Valentyn

Sint Valentyn, Valentynsdag, en die ware Gelowige?

Vraag: Ek wil net hoor, Valentynsdag dag goed of sleg?

Antwoord: Ek is maar versigtig vir enige legendes en tradisies wat met die Rooms Katolieke Kerk, of soortgelyke organisasies te make het en dit sluit die legendes en tradisies rondom Valentynsdag in. Die Katolieke Kerk is volgens my mening nie die ware Kerk nie. Dit gesê, word dit beweer dat Sint Valentyn onder keiser Claudius gedien het, en omrede keiser Claudius sy soldate verhoed het om te trou, omrede ongetroude soldate, volgens Claudius, kwansuis beter oorlog sou voer, het Sint Valentyn skelm verliefde soldate in die huwelik bevestig en is daarvoor deur die keiser in die tronk gestop, waarop Sint Valentyn en die tronk bewaarder se dogter, wat blind was, genees het en waarop die twee op mekaar verlief geraak het. (Sover so goed) Ander beweer weer dat Sint Valentyn Christen paartjies in die geheim in die huwelik bevestig het, en daarom is hy ter dood veroordeel, maar dit eers nadat hy die keiser se dogter genees het. Ongelukkig is daar ‘n ander bewering, en dit is dat die Rooms Katolieke Kerk in ‘n poging om heidense praktyke met die belydende Christendom te versoen, deur hierdie dag met die (Engels “Pagan”) heidense heilige dag van Lupercalia saam te voeg, wat indien dit waar is, ernstig problematies is. (Let wel daar is nog verdere legendes wat ek nie hier gaan noem nie, omrede ek nie glo dat ‘n ware gelowig enigsins iets met die Katolieke Kerk te doen moet hê, anders as om die Evangelie met daardie organisasie se lede te deel nie.)

As ek jy was, en jy wou ‘n romantiese dag vier, vier dan ‘n romantiese dag, maar moenie dit as Valentynsdag vier nie. Jy kan elke dag ‘n spesiale romantiese dag hou indien jy wil. Stel en beantwoord die volgende vra, soos wat oorlede Dr Ryrie dit uitgelig het, aan jouself. Dit behoort jou in jou besluitneming te help.

a) Bevorder die viering van so ‘n dag (maak nie saak watse dag dit is nie) valse leerstellings of immorele gedrag?
Gal 5:19 “En die werke van die vlees is openbaar, naamlik owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid; 5:20 afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap; 5:21 afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge, waarvan ek julle vooraf sê, soos ek al vroeër gesê het, dat die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie. 5:22 Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing. 5:23 Teen sulke dinge is die wet nie. 5:24 Maar die wat aan Christus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig. 5:25 As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel.”

b) Sal die viering van so ‘n dag jou Christelike getuienis op enige opsigte negatief beïnvloed.
Fil 2:15 “sodat julle onberispelik en opreg kan wees, kinders van God sonder gebrek te midde van ‘n krom en verdraaide geslag onder wie julle skyn soos ligte in die wêreld,”

c) Sal jy God, in alle eerlikheid, met die viering van so ‘n dag opreg kan bedank?
1Ts 5:16 “Wees altyddeur bly. 5:17 Bid sonder ophou. 5:18 Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle. 5:19 Blus die Gees nie uit nie.”

d) Jy moet hierdie besluit saam met jou geliefde maak, en saam daaroor bid, want dit help nie julle vier die dag as dit hom ongemaklik maak nie.
Jak 1:5 “En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word.”

Ek sal nog twee verdere vra by die van Dr Ryrie byvoeg, naamlik:

1) Sal die viering van so ‘n dag die Here verheerlik?
Rom 14:5 “Die een ag die een dag bo die ander, die ander ag al die dae gelyk. Laat elkeen in sy eie gemoed ten volle oortuig wees. 14:6 Hy wat die dag waarneem, neem dit waar tot eer van die Here; en hy wat die dag nie waarneem nie, neem dit nie waar nie tot eer van die Here; en wie eet, eet tot eer van die Here, want hy dank God; en wie nie eet nie, eet nie tot eer van die Here, en hy dank God. 14:7 Want niemand van ons leef vir homself nie en niemand sterf vir homself nie. 14:8 Want as ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here; of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here. 14:9 Want hiervoor het Christus ook gesterwe en opgestaan en weer lewend geword, om oor dode sowel as lewende te heers.
1Ko 10:31 Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God.”

2) Indien ek die spesifieke dag vier, en ‘n medegelowige, wie se geloof nie so sterk as myne is nie, my die dag sien vier, sal dit hom kan laat struikel. Indien dit die geval is sal ek nie die dag vier nie.
Rom 14:17 “Want die koninkryk van God is nie spys en drank nie, maar geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees. 14:18 Want hy wat Christus hierin dien, is aan God welgevallig en by die mense geag. 14:19 Laat ons dan najaag wat tot vrede en onderlinge stigting dien. 14:20 Moenie ter wille van voedsel die werk van God afbreek nie. Alles is wel rein, maar dit is verkeerd vir ‘n mens om te eet as dit tot aanstoot is. 14:21 Dit is goed om geen vleis te eet of wyn te drink of iets te doen waardeur jou broeder aanstoot neem of struikel, of waarin hy swak is nie. 14:22 Het jy geloof? Behou dit vir jouself voor die aangesig van God. Gelukkig is hy wat homself nie oordeel in wat hy vir geoorloof ag nie. 14:23 Maar hy wat twyfel as hy eet, is veroordeel, omdat dit nie uit die geloof is nie; en alles wat nie uit die geloof is nie, is sonde.”
Alhoewel die konteks van hierdie teksgedeelte spesifiek oor voedsel handel, geld die beginsel hier gevind, vir al die gelowige se optredes. Let op die term: “of iets te doen waardeur jou broeder aanstoot neem of struikel,”
En onthou Bybelse liefde soek nie sy eie voordeel nie, maar eerder die van ‘n ander.
1Ko 10:24 “Laat niemand sy eie voordeel soek nie, maar elkeen die voordeel van ‘n ander.”

Ter Afsluiting: Ek hoop hierdie voorstelle help jou om jou vraag te beantwoord. Onthou om altyd vir die Here te bid, sodat Hy, deur die Heilige Gees, jou verstand kan verlig om sodoende vas te stel wat Sy wil vir enige gegewe saak is. Onthou om slegs die Bybel as jou maatstaf te gebruik en moenie van buite Bybelse profesieë, leerstellings of tradisies gebruik maak nie.
2Ti 3:16 “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid,”
Ons word in die Bybel aangesê om vir wysheid te bid en daarom kan ons verseker weet dat God so ‘n gebed sal beantwoord indien ons Hom werklik wil gehoorsaam.
Jak 1:5 “En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word.”
En onthou die Here praat met jou deur Sy woord, die Bybel.

Mag die Here jou ryklik seën!

Vic

Deel met ander asb.