Om 'n Beter kind van God te wees

Om ‘n Beter kind van God te wees

Vraag: Ek wonder of jy my raad kan gee oor hoe ek ‘n sterker kind van God kan word. Dit is rêrig moeilik om die gevoel binne my te verduidelik oor my besluit. Ek is n huisvrou en het n wonderlike huwelik met twee pragtige kinders. Ons behoort aan die Dopper kerk en my man is ‘n diaken ook. Tog voel daar iets wat kort en ek wil rêrig meer van die Here leer, en rêrig ‘n opregte kind van Hom word en wil my gesin dra met die Here se woord.

Hoop jy verstaan wat ek probeer sê.

Groete

Antwoord: Eerstens, moet ek jou eers meedeel hoe bly dit my maak om te hoor dat daar mense is wat beter kinders van God wil wees. Dit wys dat jou prioriteite op die regte plek is en dat jou hart reg teenoor die Here is. Ook weet ek hoe jy voel, want ek beleef dieselfde gevoelens as wat jy beleef, en ek dank die Here daarvoor. Ek glo ook dat dit God is wat jou na Hom toe trek, met die doel om in ‘n nouer verhouding met jou te leef. God ken almal se harte, en Hy weet dat jy Hom soek en daarom het Hy die begeerte in jou hart gegee. My raad aan jou is: “Verheug jou daarin!”
Spr 1:20 “Die Wysheid roep hardop daarbuite, sy verhef haar stem op die pleine, 1:21 op die hoek van die rumoerige strate roep sy, by die ingange van die poorte, in die stad, spreek sy haar woorde: 1:22 Hoe lank sal julle, eenvoudiges, die eenvoudigheid liefhê en die spotters lus hê om te spot en die dwase kennis haat? 1:23 Wend julle tot my teregwysing, dan laat ek my gees vir julle uitstroom, wil ek my woorde aan julle bekend maak.”
Die vraag wat jy gestel het, demonstreer dat jy werklik wys is, omrede ware wysheid net van God afkomstig is, want Jesus Christus is die Wysheid van God.
1Ko 1:24 “maar vir die wat geroep is, Jode sowel as Grieke: Christus, die krag van God en die wysheid van God.”
Jy kon nie ‘n beter vraag gevra het nie! God het voorkennis en Hy het nog voordat jy Hom gesoek het, alreeds geweet dat jy Hom gaan soek, en daarom het Hy jou nou na Hom getrek. Jy kan dus verseker weet dat Hy, Homself ook in ‘n groter mate aan jou bekend sal stel, indien jy bereidwillig is dat Hy dit doen!

Jy moet verder besef, dat jy net werklik met God in ‘n verhouding kan wees, indien jy die ware Evangelie verstaan en geglo het. Dit is van uiterste belang, want jy moet wedergebore wees om ‘n kind van God te wees en dit kan net geskied indien jy die Evangelie gehoor en verstaan het.
Joh 3:3 “Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.”
Van die oomblik af dat jy die Evangelie glo, kom die Heilige Gees en maak Sy woning in jou. Jou liggaam is dan die tempel van God en nie ‘n gebou nie.
1Ko 6:19 “Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie?”
Hy is ook die een wat jou verseël, en van daardie oomblik af is jy God se kind en kan niks jou uit Sy hande ruk nie.
Efs 1:13 “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,
Efs 4:30 En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing.”
Vanaf die oomblik van jou wedergeboorte af, begin jou verhouding met God en nie voor daardie oomblik nie. Jy moet ook besef, dat God dan vir altyd in jou is en dat Hy jou nooit sal verlaat nie. Baseer jou geloof op God se woord en nie op jou gevoelens nie, want die mens se gevoelens en emosies is baie wisselvallig, maar God se woord is onwankelbaar.

Verder moet jy besef dat God waarheid is, en Hy wil hê dat die mense wat Hom aanbid, Hom in waarheid aanbid. Jesus het ons ook die versekering gegee dat die Heilige Gees ons in die waarheid sal lei.
Joh 16:13 “Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig.”
God sal nie valse tekens en wonders, genesings en dergelike dinge gebruik om jou te lei nie. Lees asb die twee artikels wat handel oor vals profete en Apostels. Hy sal jou na sy woord, die Bybel, lei en daarom is dit belangrik om daagliks tyd te maak om die Bybel sistematies deur te lees, sodat jy weet wat daarin staan. Ek sal voorstel dat jy by die Evangelie van Johannes begin en dan die Bybel daarvandaan deur lees.
Joh 17:17 “Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid.”
Moenie bekommerd wees indien jy nie alles verstaan nie, onthou dit is ook die Heilige Gees se werk om jou te leer. Moenie bang wees om vrae te vrae nie. Die Here sal jou nie kwalik neem as jy vrae vra, omdat jy iets nie verstaan nie. Rig altyd die vra eerste aan Hom en dan begin jy jou navorsing doen. Die Here sal jou ook na die regte mense lei, wat jou vra kan beantwoord. Indien iemand jou ‘n antwoord verskaf , moet dit nie glo voordat jy dit met die Bybel vergelyk het en met God in gebed bespreek het nie. Onthou dat dit God is wat jou moet leer, so laat Hy jou na die regte mense lei indien Hy wil. Toets alles met die Skrifte, ook alles wat ek hier skryf. Dit is van uiterste belang!
Hnd 17:11 “En hierdie mense was edelmoediger as dié in Thessaloníka; hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was.”
As jy dit nie doen nie, gaan jy verlei word. Soek net die waarheid, maak nie saak hoe seer dit maak, of hoe dit met jou huidige siening bots nie. God is waarheid en Hy wil hê dat jy Hom in waarheid soek.
Joh 4:24 “God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.”
Moenie alles glo wat mense aan jou meedeel nie, onthou jy wil nader aan God leef, en jy gaan dit net regkry, indien jy jou geloof op God se waarheid beseer en op niks anders nie. Daar is ‘n ou gesegde wat soos volg lees en hou dit altyd in gedagte : “Dis nie my of jou opinie wat tel nie, maar net God se opinie wat tel” Indien jy God in waarheid soek, dan sal Hy Homself aan jou bekendmaak, jy kan verseker wees daarvan.
Joh 8:32 “En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.”

Hou dit altyd ingedagte dat God ‘n persoon is, en as sulks, is dit Sy begeerte om met jou ‘n vader kind verhouding op te bou. Hy praat hoofsaaklik deur die Bybel met ons en daarom is dit so belangrik om daagliks tyd in Sy woord te spandeer. Elke keer as jy die Bybel oopmaak, vra die Here wat Hy vir jou wil sê. Soos wat jy die Skrif lees, hou dit ingedagte dat dit God is wat met jou praat. Jy sal spoedig opmerk dat die Heilige Gees die Skrif vir jou sal open, sodat jy dit al hoe meer sal verstaan. Ek kan nie vir jou sê hoe hierdie waarheid my geseën en nog steeds seën nie! Verwag in geloof om ‘n boodskap te kry. Dit is hoekom die Here die Bybel aan ons gegee het. Hy wil hê, dat ons dit verstaan. Daar is nie een gedeelte in die hele Bybel, wat die Here nie wil hê ons moet verstaan nie. Jy skryf tog nie ‘n brief aan jou man met die bedoeling dat hy sekere gedeeltes nie moet verstaan nie. So geld dieselfde beginsel met God se woord.
Spr 25:2 “Dit is die eer van God om ‘n saak te verberg, maar die eer van konings om ‘n saak na te speur. “
Die Bybel is deur God geïnspireer om verstaan te word. Bespreek alles wat jy lees met die Here en moenie skaam wees om vrae te vra nie. Leef dan dit wat jy lees en verstaan uit. Rig jou lewe volgens God se woord in, en dan sal jy naby Hom leef.
Psa 36:9 (36:10) “Want by U is die fontein van die lewe; in u lig sien ons die lig.
Psa 119:105 U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad.”
Onthou altyd, deur die Bybel te eer, eer jy God.

Deel jou drome, seer, wense en begeertes alles met die Here. Dit sluit ook die sondes waarmee jy mag sukkel in. Moet niks wegsteek nie en onthou altyd dat ‘n verhouding met God op die waarheid gegrond moet wees. Wanneer jy terneergedruk voel, bespreek dit met die Here. Wanneer jy gesondig het, vra vergifnis. In werklikheid behoort ons as Christene nooit alleen te voel nie, want die Here is die heeltyd by, en in ons. Leef met daardie waarheid in jou hart. Wanneer ek alleen is, en ek voel die begeerte om te braai, dan braai ek en nooi die Here om saam met my te braai. Dan sit ek en gesels met die Here, met die wete dat Hy daar is. Ek sal nooit in woorde aan jou kan beskryf tot hoe ‘n mate ek al deur hierdie tydjies saam met God geseën is nie. Mense mag dalk dink dat ek van my kop af is, maar ek weet dat my God lewe en Hy alles met my wil deel. Hoekom moet ek maak asof Hy nie bestaan nie!? Ek weet mos dat Hy bestaan! Dit is my droom om soos Henog te leef en dat dieselfde oor my gesê kan word.
Gén 5:24 “En Henog het met God gewandel; en hy was daar nie meer nie, want God het hom weggeneem.”
Geniet die teenwoordigheid van God en deel jou hele lewe met Hom. Dit is wat Hy begeer.

Onthou altyd dat die Here die Herder is en dat dit Sy werk is om jou leiding te gee. God se algehele wil word in die Bybel uiteengesit en dit is ons plig om deur die krag van die Heilige Gees God se wil te doen. Waak daarteen om jou teen menslike tradisies blind te staar. Volg net God alleen! Tradisies bring niemand nader aan God nie, ook help dit nie om wetties te wees nie. Die Heilige Gees moet jou lei, nie die wet of die vlees nie. Lees asb die artikels “Heiligmaking op grond van genade deur geloof” en  “Wwettisisme vs geloof in Christus” wat oor hierdie onderwerp handel. Wees bereid om Hom te volg soos wat Hy lei. Jy sal soms bereid moet wees om stroomop teen die wêreld se menings op te swem, omrede God van jou gaan verwag om Sy wil te doen en niks anders nie.
Mat 6:9 “Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; 6:10 laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde;”
Indien jy dit doen, sal jy gou agterkom dat God se wil jou soos ‘n handskoen pas, omrede Hy jou Skepper is, en dat Hy presies weet wat jy nodig het. Jy sal Hom moet vertrou en gehoorsaam, al veg jou sonde natuur en die wêreld daarteen. Later wanneer jy terugkyk, sal jy baie dankbaar wees omdat God jou in Sy wil gelei het.

God en Sy belange moet eerste prioriteit in jou lewe geniet. As dit nie die geval is nie, kan jy nie verwag om naby die Here te lewe nie. Gee jou lewe heeltemal vir God, en volg Hom met jou hele hart, dan sal jy ontdek dat jy werklik lewe. Dit mag dalk vreemd klink maar dit is die waarheid.
Mat 16:25 “Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind.”
Indien jy hierdie woorde van God gehoorsaam, sal jy gou agterkom dat die Gees deur jou lewe en die vrugte van die Gees sal in jou manifesteer. Dit sal weer daartoe bydrae, dat jy ‘n beter mens word, en jy sal ‘n seën vir ander om jou wees. In kort, jy sal die mense wees wat God wil hê jy moet wees.
Joh 15:4 “Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie. 15:5 Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.”
Pas hierdie bostaande teksgedeelte getrou toe, dan sal jy opmerk dat jy al hoe meer soos Jesus Christus word, en jy sal dan al hoe meer bewus word van Sy nabyheid en lewe in jou. Sy Gees sal dan deur jou na ander uitvloei. ‘n Groter seëning as dit kan mens nie vra nie.
Gal 5:22 “Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.
Efs 5:9 Want die vrug van die Gees bestaan in alle goedheid en geregtigheid en waarheid.”
Boonop het die Here het vir ons ‘n metode gegee om vas te stel hoe lief ons Hom werklik het.
Joh 14:21 “Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar.”

Ek sal nog baie meer kan byvoeg, maar ek dink my antwoord is alreeds te lank. Al wat ek nog vir jou wil sê, is dat jy jou in God moet verlustig en doen altyd alles tot Sy eer. Deel die goeie nuus van die Evangelie met enigiemand wat bereid is om na jou te luister. Dit is God se wil, dat niemand verlore moet gaan nie, en Hy wil jou ook gebruik om Sy wil te doen. Al versprei jy net pamflette met die Evangelie daarop, dan doen jy alreeds iets wat God se hart bly sal maak. Laat die Here jou in hierdie opsig lei. Hy sal aan jou bekend maak wat Hy wil hê jy moet doen. Jy kan egter verseker wees, dat dit Sy wil vir jou is om die Evangelie met ander te deel.
Psalm 37:4 “en verlustig jou in die HERE; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart. 37:5 Laat jou weg aan die HERE oor en vertrou op Hom, en Hy sal dit uitvoer;”
Omrede dit jou hartsbegeerte is om ‘n beter kind van die Here te wees, kan jy met sekerheid weet dat die Here dit vir jou sal doen! Sterkte vorentoe en onthou, dat jou begeerte om ‘n beter kind van die Here te wees, Hom alreeds grenslose vreugde verskaf het. Laat die Here toe om jou te lei. Hy het ‘n doel met jou lewe. Dis net jammer dat daar nie baie meer mense soos jy is nie!

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.