Maak God mense siek? 'n Moeder se vrae

Maak God mense siek? ‘n Moeder se vrae

Vraag: Vic, ek lees nou al gereeld jou artikels en vind regtig antwoorde en hoop daarin en leer baie daaruit. Ek wil tog jou voorbidding en raad vra oor n saak. Ek het laas week gehoor my 7 jarige seuntjie het Vitiligo , dis n siekte waar die pigment in sy vel doodgaan en wit vlekke op sy liggaam dan voorkom. Dis nie iets soos velkanker of iets wat sy ontwikkeling aantas of dodelik nie. Hy gaan net anders begin lyk en kinders kan hom begin spot daaroor. Op die oomblik is dit net op sy lyfie onder sy klere. Daar is geen kuur en dr kan nie se of dit gaan versprei en hoe vinnig nie. Ek weet ek moet dankbaar wees dat dit nie ‘n gevaarlike siekte is nie, maar dis moeilik vir my om dit te aanvaar en te glo en te vertrou dat dit nie sal versprei nie. Ek moes besluit of ek dermatoloog toe moet gaan, of heel organies begin leef, of net alles te los en dit oor te gee in God se hand en te glo en bid en te vertrou dat dit nie erger sal word nie. Maak God mense siek, is dit deel van Sy ingewikkelde planne, gaan Hy dalk hierdeur ander leer en aanraak. Is dit n toets van my geloof. Mag ek bid vir volle genesing. Straf Hy my dalk hierdeur oor iets wat ek dalk verkeerd doen of glo of enige sonde wat ek dalk gedoen het of my man dalk gedoen het. Ons albei glo in God en lees Bybel en bid en probeer volgens Sy wil leef, maar dwaal tog soms af en keer dan weer terug. Ek leer my kinders van God en lees vir hulle die Bybel en leer hulle bid en leer hulle hoe om reg te leef en vertel hulle van God se liefde. Ek weet slegte dinge gebeur ook met gelowiges. Ek wil net weet wat om nou te doen en hoe om dit te hanteer, want vir my is dit nou moeilik en ek voel hartseer en bang.

Groete

Antwoord: Ek is baie jammer om te verneem dat jou kind hierdie siekte het. Ek het julle almal alreeds aan ons hemelse Vader in gebed opgedra en sal dit weer doen. Ek sal poog om jou vra afsonderlik volgens die Bybel te beantwoord, en hoop en bid dat dit jou en jou gesin sal help. Met die Here se help sal ons julle in ons gebede onthou en julle gereeld aan ons hemelse Vader opdra. Ek gaan die vrae wat jy gevra het afsonderlik aanhaal en dan poog om dit met God se krag te beantwoord, dit sal die beantwoording van jou vra vergemaklik en verhoed dat ek onnodiglik sekere punte herhaal. Ek vra ook groot verskoning omdat ek so lank geneem het om jou vraag te beantwoord, maar ek het eers die Here, in gebed, om wysheid gevra, want sonder Sy wysheid en insig sal ek meer kwaad as goed doen. (kop is maar plat) En onthou dat ek net ‘n mens is en vra dat jy alles wat ek jou antwoord, in gebed met God bespreek en met die Bybel vergelyk, om seker te maak dat ek nie foute begaan nie. As daar enige onduidelikheid is moet jy nie skroom om te laat weet nie, dit is ons, as gelowiges, se plig om mekaar te dien en is ook ‘n groot eer en voorreg.

Jou stelling: Ek moes besluit of ek dermatoloog toe moet gaan, of heel organies begin leef of net alles te los, en dit oor te gee in God se hand, en te glo en bid en te vertrou dat dit nie erger sal word nie.

Antwoord: My raad aan jou sal wees om die hele saak in gebed na die Here te neem (wat ek weet jy alreeds gedoen het) en Hom om wysheid vra vir dat wat jy nog moet doen. As jy kan en die deur is vir jou oop, neem jou kind na die dermatoloog, dit kan net voordelig wees. Hy sal julle ook meer inligting omtrent jou kind se siekte kan gee, wat julle moontlik in die toekoms tot voordeel kan strek. Kry soveel inligting as wat jy kan en as dit nodig is en die dermatoloog dink dit sal help, pas julle dieet dan so aan, soos wat hy aanbeveel. Om gesond te lewe is altyd ‘n wyse besluit, iets wat te veel van ons nie genoeg toepas nie. (My in kluis) Die belangrikste ding wat jy egter kan doen is om jou kind asook al jou pyn, hartseer en vrese na die Here te neem. Hy weet wat julle deurgaan en onthou altyd dat die Here soewerein is en dat niks Hom onkant kan betrap nie.

Jou vraag: Maak God mense siek?

Antwoord: Om jou vraag te beantwoord moet ons terug na die begin van die skepping gaan en kyk waar siekte en die dood vandaan kom. Dit is belangrik dat jy eers ‘n mooi agtergrondskennis het, voordat ons jou vrae bespreek. God het die mens in die begin met ‘n sondelose natuur geskep, en het ook die mens geskep met die vermoeë om teen sy natuur in keuses te maak en daarvolgens op te tree. Dus het Adam oorspronklik nie oor ‘n sonde natuur beskik nie en het hy die goeie gawe wat God hom gegee het, gebruik om teen sy sondelose natuur in op te tree en teen God te sondig. Onthou die Here moes die mense met die keuse om teen sy natuur in te sondig skep, anders sou die mens nie die vermoeë gehad het om werklik lief te kon hê en Hom in liefde te glo en gehoorsaam nie. Indien Adam nie met die vermoë geskape is om ‘n keuse te kon maak nie, sou hy maar net ‘n vooraf geprogrammeerde biologiese rekenaar gewees het, wat oor geen werklike liefde beskik het nie. Dink maar net hoe sou jy voel as jy moes uitvind dat jou man nooit werklik oor die keuse beskik het om jou lief te hê nie, maar dat hy so geprogrammeer is en dus geen keuse gehad het om jou tussen al die ander vrouens uit te kies en lief te hê nie. Watse liefde sou dit wees? Elke keer as jou man aan jou sou sê dat hy lief vir jou, sou sy woorde dieselfde waarde gehad het as wanneer jy jou rekenaar aanskakel en die program op die rekenaar vir jou sê dat hy lief is vir jou. Ware liefde sou betekenisloos wees en sou dus nie werklike liefde wees nie. Jy sou regverdiglik verkul gevoel het en jy kon dan maar net sowel op die yskas verlief geraak het. Ware liefde sou geen werklike betekenis gehad het nie. (Ek wou eers ‘n televisiestel as voorbeeld gebruik, maar ek het oortuig geraak dat daar wel baie mense is wat hulle televisiestelle werklik liefhet.)

Omdat Adam teen sy natuur in gekies het om teen God te sondig, het daar ‘n indringer in sy natuur gekom, naamlik sonde, wat hy nie mee geskep was nie. Sonde het dus nou, soos ‘n parasiet, deel van sy natuur geword en het hy nou oor ‘n sonde natuur beskik en het hy boonop die vermoeë om sondeloos te lewe verloor. Wat die saak nog vererger is dat hy nou sy sonde natuur na al sy nakomelinge oorgedra het, omdat hy ons almal se voorvader is, en daarom kan die mensdom insluitende jy nooit absoluut sondeloos lewe nie.
Rom 7:15 “Want wat ek doen, weet ek nie; want wat ek wil, dit doen ek nie, maar wat ek haat, dit doen ek. 7:16 En as ek doen wat ek nie wil nie, dan stem ek die wet toe dat dit goed is. 7:17 Maar nou is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon. 7:18 Want ek weet dat in my, dit wil sê in my vlees, niks goeds woon nie; want om te wil, is by my aanwesig, maar om goed te doen, dit vind ek nie. 7:19 Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek. 7:20 Maar as ek doen wat ek nie wil nie, dan doen ek dit nie meer nie, maar die sonde wat in my woon. 7:21 Ek vind dus hierdie wet: as ek die goeie wil doen, is die kwaad by my aanwesig. 7:22 Want ek verlustig my in die wet van God na die innerlike mens; 7:23 maar ek sien ‘n ander wet in my lede wat stryd voer teen die wet van my gemoed en my gevange neem onder die wet van die sonde wat in my lede is. 7:24 Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood? 7:25 Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here! (7:26) So dien ek self dan wel met die gemoed die wet van God, maar met die vlees die wet van die sonde.”
Adam was dus met ‘n sondelose natuur geskape en moes kies om teen sy sondelose natuur in te sondig. Ons sy nakomelinge, word egter met ‘n sonde natuur gebore en moet nou kies, om teen ons sonde natuur in, nie te sondig nie. Daarom is ons ook so vatbaar vir sondes en sondig ons ook so maklik, want ons pleeg sonde omdat dit ons natuur is om te sondig. Ook weet ons nie hoe dit voel om oor ‘n sondelose natuur te beskik nie. En om hierdie rede is sonde so lekker vir ons, dit is immers ons natuur. Ons voorvader Adam het ‘n sonde natuur gekry, omdat hy gesondig het. Ons is egter met ‘n sonde natuur gebore en daarom sondig ons.

Met wedergeboorte (fase een van verlossing) kom woon die Heilige Gees in ons en plaas Sy begeertes in ons harte. Hy lei en gee ons die krag om teen ons sondige natuur in besluite te neem en om Hom te volg en nie te sondig nie. (Fase twee van verlossing nl. die Heiligmaking fase) Omrede ons nog ons sonde natuur het, sondig ons tog steeds nog soms. Daarom sal jy vind dat as jy naby God lewe, jy meer weerstand teen sonde het, maar sodra jy weg van die Here af beweeg, is daar minder weerstand teen sonde en sondig mens makliker en daarom is dit belangrik om ‘n Gees vervulde lewe te lei. Lees asb die artikel “ word met die Gees vervul” indien jy dit nog nie gedoen het nie. Met die eerste opstanding, wat die wegraping insluit, sal ons verheerlikte liggame kry, wat vry van ons sonde natuur sal wees.
Joh 14:2 “In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei.
14:3 En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.”
1Ko 15:54 “En wanneer hierdie verganklike met onverganklikheid beklee is en hierdie sterflike met onsterflikheid beklee is, dan sal vervul word die woord wat geskrywe is: Die dood is verslind in die oorwinning. 15:55 Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning?”
Slegs dan is die drie fases van ons verlossing voltooi wees en sal ons nooit weer kan sondig nie. (fase drie of die verheerliking fase) Lees asb die artikel “Drie fases van verlossing” vir meer inligting. Oorklee met ons nuwe verheerlikte liggame, sal ons dan ‘n sondelose lewe kan lei, omdat ons nie meer ‘n sonde natuur sal besit nie. Ons sal ook nooit weer kan kies om te sondig nie, omrede ons alreeds gekies het om die Evangelie te glo en op grond van daardie keuse word die vermoë om te kies om weer te sondig van ons weggeneem. In daardie opsig is ons meer geseënd as Adam wat kon kies om te sondig. Dit is nie asof ons vooraf geprogrammeer is nie. Die Here gee net aan ons wat ons self gekies het, naamlik Jesus Christus, deur om die Evangelie te gehoorsaam. (wat ons eie keuse insluit)

Daar is egter nog meer. God het Adam vooraf gewaarsku, dat hy sou sterf indien hy die Here se gebot verontagsaam.
Gén 2:17 “maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.”
Ons weet dat Adam God se gebot gebreek het en omdat God ‘n regverdige God is en nie kan lieg nie, het Hy Adam die doodstraf opgelê. Iets waarvan Adam geen vooraf kennis gehad het nie, want hy was nie oorspronklik gemaak om dood te gaan nie, maar om vir ewig te lewe. En net soos wat die sonde natuur iets vreemds is wat by Adam se menswees bygekom het, so ook het die dood deel van Adam se menswees geword. En daarmee saam is die dood na Adam se nageslag toe oorgedra en daarom sterwe ons en dit is ook die rede waarom ons siek en oud word, want dit is die proses van doodgaan. So om jou vraag te beantwoord, ja die Here maak mense siek, maar ons sou nooit die siekte of dood beleef het as ons nie gesondig het nie. Met wedergeboorte word ons gees weergebore, maar dit is slegs die eerste fase van ons verlossing, wat uit drie fases bestaan. Daarom is dit baie belangrik dat ons die drie fases van ons verlossing verstaan. Slegs wanneer die opstanding van die heiliges plaasvind, wat die wegraping insluit, sal die derde fase van ons verlossing voltooi wees, en nie voor die tyd nie. En slegs dan, sal die woorde van Paulus in vervulling gaan.
1Ko 15:51 “Kyk, ek deel julle ‘n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, 15:52 in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word. 15:53 Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word. 15:54 En wanneer hierdie verganklike met onverganklikheid beklee is en hierdie sterflike met onsterflikheid beklee is, dan sal vervul word die woord wat geskrywe is: Die dood is verslind in die oorwinning. 15:55 Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning? 15:56 Die angel van die dood is die sonde, en die krag van die sonde is die wet. 15:57 Maar God sy dank, wat ons die oorwinning gee deur onse Here Jesus Christus.”

Daarom is dit verkeerd van mense om te verkondig, dat genesing nou outomaties aan almal op aanvraag beskikbaar is. Dit is net dood eenvoudig nie die waarheid nie, en die werklikheid dien as bewys hiervan. Die rede hiervoor is dat hulle nie die drie fases van verlossing in ag neem nie. Ek glo en weet dat die Here wel nog mense vandag genees, maar dit is omdat Hy soewerein en almagtig is, asook ‘n God van wonders is, maar genesing sal net plaasvind indien dit Sy wil is en kan ons dit nie nou outomaties verwag net omdat ons in geloof bid nie. God se wil bly die bepalende faktor.

So in hierdie opsig glo ek dat die Here mense siek maak want niks kan sonder Sy toestemming gebeur nie. In ‘n algemene sin is ons almal besig om dood te gaan en is nie een van ons perfek nie. Dink maar net aan al die hoofpyne, skete en moegheid wat jy gereeld ervaar. Dit dien as bewys dat ons, wat nog in ons sondige liggame inwoon, nog onder die vloek is wat die Here oor die skepping uitgespreek is, en daarom moet jy nog met moeite geld verdien om te eet, word jy siek en verouder jy. Indien die wegraping nie gou plaasvind nie, sal jy net soos almal voor jou tot sterwe kom. So in ‘n algemene sin is siekte en dood van God afkomstig en is dit die straf wat die mensdom as geheel opgelê is a.g.v sonde. Hou hierdie agtergrondskennis ingedagte soos wat ons die ander vra in jou brief bespreek en onthou dat ons dus in ‘n gevalle wêreld woon, waar leiding, siek word en die dood die norm is.

Vraag: Mag ek bid vir volle genesing.

Antwoord: Ja jy mag sekerlik die Here vra om jou kind volkome te genees. Hy is immers jou Hemelse Vader en dit sal tragies wees as jy dink dat daar enige iets is wat jy nie van Hom mag vra nie of met Hom kan bespreek nie. Jy moet in kinderlike geloof na hom toe gaan, net soos wat jou kindertjies na hulle pa gaan as iets verkeerd loop. Hulle gaan met verwagting en weet dat hulle pa hulle vriendelik sal ontvang en dit maak ook nie saak hoe groot of hoe klein die probleem mag wees nie. Hoeveel te meer sal die Here wat liefde is jou nie in Sy liefde ontvang nie. Onthou net soos hulle pa mag die Here jou versoek toestaan of weier of van jou verwag om geduldig vir ‘n antwoord te wag. Net soos wat jou kinders se pa weet wat goed vir sy kinders is, so weet jou hemelse Vader wat goed is vir julle. Berus jou by Sy besluit en vertrou Hom, dit is ware geloof.
Heb 4:16 “Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.”

Nog ‘n feit wat jy baie mooi moet verstaan is dat jy net God in gebed kan nader omdat jy in Jesus Christus is. Dus moet jy nooit die fout maak om te dink jy moet absoluut sondeloos wees om Hom in geloof te nader nie. As ons op ons eie geregtigheid moes staatmaak om God te nader sou niemand Hom ooit kon genader het nie. Moet nooit met jou werke tot God nader nie, nader Hom op grond van die feit dat jy Sy kind is en dat Jesus Christus se geregtigheid aan jou toegereken is, die oomblik toe jy die Evangelie geglo het. Dit is hoekom ek so erg gekant teen meeste van die Tele-evangiliste is, wat verwag dat jy moet gee voordat God aan jou sal gee. Dit is godslasterlik en alles wat God aan jou gee, gee Hy op grond van Sy liefde en genade vir jou en hoef jy Hom nie te koop nie. Nader Hom in geloof as jou Vader, en neem niks anders as die feit dat jy in Christus geplaas is en jou kinderlike geloof saam met jou nie.
Lees asb die artikel “Objek van geloof” as jy dit nie alreeds gedoen het nie.
Rom 8:32 “Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?”

Jou vraag: Straf Hy my dalk hierdeur oor iets wat ek dalk verkeerd doen of glo of enige sonde wat ek dalk gedoen het of my man dalk gedoen het. Ons albei glo in God en lees Bybel en bid en probeer volgens Sy wil leef, maar dwaal tog soms af en keer dan weer terug.

Antwoord: In ‘n ander opsig is nie alle spesifieke siektes die gevolg van ‘n spesifieke sonde in ‘n persoon se lewe nie. Dink byvoorbeeld aan die man wat blind gebore was.
Joh 9:1 “En toe Hy verbygaan, sien Hy ‘n man wat blind was van sy geboorte af. 9:2 En sy dissipels vra Hom en sê: Rabbi, wie het gesondig, hierdie man of sy ouers, dat hy blind gebore is? 9:3 Jesus antwoord: Hy het nie gesondig nie, en sy ouers ook nie; maar die werke van God moet in hom openbaar word.”
Dit is nie te se dat die man absoluut sondeloos was nie, hy was ‘n sondaar soos ons almal, maar die rede vir sy blindheid was nie a.g.v ‘n spesifieke sonde in sy lewe nie. Hy is blind gebore, sodat Jesus hom kon genees en daardeur bewys dat Hy die Vader afkomstig is en die Vader se werke doen. Lees maar gerus hoe die skrywer van Ps 73 by die Here gekla het, oor die goddelose mense, wat skynbaar geen smarte in hierdie lewe ervaar nie, maar die wat heilig wil lewe kry swaar. Maar soos ons weet is hierdie lewe nie al nie en is dit maar net die begin. Die ewigheid lê voor ons en in vergelyking daarmee is hierdie aardse bestaan van ons net ‘n wasem wat gou verby sal wees. Anders as wat die wêreld en sekere predikers verkondig is hierdie wêreld nie ons, as gelowiges, se woning nie en sterf ons daagliks. Maar die belangrikste feit is dat ons innerlike (geestelike) mens moet ontwikkel en groei. Dit is wat by God saak maak. Kyk maar hoe baie lyding Paulus deurgemaak het, en dit was nie omdat hy ‘n spesifieke sonde gepleeg het nie, hy het eerder in God se wil opgetree. Hy het egter geweet dat die beste vir gelowiges nog in die toekoms lê, en dat hierdie aardse leiding nie met die heerlikheid van die toekoms vergelyk kan word nie.
2Ko 4:16 “Daarom gee ons nie moed op nie, maar al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag ná dag vernuwe. 4:17 Want ons ligte verdrukking wat vir ‘n oomblik is, bewerk vir ons ‘n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid; 4:18 omdat ons nie let op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.”

Aan die ander kant kan die Here siekte gebruik om Sy kinders te straf wat in sonde bly. Ek dink nou aan hoe Dawid gestraf is, asook die gemeente van die Korintiërs wat die armes onder hulle beskaam het en hulle nie in ag geneem het by die liefdesmaal (wat die nagmaal ingesluit het.) nie.
1Ko 11:20 “As julle dus saamkom, dan wil dit nie sê dat julle die nagmaal van die Here eet nie. 11:21 Want as julle eet, gebruik elkeen eers sy eie ete; en die een het honger en die ander is dronk. 11:22 Het julle dan geen huise om in te eet en te drink nie? Of verag julle die gemeente van God, en maak julle dié beskaamd wat nie het nie? Wat sal ek vir julle sê? Sal ek julle prys? Hierin prys ek julle nie.11:29 Want wie op onwaardige wyse eet en drink, eet en drink ‘n oordeel oor homself, terwyl hy die liggaam van die Here nie onderskei nie. 11:30 Daarom is daar onder julle baie swakkes en sieklikes, en ‘n aantal het ontslaap. 11:31 Want as ons onsself beoordeel het, sou ons nie geoordeel word nie.”
Dus is dit belangrik dat ons onsself oordeel as die Heilige Gees ons van ‘n sonde in ons lewe oortuig. Die beste ding is dan om tot bekering te kom en ons saak met die Here reg te maak, voordat Hy ons moet tug. Dit is die Heilige Gees se werk om ons te oortuig en as ons oor oop vir Sy leiding is, sal Hy dit doen. Indien nie, sal Hy ons ore vir ons moet oopmaak en dit is nie altyd baie aangenaam nie. Net so het ons ook as ouers ons kinders grootgemaak. Onthou God is ons Vader, en wil net die beste vir ons hê. Jy gaan seker nie jou kind aanmoedig as hy met lewendige elektriese kabels wil speel nie . Jy gaan hom waarsku en dan straf om hom teen verdere smarte te beskerm. Net so gaan die Vader nie dinge in ons lewe toelaat as dit ons gaan benadeel nie. Hy is te lief vir ons om ons in sondige leefstyl te los. (Onthou ek praat nie nou van jou of jou kind nie, maar noem net dat God wel siekte kan gebruik om Sy kinders te straf.)
Heb 12:6 “want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem. 12:7 As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie?”

Onthou altyd dat die Here genadig is. Kyk maar hoe Hy met die dissipels te werk gegaan het. God weet ons verstaan nie alles nie en daarom sal Hy ons geduldig leer. As jy die evangelies lees sal jy opmerk dat hulle Hom die meeste van die tyd misverstaan het. Het Hy hulle gestraf? Nee Hy het hulle geleer. So gaan Hy ook met jou doen. Hy weet egter wat in mense se harte aangaan en weet wanneer iemand Hom opreg soek(soos die dissipels) of as iemand nie opreg is nie. (soos die fariseërs) Daarom sal God jou ook nie straf as jy opreg Hom soek nie, al maak jy baie foute. Hierdie waarheid geld selfs vir mense wat verlei is, en glo my daar is baie. Daarom is dit so belangrik om alles wat ek of enige iemand jou vertel, met die Bybel te vergelyk en vra die Heilige Gees om jou in die waarheid te lei. Hy sal dit sekerlik doen. Nie een van ons weet alles nie. Die mense wat swaar gestraf gaan word is mense wat doelbewus God se woord verdraai om mense te verlei. Baie mense doen dit vandag. Kyk maar na baie van die Tele-evageliste wat miljoene in God se naam maak en dan nog Sy woord verdraai en valse beloftes van rykdom aan die mense voorhou. Dit geld ook vir mense wat doelbewus verkondig dat die Bybel nie voldoende is nie, of dat die Bybel nie God se woord aan ons is nie, maar dat dit net ‘n boek oor God is. Hulle weet goed genoeg wat hulle doen en hulle weet ook wat die motiewe vir hulle optredes is. Hulle gaan dit egter nie aan die wêreld bekend maak nie, want dan sal hulle baie aanhangers en geld verloor. Indien jy mooi oplet sal jy gou agter kom wie hulle werklik dien. Daarom sal jy opmerk dat die Here hulle nie in hierdie lewe sommer sal straf nie, want hulle is nie werklik Sy kinders nie. Hulle oordeel sal wel kom as hulle voor die Wit Troon Oordeel verskyn. (Iets wat ek hulle nie toewens nie) Die Here ken jou hart en weet dat jy Hom opreg soek, selfs ek kan dit raaksien, hoeveel te meer gaan God dit nie weet nie. Jy hoef dus nie bang te wees nie. Soek God net met ‘n opregte hart en bestudeer Sy woord en Hy sal jou op die regte pad lei. Vertrou Hom daarvoor.

Vraag: Is dit deel van Sy ingewikkelde planne, gaan Hy dalk hierdeur ander leer en aanraak.

Antwoord: Die Here is almagtig en is in beheer van alles, en daarom hoef jy nie bang te wees vir wat jy nou beleef en dalk in die toekoms mag beleef nie.
Rom 8:28 “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.”
Dit maak nie saak hoe donker sake nou vir julle mag voorkom nie, jy het God se woord dat Hy hierdie omstandighede ten goede vir julle sal laat saamwerk. As Hy sou verkies om jou kind nie te genees nie, kan jy verseker wees dat daar ‘n baie goeie rede daarvoor is. Die Here het ‘n plan met ons almal en wil ons as instrumente gebruik om ander mense weer te kan help.
2Ko 1:3 “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus, die Vader van ontferminge en die God van alle vertroosting,
1:4 wat ons troos in al ons verdrukking, sodat ons die wat in allerhande verdrukking is, kan troos deur die vertroosting waarmee ons self deur God getroos word.”
As ek na my verlede terugkyk dan is ek dankbaar dat God my so lief gehad het, om nie al my versoeke toe te staan nie, al het dit soms lyding en vernedering behels. Met latere insig wat net die Heilige Gees my kon gegee het, kan ek nou maklik sien hoe die Here my van sonde en smarte gespaar het. As Hy my versoeke sou toestaan sou dit tot my ondergang gelei het.

Kyk maar na die Apostel Paulus, wat die Here hom laat sien het(die Hemel) en wat die Here in sy lewe toegelaat het om te verhoed dat hy hoogmoedig word.
2Ko 12:7 “En dat ek my oor die voortreflikheid van die openbaringe nie sou verhef nie, is my ‘n doring in die vlees gegee, ‘n engel van die Satan, om my met die vuis te slaan, dat ek my nie sou verhef nie. 12:8 Hieroor het ek die Here drie maal gebid, dat hy van my sou wyk. 12:9 En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon.”
Indien die Here jou kind nie genees nie, kan jy verseker weet dat Hy aan jou, jou man en jou kind die genade sal gee om oorwinnend en tot Sy eer uit hierdie situasie uit te styg. Ja en mens weet nooit, miskien kom daar baie mense tot geloof in Jesus, deur wat julle nou beleef! Julle as gesin het ‘n groot geleentheid om aan die wêreld God se liefde en genade te demonstreer (Nie net wanneer dit goed gaan nie) en sal ook in staat wees om ander wat ook lei weer by te staan in hulle tyd van beproewing. Die geleentheid vir geestelike groei in omstandighede soos die wat julle nou beleef is onberekenbaar, al mag dit nie nou vir jou so lyk nie.
Jak 5:10 “Neem as voorbeeld van lyding, my broeders, en van geduld die profete wat in die Naam van die Here gespreek het. 5:11 Kyk, ons reken hulle geluksalig wat verdra. Julle het gehoor van die lydsaamheid van Job, en julle het die einddoel van die Here met hom gesien, dat die Here vol medelye en ontferming is.”

Vraag: Is dit n toets van my geloof.

Antwoord: Ja ek glo so. Elke dag is op die een of ander manier ‘n toets van ons geloof. Onthou dat geloof wat nie getoets is nie, nie ware geloof is nie. Daarom gebruik die Here ook ons omstandighede om ons geloof in Hom te versterk.
Job 23:10 “Want Hy weet hoe my wandel is; as Hy my toets, sal ek soos goud te voorskyn kom.”
1Pe 1:6 Daarin verheug julle jul, al word julle nou—as dit nodig is—’n kort tydjie bedroef onder allerhande beproewinge, 1:7 sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus; 1:8 vir wie julle, al het julle Hom nie gesien nie, tog liefhet; in wie julle, al sien julle Hom nou nie, tog glo en julle verbly met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap, 1:9 en die einddoel van julle geloof, die saligheid van julle siele, verkry.”
Onthou dat God in beheer is en dat Hy julle nooit sal verlaat nie. Dit maak nie saak wat die uitslag mag wees nie, die Here is in beheer en onthou dat ons finale woning nie op hierdie aarde sal wees nie, maar by God in die Hemel waar alle pyn en leiding iets van die verlede sal wees. Fokus op die Here en vra Sy leiding in hierdie moeilike tydperk. Hy sal jou lei en die genade gee om met lof uit die stryd te tree.
Heb 11:6 “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek.”

Onthou, dat ons in ‘n gevalle wêreld bly en dat net die Here weet wat vorentoe in die pad vir ons wag. Dink maar net aan die feit, dat as die Here Sy koms vir ons lank genoeg gaan uitstel, dat jy sekerlik die dood van jou geliefdes sal moet deurgaan. Om so iets deur te gaan verg geloof in God se almag en wysheid, en skep ook ‘n geweldige groot geleentheid vir jou om Sy Naam in sulke tye te verheerlik. Ek glo ook dat daar moeilike tye vir die wêreld voorlê en veral vir ware gelowiges. In sulke tye gaan ons die tipe geloof nodig hê wat deur vuur gelouter is. Kyk maar om jou heen en kyk hoe lyk die wêreld, en daarom is dit so belangrik om die Evangelie te verkondig, sodat so veel as moontlik mense tot geloof kan kom, voordat die dispensasie van genade verby is.
Jak 1:2 “Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val, 1:3 omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk. 1:4 Maar die lydsaamheid moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie.”

Ons geloof moet tot so ‘n mate ontwikkel, dat ons net soos Jesus met die aanloop tot Sy kruisiging kan bid. Toe die onbeskryflike smarte en straf vir ons sondes Hom aan die kruis in die gesig gestaar het en Hy die Vader gevra het om die beker van leiding weg te neem indien dit moontlik sou wees. Die Vader het egter nie Jesus se gebed beantwoord nie, want daar was geen ander manier waarop Hy die sondige mensdom sou kon red nie.
Mat 26:42 “Weer het Hy vir die tweede maal gaan bid en gesê: My Vader, as hierdie beker nie by My kan verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat u wil geskied.”
Nadat ons, ons versoeke aan God gerig het moet ons net soos Jesus die woorde “Laat U wil geskied” byvoeg. Dit demonstreer dat ons glo en besef dat God die beste plan vir ons lewens het en dat ons glo dat Hy in beheer is. Indien Hy jou kind genees dan weet jy dat dit Sy wil is.

Vraag: Ek weet slegte dinge gebeur ook met gelowiges. Ek wil net weet wat om nou te doen en hoe om dit te hanteer, want vir my is dit nou moeilik en ek voel hartseer en bang.

Antwoord: Ja slegte dinge gebeur ook met gelowiges, maar ons weet met sekerheid in wie se hande ons is en wat ‘n blink toekoms vir ons voorlê. Die Here het ons nie maanskyn en rose in hierdie goddelose wêreld belowe nie. Maar Hy het ons met Sy Gees verseël en met al die beloftes in die Bybel gelos wat ons in die dag van verskrikking sal bemoedig.
Joh 16:33 “Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.”

Rom 8:18 “Want ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie.”
Ons moet nie op die tydelike fokus nie, maar op ons toekoms wat vir ons in Jesus voorberei word. Onthou dat ons maar net deur-reisigers in hierdie wêreld is en daarom moet ons op ons Hemelse Vader fokus en nie bang wees nie. Ons kyk na dinge van ‘n aardse oogpunt af. God kyk na dinge vanuit ‘n Goddelike perspektief en reken die ewigheid in by alles wat Hy doen en nie net die tydelike nie.

Dra jouself en jou familie aan die Here op en glo dat Hy in beheer van sake is. Sover dit jou kind aanbetref, kan jy verseker wees dat hy gespot gaan word. As dit nie vir die vlekkies is wat op sy liggaam verskyn het nie, sal dit iets anders wees. Kinders spot mekaar en dit is maar net weer bewys dat ons in ‘n sondige gevalle wêreld bly. Mens weet nooit , miskien sal hy selfs eendag gespot word omdat hy ‘n gelowige is. Dink net watse eer dit sal wees! En onthou die Here is saam met hom en sal hom deur al hierdie dinge help. As jy, wat as mens so besorgd oor jou kind voel, dink maar net hoe die Here oor jou kind voel. Fokus jy op wat jy wel vir jou kind kan doen nl om hom in die weë van die Here groot te maak, en los die res in God se hande. Steun op die Here en hou jou oë op Hom gefokus nie op jou probleme nie. Jou probleme , maak nie saak hoe groot hulle mag voorkom nie, is geen probleem vir die Here nie. Ek bid vir julle en los jou met hierdie teksgedeelte uit Ps 23 uit.
Psa 23:4 “Al gaan ek ook in ‘n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.”

Jammer oor die lang antwoord, maar ek weet hoe jy voel en hoop en bid dat dit jou sal bemoedig en beter insig gee oor hoekom dinge in hierdie wêreld soms so skeef loop.

Sterkte aan julle almal en seën groete

Vic

Deel met ander asb.