Heilige Gees vervul

Word met die Heilige Gees vervul

Seker die belangrikste besluit wat enige mens op aarde kan maak is om die evangelie van God se genade te glo. Die oomblik wanneer ‘n persoon die evangelie glo, kom die Heilige Gees en woon permanent binne die gelowige se liggaam en dien as waarborg dat daardie persoon vir eens en altyd gered is.
Ef.1:13 “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,
1Kor.6:19 “Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie?”
Diegene wat dus verkondig dat ons vir ‘n tweede keer, (of selfs meer kere) die salwing “anointing” moet ontvang verkondig dwaalleer en weerspreek God en Sy woord! Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Doop met die Heilige Gees vs vulling met die Heilige Gees”, asook “Val in die Gees” en “Word mens een of twee keer deur die Heilige Gees gedoop” te lees.) Maar net omrede ‘n persoon die Heilige Gees tydens wedergeboorte ontvang het, beteken geensins dat daardie persoon met die Heilige Gees gevul is nie. Dit is egter God se begeerte dat elke gelowige met die Heilige Gees gevul moet wees en daarom word gelowiges aangesê om met die Gees gevul te word, naamlik:.
Ef.5:18 “Moenie dronk word van wyn nie — daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul.”

Maar let op die bevel, naamlik: “Maar word met die Gees vervul”. Alhoewel alle gelowiges met die Heilige Gees verseël is, beteken dit geensins dat alle gelowiges met die Heilige Gees vervul/gevul is nie, anders sou Paulus nie bostaande opdrag aan ons kon gee nie. Bostaande teksgedeelte kan soos volg geparafraseer word, naamlik: “Moenie onder die invloed/beheer van drank wees nie, maar wees onder die invloed en beheer van die God wat in jou woon!” In kort, laat die Heilige Gees wat in jou woon jou beheer! Dit sal slegs ‘n werklikheid word, indien die gelowige onderdanig aan God is, en die Heilige Gees toelaat om in en deur hom te werk, sodat Hy die gelowige toenemend na die beeld van Christus kan verander. Slegs wanneer die gelowige deur die Heilige Gees beheer word kan God die vrug van die Gees in daardie gelowige se lewe laat manifesteer.
Filip.2:13 “want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.”
En gevolglik die opdrag om met die Heilige Gees gevul te wees. Die illustrasie van ‘n handskoen dien as ‘n mooi voorbeeld hiervan. Die chirurg wil die handskoen met sy hand vul, sodat hy ‘n wonderlike werk wat slegs die chirurg kan doen, kan verrig. Maar indien die handskoen nie aan sekere vereistes voldoen nie, dan kan die chirurg nie die handskoen gebruik nie. Net soos met die handskoen, kan ons slegs volkome deur die Gees beheer word indien ons met die Heilige Gees gevul is.

Daar is egter drie vereistes waaraan voldoen moet word alvorens die Heilige Gees ‘n gelowige kan vul, naamlik:

  • Die eerste voorwaarde, naamlik moenie die Heilige Gees bedroef nie:
    Ef.4:30 “En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, (fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking) deur wie julle verseël is (fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte) tot die dag van verlossing.” (fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking) Die leser word aangeraai om die artikel “Drie fases van verlossing” te lees. As gelowiges, moet ons nie onbeleide sonde in ons lewens toelaat nie. Indien ons dit toelaat dan maak ons die Heilige Gees, Wie in ons woon, bedroef/hartseer en grief Hom. Die Heilige Gees sal nie ‘n gelowige wat deur onbeleide sonde besmet is kan vul of gebruik nie. Net soos wat ‘n goeie chirurg nie van ‘n besmette en vuil handskoen sal gebruik maak om sy werk te verrig nie, so ook sal die Heilige Gees nie van ‘n sonde besmette gelowige gebruik kan maak nie. Om hierdie rede is dit van uiterste belang dat ons, ons sondes moet bely.
    1Joh.1:9 “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig. 10 As ons sê dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom tot ‘n leuenaar en is sy woord nie in ons nie.”
    Om ons sonde te bely beteken nie dat ons dit onder die mat in probeer vee nie of dit probeer regverdig nie. Ons moet ons sonde in dieselfde lig sien as wat God dit sien, en met daardie gesindheid na Hom gaan en ons sonde gaan bely. Dit is ‘n goeie idee om gereeld onsself af te vra of ons werklik skoon houers is wat deur God gevul en gebruik kan word.
    2Tim.2:21 “As iemand hom dus hiervan deeglik reinig, sal hy ‘n voorwerp tot eer wees, geheilig en bruikbaar vir die Here, toeberei vir elke goeie werk.”
    Bely alle sonde! (Bestudeer gerus die volgende teksgedeeltes, naamlik: Psalm 32; Psalm 51; Jak.4:8-10; Joh.13:4-11; 1Joh.1:5-10 en oordink dit.)
  • Die tweede voorwaarde, naamlik moenie die Heilige Gees blus nie:
    1Thess.5:19 “Blus die Gees nie uit nie.”
    En hoe blus mens die Heilige Gees? Deur God se werking in jou lewe te verhinder, of te beperk, deur om onwillig te wees om Sy wil te doen. Die illustrasie van die handskoen kom ook mooi hier te pas. Dit is soos wanneer die chirurg sy hande in die handskoen wil druk, om sodoende ‘n groot werk te verrig, en die handskoen knoop homself sodat die chirurg nie sy hande in die handskoen kan druk nie. In kort beteken dit dat ons vir God nee sê. Dit geld ook vir gevalle waar ‘n persoon dinge vir God wil doen wat nie deur Hom beveel is nie, en wat teen God se geopenbaarde wil, soos wat dit in die Bybel staan, indruis. Dit beteken dat ons ten alle tye aan God se wil moet toegee, deur om volkome gewillig te wees om Sy wil te doen al kos dit ons alles. Ons moet God se wil bo ons eie wil plaas, en in gevalle waar ons wil met Sy wil in botsing kom, dan sê ons “nee” vir ons wil en “ja” vir Sy wil. Dit beteken ook dat ons onsself ten alle tye volkome tot Sy beskikking stel, om sodoende deur Hom gebruik te kan word soos waar en wanneer Hy dit verkies.
    Rom.6:13 “En moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God.”
    Ons almal moet onsself afvra of ons werklik bereid is om God se wil te doen, (dit sluit God se tydsberekening in) of wil ons eerder onsself behaag deur ons eie wil te doen en dan verklaar dat ons in die naam van God optree? Onthou, Christus se strewe was altyd om Sy Vader se wil te doen al het dit Hom alles gekos. Ons behoort dieselfde gesindheid te handhaaf. Kry ons dit altyd reg? Nee, maar ons kan en moet daarna streef?
    Luk.22:42 “en gesê: Vader, as U tog maar hierdie beker van My wil wegneem! Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied!”
    Alle gelowiges besit na aanvanklike wedergeboorte nog steeds hulle ou sonde natuur, en a.g.v. ons sonde natuur klop die drang om alles te wil beheer nog steeds sterk in ons harte. Wanneer ‘n persoon sy eie wil onder die vaandel van godsdiens verrig, dan dien daardie persoon nie God nie maar eerder homself. Dink mooi oor hierdie stelling na.
  • Die derde voorwaarde, naamlik Wandel deur die Gees: En nee, ‘n persoon wandel nie in die Gees wanneer hy op die grond neerslaan en/of in die een of ander vreemde brabbeltaal te praat nie! Dit sluit opgesweepte emosies in. Onthou, daar is ‘n gevaar om ekstase met die Gees van God te verwar. Wanneer ons die Heilige Gees as ‘n ekstatiese gevoel beskou, loop ons die risiko om die Gees vir ‘n emosie te verruil. Ons wandel deur geloof in die woord, nie op gevoel of sig nie!
    Ps.119:105 “Noen. U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad. 2Kor.5:7 Want ons wandel deur geloof en nie deur aanskouing nie.”
    Dit beteken dat ons voortdurend deur die krag van God, naamlik die Heilige Gees, wat binne ons woon moet leef. Om deur die Gees te wandel is nie om slegs op ons gevoelens staat te maak nie, maar dit beteken dat ons volkome deur geloof van Hom afhanklik moet wees, en op God vertrou, en in geloof verseker/oortuig wees dat Hy die bron van ons genoegsaamheid is en al is wat ons nodig het.
    Gal.5:16 “Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie;”
    Om weer die illustrasie van die handskoen te gebruik. Die handskoen beweer dat hy die chirurg nie nodig het om sy werk te kan verrig nie, en weier om op die chirurg te vertrou en maak eerder op homself staat. Dit mag dalk belaglik klink, maar ons almal maak onsself gereeld aan hierdie sonde skuldig, veral wanneer omstandighede moeilike raak. Ons kan niks wat enigsins ewigheidswaarde het verrig indien God dit nie in en deur ons bewerkstellig nie.
    Joh.15:5 “Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.”
    In 1Pet.5:7 brei die apostel Petrus verder oor hierdie onderwerp uit, naamlik:
    1Pet.5:7 “Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle.”
    Die vraag wat ons moet vra, is of ons van oomblik tot oomblik op die Here vir hulp en krag staatmaak, of maak ons op onsself staat en probeer om dinge in ons eie krag te bewerkstellig. Is ons werklik deur geloof daarvan bewus dat God ten alle tye in en by ons is (omrede Hy dit in Sy woord vir ons sê) en leef ons met hierdie wete in die agterkop. Ons moet altyd volkome in afhanklikheid van God leef en veral as dinge moeilike gaan! Ons gevoelens dien nie noodwendig as maatstaf van ons geloof nie, maar ons demonstreer eerder ons geloof deur die wyse waarop ons God se woord, soos in die Bybel opgeteken staan, eerbiedig.
    Ef.6:10 “Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte.”
    Filip.4:13 “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.”
    En onthou die Here se opdrag, naamlik:
    Jes.50:10 Wie is daar onder julle wat die HERE vrees, wat na die stem van sy Kneg (die Here Jesus Christus) luister, wat in duisternisse wandel en geen ligstraal sien nie? — laat hy vertrou op die Naam van die HERE en steun op sy God! 11 Kyk, julle almal wat ‘n vuur aansteek, wat julle met vuurpyle omgord — wandel in die vlam van julle vuur en onder die vuurpyle wat julle aangesteek het! Van my hand het dit julle oorgekom; in smart sal julle neerlê.”

Die Godgegewe resultaat: Wanneer ‘n gelowige met die Heilige Gees gevul is, dan sal die Heilige Gees die vrugte van die Gees in en deur die gelowige laat manifesteer. Die vrug van die Gees is nie die produk van die gelowige self nie, maar dit is eerder God wat dit in en deur die gelowige bewerkstellig, naamlik:
Gal.5:22 “Maar die vrug van die Gees (nie die vrug van die mens nie) is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.
Ef.5:9 Want die vrug van die Gees bestaan in alle goedheid en geregtigheid en waarheid.”
(en slegs korrekte Bybelse leerstellings is die waarheid. Indien ‘n persoon willens en wetens valse leerstellings aangang, dan bedryf daardie persoon ongeregtigheid wat niks met die vrug van die Gees in gemeen het nie) Daarenteen is die vrug van die vlees (wat deur die mens voortgebring word) die volgende, naamlik:
Gal.5:19 “En die werke van die vlees is openbaar, naamlik owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid; 20 afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap; 21 afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge, waarvan ek julle vooraf sê, soos ek al vroeër gesê het, dat die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie.”
Wanneer ‘n gelowige wat met die Heilige Gees gevul is dan sal die belofte van die Here Jesus Christus volkome in daardie persoon se lewe in vervulling gaan, naamlik:
Joh.7:38 “Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei.”

Ter afsluiting: Dit kan met sekerheid gestel word, dat ons in ‘n postmoderne, asook tot ‘n groot mate in ‘n nachristelike tydperk leef, met die gevolg dat ateïsme, hedonisme, materialisme en kommunisme godsdiensgeloof in groot gedeeltes van die wêreld vervang het. In die vaagheid van ons altyd swerwende kultuur word eens edel waardes verag, en dit wat eens deugsaam was beswadder, en wat moreel skandelik is geprys. Die skeidingslyn tussen die waarheid en leuens is nie meer so duidelik waarneembaar nie, en korrekte Bybelse leerstellings word verag. Dit wat eens feitelik was word vaag en verwronge, en dit sluit biologiese verskille, seksualiteit en Bybelse leerstellings in. So gaan ware Bybelse waardes verlore en word met ‘n valse spiritualiteit vervang. Die Bybels stel hierdie feit duidelik, naamlik:
2Tim.3:1 “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. 2 Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, 3 sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, 4 verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; 5 mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af.”
1Tim.4:1 Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang
2Tim.3:12 En almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word. 13 Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger, hulle wat verlei en verlei word.”
Die mensdom het vyf groot begeertes: Om soos God te wees; om self die meesters van hulle eie lotgeval te wees; om self die betekenis van die lewe te bepaal; die begeerte om self ons morele standaarde te bepaal en om self (in Christus se afwesigheid) ‘n menslike hemel op aarde tot stand te wil bring. Hierdie stelling geld ook vir ‘n baie groot gedeelte van die belydende christendom.

Derhalwe kan ons as gelowiges nie meer bekostig om nie met die Gees gevul te wees nie. In ons eie krag sal ons nooit getrou aan die Here kan bly, en teen die toenemende goddeloosheid staande kan bly nie. Daarom is dit van uiterste belang dat ons met die Heilige Gees gevul moet wees, sodat Hy in, en deur ons, Sy wil kan bewerkstellig en sodoende leef ons lewens wat die Here sal verheerlik.
Ef.6:13 “Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly.
Rom.15:13 “En mag die God van die hoop julle vervul met alle blydskap en vrede deur die geloof, dat julle oorvloedig kan wees in die hoop deur die krag van die Heilige Gees!”
Maranatha! Amen! Kom Here kom gou!Seën groete!

Vic

Deel met ander asb.