dissipelskap 22

Hindernisse wat toegewyde dissipelskap verhinder

Indien mens ‘n studie oor die vereistes van toegewyde dissipelskap vanuit die Bybel doen, sal mens opmerk dat by verre die grootste deel van die belydende Christendom hierdie leerstelling, of nie behoorlik verstaan nie, of dit dood eenvoudig ignoreer. Waar hierdie leerstelling van die Here afgewater, of selfs heeltemal ignoreer word, gaan dit ernstige implikasies in gelowiges se geestelike lewens meebring.
Luk 14:26 “As iemand na My toe kom en hy haat nie sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs ook sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie. 14:27 En elkeen wat sy kruis nie dra en agter My aan kom nie, kan my dissipel nie wees nie.”
Indien woorde betekenis het, (en dit het) en mens lees en interpreteer die bostaande teksgedeelte net soos wat dit daar staan, kan daar geen misverstand wees nie. Die Here het presies geweet wat Hy gesê het en die implikasies daarvan is duidelik. Dissipelskap verg opofferings!

Voordat ons verder met hierdie studie gaan, is dit egter van uiterste belang om te verstaan dat mens op grond van God se genade, deur geloof alleen, sonder die doen van enige werke (die Evangelie) wedergebore word. Daar is egter ‘n verskil tussen aanvanklike wedergeboorte (fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte) en heiligmaking wat dissipelskap insluit. (fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking) Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikels, “Drie Fases van Ons Verlossing” asook “Die Onderskeid tussen ‘n Gelowige en ‘n Dissipel” te lees.) Derhalwe is dit belangrik te begryp dat die bostaande teksgedeelte nie oor wedergeboorte (fase een) handel nie, maar eerder oor heiligmaking/dissipelskap (fase twee.)

Ek glo nie die Here kon die vereistes vir dissipelskap meer duideliker gestel het nie! Die vereistes vir toegewyde dissipelskap is dus baie hoog. Hierdie is egter ook nie die enigste keer wat die Here die vereistes vir toegewyde dissipelskap met Sy dissipels gedeel het nie. ‘n Baie duidelike illustrasie van hierdie waarhede vind ons in die lewens van drie voornemende dissipels. Ek gaan die verskillende reaksies van hierdie voornemende dissipels afsonderlik aanhaal en verduidelik. Hierdie mense se verhale sal ons help om nie in dieselfde strik as hierdie voornemende dissipels te trap en onsself, as dissipels van die Here, diskwalifiseer nie.

Voornemende dissipel no 1: Luk 9:57 “En terwyl hulle op reis was, sê iemand op die pad vir Hom: Here, ek sal U volg, waar U ook mag gaan! 9:58 Toe sê Jesus vir hom: Die jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste, maar die Seun van die mens het geen plek waar Hy sy hoof kan neerlê nie.”
Opmerking: Hierdie eerste voornemende dissipel nader die Here, en verklaar sy bereidwilligheid om die Here te volg, “waarookal die Here mag gaan.” Indien mens die Here se antwoord op hierdie voornemende dissipel se aanbod in ag neem, blyk dit duidelik dat die Here geweet het wat in die persoon se hart aangaan, en die feit dat hierdie persoon nie werklik gaan sit en dink het wat ware dissipelskap van hom sou vereis nie. En derhalwe antwoord die Here dat Hy (wat die Skepper van die aarde is) nie eens ‘n plek van Sy eie het, (in hierdie wêreld wat Hy geskape het) waar Hy sy hoof kan neerlê nie. Die jakkalse het gate, en die voëls het neste waarheen hulle kan gaan, en wat hulle as hulle eie kan beskou, maar die Here kon nie dieselfde stelling oor Homself in hierdie wêreld maak nie. Die punt wat die Here aan die voornemende dissipel oordra is soos volg: “Om die Here as dissipel te volg, sal beteken dat die dissipel bereid sal moet wees om sonder die materiële geriewe, en sekuriteit, van hierdie wêreld klaar te kom.” Onthou, alhoewel die Here, as God, ryk was, het Hy aarde toe gekom, en basies as hawelose man op aarde gelewe, om sodoende die Vader se wil op aarde te doen. (Sy Kruisdood.)
2Ko 8:9 “Want julle ken die genade van onse Here Jesus Christus, dat Hy, alhoewel Hy ryk was, ter wille van julle arm geword het, sodat julle deur sy armoede ryk kan word.” (Die volle omvang van hierdie rykdom sal ons na afloop van fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking, ontvang wanneer ons voor die Regterstoel Oordeel van Christus sal verskyn. Die dwaal leerstelling van die Voorspoed Evangelie is glad nie hier ter sprake nie.)

Voornemende dissipel no 2: Luk 9:59 “En Hy sê aan ‘n ander een: Volg My. Maar hy antwoord: Here, laat my toe om eers my vader te gaan begrawe. 9:60 En Jesus sê vir hom: Laat die dooies hul eie dooies begrawe; maar gaan jy en verkondig die koninkryk van God.”
Opmerking: Om bostaande teksgedeelte reg te verstaan, is dit egter belangrik om die kulturele agtergrond rakende die voornemende dissipel se antwoord, naamlik: “ Here, laat my toe om eers my vader te gaan begrawe.” korrek te interpreteer. Indien ‘n Jood van daardie tydperk tot sterwe gekom het, dan is daardie persoon op dieselfde dag, of in uitsonderlike gevalle, die daaropvolgende dag begrawe. Die begrafnis is dan gewoonlik deur ‘n routydperk, wat 30 dae lank geduur het, gevolg. Indien dit werklik met hierdie persoon die geval sou wees, sou hierdie persoon nie saam met die Here op die pad gewandel het nie, omrede die kulturele verantwoordelikhede van daardie tydperk vereis het dat die seun na sy vader se afsterwe oor die lyk waak, en dan sou die Here nie meer op daardie plek gewees het nie, want Hy was op reis. (dus was die Here aan die beweeg). Onthou, volgens Luk. 9:57 was hulle op reis en het op die pad gewandel!
Luk 9:57 “En terwyl hulle op reis was, sê iemand op die pad vir Hom:…”
Boonop het die Midde Oosterse gebruik van die term : “laat my toe om eers my vader te gaan begrawe.” beteken dat die persoon eers wou wag totdat sy vader afgesterwe het, alvorens hy die Here as dissipel sou volg. Dus was dit ‘n Midde Oosterse gesegde wat ‘n uitstel van ‘n onbekende lengte van tyd versoek het. Daar was geen sprake dat die persoon se vader noodwendig op sterwe gelê het, of self siek was nie. En dus kan die uitstel jare lank neem! Boonop is daar ook ‘n moontlike verdere konnotasie, wat die versoek van Voornemende Dissipel no 2 weerspieël, en dit is dat hy graag wou wag totdat sy vader eers tot sterwe sou kom, sodat hy sy vader ‘n ordentlike begrafnis kon gee, ( wat ‘n kulturele vereiste van daardie tyd was en wat opsigself nie ‘n sonde is nie) en sodoende eers sy erfporsie in ontvangs kon neem. (met ‘n verdere moontlike motief om dan daardie geld te gebruik, om die Here se roeping, om die koninkryk te gaan verkondig, te befonds, wat eerder op ‘n gebrek aan geloof dui. Waar God iets beveel, kan mens verseker weet dat Hy ook die middele sal voorsien!)

Voordat ek verder gaan, is dit egter belangrik om daarop te wys dat hierdie persoon alreeds gered was. (fase een) Dit moet weereens duidelik gestel word, dat die Here se roeping nie ‘n roeping tot geloof in Hom was (fase een) nie, maar die betrokke roeping was tot toegewyde dissipelskap. (Fase twee) Tweedens bevestig die Here se opmerking, naamlik “Laat die dooies hulle eie dooies begrawe.” hierdie gevolgtrekking, omrede die implikasie duidelik is dat die ongelowiges toegelaat moet word om die fisiese dooies te begrawe. Die Here sou nie hierdie stelling aan persoon no 2 kon gemaak het, indien persoon no 2 nie alreeds gered was nie. Dit is dus net logies, dat persoon no 2 alreeds in die Here geglo het, en op grond van daardie feit roep die Here die man tot toegewyde dissipelskap. Dit is dus duidelik dat verlossing, (fase twee) naamlik heiligmaking/dissipelskap hier deur die Here verwag word en nie verlossing (fase een) nie! Luk 9:6 is dus ‘n oproep om te preek! Nie om wedergebore te word nie. (Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikels “Bekering, geloof en die Ewige lewe” asook “Die Drie Fases van Verlossing” te lees.)

Dit is egter belangrik om in gedagte te hou, dat hierdie persoon nie die Here se versoek, om Hom as dissipel te volg, prontuit verwerp nie. Sy sonde het daarin gelê dat hy eers iets anders gehad het om te doen en wat hy van meer belang as toegewyde dissipelskap geag het. Derhalwe het hy sy wil bo die wil van God geplaas. Ja, ek glo dat die Here presies bedoel het wat Hy gesê het, toe Hy gesê het dat die persoon moet toelaat dat die geestelike dooies hulle eie fisiese dooies moet begrawe. Daar is egter niks inherent daarmee verkeerd indien ‘n gelowige sy eie dooies begrawe nie, (mens sal immers so iets van ‘n gelowige verwag!) maar dit word egter sonde, indien die begrawe van geliefdes (of enige iets anders) voorrang oor God se opdrag om die Evangelie te verkondig geniet. Die Here het dit baie duidelik gestel, dat alles (en dit beteken alles) die tweede plek naas Hom en Sy wil moet inneem!
Luk 9:23 “En Hy sê vir almal: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg. 9:24 Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, hy sal dit red. 9:25 Wat baat dit ‘n mens tog as hy die hele wêreld win, maar homself verloor of skade aandoen? 9:26 Want elkeen wat hom skaam vir My en my woorde, vir hom sal die Seun van die mens Hom skaam wanneer Hy kom in sy heerlikheid en dié van die Vader en van die heilige engele.”
Indien daar enige verdere twyfel bestaan of die Here werklik bedoel het met wat Hy in bostaande teksgedeelte gesê het, dan behoort Lukas 14:26-27 daardie twyfel uit die weg te ruim.
Luk 14:26 “As iemand na My toe kom en hy haat nie sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs ook sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie. 14:27 En elkeen wat sy kruis nie dra en agter My aan kom nie, kan my dissipel nie wees nie.”

Die hindernis tot toegewyde dissipelskap, sover as wat dit die tweede persoon aanbetref, is dat hy sy wil/begeertes bo die roeping van God, en dus God se wil, geplaas het. Hy wou eerstens sy eie wil uitvoer en dan God se wil doen. Persoon no 2 se antwoord aan die Here kan soos volg geparafraseer word, naamlik: “ Here ek sal U wil doen, en U as dissipel volg, maar ek het egter eers iets anders wat ek moet doen. Laat my asb toe om eerstens my wil te doen, en as ek dit afgehandel het, sal ek U as dissipel volg. In Kort, my wil bo U wil!” Daar is ongelukkig baie gelowiges wat hulle aan dieselfde sonde skuldig maak! Daar is baie gelowiges wat hulle beroepe, geldmaak, oorlewing in hierdie wêreld, asook baie ander dinge (wat opsigself nie verkeerd is nie) die hoofdoel in hulle lewens maak, instede daarvan om eerstens die koninkryk van God en Sy geregtigheid te soek (wat Sy wil insluit) en daarna sal die Here die res daarby voeg soos wat Hy dit nodig ag. (Onthou die Here is bewus van opsies waarvan ons nie eens bewus is nie!)
Luk 12:15 “En Hy sê vir hulle: Pas op en wees op julle hoede vir die hebsug, want iemand se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie. 12:16 Toe vertel Hy hulle hierdie gelykenis: ‘n Ryk man se grond het goed gedra. 12:17 En hy het by homself geredeneer en gesê: Wat sal ek doen, want ek het geen plek waar ek my oes kan insamel nie? 12:18 Toe sê hy: Dit sal ek doen: ek sal my skure afbreek en groter bou, en ek sal daar al my opbrengste en my goed insamel. 12:19 En ek sal vir my siel sê: Siel, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare; neem rus, eet, drink, wees vrolik. 12:20 Maar God het aan hom gesê: Jou dwaas, in hierdie nag sal hulle jou siel van jou afeis; en wat jy gereedgemaak het, wie s’n sal dit wees? 12:21 So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is in God nie. 12:22 En Hy het aan sy dissipels gesê: Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor jul lewe, wat julle sal eet, of oor jul liggaam, wat julle sal aantrek nie. 12:23 Die lewe is meer as die voedsel en die liggaam as die klere. 12:24 Kyk na die kraaie, want hulle saai nie en hulle maai nie; hulle het geen voorraadkamer of skuur nie, en tog voed God hulle. Hoeveel meer is julle nie werd as die voëls nie! 12:25 En wie onder julle kan, deur hom te kwel, een el by sy lengte voeg? 12:26 As julle dan selfs nie die geringste kan doen nie, waarom kwel julle jul oor die ander dinge? 12:27 Kyk na die lelies, hoe hulle groei: hulle arbei nie en hulle spin nie; en Ek sê vir julle, selfs Salomo in al sy heerlikheid was nie bekleed soos een van hulle nie.12:28 As God dan die gras van die veld wat vandag daar is en môre in ‘n oond gegooi word, so beklee, hoeveel meer vir julle, kleingelowiges! 12:29 Julle moet ook nie soek wat julle sal eet of wat julle sal drink nie, en julle nie ongerus maak nie; 12:30 want al hierdie dinge soek die nasies van die wêreld, en julle Vader weet dat julle hierdie dinge nodig het. 12:31 Maar soek die koninkryk van God, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.”
Die meeste mense doen mooi net die teenoorgestelde van wat die Here in bostaande teksgedeelte beveel. God, Sy koninkryk en Sy geregtigheid moet eerste in ons lewe wees en dan sal die Here die ander dinge byvoeg! Om anders te doen demonstreer ‘n gebrek aan geloof in God en Sy woord en kan ook as moedswillige ongehoorsaamheid bestempel word.

Die Here gaan egter nie met so ‘n persoon se keuse tevrede wees nie, en derhalwe diskwalifiseer so ‘n persoon homself om die Here se dissipel te wees. Hierdie tweede persoon het sy wil bo die Here se wil geplaas. Soortgelyke foute word begaan, wanneer iemand byvoorbeeld sy beroep, of die kulturele verantwoordelikhede van die dag, die hoofdoel in sy lewe maak, in pleks daarvan dat God se doelstellings eerste prioriteit in sy lewe geniet. Die beroepe wat die Here ons dan in Sy genade geskenk het moet as hulpmiddel, waardeur God Sy doelstellings op aarde uitgevoer, dien. Hierdie leerstelling van die Here dien geensins as verskoning vir iemand wat te lui is om te werk nie. Dit is die Here se wil dat ‘n persoon werk, om sodoende vir sy noodsaaklike behoeftes te voorsien, maar die streng vereistes van dissipelskap vereis dat ‘n persoon eerstens die belange van God eerbiedig en Hom in dissipelskap navolg. As gelowiges, moet die hoofrede van ons bestaan die belange van God wees, en ons moet daarteen waak, om nie ons tyd, vermoëns en geld op dinge te mors wat die ongelowiges net so goed (en soms selfs beter) kan doen nie. Die verspreiding en verkondiging van die Evangelie behoort ten alle tye die hoof prioriteit van alle gelowiges te wees. Dit beteken geensins dat almal geroep word om te preek nie, maar ons almal behoort op die een of ander wyse by die verspreiding van die Evangelie betrokke te wees en ons almal word tot toegewyde dissipelskap geroep!
Mar 16:15 “En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom.
Mat 28:19 Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”
Lees asb die artikels “Gelykenis van die Ponde” asook “Die Gelowiges se Werke gaan beoordeel word.”

Voornemende Dissipel no 3: Luk 9:61 “En ‘n ander een het ook gesê: Here, ek sal U volg, maar laat my eers toe om afskeid te neem van die wat in my huis is. 9:62 En Jesus antwoord hom: Niemand wat sy hand aan die ploeg slaan en agtertoe kyk, is geskik vir die koninkryk van God nie.”
Opmerking: Die derde voornemende dissipel bied aan om die Here te volg. Maar saam met sy aanbod kom daar egter ook ‘n voorwaarde. Hy wil eerstens afskeid van sy familie gaan neem. Indien mens egter weereens die Midde-Oosterse kultuur in ag neem, was daar ‘n groot moontlikheid dat hierdie voornemende dissipel eers wou gaan toestemming vra alvorens hy die Here as dissipel sou volg. Die probleem bly egter dieselfde, naamlik dat hierdie voornemende dissipel toelaat dat familiebande tussen hom en toegewyde dissipelskap aan die Here kom. Dit is egter belangrik om die Here se vermaning weereens hier te noem, naamlik:
Luk 14:26 “As iemand na My toe kom en hy haat nie sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs ook sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie. 14:27 En elkeen wat sy kruis nie dra en agter My aan kom nie, kan my dissipel nie wees nie.”
Onthou, die Here beveel ons nie met bostaande stelling om ons familie te haat nie!, (want dan sou dit Sy ander uitsprake oor naasteliefde weerspreek) Wat die Here hier bedoel, is dat ons toegewydheid, as Sy dissipels, van so ‘n aard moet wees, dat ons familiebande, en selfs ons eie lewens, die tweede plek onder Hom en toewyding aan Sy wil moet inneem. (Dus, behoort gelowige so toegewyd ten opsigte van die Here wees, dat hy bereid moet wees om sy lewe in diens van die Here prys te gee!) Dit geld vir die gelowige se fisieke lewe, asook alle ander fasette in hierdie lewe wat die gelowige as belangrik, regmatig en selfs as nodig mag beskou. ‘n Persoon wat agtertoe kyk, demonstreer deur sy optrede, dat hy sy familiebande (of enige iets anders, insluitende hyself ook) as belangriker as God se roeping op sy lewe beskou. Toegewyde dissipelskap vereis meer as net ‘n begeerte. Dit vereis absolute toewyding. Die Here se roeping moet voorrang oor ‘n persoon se familiebande, asook enige ander bande, geniet. Die Here soek dissipels wat Hom, en Sy wil, bo alle ander dinge soek, en dan bereid sal wees om voluit daarvolgens te leef.

Die Here gaan dan voort en gee ‘n illustrasie van ‘n man wat ploeg, en verduidelik dat ‘n man wat sy hande aan ‘n ploeg slaan en dan op dieselfde oomblik agtertoe kyk, nie vir die koninkryk geskik is nie. Bogenoemde stelling beteken geensins dat die persoon ongered is en op pad hel toe is nie. Onthou, ons werke het geen aandeel in ons verlossing/wedergeboorte (fase een, naamlik wedergeboorte) nie. Ons kan nie ons weg in die hemel in werk (wat ploeg of toegewyde dissipelskap insluit) nie, maar ons word gered op grond van God se genade deur geloof alleen! Ons werke, wat toegewyde dissipelskap insluit, kan ons nie voor ‘n heilige God regverdig verklaar nie, maar ‘n persoon wat nie die Here as toegewyde dissipel volg nie is nie geskik vir diens in die koninkryk nie! (Die leser word aangeraai om die artikel “Geloof sonder werke is dood: Jakobus 2:14-26” ook te lees.) Hierdie hele gedeelte handel oor fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking, nie aanvanklike wedergeboorte nie! Onthou, die Bybel stel dit baie duidelik dat ‘n persoon op grond van God se genade deur geloof alleen wedergebore raak. (Die eenvoudige glo van die Evangelie!)
Rom 3:20 “aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van sonde. 3:21 Maar nou is die geregtigheid van God geopenbaar sonder die wet, terwyl die wet en die profete daarvan getuig, 3:22 die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo, want daar is geen onderskeid nie; 3:23 want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, 3:28 Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet.”

Logiese gevolgtrekking: Die Christendom van die Bybel is in baie opsigte ver verwyderd van die hedendaagse belydende Christendom van genot, vermaak, rykdom en plesier. Ware Bybelse Christenskap moet nie met die genot gebaseerde; geld gedrewe; en luukse gemaksugtige Christendom van vandag verwar word nie. (Hierdie stelling geld ook vir die persone wat die dwaal leerstellings wat die Woord Geloof en Voorspoed Evangelie voorstaan en verkondig!) Die ware Bybelse Christendom is in ‘n hewige stryd teen die bose magte van Satan gewikkel, en hierdie stryd, is ‘n stryd om lewe en dood! Hierdie stryd verg opofferings, en daar gaan van ‘n dissipel verwag word om Sy Heer doelgerig na te volg en Sy wil te doen. Derhalwe behoort ons as getroue dissipels, ons uitgawes tot die minimum te beperk, sodat so veel as moontlik hulpmiddele in die stryd om die Evangelie te verkondig gewerp kan word.

Indien die Here enigsins iets vir ons beteken, dan behoort Hy mos alles vir ons te beteken! Soos reeds vroeër in hierdie studie gestel is, is ons in ‘n oorlog gewikkel, en net soos in enige oorlog kan mens lyding en opofferings verwag. Indien soldate bereid is om hulle lewens vir hulle land op die spel te plaas, hoeveel te meer behoort ons, as ontvangers van God se onbeskryflike genade, nie ook bereid wees om opofferings vir Hom te maak nie? (Onthou duisende mense sterf daagliks en gaan die ewigheid sonder Christus in!) Derhalwe behoort geen opoffering, lyding of gebrek aan persoonlike aansien, asook fisiese en finansiële sekuriteit, in die weg van toegewyde dissipelskap staan nie!

Ons moet ook in gedagte hou, dat die apostel Paulus, toe hy oor sy apostelskap aangeval is, nie na sy grade; (wat by die toonaangewende instansies van sy tyd bekom is) sy welsprekendheid en begaafdheid; of na sy luukse motors in sy motorhuis; of na sy baie besittings; of na sy stywe bankrekening of selfs na sy gesondheid as bewys van sy apostelskap gewys het nie, maar hy het eerder na sy lyding, opofferings en smarte in diens van sy God verwys, naamlik:
2Ko 11:23 “Is hulle dienaars van Christus? —ek praat in uitsinnigheid—ek nog meer: in arbeid oorvloediger, in slae bo die maat, in gevangenskappe baie meer, in doodsgevare dikwels. 11:24 Vyf maal het ek van die Jode ontvang veertig houe op een na. 11:25 Drie maal is ek met stokke geslaan, een maal is ek gestenig, drie maal het ek skipbreuk gely, ‘n nag en ‘n dag het ek op die diepwater deurgebring— 11:26 dikwels op reis, in gevare van riviere, in gevare van rowers, in gevare van my volk, in gevare van die heidene, in gevare in die stad, in gevare in die woestyn, in gevare op see, in gevare onder valse broeders; 11:27 in arbeid en moeite, in slapelose nagte dikwels, in honger en dors, dikwels sonder ete, in koue en naaktheid. 11:28 Behalwe dit alles my daaglikse bekommernis, die sorg vir al die gemeentes. 11:29 Wie is swak en ek is nie swak nie? Aan wie word ‘n struikelblok in die weg gelê en ek is nie aan die brand nie? 11:30 As daar geroem moet word, sal ek in my swakhede roem. 11:31 Die God en Vader van onse Here Jesus Christus, geseënd tot in ewigheid, weet dat ek nie lieg nie. 11:32 In Damaskus het die goewerneur van koning Arétas die stad van die Damaskéners laat bewaak om my te vang; 11:33 en ek is in ‘n mandjie deur ‘n venster in die muur neergelaat en het aan sy hande ontkom.”
Paulus se lewe dien as mooi illustrasie van toegewyde dissipelskap!

Indien dit van soldate verwag word, om onder moeilike, en selfs haglike omstandighede te dien, hoeveel te meer behoort ons nie ook net so vir Ons hemelse Vader te doen nie? Om die verskoning te wil gebruik, dat die Here Jesus se leerstellings soos in die Evangelies gevind, slegs op die Ou Testament betrekking het, is foutief, omrede bostaande teksgedeelte, uit die lewe van die apostel Paulus, baie duidelik demonstreer dat die vereiste van toegewyde dissipelskap nie in die dispensasie van die Kerk/genade verander of weggeval het nie. Boonop het Paulus, net voordat hy met sy lewe vir sy geloof sou boet, sy getroue metgesel, Timoteus met die volgende opdrag vermaan, naamlik:
2Ti 2:1 “ Jy dan, my seun, wees sterk deur die genade wat in Christus Jesus is; 2:2 en wat jy van my gehoor het onder baie getuies, vertrou dit toe aan getroue manne wat bekwaam sal wees om ook ander te leer. 2:3 Ly dan verdrukking soos ‘n goeie krygsman van Jesus Christus.”
Ons kan nie verwag dat die Here slegs met die tweede beeste in ons lewens tevrede moet wees nie. Hy sal nie daarmee tevrede wees nie, en indien ons in Sy posisie was, sou ons dieselfde gevoel het.

Dit moet egter altyd in gedagte gehou word, dat ons nooit die lewe van toegewyde dissipelskap in ons eie krag sal kan uitleef nie. Dit moet op grond van God se genade, deur geloof, en in die krag van die Heilige Gees in, en deur, die gelowige bewerkstellig word. Wat die Here egter van ons verwag, is om in gehoorsaamheid, en in geloof, hierdie lewe van dissipelskap ten volle uit te leef. Om derhalwe op ons eie krag staat te maak sal tot frustrasie en mislukking lei. (Lees gerus die artikels “Heiligmaking op grond van genade deur geloof” vir meer besonderhede.) En onthou:
Fil 4:13 “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.”
Dit bly egter ‘n feit, dat toegewyde dissipelskap, toewyding en opofferings gaan verg en daarom het die Here ons gewaarsku om ‘n koste berekening te doen, alvorens ons hierdie weg bewandel.
Luk 14: 27 “En elkeen wat sy kruis nie dra en agter My aan kom nie, kan my dissipel nie wees nie. 14:28 Want wie van julle wat ‘n toring wil bou, gaan nie eers sit en die koste bereken, of hy die middele het om dit uit te voer nie? — 14:29 sodat as hy die fondament gelê het en nie in staat is om dit te voltooi nie, almal wat dit sien, nie miskien met hom sal begin spot 14:30 en sê: Hierdie man het begin bou en kon nie klaarkry nie. 14:31Of watter koning wat optrek om teen ‘n ander koning slag te lewer, gaan nie eers sit en beraadslaag of hy in staat is om met tien duisend die een te ontmoet wat met twintig duisend teen hom kom nie? 14:32 Anders stuur hy ‘n gesantskap as die ander een nog ver is, en vra vredesvoorwaardes. 14:33 So kan dan ook niemand van julle wat nie afsien van al sy besittings, my dissipel wees nie.”
Die Here se vereiste vir dissipelskap is baie duidelik! Is ons werklik bereid om Hom as toegewyde dissipels na te volg?

Indien ons Luk. 9:57-62 sorgvuldig bestudeer kan mens sien dat daar hoofsaaklik drie primêre hindernisse tot toegewyde dissipelskap is, naamlik: 1. Die voorliefde vir aardse gemak en besittings; 2. Wanneer ‘n persoon se aardse verpligtinge, beroep, kulturele verantwoordelikhede, ensovoorts voorrang oor God se roeping geniet; 3. Wanneer familiebande, of enige ander bande, voorrang oor God se roeping geniet. Om die Here in toegewyde dissipelskap te volg verg dus meer as net goeie bedoelings en begeertes. Toegewyde dissipelskap verg toewyding, wat bereid is om ‘n kosteberekening te doen. Daar moet dan ‘n beslissende besluit geneem word, om die Here te volg, en dit maak nie saak wat dit kos nie. (insluitende fisiese, asook finansiële sekuriteit, familiële en vriendskap bande, en ja, selfs ons eie lewens!) Die loon vir hierdie mate van toewyding is egter baie groter as wat dit kos. (en boonop het dit ewigdurende implikasies tot gevolg!) Boonop is dit die toegewyde dissipels wat as God se vriende bestempel sal word! Abraham het hierdie beginsel baie mooi geïllustreer, toe hy is liefde vir God, bo sy liefde vir sy seun Isak geplaas het.
Jak 2:20 “Maar wil jy weet, o nietige mens, dat die geloof sonder die werke dood is? 2:21 Is Abraham, ons vader, nie uit die werke geregverdig toe hy Isak, sy seun, op die altaar geoffer het nie? 2:22 Sien jy dat die geloof saamgewerk het met sy werke en dat die geloof volkome geword het uit die werke? ( fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking/dissipelskap) 2:23 En die Skrif is vervul wat sê: En Abraham het God geglo, (fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte) en dit is hom tot geregtigheid gereken, en hy is ‘n vriend van God genoem.” (loon vir fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking/dissipelskap) Abraham was ‘n vriend genoem omrede hy bereid was om sy seun aan die Here te offer. Hy het ook boonop geglo dat die Here instaat was om sy seun uit die dood uit op te wek, want dit is deur Isak wat al God se beloftes aan hom tot stand sou kom. (Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikels “Geloof sonder werke is dood? Jak 2:14 -26” asook “Bekering, Geloof en die Ewige Lewe” te lees!)

Ter Afsluiting: Vir die ware dissipel is daar geen sprake van terugdraai nie en dit maak nie saak wat die koste mag wees nie!
Joh 12:24 “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as die koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, (selfverloëning, wat toegewyde dissipelskap/heiligmaking insluit) bly dit alleen; maar as dit sterf, (selfverloëning, wat toegewyde dissipelskap/heiligmaking insluit) dra dit veel vrug. 12:25 Wie sy lewe liefhet, sal dit verloor; maar wie sy lewe haat in hierdie wêreld, (selfverloëning, wat toegewyde dissipelskap/heiligmaking insluit) sal dit bewaar vir die ewige lewe. (fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking/dissipelskap wat tot ‘n groter mate van gemeenskap met God sal lei, en wat ryklik na afloop van fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking, by die Regterstoel oordeel van Christus beloon sal word!) 12:26 As iemand My dien, laat hom My volg; en waar Ek is, daar sal my dienaar ook wees; en as iemand My dien, sal die Vader hom eer.” (Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Wat is die Ewige Lewe” te lees, want daarin word konsepte bespreek wat nie noodwendig in hierdie artikel bespreek is nie.)

Dit is egter uiters belangrik om te besef, dat die Skrifte dit duidelik stel, dat die gelowige se toewyding aan God, altyd op grond van die fondament van God se genade en seëninge, wat alreeds ontvang is, gebaseer behoort te wees.
Rom 12:1 “Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, (genade wat ons alreeds ontvang het, wat wedergeboorte en al die seëninge wat daarmee gepaard gaan insluit.) dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens. 12:2 En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.”
Bostaande versoek is gerig op grond van die alreeds voltooide werk van Christus aan die kruis.
Rom 3:24 “en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is.”

Ons moet dit ingedagte hou, dat ons net tydens hierdie leeftyd die geleentheid gegee sal word om die Here as toegewyde dissipels na te volg. Dit is slegs gedurende hierdie leeftyd waar ons genadeloon vir onsself kan opgaar wat ewigdurende implikasies sal meebring. Derhalwe is dit van uiterste belang om seker te maak dat God, en Sy wil vir ons lewens, die hoofdoel in ons lewens is, en ons moenie toelaat dat enige iets, of iemand anders, daardie plek in ons lewens inneem nie. Dit is nie ‘n sonde om iets te besit of om ons medemens en familie lief te hê nie. Dit word slegs ‘n sonde wanneer daardie dinge God en Sy wil vervang of verbysteek. Boonop moet die leser nie die fout begaan, om te glo dat toegewyde dissipelskap enigsins beteken dat ons absoluut foutloos of volkome sondeloos sal wees nie. ‘n Dissipel beteken, in kort, ‘n leerling en as sulks sal ons, wat die Here as dissipels navolg, nog baie by Hom leer soos wat ons ons Bybels bestudeer en poog om wat ons geleer het in ons lewens toe te pas. Ons sal nooit ‘n punt van totale sondeloosheid in ons nie-verheerlikte liggame kan bereik nie, maar ons kan toenemend na die beeld van die Here Jesus Christus verander word. Soos wat ons saam met die Here Jesus Christus wandel, so sal Hy ons leer. Sy genade is groot en Hy is geduldig! Onthou: “Die Gees van God; gebruik die Woord van God; in die kind van God; om die wil van God te doen; en dit alles deur die instaatstellende krag van God; tot die heerlikheid van God en die seën van ander mense om ons.” Is Jy ‘n toegewyde dissipel?

Seën Groete

Vic

Een kommentaar op “Hindernisse wat toegewyde dissipelskap verhinder”

Kommentaar is gesluit.