Die Koninkryk

Die Dispensasie van die Koninkryk

Soos wat ons alreeds in hierdie reeks artikels, wat oor die sewe dispensasies handel, opgemerk het, is ‘n dispensasie ‘n spesifieke wyse waarop God Sy heerskappy oor die wêreld administreer terwyl Hy progressief Sy doel vir die wêreld uitwerk. ʼn Dispensasie kan dus as ʼn Godgegewe periode omskryf word, waarin God aan die mensdom spesifieke openbaringsinligting wat vir daardie spesifieke periode geld gee, waarna Hy die mensdom vir hulle gehoorsaamheid aan Sy opdragte toets. Elke dispensasie se doel is om die mens binne die raamwerk van ‘n spesifieke stel gedragsreëls, wat vir daardie spesifieke dispensasie geld, te plaas. Hierdie feit is ook op die Dispensasie van die Koninkryk van toepassing.

Dit moet egter duidelik verstaan word dat die spesifieke stel gedragsreëls (wat menslike werke ook kan insluit) nie ‘n vereiste is om verlossing/wedergeboorte te bewerkstellig nie. Die gawe van verlossing/wedergeboorte word altyd op grond van God se genade, deur geloof alleen ontvang, en nooit deur enige werke soos om byvoorbeeld jou lewe vir die Here te gee ensovoorts nie. (indien ‘n persoon beweer dat hy sy lewe vir die Here gegee het, en dink dat hy op daardie wyse wedergebore geraak het, demonstreer eerder die feit dat die persoon nie die genadegawe van die ewige as geskenk deur geloof alleen by God in ontvangs geneem het nie. So ʼn stelling demonstreer eerder dat die persoon verkeerdelik onder die indruk verkeer dat hy d.m.v. ʼn wederkerige ruiltransaksie die ewige lewe kan bekom. So ʼn persoon poog in werklikheid om sy lewe vir God te gee in ruil vir die ewige lewe. Dit is uiters belangrik om hierdie stelling mooi te oordink omrede die implikasie daarvan ernstig kan wees.

Die verskillende dispensasies kan soos volg uiteengesit word, naamlik: 1. Die Dispensasie van Onskuld. 2. Die Dispensasie van menslike Gewete. 3. Die Dispensasie van menslike Owerheid. 4. Die Dispensasie van Belofte. 5. Die Dispensasie van die Wet. 6. Die Dispensasie van die Kerk/Genade 7. Die Dispensasie van die Koninkryk, wat die onderwerp van hierdie artikel is. Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikels wat oor die verskillende Dispensasies handel ook sorgvuldig te bestudeer. Boonop is dit belangrik om die reeks artikels “Feite aangaande die koninkryk” weereens te bestudeer, omrede daar uiters belangrike feite rakende die Dispensasie van die Koninkryk behandel word. Dit is belangrik om te let dat die Dispensasie van die Koninkryk die ewigheid inlei. Indien die Here my spaar, sal ons later ook die tydperk van die ewigheid bestudeer wat ʼn baie interessante onderwerp is.

Indien mens die dispensasies sorgvuldig bestudeer, dan word dit duidelik dat elke dispensasie met God se seën begin, wat deur voortgesette Goddelike openbarings gevolg word. Ook vind ons, dat elke dispensasie deur ‘n Godgegewe toets vergesel word, en wat weer deur die mensdom se mislukking gevolg word en wat weer tot God se oordeel aanleiding gee. Hierdie patroon van gebeure vind ons reg deur die verloop van die mensdom se geskiedenis wat al die dispensasies insluit. Die leser word ten sterkste aangeraai om die illustrasie “Die Sewe Dispensasies” sorgvuldig te bestudeer.

Na afloop van die Groot Verdrukking sal daar ‘n tydperk van 75 dae wees waartydens die Here Jesus Christus die tempel sal heilig, die nasies sal oordeel en waartydens Hy Sy administrasie vir die Messiaanse Koninkryk op aarde sal saamstel.
Dan.12:11 “En van die tyd af dat die voortdurende offer afgeskaf en die ontsettende gruwel opgerig word, sal duisend twee honderd en negentig dae verloop. 12 Welgeluksalig is hy wat bly verwag en duisend drie honderd vyf en dertig dae bereik.”
(Die leser word aangeraai om die reeks artikels “Die Messiaanse Koninkryk van Christus op aarde” te lees, asook die illustrasie “75 dae gaping tussen die einde van die Verdrukking en die aanbreek van Christus se Koninkryk” te bestudeer.

Die Dispensasie van die Koninkryk begin met God se seën:

Die Dispensasie van die Koninkryk begin wanneer die tydperk van die nasies tot ‘n einde gebring word, en wanneer die Here Jesus Christus met Sy wederkoms die koninkryke van die nasies vernietig. (wat simbolies deur die rots wat sonder die toedoen van mensehande losgeraak het, en wat die beeld wat Nebukadnesar in die boek Daniël gesien het verpletter en die aarde vul. (Dan.2:34-35; Openb.19:15-21.) Die leser word ten sterkste aangeraai om die illustrasie “Nebukadnesar se droom en Daniël se visioen in Daniël 7″ te bestudeer.)
Na afloop van die 75 dae interval, vind die bruilofsmaal van die Lam plaas waartydens die Here Jesus Christus se koninkryk amptelik op aarde ingehuldig word.
Openb.19:9“Toe sê hy vir my: Skryf salig is die wat genooi is na die bruilofsmaal van die Lam. En hy sê vir my: Dit is die waaragtige woorde van God”
Op hierdie stadium sal die satan alreeds vir die volgende duisend jaar in die bodemlose put opgesluit wees en alle ongeredde mense ook van die aarde verwyder wees.

Korrupsie en wanbestuur sal dan iets van die verlede wees. Die verbonde wat God met Israel gemaak het, sal volkome tydens die aanvang van die Dispensasie van die Koninkryk in vervulling gaan. (die leser word ten sterkste aangeraai om weereens die illustrasie “God se verbond met Israel” sorgvuldig te bestudeer. Boonop sal die tydperk van Israel se geestelike blindheid verwyder wees, en die volk sal weer as God se uitverkore volk tot die posisie van hoof van die nasies verhoog word. Aan die begin van die Dispensasie van die Koninkryk sal alle mense daar teenwoordig geredde mense wees. Die gelowiges wat die Groot Verdrukking oorleef het sal met hulle natuurlike liggame die koninkryk van Christus binnegaan. Met verloop van tyd sal hierdie mense weer kinders voortbring, met die gevolg dat die aarde weer met mense wat in sonde gebore word gevul sal word. Alle kinders wat tydens die Dispensasie van die Koninkryk gebore word, sal nog steeds oor ‘n sonde natuur beskik, en sal net soos hulle ouers die evangelie moet glo alvorens hulle gered kan word.

Die vloek wat a.g.v. die sondeval op die skepping geplaas is sal grotendeels tydens die Dispensasie van die Koninkryk verwyder word. Met Christus se liggaamlike teenwoordigheid op aarde, sal die klimaatstoestande op aarde amper net so gunstig wees soos wat dit tydens die tuin van Eden die geval was. Uitstekende klimaatstoestande sal die orde van die dag wees en die aarde sal gevolglik deur plantegroei bedek wees. Die grond sal weer uiters vrugbaar wees en sal a.g.v. die baie reën daartoe aanleiding gee dat hande arbeid weer ‘n genotvolle onderneming sal wees.
Amos 9:13 “Kyk, die dae kom, spreek die HERE, dat die ploeër die maaier inhaal, en die druiwetrapper die saadsaaier; en dat die berge van mos sal drup, en al die heuwels daarvan oorvloei sal wees.”

Die mensdom se lewensjare sal weereens drasties verleng word en ‘n persoon wat op honderdjarige ouderdom tot sterwe kom sal nog as ‘n kind bestempel word. Die Here Jesus Christus sal in geregtigheid regeer, en openlike sonde sal nie soos nou geduld word nie maar sal onmiddellik gestraf word.
Jes.65:20 “Daarvandaan sal nie meer kom ‘n suigling van ‘n paar dae of ‘n grysaard wat sy dae nie vol uitlewe nie; want ‘n seun sal sterwe honderd jaar oud, en wie sondig, sal, honderd jaar oud, deur die vloek getref word.”

Eiendomsreg sal deur wetgewing beskerm word, en niemand se vrug van hulle arbeid sal deur politieke leiers weg gekanaliseer word en aan mense gegee word wat nie daarvoor wil werk nie. Alle mense sal dus die vrug van hulle eie hande arbeid geniet, en dit alles sonder die vrees dat dit gesteel of deur die regering weggeneem sal word.
Miga.4:4 “Maar hulle sal sit elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, sonder dat iemand hulle verskrik; want die mond van die HERE van die leërskare het dit gespreek.”
Omrede die mensdom weereens verlengde lewensjare sal geniet, sal kinders volop wees wat tot gevolg sal hê dat die wêreld gou weer met mense gevul sal wees.
Sag.8:4 “So sê die HERE van die leërskare: Daar sal weer ou manne en ou vroue op die pleine van Jerusalem sit — elkeen met sy stok in sy hand vanweë die veelheid van hulle dae. 5 En die pleine van die stad sal vol wees van seuntjies en dogtertjies wat op die pleine daarvan speel.”
Boonop sal ‘n persoon ook nie meer hoef te vrees dat sy eiendom d.m.v. oorlog vernietig sal word nie, of dat enige geliefdes se lewens aan oorlog afgestaan sal word nie.
Jes.2:4 “En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie.”

Die Here Jesus Christus sal vanuit die huidige herboude Jerusalem die hele wêreld in streng geregtigheid regeer en soos alreeds genoem sal openlike sonde onmiddellik gestraf word.
Ps.2:7 “Ek wil vertel van die besluit: Die HERE het aan My gesê: U is my Seun, vandag het Ek self U gegenereer. 8 Eis van My, en Ek wil nasies gee as u erfdeel en die eindes van die aarde as u besitting. 9 U sal hulle verpletter met ‘n ysterstaf, U sal hulle stukkend slaan soos ‘n erdepot. 10 Wees dan nou verstandig, o konings; laat julle waarsku, o regters van die aarde! 11 Dien die HERE met vrees, en juig met bewing. 12 Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam. Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil!”
Getroue gelowiges van die Ou-Testament, Kerk Dispensasie, asook Tribulasie tydperk sal deel van die Here Jesus Christus se administrasie oor die wêreld vorm. Om hierdie rede is dit belangrik dat ons, wie tydens die Dispensasie van die Kerk leef, die Here Jesus Christus getrou as dissipels navolg, en op die een of ander wyse by die verspreiding van die evangelie en met die verkondiging van korrekte Bybelse leerstellings betrokke wees.
Openb.2:26 “En aan hom wat oorwin (alle persone wat die evangelie op ‘n punt in tyd geglo het is deur die Heilige Gees in Christus geplaas en is in hierdie opsig oorwinnaars. 1Joh.5:4 Fase een van hulle verlossing, naamlik wedergeboorte is alreeds afgehandel) en my werke tot die einde toe bewaar, (fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking/dissipelskap, wat goeie werke insluit en sal volgens verdienste met genadeloon beloon word) sal Ek mag oor die nasies gee, 27 en hy (slegs die getroue dissipels) sal hulle (die nasies as deel van Christus se administrasie) regeer met ‘n ysterstaf; soos erdegoed word hulle verbrysel, net soos Ek ook van my Vader ontvang het. 28 En Ek sal hom die môrester gee. 29 Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.”

Die mensdom word getoets:

Die mense wat na afloop van Christus se wederkoms nog steeds in hulle natuurlike liggame die koninkryk van Christus ingaan sal weereens as geheel getoets word. Ons moet onthou dat die sosio-politieke, sowel as die lewensomstandighede waarin hierdie mense hulleself bevind sal aanvanklik vry van die satan se beïnvloeding wees, omrede hy alreeds vir ‘n tydperk van duisend jaar in die bodemlose put toegesluit sal wees. Die nasies sal vir ʼn tydperk van ʼn duisend jaar nie deur die duiwel verlei kan word nie, maar dit beteken geensins dat die mens nie sonde sal pleeg nie. Die wêreld sal paradys tipe toestande geniet en oorvloed sal die orde van die dag wees. God self, in die Persoon van die Here Jesus Christus, sal op aarde by die mense teenwoordig wees. (Emmanuel, God met ons. Matt.1:23) Hongersnood en oorlog sal iets van die verlede wees en geregtigheid sal seëvier. In kort, die mens sal alles, en meer tot hulle beskikking hê as wat nodig is. Hierdie mense word dus onder uiters gunstige sosio-ekonomiese, asook politieke lewensomstandighede getoets.

Die mens misluk weereens:

Omrede die gelowiges wat die Groot Verdrukking oorleef het weer geboorte aan kinders met ‘n sonde natuur sal skenk, sal daar met verloop van tyd baie mense wees wat weier om die evangelie te glo, en sal ‘n rebelse gesindheid in hulle harte teenoor die Here Jesus Christus se heerskappy oor die aarde koester. Na afloop van die duisend jaar, wanneer die duiwel vir ‘n kort tydjie weer vrygelaat sal word om die wêreld te mislei/toets, sal hy meer as genoeg rebelle saam met hom kan vergader om Jerusalem te omsingel. Ps.2:1-3 gee aan ons ‘n idee van die begeertes wat die mens teenoor Christus se Koninkryk op aarde sal koester, naamlik:
Ps.2:1 “Waarom woel die nasies en bedink die volke nietige dinge? 2 Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die HERE en teen sy Gesalfde en sê: 3 Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp!”
Daarbenewens gee Openbaring 20:7-9a gee vir ons kortliks ‘n beskrywing van wat tydens die mensdom se rebellie teen die Here Jesus Christus se koninkryk op aarde sal gebeur, naamlik:
Openb.20:7 “En wanneer die duisend jaar voleindig is, sal die Satan uit sy gevangenis ontbind word; 8 en hy sal uitgaan om die nasies te verlei wat in die vier hoeke van die aarde is, die Gog en die Magog, om hulle te versamel vir die oorlog; en hulle getal is soos die sand van die see. 9 En hulle het opgekom oor die breedte van die aarde en die laer van die heiliges en die geliefde stad omsingel”

Die bewering dat die lewensomstandighede waarin ʼn persoon homself bevind die bepalende faktor is wat daardie persoon se optredes bepaal, sal deur hierdie rebellie teen die Here Jesus Christus heeltemal weerlê word. Tydens die Dispensasie van die Koninkryk sal voorspoed en geregtigheid die orde van die dag wees. Net omrede ‘n persoon homself in ideale sosiopolitieke omstandighede bevind, dien as geen waarborg dat hy reg sal optree nie. Die teendeel sal egter waar wees. Wanneer Satan vrygelaat word, sal hy sonder veel moeite die meerderheid van die mensdom kan oorhaal om teen God te rebelleer.

Die Dispensasie van die Koninkryk eindig in God se oordeel:

Wanneer die sataniese geïnstigeerde rebelle Jerusalem omsingel sal die Here persoonlik ingryp en skielik ʼn einde aan die rebellie maak. Vuur sal uit die hemel uit neerdaal wat die rebelle sal verslind. Die heiliges sal geensins in enige veldslag betrokke hoef te wees nie en geen gelowige sal sy lewe verloor nie. Openbaring 20:9ff-15 gee vir ons ‘n mooi aanduiding van wat met Satan en sy rebelle weermag sal gebeur, naamlik:
Openb.20:9ff en vuur het van God uit die hemel neergedaal en hulle verslind. 10 En die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp waar die dier en die valse profeet is; en hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid.”
Dit is opmerklik dat die Antichris, asook die Valse Profeet, wat alreeds duisend jaar vantevore lewend in die poel van vuur gewerp is nog steeds lewe wanneer die duiwel by hulle aansluit. Hierdie feit weerlê die Sewedaagse Adventiste, asook die Jehova se Getuies se dwaalleerstelling wat beweer dat ongelowiges heeltemal vernietig sal word en nie vir ewig in die poel van vuur gepynig sal word nie.

Na afloop van hierdie gebeure sal die Wit Troon Oordeel plaasvind, waartydens al die ongelowiges van alle tye voor die Here Jesus Christus sal moet verskyn, om daar volgens hulle werke beoordeel te word wat die mate van hulle straf in die poel van vuur sal bepaal.
Openb.20:11 En ek het ‘n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie. 12 En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ‘n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke. 13 En die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke. 14 En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood. 15 En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.”
Almal wat voor die Wit Troon Oordeel verskyn is ongelowiges, en hulle almal sal sonder uitsondering in die poel van vuur gewerp word waar hulle vir ewig gepynig sal word.

Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “die Wit Troon Oordeel” te lees waar hierdie onderwerp in groter detail bespreek word. Nadat die Here Jesus Christus die laaste vyand, naamlik die dood, verslaan het sal Hy die Koninkryk aan God die Vader oorhandig, naamlik:
1Kor.15:24 “Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het. 25 Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het. 26 Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood. 27 Want Hy het alles aan sy voete onderwerp, maar wanneer Hy sê dat alles onderwerp is, is dit duidelik dat Hy uitgesonder is wat alles aan Hom onderwerp het. 28 En wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees.”

Ter afsluiting: Ons moenie die fout begaan om te dink dat die Here Jesus Christus dan nie meer sal regeer nie. Sy koninkryk is ʼn ewige koninkryk en die Dispensasie van die Koninkryk is die eerste fase van Sy ewige koninkryk. Hy sal saam met God die Vader vir ewige oor die Nuwe Hemel en Nuwe Aarde as God regeer. Ons sal hierdie gedeelte van Christus se ewige heerskappy in die volgende artikel in hierdie reeks bespreek. Daar lê vir alle gelowiges ʼn wonderlike toekoms voor, en daarom is die doen van goeie werke so belangrik en daarom is die Here Jesus Christus se waarskuwing so belangrik, naamlik:
2Joh.1:8 “Wees op julle hoede, dat ons nie verloor wat ons deur arbeid verkry het nie, maar ʼn volle loon ontvang.”

Seën Groete!

Vic

Deel met ander asb.