Bybelse Geloof

Bybelse Geloof

Vraag:
Ek het op Kenneth Copeland se webtuiste gelees dat God Homself in ‘n posisie geplaas het waar ons geloof Hom kan beheer, nie net Homself nie maar ook alle hulpmiddele wat God in die Hemel besit. Hoekom gebeur dit dan nie vir my nie? Het ek dan nie ware geloof nie? Aangeheg sal jy die skakel na die webbladsy kry. Help asb!

Antwoord:
Ek sal nie bekommerd wees as ek jy is nie. Ek is bevrees dat Kenneth nie aan jou die waarheid volgens die Skrifte vertel nie. Ek het sy artikel gelees en sal kortliks daarop antwoord. Ek gaan net die gedeelte bespreek wat jy genoem het omrede dit ‘n baie lang antwoord sal wees indien ek die hele dokument moet ontleed en  met die Skrifte vergelyk. Ek gaan dus net die gedeelte onder die opskrif “When Faith Talks” bespreek.

Ek gaan dieselfde teksgedeelte gedeelte as Leroy Thompson aanhaal sodat ons duidelikheid kan kry.
Lukas 18:40 “En Jesus het gaan staan en bevel gegee dat hy na Hom gebring moes word; en toe hy naby kom, vra Hy hom 18:41 en sê: Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen? En hy antwoord: Here, dat ek kan sien. 18:42 En Jesus sê vir hom: Sien! Jou geloof het jou gered. 18:43 En onmiddellik het hy gesien en Hom gevolg, terwyl hy God verheerlik. En toe die hele volk dit sien, het hulle aan God die lof gegee.”
Verder maak Leroy Thompson die stelling, en ek vertaal en beklemtoon wat hy gesê het vir duidelikheid onthalwe. Dan bespreek ons elke gedeelte.

Leroy Thompson sê: “Jesus het nie verander nie. Hy is nog steeds dieselfde (Hebreërs 13:08). Enige tyd wat Hy die stem van geloof hoor, stop Hy. As iemand woorde van geloof spreek, is dit soos om Hom op aandag te roep. Hy moet tot stilstand kom, want Hy is onder Goddelike bevele. Die stem van die geloof plaas ‘n eis oor Sy krag.”
Opmerking: Waar staan dit in die Bybel?
Jesaja 40:14 “Met wie het Hy raad gehou, dat dié Hom verstand sou gee en Hom sou leer aangaande die pad van die reg, en Hom kennis sou leer en Hom bekend maak die weg van volledige insig?
46:10 wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen;
Daniël 4:35 En al die aardbewoners word as niks geag nie, en na sy wil handel Hy met die leër van die hemel en die bewoners van die aarde, en daar is niemand wat sy hand kan afslaan en vir Hom kan sê: Wat doen U nie?
Die Jesus van Leroy Thompson blyk nie die God van die Bybel te wees nie. Geen mens sal vir God beveel wat om te doen nie, dit maak nie saak hoe sterk daardie persoon se geloof mag wees nie. Geloof is nie ‘n krag wat God onder die mens se beheer plaas nie. Ware geloof het God as objek en glo dat as iets Sy wil is Hy dit sal doen en dit uit genade en nie uit dwang nie.

Leroy Thompson sê verder: “So wanneer ons n eis op God se krag stel , en wanneer Jesus tot stilstand kom … Kyk wat sê vers 40 dan, “Jesus het gaan staan en ‘n bevel gegee …”
Wanneer ons ‘n bevel gee, maak God ‘n bevel. Hy maak ‘n bevel namens ons. Hy stel bonatuurlike krag vry, om situasies te verander, en veroorsaak dat hulle in lyn kom met wat ons glo. Sy krag is ondergeskik aan ons geloof.”
Opmerking: Weereens waar staan dit in die Bybel?
2 Korintiers 12:7 “En dat ek my oor die voortreflikheid van die openbaringe nie sou verhef nie, is my ‘n doring in die vlees gegee, ‘n engel van die Satan, om my met die vuis te slaan, dat ek my nie sou verhef nie. 12:8 Hieroor het ek die Here drie maal gebid, dat hy van my sou wyk. 12:9 En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon.
Dink jy nie Paulus het die bostaande gedeeltes in geloof gebid nie? En hoekom was God se Krag nie ondergeskik aan Paulus se geloof nie? Het Paulus dan nie geloof gehad nie? Geloof is nie ‘n krag wat enige mens kan manipuleer soos wat Copeland en sy vriende beweer nie. Ware geloof is om in ‘n Persoon te glo en Hom te vertrou, nie manipuleer nie. God sê vir ons wat om te doen en ons gehoorsaam dit of dra die gevolge. Jesus Christus is die fokuspunt van ons geloof, en ons gehoorsaam Hom, omrede ons glo dat Hy beter as ons weet en dat Hy ons beste belange op Sy hart dra. Al gaan dit moeilik en Hy gee nie toe aan ons versoeke nie, moet ons weet daar is ‘n rede vir Sy besluit en dat Hy ons in Sy hande het. Dink net wat sou met jou gebeur het as God aan al jou versoeke van die verlede moes voldoen het. Ek vir een sal al klaar in die Hel gewees het, omrede ek myself al lankal sou vernietig het. Hierdie is maar net weer ‘n bewys, dat die mens God wil aftrek tot op sy vlak, en dan wil hy oor God heers deur bevele uit te spreek wat hy verwag God moet gehoorsaam. Wat Copeland se webtuiste hier verkondig is selfverheerliking en grens aan Godslastering! Dit is selfverheerliking, juis die sonde wat tot Satan se val gelei het!

Johannes 21:20 “En Petrus het hom omgedraai en die dissipel sien volg vir wie Jesus liefgehad het, die een wat by die maaltyd op sy bors geval en gesê het: Here, wie is u verraaier? 21:21 Toe Petrus hom sien, vra hy vir Jesus: Here, maar wat van hom? 21:22 Jesus antwoord hom: As Ek wil hê dat hy bly totdat Ek kom, wat gaan dit jou aan? Volg jy My.”
En wat van Petrus? Die Here het vir hom vooraf gesê hoe hy gaan sterf, en toe Petrus oor Johannes ook wou navraag doen, het die here Homself definitief nie onder die gesag van Petrus se versoek gestel nie. Wat nou? Die rede is dood eenvoudig! God sal nooit toelaat dat die mens Hom voorskryf wat om te doen nie. Dink net vir jouself, as dit so was soos wat Leroy Thompson sê, dan is dit mos nie nodig vir Jesus om weer te kom en die wêreld reg te maak nie, nee ons kan net in geloof alles beveel en God sal dan mos alles moet regmaak soos wat ons dit wil hê. En wat daarvan as ons nie kan ooreenkom hoe dinge moet afloop nie, vir wie moet God dan luister? Wat van al die ware gelowiges wat op die mees verskriklike wyses vir hulle geloof gesterf het en nog steeds sterf? Hoekom was God nie aan hulle gebede van geloof onderdanig nie?  Die antwoord is dat dit nie God se Wil was om hulle uit te red nie, sodat hulle ‘n beter opstanding kan verkry en Hom deur hulle dood verheerlik. Wat Leroy Thompson sê grens aan godslastering, as dit nie alreeds is nie.

Leroy Thompson sê verder: “Jy sien, God plaas Homself in ‘n situasie waar ons geloof Hom beheer, asook al Sy hulpbronne in die hemel. Ek en jy het die vermoë om God en almal in die hemel te beweeg op enige gegewe tyd, in die supermark, in die motor, in die huis, in die tuin, op die baan.”
Opmerking: Weereens waar in die Bybel staan dit? Die Here het Sy dissipels net die teenoorgestelde geleer.
Lukas 11:2 “En Hy sê vir hulle: Wanneer julle bid, sê: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde;”
Sien jy wat moet die dissipels bid? Dat die Here se Wil moet geskied soos wat dit in die Hemel die geval is. Dit is God se wil wat in die Hemel uitgevoer word nie die mens sin nie! Hoe kan Leroy Thompson mense dan leer dat God, Homself ondergeskik sal stel aan hulle geloof? Ja die Here beantwoord gebede wat in geloof gebid is, maar slegs indien dit Sy Wil is. Niks en niemand sal die Here voorskryf wat om te doen as dit nie Sy Wil is om dit te doen nie.

Leroy Thompson: “So, op die pad daardie dag, kon Jesus nie iewers heen gegaan het of enigiets gedoen het, alvorens Hy die stem van die geloof, wat na Hom uitgeroep het, beantwoord het nie.”
Opmerking: Markus 8:33 “Maar Hy het Hom omgedraai, en terwyl Hy sy dissipels aankyk, het Hy Petrus bestraf en gesê: Gaan weg agter My, Satan! Want jy bedink nie die dinge van God nie, maar dié van die mense. “
Ons almal ken hierdie gedeelte en kan dit weer memoriseer. Hoekom het die Here nie maar stil gestaan en Petrus se vermaning gehoorsaam nie? Want Hy sal nie dat die mens, of Satan, Hom voorskryf wat om te doen nie. Mens kan amper hierdie teksgedeelte op Leroy Thompson van toepassing maak. Mense soos Copeland verkondig die voorspoed-evangelie en is deel van die “Word Faith Movement” wat nie die ware Evangelie is nie en wat duisende mense na die Hel verdoem. Mense kom nie na God vir die verlossing van hulle sonde skuld nie, maar kom na God om voorspoed en gesondheid te wil kry. Dit is nie wat die Here aan ons in hierdie dispensasie belowe het nie. Hy het gekom en vir ons sondes gesterf. Hy verwag van ons om onsself te verloën en ons kruis op te neem en Hom te volg. (Mattheus 16:24) As ons nog lewe, wanneer die Kerk dispensasie tot ‘n einde kom, dan gaan Hy ons kom haal, sodat ons in die Hemel saam met Hom kan wees. (Johannes 14:2-14:3,1 Thessalonicense 4:17) Ons sal eers as konings regeer nadat Jesus weer aarde toe gekom het en Sy Koninkryk hier kom vestig het.(Lukas 19:11-19:27 Die gelykenis van die ponde). Hoe ons, ons rentmeesterskap, wat die Here aan elke gelowige gegee het, om namens Hom gedurende hierdie dispensasie te bestuur, sal bepaal watter gesagsposisies ons in Sy Koninkryk gaan ontvang.

Johannes 16:33 “Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.
15:19 As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle.”
Die Here het ons wel gewaarsku dat ons dit moeilik in hierdie wêreld gaan hê! Jy kan maar op hierdie feit staatmaak want dit staan so in God se woord, maar jy kan ook verseker wees dat die Here saam met jou is, en alles ten goede vir jou laat saamwerk.
1Korinters 4:11 “Tot op hierdie uur ly ons honger en dors, is ons naak en word geslaan, en swerwe ons rond, en swoeg ons deur met ons eie hande te werk. Word ons uitgeskel, ons seën; word ons vervolg, ons verdra dit; word ons belaster, ons troos; soos uitvaagsels van die wêreld het ons geword, die afskraapsel van almal tot nou toe. “
Ons kan met sekerheid sê dat Paulus nie ‘n geloof tekort gehad het nie, maar hy moes net soos ons ook leer, om net op God staat te maak en op niks anders nie.
Filippense 4:11 “Nie dat ek dit uit gebrek sê nie, want ek het geleer om vergenoeg te wees met die omstandighede waarin ek is. 4:12 Ek weet om verneder te word, ek weet ook om oorvloed te hê; in elke opsig en in alle dinge is ek onderrig: om versadig te word sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly. 4:13 Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.”
Die Here laat soms onaangename dinge in ons lewens toe, om ons geestelik te laat groei, sodat ons ander weer kan help. Ons is nie beter as Paulus of enige ander gelowige nie. Ons almal moet leer om tevrede te wees met wat ons het. Soms wil die Here sonde uit ons lewe uit verwyder, wat ons nie op ander maniere sal laat staan nie en daarom laat Hy dan teëspoed in ons lewens toe. (Lees gerus die artikel “Gelowige en Lyding“)

Om mee af te sluit. Wees versigtig vir mense wat die voorspoed-evangelie verkondig. Dit is nie die ware Evangelie nie en dit verwoes baie mense se geloof. Antwoord hierdie vraag vir jouself. Indien die Here Homself aan ons gebede van geloof ondersgeskik gestel het, en ons Hom dus kan beveel om ons te verryk. Hoekom vra Copeland dan geld by mense en met watter geld het hy sy fortuin opgebou? En hy het ‘n fortuin! Nie met gebede van geloof nie, maar met geld wat hy vanaf oningeligte, opregte Christene gekry het wat baie armer as hyself is. Die Skrif praat van mense soos hy. Hy maak valse beloftes aan mense in die naam van die Here. Hoe hartseer moet dit nie ons Vader maak nie.
2Petrus 2:1 “Maar daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën en ‘n vinnige verderf oor hulleself bring; 2:2 en baie sal hulle verderflikhede navolg, en om hulle ontwil sal die weg van die waarheid gelaster word;
2:3 en uit hebsug sal hulle met verdigte woorde voordeel uit julle trek. Oor hulle is die oordeel van lankal af nie werkeloos nie, en hulle verderf sluimer nie.”
Die Here maak nog gelowiges ryk, maar hulle is gewoonlik in die minderheid en gee sy bates aan mense wat weet hoe om dit namens Hom te versprei. Kyk hoeveel geld het God aan George Müller gegee, sonder dat hy ooit iemand vir geld gevra het, behalwe God alleen. En watter wonderwerke het die Here nie in en deur sy lewe gedoen nie! Maar ons moet eers op die punt kom om soos George Müller te wees. Lees gerus meer oor hom op, daar is baie outobiografiese boeke oor hom uit. Hy is net mooi die teenoorgestelde van die meeste predikers wat jy op die TBN  en die meeste ander Christelike kanale sal sien.

Vir die gelowige is die voorwerp van sy geloof die Here Jesus Christus. Die gelowige glo, dat Jesus Christus sy enigste Verlosser van sy sonde en die ewige verderf is, omrede Christus God is en oor die krag beskik om hom te verlos en dat die Seun van God met Sy eie lewe vir al die gelowige se sondes (verlede, hede en toekomstige sondes) aan die kruis betaal het. Sonder Jesus Christus sou die sondaar homself nooit kon red nie, maak nie saak hoe sterk sy geloof sou wees nie. Onthou, die waarde, meriete of krag van ons geloof is in die voorwerp waarin ons ons geloof plaas, gesetel, naamlik die Here Jesus Christus, wat God in die vlees is en wat nooit kan misluk nie. Reddende geloof is om in die Here Jesus Christus, as die Seun van God te glo, Wie gesterf het en weer uit die dood uit opgestaan het, om jou persoonlike sondeskuld voor ‘n regverdige God te betaal, en die Een wat aan almal die ewige lewe skenk wat Hom en Hom alleen daarvoor vertrou.

Ek hoop hierdie antwoord help om jou vraag te beantwoord. Ek kon nog baie meer inligting rondom hierdie dwaallering opgenoem, maar my antwoord is alreeds te lank. Mag ons hemelse Vader, en onse Here Jesus Christus jou deur Sy Gees in alle waarheid inlei en jou oe sal open sodat jy hierdie bedrogspul wat mense soos Copeland propageer. Hierdie is ook maar net een van die redes hoekom ons self die Bybel moet lees, en ken, anders  gaan ons verlei word deur mense wat nie werklik die Here dien nie maar godsdiens gebruik om hulle self te dien en daaruit te verryk.

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.