Om God se Wil te ken

Om God se Wil te ken

Die belangrikste element in die bepaling van God se Wil is ons huidige Geestelike toestand. Hoe naby leef ons aan die Here Jesus Christus? Is ek bewus dat Hy elke oomblik by my is en maak ek net op Hom alleen staat vir alle beslissings in my lewe. Daar moet ‘n vertrouensvriendskap met die Here wees. Ons moet op die punt kom waar ons net soos Petrus in Johannes 6:68 sal vra.
Joh 6:68 “En Simon Petrus antwoord Hom: Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde van die ewige lewe.
Ons ons geval sal ek dit soos volg stel: “Na wie sou ons gaan? U is die antwoord op al ons vrae en bekommernisse!” (lees gerus die artikel “God is genoegsaam soos in die brief van 2 Korinthiers weergegee“) Boonop vermaan die Here Jesus ons ook verder:
Joh 15:7 “As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry.” 
En verder:
Spr 3:5-6 “Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak.
Rom 12:1-2 Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens. En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.”
Uit bogenoemde skrifgedeeltes is dit duidelik dat indien ons God se Wil wil weet, ons in ‘n noue vertrouensverhouding met Hom moet leef. Hy moet nommer een wees en alle ander dinge tweede. Onthou Hy is God en weet as Hy nie werklik nommer een in ons lewens is nie. Dit is aan die mense wat intiem saam met God wandel, (op ‘n oomblik vir oomblik basis) aan wie Hy sy Wil bekend maak. Ons Vader het vir elkeen van Sy kinders ‘n plan vir sy lewe, en wil dit graag met ons deel. Ons hoef nie alleen deur hierdie moeilike lewe te gaan, en verward ronddwaal, soos verlore skape wat geen Herder het nie. Ons het mos ‘n Herder! Die onderstaande punte behoort as riglyn te dien vir die bepaling van God se wil.

Ons moet werklik ernstig wees om God se wil te ken. Die Here gaan nie Sy wil aan iemand bekend maak wat nie regtig in Hom belangstel of wat Hom graag wil gehoorsaam nie. Hy wil deel van ons alledaagse lewens wees, en Hy weet as Hy net soms welkom is. Hy gaan Sy wil nie aan iemand wat net oppervlakkig in Hom belang stel, bekend maak nie. Onthou God het gevoelens en dit maak Hom seer as ons Hom uit ons lewens uitskuif en ander dinge in ons lewens inskuif. (Om so iets te doen kom op niks anders as afgodediens neer nie!)

Dit is van uiterste belang om nie skaam te wees om te erken dat ons nie weet watter weg om te volg nie. Die Here is ons Leidsman en wil ons graag op die regte weg ly!
Spreuke 20:24 “Die voetstappe van ‘n man hang van die HERE af: hoe sou ‘n mens dan sy weg verstaan?”
Vertrou die Here volkome in alle omstandighede. Hy het belowe om ons Herder te wees! Nou, al wat ons moet doen is om Hom daarvoor te vertrou! Die voorbeeld wat George Müller aan ons gelos het is ‘n blywende herinnering dat God gebed beantwoord. Hy verlang net van Sy kinders om Hom te vertrou en doen wat Hy hulle beveel. 

Ons moet teen die versoeking waak, om in moeilike omstandighede planne vir onsself uit te werk, sonder om die probleem eerstens na God in gebed te neem en op Sy leiding wag. Sulke optrede dui op ‘n gebrek aan geloof, en dit moet ons nie verbaas indien ons die gevolge van sodanige optrede self sal moet dra nie. 
Jesaja 50:10 “Wie is daar onder julle wat die HERE vrees, wat na die stem van sy Kneg luister, wat in duisternisse wandel en geen ligstraal sien nie? -laat hy vertrou op die Naam van die HERE en steun op sy God! Kyk, julle almal wat ‘n vuur aansteek, wat julle met vuurpyle omgord-wandel in die vlam van julle vuur en onder die vuurpyle wat julle aangesteek het! Van my hand het dit julle oorgekom; in smart sal julle neerlê.”
Daar gaan tye in ons lewe wees waar ons onsself in duisternis gaan bevind, en dit is juis in tye soos die waarin die Here ons toets om te sien of ons op Hom gaan vertrou of eerder op ons self en eie insig gaan staatmaak. Ons moet leer om op God alleen te vertrou. Hy het iets baie beters vir ons en Sy opsies is onbeperk. God weet van opsies waaraan ons nie eens kan droom nie, en Hy sal op die regte tyd aan ons die nodige leiding en uitweg gee. Dit alles begin egter by gebed en vertroue in Hom!

Ons moet onsself volkome aan die Here en Sy wil vir ons, as lewende offers, oorgee en dit beteken dat ons niks van Hom af terughou nie.
Rom 12:1 “Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens. 12:2 En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.”
Dit beteken dat ons, ons eie wil vir Sy wil prysgee, wat daarop sal dui dat die gelowige homself/haarself volkome aan die Here oorgegee het en volkome aan Hom en Sy wil toegewy is. Soos iemand eenkeer gesê het “ Geen terughou, geen omdraai en geen spyt.” Deur om dit te doen, stel ons onsself, as toegewyde dissipels, aan ons Hemelse Vader beskikbaar.  In hierdie opsig dien die Here Jesus Christus as ons perfekte voorbeeld. Al was Hy self ook God, het Hy ten alle tye Sy Vader se wil gedoen! (hoeveel te meer behoort ons, wat maar net Sy skepsele is, nie ook so te doen nie!) Sy enigste doel was juis om die wil van die Vader te doen. Ons moet dieselfde doen!

Sodra die Heilige Gees ons van enige sonde in ons lewens oortuig, moet ons onmiddellik daardie sonde laat staan en dit bely.
1 Johannes 1:9 “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.”
Sonde onderbreek ons Vader/kind verhouding met die Here, en derhalwe is dit van uiterste belang om geestelik rein te wees. Indien daar sonde in die gelowige se lewe aanwesig is, sal dit kommunikasie tussen die gelowige en sy Hemelse Vader verhinder wat nadelige gevolge mag meebring.

Bid gedurig vir die openbaarmaking van God se Wil.
Psalm 25:4 “HERE, maak my u weë bekend; leer my u paaie.”
In gevalle waar belangrike besluite gemaak moet word, vra die Here om Sy leiding te bevestig deur die monde van twee of drie getuies. As Hy deur middel van twee of drie duidelike bewyse sy Wil bekend maak sal mens dit nie sommer mis nie. Bespreek die aangeleentheid met twee of drie betroubare Geesvervulde gelowiges, wat bereid sal wees om die waarheid ten alle koste te praat en mense wat nie net sal sê wat ons graag wil hoor nie.
Spr 15:22 “Planne misluk sonder beraadslaging, maar deur die veelheid van raadgewers kom dit tot stand.”
Dit is egter belangrik om te bid, en die Here te vra om aan almal wat genader word die nodige wysheid te voorsien.
Jak 1:5 “En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word.” 

Ons moet onsself in ‘n posisie plaas waar ons van God kan hoor, deur om baie tyd in Sy  Woord, die Bybel spandeer. Dit is van uiterste belang om oor alles wat ons lees, na te dink, en dit met die Here, in gebed, te bespreek. Onthou God spreek met ons deur Sy woord, die Bybel! Indien ‘n persoon van God wil hoor dan moet daardie persoon sy Bybel lees!
Ps 119:105 “U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad.”
Ons moet ook teen die versoeking waak om teksgedeeltes buite konteks aan te haal, of die betekenis daarvan te verdraai sodat die teksgedeelte ‘n ander betekenis ontvang as dit wat die oorspronklike Bybelskrywer wou oordra. Hou ook in gedagte dat nie alles wat in die Bybel opgeteken is, spesifiek aan iemand wat tydens die Kerk Dispensasie lewe gerig is nie, maar die beginsels soos wat ons in die hele Bybel vind bly egter van toepassing. 

As daar meer as een keuse is, samel soveel as moontlik inligting van alle keuses in. Hoe meer inligting mens het hoe makliker is dit vir God om ons te lei. Maak ‘n lys van die voordele en die nadele op ‘n stuk papier. Dit gee mens ‘n beter fokus op die besluite wat geneem moet word. Vra raad by geestelik volwasse broers in die geloof, op wie se geestelike insig jy vertrou.
Spr 11:14 “As daar nie goeie oorleg is nie, val ‘n volk; maar in die veelheid van raadgewers is redding.” 
Dit kan dalk gebeur dat een van die broeders dalk iets mag raaksien wat ons gemis het! Die groep kan ook dan saam die saak aan die Here deur gebed opdra. Waak egter daarteen om sensitiewe sake met enigiemand te bespreek wat dit weer aan ander sal oordra. So iemand moet liefs heeltemal vermy word, want sulke gedrag vind mens nie by ‘n gelowige wat deur die Heilige Gees beheer word nie.

Wees gewillig om te wag. Dit is gewoonlik die hardste ding vir die mens om te doen. Ons moet geduldig wag, totdat die leiding wat ons soek so duidelik ontvang is, dat om dit nie te eerbiedig nie, op krasse ongehoorsaamheid sal neerkom. Indien die versoeking daar is om ongeduldig te raak, moet ons onthou dat die Here Jesus dertig jaar in  Nasaret gespandeer het alvorens Sy bediening begin het. Onthou, God is nooit laat nie!
Jesaja 28:16 “daarom, so sê die Here HERE: Kyk, Ek lê in Sion ‘n grondsteen, ‘n beproefde steen, ‘n kosbare hoeksteen wat vas gegrondves is; hy wat glo, sal nie haastig wees nie.”
God is selde haastig en indien ons op Hom vertrou hoef ons ook nie haastig te wees nie. Onthou dit! Ons is mos Sy kinders en in Sy Hande! C.I Scofield het gesê: “ Geloof rus op die vaste vertroue dat God so hard kan praat dat Sy wagtende kind sal kan hoor wat Hy wil sê. Ons werk is om met vertroue te wag totdat ons seker is dat ons van Hom gehoor het.” 

As ons bid vir leiding en daar kom geen leiding nie, dan is God se leiding vir ons om te bly waar ons is. Donkerte om te beweeg is lig om te bly. Onthou die rookkolom in Exodus 40:36. Beweeg net as die rookkolom beweeg. Terwyl ons wag moet ons die met die Here se sake besig bly! Daar is so baie om te doen en die toegewyde arbeiders is min!
Prediker 9:10 “Alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met jou mag
Dit is ons plig, om ons plig te doen. Hierdie enkele feit neem ‘n groot gedeelte van ons lewens in ag waarvoor ons nie leiding nodig het nie.

Nou gaan ons ‘n stap verder en vra hoe gaan God ons gaan lei?
Hy lei deur middel van Sy Woord die Bybel. Sy algemene Wil is volledig in die Bybel uiteengesit.
2Ti 3:16 “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, “
God sal ons nooit enige leiding gee wat in stryd met Sy Woord is nie. Maar Hy spreek soms deur ‘n gedeelte of vers in Sy Woord. Soos reeds vroeër gestel, is dit altyd belangrik om teksgedeelte binne die raamwerk van die korrekte konteks te lees, en ons moet daarteen waak om betekenisse aan teksgedeeltes te heg wat die oorspronklike Bybelskrywers nie aan die teksgedeelte geheg het nie. Die Bybel is egter gevul met beginsels wat die Here van ons verwag om in verskillende situasies toe te pas. Indien ons hierdie beginsels getrou toepas sal al die raaiwerk uit ons lewens verwyder word.

God lei ook deur die advies van Geesvervulde broeders.
Spreuke 19:20 “Luister na raad en neem tug aan, sodat jy in die vervolg wys kan wees”

God spreek somtyds deur die wonderlike sameloop van omstandighede. Die tydsberekening van ‘n e-pos of telefoon oproep kan as voorbeelde hier genoem word.

God praat met ons deur Sy woord en gebruik Sy Gees om op ons intellek, emosies en wil te werk om dit te beïnvloed, sodat ons verseker kan weet dat dit God is wat met ons kommunikeer. 
Filippense 2:13 “want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae..”
Ek praat nie hier van hoorbare stemme, gedagtes of profesieë nie. Ek glo nie die gawe van profesie is in die Post Apostoliese tydperk meer in werking nie. Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Is die gawe van profesie nog in werking vandag” te lees” Die Here sal wel in ‘n gelowige die begeerte bewerk om in ‘n sekere rigting te beweeg of om ‘n sekere werk te verrig. Ook hier moet die oorsprong van die begeerte bepaal word, alvorens daar opgetree word. Onthou God praat met ons deur Sy woord, die Bybel, nie deur moderne profete nie! Die Gees van God; gebruik die Woord van God; in die kind van God; om die wil van God te doen; en dit alles deur die instaatstellende krag van God; tot die heerlikheid van God en die seën van ander mense om ons. 

Die Here kan lei deur hindernisse in ons weg te lê.
Handelinge 16:7 “En toe hulle by Mísië kom, het hulle probeer om na Bithínië te gaan, maar die Gees het hulle dit nie toegelaat nie.”
Watter tipe leiding is dit dan? Dit is leiding, deur middel, van die toe deur! Dit het al met ons almal gebeur, ons voel verlief op iemand maar omstandighede werk net nie so uit dat ons mekaar ontmoet nie. Dit mag dalk nie nou so lyk nie, maar dit kan die Here se leiding wees en ons sal later bly wees daaroor. Dit is leiding deur middel van beperkings op bewegings of optredes wat verhoed of verhinder word. Dit is die leiding van die toe deur. Dit is belangrik dat ons weet dat die Vader ons soms lei deur verhindering en deur om sekere deure toe te maak. As dit gebeur moet ons weet dat die Gees van God ons weg teenstaan en dan moet ons nie op daardie weg wandel nie. Moet nooit deure oop dwing waar daar nie oop deure is nie, dit kan ernstige gevolge tot gevolg hê.

Verder kan God ons lei deur die voorbeeld van Jesus. Hy sal ons nooit op ‘n weg lei wat met Jesus se karakter of leerstellings bots nie. Enige leiding wat met die Bybel bots kom nie van die Here af nie, wees maar verseker. Moenie oneerlike of buite Bybelse maniere gebruik om leiding te ontvang nie, dit kan katastrofiese gevolge hê. As jy twyfel wag op die Here, moet nooit haastig optree nie. Ons moet soos George Müller ons harte voor die Here oopstel sodat Hy ons kan wys of daar enige selfsugtige motiewe in ons harte is. Die doel om God se wil te weet is om Hom te verheerlik en nie onsself nie. As ons nie met opregte harte kan bid, “U wil geskied nie”, dan is dit ‘n teken dat ons nie werklik Sy wil soek nie maar ons eie.

Bid vir wysheid. Die Here wil hê ons moet ons verstand leer gebruik. Baie mense, wanneer hulle weergebore word, hou op om vir hulle self te dink. Dis ‘n groot fout, en baie Christene word uitgebuit deur valse profete, omdat hulle nie vir hulle self dink en die Here soek nie. Baie besluite in die lewe kan met gewone algemene kennis opgelos word, indien ons net om wysheid bid.
Jakobus 1:5 “En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word.”

Soms is God se leiding baie duidelik en soms nie so duidelik nie. God lei een tree op ‘n slag en wys gewoonlik nie Sy hele hand nie. Ek weet dat elke mens wat met ‘n opregte hart na God gaan, en met die doel om Hom te gehoorsaam, God se leiding sal ontvang. Dit is God se wil dat ons, as Sy kinders, Sy wil leer ken en uitvoer. En onthou, die Gees van God; gebruik die Woord van God; in die kind van God; om die wil van God te doen; en dit alles deur die instaatstellende krag van God; tot die heerlikheid van God en die seën van ander mense om ons.”  God en Sy woord kan nie van mekaar geskei word nie!

Mag ons altyd God se wil vir ons lewens soek en dit uitleef.

Mag God u seën

Vic

Deel met ander asb.