Profetiese rede op die Olyfberg volgens Mattheus Deel 2

Profetiese rede op die Olyfberg volgens Mattheus Deel 2

Die Groot Verdrukking

Voordat ons met deel 2 van hierdie studie begin is dit baie belangrik dat ons seker maak dat ons die konteks van die Profetiese Rede op die Olyfberg reg verstaan. Dit sal verhoed dat ons onnodiglike foute sal begaan met die uitleg van hierdie teksgedeelte. Mattheus 24-25 is dan ook die twee hoofstukke wat baiekeer heeltemal buite die konteks verkeerdelik geïnterpreteer word. So vroeg as Mattheus 24:3 kry ons alreeds ‘n idee van wat die konteks van die gesprek op die Olyfberg behels.
Mat 24:3 “En toe Hy op die Olyfberg gaan sit het, kom die dissipels alleen na Hom en sê: Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?”

Om die konteks dus korrek te bepaal moet ons die volgende feite vasstel:
1) Wie is die spreker?: In hierdie geval was dit Jesus Christus wat vrae beantwoord, wat aan Hom deur Sy dissipels gestel is.

2) Wie is die persone wat toegespreek word?: In hierdie geval was dit Jesus se dissipels soos reeds genoem.

3) Wanneer het die gesprek plaasgevind?: Dit was tydens Jesus se eerste koms nog voordat Hy gekruisig was. Dus het hierdie voorval in die Ou Testamentiese tydperk wat toe nog nie voltooi was nie, plaasgevind. Hou hierdie feit ingedagte. Jesus was ‘n Jood wat in die dispensasie van die wet geleef het en nie in die dispensasie van genade nie. (Die Nuwe Testament begin in werklikheid eers met Jesus Christus se kruisdood. )

4) Wat was die onderwerp van die gesprek?: 1) Wanneer sal hierdie dinge plaasvind (Wanneer sal die tempel verwoes word?)
2) Wat sal die teken van Jesus se koms wees (Watter bonatuurlike teken sal plaasvind alvorens Jesus aarde toe kom om Sy koninkryk hier te kom vestig?)
3) Wat is die teken wat sal aandui dat die eeu of tydperk aan die einde gekom het? (Watter teken sal aandui dat Jesus se koms op hande is en dat die huidige tydperk tot ‘n einde gekom het?)
Dus is die onderwerp wat bespreek word die verwoesting van die Tempel , en die tekens van Jesus se wederkoms om die Koninkryk op aarde te vestig (Iets wat aan die Israeliete as nasie herhaaldelik belowe is) Dus wat sal die tekens wees dat die 490 jaar soos wat die Profeet Daniël voorspel het tot ‘n einde gaan kom. Die kerk dispensasie is glad nie die onderwerp hier nie, en dit sal dus verkeerd van ons wees om die kerk dispensasie (die dispensasie van genade) in hierdie gesprek te wil inlees.

5) Wat was die kulturele en historiese konteks waarin hierdie gesprek plaasgevind het?: Jesus en Sy dissipels was Israeliete (Jode) wat in die land Israel gebly het. ‘n Land wat God aan hulle voorvaders beloof het as ‘n ewige besitting. (Gen 12:7, Gen 13:15, Gen 13:17, Gen 15:7-21; Psa 105:9, Psa 105:11 ens) As Israeliete was hulle ook bewus van die 490 jaar wat die profeet Daniël oor die volk geprofeteer het. (Daniël 9:24-27)

Tydens die ontvang van die profesie, wat in die boek Daniël opgeteken is, was die Jode as bannelinge in Babilon en was hulle besorg oor die toekoms van hulle volk en oor die vervulling van die beloftes wat God aan hulle as ‘n nasie gemaak het. (vers 24) Daniël se profesie was God se versekering dat Hy nie klaar met die volk Israel was nie, en dat Hy Sy doel met hulle sal bereik. God sou dus Sy beloftes aan hulle as volk nakom. Die Here het dit baie duidelik gestel dat Hy na die verloop van die 490 jaar, wat oor die volk geprofeteer was, die volk weer onder die leiding van hulle Messias sou herstel.
Dan 9:24 “Sewentig sewetalle is oor jou volk en jou heilige stad bepaal, om die goddeloosheid te voleindig en om die maat van die sondes vol te maak en om die ongeregtigheid te versoen en om ewige geregtigheid aan te bring en om gesig en profeet te beseël en om wat hoogheilig is, te salf.”
Lees asb deel een van hierdie artikel om ‘n volledige uitleg van bostaande teksgedeelte te verkry.

Daniël het voorspel dat die Messias gesalf sal word en dit was ‘n verwysing na die tweede koms van Jesus Christus en Sy oprigting van die koninkryk op aarde. As hierdie dinge afgehandel is, dan is die Ou Testament volgens die Jode afgehandel. Dus het die dissipels se vraag gehandel oor die afsluiting van die 490 jaar, en oor wanner God Israel, onder die gesag van hulle beloofde Messias, sou herstel. Hulle vrae het niks met die kerk dispensasie (dispensasie van genade) te make gehad nie. Hulle het ook nie besef dat daar ‘n tydperk van meer as 2000 jaar sou verloop tussen die alreeds voltooide 483 jaar en die laaste 7 jaar wat hulle nou gedink het gaan begin nie. Jesus het op geen stadium vir hulle gesê dat hulle verkeerd was nie, en hy het dus hulle vrae beantwoord oor hoe dinge in die laaste 7 jaar van die Joodse geskiedenis volgens Daniël se profesie gaan lyk. Die Here sou dus die volk as geheel vir ‘n tydlank tersyde stel, omdat hulle Hom met Sy eerste koms verwerp het. Hy sou dan na die nasies draai, met die doel om vanuit die heiden nasies vir Homself ‘n bruid bymekaar te maak.(die Kerk) Israel is net tydelik tersyde gestel en die die laaste sewe jaar sal weer begin aftel as die tye van die nasies voltooi is.
Luk 21:24 “En hulle sal deur die skerpte van die swaard val en as krygsgevangenes geneem word na al die nasies, en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is.”
Rom 11:25 “Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het;”
Daar is ‘n spesifieke getal mense van die nasies wat gedurende die dispensasie van genade wedergebore sal word, (die Kerk) en wanneer daardie getal volledig is, sal die Here die gelowiges kom haal en na Hom neem. (Wegraping) Gewapen met hierdie feite, weet ons dus dat die konteks nie oor die kerk dispensasie (dispensasie van Genade) handel nie, maar oor die voltooiing van die laaste 7 jaar van die beloofde 490 jaar tydperk wat die Here vir die volk Israel vasgestel het.

Kom ons gaan nou na ons teksgedeelte wat handel oor die teken wat sou aandui dat die wederkoms van die Here naby is.
Mat 24:3b “en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?”
Vir Jesus se antwoord op hierdie vraag gaan ons na Mattheus 24:15-25
Mattheus 24:15 “Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom—laat hy wat lees, oplet”
Opmerking: Let baie mooi op wat die Here hier sê. Die mense wat hierdie woorde lees, nie die mense wat hierdie woorde gehoor het toe Hy dit gespreek het nie. Die mense wat dus hierdie woorde lees moet baie mooi op let en verstaan. Dit dui baie duidelik aan dat hier van ‘n toekomstige groep mense gepraat word, wat hierdie profesie gaan lees en dat diegene wat hierdie woorde lees, dan baie mooi moet oplet.

Dus weet ons dat die teken wat sou aandui dat die tweede koms van die Here op hand was die gruwel van verwoesting is. Die generasie wat al die vorige tekens, insluitende die teken naamlik die gruwel van verwoesting in die tempel sien, is die generasie wat die die wederkoms van Jesus sal sien. Om vas te stel wat hierdie gruwel van verwoesting is moet ons na ‘n gebeurtenis kyk wat in die geskiedenis van die Joodse nasie plaasgevind het, en wat weer gedurende die laaste sewe jaar van die Joodse geskiedenis sal afspeel. Uit vers 15 is dit ook baie duidelik, dat die Here na iets in die toekoms verwys wat die Jode op die uitkyk moet wees voor, en nie na iets wat alreeds in die geskiedenis plaasgevind het nie.

Die teken wat Jesus hier genoem het word drie keer in die boek van Daniël gevind naamlik Dan 9:27; 11:31; 12:11. Die omskrywing van die teken vind ons in Dan 11:31.
Dan 11:31 “En deur hom sal leërs op die been gebring word en die heiligdom, die vesting, ontheilig, en hulle sal die voortdurende offer afskaf en die ontsettende gruwel opstel.”
Hierdie profesie is gedeeltelik vervul met die verskyning van die Siriese heerser, Antiochus Epifanes wat oor Sirië geregeer het in die tydperk 175-64vC, omtrent 400 jaar nadat Daniël hierdie profesie gemaak het. Antiochus Epifanes het die Jode bitter erg vervolg. Die vervolging en die verskriklike wreedhede wat hy die kinders van Israel aangedoen het is opgeteken is die Apokriewe boeke van 1 en 2 Makkabees. Die leser moet net daarop let, dat hierdie boeke nie geïnspireerde Skrif is nie, maar dit is wel ‘n akkurate rekord wat daardie tydperk en gebeure weergee.

Met sy poging om die Joodse geloof uit te roei, het Antiochus Epifanes, Joodse mans, vroue en kinders by die duisende vermoor, en dit soms op die wreedste denkbare wyses.
Hy het verder die offers wat aan God in die tempel gebring is gestop, en hy het ook ‘n vark op die altaar geoffer en daardeur die tempel verontreinig. Verder is daar ook ‘n standbeeld van ‘n Griekse afgod in die tempel geplaas, wat as die ontsettende gruwel bestempel is. Hierdie optrede van Antiochus Epifanes het tot die Makkabese opstand gelei. Die stop van die offergawes, die tempel se ontheiliging asook die oprig van ‘n afgodsbeeld gaan weer in die toekoms herhaal word, net soos wat Jesus dit voorspel het. Onthou Jesus het in Mattheus 24:15 na gebeure verwys wat toe nog in die toekoms sou plaasvind en nie na die gebeure wat alreeds plaasgevind het nie. As hierdie dinge dus plaasvind, sal dit ‘n duidelike waarneembare teken wees wat sal aandui dat die Groot Verdrukking begin het, en wat nog vir ‘ tydperk van drie en ‘n halwe jaar sal voortduur. Dus sal dit ‘n duidelike teken wees dat die einde van die 490 jaar op hande is.

Die toekomstige oprig van die ontsettende gruwel in die tempel wat nog herbou sal word, word in Daniël 9:27 verder beskryf.
Dan 9:27 “En hy sal een week lank met baie ‘n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die week (1260 dae) sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar ‘n verwoester wees, en wel tot aan die einde; en wat vas besluit is, sal oor wat woes is, uitgestort word.”
Dus sal daar weer in die toekoms ‘n leier opstaan wat dieselfde sal optree as wat Antiochus in die 2de eeu voor Christus gedoen het. Daniël 12:11 gee aan ons nog meer besonderhede van hierdie gebeure.
Dan 12:11 “En van die tyd af dat die voortdurende offer afgeskaf en die ontsettende gruwel opgerig word, sal duisend twee honderd en negentig dae (1290)verloop.
Dan 12:12 “Welgeluksalig is hy wat bly verwag en duisend drie honderd vyf en dertig dae (1335) bereik.”
Van die tyd af wanneer die tempel onheilig sal word en ‘n afgodsbeeld in die tempel opgestel word, asook die offergawes gestop word, sal 1260 dae verloop. Openbaring 13:5 verskaf aan ons ‘n vaste hoeveelheid dae wat aan die Antichris gegee is waarin hy as heerser van hierdie wêreld sal optree.
Opn 13:5 “En ‘n mond is aan hom gegee wat groot woorde en godslasteringe uitspreek, en aan hom is mag gegee om dit twee en veertig maande lank te doen.”
Na die einde van die verdrukking (1260 dae)en met die verskyn van die teken van die Mens in die lug, (Mattheus 24:30) sal daar 30 dae wees waarin die stamme van die wêreld rou sal bedryf. Ek glo dat Jesus se wederkoms gedurende hierdie addisionele 30 dae sal plaasvind. Ek sal later meer hieroor uitbrei. Gedurende hierdie 30 dae, sal ‘n gedeelte van die volk hulleself verootmoedig en versoen word met hulle Messias wat op aarde Sy verskyning maak, om as Koning oor hulle te regeer. Vir die ongelowige Jode sowel as die res van die die ongelowige wêreld sal dit ook ‘n tyd van rou wees, want hulle sal nou besef dat dit te laat is om met Jesus versoen te word. Die mense wat die 1335 dae bereik is mense wat liggaamlik in Jesus se duisendjarige Vrederyk toegelaat sal word. Hulle oorleef dus God se oordele (wat later in hierdie reeks artikels verduidelik sal word.)en as gelowiges word hulle nie deur Jesus se verskyning gedood nie.  Die begin van die millennium sal 45 dae na die versoening van die volk plaasvind, omrede die duisendjarige vrede ryk (die millennium) dan deur Jesus Christus gevestig sal word, en daarom word hulle as welgeluksalig beskryf. Hulle is dus gelowiges wat die Groot Verdrukking oorleef het en wat deur Jesus in die koninkryk verwelkom word.
Sag 12:10 “Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos ‘n mens rouklaag oor ‘n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos ‘n mens bitterlik ween oor ‘n eersgebore kind. 12:11 In dié dag sal die rouklag groot wees in Jerusalem, soos die rouklag van Hadad-Rimmon in die laagte van Megiddo.”
Vir ‘n meer volledige beskrywing van hierdie gebeure, word die leser aangeraai om die hele skrifgedeelte wat oor hierdie aangeleentheid handel vir homself te lees. (Sag 12:11-13:2) Die rou tydperk in Israel was gewoonlik dertig dae lank, soos wat ons sien met die afsterf van Aäron en Moses. (Núm 20:29; Deut 34:8) Met die voltooiing van die tydperk van rou sou 1290 dus verstrek het en met die vestiging van die millennium sal 1335 dae verstrek het.

2 Thess 2:3-4 beskryf hierdie selfde gebeurtenis waar die Antichris homself as God in die herboude tempel sal voorstel.
2Ts 2:3 “Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is.”
Op 13:14-15 bevestig hierdie gebeure en dit is dus baie duidelik dat hierdie gebeure nie met die val van Jerusalem in 70nC plaasgevind het nie. Hierdie profesie sal dus in die toekoms in vervulling gaan.
Opn 13:14 “En hy verlei die bewoners van die aarde deur die tekens wat hom gegee is om voor die oë van die dier te doen, deur aan die bewoners van die aarde te sê dat hulle ‘n beeld moet maak vir die dier wat die swaardwond ontvang en lewendig geword het. 13:15 En dit is hom gegee om ‘n gees aan die dier se beeld te gee, sodat die dier se beeld ook sal praat en maak dat almal gedood word wat die dier se beeld nie aanbid nie.”

As die offergawes wat in die tempel geoffer word gestop moet word, sal daar eers ‘n tempel gebou moet word en die tempel diens, soos wat dit in die Ou Testament beskryf word, heringestel moet word. Met die ontstaan van die onafhanklike Israeliese staat in 1948nC, en dit boonop in die land vanwaar hulle as volk verstrooi was, dien as bewys vir baie Bybel geleerdes dat die herbou van die Tempel nie meer ver in die toekoms kan wees nie. Die herowering van die area waar die tempel oorspronklik gestaan het in 1969nC, dien as verdere bewys dat God besig is met planne om die tempel in Israel te laat herbou. Ek glo dat die bou van die tempel na die wegraping sal plaasvind, wanneer God hoofsaaklik weer met Israel, as Sy uitverkore volk, sal begin werk. Dus sal die laaste 7 jaar van die 490 jaar tydperk wat oor hulle uitgespreek is in vervulling gaan. Indien die offergawes gestop sou word en ‘n afgodsbeeld in die tempel opgerig sou word, sou dit dus ‘n baie duidelike teken wees dat die laaste drie en ‘n half jaar wat as die tydperk van “Jakob se benoudheid” (Jer 30:7) bekendstaan aangebreek het. Hierdie is dus die teken waarvoor die dissipels die Here gevra het en wat sal aandui dat Sy koms naby is. Die gruwel van verwoesting dien dus as die teken dat die koms van die Here naby is en dat die laaste dae van die 490 jaar tydperk, net voor Jesus se wederkoms, aangebreek het.

Mattheus 24:16 “dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug; 24:17 wie op die dak is, moet nie afkom om iets uit sy huis weg te neem nie; 24:18 en wie op die land is, moet nie omdraai om sy klere weg te neem nie. 24:19 Maar wee die vroue wat swanger is en die wat nog soog, in daardie dae. 24:20 En bid dat julle vlug nie in die winter of op die sabbat mag plaasvind nie.”
Opmerking: Die teken soos reeds in Mattheus 24:15 genoem, sal so duidelik wees dat die Here die Israeliete aangesê het om onmiddellik na die berge te vlug, sonder om terug te draai om die nodige noodsaaklikhede te gaan haal. Hulle word ook gewaarsku om na die berge van Judea te vlug , wat ‘n geografiese area in Israel is en dit dien as verdere bewys, dat die Here met Jode in die land Israel praat. Swanger vroue en hulle wat nog klein kindertjies het gaan die tydperk baie moeilik vind, en vir hulle gaan dit soveel moeiliker wees om uit die gevaarsone uit te kom, en daarom moet hulle ook bid dat hulle vlug nie in die wintermaande sal plaasvind nie, want die koue sal ‘n alreeds moeilike situasie net verder vererger. Vir ‘n Ortodokse Jood, wat die Ou Testamentiese wette streng eerbiedig, kan dit die dood beteken as hierdie gebeurtenis op die Sabbatdag sou plaasvind.
Eks 16:29 “Kyk, omdat die HERE julle die sabbat gegee het, daarom gee Hy julle op die sesde dag brood vir twee dae. Laat elkeen bly waar hy is; laat niemand op die sewende dag van sy woonplek af weggaan nie.”
Dit is weereens duidelik dat die Here met mense praat wat onder die Ou Testamentiese wet sal verkeer en nie met mense wat in die tydperk van genade (Kerk dispensasie) leef nie. Die Here praat met Jode, wat in die laaste sewe jaar van die 490 jaar tydperk wat oor die Israeliete uitgespreek is, lewe. ‘n Jood wat op die Sabbatdag vlug sal ook baie opsigteliker wees en sou dus uitstaan as iemand wat nie die Antichris wil aanbid nie en daarom sal hy vinnig ‘n teiken vir teregstelling word.

Mat 24:21 “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie.”
Opmerking: Dat hierdie ‘n tydperk van ongekende smart en leiding sal wees kan geensins betwyfel word nie. As ons hierdie woorde van die Here Jesus Christus met ander dele van die Skrifte vergelyk, kry mens ‘n meer vollediger beeld van hoe erg sake op aarde gaan raak. Ek raai die leser aan om self Openbaring 6 – 19 vir homself te lees om ‘n duidelike beeld van sake op aarde gedurende hierdie tydperk te kry. Ek gaan net kortliks ‘n paar gebeurtenisse opnoem. Die vyfde seel wat in Openbaring 6:7-8 oopgemaak word voorspel dat ‘n kwart van die wêreld populasie gedood sal word.
Opn 6:7 “En toe Hy die vierde seël oopgemaak het, hoor ek die stem van die vierde lewende wese sê: Kom kyk! 6:8 En ek het gesien, en kyk, daar was ‘n vaal perd. En hy wat daarop sit, sy naam is die dood, en die doderyk het hom gevolg. En aan hulle is mag gegee oor die vierde deel van die aarde om dood te maak met swaard en hongersnood en pes en deur die wilde diere van die aarde.”
Met die blaas van die sesde trompet soos opgeteken in Openbaring 9:13-21, sterf daar weer een derde van die wêreld populasie.
Opn 9:18 “Deur hierdie drie plae is ‘n derde van die mense gedood, deur die vuur en deur die rook en deur die swawel wat uit hulle bekke uitgegaan het;”
Dit beteken dat met die huidige wêreld populasie soos wat dit vandag staan, ver oor ‘n biljoen mense gedood sal word. Dus is dit meer as ‘n duisend miljoen mense wat in ‘n redelike kort tydperk gedood sal word. So iets verskrikliks het die wêreld nog nooit beleef nie. Die net meer as 50 miljoen mense wat na beraming gedurende die tweede wêreld oorlog gesterf het, kan nie eers vergelyk word met wat in die toekoms vir die wêreld voorlê nie. Dit is dus baie duidelik dat hierdie tydperk waarvan Jesus Christus gepraat het ‘n tydperk van ongekende smart en leiding sal wees wat sal uitloop op ‘n latere wêreldoorlog. (Op 16:12-16)

Volgens Openbaring 16:17-21 sal daar ‘n groot aardbewing wees wat die stede van die wêreld verwoes asook hael wat omtrent 36 kg weeg wat op die aarde sal reën.
Opn 16:16 “En hulle het hul versamel op die plek wat in Hebreeus genoem word Armagéddon. 16:17 En die sewende engel het sy skaal uitgegooi in die lug, en ‘n groot stem het uit die tempel van die hemel gekom, van die troon af, wat gesê het: Dit is verby! 16:18 En daar het stemme gekom en donderslae en bliksemstrale, en daar het ‘n groot aardbewing gekom soos daar nog nie gewees het vandat die mense op die aarde was nie so ‘n geweldige groot aardbewing. 16:19 En die groot stad (Jerusalem) is in drie dele verdeel, en die stede van die nasies het geval. En die groot Babilon is in gedagtenis gebring voor God, om haar te gee die beker met die wyn van die grimmigheid van sy toorn. 16:20 En alle eilande het gevlug, en berge is daar nie gevind nie; 16:21 en groot hael, omtrent ‘n talent swaar, het uit die hemel op die mense geval; en die mense het God gelaster oor die plaag van die hael, omdat sy plaag ontsettend groot was.”
Hierdie sal inderdaad ‘n tydperk soos geen ander wees nie.

Mattheus 24:22 “En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word.”
Opmerking: Die Here het voorspel dat die tydperk van drie en ‘n halwe jaar letterlik afgesny (Grieks – ekolobothesan) sal word as dit voltooi is. Hierdie afsnyding sal plaasvind nog voordat Jesus se wederkoms plaasvind. Ek glo dat Jesus eers na die beëindiging van die groot verdrukking op aarde sal verskyn en dat dit in die 30 dae sal plaasvind tussen die beëindiging van die groot verdrukking en die dag waarop die volk met God versoen sal word. (Dan 12:11) As die Here my spaar sal Ek meer oor hierdie onderwerp uitbrei in die artikel oor die wederkoms van Christus. As die Here nie hierdie tydperk doelbewus afsny of verkort nie sal daar geen mens op aarde oorbly om die Millennium in te gaan nie. Dit gee aan ons ‘n duidelike indikasie van hoe erg sake op aarde gedurende daardie tydperk sal wees.

Mat 24:23 “As iemand dán vir julle sê: Kyk, hier is die Christus! of: Daar! —moet dit nie glo nie.Mat 24:24 Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei. Mat 24:25 Kyk, Ek het dit vir julle vooruit gesê.”
Opsomming: Nadat die Here Sy dissipels die spesifieke teken te kenne gegee het waarvoor hulle moes oplet, gee Hy nou aan hulle verdere addisionele informasie omtrent hierdie tydperk. Net soos wat daar altyd valse Christusse en valse profete was, sal hierdie tendens vererger soos wat Jesus se wederkoms nader kom. Valse Christusse asook valse profete sal veral bedrywig wees soos wat die einde van die Groot verdrukking nader kom, omrede dit Satan se laaste desperate poging sal wees om die mensdom te verlei en saam met hom na die poel van vuur te sleep. Die Here het Sy dissipels herhaaldelik teen valse profete en valse leraars gewaarsku. (Mattheus 7:15; 15:3-14; 16:6-12; 23:1-36; 24:11) Die mensdom sal dus geen verskoning hê as hulle deur hierdie werkers van Satan verlei word nie. Net so moet ons ook waak om nie in hierdie dispensasie die slagoffers van valse leerstelling te word nie.

Met die volgende artikel bespreek ons Jesus se antwoord op die derde vraag en Sy wederkoms aarde toe. Tot ‘n volgende keer!

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.