die duiwel 6

Die duiwel se aktiwiteite sover dit die gelowige aanbetref. Deel 6

Dit moet in gedagte gehou word dat die Here Jesus Christus slegs van buite Sy wese deur die duiwel versoek kon word. Die duiwel het Hom genader met voorstelle wat bedoel was om Hom so ver te kry om teenstrydig met God die Vader se wil op te tree. Maar in teenstelling met ons, kon die Here Jesus Christus nie van binne Homself versoek word nie. Ons, as gevalle wesens, beskik huidiglik oor ‘n sonde natuur, wat tydens die sondeval bekom is, en word soms vanuit ons sonde natuur versoek sonder dat die duiwel ons enigsins versoek.
Mat 15:16 “maar Jesus sê: Is julle dan ook nog sonder verstand? 15:17 Begryp julle nog nie dat alles wat in die mond ingaan, in die maag kom en in die heimlikheid uitgewerp word nie? 15:18 Maar die dinge wat uit die mond uitgaan, kom uit die hart, en dit is dié wat die mens onrein maak. 15:19 Want uit die hart kom daar slegte gedagtes, moord, egbreuk, hoerery, diewery, valse getuienis, lastertaal. 15:20 Dit is hierdie dinge wat die mens onrein maak; maar om met ongewaste hande te eet, maak die mens nie onrein nie.”
En onthou, God versoek niemand met sonde nie, maar ons word eerder deur ons bose begeertes vanuit ons gevalle sonde natuur versoek.
Jak 1:13 “Laat niemand, as hy in versoeking kom, sê: Ek word deur God versoek nie. Want God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie. 1:14 Maar elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word. 1:15 Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde; en as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort.”
Die Here Jesus Christus beskik egter nie oor ‘n sonde natuur nie, en derhalwe was daar niks binne in Hom wat daartoe sou bydra dat Hy vanuit hierdie posisie deur die duiwel versoek sou word nie.
Joh 14:30 “Ek sal nie veel meer met julle spreek nie; want die owerste van hierdie wêreld kom en het aan My niks nie.
1Jo 3:5 En julle weet dat Hy verskyn het om ons sondes weg te neem, en geen sonde is in Hom nie.”


Indien mens Eva se versoeking sorgvuldig bestudeer, blyk dit duidelik hoe slinks die duiwel in werklikheid is! Derhalwe is dit belangrik om die werklike historiese gebeurtenis in Genesis 3, (nie ‘n mite nie!) waar die mens tot ‘n val gebring is, en die verreikende gevolge wat hierdie een daad van rebellie teen God tot gevolg gehad het, sorgvuldig te bestudeer. Soos alreeds genoem, is die duiwel ‘n hoogs intelligente wese (en boonop slinks daarby) en hy weet boonop baie goed hoe om die mensdom tot ‘n val te bring. Om hierdie rede is dit van uiterste belang dat ons, as gelowiges, volkome op die Here en Sy krag en wysheid moet steun (soos wat dit in ons Bybels opgeteken staan.) en nie op ons eie krag in insig moet staatmaak nie. Indien ons op ons eie krag en insig gaan staatmaak, kan ons verseker weet dat die duiwel altyd die oorwinning oor ons sal behaal. (Die leser word ten sterkste aangeraai om die reeks artikels “Heiligmaking op grond van genade deur geloof” uit te druk en sorgvuldig te lees.”

Gen. 3 : 1-7 gee aan ons ‘n duidelike voorbeeld van hoe slinks die duiwel in werklikheid is. Kom ons gaan bestudeer die genoemde teksgedeelte sorgvuldig.
Gén 3:1 “Maar die slang was listiger as al die diere van die veld wat die HERE God gemaak het. En hy sê vir die vrou: Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?”
Indien mens bostaande stelling van Satan sorgvuldig ontleed, dan merk mens op dat hy op ‘n baie subtiele wyse Eva se fokus op die woorde “al die bome” wil fokus deur om hierdie spesifieke woorde te beklemtoon, naamlik:
“Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?”
Die duiwel fokus dus Eva se aandag op die woord “al” en dit nadat hy op ‘n baie subtiele wyse God se woorde gebruik en dit dan verdraai, deurdat hy dan op ‘n subtiele wyse beweer dat God ‘n gebot op die eet van al die bome se vrugte in die tuin van Eden geplaas het. (iets wat nie die waarheid is nie!) Onthou Satan fokus Eva se aandag op die woord “al” en Eva se antwoord aan die duiwel bevestig dan ook die feit dat sy dit so verstaan het, naamlik:
Gén 3:2 “En die vrou antwoord die slang: Van die vrugte van die bome in die tuin mag ons eet,”
Die duiwel se plan was dus om Eva so ver te kry om self tot die slotsom te kom, wat die idee insluit, dat God se plan vir die mens die eet van al die vrugte in die tuin van Eden behoort in te sluit. Dus het die duiwel gepoog om die idee in Eva se verstand te plaas dat daar geen beperkinge in ‘n God (wat altyd goed doen) se plan vir die mensdom behoort te wees nie. (Die duiwel maak nog steeds van hierdie tegniek gebruik en pas dit op alle dinge wat God ons, vir ons eie beswil, verbied om te doen!) Eva se antwoord demonstreer egter dat sy van mening is dat God aan hulle alles voorsien het wat hulle vir alle praktiese redes sou benodig. Haar stelling demonstreer hierdie feit, naamlik:
Gén 3:2 “En die vrou antwoord die slang: Van die vrugte van die bome in die tuin mag ons eet,”
Maar dan wil dit egter blyk dat sy vir die eerste keer agterkom dat daar wel ‘n moontlike uitsondering is en gaan dan verder en maak die volgende stelling:
Gén 3:3 “maar van die vrugte van die boom wat in die middel van die tuin is, het God gesê: Julle mag daarvan nie eet nie en dit nie aanroer nie, anders sal julle sterwe.”
Dus het sy nou heeltemal bewus van die feit geword, dat daar wel ‘n uitsondering/beperking was, naamlik die verbod op die eet van die boom van die kennis van goed en kwaad. Nou was haar gedagtes ten volle op die beperking/gebod gefokus en nou was sy op ‘n baie subtiele wyse vir die duiwel se verdere aanvalle voorberei. Die feit dat sy nou self woorde by God se gebod, teen slegs die eet van die vrugte in die middel van die tuin, byvoeg dien as indikasie dat sy nou slegs op die een verbod/beperking van God gefokus is. God het slegs die eet van die vrugte van die een boom verbied, maar sy gaan nou self verder en plaas ‘n verdere beperking op God se gebod en beweer dat hulle selfs nie eers die vrugte mag aanroer nie. (Iets wat God nooit verbied het nie!) Sy is dus nou presies waar die duiwel haar wou hê, en hy gaan nou na die volgende stap van sy plan oor, naamlik:
Gén 3:4 “Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie; 3:5 maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken.” (‘n Blatante leun!)

Satan gaan nou verder en hou die moontlikheid dat die mens soos God sal wees deur om kennis van goed en kwaad te ken. Natuurlik kon mens nie verwag dat die duiwel Eva sou waarsku, dat indien sy teen God rebelleer, sy geestelik sou sterwe en geestelik van God geskei sal wees, en dat haar fisiese lewe nou ook geleidelik tot ‘n einde sou kom nie. Boonop het Satan haar ook nie vooraf gewaarsku, dat indien sy van die vrug sou eet, sy ook soos hy (boos) sou word nie. Dus, sou sy nie slegs teoretiese kennis oor goed en kwaad ontvang nie, maar goed en kwaad sou deel van haar wese en dus haar belewenis/ lewenservaring word. (onthou Satan het dit aan haar voorgehou dat sy soos God sou word, deurdat sy goed en kwaad sou ken. (onthou Satan wou ook oorspronklik soos God wees!) Sy het dus tot ‘n mate soos God geword, deurdat sy kennis van goed en kwaad bekom het, maar hierdie kennis van goed en kwaad was nie net blote kennis, soos wat God oor dit beskik nie, maar goed en kwaad sou deel van haar lewenservaring en dus deel van haar bestaan word. Boonop het sy ook nie God geword nie, (al mag baie van haar nasate verkeerdelik onder die indruk verkeer dat hulle gode is!) Sy sou dus ‘n gevalle wese word, wat oor ‘n sonde natuur beskik en in hierdie opsig het sy eerder soos die duiwel geword. Eva se volgende stap was toe om oor die sonde, wat sy op die punt getaan het om te pleeg, te rasionaliseer. Sy het dus op die verbod teen die eet van die verbode vrug gefokus, en aan haarself al die goeie punte, asook al die voordele wat die eet van die vrug sou teweegbring, naamlik die ontvangs van kennis wat haar wys kon maak, en haar dus soos God kon maak, aan haarself voorgehou. Sy het nou God begin bevraagteken deur te dink dat God moontlik iets goeds van haar en haar man af weghou. Vergete is die feit dat God die eet van die vrug verbied het. Haar kop is nou met haar eie begeertes en idees gevul, asook al haar verskonings en rasionalisering, en sy gaan voort en eet die vrug in weerwil van God se gebot aan die mens om dit nie te doen nie. (‘n Daad van openlike rebellie, deurdat sy nie meer die Here volkome vertrou het nie, en dat sy ook nie meer volkome van Hom afhanklik wou wees, deur Hom volkome gehoorsaam te wees nie! Sodoende verwerp sy God se woord, asook die waarskuwing dat indien sy van die vrug sou eet sy tot sterwe sou kom, en kies eerder om Satan se woord te glo, en eet van die vrug, en gee ook aan haar man om te eet en sodoende bring hulle ‘n ramp op die hele mensdom!) Sonde het altyd gevolge, al mag ons dalk nie onmiddellik die gevolge daarvan dra nie!

Uit hierdie een daad van ongeloof en rebellie het verreikende gevolge vir die mensdom voort gevloei. Die oomblik toe Adam en Eva God se gebod oortree het, op daardie oomblik het hulle geestelik tot sterwe gekom. Dit moet ingedagte gehou word, dat die dood nooit in die Bybel as die totale uitwissing (of uitwissing van bestaan) van die persoon omskryf word nie, maar eerder skeiding. In die geval van fisiese afsterwe, word die persoon se fisiese liggaam met die gees en siel van daardie persoon geskei, tot en met die tyd van opstanding uit die dode, waar die mens weer as volkome eenheid in ‘n liggaam saamgevoeg sal word. (Dus, bestaan ‘n afgestorwe persoon se gees en siel bewustelik, of in die doderyk, of in God se teenwoordigheid, na fisiese afsterwe voort!) So ook geld dit vir geestelike dood. (Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Sewe verskillende vorms van dood in die Bybel” te lees.) Toe Adam en Eva teen God gesondig het, het hulle geestelik gesterwe, en derhalwe is hulle gees met die van God geskei, en word hulle as geestelik dood omskryf, alhoewel hulle vir nog ‘n tydlank in hulle fisiese liggame voort gelewe het. (Onthou hulle het geestelike gesterwe die oomblik toe hulle die verbode vrug geëet het, maar God het hulle eers met fisiese dood, as deel van die vloek, gestraf nadat hulle alreeds gesondig het en dus alreeds geestelik gesterwe het.)

Pas nadat hulle geestelik gesterwe het, het hulle optrede die feit, dat hulle geestelik van God geskei is, en dus alreeds gevalle wesens was, weerspieël. Daarom het hulle vir die Here weggekruip toe Hy soos alle vorige kere saam met hulle wou wandel. In pleks daarvan om liefdevolle gemeenskap met God te handhaaf, het hulle God gevrees en Hom eerder vermy!
Gén 3:6 “Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet en dat hy ‘n lus was vir die oë, ja, ‘n boom wat ‘n mens kan begeer om verstand te verkry; en sy neem van sy vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het geëet. 3:7 Toe gaan altwee se oë oop, en hulle word gewaar dat hulle naak is; en hulle het vyeblare aanmekaargewerk en vir hulle skorte gemaak. 3:8 En hulle het die stem van die HERE God gehoor terwyl Hy wandel in die tuin in die aandwindjie; en die mens en sy vrou het hulle verberg vir die aangesig van die HERE God tussen die bome van die tuin. 3:9 Toe roep die HERE God na die mens en sê vir hom: Waar is jy? 3:10 En hy antwoord: Ek het u geruis gehoor in die tuin en gevrees, want ek is naak; daarom het ek my verberg. 3:11 En Hy sê: Wie het jou te kenne gegee dat jy naak is? Het jy geëet van die boom waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie?”
Omrede die mensdom na sy soort voortplant, is hierdie geestelike skeiding, asook die sonde natuur, na al Adam en Eva se nasate oorgedra, en word alle mense dus geestelik dood gebore (dus van God geskei) Hierdie feit is baie duidelik deur die eerste kind, wat vanuit Eva uit voortgekom het, gedemonstreer.
Gén 4:3 “En ná verloop van tyd het Kain van die vrugte van die land aan die HERE ‘n offer gebring. (Kain wou God op sy eie terme en deur sy eie goeie werke nader.) 4:4 En Abel het ook van die eersgeborenes van sy kleinvee gebring, naamlik van hulle vet. (Abel het egter God op God se terme genader, deur om een van sy kleinvee te dood, wat ‘n heenwysing na Christus se offer van Homself aan die kruis was.) En die HERE het Abel en sy offer genadig aangesien, 4:5 maar Kain en sy offer nie aangesien nie. Toe word Kain baie kwaad, en hy het sy hoof laat hang. 4:6 En die HERE sê vir Kain: Waarom is jy kwaad, en waarom laat jy jou hoof hang? 4:7 Is daar nie verheffing as jy goed doen nie? En as jy nie goed doen nie—die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jy moet daaroor heers. 4:8 En Kain het met sy broer Abel gepraat; en toe hulle in die veld was, het Kain teen sy broer Abel opgestaan en hom doodgeslaan.” (die eerste moord!)

Soos reeds vroeër verduidelik, het fisiese/liggaamlike dood eers in werking begin tree toe God die skepping (wat die mensdom insluit) as gevolg van Adam se rebellie vervloek het. Toe die Here dus die mens, asook die skepping, onder die vloek geplaas het, was die mensdom alreeds geestelik dood gewees. Dit is dus duidelik dat fisiese dood op die hakke van geestelike dood gevolg het.)
Gén 3:10 “En hy antwoord: Ek het u geruis gehoor in die tuin en gevrees, want ek is naak; daarom het ek my verberg. 3:11 En Hy sê: Wie het jou te kenne gegee dat jy naak is? Het jy geëet van die boom waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie? (die mens is alreeds by hierdie geleentheid geestelik dood) 3:12 En die mens antwoord: Die vrou wat U gegee het om by my te wees, sy het my van die boom gegee, en ek het geëet. (die mens demonstreer weereens sy gevalle aard, deurdat hy indirek die blaam op God lê, omdat God aan hom die vrou gegee het en die vrou hom laat sondig het! Adam demonstreer dus die uitwerking van sy sonde natuur en derhalwe wil hy nie self verantwoordelikheid vir sy sonde neem nie!) v 3:13 Daarop sê die HERE God aan die vrou: Wat het jy nou gedoen? En die vrou antwoord: Die slang het my bedrieg, (sy plaas weer die blaam op die slang, en neem nie verantwoordelikheid vir die feit dat dit sy is wat die vrug geëet het en aan haar man gegee het nie. Die slang het haar nie gedwing om die vrug te eet nie! Sy het self besluit om dit te eet en aan haar man ook daarvan gegee! Sy was egter verlei en het so in oortreding gekom, maar Adam het willens en wetens gesondig! 1Tim.2:14) en ek het geëet. 3:14 Toe sê die HERE God aan die slang: Omdat jy dit gedoen het, is jy vervloek onder al die vee en al die diere van die veld. Op jou buik moet jy seil, en stof moet jy eet al die dae van jou lewe. 3:15 En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hy (Die Here Jesus Christus) sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt. (die smarte van die kruisiging) 3:16 Aan die vrou het Hy gesê: Ek sal grootliks vermeerder jou moeite en jou swangerskap; met smart sal jy kinders baar; en na jou man sal jou begeerte wees, en hy sal oor jou heers. 3:17 En aan die mens het Hy gesê: Omdat jy geluister het na die stem van jou vrou en van die boom geëet het waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie—vervloek is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe. 3:18 Ook sal dit vir jou dorings en distels voortbring; en jy sal die plante van die veld eet. 3:19 In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer. (Ons fisiese liggame asook die wêreld is nog steeds onder hierdie vloek. Ons liggame sal eers met fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking, wanneer ons met die eerste opstanding/wegraping met ons verheerlikte liggame oorklee sal wees en dan eers volkome van die vloek en ons sonde natuur bevry wees. Lees asb die artikel “Drie fases van Verlossing” Die vloek op die fisiese skepping sal eers met die begin van Jesus Christus se duisendjarige Vrederyk op aarde gedeeltelik weggeneem word, en wat dan volkome met die aanvang van die ewigheid, na afloop van die Duisendjarige Vrederyk en die Wit Troon Oordeel, weggeneem sal word. Lees asb die artikels “Die Profetiese Rede op die Olyfberg” vir meer inligting rondom hierdie aangeleentheid.) 3:20 En die mens het sy vrou Eva genoem, omdat sy moeder geword het van alles wat lewe. 3:21 En die HERE God het vir die mens en sy vrou rokke van vel gemaak en hulle dit aangetrek. (die eerste keer dat ‘n lewende wese in die Bybel fisies gedood is, wat as indikasie dien dat sonder die vergieting van bloed daar geen vergifnis van sonde is nie, [Hebr. 9:22] en wat as grafiese heenwysing van Christus se verlossingswerk aan die Kruis dien!) 3:22 Toe sê die HERE God: Nou het die mens geword soos een van Ons deur goed en kwaad te ken. As hy nou maar nie sy hand uitsteek en ook van die boom van die lewe neem en eet en lewe in ewigheid nie!  (Die vloek van fisiese dood kan ook derhalwe as ‘n genadegawe van God se kant af beskou word. Die rede vir hierdie stelling is, dat indien die mens nou in ‘n gevalle toestand vir ewig in hulle gevalle liggame, in ‘n gevalle wêreld sou bly voortlewe, hy vir ewig sou ly soos wat die toestande in die wêreld a.g.v die wet van entropie sou versleg, asook die feit dat fisiese siektes deur genetiese mutasies sou ontstaan en toeneem. Dus sou die wêreld ‘n lewende hel geword het, en sou daar geen moontlikheid van bevryding gewees het nie. Dink maar aan iemand wat kanker het en verskriklike lyding ervaar, en waar daar geen moontlikheid van bevryding is nie, en dat daardie toestand vir ewig sal voortduur, en toeneem, en dat daar slegs verdere ongeneesbare siektes by hierdie toestand sou kon bykom. Dit geld ook vir persone wat deur ongeluk of oorlog vermink of verlam is, en wat dan vir ewig in hierdie toestand sou verkeer het, sonder die hoop van enige verbetering of uitkoms. Dit is dus opmerklik dat daar selfs in God se straf ‘n versteekte seëning was!)
3:23 Toe stuur die HERE God hom weg uit die tuin van Eden om die grond te bewerk waaruit hy geneem is. 3:24 So het Hy dan die mens weggedrywe en gérubs aan die oostekant van die tuin van Eden laat woon, met die swaard wat vlam en flikker, om die toegang tot die boom van die lewe te bewaak.”

Ter Afsluiting: Om die bestaan van die Duiwel en sy invloed te ontken is om ernstig mislei te wees, en boonop sal dit daartoe bydrae dat ‘n persoon nie die wêreld en gebeure binne die wêreld, wat die persoon self insluit, mooi sal begryp nie. Daar bestaan geen twyfel dat daar onsigbare magte in die agtergrond bedrywig is en hierdie magte poog om die mensdom se optrede te beïnvloed. (Hierdie feit sluit ook die leierskap van volke, asook die beleidsrigtings wat hulle nastreef in. Hierdie is egter besprekingspunte vir ‘n hele nuwe reeks artikels, en indien die Here dit so wil, sal ek nog daardie onderwerp aanspreek.) Dit moet egter mooi begryp word, dat die duiwel wel ‘n persoon kan versoek, maar hy kan nie daardie persoon maak sonde pleeg nie, en indien ‘n persoon wel kies om te sondig, bly hy persoonlik teenoor God verantwoordelik vir daardie sonde. Die ou gesegde wat soos volg lui: “Die duiwel het my gemaak sonde pleeg” sal nooit as verskoning by God aanvaarbaar wees nie. Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Bind en ontbind van bose geeste” vir meer inligting rondom hierdie feit te lees.) In die volgende artikel sal ons verder gaan, en die punte wat ons in die voorafgaande reeks studies bespreek het, op ‘n praktiese wyse saamvat, om sodoende ‘n praktiese oplossing vanuit die Bybel aan die leser voor te hou, wat daartoe sal bydrae dat ons die duiwel effektief kan weerstaan en om sodoende staande in die stryd te bly.

Tot die volgende keer! Seën Groete!

Vic

Deel met ander asb.