Satan, globalisering

Satan se invloed agter globalisering

As gelowiges moet ons teen die versoeking waak om alles wat om ons gebeur slegs in terme van naturalisme te verklaar. Naturalisme is ‘n filosofiese en wetenskaplike denkrigting, waarvolgens die wêreld en sy ontstaan in suiwer wetenskaplike terme beskryf kan word en niks meer is as ‘n suiwer natuurlike gebeurtenis is nie. Aanhangers van hierdie filosofie verwerp dus alle bonatuurlike verskynsels soos byvoorbeeld die geestelike wêreld. In hierdie opsig maak baie mense ‘n ernstige fout wat nog tot ongekende smarte aanleiding gaan gee, omrede dit juis in hierdie dimensie is waar Satan bedrywig is. Hierdie fout kan baie maklik gemaak word, omrede ons die wêreld om ons met ons vyf sintuie waarneem. Wanneer ons na die huidige gebeure in Suid Afrika en in die res van die wêreld kyk, kan ons maklik die fout begaan om alle gebeure in terme van die filosofie van naturalisme te verklaar en vergeet dat daar ‘n duiwel is wat agter die skerms besig is om die mensdom te beïnvloed.

Die skrywers van die Bybel het egter nie hierdie fout begaan nie, en het onder inspirasie van die Heilige Gees, ons van Satan en sy bedrywighede in kennis gestel. Om hierdie rede beskryf die Skrifte die duiwel as die god van hierdie wêreld.
2Kor.4:3 “Maar as ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan, 4 naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie.”
As god van hierdie wêreld kan ons verseker weet dat Satan agter die skerms by die politieke, sosiale, ekonomiese, asook godsdienstige verwikkelinge betrokke is. (dit sluit rassespanning, opstande en oorloë in.) Alle mense is in die beeld van God geskape en daarom is rassisme van enige aard ‘n aanstoot vir God. Dit sluit alle mense in wat enige vorm van rassisme vir hulle eie doeleindes (wat politieke doeleindes insluit) uitbuit. Geen Christen behoort enige aandeel of verbintenis aan diesulke optredes of politieke partye te hê nie.

Indien ons nie alreeds so deur die proponente van valse leerstellings verblind is nie, sal ons moet erken dat ons in ‘n ontstuimig wêreld leef waarin ons gewetenlose diktators, moordenaars, rassiste, kwaadstekers, (wat politikusse insluit) gierigaards, hoogmoedige trotsaards, perverte en vele meer vind. As gelowiges sal ons wys wees indien ons bietjie stil gaan sit, en oor die gebeure rondom ons, binne die raamwerk van die Skrifte, te besin. Daarbenewens is dit van uiterste belang om op ’n gebalanseerde wyse ook oor Satan se bedrywighede agter die skerms van die mensdom se geskiedenis na te dink. Al hierdie feite moet dan binne die raamwerk van God se openbaring, en planne, soos wat ons dit in die Skrifte vind, geplaas en oordink word. Ons moet besef dat net soos wat Satan met die verloop van die wêreld se geskiedenis ‘n plan van aksie het, so ook het God Sy planne en bring dit stadig maar seker tot ‘n slotsom. In hierdie opsig gebruik die Here Satan as instrument en kan ons verseker wees dat God se doelstellings wel bereik sal word. Die vraag wat ons moet beantwoord, is aan watse kant van die geveg gaan ons, onsself bevind wanneer God se doelstellings met die wêreld afgehandel is? En ons kan verseker wees dat God se plan vir die wêreld wel suksesvol afgehandel sal word! Gelowiges kan ook onbewustelik met die doelstellings van die duiwel saamwerk sonder om dit eers te besef. Hierteen moet ons ernstig waak! (Die leser word aangeraai om die artikel “Die Duiwel se aktiwiteite sover dit die gelowige aanbetref” asook die artikel “Satan se optrede ten opsigte van die Nasies” te lees.)

Op internasionale vlak sien ons dat globalisering besig is om ‘n gevestigde filosofie te word en hierdie filosofie neem vinnig in gewildheid toe. In hierdie opsig kan mens amper met sekerheid verklaar dat globalisering alreeds die slagspreuk van die moderne wêreld geword het. (net soos wat die Bybel duisende jare terug voorspel het! Hierdie feit dien as onomwonde bewys dat die Bybel God se woord aan die mensdom is en daarom moet ons Sy woord ernstig opneem.) Daar bestaan ‘n baie groot moontlikheid dat Christus se profetiese uitsprake in ons leeftyd in vervulling kan gaan. Die tegnologiese ontwikkeling wat ons huidiglik beleef dien as verdere bewys dat die Bybel God se woord is. Die huidige tegnologiese hulpmiddele stel politieke leiers in staat om basies die hele wêreld se ekonomie te beheer. Iets wat meer as honderd jaar onmoontlik sou wees.

Net soos God, het die Satan ‘n spesifieke doelstelling waartoe hy werk. Wanneer dit by Satan se doelstellings kom, is dit egter belangrik om sekere feite in gedagte te hou, naamlik:

As God van hierdie wêreld sisteem het Satan ‘n doel waartoe hy werk: Dit is, en bly, Satan se begeerte om soos God te wees. Om hierdie rede wil hy oor al die nasies van die wêreld regeer en is dit sy plan om die hele mensdom so ver te kry om hom te aanbid. Hierdie doelstelling sal hy d.m.v. die komende Antichris bewerkstellig. Satan sal die Drie-Eenheid van God naboots en sy eie drie-eenheid, naamlik hyself, die Antichris en die valse profeet skep. Dit is teen die middel van die Verdrukking, met die aanbreek van die Groot Verdrukking, waartydens die Here hom sal toelaat om sy doelstelling vir ‘n kort tydjie, naamlik die laaste drie en ‘n halwe jaar van die Verdrukking, te bereik en as alleenheerser deur die hele wêreld as god aanbid sal word. In hierdie opsig is hy die bron van die filosofie van globalisering en een enkele globale godsdiensstelsel.

Satan is nie alwetend soos God nie: Satan, net soos die mensdom, weet nie presies wanneer die Here Jesus Christus se wederkoms aarde toe sal plaasvind nie. In Matthéüs 24:36 het die Here hierdie feit duidelik gestel.
Matt.24:36 “Maar van dié dag en dié uur weet niemand nie, ook die engele van die hemele nie, maar net my Vader alleen.”
Omrede Satan nie weet wanneer die wederkoms van Christus sal plaasvind nie, weet hy ook nie wanneer die wegraping, wat ten minste sewe jaar voor die wederkoms alreeds afgehandel moet wees, sal plaasvind nie. In hierdie opsig sit die duiwel met ‘n probleem. Omrede hy nie weet wanneer die wegraping of wederkoms gaan plaasvind nie, moet hy ten alle tye ‘n persoon gereed hê, wat as die Antichris, sy verskyning na afloop van die wegraping en voor die aanbreek van die Verdrukking kan maak. Om hierdie rede was daar deur die verloop van die Dispensasie van die Kerk/Genade altyd kandidate wat die rol van Antichris op kort kennisgewing kon opneem. Nero, Titus Flavius Vespasianus, keiser Domitianus, Hitler, Mussolini en vele ander kan as potensiële kandidate uitgesonder word. Maar vir enige van hierdie persone om as die Antichris te kwalifiseer, moes die Here alreeds die Kerk Dispensasie met die Wegraping tot ‘n einde gebring het, ‘n gebeurtenis wat nog nie plaasgevind het nie.

Om hierdie rede moet ons nooit vergeet dat Satan heeltyd in die agtergrond besig is om potensiële kandidate vir die posisie van Antichris in plek te kry. Hiervoor het hy politieke, ekonomiese en godsdienstige stelsels nodig waardeur sy super-mens, (of te wel Nietzsche se Übermensch) die Antichris, sy opmars kan begin maak sodra die wegraping plaasgevind het. En derhalwe is hy die heeltyd in die agtergrond besig om hierdie stelsels te skep en die gees van die tyd (zeitgeist) te ontwikkel waardeur die mense ontvanklik vir sy Antichris sal maak. Hy maak egter van mense gebruik, en werk deur hulle, om sy doelwitte te bereik. Wanneer ons na die politieke en ander verwikkelinge in die wêreld rondom ons kyk, neem ons slegs die mensdom se politieke, ekonomiese en godsdienstige optredes waar, maar vergeet maklik van die duiwel wie in die agtergrond besig is om die mensdom vir sy eie bose doeleindes te beïnvloed. Die verskillende politieke, godsdienstige en ekonomiese stelsels word deur Satan beïnvloed met die doel om globalisering te bewerkstellig waarna die Antichris, as alleenheerser, as god aanbid kan word.

Stappe wat Satan sal gebruik om sy doelstellings te bereik: As geestelike wese is die duiwel nie aan fisiese dood onderworpe nie. Daarbenewens is hy reg aan die begin van die skepping geskape, en het dus duisende jare tot sy beskikking gehad om die mens te bestudeer. Hy gebruik sy kennis aangaande die mens teen die mens om sy doelstellings op aarde te bewerkstellig. As hoogs intelligente maar verdorwe, en perverse, wese beskik hy oor ‘n goed ontwikkelde databasis sover dit die mensdom se begeertes, gewoontes en optredes aanbetref. Boonop beskik hy oor ‘n groot aantal gevalle engele wat hom in sy doelstelling bystaan en inligting aangaande die mensdom aan hom verskaf. Hy weet dus dat die mens baie sal prysgee in ‘n poging om sy materiële sowel as fisiese welstand te preserveer. (Ongelukkig word hierdie feit deur sekere belydende Christen leiers uitgebuit. In ‘n poging om groot getalle aanhangers te lok, word beloftes van fisiese genesing, en finansiële voorspoed, aan mense voorgehou.)

Dit was juis hierdie kennis aangaande die mens wat Satan gebruik het toe hy Job met die Here bespreek het, naamlik:
Job 1:8 “En die HERE vra vir die Satan: Het jy ag gegee op my kneg Job? Want daar is niemand op die aarde soos hy nie: ‘n man vroom en opreg, godvresend en wat afwyk van die kwaad.9 En die Satan antwoord die HERE en sê: Is dit verniet dat Job God vrees? 10 Het U nie self hom en sy huis en alles wat hy het, aan alle kante rondom, beskut nie? Die werk van sy hande het U geseën, en sy vee het sterk vermeerder in die land. 11 Maar strek net u hand uit en tas alles aan wat hy het — waarlik, hy sal U in u aangesig seën! (vloek) 12 Daarop sê die HERE aan die Satan: Kyk, alles wat hy het, is in jou hand; net na homself mag jy jou hand nie uitsteek nie. En die Satan het weggegaan van die aangesig van die HERE.”
Toe die duiwel Job nie sover kon kry om die Here te laster, nadat hy op materiële/finansiële vlak heeltemal geruïneer was nie, (en selfs al sy kinders aan die dood afgestaan het) het die duiwel Job se fisiese gesondheid aan die Here voorgehou, naamlik:
Job 2:4 “Toe het die Satan die HERE geantwoord en gesê: Huid vir huid, en alles wat iemand het, sal hy gee vir sy lewe; 5 maar strek net u hand uit en tas sy gebeente en sy vlees aan — waarlik, hy sal U in u aangesig seën!” (vloek) Hoeveel Christene verwerp die Here wanneer hulle finansiële teenspoed, ‘n kind aan die dood afstaan of self siek word? Self mense wat as sterk, onafhanklik, asook selfonderhoudend beskryf kan word, verkrummel onder hierdie tipe van druk, veral wanneer hulle finansiële welstand, gesondheid of lewens op die spel is en maak gou kompromie met die wêreld.

Indien dit nou alreeds die geval is, (en dit is) dink maar net hoe die meeste mense se optredes tydens die Verdrukking, onder bewind van die Antichris, sal wees. Nou kan ons verstaan waarom so baie mense die merk van die dier sal aanvaar en dit ten koste van die ewige lewe! Die Here het ons egter teen so ‘n gesindheid gewaarsku, naamlik:
Matt.16:26 “Want wat baat dit ‘n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal ‘n mens gee as losprys vir sy siel?”
Die meeste mense sal, sodra hulle opmerk dat hulle lewe, gesondheid, en selfs hulle finansiële welstand op die spel is, gou rasionaliseer, kompromieë met die bose wêreld aangaan in ‘n poging om hulle finansiële voorspoed en eie lewe te beskerm. Dit is maar net hoe die meeste mense se gesindheid is. (Hierdie is ook een van die redes waarom die dwaalleerstelling van die Voorspoed Evangelie so gewild is.) Ons sien nou alreeds tydens die Covid-19 pandemie hoedat mense bereid is om van hulle vryhede ontneem te word in ‘n poging om hulle gesondheid te verseker. Ons kan verseker weet dat die Antichris hierdie feit tydens sy bewind vir sy eie doeleindes sal uitbuit. Alhoewel die Covid-19 nie as die begin van die geboortepyne, waarvan Jesus gepraat het beskou kan word nie, is daar egter lesse wat ons daaruit kan leer. Wanneer ‘n persoon die mensdom se optrede in die hede bestudeer, kan mens met redelike akkuraatheid hulle optrede in die toekoms voorspel. Hierdie feit werp aansienlike lig op die wyse waarop die Antichris die wêreld tydens die Verdrukking sal beheer en waarom so baie mense vrywilliglik sy merk sal aanneem.

Satan plaas sy leringe van duiwels in die menslike verstand: ‘n Baie groot gedeelte van die menslike geestelike stryd vind in ons gedagte wêreld plaas. Om hierdie rede plaas die duiwel (of direk of d.m.v. sy engele) sy begeertes/filosofieë in die menslike gedagtes. (wat politieke ideologieë, ekonomiese beleidsrigtings en godsdienstige leerstellings insluit.) Die mens het dan die keuse om daardie gedagtes te verwerp, of gehoor daaraan te gee, en dit verder te oordink en uit te brei. Sodra die duiwel ‘n gewillige ontvanger vir sy idees/ filosofieë bekom, werk hy hard daaraan om sy bose leerstellings in daardie persoon se gedagte wêreld te ontwikkel en uit te brei. So ‘n persoon ontwikkel dan daardie idees en dit lei soms tot politieke, ideologiese, monetêre en godsdienstige beleidsrigtings/filosofieë. En daarom fokus Satan baie van sy energie op akademici/ intellektuele want hy weet dat meeste van die toekomstige leiers, of uit hierdie groep te voorskyn sal kom, of op die een of ander wyse deur akademici /intellektuele beïnvloed sal word. (dit sluit veral die sosiale wetenskappe in) Om hierdie rede is universiteite en ander instansies van hoër onderwys een van sy gunsteling teikens. Idees kan tot optredes, leerstellings, filosofieë en ideologiese bewegings aanleiding gee, wat weer in die mensdom se alledaagse lewenservaring uiting vind. Hierdie filosofieë word dan op skrif gestel en aan ander mense as die reine waarheid voorgehou. (Marxisme is een so ‘n voorbeeld) Ons mag verkeerdelik onder die indruk verkeer dat hierdie filosofieë, ideologieë, monetêre en godsdienstige beleidsrigtings van ‘n gegewe persoon afkomstig is, maar dit is nie altyd die geval nie. Die oorsprong daarvan kan baie keer by Satan self gevind word, al is die persoon nie eers bewus van hierdie feit nie. In hierdie opsig word die mens maar net ‘n handige instrument in die duiwel se hande en vorm hy deel van ‘n baie groter plan. (waarvan so ‘n persoon nie eens bewus mag wees nie) Hierdie feit geld ook vir die belydende Christendom en daarom vind ons dat die oorgroot meerderheid van die belydende Christendom heeltemal verlei is. Die belydende Christendom het egter geen verskoning nie, want die Here het ons vooraf van hierdie tendens in Sy woord gewaarsku, naamlik:
1Tim.4:1 “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang”
Gelowiges behoort beter te weet en beter voorbereid te wees.

Alle vorms van media speel ook ‘n baie groot rol in Satan se plan om wêreldheerskappy te bewerkstellig. Die media gee aan Satan onbeperkte toegang tot ons huise waardeur hy sy idees in mense se verstand kan plaas. Hierdie stelling geld ook vir ons kinders. Tegnologiese hulpmiddele is neutraal van aard, maar dit kan, en word, vir die verkeerde doeleindes aangewend. (Hierdie stelling geld ook vir kanale wat nuus uitsaai. Sulke kanale kan ‘n groot invloed op ‘n persoon se politieke opinies uitoefen, en ons vergeet soms dat hierdie programme ook maar bevooroordeeld en eensydig kan wees.) Ons moet besef dat ons nie alles kan glo wat ons in die media hoor of sien nie. Hierdie stelling geld ook vir die sogenaamde Christelike kanale. Baie Christene spandeer ure voor Christelike kanale en word so verlei. Dit is baie veiliger om self te leer hoe om die Bybel te interpreteer en dan by ‘n gemeente aan te sluit waar die Skrifte korrek, en vers by vers, bespreek en geleer word. Ek weet van toegewyde Christene wat a.g.v. Christelike televisie ernstig verlei geraak het. Ons moet nie alles wat aan ons verkondig word goedsmoeds glo nie. Ek vir een kyk glad nie Christen televisie nie. Daar is net te veel dwaalleerstellings te vinde. Ons moet ook nie van die musiek bedryf vergeet nie. Dit is sekerlik een van die vernaamste instrumente wat deur Satan aangewend word om sy idees in ‘n persoon se verstand te plant. Veral indien mens in ag neem dat musiek gewoonlik emosie by die hoorder daarvan aanwakker. Net omdat iets reg voel beteken dit nie dat dit reg is nie. Hierdie feit geld ook vir Christelike musiek. Ons godsdiens moet nie op emosie gebaseer word nie, maar wat in God se woord staan en dit slegs in die korrekte konteks.

Satan se doelstellings vir ‘n wêreldregering gaan vir ‘n kort tydperk toegelaat word: Net soos Satan, is die mensdom teen God in rebellie, en poog hulle om die wêreld op ‘n sinvolle wyse sonder Christus se heerskappy te regeer. Satan se poging om ‘n een wêreldregering op die been te bring sal vir ‘n kort tydjie deur God toegelaat word. Die mensdom se poging om na die omstandighede rondom die toring van Babel terug te keer sal dan hulle ondergang beteken. (Gen.11:1-9) Hierdie een wêreld regering, onder bewind van die Antichris, sal van korte duur wees en gaan ongekende lyding en lewensverlies tot gevolg hê. Alhoewel God geduldig is, sal Hy egter nooit sonde ongestraf laat bly voortgaan nie. Die beloftes van ‘n utopia op aarde sal in ‘n lewende hel verander.

Wat ons as Suid Afrikaners uit hierdie feite kan leer: Gelowiges in Suid Afrika is tot ‘n groot mate in die verlede van vervolging vir hulle geloof gespaar. Omrede die Voorspoed Evangelie se gewildheid in ons land dramaties toegeneem het, het dit aanleiding daartoe gegee dat gelowiges verkeerdelik onder die indruk verkeer dat hulle van vervolging gevrywaar is. Dit is egter nie die geval nie. Dinge is vinnig besig om in ons land, en samelewing as geheel, te verander. Fundamentele Christene word toenemend as nougesind deur die wêreld as geheel, asook liberale/progressiewe Christene uitgekryt. Mens hoor gereeld die stelling dat die tye verander het en dat fundamentele Christene nie saam met die tye aan die beweeg is nie. Hierdie stelling is egter misleidend, omrede God se morele standaarde nooit verander het nie en sal vir altyd dieselfde bly. Die seksuele revolusie van die 60’s het ons samelewing en persepsies drasties verander. En dit sluit ‘n groot gedeelte van die belydende Christendom in. Daarbenewens is Marxisme, asook ander vorms van sosialisme besig om wêreldwyd in gewildheid toe te neem. Humanisme en Oosterse gelowe/mistisisme (wat die Nuwe Era Beweging insluit) is al alledaagse verskynsels in ons land en vorm alreeds ‘n groot deel van ons samelewing. Meeste, indien nie al hierdie denkrigtings, het alreeds die belydende Christendom geïnfiltreer. Ons bevind onsself nie in ‘n herlewing nie, maar staan eerder op die rand van ‘n nuwe kulturele en politieke revolusie. (Hierdie stelling geld veral vir die westerse lande.) Ons sal onsself toenemend in ‘n sentraal beplande/gereguleerde ekonomiese, politieke en kulturele samelewing bevind. Met al hierdie veranderinge wat plaasvind, kan fundamentele Christene maklik as radikale herklassifiseer word wat tot openlike vervolging aanleiding kan gee. Om werklik getrou aan die Here, en Sy woord te bly, sal getroue dissipels van die Here toenemende weerstand ondervind. ‘n Groot gedeelte van hierdie weerstand kan ook vanuit die Christelike geledere te voorskyn kom. Dit sluit die Wêreld Raad van Kerke, en ander ekumeniese Christelike bewegings in. In kort, die wêreld word vir ‘n wêreld regering en die verskyning van die Antichris voorberei.

Waarom Satan in sy pogings tot wêreld heerskappy voortgaan?: Die duiwel is hoogs intelligent en ken die Bybel waarskynlik baie beter as enige een van ons. Hy moet dus van die feit bewus wees, dat hy deur Christus se kruisdood oorwin is en dat sy vonnisoplegging ook verseker sal plaasvind. (‘n Gebeurtenis wat na afloop van die Duisendjarige Vrederyk van Christus, en voor skepping van ‘n nuwe hemel en aarde finaal afgehandel sal word, wanneer hy vir ewig in die poel van vuur gewerp sal word.)
Openb.20:10 “En die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp waar die dier en die valse profeet is; en hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid.”

In hierdie opsig dien die duiwel as goeie voorbeeld van watse effek sonde op ‘n geskape wese het. Sonde verhard, verdraai, verblind en verlei enige geskape wese wanneer dit in daardie wese toegelaat word. Hierdie feit geld vir Satan ook. In sy eiewaan dink hy moontlik dat hy die Here se wederkoms en sy vonnisoplegging kan verhoed. En daarom poog hy so hart om die Joodse volk uit te roei. Hy weet dat die Here se wederkoms slegs sal plaasvind wanneer hulle tot bekering kom en hulle Messias om hulp aanroep. Hierdie feit verklaar die feit dat die wêreld toenemend teen Israel draai en die feit dat hulle so in die verlede vervolg en vermoor is. (‘n groot gedeelte van de belydende Christendom is ook aan diesulke optrede skuldig.) Dit verduidelik ook waarom Satan alles sal doen om te verhoed dat die Bybelse profesieë vanuit die Bybel verkondig word. (Hiervoor wend hy ook valse profete en leraars aan wat die mensdom se fokus van die profesieë, soos wat ons dit in die Bybel vind, aflei en op buite Bybelse profesie fokus en mense wat Bybelse profesie verkondig in die publiek aan te val) ‘n Ander moontlike verduideliking is dat hy nie veel daaraan dink nie, net soos wat baie mense ook nie te veel aandag aan die hiernamaals skenk nie. Hulle lewe slegs vir hede en skenk min aandag aan die Skrifte en hiernamaals. Maar van een ding kan ons verseker weet. Die Here sal weer terugkom aarde toe, en Hy sal Sy Koninkryk hier kom oprig en daar is niks wat Satan of die mensdom daaraan kan doen nie. En wanneer die wederkoms plaasvind, sal die Here ‘n einde aan die koninkryk van Satan, die Antichris en valse profeet maak.

Ter Afsluiting: Wat kan die gelowige in tye soos hierdie doen? Ons moet die Here in alles gehoorsaam wees en op Hom vertrou. (al kos dit ons lewens) Ons moet besef dat ons lojaliteit by God lê, en dat die wêreld soos wat ons dit ken, die een of ander tyd tot ‘n einde gaan kom wanneer Christus Sy Koninkryk op aarde vestig. Mens kan nooit genoeg bid nie, en daarom kan ons te eniger tyd ons versoeke aan die Here rig, met die wete dat Hy ons hoor en in volle beheer van die verloop van die wêreld se geskiedenis is.
1Tim.2:1 “In die eerste plek vermaan ek dan dat smekinge, gebede, voorbedes, danksegginge gedoen moet word vir alle mense; 2 vir konings en almal wat hooggeplaas is, sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid. 3 Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, 4 wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.”

Ons moet op ons daaglikse taak wat God aan ons gegee het fokus en dit so getrou as moontlik uitvoer. Alle gelowiges behoort kenners van die Skrifte te wees, en daarom moet ons Bybelstudie doen en nie vergeet om die profetiese woord, soos wat ons dit in die Bybel vind, te bestudeer nie. Die Bybel moet te alle tye die maatstaf wees waarteen alle optredes vergelyk behoort te word. Waar moontlik moet ons op ‘n ordelike wyse, en binne die raamwerk van ons land se wette, aan die politieke proses deelneem, maar altyd onthou dat ons egter net pelgrims en reisigers in hierdie wêreld is. Ons werklike burgerskap in die hemel gesetel, vanwaar ons die Here Jesus Christus verwag, wie ons d.m.v. die wegraping uit hierdie wêreld sal neem om vir ewig by Hom te wees. En daarvoor moet ons ernstig bid.
Joh.14:2 “In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei.3 “En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.
Filip.3:20 Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus, 21 wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam volgens die werking waardeur Hy ook alles aan Homself kan onderwerp.”
En onthou:
2Tim.1 “Ek besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk: 2 verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; 3 want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, 4 en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels. 5 Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van ‘n evangelis; vervul jou bediening.”

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.