Koninkryk b

Die Kerk is nie die Messiaanse Koninkryk van Christus nie

In die belydende Christendom heers daar huidiglik groot verwarring rondom God se huidige program vir die Kerk (tydens die Kerk Dispensasie), en Christus se program vir Sy komende Messiaanse, Teokraties Koninkryk op aarde. (Die Duisendjarige Vrederyk) Die doel van hierdie studie is om puntsgewys te demonstreer dat die Kerk nie die koninkryk van Christus op aarde is nie. Indien die program van God vir die volk Israel en Sy program vir die Kerk met mekaar verwar of vermeng word, lei dit tot een groot teologiese deurmekaarspul, wat tot gevolg het dat gelowiges wat tydens die Kerk Dispensasie leef die beloftes, en opdragte, wat deur God aan Israel, as Sy verbondsvolk, gemaak is op die Kerk van toepassing maak, en dan op hierdie beloftes en opdragte konsentreer, en poog om dit toe te pas, wat tot gevolg het dat die Kerk, wat nie die volk Israel is nie, God se opdragte, wat spesifiek aan Israel gemaak is, vir hulle self toeëien, en poog om dit uit te voer, eerder as om God se opdragte, wat direk aan die Kerk gemaak is, toe te pas en uit te voer. Dit kan daartoe lei dat so ‘n persoon te laat gaan uitvind dat hy nooit God se wil vir sy lewe uitgevoer het nie en dat so ‘n persoon, tot ‘n groot mate, buite God se wil vir hom gelewe het. En dit terwyl die Bybel dit duidelik stel dat die duiwel huidiglik die god van hierdie wêreld is. Indien Ons in die beloofde Koninkryk van Christus is, hoe kan die Skrifte, wat deur God geïnspireerd is, die duiwel dan die as god van hierdie wêreld beskryf?
2Ko 4:3 “Maar as ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan, 4:4 naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie.”
Vervolgens gaan daar puntsgewys aan die leser gedemonstreer word dat die Kerk, tydens die Kerk Dispensasie, nie die Teokratiese Koninkryk van Christus op aarde is nie, omrede die volk Israel hulle Messias met Sy eerste koms verwerp het, en derhalwe is die Messiaanse Koninkryk uitgestel totdat die Here daardie Koninkryk met Sy wederkoms sal oprig.

1. Daar is onmiskenbare verskille tussen wat huidiglik, tydens die Kerk Dispensasie, aan die gebeur is, en wat God, tydens die Ou Testament, aan die volk Israel ten opsigte van die komende Messiaanse Koninkryk, wat op aarde gesetel sal wees, belowe het. Die Skrifte stel dit duidelik, dat tydens die komende Messiaanse Koninkryk, die Here Jesus Christus met ‘n ysterstaf sal regeer, iets wat nie huidiglik tydens die Dispensasie van die Kerk die geval is nie.
Psa 2:8 Eis van My, en Ek wil nasies gee as u erfdeel en die eindes van die aarde as u besitting. 2:9 U (die Here Jesus Christus) sal hulle verpletter met ‘n ysterstaf, U (Die Here Jesus Christus) sal hulle stukkend slaan soos ‘n erdepot.
Opn 12:5 En sy (Maria uit die volk Israel) het ‘n manlike kind gebaar, wat al die nasies met ‘n ystersepter sou regeer; en haar kind is weggeruk na God en sy troon.(Die Here Jesus Christus se hemelvaart, nadat Hy met Sy eerste koms aan die kruis vir die mensdom se sondes versoening gedoen het, en toe uit die dood uit opgestaan het en opgevaar het na die Hemel toe.)
Tydens die duisend jarige vrederyk van Christus sal openlike sonde en rebellie onmiddellik gestraf word, iets wat nie huidiglik tydens die Kerk Dispensasie die geval is nie.
Sag 14:16 “En almal wat oorbly uit al die nasies wat teen Jerusalem (Tydens die einde van die Groot Verdrukking) aangekom het, sal jaar na jaar optrek om te aanbid voor die Koning, die HERE van die leërskare, (Die Here Jesus Christus wat fisies op aarde sal regeer) en om die huttefees te vier. 14:17 En wie uit die geslagte van die aarde nie na Jerusalem optrek om voor die Koning, die HERE van die leërskare, te aanbid nie—hulle sal geen reën kry nie. 14:18 En as die geslag van Egipte nie optrek en nie kom nie, op wie geen reën sal val nie, dan sal tog die plaag hulle tref waarmee die HERE die nasies tref wat nie opgaan om die huttefees te vier nie. “

Verder stel Johannes in Openbaring 20:7-10 dit duidelik dat teen die einde van die Duisendjarige Vrederyk van Christus, die duiwel vir ‘n kort tydjie vrygestel sal word, sodat hy die ongeredde mense teen Christus se koninkryk kan aanhits, en openlik teen Christus sal rebelleer wat dan onmiddellik deur God gestraf sal word vir hulle rebellie. (weereens is dit nie iets wat huidiglik tydens die Kerk Dispensasie die geval is nie. Tydens die Kerk Dispensasie word openlike rebellie teen God en Sy Gesalfde nie onmiddellik gestraf nie. Dink maar aan die feit dat die oorgrote meerderheid van die mensdom die Here openlik verwerp en soms selfs laster. Hulle sal wel geoordeel word, maar dit is nie noodwendig onmiddellik die geval soos wat dit tydens die Messiaanse Koninkryk die geval sal wees nie.)
Opn 20:7 “En wanneer die duisend jaar voleindig is, sal die Satan uit sy gevangenis ontbind word; 20:8 en hy sal uitgaan om die nasies te verlei wat in die vier hoeke van die aarde is, die Gog en die Magog, om hulle te versamel vir die oorlog; en hulle getal is soos die sand van die see. 20:9 En hulle het opgekom oor die breedte van die aarde en die laer van die heiliges en die geliefde stad (Jerusalem) omsingel, en vuur het van God uit die hemel neergedaal en hulle verslind.”
Daarenteen word die huidige Kerk Dispensasie tot ‘n groot mate deur ‘n lae standaard van Christelike lewenswandel asook wêreldgesindheid gekenmerk.
1Ko 3:1 “En ek, broeders, kon met julle nie spreek soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike, soos met klein kinders in Christus. 3:2 Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste spys nie, want julle was nog nie daartoe in staat nie, en julle is nou nog nie daartoe in staat nie, 3:3 omdat julle nog vleeslik is; want aangesien daar onder julle jaloersheid en twis en tweedrag is, is julle nie vleeslik nie en wandel julle nie na die mens nie?”
Dit blyk baie duidelik dat vleeslikheid nie altyd onmiddellik deur Christus gestraf word nie, en dat die Here Jesus Christus ook nie huidiglik met ‘n ystersepter oor die Kerk of oor die wêreld regeer nie.

In die brief gerig aan die Hebreërs, vind ons dat daardie gemeente grotendeels in ‘n toestand van geestelike kindskap verkeer, en mens moet in ag neem dat hierdie brief tydens die Apostoliese Tydperk geskryf is, toe die Apostels nog gelewe het en was dus vroeg na aanvang van die Kerk Dispensasie. Hierdie gelowiges was egter al lank genoeg wedergebore gewees sodat die Apostel van hulle verwag het om alreeds ‘n stadium van geestelike volwassenheid te bereik, iets wat nie plaasgevind het nie.
Heb 5:12 “Want hoewel julle vanweë die tyd leraars behoort te wees, het julle weer nodig dat ‘n mens julle die eerste beginsels van die woorde van God moet leer, en julle het weer behoefte aan melk en nie aan vaste spys nie. 5:13 Want elkeen wat melk gebruik, is onervare in die woord van geregtigheid, omdat hy ‘n kind is. 5:14 Maar vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei.”
Indien mens die aantal valse leerstellings, valse profesie, asook algehele gebrek aan Bybelkennis, openlike sonde en morele verval in die oorgroot gedeelte van die belydende Christendom in ag neem, kan mens onmoontlik tot die slotsom kom dat ons in die Koninkryk van Christus op aarde is.

Dit is ook verder opmerklik dat die Here Jesus Christus in die boodskappe wat Hy aan die sewe gemeentes in Openb. 2-3 gerig het, (wat die Hele Kerk verteenwoordig) Hy almal behalwe twee gemeentes vir hulle geestelike agteruitgang moes aanspreek. Die Bybel hou egter aan die mensdom ‘n goue era van voorspoed en geregtigheid voor, maar in teenstelling daarmee word die huidige Kerk Dispensasie nie deur geregtigheid gekenmerk nie. (Dink maar aan al die boosheid, haat, hoogmoed, korrupsie, diefstal, moord, skinder, kinderverwaarlosing, egbreuk, seksuele losbandigheid ens wat ons in die wêreld waarneem. Ja, en selfs in die belydende Christendom ook! In Inaggenome al hierdie feite, moet ons met die Skrifte saamstem, dat die huidige Kerk Dispensasie nie Christus se koninkryk op aarde kan wees nie. Ook word God se wil nie op aarde nagekom soos wat dit wel in die Hemel die geval is nie! Dit is nie asof geregtigheid d.m.v. die Kerk die bose wêreld oorneem nie! Die teendeel is egter waar! Dit is juis die wêreld wat die Kerk van binne en buite af beset en beïnvloed het! (Iets wat onmoontlik God se wil vir die Kerk kon wees!) Ook word die Kerk Dispensasie nie deur toegewyde dissipelskap en geregtigheid gekenmerk nie, iets wat wel die geval sou wees, indien ons nou in die Dispensasie van die Koninkryk van die Here Jesus Christus is. (Waartydens Hy wel met ‘n ystersepter sal regeer.) Die Skrifte daarenteen voorspel egter die Kerk se toenemende afvalligheid wat sal toeneem soos wat die einde van die Kerk Dispensasie nader kom. Boonop het die Apostel Paulus die ouderlinge in die gemeente van Éfese vooraf gewaarsku van geestelike afvalligheid en dwaalleer wat na sy heengaan in die gemeentes sal toeneem.
Hnd 20:26 “Daarom betuig ek aan julle op hierdie dag dat ek rein is van die bloed van almal. 20:27 Want ek het nie nagelaat om aan julle die hele raad van God te verkondig nie. 20:28 Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy deur sy eie bloed verkry het. 20:29 Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. 20:30 Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan. 20:31 Daarom moet julle waak en onthou dat ek drie jaar lank nag en dag nie opgehou het om elkeen met trane te vermaan nie.”

Dit is ook boonop opmerklik dat ‘n baie groot gedeelte van die Briewe, wat spesifiek aan die Kerk gerig is, die onderwerp van morele en leerstellige afvalligheid aanspreek. (die leser word aangeraai om self die onderstaande teksgedeeltes op te soek, en dit self te lees, anders gaan hierdie studie te lank raak.)
Rom. 1:18-32; 10; 16:17-18; 2Kor. 11:1-15; 13:5; Gal.1:6-9; 5:1-12; Filip.3:2; 18-19; Kol.2:4-23; 2Thess.2:1-12; 1Tim.1:3-7; 4:1-3; 6:3-5; 2Tim.2:17-26; 3:1-9; 4:15; Tit.1:10-16; Hebr.2:1-4; 3:7-4:13; 5:12-6:12; 10:26-31; 12:14-17; 1Pet.3:19-20; 2Pet.2:1-22; 3:3-10; 1Joh.2:18-23; 3:4-12; 4:1-6; 2Joh. 9 ens. Boonop maak spesifiek die onderwerp van geestelike en leerstellige afval die grootste gedeelte van die volgende briewe, naamlik Galasiërs, 2 Thessalonicense, Hebreeus, asook die boek Openbaring uit. ‘n Probleem wat nie sou bestaan indien ons, onsself nou in die Messiaanse Koninkryk van Christus bevind het nie. Veral indien mens ook in gedagte hou, dat die Here tydens Sy Koninkryk op aarde met ‘n ystersepter sal regeer, en dat die kennis van die Here die aarde sal vul. (iets wat nie huidiglik die geval is nie!)
Jes 11:9 “Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek.”

Om te beweer dat ons nou, tydens die Dispensasie van die Kerk, in die teokratiese Koninkryk van Christus leef, omrede Christus kwansuis in ons harte regeer, is geensins dieselfde as Christus wat fisies in Sy territoriale Teokratiese Koninkryk regeer nie. Die Bybel voorspel duidelik ‘n territoriale koninkryk waaroor Christus fisies gaan regeer, naamlik:
Gén 15:18 “Op dié dag het die HERE met Abram ‘n verbond gesluit en gesê: Aan jou nageslag gee Ek hierdie land, van die rivier van Egipte af tot by die groot rivier, die Eufraatrivier: 15:19 die Keniete en Kenissiete en Kadmoniete 15:20 en Hetiete en Feresiete en Refaïete 15:21 en Amoriete en Kanaäniete en Girgasiete en Jebusiete.” (‘n spesifieke geografiese gebied met vasgestelde grense!)
Soos wat uit bostaande teksgedeelte duidelik waargeneem kan word, behels die Koninkryk meer as net ‘n geestelike koninkryk, maar hierdie beloofde koninkryk behels ‘n letterlike geografiese gebied wat nie goedsmoeds as slegs ‘n geestelike koninkryk afgeskryf kan word nie! Open. 5:10 bevestig hierdie feit baie duidelik, naamlik:
Opn 5:10 “en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers. (‘n gebeurtenis wat na afloop van die Groot Verdrukking en wat tydens Christus se Geografiese, Teokratiese, Messiaanse Koninkryk op aarde sal plaasvind.)

Tegnies gesproke is dit verkeerd om te beweer dat die koninkryk in mense se harte ingaan. Die Bybel stel dit duidelik dat dit die mens is wat ‘n koninkryk binnegaan, en om hierdie rede is dit tegnies verkeerd om te beweer dat die koninkryk in ons harte is. Derhalwe is daar dus hoofsaaklik drie koninkryke waarin die mens homself kan bevind. Die eerste koninkryk is God se universele Koninkryk, wat die Hemel insluit, en wat God se woonplek is, en waaroor God in absolute soewereiniteit regeer. Tweedens is daar die komende Teokratiese, Messiaanse Koninkryk wat die Here Jesus Christus persoonlik self na afloop van die Groot Verdrukking tot stand sal bring. Die derde, en laaste koninkryk, waarin die mens homself kan bevind, is die huidige bose koninkryk op aarde, waarvan Satan die god is (wat al die wêreld se koninkryke insluit) en wat sal voortduur totdat Christus Sy Teokratiese, Messiaanse Koninkryk na afloop van die Groot Verdrukking sal oprig, nadat Hy ‘n einde aan Satan se heerskappy oor die wêreld se koninkryke sal maak. (Die leser word ten sterkste aangeraai om die reeks artikels “Die Duiwel se aktiwiteite sover dit die gelowige aanbetref” te lees, wat die konsepte van die verskillende koninkryke in meer detail verduidelik.)

Dit is ook ‘n feit dat die die Here Jesus Christus nie eens volkome in gelowiges se harte, tydens die huidige Kerk Dispensasie, regeer nie. Die huidige toename in wêreldgesindheid, asook ‘n toename in die verkondiging van valse leerstellings, (wat valse profesie insluit) wat ons in die belydende Christendom waarneem, dien as bewys dat die Here nie volkome in gelowiges se harte regeer nie. (Dan praat ek nie eens van openlike sondes soos seks voor die huwelik en openlike homoseksualisme ens nie!)
2Ti 3:1 “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. 3:2 Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, 3:3 sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, 3:4 verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; 3:5 mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af.”
Dit is juis om hierdie rede dat God d.m.v. die Skrifte, en veral die briewe wat spesifiek aan die Kerk gerig is, die gelowiges vermaan om nie die Heilige Gees te grief of om die Heilige Gees te blus nie.
Efs 4:29 “Laat daar geen vuil woord uit julle mond uitgaan nie, maar net ‘n woord wat goed is vir die nodige stigting, sodat dit genade kan gee aan die wat dit hoor. 4:30 En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing. 4:31 Alle bitterheid en woede en toorn en geskreeu en lastering moet van julle verwyder word, saam met alle boosheid.
1Ts 5:14 En ons versoek julle, broeders, vermaan die onordelikes, bemoedig die kleinmoediges, ondersteun die swakkes, wees lankmoedig teenoor almal. 5:15 Sorg dat niemand ‘n ander kwaad vir kwaad vergeld nie; maar jaag altyd ná wat goed is, teenoor mekaar sowel as teenoor almal. 5:16 Wees altyddeur bly. 5:17 Bid sonder ophou. 5:18 Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle. 5:19 Blus die Gees nie uit nie.”
Die blote feit dat God dit nodig ag, om bostaande vermanings aan gelowiges, wat tydens die Kerk Dispensasie leef, te rig dien as onomwonde bewys dat die Here nie noodwendig as Koning in die harte van gelowiges regeer nie!

2. Dit is ook opmerklik dat Jesus Christus nooit ten opsigte van die Kerk, as die Kerk se Koning in die Skrifte verwys word nie. Alhoewel die Skrifte wel na die Here en Sy verhouding teenoor die Kerk in terme van ‘n die Bruid en Bruidegom verwys.
Efs 5:25 “Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het”
Verder word na die Here Jesus Christus se verbandskap met die Kerk as die Hoof van Sy liggaam, naamlik die Kerk verwys.
Efs 1:22 “En Hy het alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee,
Efs 5:23 Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente; en Hy is die Verlosser van die liggaam.” (sien ook Ef.4:15; Kol.1:18)
Nêrens in die Skrifte vind ons dat die Here Jesus Christus direk as die Koning van die Kerk aangespreek word nie. Hy word egter as Koning van die Israel/Jode, die Koning van die Nasies en as Koning van die wêreld aangespreek, maar nêrens word daar na Hom as die Koning van die Kerk verwys nie.

Daar word ook in die Skrifte na die Kerk as uitgekose gemeente verwys en word ook as ‘n gebou, huis of tempel omskryf.
1Pe 2:5 “en laat julle ook soos lewende stene opbou, tot ‘n geestelike huis, ‘n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus.
Efs 2:20 gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is, 2:21 in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot ‘n heilige tempel in die Here,” (Sien ook 1Kor.3:16)
Ek kan nog meer voorbeelde weergee, maar nêrens vind mens dat die Here Jesus Christus se verhouding, in verband met die Kerk, in terme van Koning van die Kerk weergegee word nie. Hoekom nie? Omrede die Kerk nie die koninkryk is nie! Dit is nie te sê dat die Here nie Koning is nie, maar ek glo dat die Here doelbewus gekies het om nie na Homself as die Koning van die Kerk te verwys nie, omrede Hy wou verhoed dat die Kerk, wat tydens die huidige Dispensasie van die Kerk/genade uitgeroep, en op die fondasie van Christus gebou sou word, verkeerdelik onder die indruk sou verkeer dat hulle nou alreeds in die Messiaanse Koninkryk is.

3. Dit moet ingedagte gehou word dat daar ‘n verskil is, tussen die Evangelie van die Koninkryk, wat voor Christus se kruisiging aan die Joodse volk verkondig is, en die Evangelie wat tydens die Kerk Dispensasie verkondig word.
Mat 3:1 “In daardie dae het Johannes die Doper opgetree en in die woestyn van Judéa 3:2 gepreek en gesê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.
Mat 4:17 Van toe af het Jesus begin om te preek en te sê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.
Mat 10:5 Jesus het hierdie twaalf uitgestuur en hulle bevel gegee en gesê: Moenie gaan op pad na die heidene nie, en moenie ingaan in ‘n stad van die Samaritane nie; 10:6 maar gaan liewer na die verlore skape van die huis van Israel. 10:7 En gaan preek en sê: Die koninkryk van die hemele het naby gekom.”
Die verkondiging van die boodskap “Bekeer julle want die koninkryk van die hemele het naby gekom.” wat vroeg gedurende Jesus Christus se koms, deur Johannes die Doper, Jesus Christus en Sy dissipels aan die verbondsvolk Israel verkondig is, en wat die inleiding van die Messiaanse Koninkryk voorafgegaan het, het min in gemeen met die blye boodskap (die Evangelie) wat tydens die Kerk Dispensasie verkondig word, naamlik:
Hnd 16:30 “En hy het hulle na buite gebring en gesê: Menere, wat moet ek doen om gered te word? 16:31 Toe sê hulle: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.
1Ko 15:1 Broeders, ek maak julle die evangelie bekend wat ek aan julle verkondig het, wat julle ook aangeneem het, waarin julle ook staan, 15:2 waardeur julle ook gered word as julle daaraan vashou op die wyse waarop ek dit aan julle verkondig het, of julle moet tevergeefs geglo het. 15:3 Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; 15:4 en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte;”

Ons moet nie die Evangelie van die Koninkryk wat voor Christus se kruisiging aan die Joodse volk verkondig is, met die Evangelie wat tydens die Kerk Dispensasie verkondig word met mekaar verwar nie. Nadat die Here gekruisig was, en uit die dood uit opgestaan het, was die koninkryk wat Christus aan die Joodse volk voorgehou het, alreeds deur die volk verwerp en is derhalwe uitgestel. Dus sou die teokratiese Messiaanse Koninkryk nie op daardie geleentheid op aarde gevestig word nie, en derhalwe het die Here die volgende stelling aan Sy dissipels gemaak, naamlik:
Hnd 1:6 “Die wat bymekaargekom het, vra Hom toe en sê: Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig? 1:7 En Hy antwoord hulle: Dit kom julle nie toe om die tye of geleenthede te weet wat die Vader deur sy eie mag bepaal het nie; 1:8 maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde. 1:9 En nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien; en ‘n wolk het Hom voor hulle oë weggeneem.” (Dit is opmerklik dat die dissipels se teologie korrek was, en daarom het die Here nie hulle verwagting van die oprigting van die fisiese koninkryk gekorrigeer nie, maar hulle daarop gewys dat die oprigting van daardie koninkryk slegs binne God se tydsberekening sou plaasvind. Derhalwe is dit ook verkeerd van die Kerk om te poog om die koninkryk op aarde te vestig, want dit is nie God se tydsberekening daarvoor nie! Ook is dit nie die Kerk se mandaat nie, want die Here sal self Sy Koninkryk op aarde, na afloop van die Groot Verdrukking, met Sy wederkoms oprig.)
Die boodskap wat tydens die Kerk dispensasie aan die hele wêreld verkondig moet word, verskil van die boodskap wat die Here en Sy diensknegte vroeg gedurende Jesus Christus se eerste koms verkondig het. Die Evangelie wat die Kerk gedurende die Kerk Dispensasie moet verkondig sal tot en met die Wegraping deur die Kerk verkondig word. Maar wanneer die Kerk Dispensasie met die Wegraping , voor die aanvang van die Verdrukking, tot ‘n einde kom, sal die Evangelie van die Koninkryk wat Johannes die Doper, Jesus Christus self en Sy dissipels aan die Joodse volk verkondig het weer tydens die Verdrukking aan die hele aarde verkondig word, want dan sal die Koninkryk weer naby of op hande wees.
Mat 24:14 “En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ‘n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.”
Onthou daar is ‘n verskil tussen die Evangelie van die Koninkryk, en die Evangelie wat ons tydens die Kerk Dispensasie moet verkondig word, en ons moet nie hierdie twee boodskappe met mekaar verwar nie. Indien ons dit doen gaan dit tot verkeerde leerstellings en groot verwarring lei. (soos wat huidiglik in die belydende Christendom die geval is!)

Daar is ook verder ‘n verskil tussen die wyse waarop die Messiaanse Koninkryk op aarde gevestig gaan word, en wyse waarop die Kerk op aarde tot stand gebring word. Die Messiaanse Teokratiese Koninkryk van Christus sal op ‘ skielike, geweldadige en kataklismiese wyse op aarde gevestig word.
Dan 2:44 “Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel ‘n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ‘n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan—“
Mat 24:17 “wie op die dak is, moet nie afkom om iets uit sy huis weg te neem nie; 24:18 en wie op die land is, moet nie omdraai om sy klere weg te neem nie. 24:19 Maar wee die vroue wat swanger is en die wat nog soog, in daardie dae. 24:20 En bid dat julle vlug nie in die winter of op die sabbat mag plaasvind nie. 24:21 Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. 24:22 En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word. 24:23 As iemand dán vir julle sê: Kyk, hier is die Christus! of: Daar! —moet dit nie glo nie. 24:24 Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei. 24:25 Kyk, Ek het dit vir julle vooruit gesê. 24:26 As hulle dan vir julle sê: Kyk, Hy is in die woestyn—moenie uitgaan nie; kyk, Hy is in die binnekamer—moet dit nie glo nie. 24:27 Want soos die weerlig uit die ooste uitslaan en tot in die weste skyn, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees. 24:28 Want oral waar die dooie liggaam lê, daar sal die aasvoëls saamkom. 24:29 En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word. 24:30 En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid.”
Opn 19:11 “Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was ‘n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, (die Here Jesus Christus) en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid. 19:12 En sy oë was soos ‘n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone; en Hy het ‘n Naam wat geskrywe is, wat niemand ken nie, behalwe Hy self. 19:13 En Hy was bekleed met ‘n kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is: Die Woord van God. 19:14 En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne. 19:15 En uit sy mond gaan daar ‘n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ‘n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige. 19:16 En Hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: Die Koning van die konings en die Here van die here. 19:17 En ek het een engel sien staan in die son; en hy het met ‘n groot stem uitgeroep en vir al die voëls gesê wat in die middel van die lug vlieg: Kom hierheen en versamel julle tot die maaltyd van die grote God, 19:18 dat julle kan eet die vlees van konings en die vlees van owerstes oor duisend en die vlees van sterkes en die vlees van perde en van die wat daarop sit, en die vlees van almal, vrymense sowel as slawe, klein sowel as groot. 19:19 En ek het die dier (Die Antichris) en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit, en teen sy leër. 19:20 En die dier (Die Antichris) is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand. 19:21 En die ander is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit; en al die voëls is versadig van hulle vlees.” (Dit is opmerklik dat die Skrifte dit duidelik maak dat dit die Here Jesus Christus self is wat die oorwinning oor die koninkryke van die aarde behaal en wat self Sy Koninkryk op aarde vestig, nie die Kerk nie!)

In teenstelling met die skielike koms van die koninkryk, stel die Bybel dit duidelik dat die Kerk, tydens die Kerk Dispensasie, op Pinksterdag haar ontstaan het, en dan geleidelik en op ‘n sistematiese wyse gebou sal word, soos wat die Here meer en meer gelowiges/stene tot Sy liggaam, die Kerk, byvoeg.
Mat 16:15 “Hy sê vir hulle: Maar julle, wie sê julle is Ek? 16:16 En Simon Petrus antwoord en sê: U is die Christus, die Seun van die lewende God. 16:17 Toe antwoord Jesus en sê vir hom: Salig is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is. 16:18 En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.”
Op Petrus se belydenis dat Jesus die Christus, die Seun van die lewende God is, het die Here dit duidelik gestel dat Hy, Sy Kerk op hierdie belydenis van Petrus sou bou. Dus het die Kerk nie in die Ou Testament bestaan nie en moet derhalwe nie met die Messiaanse Koninkryk wat in die Ou Testament aan die Joodse Volk belowe is verwar word nie. Die feit dat die Kerk geleidelik opgebou word, word duidelik in Ef.2:19-22 weergegee, naamlik:
Efs 2:19 “So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God, 2:20 gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is, 2:21 in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot ‘n heilige tempel in die Here, 2:22 in wie julle ook saam opgebou word tot ‘n woning van God in die Gees.”
Bostaande teksgedeelte toon duidelik dat die Kerk ‘n organisme is, wat geleidelik opgebou word, en hierdie proses het nou alreeds, om en by, ‘n tydperk van twee duisend jaar geneem om tot stand te kom, in teenstelling met die koninkryk wat skielik deur Christus self (met Sy wederkoms) tot stand gebring sal word. Dus kan die Kerk nie die koninkryk wees nie!

4. Die Nuwe Testament stel dit ook verder duidelik dat die Kerk ‘n erfgenaam van ‘n komende koninkryk is. Instede daarvan om die Kerk as die heersende koninkryk te omskryf, word dit egter as ‘n erfgenaam van ‘n komende koninkryk beskryf.
Hnd 14:21 “En nadat hulle aan daardie stad die evangelie verkondig en ‘n aantal dissipels gemaak het, het hulle teruggegaan na Listre en Ikónium en Antiochíë, 14:22 en die siele van die dissipels versterk en hulle vermaan om in die geloof te bly deur te sê: Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan.”
In bogenoemde teksgedeelte is dit opmerklik dat Paulus die gemeentes (wat die Kerk was) bemoedig, en hou hy die koninkryk aan hulle, as iets wat hulle nog moet ingaan, voor. ‘n Stelling wat nie nodig sou wees indien die Kerk die koninkryk was nie! Kom ons kyk na nog ‘n teksgedeelte!
1Ts 3:3 “sodat niemand verontrus mag word onder hierdie verdrukkinge nie; want julle weet self dat ons hiervoor bestemd is. 3:4 Want ook toe ons by julle was, het ons julle vooruit gesê dat ons verdruk sou word, soos dit ook gebeur het en soos julle weet. 3:5 Daarom, toe ek dit nie langer kon uithou nie, het ek ook gestuur om julle geloof te wete te kom, of die versoeker (die duiwel wat die God van hierdie wêreld is) julle nie miskien versoek het en ons arbeid tevergeefs sou wees nie. 3:6 Maar nou dat Timótheüs net van julle af by ons aangekom het en ons die goeie tyding van julle geloof en liefde gebring het, en dat julle altyd ‘n goeie herinnering aan ons behou en verlang om ons te sien, net soos ons ook vir julle— 3:7 daarom, broeders, is ons in al ons verdrukking en nood vertroos oor julle deur jul geloof. 3:8 Want nou leef ons, as julle vasstaan in die Here.”
Vanuit bostaande teksgedeelte is dit duidelik dat die koninkryk iets is wat hierdie gelowiges (Kerk) nog nie ontvang het nie, en a.g.v. hierdie feit ly hulle verdrukking, iets wat nie tydens die komende koninkryk van Christus toegelaat sal word nie, omrede die Here Jesus Christus met ‘n ystersepter sal regeer en enige rebellie sal onmiddellik aangespreek word. (tydens die komende koninkryk sal die Here nie toelaat dat Sy kinders mishandel word nie. Hulle sal immers saam met Hom regeer!) Ook sal die duiwel, wat huidiglik as die god van hierdie wêreld omskryf word, tydens die teokratiese Messiaanse Koninkryk van Christus van sy posisie as god van hierdie wêreld gestroop wees en sal hy dus nie instaat wees om as god van hierdie wêreld op te tree nie.
Opn 20:1 “En ek het ‘n engel uit die hemel sien neerdaal, met die sleutel van die afgrond en ‘n groot ketting in sy hand. 20:2 En hy het die draak gegryp die ou slang wat die duiwel en die Satan is en hy het hom gebind duisend jaar lank,”
Let wel, dat Satan slegs na afloop van die Groot Verdrukking gebind sal word, en nie voor die tyd nie. Ook is hy nie huidiglik gebind nie en dien hy nog steeds as god van hierdie wêreld.

Die apostel Paulus het ook nie onder die indruk verkeer dat hy in die koninkryk was nie, want die koninkryk is tydens die Kerk Dispensasie van die aarde afwesig en daarom word Satan nog steeds as die god van hierdie wêreld omskryf.
2Ti 4:17 “Maar die Here het my bygestaan en my krag gegee, sodat deur my die prediking heeltemal volbring kan word en al die heidene dit kan hoor; en ek is uit die bek van die leeu verlos. 4:18 En die Here sal my verlos van elke bose werk en my red om in sy hemelse koninkryk in te gaan. Aan Hom die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen.”
Boonop het die apostel Petrus dit ook nie aan sy lesers voorgehou dat hulle alreeds fisies die Koninkryk binnegegaan het nie, ‘n feit wat hy sou noem indien die Kerk die Koninkryk was.
2Pe 1:10 “Daarom, broeders, moet julle jul des te meer beywer om julle roeping en verkiesing vas te maak; want as julle dit doen, sal julle nooit struikel nie. 1:11 Want so sal ryklik aan julle verleen word die ingang in die ewige koninkryk van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus.”
Indien die Kerk die Koninkryk is, hoekom sal Jakobus die gelowiges as erfgename van die Koninkryk beskryf, indien die Kerk nou huidiglik die Koninkryk is? Dan sou hy mos die Kerk as die Koninkryk beskryf het instede daarvan om die Kerk as erfgename te beskryf. ‘n Gebeurtenis wat nog in die toekoms moes plaasvind.
Jak 2:5 “Luister, my geliefde broeders—het God nie die armes van hierdie wêreld uitverkies as rykes in die geloof en erfgename van die koninkryk wat Hy beloof het aan die wat Hom liefhet nie?”
Vanuit genoemde teksgedeeltes is dit bo enige twyfel duidelik dat die Kerk nie huidiglik die Koninkryk is nie.

5. ‘n Uiterste belangrike feit wat in gedagte gehou moet word, is die feit dat die Bybel die Kerk as ‘n lydende, worstelende en gehate groep mense voorhou, instede daarvan om die Kerk as ‘n heersende koninkryk te beskryf. (Ek praat hier van die ware Kerk wat uit wedergebore gelowiges bestaan, nie van die belydende Christendom waarvan die oorgroot meerderheid ongered is en dus gewildheid en vriendskap met hierdie bose wêreld sisteem geniet, omrede hulle in werklikheid deel van Satan se wêreld sisteem uitmaak.)
Joh 15:18 “As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het. 15:19 As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle.
2Ti 3:10 Maar jy het my navolger geword in leer, lewenswandel, planne, geloof, lankmoedigheid, liefde, lydsaamheid, 3:11 vervolginge, lyding, soos my te beurt geval het in Antiochíë, in Ikónium, in Listre. Watter vervolginge het ek nie al verdra nie! En die Here het my uit almal verlos. 3:12 En almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word. 3:13 Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger, hulle wat verlei en verlei word.”
Vanuit bogenoemde teksgedeeltes (wat maar net ‘n paar voorbeelde van vele meer is.) is dit duidelik dat die ware Kerk nie huidiglik in ‘n koninkryk regeer nie. Die teendeel is egter die reël. Die ware Kerk kry swaar in ‘n vyandige wêreld sisteem en derhalwe kom dit as geen verassing om te lees dat die Christelike geloof die mees vervolgde geloof in die wêreld is nie. Besoek maar gerus Open Doors se webtuiste om te lees tot watse mate die Christelike geloof vervolg word.
Joh 16:33 “Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.
Opn 2:8 En skryf aan die engel van die gemeente in Smirna: Dít sê die eerste en die laaste, wat dood was en lewend geword het: 2:9 Ek ken jou werke en verdrukking en armoede maar jy is ryk en die lastering van die wat sê dat hulle Jode is en dit nie is nie, maar ‘n sinagoge van die Satan.”

6. Die huidige Kerk Dispensasie word soms gekenmerk deur materiële tekortkominge, armoede en hongersnood.
Hnd 11:28 “En een van hulle met die naam van Agabus het opgestaan en deur die Heilige Gees te kenne gegee dat daar ‘n groot hongersnood oor die hele wêreld sou kom, wat ook gekom het onder keiser Claudius.
2Ko 8:1 En ons maak julle bekend, broeders, die genade van God wat aan die gemeentes van Macedónië geskenk is, 8:2 dat onder baie beproewing deur verdrukking hulle oorvloedige blydskap by hulle diepe armoede oorvloedig was in hulle ryke milddadigheid. 8:3 Want hulle was na vermoë—ek betuig dit—ja, bo vermoë gewillig, 8:4 en het ons met groot aandrang gesmeek dat ons hulle gawe en hulle deel in die diensbetoning aan die heiliges moet ontvang;”
Alreeds vroeg tydens die Kerk Dispensasie was beproewinge, armoede in sommige gevalle die lot van sekere gelowiges.
Fil 4:11 “Nie dat ek dit uit gebrek sê nie, want ek het geleer om vergenoeg te wees met die omstandighede waarin ek is. 4:12 Ek weet om verneder te word, ek weet ook om oorvloed te hê; in elke opsig en in alle dinge is ek onderrig: om versadig te word sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly.” (iets wat Paulus deur ondervinding moes leer! Dus was hierdie dinge deel van God se plan om Paulus tot geestelike volwassenheid te lei en hom so ver te kry om volkome op God te vertrou!)

In teenstelling met die huidige Kerk Dispensasie sal die Dispensasie van die Koninkryk deur finansiële voorspoed en oorvloed gekenmerk word.
Jes 65:21”En hulle sal huise bou en bewoon, en wingerde plant en die vrug daarvan eet: 65:22 hulle sal nie bou dat ‘n ander dit bewoon nie; hulle sal nie plant dat ‘n ander dit eet nie; want die dae van my volk sal wees soos die dae van die bome, (verlengde lewensverwagting) en my uitverkorenes sal die werk van hulle hande self geniet. 65:23 Hulle sal hul nie tevergeefs vermoei of baar vir skielike ondergang nie; want hulle is ‘n geslag van die wat deur die HERE geseën is, en hulle nakomelinge is by hulle.
Amo 9:11 In dié dag sal Ek die vervalle hut van Dawid weer oprig, en Ek sal sy skeure toebou en sy puinhope herstel, en Ek sal dit opbou soos in die ou tyd; 9:12 sodat hulle in besit kan neem die oorblyfsel van Edom en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, spreek die HERE wat dit doen. 9:13 Kyk, die dae kom, spreek die HERE, dat die ploeër die maaier inhaal, en die druiwetrapper die saadsaaier; en dat die berge van mos sal drup, en al die heuwels daarvan oorvloei sal wees. 9:14 En Ek sal die lot van my volk Israel verander, en hulle sal die verwoeste stede bou en bewoon, ook sal hulle wingerde plant en die wyn daarvan drink, en tuine aanlê en die vrugte daarvan eet. 9:15 En Ek sal hulle plant in hul land, en hulle sal nie meer uitgeruk word uit hul land wat Ek hulle gegee het nie, sê die HERE jou God.” (Ongelukkig word baie van hierdie teksgedeeltes, wat die Messiaanse Koninkryk van Christus op aarde beskryf, deur mense uit konteks aangehaal en nou aan die Kerk as beloftes van God voorgehou, wat nog tot erge ontnugtering gaan lei!)
Dit is wanneer die Dispensasie van die Kerk met die van die komende Messiaanse Koninkryk vervang, of verwar word, wat die dwaalleerstelling van die Koninkryk Nou Leerstelling en die Voorspoed Evangelie tot gevolg het. Indien mens al die bogenoemde feite in ag neem dan is dit duidelik dat ons nie nou in die Messiaanse Koninkryk van Christus is nie. Derduisende gelowiges die wêreld oor, leef in skrynende armoede en in plakkerskampe en baie van hulle word tot die dood toe vervolg. Soos wat sake in ons land, en samelewing, vererger sal hierdie feit nog duideliker na tevore kom! Tydens die Kerk Dispensasie stel die Skrifte dit duidelik dat indien ons voedsel en klere het om aan te trek ons daarmee tevrede moet wees.
Fil 4:11 “Nie dat ek dit uit gebrek sê nie, want ek het geleer om vergenoeg te wees met die omstandighede waarin ek is.
1Ti 6:8 Maar as ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees.”
Ons is nie nou in die Messiaanse Koninkryk van Christus nie!

7. Die feit dat die Nuwe Testament die Koninkryk in terme van ‘n gebeurtenis wat nog in die toekoms voorlê omskryf, dien as verdere bewys dat die Kerk nie die Koninkryk is nie.
1Ko 15:50 “Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.”
(Sien verder Mat.6:10; 20:20-21; 26:29; Luk.23:42; Hand.14:22; 1Kor.6:9-10; 15:24, 50; Gal.5:21; Ef.5:5; Kol.4:11; 1Thess.2:12; 2Thess.1:5; 2Tim.4:1,18; Jak.2:5; 2Pet.1:11; Openb.5:10.)

8. Die Bybel stel dit duidelik dat Christus se huidige posisie, na afloop van Sy opstanding en hemelvaart, aan die regterhand van God is (in die Hemel) en derhalwe regeer Hy nie huidiglik vanaf die troon van koning Dawid, vanuit die stad Jerusalem op aarde nie.
Joh 14:2 “In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. 14:3 En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.
Rom 8:34 Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree.”
Daarbenewens stel die Bybel dit duidelik dat die Here Jesus Christus vanaf koning Dawid se troon, vanuit die die huidige stad Jerusalem sal regeer, na afloop van die Wegraping, Groot Verdrukking en Sy wederkoms, wanneer Hy Sy Messiaanse Teokratiese Koninkryk op aarde sal oprig wat duisend jaar lank sal voortduur en wat die ewigheid in sal lei.
Jes 9:6 “Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors— 9:7 tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die HERE van die leërskare sal dit doen.
Luk 1:31 “En kyk, jy sal swanger word en ‘n Seun baar, en jy moet Hom Jesus noem. 1:32 Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee, 1:33 en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie. ”
(Sien verder 2Sam.7:12-16; Ps.2:6-9 ens) Daar sal gewis ‘n koninkryk op aarde wees, waarvan die Here Jesus Christus vanaf die troon van Dawid, vanuit die stad Jerusalem oor die geografiese gebied van Israel, asook al die nasies van die aarde sal regeer, en in daardie Koninkryk sal die Kerk, wat alreeds na afloop van die Kerk Dispensasie, en voor die aanvang van die Verdrukking, weggeraap is, saam met Christus in Sy Teokratiese Messiaanse Koninkryk regeer en die posisies wat hulle sal beklee sal van hulle getrouheid aan Sy opdragte aan hulle afhang. (Die Leser word ten sterkste aangeraai om die artikels “Gelowiges se werke gaan beoordeel word” en “Hemelse krone, Lone en goeie werke” asook “Die Gelykenis van die Ponde” te lees.)

9. Indien mens die spesifieke teksgedeeltes van die Bybel binne die korrekte konteks bestudeer, wil dit voorkom dat die Skrifte leer, dat tydens die komende Messiaanse Koninkryk van Christus, wonderwerke en bonatuurlike genesings ‘n algemene verskynsel sal wees.
Jes 35:4 “Sê aan die wat vervaard is van hart: Wees sterk, wees nie bevrees nie! Kyk, julle God kom met wraak, met goddelike vergelding; (Met Sy eerste koms het die Here gekom om die mensdom van hulle sondeskuld te verlos. Met Sy wederkoms sal Hy hoofsaaklik kom om die wêreld en die nasies te oordeel. Lees asb die artikel “Die oordeel van die nasies”) Hy self sal kom en julle (Israel) verlos. 35:5 Dan (na Sy wederkoms en die tot totstandkoming van Christus se Vrederyk op aarde) sal die oë van die blindes geopen en die ore van die dowes ontsluit word. 35:6 Dan sal die lamme spring soos ‘n takbok, en die tong van die stomme sal jubel; (Verifieerbare, wonderbaarlike genesing sal dan ‘n algemene verskynsel wees) want in die woestyn breek waters uit en strome in die wildernis.” (Asook die geografiese landskap sal verander en woestyne sal vrugbare waterryke gebiede word, iets wat nie tydens die Kerk Dispensasie die geval is nie, omrede ons nie nou in die Koninkryk is nie.)
In teenstelling met die Koninkryk van Christus op aarde, waar verifieerbare bonatuurlike genesing ‘n algemene verskynsel sal wees, is bonatuurlike verifieerbare genesing ‘n skaarser verskynsel, veral tydens die Post Apostoliese tydperk van die Kerk Dispensasie.
2Ti 4:20 “Erástus het in Korinthe gebly. Trófimus het ek siek in Miléte agtergelaat.”
Deesdae word daar gereeld beloftes van genesing aan die mensdom voorgehou, in ‘n poging om soms desperate mense na sulke byeenkomste te trek, sodat daar oor die groot sukses, gebaseer op die getalle van die mense teenwoordig, gespog kan word. Om van sulke tegnieke gebruik te maak is oneties, en oneerlik, en vorm deel van die toenemende boosheid wat die Bybel voorspel. Die feit van die saak is dat Godgegewe, verifieerbare bonatuurlike genesing nie so ‘n algemene verskynsel is, soos wat die moderne geloofsgenesers dit aan ons wil voorhou nie. Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikels “Genees en Genesing tydens die Post Apostoliese Tydperk” asook “Genesing ‘n Skriftuurlike Perspektief” te lees” Eers tydens die komende Duisendjarige Vrederyk van Christus sal Godgegewe bonatuurlike genesing ‘n algemene verskynsel wees.

Ter Afsluiting: Ons moet daarteen waak om God se plan met die Kerk , tydens die huidige Kerk Dispensasie, met die komende Koninkryk te verwar. Daar is net nie genoeg punte van ooreenkoms tussen die huidige Kerk Dispensasie en die komende Koninkryk van Christus nie. Verder moet die doel wat God met die Kerk het nie uit die oog verloor word nie, anders gaan die Kerk hulleself besig hou met dinge wat waarvoor die Here nie die Kerk bestem het nie.

Eerstens bestaan die Kerk om God te verheerlik.
Efs 3:21 “aan Hom die heerlikheid in die gemeente in Christus Jesus deur alle geslagte tot in ewigheid! Amen.”
Tweedens is die doel van die Kerk om die liggaam, naamlik die gemeente van God, te stig en op te bou. Vir hierdie doel het die Here geestelike gawes in die Kerk geplaas wat getrou aangewend behoort te word, sodat die Kerk tot geestelike volwassenheid kan opgroei en derhalwe eenheid van die geloof te bereik.
Efs 4:11”En Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, (Om die fondasie van die Kerk tydens die Apostoliese tydperk te vorm en die Skrifte te voltooi) ander as evangeliste, ander as herders en leraars, 4:12 (Noudat die fondasie van die Kerk gelê is en die Skrifte volledig aan ons gegee is, het die gawes en ampte van Apostels en Profete tot ‘n einde gekom en is dit die werk van evangeliste, herders en leraars om die leerstellings, in die geskrewe woord van God, getrou te proklameer. Lees asb die artikel “Is die gawe van profesie nog in werking vandag”) om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus, 4:13 totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, (Leerstellings soos wat ons dit in die Skrifte vind, en nie vanuit buite Bybelse profesieë, opinies, of mensgemaakte leerstellings nie.) tot ‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus; 4:14 sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering, deur die bedrieëry van die mense, deur sluheid om listiglik tot dwaling te bring; 4:15 maar, terwyl ons in liefde die waarheid (wat die Skrifte en korrekte Bybelse leerstellings insluit) betrag, in alles sou opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus, 4:16 uit wie die hele liggaam—goed saamgevoeg en saamverbind deur die ondersteuning wat elke lid gee volgens die werking van elke afsonderlike deel in sy mate—die groei van die liggaam bevorder vir sy eie opbouing in liefde.”

En derdens is dit die Kerk se plig om Christus se opdrag, om wêreld evangelisasie te doen, uit te voer. Daarbenewens is dit dan die Kerk se plig om gelowiges in getroue dissipelskap op te lei. Dit is Christus se mandaat aan die Kerk! Dit is nie die Kerk se plig om die koninkryk op aarde te vestig nie!
Mar 16:15 “En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom.
Mat 28:18 En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde. 28:19 Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. 28:20 En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen. ”
Tydens die Kerk Dispensasie, wat die laaste sowat twee duisend jaar beloop, is die Kerk hoofsaaklik God se middel waardeur Hy Sy doelstellings op aarde bewerkstellig. Tydens hierdie tydperk is God hoofsaaklik besig om vanuit die nie-Joodse nasies vir Homself ‘n groep mense uit te neem.
Hnd 15:14 “Símeon het vertel hoe God in die begin uitgesien het om ‘n volk uit die heidene vir sy Naam aan te neem.”
Dit beteken geensins dat die Here permanent Sy uitverkore volk Israel/Jode permanent tersyde gestel het nie. Nadat die Kerk se getalle volledig is, sal die Here die Kerk d.m.v. die Wegraping van die aarde verwyder en dan sal Hy weer hoofsaaklik met Sy volk Israel te werk gaan. (Lees asb die reeks artikels “Profetiese rede op die Olyfberg volgens Mattheus” asook die artikels “Het die Kerk die volk Israel as God se verbondsvolk vervang?” om meer inligting rondom hierdie aangeleentheid te bekom.)
Hnd 15:15 “En hiermee stem die woorde van die profete ooreen, soos geskrywe is: 15:16 Daarna sal Ek terugkom en die vervalle hut van Dawid weer oprig, en wat daarvan verwoes is, sal Ek weer oprig en dit herstel, 15:17 sodat die oorblyfsel van die mense die Here kan soek, en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, spreek die Here wat al hierdie dinge doen.”

Vermy predikers wat teksgedeeltes buite konteks aan haal, en nie die Bybel op ‘n sistematiese wyse op ‘n konsekwente, letterlike, grammatiese en historiese wyse interpreteer en verkondig nie. Vermy ook predikers wat slegs die Nuwe Testament, of slegs die Ou Testament gebruik om die Bybel uit te lê of te verkondig. Die hele Bybel, wat die Ou en Nuwe Testamente insluit, is God se woord, en is God se progressiewe openbaring aan die mensdom, en moet derhalwe sorgvuldig bestudeer en verkondig word. Ja, Bybelse leerstellig is uiters belangrik en moet getrou verkondig word. (Lees asb die artikel “Is Bybelse Leerstellings werklik so belangrik.”) Ons leef ongelukkig in ‘n tydperk waartydens Bybelse leerstellings afgewater of self heeltemal verwerp word. Aan die ander kant van die saak, is daar diegene wat weer op buite Bybelse profesie, gevoelens en belewenisse vertrou en gebruik om hulle leerstellings te bepaal. En daarom bevind ons samelewing, wat die Kerk insluit, onsself in die huidige penarie en dinge sal net versleg soos wat die tyd aanstap.
2Ti 3:13 “Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger, hulle wat verlei en verlei word. 3:14 Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, 3:15 en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus. 3:16 Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, 3:17 sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”

Indien ons getrou aan die Here bly, en getrou Sy woord bestudeer, en verkondig, sal ons deur Hom geprys word wanneer Hy (Christus) kom en ons voor Sy regterstoel moet verskyn om rekenskap van ons lewens te gee. Mag ons ook dan die volgende woorde uit ons Heer se mond hoor, naamlik:
Mat 25:23 “Sy heer sê vir hom: Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou heer.”
Dit kan dalk vandag wees!
1Ts 1:10 “en sy Seun uit die hemele te verwag, wat Hy uit die dode opgewek het, Jesus wat ons van die toekomstige toorn verlos.”
Onthou die Kerk se mandaat is wêreld evangelisasie, en ons hoop is die Wegraping, wat enige tyd kan plaasvind, en dan eers sal fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking voltooi wees, en dan eers sal ons van alles siekte, smarte en lyding bevry wees. (lees asb die artikel “Drie Fases van Verlossing”) Kom ons Here Jesus  Christus, kom asseblief gou! Amen!

Seën groete!

Vic

Deel met ander asb.