Artikels te lank

Rede vir lang artikels, ‘n Bybelse perspektief

God gebruik sistematiese bestudering van korrekte Bybelse leerstellings om gelowiges tot volwassenheid te lei. Sommige mense kla soms dat my artikels te lank is en dat hulle nie altyd die tyd kry om dit te lees nie. My antwoord aan hierdie mense is dat ek God se wil moet uitvoer en die resultaat by Hom los. Hierdie bediening is nie ‘n verbruikersgedrewe bediening nie. Ek soek nie roem nie, maar eerder God se goedkeuring. Ek poog om die Skrifte met die diepte waarmee die Here wil hê Sy woord verkondig moet te verkondig. Anders hoe gaan die mens God in diepte leer ken indien hulle nie aan korrekte leerstelling blootgestel word en dit leer verstaan nie. Daar is baie mense wat smag om die Skrifte in diepte te ken en hierdie webtuiste is juis aan hierdie mense gerig. By implikasie beteken dit noodwendig dat hierdie webtuiste nooit gewild gaan wees nie. Ons verkondig nie wat mense wil hoor nie, maar eerder wat God wil hê mense moet hoor. Al beteken dit dat die artikels lank gaan wees. Hoe anders kan werklike heiligmaking plaasvind indien dit nie op in diepte Bybelstudie en korrekte leerstellings gebaseer is nie?
2Kor.4:16 Daarom gee ons nie moed op nie, maar al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag ná dag vernuwe.
Ef.4: 13 “totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus; 14 sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering, deur die bedrieëry van die mense, deur sluheid om listiglik tot dwaling te bring;

Ware godsdiensoefening vereis ‘n persoonlike interaksie van die mens se verstand met die waarhede, soos wat dit in die Skrifte gevind word, en wat weer die mens se gewete korrek inlig. Hierdie proses lei tot ‘n ware transformasie van die gelowige se verstand, met die bedoeling dat God se gedagtes, begeertes, wil, en prioriteite die gelowige sin word.
Ef.4:23 “en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed 24 en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid.”
Die vernuwing van ‘n gelowige se gemoed sentreer om die feit dat die persoon op ‘n gereelde konsekwente wyse gesonde Bybelse leerstellings inneem en oordink. Indien korrekte Bybelse leerstellings toenemend deel van ‘n persoon se verwysingsraamwerk word, sal die gelowige van binne af na buite deur die Heilige Gees verander word om toenemend soos Christus te word. Onthou, die Gees van God, gebruik die Woord van God, in die kind van God, om die wil van God te doen, en dit alles deur die instaatstellende krag van die Heilige Gees, met die heerlikheid van God as doel, sodat ons werklik ‘n seën vir ander kan wees, en by die Regterstoel Oordeel van Christus met genadeloon beloon kan word. En eerlikwaar, die meeste mense weier God die tyd in hul lewens om hierdie proses deel van hulle lewens te maak.

As deel van Sy verhouding met die mens het God nog altyd van die mens verwag om Sy woorde ernstig op te neem, en dat die waarhede van die Skrifte, binne die korrekte dispensasionele raamwerk en konteks, die gelowige se hart moet vul. Die doel van hierdie webtuiste is juis om dit te doen, en dit beteken noodwendig dat die artikels lank gaan wees om te verseker dat al die relevante inligting aan die leser oorgedra word. Boonop word hierdie webtuiste aan gelowiges wat bereid is om tyd in God se woord te spandeer opgedra en diegene wat nie hierdie graad van honger vir die woord van God in hulle harte het nie moet werk daaraan maak. Die keuse is op die ou end van die dag die individu se keuse om te maak.

Dit was nog altyd ons bedoeling, om kosteloos artikels aan diegene te voorsien wat ‘n begeerte het om in meer diepte God se woord te bestudeer, en Hom sodoende beter te leer ken. Dit sou vir my baie makliker wees om ook net enkele teksgedeeltes aan te stuur, of kort kriptiese artikels op die webtuiste te plaas maar dan sou die doel, waarvoor ek glo God my geroep het, verydel wees. Dit neem baie moeite en tyd om die artikels na te vors, en te skryf en ek doen dit alles alleen. Daar is egter mense soos my broer en ‘n handjie vol mede gelowiges wat tot die onkostes van die bediening bydra, (en derhalwe is hulle deel van die bediening) maar behalwe dit doen ek alles self. Dit sou boonop baie geriefliker gewees het om belangrike inligting uit te laat, sodat my artikels korter kon wees en ek sodoende ‘n groter gehoor kon bekom. Ek weet egter ek sal eendag voor die Here Jesus Christus moet verskyn om rekenskap van myself te gee, en ek voel alreeds skuldig omrede ek voel ek nie genoeg doen nie.

Die wêreld word toenemend goddeloos, nie omrede God dit so beplan het nie, maar omrede Hy alwetend is en einde van die geskiedenis van die begin af sien. Dit was nooit God se doel dat die mensdom toenemend goddeloos sou raak nie, maar omrede Hy alwetend is het Hy dit vooraf geweet en die moeite gedoen om ons daarvan in te lig. En Hy verwag dat ons weer ons medemens daarvan moet inlig, want God gaan hierdie wêreld oordeel en die mensdom moet hierdie feit baie mooi verstaan. Net omrede God hierdie feit vooraf in die Bybel aan ons bekendgemaak het, beteken dit nie dat ons van ons verantwoordelikhede teenoor Hom vrygestel is nie. Ons moet nog steeds God se woord (wat slegs uit korrekte Bybelse leerstellings bestaan) aan die mensdom wat in ‘n al hoe meer donkerwordende wêreld lewe verkondig. (en dit beteken dat ons die hele raad van God aan die mense verkondig.) In hierdie opsig poog ek om Paulus se voorbeeld na te streef.
Hand.20:26 “Daarom betuig ek aan julle op hierdie dag dat ek rein is van die bloed van almal. 27 Want ek het nie nagelaat om aan julle die hele raad van God te verkondig nie.”

Kerke wat gesonde Bybelse leerstellings op ‘n sistematiese wyse verkondig word al hoe skaarser, en daar is baie mense wat graag meer van die Here wil leer maar wat nie ‘n Bybelgesentreerde kerk kan vind nie. In ‘n poging om meer relevant in die wêreld te wees, word al hoe meer gemeentes toenemend wêrelds en verloën so hulle roeping. God het ons nie geroep om die skape te vermaak nie, maar om hulle te leer sodat hulle tot die volle kennis van Hom kom, en dit is in die Skrifte waar God ons hierdie inligting gee. Ons almal moet ons misplaaste prioriteite regkry en weer ‘n leerstellige gebaseerde model van ware heiligmaking navolg. Ware heiligmaking sal slegs plaasvind indien ‘n persoon kontekstuele korrekte Bybelse leerstellings inneem wat hulle sal toerus om die geloofstoetse wat God vir hulle beplan het te kan slaag. Maar omrede mense predikers vir hulleself aanstel wat aan hulle vertel wat hulle wil graag wil hoor, en nie wat God wil hê hulle moet hoor nie, ontstaan daar ‘n vervalste vorm van “Christelike kultuur” waar die begeertes van hulle eie harte in die naam van Jesus nagejaag kan word. Hulle kan nog steeds die gevoel van geestelikheid opwerk, deur om na intern gefokuste “aanbidding musiek” te luister sonder om werklik ooit in genade tot geestelike volwassenheid op te groei.

Bybelse geloof is om dinge te sien soos wat God dit sien, en dan dienooreenkomstig in daardie waarhede te rus. God se perspektief van die wêreld om ons kan slegs deur toegewyde en sistematiese Bybelstudie bekom word. ‘n Persoon wie se geloof nie op kontekstuele korrekte Bybelse waarhede gebaseer is nie, se geloof is op aanmatiging gebaseer wat nooit as ware Bybelse geloof sal kwalifiseer nie. Sonder Bybelse waarhede (wat korrekte Bybelse leerstellings insluit) is Bybelse geloof onmoontlik. Dit is en bly egter God se wil, om in Sy verhouding met die mensdom hulle tot so ‘n mate in hulle geloof op te bou dat hulle Sy uitkyk op hulle lewens deel. Slegs wanneer ‘n persoon God se perspektief aangaande sy lewe handhaaf, kan daar met regte gesê word dat die persoon werklik in God se wil wil leef. En om dit te bewerkstellig moet die persoon aan God se hele raadsplan, soos wat dit in die Bybel opgeteken staan, blootgestel word om sodanige leerstellings te assimileer sodat dit die grondslag van sy verwysingsraamwerk word.

Soos wat ons in die reeks artikel oor die sewe dispensasies waargeneem het, val God se oordeel op diegene in elke bedeling wat Sy lig/woord verontagsaam. Die doel van hierdie webtuiste was nog altyd om ‘n bron van inligting te wees, waar soekende gelowiges wat ‘n in meer diepte begrip van God se woord begeer kan kom en leer. In hierdie opsig is dit ons begeerte om God en ons medemens te dien. Boonop is daar klein huisgemeentes wat die inligting op die webtuiste in hulle dienste gebruik, en om hierdie rede is dit belangrik om seker te maak dat hulle volle toegang tot Bybelgesentreerde inligting het. Baie wat as Christelike leerstellings verkondig word is nie ware Bybelgesentreerde leerstellings nie, en sake volgens die skrifte gaan net vererger. Dit is een van die redes waarom daar so baie mense is wat nie ten volle oortuig van die feit is dat hulle nooit verlore sal kan gaan indien hulle slegs die evangelie geglo het nie. Hierdie mense loop in ‘n ewige toestand van vrees rond en wonder of hulle genoeg gedoen het om God se liefde te verdien, nieteenstaande die feit dat dit eerstens God was wat uit Sy liefde Sy Seun gestuur het om vir ons sondes aan die kruis te sterf.
Rom.5:10 “Want as ons, terwyl ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood van sy Seun, veel meer sal ons deur sy lewe gered word nou dat ons versoen is.”

Baie ander verkeer onder die indruk dat hulle gered maar wat onwetend die slagoffers van die een af ander werke evangelie is. Die tragedie van hierdie stand van sake is dat baie van hierdie mense onwetend as godsdienstige heidene op pad hel toe is. Dis is en was nog altyd God se wil dat ieder en elkeen van Sy kinders met sekerheid moet weet, dat wanneer hulle die evangelie van God se genade geglo het, hulle vir ewig Sy kinders is en dat Hy hulle nooit sal verwerp nie. ‘n Term wat as geloofsekerheid bekendstaan.
1Joh.5:13 “Dit het ek geskrywe aan julle wat glo in die Naam van die Seun van God, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe (as huidige besitting) het en kan glo in die Naam van die Seun van God.
Joh.5:24 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe
(as huidige besitting) en kom nie in die oordeel nie, (daar is geen oordeel vir die wat in Christus is nie. Rom.8:1) maar het (alreeds) oorgegaan uit die dood in die lewe.”
O
m die ware evangelie teen vervalsings te verdedig is lang artikels soms nodig. Onthou, mense se siele is op die spel!

Ter Afsluiting: Tragies genoeg is daar baie mense wat nie ten volle daarvan bewus is, dat God, in Christus, die probleem van die mensdom se sonde vir eens en altyd op die kruis afgehandel het nie, en dat al wat Hy van die mens verwag is om die geskenk van die ewige lewe kosteloos (sonder die doen van enige werke, rituele of om daarvoor te vra) by Hom in ontvangs te neem, deur dood eenvoudig die evangelie te glo. Ons word nie aangesê om vir die ewige lewe te vra nie, want hoe sal ons ooit weet of ons ooit opreg genoeg gevra het? Ons word ook nie in die Skrifte aangesê om ons lewens vir die Here te gee alvorens Hy ons sal red nie. (Baie mense word aangesê om juis dit te doen om gered te word wat niks anders as ‘n werke evangelie is nie.) God het ons nie die opdrag gegee om Hom te vra om in ons harte in te kom nie. Om dit te doen is om Hom op ‘n subtiele wyse te beledig. Dit is God wat alreeds alles gedoen het om die mensdom se sonde probleem op te los, en dit alles nog voordat ons Hom enigsins iets kon vra. Dit is God wat alreeds met die geskenk van die ewige lewe in Sy uitgestrekte hande staan, gereed om dit kosteloos aan ons te gee die oomblik wat ons dood eenvoudig die evangelie glo.
Joh.6:28 “Toe vra hulle Hom: Wat moet ons doen om die werke van God te volbring? 29 Jesus antwoord en sê vir hulle: Dít is die werk van God, dat julle in Hom glo wat Hy gestuur het.”
Niks meer as dit word van ons verwag nie. Daar is ongelukkig miljoene Christene wat hierdie feit nie mooi verstaan nie, omrede hulle die slagoffers van dwaalleerstelling is. In lig van hierdie feite vra ek die mense wat oor die lengte van die artikels kla om my genadig te wees, ek poog net om te doen wat ek glo die Here my geroep het om te doen. En kyk nou net, nou het ek alweer ‘n ellelange artikel geskryf! Al wat ek kan vra is om asseblief tyd te maak om dit te lees.

Seën groete!

Vic

Deel met ander asb.