wat Hy weet Hom gaan aanneem uit, en word hulle die uitverkorenes genoem.

In God se alwetendheid, en Sy algehele soewereiniteit, het Hy bepaal dat Hy die mens met ‘n vrye wil sou skape en dat die mens verantwoordelik vir sy eie keuses is. (Indien God die mens nie met ‘n vrye wil geskape het nie, sou ons Hom nie werklik kon liefhê nie, maar sou eerder geprogrammeerde robotte gewees het, en die term “liefde” sou sy volle betekenis verbeur het. Ware liefde kan nie op enige persoon afgedwing word, sonder dat die persoon se wil vrylik daarby betrokke is nie! (anders kan dit nie liefde genoem word nie maar eerder dwang!) God het die mens dus geskep met ‘n vrye wil en daarom maak ons daagliks vrye keuses. (ons almal oefen ons vrye wil honderde kere per dag uit en is bewus van hierdie feit!) God trek ons almal, maar ons het ook die keuse om die Evangelie te glo of om die Evangelie te verwerp. (‘n Vrye wilsbesluit) God kies nie namens ons nie, maar Hy het nog altyd geweet wat ons keuse sou wees en Hy gaan ons vir daardie keuses verantwoordelik hou. Weereens is dit in lig van hierdie feite waar die Bybel met die Calvinistiese leerstelling van God se soewereiniteit in botsing kom. Hulle foutiewe siening oor God se soewereiniteit bepaal dat die mensdom nie oor ‘n vrye wil beskik nie, maar dat God vooraf bepaal wie hemel toe gaan en wie hel toe gaan, en dan word geloof d.m.v. onweerstaanbare genade op in die uitverkorenes se harte uitstort nog voordat hulle enigsins glo, enige besluit geneem het of daarvan bewus is dat hulle weergebore is. (‘n leerstelling wat nêrens in die Bybel verkondig word nie)

Maar roep God net die mense uit wie Hy vooraf weet in Hom sou Glo? Nee, soos wat die Skrifte duidelik maak is dit die Here se wil dat alle mense gered moet word, maar omrede hy nie die gawe van die ewige lewe op enige persoon afdwing nie, kan daardie mense Sy gawe in ongeloof van die hand wys. God het in Christus alles aan die kruis gedoen om ons te red en bied die gawe van die ewige lewe kosteloos aan die hele mensdom aan.
Joh.3:16 “Want so lief het God die wêreld gehad, (sonder enige uitsondering) dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen (sonder uitsondering) wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, (niemand, sonder uitsondering, wie glo sal verlore gaan nie) maar die ewige lewe (as huidige besitting) kan hê. 17 Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word. (dus, is dit God se wil dat almal sonder uitsondering [2Pet.3:9] gered moet word) 18 Hy wat in Hom glo, (geloof bly egter ‘n vereiste) word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.” (die rede waarom ‘n persoon verlore gaan, is nie omrede die Here hom vooraf verwerp het nie, maar is omrede daardie persoon in ongeloof weier om die gawe van die ewige lewe deur geloof in ontvangs te neem. Daar is egter nie een vers in die Bybel wat onomwonde verklaar dat ‘n persoon nie kan glo nie. Die teendeel is egter waar!
Hand.17:30 “God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense (sonder uitsondering) oral dat hulle hul moet bekeer,”
Die oorgroot meerderheid mense weier egter om die gawe van die ewige lewe, deur slegs geloof, by God in ontvangs te neem, of wat eerder op enige vorm van werke evangelie (wat die waterdoop insluit, naamlik die leerstelling van doopsaligheid) wil vertrou en gaan dus verlore. Daarom stel die Here dit duidelik, naamlik:
1Tim.2:3 “Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, 4 wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.
Matt.22:14 Want baie is geroep, maar min uitverkies.”
Nie almal wie geroep word regeer in geloof nie, en op grond van hierdie feit word hulle nie uitverkies nie. Die Skrifte stel die feit baie duidelik dat dit nie God se wil is dat enige persoon verlore gaan nie!

Ter Afsluiting: Die valse aantyging aangaande semi-pelagianisme sal met die volgende artikel aangespreek word. Ek hoop hierdie artikel werp lig op jou vrae en gee jou ‘n fondament waarop jy verdere Bybelstudie kan doen. En onthou: Reddende geloof is om in die Here Jesus Christus, as die Seun van God te glo, Wie gesterf het en weer uit die dood uit opgestaan het, om jou persoonlike (volledige) sondeskuld voor ‘n regverdige God te betaal, en die Een wat aan almal die ewige lewe skenk wat Hom, en Hom alleen, daarvoor vertrou.

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.