dokumentêre programme

Dokumentêre programme en die komende oorlog

Vraag: Ek het jou artikel “Raad aan gelowiges in hierdie tydperk van verval. Deel 1” gelees en dit baie leersaam gevind. Ek stem heelhartig met jou saam, en wil net ietsie rakende jou stelling oor dokumentêre programme op televisie byvoeg. Ek is bewus van die feit dat daar byvoorbeeld professore in geskiedenis is wat met mekaar oor dieselfde stel historiese en argeologiese data sal verskil. Mens hoef net die verskillende opinies in ‘n goeie biblioteek met mekaar te vergelyk om my stelling te regverdig. Om hierdie rede sou ek byvoeg dat mens nie alles wat in dokumentêre verkondig word as onweerlegbare bewyse moet beskou nie. Ongelukkig is die enigste bron van inligting vir meeste van ons gewoonlik net die program waarna ons op televisie kyk. Die gevolgtrekking wat daar bereik word kan ‘n groot inpak op ons lewens beskouing, asook optrede vir die res van ons lewe hê. Volgens my is is iets uiters gevaarlik indien dit vir verkeerde redes aangewend word. Is daar enige raad wat mens in gesprekke oor hierdie onderwerp kan ophaal wat die gemoedere nie te veel sal laat opvlam nie. Ek vra dit omdat daar lede in my familie is wat alle dokumentêre programme op televisie as heilswaarheid bestempel, ten spyte van die feit dat mens bogenoemde feite aan hulle voorhou. Weereens baie dankie.

Antwoord: Ek stem saam met jou dat die media in verkeerde hande gevaarlik kan wees, veral waar dit by ‘n persoon se geloof en geestelike lewe kom. Hoekom dink jy dat totalitêre regimes seker maak dat hulle alle media uitlate beheer. Hulle weet dat die media ‘n baie sterk invloed op ‘n persoon se lewensbeskouing kan uitoefen. Wanneer mens oor sulke onderwerpe praat is dit belangrik om vas te stel wat die grondslag van die persoon se lewensfilosofie is. Ons almal beskik oor ‘n lewensfilosofie, al is ons nie werklik bewus daarvan nie. Dit is egter ook so, dat ‘n persoon se siening oor die geskiedenis, ‘n baie groot impak op sy lewensfilosofie sal uitoefen. Daarom vind ons dat diktators, en selfs opswepers, gewoonlik poog om die geskiedenis te herskryf, sodat dit hulle doelstellings byvoordeel. Hierdie mense verstaan baie goed, dat hoe ‘n persoon die geskiedenis verstaan, ‘n baie groot impak op die persoon se lewensfilosofie gaan uitoefen, wat op sy beurt weer die persoon (of groep persone) se toekomstige optredes sal beïnvloed. Dit geld vir die maak van dokumenteer programme ook. Onthou, idees het gevolge.

Waar ’n persoon se filosofie van die geskiedenis op die Bybel gebaseer is, (mits die Bybel dispensasioneel korrek vertolk is) en hy die Bybel eerbiedig, dan sal daardie filosofie van die geskiedenis ook sy lewensfilosofie en daaropvolgende optredes beïnvloed. Ons almal interpreteer inligting, asook die wêreld om ons, deur die raamwerk van ons eie lewensfilosofie. Wanneer ‘n persoon byvoorbeeld ‘n sekulêre humanistiese raamwerk handhaaf, sal hy alles wat hy waarneem (en beleef) deur die raamwerk van sekulêre humanisme vertolk. So ook sal ‘n persoon wat ‘n dispensasionele raamwerk van die Skrifte handhaaf, se lewensfilosofie, asook sy daaropvolgende optrede, deur die Skrifte beïnvloed word. Dit is om hierdie rede dat ons seker moet maak dat die raamwerk waardeur ons die wêreld beskou, die korrekte raamwerk is. Ek glo dat die Bybel God se woord aan die mens is, en dat Hy in die Skrifte die volledige verloop van die menslike geskiedenis d.m.v. sewe waarneembare dispensasies bekendgemaak het. (die leser word ten sterkste aangeraai om die illustrasie “Die Sewe Dispensasies” te bestudeer.) Omrede God in Sy woord aan ons die geskiedenis van die mensdom bekendgemaak het, weet ek dat my filosofie oor die verlede, wat die skepping en die daaropvolgende sondeval insluit, die korrekte raamwerk is waardeur ek die gebeure in die wêreld kan vertolk. (God se woord is immers geïnspireerd en is foutloos in die oorspronklike tale) God het dan ook deur die Bybel aan my Sy verlossingsplan vir die mens, asook die hele skepping, vooraf bekendgemaak. Dit sluit gebeure wat nog in die toekoms moet plaasvind in, en wanneer die sewende en laaste dispensasie voltooi is, sal God die skepping van alle boosheid bevry het. Ek vertolk dus die wêreld deur hierdie skrifgebaseerde dispensasionele raamwerk wat op sy beurt my lewensfilosofie en daaropvolgende optredes sal bepaal.

Omrede ‘n ongelowige persoon nie die Evangelie geglo het nie, het daardie persoon nie die Heilige Gees in hom, om hom in alle waarheid te lei nie. Hy vertolk dus die wêreld deur ‘n ander raamwerk wat tot sy lewensfilosofie aanleiding gee, wat valse godsdiensstelsels en sekulêre humanisme insluit. Alle mense word dus elke dag met ‘n gegewe stel data gekonfronteer, wat deur hulle verskillende raamwerke vertolk sal word. Almal kan dus met dieselfde stel data gekonfronteer word, maar die gevolgtrekkings wat hulle sal bereik gaan heel waarskynlik verskillend wees. Hierdie stelling geld ook vir die verskillende metodes wat ‘n persoon gebruik om die Bybel te vertolk. Daar is egter slegs een korrekte metode om die Bybel te vertolk, en ek glo dit is die konsekwente, letterlike, grammatiese en historiese interpretasie van die Bybel.

Kom ons gebruik die Babiloniese ballingskap van Juda in 587vC as voorbeeld. Ons mag dalk albei dieselfde historiese dokumentasie, asook argeologiese bewysstukke wat die sosiale, ekonomiese, politieke, asook genoegsame bewysstukke van die militêre nederlaag van die Jode tot ons beskikking hê. Ons data mag dalk honderd persent dieselfde wees, maar ons gevolgtrekkings gaan nie noodwendig dieselfde wees nie. Die sekulêre ondersoeker sal byvoorbeeld op grond van die data tot sy beskikking, tot die slotsom kom dat die oorsaak van die Israeliete se militêre nederlaag die gevolg van sosiale, politieke en ekonomiese agteruitgang was, en wat weer tot ‘n verswakte weermag, en dus tot die militêre nederlaag en daaropvolgende ballingskap aanleiding gegee het. (Wat op logiese wyse heeltemal sin maak, veral indien mens in ag neem, dat die sekulêre ondersoeker nie glo dat daar ‘n God is wat apart van Sy skepping bestaan nie. So ‘n persoon se gevolgtrekking sal dus nie die bestaan van ‘n God, wat buite die historiese proses bestaan, in ag neem nie, en gevolglik die feit dat God ter enige tyd in die verloop van historiese proses kan ingryp, heeltemal miskyk.) Volgens hierdie interpretasie van die data is die sosiale, ekonomiese politieke en militêre nederlaag die oorsaak van Israel se ballingskap. Volgens sy siening is daar ‘n reeks van verskeie oorsake wat tot Israel se ballingskap aanleiding gegee het.

Maar omrede ek dieselfde stel data vanuit ‘n skriftuurlike oogpunt benader, het ek inligting wat die sekulêre ondersoeker nie eens in ag sou neem nie. Die Bybel verklaar egter dat die oorsaak van Juda se ballingskap, niks anders as hulle afgodediens, en goddeloosheid is nie, en die daaropvolgende ballingskap is niks anders as God se oordeel oor hulle sonde nie.
Jer.4:5 Verkondig in Juda en laat dit hoor in Jerusalem en sê: Blaas die basuin in die land! Roep hardop en sê: Kom bymekaar, en laat ons in die versterkte stede ingaan! 6 Steek óp die banier na Sion (Jerusalem) toe! Vlug, bly nie staan nie! Want Ek bring ‘n onheil uit die Noorde en ‘n groot verwoesting. 7 ‘n Leeu (Babilon se landswapen was ‘n leeu)het opgekom uit sy bos en ‘n verderwer van nasies het weggetrek, uitgegaan uit sy plek om jou land ‘n woesteny te maak; jou stede sal verwoes word, sonder inwoners. 8 Daarom, omgord julle met rouklere, klaag en huil, want die toorngloed van die HERE teen ons het nie bedaar nie. 9 En op dié dag, spreek die HERE, sal die moed van die koning en die moed van die vorste vergaan, en die priesters sal verskrik wees en die profete verstom staan.”
Daar is dus slegs een oorsaak vir Juda se ballingskap, en dit is God se oordeel oor haar vir haar sondes, en die sosiale, ekonomiese politieke en militêre debakel is maar net effekte van God se oordeel oor Juda. Ons het dus dieselfde stel data, maar het tot ‘n heel ander slotsom gekom oor hoekom Juda in ballingskap gegaan het.

Indien mens alle gebeure in die wêreld vanuit hierdie skrif gebaseerde filosofie of raamwerk benader, kan mens nogal tot baie insiggewende gevolgtrekkings kom. Dit sluit die twee wêreldoorloë, ensovoorts in. Veral indien mens in gedagte hou dat die Skrifte dit duidelik stel dat die huidige wêreld in die mag van die bose lê.
1Joh.5:19 “Ons weet dat ons uit God is en die hele wêreld in die mag van die Bose lê.”
Indien ‘n persoon hierdie wêreld lief het, dan staan daardie persoon in ‘n posisie van vyandskap teenoor God, wat weereens gevolge sal meebring.
Jak.4:4 “Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan ‘n vriend van die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God.”
1John 2:15 Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. 16 Want alles wat in die wêreld is — die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe — is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld. 17 En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.”

Die skrywers in bogenoemde teksgedeeltes verwys nie na die wêreld as planeet nie, maar in hierdie konteks word die term “wêreld” op ‘n eties slegste sin gebruik, waardeur Satan, as die heerser van hierdie wêreld, die ongelowige mensdom op grond van sy kosmiese grondbeginsels van selfsug, ambisie, plesier, gierigheid, manipulering en geweld opstel, inrig en beheer. Hierdie wêreld sisteem kan selfs uiterlik gesofistikeerd, godsdienstig, elegant, tegnologies ontwikkeld en wetenskaplik voorkom, maar van binne word dit deur Satan beheer, wat tot bruisende nasionale en kommersiële, ideologiese, politieke, en geopolitieke, asook godsdienstige ambisies en wedywering aanleiding gee. Wanneer sodanige doelstellings nie deur manipulasie, oorhaling of dreigemente bereik kan word nie, dan word daar na magsvergryp, geweld en bloedvergieting oorgegaan.

Die wêreld streef tevergeefs om vrede op aarde te bewerkstellig. Dieselfde Skrifte wat Juda se ballingskap voorspel het, stel dit ook duidelik dat die wêreld nie werklik vrede sal beleef voordat Christus self met Sy wederkoms, na afloop van die Groot verdrukking, persoonlik Sy koninkryk op aarde vestig en in Sy verheerlikte liggaam vanuit Jerusalem regeer nie. (Die Millennium /Duisendjarige Vrederyk van Christus.) Die Bybel voorspel ook dat die ongelowige mensdom sal poog om sonder die Koning van Vrede, naamlik die Here Jesus Christus, vrede op die aarde te bewerkstellig. Net wanneer hulle dink dat hulle in hulle doelwit geslaag het, sal dit tot die grootste bloedvergieting van alle tye onder die bewind van die Antichris aanleiding gee.
1Thess.5:2 “want julle weet self baie goed dat die dag van die Here kom net soos ‘n dief in die nag. (die Dag van die Here begin met die wegraping en eindig met Christus se duisendjarige vrederyk) 3 Want wanneer hulle (ongelowiges wat agterbly) sê: Vrede en veiligheid — dan oorval ‘n skielike verderf (die Verdrukking) hulle soos die barensnood ‘n swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie.”
Weereens sal God aan die mensdom as geheel die leier gee wat hulle verdien, naamlik die Antichris! Lees gerus Ps. 2. Onthou volgens die skrifte het die historiese proses ‘n spesifieke beginpunt in tyd, en daar gaan ook ‘n spesifieke eindpunt in tyd wees, wanneer hierdie aarde deur vuur vernietig gaan word en daar ‘n nuwe hemel en nuwe aarde geskape sal word.
Openb.21:1 “En ek het ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie.”

Omrede die huidige wêreld sisteem in die mag van Satan lê, beskik hy die reg om die koninkryke van die aarde aan enige persoon van sy keuse te gee. Hy het met Christus se eerste koms selfs gepoog om dit aan die Here Jesus Christus te gee, sodat hy daardeur sy doel kon bereik om Jesus so ver te kry om buite die wil van Sy Vader vir Hom op te tree, naamlik:
Luk.4:5 “Toe bring die duiwel Hom op ‘n hoë berg en wys Hom al die koninkryke van die wêreld in ‘n oomblik se tyd. 6 En die duiwel sê vir Hom: Ek sal U al hierdie mag gee en hulle heerlikheid, want dit is aan my oorgegee, en ek gee dit aan wie ek wil. 7 As U my dan aanbid, sal alles aan U behoort.”
Die duiwel het nog steeds die mag om die koninkryke van die wêreld te gee aan wie hy wil, en hy gaan dit ook doen. Die Antichris gaan aanvaar wat die Here Jesus Christus geweier het, en sodoende gaan hy as diktator die wêreld in die grootste ramp van alle tye, naamlik die Groot Verdrukking, dompel en wat tot sy ondergang aanleiding sal gee. Slegs met Christus se wederkoms sal Christus die koninkryke van die wêreld vernietig en self Sy koninkryk op aarde oprig. Tydens hierdie gebeure sal die Antichris en die vals profeet lewens in die poel van vuur gewerp word.
Openb.19:19 “En ek het die dier en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom (die Here Jesus Christus met Sy wederkoms) wat op die perd sit, en teen sy leër. 20 En die dier (die Antichris) is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand. 21 En die ander is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom (die Here Jesus Christus) wat op die perd sit; en al die voëls is versadig van hulle vlees.”

Alhoewel alle ongelowiges, die Antichris, die vals Profeet, asook die Duiwel (en sy engele) hulle eie vrye wil gebruik om teen God te rebelleer, vorm hulle keuses egter deel van God se ewige plan, en as sulks is hulle egter maar net instrumente in God se hande om die goddelose mensdom vir hulle sondes te straf. In hierdie opsig word hulle eie rebelse optrede in hulle eie ondergang en straf omgesit. Hulle bewerk dus hulle eie ondergang.

Ter Afsluiting: Die Groot Verdrukking wat die aarde gaan tref is die direkte gevolg van die mens se rebellie teen God. Programme soos National Geographic neem nie aan dat daar ‘n God buite die Skepping, en dus die historiese proses in tyd is nie, en wat ter enige tyd in die historiese proses kan ingryp nie. (hierdie feit geld vir die hele skepping en sluit alle natuurwette in) Die meeste gelowiges neem ook nie hierdie feit in ag wanneer hulle na sulke programme kyk nie. Hulle besef ook nie dat hierdie wêreld in die mag van die bose lê en in die agtergrond deur Satan beïnvloed word nie. Daar heers tans ‘n geestelike stryd waarvan meeste mense salig onbewus is, en wat tot ‘n groot mate in idees uitdrukking vind, waarvan valse leerstellings en godsdienste, ideologiese standpunte ensovoorts deel van vorm. Alle valse Godsdiensstelsels, insluitende ‘n baie groot gedeelte van die belydende Christendom, en daarmee gepaardgaande valse evangelies, kan met regte as die grootste wapen van massa vernietiging van alle tye omskryf word. Alhoewel kernwapens dalk biljoene mense se liggame kan dood, kan dit nie hulle siele en geeste vernietig nie. Daarenteen is die valse godsdiensstelsels ‘n wapen van massavernietiging wat deur Satan aangewend word en waardeur biljoene mense vir ewige in die poel van vuur gaan beland. Dit is wat valse godsdiensstelsels so vernietigend maak. Hierdie mense verkeer verkeerdelik onder die indruk dat hulle gered is, maar in werklikheid is hulle nooit wedergebore nie omrede hulle ‘n ander evangelie geglo het. Dit is ook so dat ‘n persoon se siening van die geskiedenis tot ‘n groot mate sy lewensfilosofie gaan bepaal. Daarbenewens het ‘n persoon se lewensfilosofie ‘n baie groot impak t.o.v. sy huidige en toekomstige optredes. Idees het konsekwensies! Ons bevind onsself in ‘n stryd van idees! Meeste, indien nie alle, menslike optredes begin by idees wat dan in fisiese optredes uitdrukking vind. (goed of sleg.)

Ongelowiges, maak nie saak hoe intelligente hulle ook al mag wees nie, is verdorwe in die verstand en dit is een van die redes waarom die wêreld op ‘n ramp afstuur.
Ef.4:17 “Dit sê en betuig ek dan in die Here, dat julle nie meer moet wandel soos die ander heidene ook wandel in die verdwaasdheid van hulle gemoed nie —18 mense wat verduisterd is in die verstand en vervreemd van die lewe van God deur die onkunde wat in hulle is vanweë die verharding van hulle hart; 19 wat ongevoelig geword het en hulle oorgegee het aan die ongebondenheid om in hebsug allerhande onreinheid te bedrywe. 20 Maar julle het Christus nie so leer ken nie, 21 as julle ten minste van Hom gehoor het en in Hom onderrig is soos die waarheid is in Jesus: 22 dat julle, wat die vorige lewenswandel betref die oue mens moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan, 23 en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed 24 en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid.”
Daarom word ons gemaan om ons denke volgens die Skrifte te hernu.

Deesdae hoor mens gereeld, dat dit die omstandighede is waarin ‘n persoon homself bevind, wat sy optrede bepaal. Hierdie siening is egter tot ‘n groot mate verkeerd, want dit neem nie die mensdom se sonde natuur in ag nie. Enige sisteem is afhangend van die menslike (en dus morele) kapitaal wat in daardie sisteem geplaas word. Indien die mense in daardie sisteem nie God se opdragte soos in die Skrifte gevind (wat die korrekte dispensasionele konteks insluit) eerbiedig nie, dan stuur daardie sisteem op ‘n ramp af. Wat ons nou in die wêreld sien gebeur, is niks in vergelyking met wat na afloop van die wegraping en aanbreek van die Verdrukking, die geval sal wees nie. Die rede hiervoor is eenvoudig. Met enkele uitsonderings het die mensdom oor die algemeen God verwerp. (Dit sluit die oorgroot meerderheid van die belydende Christendom in) Dit is belangrik om hierdie waarhede in gedagte te hou wanneer daar na nuusberigte en dokumentêre programme gekyk word. Daarbenewens is die media oor die algemeen in die hande van mense wat God heeltemal verwerp, en hierdie siening van hulle beïnvloed ook hulle lewensfilosofie en meegaande optredes en bevindinge. Dit is hierdie feite wat ek aan ‘n persoon sal verduidelik. Of hy dit gaan glo of nie bly egter sy keuse. Maar hy gaan egter vir sy keuse by God verantwoordelikheid moet doen.

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.