Die Koninkryk deel drie

Die Messiaanse Koninkryk van Christus op aarde. Deel 3

In deel drie van hierdie reeks artikels genaamd “die Messiaanse Koninkryk van Christus op aarde” gaan ons die gebeure wat na die oploop en vestiging van daardie Koninkryk op aarde kortliks hier weergee en bespreek. Die leser word aangeraai om hoofstukke 14-25 in die evangelie van Mattheus te lees. Die Verdrukking, wat sewe jaar lank sal duur, en wat in twee gedeeltes van 3½ jaar opgedeel word, begin nie onmiddelik na die Wegraping wat die Kerk Dispensasie afsluit nie. Die Verdrukking begin amptelik wanneer die Antichris, na afloop van die Wegraping, sy verskyning op die wêreld (spesifiek die Westerse) politieke toneel sal maak en ‘n vredesverdrag met Israel sluit. Daar sal dus ‘n gaping tussen die Wegraping en die aanbreek van die Verdrukking wees, en daarom kan die wegraping enige tyd nou plaasvind, omrede daar geen profetiese gebeure is wat moet plaasvind alvorens die wegraping kan plaasvind nie. Die gebeure wat ons nou in die wêreld sien plaasvind het slegs op Christus se wederkoms betrekking, en dek die tafel vir die verskyning van die Antichris en aanbreek van die Verdrukking. Onthou, die wegraping is altyd dreigend, en is nie direk aan die Verdrukking gekoppel nie en daarom kan dit enige tyd plaasvind. Daardie gaping van tyd kan van sekondes tot self dekades lank duur, en daarom moet ons nou die tyd uitkoop om die evangelie van God se genade te verkondig en genadeloon te versamel. Onthou, die wegraping kan nie meer ver wees nie, veral met wat ons in die wêreld sien gebeur. Die leser word versoek om die nuwe reeks illustrasies, naamlik: “Daniël se Sewentig Jaarweke” , asook “Nebukadnesar se droom en Daniël se visioen in Daniël 7” sorgvuldig te bestudeer.

1. Die toestande wat tydens die eerste 3½ jaar, of te wel die begin van die geboortepyne sal heers: (Matt.24:4-14)

a. Daar sal ‘n vredesverdrag met Israel in die Midde Ooste gesluit word:

Vir enige vredesverdrag om met Israel gesluit te word, vereis dat Israel weer in hulle landgebied teenwoordig moes wees. Na amper tweeduisend jaar waartydens Israel nie as ‘n nasie bestaan het nie, het Israel in 1948 ontstaan toe hulle op die 14de Mei 1948 hulle onafhanklikheid verklaar en weer as nasie ontstaan het. Na afloop van die Wegraping sal die Antichris, wat uit konfederasie van Westerse lande kom, ‘n vredesverdrag met Israel sluit wat Israel se veiligheid sal waarborg. Die Verdrukking begin dus nie met die wegraping nie maar eers wanneer die Antichris ‘n vredesverdrag met Israel aangaan. Die skrifte is baie duidelik op hierdie punt, naamlik:
Dan.9:20 “Terwyl ek (Daniël) nog spreek en bid en my sonde en die sonde van my volk Israel bely (wat hulleself in die Babiloniese ballingskap bevind het) en my smeking voor die aangesig van die HERE my God neerwerp, ter wille van die heilige berg van my God, 21 terwyl ek nog spreek in die gebed, het die man (engel) Gabriël wat ek, uitgeput van vermoeienis, ‘n vorige keer in die gesig gesien het, na my gekom omtrent die tyd van die aandspysoffer. 22 En hy het my onderrig en met my gespreek en gesê: Daniël, nou het ek heengegaan om jou insig te gee. 23 By die begin van jou smekinge het ‘n woord uitgegaan, en ek het gekom om dit mee te deel, want jy is ‘n geliefde man; gee dan ag op die woord en verstaan die gesig. 24 Sewentig sewetalle is oor jou volk (Irsael) en jou heilige stad (Jerusalem) bepaal, om die goddeloosheid te voleindig en om die maat van die sondes vol te maak en om die ongeregtigheid te versoen en om ewige geregtigheid aan te bring en om gesig en profeet te beseël en om wat hoogheilig is, te salf. (al hierdie gebeure sal eers met die oprigting van Christus/God se koninkryk op aarde afgehandel wees) 25 Nou moet jy weet en verstaan: van die uitgang van die woord af om Jerusalem te herstel en op te bou tot op ‘n Gesalfde, ‘n Vors, (die Here Jesus Christus) is sewe sewetalle; en twee en sestig sewetalle lank sal dit (Jerusalem) herstel en opgebou word, met pleine en slote, maar in tye van benoudheid. 26 En ná die twee en sestig sewetalle sal ‘n Gesalfde (die Here Jesus Christus) uitgeroei (gedood) word, maar sonder iets vir Hom; en die volk (die Romeinse Ryk) van ‘n vors (die Antichris) wat sal kom, sal die stad (Jerusalem) en die heiligdom verwoes, (die tempel in Jerusalem is in 70nC deur die Romeinse ryk verwoes) maar sy (die vors wat die komende westerse alliansie, of te wel die hervormde Romeinse Ryk, sal regeer se) einde sal met ‘n oorstroming wees, en tot die einde toe sal dit oorlog wees, vasbeslote verwoestings. 27 En hy (die Antichris, wat aan die hoof van ‘n Westerse Alliansie, of te wel die herstelde Romeinse Ryk, staan ) sal een week (7Jaar) lank met baie (die meerderheid in Israel, omrede hulle oor ‘n demokratiese politieke stelsel beskik) ‘n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die week (3½ jaar) sal hy slagoffer en spysoffer (Joodse tempel diens) laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar ‘n verwoester wees, (die gruwel van verwoesting waarna die Here Jesus Christus in Matt.14:25 verwys het) en wel tot aan die einde; (Verdrukking) en wat vas besluit is, sal oor wat woes is, uitgestort word.” (Die leser word ten sterkste aangeraai om die illustrasie “Daniël se 70 jaar weke” sorgvuldig te bestudeer, wat die verstaan hierdie onderwerp baie sal vergemaklik.)

As gevolg van die verdrag wat die Antichris met Israel sal teken, en wat Israel se veiligheid sal waarborg begin ‘n valse vrede vir Israel wat nie lank sal duur nie, naamlik:
Openb.6:1 “En ek het gesien toe die Lam (die Here Jesus Christus) een van die seëls oopmaak; (die boekrol wat deur die sewe seëls verseël is, en wat die titelakte van die wêreld is) en ek het een van die vier lewende wesens hoor sê, soos die geluid van ‘n donderslag: Kom kyk! 2 En ek het gesien, en kyk, daar was ‘n wit perd. En hy wat daarop sit, (die Antichris) het ‘n boog; en aan hom is ‘n kroon (heerskappy) gegee, en hy het uitgegaan as ‘n oorwinnaar en om te oorwin.”
Aanvanklik kom die Antichris as ‘n vredemaker voor, maar hy sal gou tot geweld oorgaan om sy doel van wereld heerskappy te bereik. Slegs Israel as nasie sal die eerste helfte van die Verdrukking redelike vrede ervaar omrede die Antichris hulle veiligheid sal waarborg

b. Daar sal grootskaalse geestelike verleiding d.m.v. grootskaalse ekumeniese betrokkenheid wees:

Matt.24:3 “En toe Hy op die Olyfberg gaan sit het, kom die dissipels alleen na Hom en sê: Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld? En Jesus antwoord en sê vir hulle: Pas op dat niemand julle mislei nie.”
Die feit dat die ware kerk d.m.v. die wegraping van die aarde af verwyder is, beteken geensins dat daar nie ‘n “kerk” na afloop van die wegraping op aarde sal bestaan nie. Daar sal ’n “kerk” wees maar dit sal nie die Kerk/liggaam van Christus wees nie. Hierdie kerk gaan deel van ‘n wêreldwye ekumeniese godsdiensstelsel wees wat beteken dat almal wat aan die “Kerk” behoort ongered sal wees, omrede die ware Kerk alreeds d.m.v. die Wegraping van die aarde verwyder is en wat die Dispensasie van die Kerk finaal afgesluit het. Ons merk nou alreeds hoe ver die ekumeniese godsdiensstelsel gevorder het en die Wêreld Raad van Kerke is een van die pilare waarop daardie ekumeniese beweging gebou sal word. (Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Luciferiese elite se opmars na ‘n een wêreldregering”, asook die illustrasie “Die Luciferiese Globale Netwerk” te bestudeer.

c. Daar sal voortgesette nasionale konflikte wees:

In stede van vrede op die wêreld te bewerkstellig sal die Antichris eerder die teenoorgestelde doen. Die skyn van vrede sal vinnig deur oorlog vervang word en grootskaalse lewens verlies sal die orde van die dag wees.
Openb.6:3 En toe Hy (die Here Jesus Christus) die tweede seël oopgemaak het, hoor ek die tweede lewende wese sê: Kom kyk! 4 En ‘n ander perd, ‘n vuurrooie, het uitgekom, en aan hom (die Antichris) wat daarop sit, is dit gegee om die vrede van die aarde af weg te neem en dat hulle mekaar sou doodmaak; en ‘n groot swaard is aan hom gegee.”
Let op die stelling “is dit gegee om die vrede van die aarde af weg te neem en dat hulle mekaar sou doodmaak; en ‘n groot swaard is aan hom gegee.” Alhoewel die Antichris d.m.v. sy eiewaan sy wil uitvoer, bly hy egter nog steeds ‘n instrument in God se hande om die aardbewoners te straf. Die mag om die vrede van die wêreld af weg te neem, asook die swaard wat aan hom gegee is dien as bewys dat hy nie sou kon optree indien God hom nie toegelaat het nie. Die Antichris, net soos Satan, is volkome in God se mag.

Die Here Jesus Christus het vooraf al na hierdie gebeure tydens Sy prediking op die Olyfberg verwys, naamlik:
Matt.24:6 “En julle (Israel) sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pas op, moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde (van die verdrukking) nie. 7a Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander;”
Dis ‘n ernstige mistasting om te dink dat die Verenigde Nasies ‘n einde aan konflik gaan maak. In werklikheid skep die Verenigde Nasies meer probleme as wat hulle oplos en sake sal net vererger soos wat die tyd van Christus se wederkoms nader kom. Die woord wat as “nasie” in Afrikaans vertaal is kom van die Griekse woord “ethnos” af, en dit is waar ons die Afrikaanse woord “etnies” vandaan kry. Rassespanning sal toeneem, nie afneem nie. Kyk maar hoe word ras as wig deur politieke partye aangewend om hulle eie doelstellings te bewerkstellig. Solank as wat die Koning van Vrede nie op die aarde teenwoordig is nie sal oorlog ‘n algemene verskynsel wees. Dit is slegs Christus wat waarlik vrede op aarde sal kan bewerkstellig, en Hy sal dit ook na afloop van Sy wederkoms bewerkstellig.

d. Hongersnood:

Hongersnood volg gewoonlik kort op die hakke van oorloë. Dit sal veral die geval tydens die Verdrukking wees.
Openb.6:5 “En toe Hy die derde seël oopgemaak het, hoor ek die derde lewende wese sê: Kom kyk! En ek het gesien, en kyk, daar was ‘n swart perd; en hy (die Antichris) wat daarop sit, het ‘n skaal in sy hand. 6 En ek het ‘n stem tussen die vier lewende wesens hoor sê: ‘n Rantsoen koring vir ‘n penning en drie rantsoene gars vir ‘n penning; en moenie die olie en die wyn beskadig nie.”

e. Daar sal wydverspreide rampe en siektes wees:

Matt.24:7ff “en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke. 8 Maar al hierdie dinge is ‘n begin van die smarte.” (begin van die Verdrukking) Hierdie is die begin van die geboorte pyne wat in die volgende sewe jaar in intensiteit sal toeneem. In teenstelling met die beloofde vrede wat die Antichris se vredesverdrag met Israel in die Midde Ooste teweeg sou bring, sal die smarte van die Verdrukking die wêreld egter oorval, naamlik:
1Thess.5:3 “Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid — dan oorval ‘n skielike verderf hulle soos die barensnood ‘n swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie.”

f. Dood:

Onnatuurlike sterftes sal ongekende proporsies aanneem en sal daartoe aanleiding gee dat die wêreld se populasie drasties sal afneem.
Openb.6:7 “En toe Hy die vierde seël oopgemaak het, hoor ek die stem van die vierde lewende wese sê: Kom kyk! 8 En ek het gesien, en kyk, daar was ‘n vaal perd. En hy wat daarop sit, sy naam is die dood, en die doderyk het hom gevolg. En aan hulle is mag gegee oor die vierde deel van die aarde om dood te maak met swaard en hongersnood en pes en deur die wilde diere van die aarde.”
Met die aanbreek van die Groot Verdrukking, wat teen die teen die middel van die Verdrukking (3½ jaar) met die verskyning van die Gruwel van Verwoesting sal aanbreek, sal tot verdere ongekende lewensverlies aanleiding gee, naamlik:
Open.9:15 “Toe is die vier engele losgemaak wat gereed gehou was vir die uur en dag en maand en jaar, om ‘n derde van die mense dood te maak.”

e. Met die aanbreek van die verdrukking sal daar intense vervolging van gelowiges plaasvind:

Matt.24:9 “Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam. 10 En dan sal baie tot struikel gebring word en mekaar verraai en mekaar haat. 11 En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei. 12 En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel. 13 Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.”
A.g.v. die verkondiging van die Evangelie van die Koninkryk deur onder andere die 144000 Joodse gelowiges sal baie mense gelowig word en die Antichris sal hierdie gelowiges begin vervolg. Kontekstueel het die stelling “ Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.” niks met die ewige lewe te make nie, maar verklaar dat die gelowiges wat tot die einde toe volhard, met Christus se wederkoms, van die grootskaalse lewensverlies wat tydens die Groot Verdrukking sal plaasvind gered sal word, en hulle sal dan met hulle huidige liggame (nie verheerlikte liggame) die Koninkryk van Christus binnegaan en sal die wêreld weer herbevolk. (onder andere die Skape en Bokke Oordeel, ook bekend as die Oordeel van die Nasies. Matt.25:31-46)
Matt.25:34 “Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê: Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af.”

g. Martelare

Tydens die Verdrukking gaan die Antichris die grootste vervolging van gelowiges van alle tye van stapel stuur. Baie Tribulasie/Verdrukking gelowiges gaan ook vir hulle geloof gedood word.
Openb.6:9 “En toe Hy die vyfde seël oopgemaak het, sien ek onder die altaar die siele van die wat gedood is ter wille van die woord van God en die getuienis wat hulle gehad het. 10 En hulle het met ‘n groot stem uitgeroep en gesê: Hoe lank, o heilige en waaragtige Heerser, oordeel en wreek U nie ons bloed op die bewoners van die aarde nie? 11 En aan elkeen van hulle is wit klere gegee; en aan hulle is gesê dat hulle nog ‘n klein tydjie moes rus totdat ook hulle medediensknegte en hulle broeders wat nog gedood sou word soos hulle, voltallig sou wees.”
Die Here gaan toelaat dat hierdie gelowiges gedood word, om die mate van die bose se beker vol te maak waarna Hy hulle bloed sal wreek. Boonop gee die vervolging van gelowiges hulle die geleentheid om genadeloon te bekom wat baie langer as hierdie lewe sal voortduur. Gelowiges wat tydens die Verdrukking hulle lewens vir hulle geloof verbeur sal saam met Christus in Sy koninkryk regeer. (Openb.20:4) En onthou:
Ps.116:15 “Kosbaar is in die oë van die HERE die dood van sy gunsgenote.”
Omrede ons nog oor ‘n sonde natuur beskik, besef ons nie altyd dat die dood van ‘n gelowige in werklikheid ‘n seën is nie, omrede hy sy erflating ingaan wat oneindig beter as hierdie lewe is.
1Kor.2:9 “maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet.”

Die boodskap wat tydens die Verdrukking verkondig sal word:
Matt.24:14 “En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ‘n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.”
Let op die stelling “hierdie evangelie van die koninkryk” nie die “evangelie van God se genade” soos wat ons nou tydens die Dispensasie van die Kerk/Genade verkondig nie.

2. Die toestande wat tydens die laaste 3½ jaar van die Verdrukking, naamlik die Groot Verdrukking sal heers: (Matt.24:15-26)

a. Die Tempel sal weer herbou word:

Teen die tweede helfte van die Verdrukking, wat as die Groot Verdrukking bekendstaan, sal die herboude tempel in Jerusalem alreeds teenwoordig wees en die Jode se tempeldiens, soos in die Ou Testament gevind, sal alreeds hervat wees. Matt.24:15 “Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom — laat hy wat lees, oplet —“
Die Here Jesus Christus verwys hier na die profesie wat Daniël gemaak het en wat oor die Antichris handel. Daniël het geprofeteer dat die Antichris (die klein horinkie) binne die tempel sal gaan, en die tempel sal ontheilig en daar homself tot God verklaar. Hy gaan ook dan ‘n einde aan die Joodse se godsdiensoefening maak en beveel dat slegs hy as god aanbid mag word.
Dan.9:27 “En hy sal een week lank met baie ‘n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar ‘n verwoester wees, en wel tot aan die einde; en wat vas besluit is, sal oor wat woes is, uitgestort word.”
Die apostel Paulus het ook na hierdie gebeurtenis verwys, naamlik:
2Thess.2:3 “Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom ( die wegraping wat deur ongekende geestelike misleiding gevolg sal word)en die mens van sonde (Antichris) geopenbaar word, die seun van die verderf 4 die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is.” (Gruwel van verwoesting)

In vergelyking met die moderne bou projekte van vandag, is dit die tempel maar klein en kan baie vinnig opgerig word. Maar een feit bly staan, daar sal ‘n herboude tempel in Jerusalem staan wat deur die Antichris ontheilig sal word. Die tempel kan met vandag se boumetodes letterlik in ‘n jaar voltooi wees en sal alreeds vroeg tydens die eerste helfte van die Verdrukking in gebruik wees.

b. Daar sal ‘n gruwel van verwoesting wees:

Matt.24:15 “Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, (Dan.9:27)sien staan in die heiligdom — laat hy wat lees, oplet —“

Na afloop van die Wegraping sal die wêreld hoofsaaklik in drie geopolitieke magsbokke verdeeld wees, naamlik:

a. ‘n Westerse konfederasie (herstelde Romeinse Ryk) onder bewind van die Antichris. Aanvanklik sal die Westerse magsblok deur tien leiers regeer word, waarna die Antichris drie van die leiers wat teen sy oorname protesteer dood en met drie ander vervang. Na hierdie gebeure sal die tien leiers hulle mag aan die Antichris oorgee en as sy onderdane onder hom regeer. Sodra hy sy mag in die Westerse konfederasie verseker het, plaas dit hom in ‘n posisie om n’ vredesverdrag met Israel aan te gaan wat die wêreld sal oortuig dat die probleme wat ons tans in die Midde-Ooste waarneem opgelos is. Die Europese Unie dien as die kern waaruit die Westerse geopolitieke magsblok van die Antichris te voorskyn sal kom. (Dan.7:8) Wanneer die tien leiers hulle mag aan die Antichris oorgee, dan sal hy volkome beheer oor die herstelde Romeinse Ryk (westerse konfederasie) bekom, en sal dan die grootste deel van Europa, asook die gebied rondom die Middellandse See wat die Romeinse Ryk oorspronklik beheer het, beheer.

b. Die Noord Suid Geopolitieke Magsblok, wat deur Rusland gelei word en waarvan die suidelike gedeelte hoofsaaklik uit Moslem lande vanuit die Midde Ooste en Noord Afrika bestaan. (Dan. 11:40-41; Eseg.38) Dit sal lande soos Rusland, Iran, Sentraal Asiatiese Moslem lande wat moontlik Afganistan insluit, Turkye, Sudan, en Libië ensovoorts. Ons sien nou alreeds hoe hierdie magsblok vorm aanneem.

c. Die Oosterse Geopolitieke Magsblok, wat hoofsaaklik uit Oosterse lande (wat China insluit) saamgestel sal wees en wat in die Bybel as “Die konings van die ooste beskryf word. (Openb.16:12)

Die weg vir die Antichris om as wêreldleier te regeer word bewerkstellig wanneer ‘n Russies-Islamitiese konfederasie ( Die Noord Suid Geopolitieke Magsblok) Israel binneval en op ‘n bonatuurlike wyse deur God vernietig word. (Die leser word self aangeraai om Eseg. 37-38 te lees waar die oorlog van Gog en Magog beskryf word.) Die gebeure soos in Eseg.37-38 beskryf baan die weg vir die Antichris om sy verbond met Israel te verbreek, en Jerusalem ongehinderd binne te gaan en homself daar tot God te verklaar. Omrede die Russies-Islamitiese magsblok deur God geneutraliseer is laat die die weg vir die Antichris oop om as wêreld regeerder op te tree. Die Antichris sal dus slegs is die tweede helfte van die Verdrukking, wat ook as die Groot Verdrukking bekendstaan, as wêreld heerser regeer en waar hy ‘n een wêreld regering, een wêreld godsdiensstelsel, asook ‘n een wêreld gesentraliseerde ekonomie sal instel. Indien dit die Here se wil is sal ek binnekort ‘n artikel oor die Eseg.37-38 oorlog skryf.

Openb.13:1-18 beskryf ook hierdie gebeurtenis, naamlik:
Openb.13:1 “En ek het ‘n dier uit die see (heiden nasies of te wel die nie Joodse Nasies) sien opkom met sewe koppe en tien horings, en op sy horings tien krone (die Antichris en sy ryk) en op sy koppe ‘n naam van godslastering. 2 En die dier wat ek gesien het, was soos ‘n luiperd, (Griekse Ryk. Dan.7) en sy pote soos dié van ‘n beer, (Medo-Persiese Ryk. Dan.7) en sy bek soos die bek van ‘n leeu; (Babiloniese Ryk. Dan.7) en die draak (duiwel. Openb.12:9) het hom (Antichris) sy krag gegee en sy troon en groot mag. (die herstelde Romeinse ryk sal dus elemente van bogenoemde ryke bevat en sal verskriklik wees.) 3 En ek het een van sy koppe (die Antichris) gesien net of dit dodelik gewond was, en sy dodelike wond is genees. (Sataniese wonderwerk)En die hele wêreld het verwonderd agter die dier (Antichris) aan gegaan. 4 En hulle het die draak (die duiwel) aanbid wat die dier (Antichris) mag gegee het, en die dier (Antichris) aanbid en gesê: Wie is aan die dier (Antichris) gelyk? Wie kan teen hom oorlog voer? 5 En ‘n mond is aan hom gegee wat groot woorde en godslasteringe uitspreek, en aan hom is mag gegee om dit twee en veertig maande (3½ jaar) lank te doen. 6 En hy het sy mond oopgemaak om te laster teen God, om sy Naam en sy tabernakel en die wat in die hemel woon, te laster. 7 Dit is ook aan hom gegee om oorlog te voer teen die heiliges en hulle te oorwin, en aan hom is mag gegee oor elke stam en taal en nasie. 8 En al die bewoners van die aarde sal hom aanbid, almal wie se name nie van die grondlegging van die wêreld af in die boek van die lewe van die Lam (die Here Jesus Christus wat vir die mens se sondes gesterf het) wat geslag is, geskrywe is nie. 9 As iemand ‘n oor het, laat hom hoor. 10 As iemand krygsgevangenes maak, gaan hy in krygsgevangenskap; as iemand met die swaard doodmaak, moet hy met die swaard doodgemaak word. Hier is die lydsaamheid en die geloof van die heiliges. 11 En uit die aarde het ek ‘n ander dier (die Vals Profeet) sien opkom, en hy het twee horings gehad net soos ‘n lam (vroom voorgekom) en het gepraat soos ‘n draak. (dwaalleer verkondig) 12 En hy oefen al die mag van die eerste dier uit voor sy oë, en hy maak dat die aarde en die wat daarop woon, die eerste dier (die Antichris) aanbid, waarvan die dodelike wond genees is. 13 Hy doen ook groot tekens, (Satanies-geïnspireerde wonderwerke) sodat hy selfs vuur uit die hemel laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense. 14 En hy verlei die bewoners van die aarde deur die tekens (Satanies-geïnspireerde wonderwerke) wat hom gegee is om voor die oë van die dier (Antichris) te doen, deur aan die bewoners van die aarde te sê dat hulle ‘n beeld moet maak vir die dier wat die swaardwond ontvang en lewendig geword het. 15 En dit is hom (die Vals Profeet) gegee om ‘n (bose) gees aan die dier se beeld te gee, sodat die dier se beeld ook sal praat en maak dat almal gedood word wat die dier se beeld nie aanbid nie. (een wêreld Godsdiens) 16 En hy (die Vals Profeet) maak dat aan almal, klein en groot, en die rykes en die armes, en die vrymense en die slawe ‘n merk op (nie in soos wat baie mense verkeerdelik verkondig) hulle regterhand en op hulle voorhoofde gegee word; 17 sodat niemand kan koop of verkoop nie, (‘n gesentraliseerde een wêreld ekonomie) behalwe hy wat die merk of die naam van die dier of die getal van sy naam het. 18 Hier kom die wysheid te pas. Wie die verstand het, laat hom die getal van die dier bereken, want dit is die getal van ‘n mens; en sy getal is ses honderd ses en sestig.” (666)

d. Anti-Semitisme sal drasties toeneem:

Matt.24:16 “dan moet die (Jode) wat in Judéa is, na die berge vlug; 17 wie op die dak is, moet nie afkom om iets uit sy huis weg te neem nie; 18 en wie op die land is, moet nie omdraai om sy klere weg te neem nie. 19 Maar wee die vroue wat swanger is en die wat nog soog, in daardie dae. (Want dit sal moeilik wees om met klein kindertjies en swanger vrouens na die berge te vlug) 20 En bid dat julle vlug nie in die winter of op die sabbat (Jode mag slegs ‘n sekere afstand op die Sabbatdag beweeg) mag plaasvind nie.21 Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. 22 En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes (Israel) sal daardie dae verkort word.”
Satan weet dat indien hy dit sou regkry om al die Jode uit te wis, dat God se verbond en beloftes met Israel verbreek is, en dit sou beteken dat hy God op hierdie punt oorwin het wat hom dan die reg sal gee om vir altyd oor die aarde te heers. Openbaring bevestig hierdie feit en maak dit ook duidelik dat God sal verseker dat Satan nie in sy doelstellings slaag nie, naamlik: .
Openb.12:1 “En ‘n groot teken het in die hemel verskyn: ‘n vrou wat met die son bekleed was, en die maan was onder haar voete, en op haar hoof ‘n kroon van twaalf sterre; (Israel se Stamvaders. Gen.37:9) 2 en sy was swanger en het uitgeroep in haar weë en barensnood. 3 En ‘n ander teken het in die hemel verskyn, en daar was ‘n groot vuurrooi draak (die duiwel) met sewe koppe en tien horings, en op sy koppe sewe krone; 4 en sy stert het die derde van die sterre (engele) van die hemel meegesleep en hulle op die aarde gegooi. (Omrede hulle saam hulle oorspronklik saam met Satan teen God gerebelleer het) En die draak het gestaan voor die vrou (Israel) wat op die punt was om te baar, sodat hy haar kind (die Here Jesus Christus) sou verslind sodra sy gebaar het. (Herodes se poging om Christus as baba te vermoor Matt.2:1-18) 5 En sy het ‘n manlike kind gebaar, (die Here Jesus Christus) wat al die nasies met ‘n ystersepter sou regeer; en haar kind is weggeruk na God en sy troon. (Christus se hemelvaart) 6 En die vrou (Israel) het (met die aanbreek van die Groot Verdrukking) na die woestyn gevlug waar sy ‘n plek het (heel waarskynlik Petra, ook bekend as Bozra wat in Jordanië geleë is) wat deur God gereed gemaak is, dat hulle haar daar sou onderhou duisend twee honderd en sestig dae (3½ jaar) lank.” (die laaste helfte van die Verdrukking, naamlik die Groot Verdrukking) Satan haat God, en daarom haat hy Israel as nasie, elke Jood en elke ware gelowige. Ons merk nou alreeds dat anti-Semitisme oral in die wêreld aan die toeneem is, en wat finale uitdrukking tydens die Groot Verdrukking onder die Antichris uitdrukking sal vind. Let op die stelling: “en haar kind is weggeruk (harpazo) na God en sy troon. Dit is opvallend dat die Griekse woord “harpazo” ook in 1Thess. 4:17 gebruik word wat die wegraping van die Kerk beskryf.

e. Daar sal ongeëwenaarde oordeel van God op aarde wees:

Matt.24:21 “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. 22 En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word. 23 As iemand dán vir julle sê: Kyk, hier is die Christus! of: Daar! — moet dit nie glo nie. 24 Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei. 25 Kyk, Ek het dit vir julle vooruit gesê. 26 As hulle dan vir julle sê: Kyk, Hy is in die woestyn — moenie uitgaan nie; kyk, Hy is in die binnekamer — moet dit nie glo nie.”
Indien God die Groot Verdrukking nie tot slegs 3½ jaar beperk het nie dan sou geen mens op aarde oorleef het nie. Die seël, trompet en bak/skaal oordele kom van God af en is die uitstorting van Sy toorn op die aardse bewoners. Hierdie gebeure staan ook as die Dag van die Here bekend, naamlik:
Jes.13:9 “Kyk, die dag van die HERE kom, verskriklik, met grimmigheid en toorngloed, om die aarde ‘n woesteny te maak en sy sondaars daaruit te verdelg. 10 Want die sterre van die hemel en sy Oríons sal hulle lig nie laat skyn nie; die son is duister by sy opgang, en die maan laat sy lig nie skyn nie. 11 En Ek sal aan die wêreld sy boosheid besoek, en aan die goddelose hulle ongeregtigheid; en Ek sal die trots van die vermeteles laat ophou en die hoogmoed van tiranne verneder. 12 En Ek sal sterwelinge skaarser maak as fyn goud, en mense as goud van Ofir. 13 Daarom sal Ek die hemel laat sidder, en die aarde sal wyk uit sy plek met gebeef, vanweë die grimmigheid van die HERE van die leërskare en vanweë die dag van sy toorngloed.”
En ja, hierdie gebeure is nie meer ver nie!

C. Die komponente van Christus se Wederkoms:

a. Die hele wêreld sal die wederkoms van die Here Jesus Christus waarneem:

Matt.24:27 “Want soos die weerlig uit die ooste uitslaan en tot in die weste skyn, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees. (Christus sal met die blote oog waargeneem kan word net soos wat weerlig met die blote oog waargeneem kan word, en boonop sal Christus se Wederkoms in die ooste begin en na die weste uitbrei. Onthou die aarde draai.) 28 Want oral waar die dooie liggaam lê, daar sal die aasvoëls saamkom. 29 En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word. 30 En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, (Christus se Shekinah Glorie)en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid. 31 En Hy sal sy engele uitstuur met harde trompetgeluid, en hulle sal sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die een einde van die hemele af tot die ander einde daarvan.”

b. Christus se wederkoms sal met grootskaalse dood gepaardgaan: (Matt.24:28)

Met Christus se wederkoms sal Hy die weermagte van die wêreld verslaan wat tot grootskaalse dood aanleiding sal gee.
Openb.14:14 “En ek het gesien, en kyk, daar was ‘n wit wolk en een soos ‘n Menseseun (Die Here Jesus Christus) wat op die wolk sit, met ‘n goue kroon op sy hoof en in sy hand ‘n skerp sekel. 15 En ‘n ander engel het uit die tempel gekom en met ‘n groot stem geroep na Hom wat op die wolk sit: Slaan u sekel in en maai, want die uur het vir U gekom om te maai, omdat die oes van die aarde oorryp geword het. 16 En Hy wat op die wolk sit, het sy sekel oor die aarde laat gaan, en die aarde is afgemaai.”
Armageddon, soos wat ons dit in openbaring waarneem, sal in agt fases plaasvind en is in werklikheid ‘n militêre veldtog. ‘n Engel van God sal die voëls van die lug uitnooi om die vlees van die dooies te eet en daarom staan die slag van Armageddon ook as die maaltyd van die grote God bekend.
Openb.19:11“Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was ‘n wit perd, en Hy (die Here Jesus Christus) wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid. 12 En sy oë was soos ‘n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone; (volkome heerskappy) en Hy het ‘n Naam wat geskrywe is, wat niemand ken nie, behalwe Hy self. 13 En Hy was bekleed met ‘n kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is: Die Woord van God. 14 En die leërs (wat engele en die Kerk insluit) in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne. 15 En uit sy mond gaan daar ‘n skerp swaard (Sy woord) om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ‘n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige. 16 En Hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: Die Koning van die konings en die Here van die here. 17 En ek het een engel sien staan in die son; en hy het met ‘n groot stem uitgeroep en vir al die voëls gesê wat in die middel van die lug vlieg: Kom hierheen en versamel julle tot die maaltyd van die grote God, 18 dat julle kan eet die vlees van konings en die vlees van owerstes oor duisend en die vlees van sterkes en die vlees van perde en van die wat daarop sit, en die vlees van almal, vrymense sowel as slawe, klein sowel as groot. 19 En ek het die dier (Die Antichris) en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit, en teen sy leër. (die hele wêreld sal saamstaan om Christus se wederkoms te probeer stuit) 20 En die dier (Antichris) is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand. (waar hulle vir ewig gepynig sal word) 21 En die ander (soldate) is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit; en al die voëls is versadig van hulle vlees.

Openb.9:11-21 verskaf aan ons die mees omvattende beskrywing van die wederkoms van Christus. Dit is boonop opmerklik dat in bogenoemde teksgedeelte daar geen sprake van die wegraping of opstanding gemaak word nie. Die rede hiervoor is eenvoudig. Die Wegraping van die Kerk vind voor die Verdrukking en Christus se wederkoms plaas.

c. Christus se wederkoms sal deur onheilspellende tekens in die hemele gepaardgaan:

Matt.24:29 “En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, (onheilspellende teken) en die maan sal sy glans nie gee nie, (onheilspellende teken) en die sterre sal van die hemel val, (onheilspellende teken) en die kragte van die hemele sal geskud word. (onheilspellende teken) 30 En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, (Christus se Shekinah Glorie) en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf (Sag.12:10)en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid. 31 En Hy sal sy engele uitstuur met harde trompetgeluid, en hulle sal sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die een einde van die hemele af tot die ander einde daarvan.”
Bogenoemde gebeure lê die grondslag vir Christus se Duisendjarige Vrederyk op aarde, net soos wat Hy Sy uitverkore volk Israel belowe het.

Ter Afsluiting: Ek gaan vir eers hier afsluit. Die gebeure wat ons nou in Israel sien plaasvind dien as indikasie dat die wegraping nie meer ver kan wees nie. Antisemitisme sal toeneem, en lande soos Iran en groepe soos Hamas het net een doel, en dit is om Israel totaal en al te vernietig. Wat ons wel sien is dat Rusland alreeds Israel vir die barbaarse aanval wat op 7 Oktober 2023 binne Israel deur Hamas uitgevoer is blameer, en ons weet Iran sit agter die beplanning van die aanvalle. Hierdie vyandskap tussen Israel en haar vyande sal voortduur tot en met die dag waarop die Antichris met Israel ‘n sewe jaar verbond sal sluit en wat hy teen die middel daarvan sal verbreek. Meer inligting hieromtrent sal in die komende artikels weergegee word. Dinge gebeur nou vinnig en dit is tyd dat ons almal in God se wil lewe en vir die vrede van Jerusalem bid. In teenstelling met wat die oorgroot wêreld politieke leiers, asook die hoofstroom media beweer, is dit God wat die Jode weer in hulle land teruggebring het, en enige Christen wat teen Israel se reg in die land gekant is, is buite God se wil. Ek sal binnekort ‘n artikel skryf wat bewys dat God Israel weer in hulle land versamel. Dit sal ook die verstaan van hierdie reeks artikels vergemaklik. Bid asb vir Israel!!
Sag.2:8 “Want so sê die HERE van die leërskare: Hy het my gestuur agter heerlikheid aan na die nasies wat julle (Israel) uitgebuit het; want wie julle (Israel) aanraak, raak sy (God se) oogappel aan.”

Seën Groete!!

Vic

Deel met ander asb.