Die Wit Troon Oordeel

Die Wit Troon Oordeel

In Op 20:11-15 lees ons van die visioen wat Johannes (Nie Johannes die Doper nie) by God ontvang het en word daarin die laaste oordeel beskryf, wat ook as die Wit Troon Oordeel bekend staan. Hierdie oordeel moet nie met die ander oordele van God verwar word nie. Die Wit Troon Oordeel sal eers na afloop van Jesus Christus se duisendjarige vrederyk op aarde plaasvind. Satan, wat omtrent duisend jaar voor hierdie gebeure, net na afloop van die Groot Verdrukking vir duisend jaar gebind was, sal vir ‘n kort tydperk vrygelaat word en sal die wêreld dan vir die laaste keer verlei en oorreed om saam met hom teen Jesus se heerskappy op aarde te rebelleer. Na afloop van hierdie rebellie sal God alle ongelowige mense van alle tye saam met Satan veroordeel en in die poel van vuur werp.
Op 20:11 “En ek het ‘n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie.”
Opmerking: Hierdie troon is nie soos ander trone wat in die Bybel beskryf word nie en moet dus ook nie met ander beskrywings van ander trone wat in die Bybel beskryf word verwar word nie. Die groot Wit Troon verskyn in die hemelruim en kan dus nie die ander trone, wat of in die Hemel of op aarde geleë is, wees nie. Die persoon op die troon, is nie die Vader nie, maar Jesus Christus self aan wie God die Vader alle oordeel oorgegee het.
Joh 5:22 “Want die Vader oordeel ook niemand nie, maar het die hele oordeel aan die Seun gegee,
5:23 sodat almal die Seun kan eer net soos hulle die Vader eer. Wie die Seun nie eer nie, eer nie die Vader wat Hom gestuur het nie.”

Op 20:12 “En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ‘n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke.”
Opmerking: Mense van alle vlakke van die samelewing wat nie wedergebore geraak het nie, sal volgens hulle werke, wat in die boeke aangeteken is, geoordeel word. Die dood is die groot gelykmaker! Later sal ek meer oor hierdie mense en hulle werke uitbrei.

Op 20:13 “En die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke.
20:14 En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood.
20:15 En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.”
Opmerking: Dit kan baie duidelik uit die teks afgelei word, dat hierdie die finale oordeel is en dat die ware gelowiges alreeds beoordeel is, omdat die mense wat hier verskyn op hulle werke beoordeel word soos wat dit in die boeke opgeteken staan. Ware gelowiges word nie deur hulle werke gered nie, maar op grond van hulle geloof in Jesus Christus. Ek sal later meer oor die eerste opstanding en die beoordeling van die gelowiges uitbrei. (Dan 2:12; Johannes 5:29; Hnd 24:15; Op 20:5)

Wie is die mense wat by die Wit Troon Oordeel veroordeel word?

Al die mense wat by Wit Troon Oordeel verskyn sal in die poel van vuur gewerp word, omrede hulle op hulle werke geoordeel sal word. Hulle is dus ongelowiges wat nie in Jesus en Sy kruisdood vir hulle sondes geglo het nie. Die Wit Troon Oordeel moet nie met die Bema Oordeel vir gelowiges verwar word nie. Die Bema Oordeel staan ook as die Regter Stoel Oordeel van Christus bekend en Paulus het hierdie oordeel aan die gelowiges in Korinthe voorgehou.
2Ko 5:10 “Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad.”
Die Regter Stoel Oordeel van Christus vind net na die Wegraping plaas, wat meer as duisend jaar voor die Wit Troon Oordeel al afgehandel sal wees. Dit moet ook duidelik verstaan word, dat die Regter Stoel Oordeel van Christus net vir gelowiges sal wees en is daar geen sprake dat iemand hel toe kan gaan nie. By hierdie geleentheid ontvang die gelowiges loon vir die werke wat hulle na wedergeboorte gedoen het en is die kwessie van hulle sondes met Jesus se kruisiging vir ewig afgehandel. Die leser word aangeraai om die artikel “Hemelse krone lone en goeie werke” vir meer inligting te lees.

Die gelowiges van alle tye sal deel vorm van die eerste opstanding. Die eerste opstanding vind ook dan in fases plaas, net soos wat ons verlossing in fases plaasvind. (lees asb die artikel “drie fases van Verlossing”) Wanneer die Bybel bestudeer word, moet ons seker maak dat die verskillende fases van mekaar onderskei word en moet die eerste opstanding ook nie met die opstanding van die goddelose verwar word nie. Die eerste opstanding begin met Jesus Christus se opstanding uit die dode uit; (1 Kor 15:23) dit sluit die gelowiges in, wat uit die dood sal opstaan wanneer die Here die Kerk wegraap Hemel toe. Hierdie gebeurtenis vind voor die aanvang van die sewe jaar verdrukking plaas; dit sluit ook die twee getuies van God in, wat hulle getuienis tydens die verdrukking lewer in en wat nadat hulle gedood is vir drie dae in die strate sal bly lê alvorens hulle opgerig word en opgeraap word na die Hemel toe; (Op 11:11) dit sluit ook die gelowiges, wat tydens die verdrukking tot geloof kom en met hulle lewens daarvoor boet, in. (Dan 12:2a; Op 20:4-5)
Opn 20:4 “En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank.
20:5 En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie. Dit is die eerste opstanding.”
Op 20:5 stel dit baie duidelik dat die ander dode (die ongelowiges van alle tye) nie tydens, hierdie vooraf genoemde fases van die eerste opstanding, opstaan nie. Hulle word eers na afloop van die duisendjarige vrederyk van Jesus opgerig en veroordeel.

Die feit dat die see die dooies wat daarin is opgee, demonstreer maar net dat alhoewel hierdie mense totaal en al ontbind en in die see opgeneem is, sal God in Sy Almag hierdie mense weer liggaamlik vorm en aan hulle fisiese liggame gee, wat geskik sal wees vir die ewige oordeel. Dit geld ook vir mense wat op land gesterwe het. Volgens Op 20:13-14 sal die doderyk ook diegene wat in ongeloof gesterwe het, se siele opgee en sal hulle siele met hulle liggame verenig word, alvorens hulle veroordeel sal word. Geen sondaar sal dus die Wit Troon Oordeel kan vryspring of ontsnap nie. Met bestudering van die Bybel moet ons nie die doderyk met die poel van vuur verwar nie. Hierdie plekke is nie een en dieselfde nie. (Luk 16:22-28) Dus is die doderyk ‘n plek van bewaring waar alle ongeredde mense aangehou word, tussen die tyd van hulle dood en hulle opstanding, wanneer hulle met opgewekte onsterflike liggame oorklee sal word wat vir die ewige oordeel geskik sal wees.

Die enigste ander ongelowige mense wat nie by die Wit Troon oordeel veroordeel sal word nie is die ongelowiges wat alreeds by die Oordeel van die Nasies (Mat 25:31-46) geoordeel is. Mat 25:41 stel dit baie duidelik dat hierdie mense met hulle veroordeling direk na die poel van vuur gestuur word.
Mat 25:41 “Dan sal Hy ook vir dié aan sy linkerhand sê: Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele.”
Om meer inligting omtrent die Oordeel van die Nasies te bekom word die leser aangeraai om die artikel “Bokke en skape Oordeel” (Oordeel van die Nasies) te bestudeer. Ook die Antichris, die vals profeet en die ongelowige mense wat die Groot verdrukking oorleef het, sal in ook direk in die poel van vuur gegooi word en sal dus nie weer voor die Wit Troon Oordeel verskyn nie. Let net daarop dat God nie die poel van vuur vir die mens geskep het nie. Indien die mens nie ongehoorsaam aan God was nie, of indien hulle Sy geskenk van die ewige lewe in geloof aangeneem het, sou hulle nooit in hierdie verskriklike plek beland het nie. Hulle gaan saam met die Duiwel, omdat hulle gekies het om God se genade te verwerp en God gee dus net aan hulle wat hulle graag wou hê. n Plek weg van God se teenwoordigheid af.

Wanneer sal die Wit Troon Oordeel plaasvind?

Johannes het geprofeteer dat die Wit Troon Oordeel na afloop van Jesus Christus se duisendjarige vrederyk met die aanvang van die dispensasie van die ewigheid sal plaasvind. Die Here sal die mense, wat gedurende die duisendjarige vrederyk van Jesus op aarde leef op die proef stel, deur die Duiwel aan die einde van die duisend jaar vir ‘n kort tydperk vry te laat.
Opn 20:1 “En ek het ‘n engel uit die hemel sien neerdaal, met die sleutel van die afgrond en ‘n groot ketting in sy hand.
Opn 20:2 En hy het die draak gegryp die ou slang wat die duiwel en die Satan is en hy het hom gebind duisend jaar lank,
20:3 en hom in die afgrond gewerp en hom toegesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie. Daarna moet hy dan ‘n kort tydjie ontbind word.”
Dus is dit duidelik dat die duisendjarige vrederyk na afloop van die Groot Verdrukking begin, wanneer Jesus Christus fisies as Koning vanuit die huidige stad Jerusalem oor die wêreld sal regeer. Satan is dan gebind en sal nie die mense tot openlike rebellie kan aanhits nie, tot en met die einde van die duisend jaar. Die mense wat tydens die Verdrukking tot geloof in Jesus kom, sal met hulle sonde natuur die duisendjarige vrederyk binnegaan en hulle kinders sal moet kies om die Evangelie te glo, voordat hulle gered kan word. Net voor die duisend jaar voltooi is, sal Satan vir ‘n kort tydperk vrygelaat word en dan sal hy die mense in ‘n groot openlike rebellie teen Jesus Christus en die stad Jerusalem lei.

Op 20:7 En wanneer die duisend jaar voleindig is, sal die Satan uit sy gevangenis ontbind word;
20:8 en hy sal uitgaan om die nasies te verlei wat in die vier hoeke van die aarde is, die Gog en die Magog, om hulle te versamel vir die oorlog; en hulle getal is soos die sand van die see.
20:9 En hulle het opgekom oor die breedte van die aarde en die laer van die heiliges en die geliefde stad omsingel, en vuur het van God uit die hemel neergedaal en hulle verslind.
20:10 En die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp waar die dier en die valse profeet is; en hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid.”
Met hierdie gebeure sal die Here maar net weer die boosheid van die mens se hart demonstreer, en dien dit as bewys dat ons omstandighede nie ons karakter bepaal nie. Selfs onder hierdie idealistiese omstandighede, waar die Here self teenwoordig is, sal die mens in sy hart nog steeds ‘n rebel wees en sodra die geleentheid homself voordoen, sal hy teen sy Skepper rebelleer. Hoe tragies! Na afloop van hierdie rebellie, sal die Here dan alle bose mense van alle tye wat nog nie in die poel van vuur gewerp is nie oprig, en hulle by die Wit Troon Oordeel veroordeel. Die Skrifte openbaar nie duidelik hoe lank hierdie verhoor sal voortduur nie, maar die vonnis van elke persoon wat hier veroordeel word sal vir ewig voortduur. Met die voltooiing van die Wit Troon Oordeel sal die Here finaal oor sonde en boosheid triomfeer en sal Hy finaal ‘n einde aan die boosheid op aarde gemaak het. Dus is dit God self wat oor die boosheid in die aarde sal triomfeer en nie die mens met al sy humanistiese planne nie. Vir elke probleem wat die Verenigde Nasies probeer oplos skep hulle ‘n reeks ander probleme.

Vervolgens ‘n kort opsomming van gebeure wat vir die wêreld voorlê. Onthou baie meer kan hierby gevoeg word. Hierdie is net ‘n baie kort opsomming.

Die wegraping kan nou enige tyd plaasvind wat deur die Regterstoel Oordeel van Christus gevolg word. (Die is die einde van die dispensasie van genade of kerk dispensasie)
Die Antichris maak sy verskyning en teken ‘n sewe jaar vredesverdrag met die volk Israel. Die teken van die vredesverdrag begin die sewe jaar verdrukking wat in twee dele verdeel is, naamlik die Verdrukking en die Groot Verdrukking. Die Groot Verdrukking word afgesluit met die slag van Armageddon en Jesus Christus se wederkoms aarde toe saam met Sy Kerk. By hierdie geleentheid word die Vals Profeet en die Antichris lewendig in die poel van vuur gegooi en word Satan vir duisend jaar lank gebind en opgesluit, sodat hy nie die nasies kan verlei nie. Voordat Jesus se duisendjarige vrederyk ingehuldig word vind die oordeel van die Nasies plaas. (Die bokke en skape oordeel Mat 25) Dan volg die duisendjarige vrederyk van Christus waar Hy saam met sy getroue dienaars die wêreld met ‘n ystersepter sal regeer. (Alle openlike rebellie sal onmiddellik gestraf word) Net voordat die duisend jaar verstreke is, sal Satan vir ‘n kort tydperk vrygelaat word en die nasies in ‘n finale aanslag teen God se heerskappy op aarde aanvoer. Die Here stuur vuur uit die Hemel en verslaan so Sy vyande. Satan word ook by hierdie geleentheid gevang en in die poel van vuur gegooi, waar die Antichris en die Valse Profeet al duisend jaar is. Na hierdie gebeure sal al die ongelowiges van alle tye, wat nie alreeds in die poel van vuur gewerp is nie, opgewek word en sal hulle voor die Groot Wit Troon Oordeel verskyn, vanwaar Jesus Christus hulle vir ewig in die poel van vuur sal laat gooi. Met hierdie gebeure sal die Here ‘n einde aan alle boosheid op aarde gemaak het. Na hierdie gebeure gee die Seun die Koninkryk aan die Vader oor. Dan breek die ewigheid aan met die nuwe Hemel en ‘n nuwe aarde waarin daar geen sonde is nie.

God se regverdige oordeel

Al die mense wat voor die Groot Wit Troon oordeel verskyn is alreeds bestem vir die ewige poel van vuur. Die rede hiervoor is dood eenvoudig.
Joh 3:18 “Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.”
Diegene wat voor die Groot Wit Troon Oordeel hulle verskyning maak, sal hulle beurt gegun word om voor die God van die heelal hulle saak te stel. Omdat God geregtig is sal hulle verseker weet dat hulle ‘n regverdige verhoor sal ontvang en dat hulle individueel gevonnis sal word vir die dade wat hulle gepleeg het. Die Bybel stel dit duidelik dat elke persoon alleen verantwoordelik vir sy dade gehou sal word. (Psa 28:4; 62:12; Spr 24:29;Jer 17;10; Mat 16:27; Rom 2:6 ens) Alhoewel hulle veroordeling alreeds verseker is, omrede hulle God se genadegawe van die Evangelie geweier het, sal hulle volgens hulle werke geoordeel word en daarvolgens gevonnis word. Dit sluit elke gedagte, daad en woord in. Alle dade van elke individue is in die boeke aangeteken en sal as bewys, teen die beskuldigde, as getuienis gebruik word. Onthou Jesus Christus het gewaarsku, dat selfs elke ydele woord wat die mens uitspreek op daardie dag verduidelik sal moet word.
Mat 12:36 “Maar Ek sê vir julle dat van elke ydele woord wat die mense praat, daarvan moet hulle rekenskap gee in die oordeelsdag.”

Die Bybel is God se woord aan die mens en daarin word dit duidelik gestel dat die mens net een maal lewe en daarna volg die oordeel.
Heb 9:27 “En net soos die mense bestem is om een maal te sterwe en daarna die oordeel,”
Elke mens wat al ooit op hierdie aarde gelewe het, sal geoordeel word, al glo hulle in God of nie. Net omdat ‘n persoon nie in God se bestaan glo nie, beteken geensins dat God skielik wonderbaarlik nie meer bestaan nie. God het Sy bestaan genoegsaam in die skepping en deur Sy woord d.m.v vervulde profesieë bevestig. (Kyk maar na die moderne volk Israel) Hy gaan ook nie met die mens oor Sy bestaan debatteer nie. Hy is God en het nie nodig om Homself aan die mens te bewys nie. In die Bybel maak God sekere stellings oor Homself en verwag Hy van ons, Sy skepsels, om Hom te glo en te gehoorsaam. Indien ons dit nie doen nie, sal ons die gevolge van ons eie keuses moet dra.
Rom 14:11 “Want daar is geskrywe: So waaragtig as Ek leef, sê die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal God bely.
14:12 So sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee.”
Daarom debatteer ek nie veel met ateïste of mense van ander gelowe nie. Ek stel dit net baie duidelik wat die Here in Sy woord oor Homself te sê het en los die saak dan by die persoon. Al wat ek dan verder sal doen is om vir die persoon te bid. As die persoon in sy ongeloof wil aangaan is dit sy eie saak, en is hyself verantwoordelik vir wat hom gaan beval op die oordeelsdag. Wat elke persoon wel met sekerheid kan weet is dat daar wel ‘n oordeelsdag sal wees, en gegewe genoegsame tyd, die geskiedenis altyd die Bybel sal bevestig.

Ter afsluiting: Die vraag ontstaan dan nou, hoekom is daar twee boeke en nie net een nie?
Op 20:15 “En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.”
Die antwoord op hierdie vraag is, dat net die persone wie God se vrye aanbod van die Evangelie in geloof aanvaar het, se name is in die boek van die lewe geskryf is, en as iemand se naam nie in die boek opgeteken staan nie, dien dit as bewys dat daardie persoon nie die Evangelie geglo het nie. Onthou Jesus het self gewaarsku dat op die oordeelsdag, daar mense sal wees, wat beweer het dat hulle allerhande werke in die Sy naam gedoen het, insluitende wonderwerke. Hy gaan egter aan hulle meedeel dat Hy hulle nie ken nie.
Mat 7:21 “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.
7:22 Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie?
7:23 En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!”
Onder hierdie groep mense wat die Here hier opnoem, sal daar mense wees wat beweer dat hulle aan ‘n kerk behoort het, in Sy naam gedoop is, ‘n goeie lewe gelei het, gepreek het, aangeneem en voorgestel is en die sabbatdag onderhou het ens. Jesus sal hulle egter wegwys, omdat Hy hulle nie ken nie. Hulle was dus nooit Sy eie nie! Jesus het dit ook verder duidelik gestel daar min mense is wat gered sal word.
Luk 13:23 “Toe sê iemand vir Hom: Here, is die wat gered word, min? En Hy antwoord hulle:
13:24 Stry hard om in te gaan deur die nou poort, want baie, sê Ek vir julle, sal probeer om in te gaan en sal nie in staat wees nie.”
Slegs God weet werklik wat in enige mens se hart aangaan. Net diegene wat God se aanbod van die Evangelie, op Sy terme, aanvaar sal gered word. Lees asb die artikel “Die Breë en die smal weg” vir meer inligting.

Dus alle mense wat voor die Groot Wit Troon oordeel verskyn, gaan mense wees wat die Evangelie verwerp het en dit gaan mense insluit wat ‘n ander evangelie as die een wat die Bybel verkondig geglo het. Dit gaan ook mense insluit wat enige werke, behalwe geloof in wat Christus aan die kruis vir die sondaar gedoen het, by die Evangelie byvoeg as vereiste om gered te word. Die leser word aangeraai om baie seker te maak dat hy die ware Evangelie verstaan en glo. Indien ‘n persoon die Evangelie glo kan hy met absolute sekerheid weet dat hy nie voor die Wit Troon Oordeel sal verskyn nie. Onthou die Evangelie is die blye boodskap wat God vir die mens gedoen het en nie wat die mens vir God kan doen om gered te word nie!
Rom 4:4 “Maar aan hom wat werk, word die loon nie na guns toegereken nie, maar na verdienste;
4:5 aan hom egter wat nie werk nie, maar glo in Hom wat die goddelose regverdig, word sy geloof tot geregtigheid gereken.
Hnd 16:30 En hy het hulle na buite gebring en gesê: Menere, wat moet ek doen om gered te word?
16:31 Toe sê hulle: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin. ”
En onthou Jesus se woorde!
Joh 6:28 “Toe vra hulle Hom: Wat moet ons doen om die werke van God te volbring?
6:29 Jesus antwoord en sê vir hulle: Dít is die werk van God, dat julle in Hom glo wat Hy gestuur het.”
Om enige ander vereiste by die Here se opdrag te voeg is om Sy opdrag te verwerp! Dan sal Jesus die persoon op sy werke moet oordeel. Omdat Jesus regverdig is, sal die persoon na die poel van vuur gestuur moet word. Sonde moet gestraf word! Jesus het vir ons sondes aan die kruis betaal, as ons dit aanvaar is ons gered. As ‘n persoon Sy werk aan die kruis verwerp, dan is daardie persoon nog in sy sonde en sal hy die gevolge daarvan self moet dra en is die Groot Wit Troon Oordeel sy voorland. Het jy die Evangelie in kinderlike geloof aanvaar en geglo? Indien wel deel dit met ander! Dit maak nie saak op watse manier nie.
Mar 16:15 “En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom.”
Want dit is werklik goeie nuus!

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.