Gelykenis van die suurdeeg

Die Gelykenis van die Suurdeeg

Mat 13:33 “‘n Ander gelykenis het Hy hulle vertel: Die koninkryk van die hemele is soos suurdeeg wat ‘n vrou neem en in drie mate meel inwerk totdat dit heeltemal ingesuur is. 13:34 Al hierdie dinge het Jesus deur gelykenisse vir die skare gesê, en sonder gelykenis het Hy vir hulle niks gesê nie;”
Opmerking: Hierdie is seker een van die gelykenisse wat in die meeste gevalle verkeerd geïnterpreteer word, omrede die kardinale reëls van Bybel uitleg nie hier nagekom word nie. Die eerste reël is dat mens moet toelaat dat Skrif, Skrif uitlê. ‘n Ander reël is dat waar ‘n woord simbolies as iets beskrywend van iets anders in die Bybel gebruik word, dieselfde woord regdeur die Bybel as simbolies van dieselfde onderwerp of voorwerp geïnterpreteer moet word. Laat ek verduidelik.

Soos bv waar die Here Israel in Exodus beveel het dat hulle alle suurdeeg uit hulle midde moes uit verwyder het. Die suurdeeg is simbolies van sonde en kan dus regdeur die Bybel as ‘n simbool van sonde gebruik word .
Exodus 12:15 “Sewe dae lank moet julle ongesuurde brode eet; alreeds op die eerste dag moet julle die suurdeeg uit julle huise verwyder. Want elkeen wat gesuurde brood eet, van die eerste dag af tot die sewende toe, dié siel moet uit Israel uitgeroei word.”
Hierdie is net een van baie verse waarin die Bybel sonde met suurdeeg vergelyk. Jesus het in die eksterne rituele van die Fariseërs; die ongeloof van die Sadduseërs en die wêreldse gesindheid van die Herodiane en in die algemeen valse leerstellings met suurdeeg vergelyk. Mattheus 16:6-12 en Markus 8:14-21 In Paulus se briewe word suurdeeg ook met sonde vergelyk. 1 Korinthiërs 5:6-8 en Galasiërs 5:7-10.

Kom ons gaan terug na die gelykenis. Die vrou is dus nie Jesus Christus nie, maar iemand wat valse leerstellings en sonde (wat valse leerstellings insluit) in die belydende Christendom, na afloop na Christus se hemelvaart, inbring en dit sluit die Kerk in. Die leser word aangeraai om die artikels “Is Bybelse Leerstellings werklik so belangrik“; “Ware Apostels vs Valse Apostels” en laastens “Ware Profete vs Valse Profete” te lees) Meel is goed, want dit is heilsaam maar die suurdeeg gee die meel volume, maar voeg nie enige benydenswaardige voedingswaarde by die meel nie. Onthou die gelykenisse is profeties van aard,  en die Here wou aan Sy dissipels wys hoe die tydperk na Sy hemelvaart gaan lyk, terwyl Hy van die aarde afwesig sou wees. As ons dan kyk na die geskiedenis van hierdie tydperk, wat die Kerk Dispensasie insluit, dan kan ons sien dat die Bybel God se woord is, omrede die profesie wat Christus vooraf gegee het absoluut bewaarheid is. Valse leerstellings en sonde het die Kerk ingestroom, tot so ‘n mate dat die belydende Christendom/kerk tot n groot organisasie uitgebrei het. Maar met een uitsonderlike nadeel! Die wêreld het in die Kerk ingekom, en tot so ‘n mate, dat dit moeilik is om enigsins  die optrede van die wêreld met die van die Kerk te onderskei. Onthou, die Kerk moet in die wêreld wees, maar die wêreld moenie in die kerk wees nie! Hierdie tendens sal aangaan (en selfs vererger) totdat die Here Sy ware Kerk met die wegraping uit die wêreld uit wegneem. Boosheid en verlyding sal dan, onder lyding van die Antichris, in die belydende Christendom drasties toeneem , tot en met die koms van die Here, met Sy wederkoms, sewe jaar later. Al hierdie dinge gebeur presies soos wat ons Here Jesus Christus dit vooraf voorspel het.

Baie mense glo verkeerdelik dat die suurdeeg die Evangelie verteenwoordig, en dat die meel die wêreld verteenwoordig. Hulle glo dat die Evangelie in die hele wêreld verkondig  sal word, en dat die wêreld dus ten goede sal verander, soos wat die tyd aanstap. Die Bybel, asook konsekwente Bybel uitleg en die wêreld se geskiedenis weerlê egter hierdie interpretasie. Die wêreld word toenemend boser en sal so voortduur tot en met Christus se wederkoms, wanneer Hy persoonlik alle bose mense van die wêreld af sal verwyder.

Om hierdie rede is dit van uiterste belang om die Evangelie aan die ganse mensdom te verkondig sodat die Kerk se getalle vol kan word en die Here ons met die wegraping kom haal. Hoe langer ons op aarde bly, hoe langer gaan ons lyding moet ervaar. Kom ons doen wat die Here ons beveel sodat ons huistoe kan gaan!

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.